‘n Lekker, langer terugsitlees in samewerking met Taalgenoot

Generasie Angstig: Millenniërs

deur Mercy Kannemeyer / foto: André  Badenhorst

Waarskuwing: Hierdie artikel is deur ’n millenniër geskryf. Lees op eie risiko …

Die millenniër-generasie is op baie mense se lippe. Ons knaende obsessie met Instagram-filters, oulike foto’s van diere, flat whites en die behoefte om, soos Tiemie in Siener in die suburbs, “van geweet [te wil] wees”, is van die dinge waarmee ons geassosieer word.

Ek was nie bewus daarvan dat ek ’n millenniër is totdat iemand my daarop gewys het nie. Ek steur my nie vreeslik aan etikette nie; mense ís mos maar net. Toe die ouer persoon my die m-woord toesnou, voel ek genope om die kat behoorlik uit die boom te kyk. Millenniërs word gesien as te selfgeregtig, te ongeduldig, te lui, te onrealisties en dikwels te uitgesproke vir mense wat nog net 20 tot 28 jaar leef.

Ek het met ’n paar van my vriende oor hul grootste vrese gesels en die omvang is wyd: bang om op ’n jong ouderdom dood te gaan; bang om ’n vak te dop; bang vir mislukking. Ander vrees alleenwees, om hul ouers teleur te stel of middelmatigheid. Een van my vriende is bang vir die rigting waarin politieke gebeure in die land swaai. Nog een is bang vir duiwe.

Bang ons mis iets

Een van die ergste vrese waaraan ek en my vriende ons dikwels “skuldig maak”, is fomo, oftewel fear of missing out. Is dit dalk ’n diagnoseerbare toestand?

Wie is ek? is ’n Stellenbosse maatskappy wat inligting oor menslike gedrag en sielkundige toestande gratis aan die publiek verskaf. Ek het met Lise Swart (40), Wie is ek? se direkteur en bemarkings-en-mediahoof, gesels oor millenniërs, hul vrese en die manier waarop dié generasie in die arbeidsmark gesien word.

Lise meen enige lewensfase het sekere vrese wat daarmee gepaardgaan. Of millenniërs meer vrees het as generasies voor hulle, is ’n aanvegbare punt. Die wêreld sien millenniërs as lui en met te hoë verwagtings, veral verwagtings dat alles maklik en vinnig moet gebeur. Maar, merk Lize op, presies dieselfde is van háár generasie gesê.

Te veel millenniërs, meen sy, het die vals geloof dat hulle absoluut enigiets kan word wat hulle wil wees. “Ek stem nie daarmee saam nie; jy kan nie enigiets wees wat jy wil wees nie. As jy iets wíl wees, moet jy besef daar’s ’n verskil tussen jou belangstellings, jou vermoë en jou intellek.

“Ek kan nie ’n ruimtevaarder wees nie en selfs al wíl ek met alles in my, sal ek nie kán nie. Fisiek kan ek dit bloot nie doen nie. Ek is te lank en om ’n ruimtevaarder te wees moet jy blykbaar kort wees!”

Nog ’n punt wat Lise uitlig – en iets waarmee ek saamstem – is dat millenniërs hul gedrag iewers aangeleer het. Hulle het dit nie uitgedink nie. Die generasie wat die jonges kruisig, is einste mense by wie die jonges hul gedrag geleer het.

Dis veral in die werkomgewing waar jongmense geweeg – en dikwels lig bevind word. Lise meen omdat millenniërs onder die indruk gebring is dinge gebeur maklik, kry talle ’n groot skok wanneer die realiteit inskop. Dis dán wanneer daar van werk tot werk gespring word, sonder om ’n spesifieke werk die kans te gee om beleef en verstaan te word. Daar is wel ’n positiewe kant hieraan: as jy nie gelukkig is in ’n sekere posisie nie, skuif jy, want jy is nie ’n berg nie.

