
Line of Duty 6
Britbox
Die sesde en finale seisoen van die plofbare Britse polisiereeks Line of Duty herinner geharde aanhangers van dié genre opnuut hoekom hulle elke vorige episode van die vyf baanbrekersiesoene met opgehoue asem en aangejaagde hartklop gevolg het. Line of Duty bly nou eenmaal die crème de la crème van Britse topgehalte-TV, in dieselfde liga as Prime Suspect met Helen Mirren, The Bodyguard en The Night Manager. Dit is van die eerste kwartier af klinkklaar dat die klemskroef styf vasgedraai gaan word. Soos tevore bly ʼn verwikkelde misterie, volop kinels, omkerings en hoogspanning die suksesresep Jy weet byvoorbaat HKGK. AC-12, die spesiale eenheid wat korrupte polisiemanne en -vroue vastrek, stel die visier dié keer in op hoofspeurder Joanne Davidson, gespeel deur die petite Skotse aktrise Kelly Macdonald, laas nog so skitterend as die rampokkerbaas Steve Buscemi se minnares in Boardwalk Empire. Die polisiëring van die polisie is ʼn gevaarlike besigheid, ʼn skemerwêreld van morele dubbelsinnigheid, verdeelde lojaliteit, skynvriendskap en onderduimse komplotte. Superintendent Ted Hastings (Adrian Dunbar) en sy regterhand, topspeurder Steve Arnott (Martin Compston) is dié keer aanvanklik sonder die bystand van Kate Fleming (Vicky McClure) wat nou onder die leiding van die hoofverdagte werk, ʼn netelige situasie vir die voormalige hegte driemanskap. Joanne Davidson is, soos al die vorige antagoniste in die brijant geskrewe reeks deur skepper Jed Mercurio, ʼn uiters gekompliseerde karakter wat die kyker aan die raai hou en selfs by tye met simpatie vul. (Die bloudruk is ongewtyfeld Prime Suispect, wat soos die titel toon, telkens op ʼn glibberige en geslepe hoofverdagte gefokus het.) Kate bevriend Joanna, wat skynbaar ʼn onwillige medewerker van ‘n misdaadnetwerk is. Ons drie dapper helde word tot die uiterste getoets in hul ondersoek na korrupsie en die sluipmoord op ʼn TV-joernalis wat ongerymdhede in polisiegeledere oopgekrap het. Die polisiekommisaris dreig om die spesiale eenheid te ontbind, en rompslomp ondermyn die speurders om elke hoek en draai. Soos altyd handhaaf die intrige ʼn volmaakte balans tussen spannende aksiesekwense en boeiende ondervragings. Die styl is hiperrealisties en word geanker deur uitmuntende spel en regie. Elke reaksie of onderlangse kyk dra betekenis. Dis onmoontlik om iemand uit te sonder in hierdie formidabele rolverdeling. Die laaste seisoen, in 2020 verfilm in Belfast, is herhaaldelik vertraag deur die pandemie. As jy op soek is na ʼn polisiereeks wat jou laat naels kou en wriemel van opwinding, begin vandag nog kyk na die voorafgaande seisoene van Line of Duty, wat storielyne en karakters oor seisoene heen konsolideer en tot ʼn ademlose hoogtepunt voer in die sesde seisoen. Geen wonder dit is Britse TV-kykers se topreeks nie. Schalk Schoombie
Des
Britbox
Die gevierde Britse akteur David Tennant speel dikwels geregsdienaars, ʼn innemende heldefiguur met sy asketiese gesig, priemende donker oë en lang kuif. In Broadchurch (drie seisoene) is hy ʼn oorspanne speurder wat nie sy vorige saak kon oplos nie, en hom moet bewys. In die nuwe ware misdaadreeks Des kry Tennant die geleentheid om sy hare oor sy oë te laat val en hom by die donker kant te skaar. Dis ʼn booswigrol waarin hy sy tande sink en sy ysingwekkende vertolking het hom onlangs ʼn Internasionale Emmy-toekenning as Beste Akteur in die sak gebring. Hy speel die titelrol van die gay reeksmoordenaar Dennis Nilsen (oftewel Des), ʼn voormalige polisieman wat 15 of 16 jong mans in die 1970s en vroeë 1980s na sy huis genooi en verwurg het. Vele van sy slagoffers was brandarm, werkloos of haweloos, sommige het hy in nagklubs ontmoet. Die eerste episode open met ʼn grusame vonds van liggamsdele in ʼn rioolpyp buite sy huis. Polisie vind oorskot van verskeie lyke onder die vloer in sy woonplek, en Nilsen lei hulle voorts na plekke in die tuin waar beendere en verbrande liggaamsdele begrawe is. Tennant se portret van ʼn