Angs of vrees?

Lise vertel sy ly aan “algemene angs” en spesifiek vrees vir die toekoms. Vrees is die ervaring; angs die katalisator.

“Ek hou daarvan om vir mense te verduidelik vrees is ’n onderafdeling van angs, maar angs is nie vrees nie,” voeg sy by. “Ek is nie die heeltyd bang nie, en ek ervaar nie konstante vrees nie.”

Christine Nell (39), ’n voorligtingsielkundige by Wie is ek?, verduidelik angs is  algemeen, terwyl vrees spesifiek is. Die wortel van die angs is soms gekoppel aan diepliggende vrese, soos die vrees vir verlating of verwerping.

Christine en Lise meen fomo is nie ’n diagnoseerbare toestand nie, maar wel ’n simptoom van iets groters. Lise sê dis deel van die angs-familie. Mense wat fomo ervaar, is bang iets lekkers gebeur iewers en hulle is uitgesluit. Sodra mense gereeld saam begin uithang, ontwikkel hulle hul eie taal vol binnepret wat net deur die “in”-groepie verstaan word. Indien jy nie deel is van die inside joke nie, kan dit groot vrees skep.

Ek glo die feit dat hierdie vrees 30 of 40 jaar gelede nie so sterk was nie, wys dat angs al hoe meer onder jonger mense begin posvat. As fomo jou só weerhou van dinge dat jou lewenskwaliteit geraak word, moet jy dalk professionele hulp kry.

Nie weerbaar genoeg

Christine wonder of daar ’n skakel tussen fomo en skeidingsangs is. Laasgenoemde  figureer dikwels tussen kind en ma, want die kind is bang dat iets met die ma sal gebeur. In fomo is jy bang iets gebeur sonder jou en jy het geen beheer daaroor nie.

Millenniërs voel dalk hulle ervaar meer vrees, want hulle is nie weerbaar gemaak om die druk van die lewe te kan hanteer nie, voeg Christine by. Sy noem die voorbeeld van ingenieurstudente aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy al uitgehelp het. Sommige sukkel met die druk wat met hul kursus gepaardgaan. Het die studiewerk deur die jare baie toegeneem? Volgens een van die dosente is dit nie die geval nie.

Jongmense het maar net nie die vaardighede – akademies en emosioneel – om die werklading te kan hanteer nie. As gevolg daarvan sukkel ons generasie ook met “onafhanklikwording”.

Lize en Christine se raad aan jongelinge is om te besef die lewe gaan terugstoot; alles gaan nie altyd maklik wees nie. Die realiteit is die wêreld, en spesifiek die werkomgewing, skuld jou niks. Ons kan net stilletjies hoop die lewe behandel ons soms sagkens.

Christine meen ook deursettingsvermoë sal jou help om die wa deur die drif te trek,  veral wanneer jy ontevrede met jou beroep of studiekeuse is. “Om te besef dis jou  eerste werk; dis dalk nie jou droomwerk nie en dis dalk nie die lekkerste nie, maar dis ’n werk en jy gaan sekere vaardighede daar kan ontwikkel. Jy moet bietjie vasbyt en leer hoe dit is om deur die moeilike tye te gaan.”

Dus, vasbyt, millenniërs! Met die koms van die post-millenniërs en die Alfa-generasie het ons binnekort nuwe mense om oor te gesels. Tot dan, alle heil.

Millenniër-oorlewingsgids

Hoewel fomo dikwels ligtelik rondgegooi word, moet mense wat hulself daaraan skuldig maak, waak teen die gevaar van geen grense stel nie. Verhoudings kan daaronder ly omdat daar geen patroon in jou lewe is nie.

  1. As fomo jou lewe negatief raak, kry hulp.
  2. Drink jou flat white, Instagram dit en sit ’n aanhaling van Maya Angelou (soos iets uit “Still I Rise”) of Antjie Krog (“ek is/ ek is/ die here hoor my/ ’n vry fokken vrou”) daarby wat jou gaan help om deur die dag te kom.
  3. En onthou, ons is nie almal só nie.

ʼn Kunswerk in die Art Gallery of Western Australia in Perth.

Die einde is onvermydelik

deur Elkarien Fourie 

Die dood is ’n onderwerp wat ons graag vermy omdat dit ons bang maak, maar dalk moet ons ’n oomblik daarby stilstaan …

Ly jy aan thanatofobie? Die woord is ontleen van die Griekse mitologie, waarin Thanatos die vergestalting van die dood is. Vermyding van en vrees vir die dood is verstaanbaar, maar wanneer dit jou gedagtes oorheers of daartoe lei dat jy nie jou neus by die deur wil uitsteek nie, word dit ’n fobie.

Mense het nog altyd met die idee van die dood geworstel. Die Griekse filosoof Epicurus (340 tot 270 v.C.), het geglo die siel, soos die liggaam, is gemaak van atome wat nou verweef is. Sodra iemand sterf, verdwyn alle bewussyn en daarmee saam die siel. Daarom is dit dom om die dood te vrees. As ons die dood kan aanvaar sonder om dit te ignoreer of om dit as ’n misterie te beskou, sal ons geluk in hierdie lewe kan vind, het hy geglo. Die dood gaan ons dus nie aan nie, want solank ons bestaan, is die dood afwesig; as die dood opdaag, hou ons op bestaan.

Vir die Romein Lucretius, wat in die laaste eeu voor Christus geleef het, is die tyd ná ons dood soos die onbewuste tyd voor ons geboorte.

Vir Freud het hierdie vrees ’n ander vrees verbloem, aangesien niemand glo in sy eie dood nie omdat jy net iets vrees waarvan jy kennis dra. Die ontwikkelingsielkundige Erikson het die teorie ontwikkel dat mense soos hulle ouer word deur ’n reeks krisisse gaan wat hy ego-integriteit noem. Wanneer ’n mens vrede met verspeelde kanse gemaak het, ervaar jy verminderde angs oor die naderende dood.

Beskouings oor die dood is kultuurgebonde. Hier dink ’n mens aan selfmoordbomaanvallers en kamikaze-vlieëniers wat hul lewe vir ’n groter saak prysgee. Camus het weer gesê die doodstraf is gemik op die kragtigste dryfveer in die menslike natuur, naamlik oorlewing.

Die dood, ’n nederlaag?

Prof. Anton van Niekerk, direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek en hoof van die departement filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch, wys in sy boek Die dood en die sin van die lewe daarop dat die dood die laaste taboe is wat in ontwikkelde lande oorgebly het ná die verdwyning van die sekstaboe van die 19de eeu. Dit is omdat die dood moderne mense se illusie van onoorwinlikheid deur wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang laat kantel.

Die dood is nie meer ’n natuurlike deel van die lewe nie, maar ’n nederlaag wat ons tot elke prys probeer vermy. Vermoënde pasiënte gryp na duur mediese intervensies wat meestal nie hul gehalte van lewe terugbring nie. Vroeër het families sterwendes tuis versorg, maar vandag word hulle uit die samelewing geskuif.

Volgens Kimberly Holland op die webwerf Healthline bereik vrees vir die dood ’n hoogtepunt in die twintigerjare, ongeag geslag. Vroue mag dit weer in hul 50’s ervaar, maar dit kan wees omdat hulle makliker as mans oor hul gevoelens praat. Sy sê ook nederige mense aanvaar die dood makliker.

Sienings oor die dood hou natuurlik nou verband met geloofsoortuigings. Sommige Christene mag selfs meer vrees vir die dood ervaar as ateïste omdat hulle twyfel of hulle “goed genoeg” vir die hemel is. Maar diegene wat weet niemand kan die hemel verdien nie en glo dat hul geloof in Christus die waarborg vir saligheid is, is van die rustigste oor hul eie dood.