yskoue psigopaat wat elke moord haarfyn beskryf, maar nie die name van sy slagoffers onthou nie, bied ʼn fassinerende kykie in die siel van ʼn menslike roofdier. Hy haal sy skouers op oor sy motiewe: “Is dit nie wat julle vir my moet vertel nie?” Die Netflix-dokumentêr Memories of a Murdere: The Nilsen Tapes, het ʼn klankbeeld gebied van die moordenaarin sy eie woorde op band, en Des vul die visuele gapings in om Nilsen te toon waar hy deur die polisie ondervra word en met sy biograaf gesels. In Nilsel se woorde: “Elkeen moet aan iets doodgaan, of hoe?” “Ek is demonies.” “Ek is nie ʼn monster nie, ek is ʼn man.” Daar is geen gedramtiseerde terugflitse van moorde nie, die handeling setel meestal in gesprekke. Dit plaas die fokus volledig en indringend op Tennant se vertolking, en wat ʼn kragtoer is dit nie! Hy het Nilsen se onbetrokke stemtoon vervolmaak, ʼn buiksprekerstoertjie wat die moordenaar se kil berekende gedagtes openbaar maar die enigma behou. Soms is die Skotse uitspraak effens sterk teen Nilsen se meer neutrale tongval. Twee ander vertolkings wat vermelding verdien, is Daniel Mays as speuder Peter Jay, ʼn man wat homself uitmergel om reg te laat geskied aan die slagoffers en hul families, en Jason Watkins as die biograaf Brian Masters, wat soms meer inligting uit die moordenaar kry as die polisie. Die tonele tussen Nilsen en hierdie twee ondervraers is die hoogtepunte van die reeks. Aanvanklik is daar heelwat antagonisme tussen Jay en Masters, maar namate die skrywer besef dat hy die stem van gewete verteenwoordig, begin die twee opponente saamwerk om Nilsen se slagoffers te identifiseer. Die reeks is nie so grafies en grusaam soos ander in die genre nie, maar die gekombineerde impak van uitmuntende toneelspel, regie en outentieke inkleding lei tot ʼn produksie van topgehalte. Schalk Schoombie
Hacks
HBO / Showmax, 2021
Komediante is deesdae in ’n dodedans met kanselleerkultuur gewikkel. Kyk maar wat het met Dave Chappelle gebeur nadat sy jongste komedievertoning op Netflix uitgereik is. Die hoofkarakter in HBO se komediereeks Hacks is ’n ouer komediant, Deborah Vance (Jean Smart), wat haar reeks vaste optredes in Las Vegas moet probeer behou, terselfdertyd moet “vernuwe” en dan moet suutjies trap vir einste landmyne wat Chappelle in die hoofnuus geplaas het. Vance ken haar gehore en skroom nie om haar mond oor alles en nog wat uit te spoel nie. Haar agent glo egter dat die hulp van ’n bloedjong, werklose Gen-Z-komedieskrywer, Ava Daniels (Hannah Einbinder), net die regte oplossing is. (Ava het haar werk verloor oor ’n twiet wat deur die kansellasie-kultuur se hekwagters as ’n doodsonde afgemaak is…) ’n Mens besef gou dat die agent van beter moes geweet het. Vance is ’n vuurvreter wat selfs haar personeel binne enkele sekondes met ’n stortvloed kwetsende opmerkings kan vertrap. Deborah en Ava se ontmoeting is soos ’n skeut petrol in die braaivleisvuur. Dit lei tot ’n liefde-haat-verhouding wat die reeks tot bisarre en maniese hoogtes dryf. Vance is in talle opsigte op die lewe van Joan Rivers geskoei en Smart se vertolking laat die tydlose komediant skitterend herleef. Diegene wat die 2010-dokkie Joan Rivers: A Piece of Work ken, sal die tientalle raakpunte opmerk. (Die vervaardigers was tot dusver versigtig om die Rivers-hulde te erken, en het bloot gesê dat Vance op verskeie bekende komediante en TV-sterre geskoei is.) Smart, wat ook in HBO se TV-reeks Mare of Easttown die rol van Kate Winslet se ma vertolk, verdien elke prys denkbaar vir haar meesterlike vertolking wat een van die fynste karakterstudies in die onlangse TV-geskiedenis is. Dit is boonop so ’n knap draaiboek met dialoog-kartetse wat die intrige aandryf dat ’n mens die reeks eintlik dadelik vir ’n tweede keer wil kyk. Was dit nie ook die geval met Rivers se vertonings nie? Dit is soms eers met die derde kyk wat ’n mens al haar sluwe sêgoed en soms byna onvanpaste opmerkings waardeer. Hacks het ’n string newe-karakters wie se lewens ewe komies uitgepluis word. ’n Mens kan amper nie karakters uitsonder nie, maar Megan Stalter as Kayla, die assistent van Vance se agent, is eweneens ’n verbluffende vertolking. Van die tonele is soos gespierde absurde teater. Die verjaardagete vir Vance se dogter, DJ, met sy onverwagse wending is as ‘t ware ’n mini-drama. Hacks vaar volstoom verby enige voorspelbaarheid en is ’n ryk geskakeerde reeks wat maar met breë skouers bo ander eietydse skeppings kan uittroon. Dit is van vanjaar se heel beste televisie. Kobus Burger