Anton noem die dood een van die belangrikste singewende werklikhede, want as ons oneindige tyd gehad het om ’n lewensdoel uit te leef, sou ons waarskynlik nooit die werk doen nie en aanhou uitstel.

Lewensoorgange

Ons siening van die dood sluit aan by ons siening van die lewe, sê dr. Sep Serfontein, ’n bestuurskonsultant wat al baie mense bygestaan het met lewensoorgange. As ’n mens jou lewe as ’n reguit lyn sien na hoër en beter dinge, gaan jy nie net platgeslaan word as dinge anders uitwerk nie, maar die dood is dan ook ’n nederlaag wat verdere prestasies verhinder. Vir mense wat meer buigsaam is en die lewe sien as ’n reeks konsentriese sirkels of siklusse met meervoudige begin- en eindpunte en oorgange na nuwe fases, is dit makliker om sin en betekenis in teleurstellings te vind. Die verdere voordeel is dat die dood dan ook nie die einde van alles is nie, maar die oorgang na ’n nuwe, gans ander fase.

Sep sê moderne, gesonde mense se vroeë volwassenheid loop deesdae eers teen die ouderdom van sowat 50 ten einde. Hoe ons lewensverwagting en sienings van ouderdom verander het, word treffend geïllustreer in die jeugdige Britse skrywer Daisy Ashford (1881 tot 1972) se verhaal The Young Visitors waarin sy iemand só beskryf: “(He) was an elderly man of 42 …”

Veral mans mag nou bewus raak van ’n afname in fisieke en sielkundige energie. Om gereed te wees vir die volgende fase moet mense in hierdie stadium dalk vir die eerste keer vrede maak met hul sterflikheid en bereid wees om na nuwe betekenis en lewenskrag te soek. Of jy ’n eie onderneming begin of ’n skildery aanpak, jy kan nou lank gekoesterde drome najaag.

Van die ouderdom van 70 word mense se lewe meer deur die verouderingsproses gevorm as deur hul eie planne. In hierdie fase duik die vraag op of daar nog leierskapsrolle is waarin iemand ’n groot skat van kennis aan jongmense kan oordra en of daar in ’n vinnig veranderende wêreld nog iemand is wat in hierdie ervaring belangstel. In die VSA word moeite gedoen om afgetredenes daardie geleentheid te gee.

Die dood is gewoonlik nie in hierdie fase die grootste kwelling nie, maar die vrees vir fisieke, verstandelike of finansiële afhanklikheid. Jou wêreld word al hoe kleiner en net ’n paar verhoudings het nog betekenis. Onder gunstige omstandighede is psigososiale ontwikkeling egter steeds moontlik.

Mense bo 80 maak gewoonlik gereed om van die aardse lewe afskeid te neem. As ander na hulle opsien as ’n voorbeeld van wysheid en deug, gee dit betekenis aan hul bestaan. Ten einde nog deel van die lewe te wees, moet hulle vrede maak met sterwe. As hulle glo in die hiernamaals berei hulle hul voor om hul Skepper te ontmoet. Teen die einde is daar net die self en die beelde wat oor ’n leeftyd in die langtermyngeheue gegraveer is.

Maar hoe gemaak as jy nie vrede kan maak met die gedagte van die dood nie en dit jou gedagtes en lewe begin oorheers? Behandeling vir thanatofobie is ingewikkeld omdat dit ’n angssteurnis is. ’n Onlangse diagnose of die siekte en dood van ’n naasbestaande mag dié vrees laat ontstaan.

Medikasie is selde ’n blywende oplossing, maar kan help terwyl ’n pasiënt berading kry. Dit bly maar altyd die beste om nie die vrees alleen te probeer besweer nie; om hulp te soek is nie ’n teken van swakheid nie. Kognitiewe gedragsterapie is dikwels suksesvol omdat ’n verandering in denkpatrone die probleem in perspektief kan plaas. Meditasie, gebed en visualisering saam met asemhalingstegnieke help ook.

Die beste raad teen vrees vir die dood? Leef bewustelik in die hede. Mense wat dankbaar voel wanneer hulle terugkyk, haal berusting uit ’n lewe wat met oorgawe geleef is.

’n Alternatiewe siening

Dr. Piet Muller, toekomskundige, godsdiensfilosoof en stigterslid van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, sê ons ego is ’n masker wat voorstel wie ons dink ons is, maar bestaan eintlik uit die verwagtings van ouers en ons kulturele omgewing. As ’n mens eers deur hierdie illusie gesien het, besef jy dat jy veel meer is as jou ego. Ongelukkig assosieer ons dood met die vernietiging van die ego. Dit is wat die vrees vir die dood veroorsaak, maar die regte “ek” verdwyn nie wanneer die ego sterf nie.

Die wetenskap vertel ons dat daar sedert die skepping net ’n bepaalde getal molekules is wat deurgaans herbenut word en op verskillende maniere kan verbind om nuwe organismes te skep, sê hy. Die molekules waaruit jou liggaam bestaan, kon deur die eeue dalk in bome, varings of dinosourusse gebruik gewees het en ná die liggaam se dood kan dit weer in ander organismes gebruik word.

Wanneer ’n kind gebore word, beteken dit nie dat ’n nuwe mens uit niks tot stand kom nie. Die nuwe mens is slegs moontlik omdat ander dinge bestaan, soos die voedsel wat die moeder inneem om die ongebore kind te laat groei.

“’n Mens kan dit met ’n blom vergelyk wat volkome uit nie-blom-elemente bestaan. Sonder die son se energie of die waterdamp wat uit die see opstyg en reën word, kan daar geen blom wees nie. Net so belangrik is die bye wat die vorige jaar die blomme bestuif het of die tuinier wat vanjaar die saad plant en die blomme versorg. Neem net een van daardie elemente weg en daar kan geen blom wees nie,” verduidelik Piet.

Mense is slegs skakels in die ketting van die lewe, daarom beteken dit dat ons nie verdwyn as ons sterf nie. In hierdie opsig is die dood net ’n illusie. Die mens is eintlik ’n unieke wese wat die vermoë tot selfbewussyn het. Hy kan oor lewe en dood, oor goed en kwaad, nadink en sy taak is om die hele skepping tot bewussyn te bring.

In die wetenskap is daar twee strominge: die een sê bewussyn verdwyn wanneer die brein sterf en die ander reken dat bewussyn “nie-lokaal” is en bly voortbestaan ná die dood omdat dit, net soos ander vorme van energie, nie tot niet kan gaan nie. Piet skaar hom by die tweede groep en glo dat ons bewussyn ná die dood deel van ’n universele kollektiewe bewussyn word.

Die skepping is soos die oseaan; mens en dier is soos golwe wat swel en op die strand breek, net om weer in die see terug te vloei. Hierdie siening van die hiernamaals laat minder ruimte vir vrees. Waarna ’n mens moet strewe is om rustig te sterf in ’n gewelddadige leefwêreld.

Dit is natuurlik ’n standpunt wat haas onverstaanbaar is solank ’n mens aan hemel en hel glo as geografiese plekke. Piet sien dit eerder as metafore waarmee ons vir onsself moeilike begrippe verduidelik. Ons kan buitendien geen inligting inwin van dinge wat buite die tyd-ruimtelike lê nie. Daarom dat ons ook geen ware voorstellings kan maak van wat “God” beteken nie.

Bejaardes in ’n ouetehuis laat hom soms aan skape in ’n kraal dink; almal wag vir die boer om een te kom haal en hulle weet hul beurt kom, net nie wanneer nie. Hy voel die kerk laat oumense in die steek en fokus op jongmense se geestelike behoeftes. Bejaardes moet begelei word op hul reis na binne om ook die donker, verborge kante met hul openbare persona te versoen. Hy sê hierdie proses is nodig om vrees vir die dood te oorwin, maar predikante skram dikwels weg van hierdie soort sterwensbegeleiding.