Midnight Mass
Netflix
In die sewentigs het die grilgenre bekend geraak as “spine chillers”. Rillers wat die murg vries. As daar vanjaar een minireeks is wat die kyker in ʼn yskas toesluit, is dit Midnight Mass, geskep en geregisseer deur Mike Flanagan (The Haunting of Hill House, The Haunting of Bly Manor). Anders as met sy spookprojekte wat op romans gebaseer is, het Flanagan hier sy eie verhaal geweef wat fokus op ʼn geïsoleerde eiland-gemeenskap. En oplaas sy eie chiller-nis uitgekerf. Wanneer ʼn charismatiese priester, Paul Hill (Hamish Linklater), opdaag as plaasvervanger van die bejaarde priester wat die gemeente dekades lank gedien het, is daar eensklaps ʼn reeks aardige omwentelinge en mirakels wat die inwoners se lewens en geloof omdolwe. Wat skuil in die trommel wat hy saamgebring het? ʼn Dosyn uiteenlopende karakters en hul verweefde lotgevalle word seepglad in die openingstonele ontplooi, terwyl ʼn gevaarlike storm broei. Al die elemente vir ʼn gotiese riller is aanwesig, ʼn bende kwajongens wat dagga rook in die duine, waar ʼn reuse “albatros” wilde katte verkeur, ʼn swanger onderwyseres, ʼn dronklap wat sy nagte vrywillig in die tronkselle deurbring, ʼn praatsieke burgemeeter en sy verlamde dogter. Die outsider-held is Riley Flynn (Zach Gilford) wat sy parool in sy ouerhuis moet doen. Die polisiehoof en sy seun is Moslems. Dis ʼn knus gemeenskap van gelowiges wat nie meer die kerkbanke volsit nie, maar allerlei “tekens” in die aanloop na Pase lok hulle terug. Die antwoorde skuil in die bloedsakrament … Elke hoofstuk dra die naam van ʼn Bybelboek: Genesis, Psalms, Lamentations, Revelations. Die klankbaan is ʼn ironiese (onheilspellende) kombinasie van Neil Diamond-liedjies en gospelkore. Visueel geskied die vertelling stylvol en karakter-gedrewe, met die eerste skok-onthullings aan die einde van die derde episode. Daarna is die duiwel behoorlik los. Linklater skitter as die priester wat sy kudde mislei met opswepende preke en oplaas grusame rituele, terwyl Samantha Sloyan as die skynheilige Bev Keane hom in sy kwaad sterk met al die nommerpas-teksverse. Deel van die verrassingswaarde van Midnight Mass is juis hoe al die bekende teologiese stellings van die Bybel verdraai kan word om die teenoorgestelde betekenis te verkry. Soms is dit lagwekkend, meestal laat dit die bloed ys en die hare rys. Dit loop geleidelik uit op ʼn donker spel van inversie waar allerlei wandade met die Bybel regverdig kan word. Die reeks het beslag gekry in die Trump-era, en lewer satiriese kommentaar op gelowiges wat verblind word deur wolwe in skaapklere wat munt slaan uit die eindtyd-manie. Roer hierby raakpunte met tradisionele booswigte soos Dracula (vampirisme word nooit genoem nie). Die sentrale middernagritueel waarna die titel verwys, is ʼn bloedige skouspel wat nie maklik uit die verbeelding geskrop word nie. Midnight Mass is geen gewone gruwelstorie nie. Die draaiboek, by tye briljant, balanseer synsbeskouings en kontrasteer die wetenskap met religie, die rasionele met die bonatuurlike. Die impak van die puik ensemble kan nie onderskat word nie. Midnight Mass verdien ʼn plek op die lys van vanjaar se beste dramareekse. Schalk Schoombie
Squid Game
Netflix/Suid-Korea