Verwante literatuur:

Onderhoud met A. van Niekerk op 14 November 2017, Litnet. Joan D. Chittister. 2008. The gift of years. BlueBridge. Paul Kalanithi. 2016. When breath becomes air. Penguin Random House. Bob Buford. 2004. Finishing Well. Integrity Publishers.

Unieke kuns vir unieke mense

deur Johan Jack Smith en foto deur Andre Badenhorst

Hierdie eiesoortige galery wil ’n platform skep om ontluikende kunstenaars en nuwe kopers aan mekaar bekend te stel …

In die hartjie van Johannesburg se middestad, in Doornfontein, in die skaduwee van Ellispark se paviljoen en die Ponte-gebou, staan ’n galery wat die kunswêreld (en kunstenaars) anders benader en, eintlik, wel, op sy kop keer. Kyk ’n mens na Ellis-huis, sou jy nie kon raai  die vyfde vloer van dié gebou huisves asemrowende kuns en talentvolle kunstenaars nie.

TG het met Tyron Selmon, mede-eienaar van die Art Eye-galery, gesels.

Wanneer ’n mens instap, kry jy ’n gevoel van informaliteit en toeganklikheid.

Ek het eendag in ’n galery ingestap in die Kaap en hierdie jong meisietjie met ’n dikraambril het my so op en af gekyk en my so ongemaklik laat voel; of sy sommer namens my besluit het of ek die kuns kan bekostig of nie. Toe weet ek, dis tyd om mense se idee van galerybesoeke te verander.

 Hier is heelwat kuns deur jong, opkomende kunstenaars te sien.

Ek het in Kaapstad gewerk vir Switserse bankiers, vir wie ek binneversiering gedoen het. Hulle het my gevra om kontemporêre Afrikakuns aan te koop. Ek het agtergekom kuns is ontoeganklik deur galerye en meer toeganklik deur afslaers. Veral die intelligente kunstenaars, soos Trevor Coleman, wat dalk nie in daardie stadium in die mode was nie, maar baie verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse landskap. Daar het ek ook gesien dat werke van kunstenaars wat reeds dood is, soos Irma Stern en Pierneef, astronomiese bedrae haal.

Nadat ek Johannesburg toe verhuis het, het ek besef ek wil nie dooie kunstenaars se werk verkoop nie. Ek wil deel wees van iemand se storie. Ek het begin om die stories te soek; om die kuns te vind wat jy nie sien in galerye nie. Plekke soos Soweto en die ander townships. Toe het ek besef ek wil deel wees van die nuwe generasie, die nuwe kultuur – die stories wat op straat vertel word.

Hoe lyk die gemiddelde kunskoper wat Art Eye besoek?

Daar is mense van verskillende vlakke van die samelewing wat kuns koop. Van die 82-jarige, afgetrede boer in Hermanus en die 23-jarige Afrikaan in Midrand tot die ernstige versamelaars. Hier was eendag ’n versamelaar wat miljoene vir ’n Pierneef betaal het. Met sy vertrek sien hy ’n kunswerk van Christa Myburgh by die uitgang en besluit om dit te koop. Hy was so beïndruk met sy aankope, wat teen daardie tyd ongeveer R20 000 was, dat hy van die Pierneef vergeet het! Ek het toe besef: Baie versamelaars koop kuns omdat dit skaars is en vir die waarde daarvan, maar hulle stel ook belang in die nuwe talent, die new kid on the block.

Hier is heelwat abstrakte kuns; nie noodwendig werke wat algemeen te sien is in tradisionele galerye nie. Is dit ’n berekende waagskoot?

Ek en Sanele Manqele, my besigheidsvennoot, het by ons vorige perseel, by die Design Quarter in Fourways, gesien mense het die behoefte om “intelligente” kuns te ontdek; kuns wat moeilik is om te verstaan. Hulle wou vrae vra, maar het nie ’n “veilige plek” gehad nie. Ons het daardie plek geword; ’n plek waar mense kan sê: “Wat de hel gaan dáár aan?”

Dan sal ons aan hulle verduidelik, en só het ons agtergekom die mense kom terug en dan koop hulle die kunswerk. Dit was ’n risiko, maar ons is ernstig daaroor om “eerlike” kuns te bevorder. ’n Kunstenaar wat nooit ’n kunswerk verkoop nie, maar steeds aanhou skilder omdat hy voel hy móét, dis dáái kunstenaars wat ons soek.

Een van TG se illustreerders, Louis van den Heever, het ’n internskap gedoen by Art Eye se Project Room Development-projek, waar julle kunstenaars inneem, van kunsvoorraad, kos en verblyf voorsien en waar hulle vir ’n paar maande kan werk. Hoe finansier julle dié projek?

Ons kry geld by Mercedes-Benz vir die internskappe. Ons wil ontluikende talent ontwikkel sodat hulle ons eendag kan verlaat en elders suksesvol wees, maar steeds ’n band met ons het. Ek dink, byvoorbeeld, aan William Kentridge en die Goodman-galery [in Kaapstad], wat hom steeds verteenwoordig. Hy steun ook ontluikende kunstenaars. Dit gaan oor verhoudings; ’n wisselwerking tussen ons en die kunstenaars wat ons graag volhoubaar wil maak. Ons verwag tog lojaliteit van ons kunstenaars.

Die kunswêreld het ’n interessante dinamiek. Kunstenaars soos Louis sou dit in elk geval “gemaak het”. Het ons hom gehelp? Ja, ek glo ons het. Met ander kunstenaars het dit nie gewerk nie. Hulle het ander verwagtinge gehad. Dit bly eindelik steeds ’n besigheid. As hulle hier is, moet hulle bereid wees om te ontwikkel en te werk. Daar is reëls. Dis dalk die probleem met die millennials – hulle verwag dadelik sukses. Maar die kunswêreld werk nie só nie. Daai kunstenaars is egter in die minderheid.

Dit gaan ook oor die bande wat die kunstenaars sluit met ander kunstenaars. En met versamelaars. Dit gaan oor blootstelling.

Wat hou die toekoms vir julle in?

Ek kan sien dat die galery in die nabye toekoms gaan “afstig” in boetiekgalerye wêreldwyd wat steeds gevoed word deur die internskappe by Art Eye. Ons sal steeds ons voetspoor in die middestad wil behou. Omdat die galery en die internskappe gefinansier word, kan ek kuns verkoop teen baie redelike pryse. Ek kan verkoop aan ander galerye en teen kosprys – galerye in Cannes, Londen en New York. Dit beteken ons maak nie baie geld nie, maar dit laat my toe om die kunstenaars se werk in die mark te kry teen ’n billike prys.

Dan beplan ons ook om volgende jaar ’n Young Buyers Club te begin. Dit sal jongmense wees wat ernstig is oor kuns; nie net mense wat galerye toe kom vir ’n gratis glas wyn nie. In plaas van honderd mense by ’n uitstalling soek ons net tien. Sodat ons met hulle kan gesels; verhoudings bou. Mense wat belangstel in kuns. Hier kan hulle gesprekke voer met die kunstenaars.

Ek is opgewonde oor die toekoms. Alles wat ons wou doen, het ons reeds gedoen en nog meer. Ons het die jonger mark bereik, ons het die ouer demografie bereik; selfs versamelaars wat ouer kuns vervang met nuwer, kontemporêre kuns. Ons het die mense gekry om deel te neem. Ek kan nie wag om te sien wat volgende gebeur nie.