Daar kan net een wenner wees. Klink dit bekend? Outwit, Outplay, Outlast. ʼn Mens dink onvermydelik aan die mees ekstreme vorm van die TV-werklikheidkompetisie Survivor. Vertrou die Koreane om die konsep van oorlewing vir ʼn goudpot tot die uiterste te voer. Squid Game is die onbetwtiste wenner in die kategorie mees opspraakwekkende, sensasionele TV-reeks van die jaar, tans wêreldwyd Netflix se mees gekykte aanbod. En in die verhaal kan daar net een wenner wees omdat al die ander deelnemers “uitgeskakel” is. In die ses dodelike kinderspeletjies wat op ʼn afgeleë eiland en teen kleurryke sikloramas beding word, delf die verloorders (en almal wat die geringste flater began) die onderspit op grieselrige wyse: hulle word afgemaai of sterf skouspelagtig – dis snuff-vermaak vir die robotagtige poppemeester (Front Man) en sy Baie Belangrike Besoekers wat dieremaskers dra. Dis Hunger Games op steroïdes. Maar is Squid Game meer as geweld-porno? Gewis. As spanningsreeks werk dit op verskeie narratiewe en emosionele vlakke; die verweefde stories van die deelnemers, alledaagse mense wat desperaat is om die skuldput te ontsnap en sodoende in staat is tot enigiets. Oorlewing is ‘n tydige tema in die tweede Covid-jaar. Die karakters se oorlrwingstrategieë in verskuiwende alliansies en instinktiewe, irrasionele maneuvers, hou die kyker ademloos vasgenael. Telkens moet jy jouself afvra: Wat sou ek in soortgelyke alles-of-niks situasies doen? The Guardian berig dat die reeks ʼn fel soeklig op Suid-Korea se wydverspreide skuldkrisis werp. Die skepper Hwang Dong-hyuk, wat al nege episodes geskryf en geregisseur het, het op die idee gekom toe hy homself in ʼn skuldverknorsing bevind het. As jy foutvinderig wil wees, kan jy kla oor vlak stereotipes en oordrewe toneelspel, en tog is hierdie rolverdeling volmaak beset met vreeslose akteurs wat voldoen aan die fisieke en psigiese uitdagings wat die intrige dryf. Aan die spits staan die chauffeur en dobbelslaaf Seong Gi-hun (Lee Jung-jae), oftewel Speler 456, wat by sy ma woon en sukkel om sy dogter te onderhou. Aanvanklik word hy gekortwiek deur sy bleeksiel-aard en gewetenskwellings, maar algaande ontpop hy tot ʼn verbete mededinger. Jy kan jouself betrap dat jy een oomblik histeries lag vir die deelnemers se manipulasies in gevaarlike situasies, en die volgende oomblik saam met hulle gil van angs. ʼn Spannende episode eindig met een van die allerbeste kloofhangers (letterlik en figuurlik) ooit. Dis die soort opwindende kykstof wat nie net visueel ryk ingeklee is nie,maar jou elke oomblik meesleur en dikwels aan die keel gryp. Hoeveel reekse het sulke onmiddellike en onweerstaanbare impak? Die finale episode het ʼn onthulling wat meer ekstreme sport en naelkou-pret belowe in ʼn opvolgseisoen. Die Suid-Koreaanse filmbedryf maak al dekades uistekende flieks, wat eers waarlik met die Oscar-bekroonde riller Parasite wye erkenning en gewildheid behaal het. Squid Game is besig om Hollywood ʼn les te leer in distopiese hoë-oktoon vermaak wat niks terughou nie. Elke tegniese aspek, van kamerawerk, stelontwerp tot musiek, redigering tot kostuums is eksieperfeksie. Kan jy bekostig om dié stylvolle bloedbad mis te loop? Koreaans met Engelse onderskrifte. Schalk Schoombie
Katla
Netflix
ʼn Naakte, swartbesmeerde vrouefiguur kruip uit die gletser-yslae van ʼn ontwakende vulkaan in Ysland. Dit is ʼn misterieuse tafereel in ʼn strak, apokaliptiese landskap. Wie is hierdie vrou wat lyk asof sy van lawa en modder gemaak is? Onder die vuil laag is sy ʼn mens van vlees en bloed, en sy openbaar herinneringe van ʼn hotel in ‘n plattelandse dorpie waar sy gewerk het. So begin Katla, ʼn Yslandse speurverhaal geskep deur Baltasar Kormákur (Trapped, Everest) wat riller-elemente van ʼn ontvouende natuurramp, Skandinawiese noir, wetenskapfantasie en bonatuurlike manifestasies laat saamsmelt tot ʼn roerende menslike drama vol filosofiese raaisels. Visueel is die kortreeks ewe aangrypend, met wyelens-panoramas van draaktand-berge, onaardse lig en ysbedekte vlaktes, harige bokke in dik sneeu, krysende kraaie wat die gehuggie onder sy kombers van poeieragtige swart as besoek soos boodskappers van die onderwêreld. Die plek is ontruim weens die nabygeleë vulkaan wat skeure in die aardkors en gereelde as-storms veroorsaak. Die son is selde sigbaar in dié middernagland. Net ʼn handjievol nimmereinders en essensiële personeel bly nog hier vasbyt: kleinboere, geoloë, navorsers en weerkundiges, regsdienaars, ʼn hoteleienaar, ʼn mediese suster. Hulle lewe in ʼn skemerwêreld wat wentel om oorlewing en afsondering. Verhoudings raak intenser, gevaarliker. Dis nie net die ongewone toestande en koue wat hulle trotseer nie. Meer as een bisarre besoeker verskyn uit die vulkaniese newels om hul lewens en drome om te krap. As daar een eg-menslike tema is wat deurloop en verskeie ontstemmende gestaltes aanneem, is dit die waarskuwing: “Pasop waarvoor jy wens.” ʼn Egpaar wat aan die skei is ná die trauma van hul jong seun se dood, ontdek tot hul skok en vreugde dat hy onverklaarbaar terug is, springlewendig en gesond. Maar is dit werklik hy? Hierdie verhaallyn is een van dié wat jou telkens onkant betrap, beklem, na jou asem laat snak. ʼn Jong getroude vrou vind haar suster wat ‘n jaar lank vermis was, maar daar is onbeantwoorde vrae: Waar was sy in die woesteny en hoekom onthou sy niks daarvan nie? En hoekom is sy nie ʼn dag ouer as toe sy weggeraak het nie? Die mens se brandende begeerte om oorledenes weer te sien en die lewe saam met hulle te hervat, word die hoeksteen van ʼn donker verhaal oor wensvervulling en dubbelgangers. Die finale twee episodes trek genoeg storiedrade grieselig saam om die kyker te verbyster. Daar is vrae wat nie beantwoord word nie, wat dalk in ‘n opvolgseisoen ontknoop word. Hoe dit ook al sy, Katla is ʼn briljante raaiselreeks wat die kyker in die onderbewussyn laat grawe: Wat as jy ʼn gestorwe liefde kon terugkry vir ʼn dag, ʼn week, vir altyd? Aardig, ongewoon, onvergeetlik, gewis een van die jaar se heel beste dramareekse. As jy die bekroonde Trapped geniet het, moenie huiwer nie. Yslandies met Engelse onderskrifte. Schalk Schoombie
The Chair
Netflix 2021
Op Suid-Afrika se universiteitskampusse het die “Fees Must Fall”-veldtog soos ’n veldbrand versprei. Maar op die kampus van die fiktiewe Pembrook-kollege in Amerika is dit vooroordeel wat vertrap moet word. En sommer op alle vlakke. So gou as moontlik! Dermate dat Ji-Yoon Kim (vertolk deur Sandra Oh van Grey’s Anatomy en Under the Tuscan Sun) die eerste vroulike departementshoof van Pembrook se Engels-departement word, maar min wetende dat daar ’n paar olifante in haar ruim kantoor staan en met hul slurpe speel … Kim het skaars haar sit gekry of sy moet sorg dat ’n paar koppe moet rol. Die ouer professors moet liefs die trekpas kry en sy moet besef dat al hoe minder studente vir die kursusse van haar departement inskryf. En die noodlot gooi ’n ekstra paar esse met een van die gewilde, aweregse professors, Bill (Jay Duplass), wat “verdwyn”. Tuis is Kim ’n enkelma wat sukkel om haar ma-wees met haar nuwe werksverpligtinge te versoen. Haar bejaarde pa is meesal teësinnig die oppasser, al kan hy skaars Engels praat. Dan is haar aangenome dogter bekkig verby! Kim waad deur ’n moeras van netelige kwessies. Skaars is sy weer op droë grond of sy moet op die uitkyk wees vir slagysters. Haar goeie intensies word “verkeerd” geïnterpreteer en sy beland selfs op die plaaslike koerant se voorblad. The Chair is ’n ses episode lange komediereeks met episodes van sowat ’n halfuur lank. Die skepper is die aktrise Amanda Peet, wat bygestaan is deur die akademikus en draaiboekskrywer Annie Julia Wyman. Lesers en letterkunde-liefhebbers se tone sal krul vir al die verwysings. Van Chaucer tot Herman Melville, skrywer van Moby Dick, word geroskam. Die rolverdeling sluit in die akteur Bob Balaban as een van die bejaarde, verontregte professors. Dan maak David Duchovny (van The X Files) ’n verskyning as homself. Sy deelname sorg vir ’n kostelike stuk opstuur-komedie wat sosiale kommentaar lewer op die akademie, eietydse kultuur en sensitiwiteite. Die draaiboek is van die boonste rak en die reeks bied tonele wat ’n mens nie gou sal vergeet nie. Die lot van akademici word gekontrasteer met moederskap, verbrokkelde verhoudings en die tradisies van Chinese immigrante. Die verjaardagpartytjie vir die Chinese dogtertjie en professor Bill se bedwelmde deelname aan die vieringe is iets om te beleef. In TV-kringe word daar gegis dat The Chair een van Netflix se beste reekse in jare is. Die sukses van hierdie stukkie dinamiet-kyk kan grootliks toegeskryf word aan Oh se kragtoer-vertolking en die ewe gedugte span mede-spelers. Moet ook nie van die aktrise Holland Tayler as die Chaucer-kenner Joan en die dinamiese Yaz (vertolk deur Nana Mensah) vergeet nie. The Chair se pittige humor word fyn gebalanseer met hardvogtige tonele van vriendskap en familie, wat dit ’n veel wyer gehoor sal bied as net die belese boekwurmkyker. Kobus Burger
The White Lotus
HBO / Showmax 2021
“We are all parasites on this Earth. There’s no virtuous person when we’re all eating the last fish and throwing all our plastic crap in the ocean.” Só sê ’n jong karakter tydens ’n idilliese aandete met ’n uitsig op die Hawaiïese strande waar die gesin ’n week lange vakansie in ’n spoggerige oord geniet. Dit is een van die talle skalpel-momente in die ses episode lange TV-reeks The White Lotus – ’n satiriese komedie wat dae later nog by sy kyker spook. Die reeks begin met die einde van die tropiese vakansie waar ’n lyk op die vliegtuig gelaai word. ’n Verpletterde jong man wat sy wittebrood in Hawaiï gevier het, is sonder sy vrou en staar in die niet. Vandaar ontvou die voorafgaande week se gebeure rondom die luukse-eilandoord. The White Lotus is geskep, geskryf én geregisseer deur Mike White, wat die verbluffende en onvergeetlike TV-reeks Enlightened (ook op HBO) saam met Laura Dern geskep het. En soos ’n mens destyds White se waarnemings en skryfstyl ervaar het, is hy nie skaam om diep in die menslike psige te gaan delf nie. Die reeks bestaan uit ’n mallemeule van intriges. Daar is natuurlik vakansieromanses, maar die ewe galante oordbestuurder, Armond (Murray Bartlett), word deur sy gaste tot op die randjie van die afgrond gedwing. Voeg daarby ’n vrou wat haar ma se as in die oseaan wil strooi, ’n irriterende, skatryk skoonma wat onverwags haar verskyning maak, ’n inbraak en ’n handsak vol pille en dwelms wat verdwyn. White se karakters sien skuimbekkend uit na die geluk wat die vakansie hul gaan bied, maar soos sy kamera telkens tot in die donkerder dieptes van die see afsak, borrel hul neuroses, demone en vooroordele na die oppervlak. Die lotusblom groei immers in die modder totdat die reinwit blom sy prag deel. Daar is episodes wat die kyker laat bulderlag, terwyl ander ongeveinsd die ongesêde in duiselingwekkende dialoog na vore bring. White se temas wissel van “Cancel Culture”, rassisme, seksualiteit, pa-en-seun-verhoudings, die lot van die “straight white male” en vriendskap tot die wig wat daar tussen ryk en arm, baas en klaas bestaan. Die oorspronklike klankbaan deur Cristobal Tapia De Veer en bykomende musiek deur The Rose Ensemble word ’n newe-karakter danksy White se sintuiglike regie-aanslag. Plek-plek is die musiek egter só hard dat dit die dialoog uitdoof. The White Lotus is verslawende stroomkyk. Dit is op een vlak ’n raaiselreeks met oorgenoeg komedie en absurditeit, maar dan ook ’n eietydse heldereeks. Wie gaan bly leef en oorleef? En wie gaan die voorreg hê om uiteindelik die horison binne te vaar met “vryheid” in pag? In een van die eerste tonele leer Armond vir ’n nuwe personeellid die volgende les: “The goal is to disappear behind our masks.” Die waarheid is dat elke enkele masker tydsaam afgeruk word. En wat daaragter lê, is wat ’n mens vasgenael hou Tesame met uitknikker-vertolkings deur ’n gedugte rolverdeling wat Connie Britton, Steve Zahn, Jennifer Coolidge en Jake Lacy insluit, sorg The White Lotus vir die kykervaring van die jaar. En goeie nuus is dat HBO reeds ’n opvolg beplan! KB
Lupin
Netflix 2021
Die caper (kaperjol of kapriol), tipies van die sestigs se Hollywood-misdaadklugte, is gekenmerk deur ʼn gekke pas, slinkse rooftogte, flambojante antihelde, dom speurders, slapstick en doller-as-kop-af-jaagtogte. Blake Edwards het ʼn bloudruk geskep met The Pink Panther (1963), met Peter Sellers as die idiotiese Inspector Clouseau. ʼn Fabelagtige skat, die pienk diamant van die titel, het ʼn rolverdeling van eksentrieke karakters laat konkel teen mekaar. Die beste en mees epiese capers was It’s a Mad, Mad, Mad, Mad World (1963), met die top-komediante van die sestigs wat oor die hele VSA jaag om ‘n skat in Kalifornië te gaan soek. Vergeet ook nie van How To Steal a Million (1966), Topkapi (1964) en After the Fox (1966) nie. Lupin, ʼn eietydse Franse misdaadreeks van vyf episodes, losweg geskoei op die avonture van ʼn “gentleman thief”, volg die wenresep van die Hollywood-caper met kontimentale flair en finesse. Die skat is ʼn halssnoer wat glo aan Marie Antoinette behoort het, en die antiheld is Assane Diop (die sjarmante reus Omar Sy van The Intouchables), ʼn man wat sy rooftogte modelleer op dié van die beroemde Arsène Lupin, meer as ʼn eeu gelede geskep deur Maurice Leblanc. Diop, die seun van ʼn Senegalese immigrant, is waarlik ʼn buitestaander wat vir sy aangenome landgenote onsigbaar is: hy vermom homself nes sy letterkudige held om soos ʼn wafferse towenaar helder oordag sy misdade uit te voer en telkens in ʼn oogwink te verdwyn. ʼn Groot deel van die pret van dié behaaglike spanningsreeks is om te sien hoe rats en vindingryk hierdie innemende vabond sy slagoffers en agtervolgers om die bos lei en uit haarrysende situasies ontsnap. Hy is nie net ʼn klouetrdief wat oor dakke rinkink nie, hy gebruik rekenaars en tegnologie om sy doel te bereik. Vir hom gaan dit allermins om gierigheid, al is hy versot op blink steentjies, hy wil hom wreek op die magtige Hubert Pelligrini, en sy pa s naam in ere herstel. Dit help dat Pelligrini se aanvallige dogter Juliette verlief is op hom. Meer hoef ʼn mens nie te verklap nie, daar is genoeg eskapades en wilde wendings (en jaagtogte!) wat in die hede en verlede afspeel om jonk en oud te laat wip van plesier. Lupin het iets vir almal, selfs as jy nie van onderskrifte hou nie – dis nie verniet Netflix se mees gekykte nie-Engelse dramareeks nie. In die eerste maand van uitreiking het 70 miljoen huishoudings probeer byhou op die vlugge hakskene van die nuwe Lupin. Opvolg-episodes is reeds op pad. Lank lewe die caper! Schalk Schoombie
The Vow
HBO, 2021
Buite blink, binne stink. Aldus die spreekwoord. Dit geld ook soms vir die selfhelpkultusse en hul charismatiese ghoeroes wat deesdae al hoe meer in dokkies ontmasker word. Dink maar aan Netflix se Wild, Wild Country-reeks oor Osho (oftewel Bhagwan Shree Rajneesh) en sy militaristiese kornuite. Einste stroomdiens het ook die wêreldbekende, sweterige jogameester Bikram Choudhury aan die kaak gestel in sy Bikram: Yogi, Guru, Predator. Of dit nou ’n speedo of wit jurk is, dit blyk dat daar partykeer ’n geraamte of twee in die kas is. HBO se dokkie-reeks The Vow handel oor die Amerikaanse kultusleier Keith Raniere en sy groeigroep NXIVM, wat ’n string glansganse as volgelinge het. En een van die leiers en “bestuurslede” was niemand anders nie as die Johannesburgse rolprentmaker Mark Vincente, bekend om sy dokkie What The Bleep Do We Know!? Die reeks van nege episodes begin met ’n aantal lofliedere oor die “slypskole” en hoe NXIVM mense se lewens verander. Dit is veral Vincente wat liries is oor sy Damaskus-ervaring en later ook sy vrou, die Australiese aktrise Bonnie Piesse van Star Wars-faam, aan die groepering bekend stel. Vincente word bevorder en bevind hom later midde ’n klein groepie in die binnekring. En hy werk nou saam met Raniere, waar hy die “geniale” bleeksiel verfilm en verder bemark. Piesse ruik gou lont. Sy kan nie haar vinger op iets spesifieks lê nie, maar luister na haar intuïsie en bedank. Dit blyk dat sy deel is van ’n klein(er) groep wat al hoe meer ongemaklik voel. Dit lei tot huwelikskonflik tussen haar en Vincente, asook die bestuur van NXIVM. The Vow mag dalk aanvanklik as ’n reklameveldtog voorkom, maar neem tydsaam ’n skrikwekkende wending. Kursusgangers moet – soos hulle voorts deur die range beweeg – ’n soort mentor aanneem en verslag doen van hul doen en late. Dit lyk op die oog af na ’n tipe meester-en-slaaf-speletjie, totdat daar ’n nuwe binnekring geskep word. Slegs vir vroue… The Vow is soos ’n werklikheidsreeks aangepak en ’n mens kry die gevoel dat die fliekmakers bloot ’n vlieg teen die muur wou wees. Daar is min konteks of kritiese afstand. Van die kultuslede merk later op dat hulle “gebreinspoel” is, maar geen kenner verduidelik wat werklik gebeur het nie. Klagtes word by die polisie ingedien, en selfs Vincente sien later dat die skrif aan die muur is. Tog word Vincente se rol binne die kultursgroep problematies. Hy erken in een toneel dat hy ’n “goeie ou” is. Asof hy sy leiersrol en enige kennis van ongerymdhede heeltemal ontken. Ondanks die skok-onthullings is The Vow naderhand pratende koppe en ’n verwarde Vincente wat nie mooi seker is waar hy homself bevind nie. Ironies is dit ’n groep formidabele vroue wat die veldtog teen Raniere dryf en wil seker maak dat hy agter tralies beland. Die reeks eindig met ’n “oop einde” wat daarop dui dat ’n tweede reeks op pad is. Sug. Kon die span nie maar die storie in die helfte van die tyd vertel het nie? The Vow is dalk essensiële kykstof as dit by die mag en subtiele misleiding van kultusleiers kom. Maar dit laat die kyker met meer agterdog en vrae as soortgelyke dokkies in hierdie genre. Dat dit ’n wekroep is, ja, ongetwyfeld. Terselfdertyd trap die dokkie-span water, en so ook enkele voormalige lede van NXIVM. ’n Dokumentére fliekmaker is meer as net ’n alsiende oog. Sny tot op die been. Stel kritiese vrae en laat deskundiges die tema en gebeure binne perspektief plaas. As oppervlakkige dokkie-vermaak sal The Vow wel boei, maar helaas nie die diepgang bied wat ’n kyker van ’n vreeslose span regisseurs en vervaardigers verwag nie. KB
Servant
Apple TV +, 2019 – 2021
Die Indies gebore rolprentregisseur en draaiboekskrywer M. Night Shyamalan het fliekgeskiedenis gemaak met The Sixth Sense. Nie net was die fliek ’n lokettreffer nie, maar het sy vermoë om verrassende kinkels meesterlik te verfilm op ’n tydlose manier gevestig. Nou het Shyamalan hom tot die TV-skerm gewend met Apple TV + se sielkundige riller Servant, geskryf deur Tony Basgallop, en waarvan daar nou reeds twee reekse beskikbaar is. Sy dogter, Ishana, maak ook haar regie-debuut in die tweede reeks! Servant handel oor ’n TV-verslaggewer in Philadelphia, Dorothy Turner (Lauren Ambrose van Six Feet Under-faam) wat haar baba, Jericho, op 13 weke op raaiselagtige manier verloor. ’n Vriendin, wat ook ’n kinesioloog is, stel ’n vorm van “voorwerpterapie” voor. Dorothy en haar man, die kreatiewe konsultantsjef Sean (Toby Kebbell), word ’n plastiekbabapop in die hande gestop en gevra om met hul lewens voort te gaan, asof Jericho nog leef. Sean glo die vriendin is ’n kwak, maar doen weldra mee. Terselfdertyd daag ’n baba-oppasser, Leanne, uit Wisconsin op om die werkende egpaar by te staan. Sy is erg godsdienstig en eet net sop uit blikkies, maar veroorsaak ’n hele rits eienaardige omwentelinge in die huishouding. Shyamalan was self die regisseur van episodes 1 en 9 van die eerste reeks en het as vervaardiger seker gemaak dat hy sy filmiese stempel stewig op die reeks afgedruk het. Hy het boonop ’n handvol jong, visioenêre filmmakers byeengebring om sy visie te vergestalt. Die eindproduk is ’n reeks wat sy kyker raampie vir raampie intrek. Daar is soveel tonele wat ’n mens eerder op die silwerdoek sou wou beleef. Die kinkels is talryk. En wanneer Dorothy se broer, Julian (Rupert Grint van die Harry Potter-flieks), sy verskyning maak, is daar al hoe meer tekens dat daar heelwat geheime onder die mat gevee is. Wees gewaarsku: min hiervan word in die eerste reeks ontknoop. Die Turners se huis word mettertyd ’n sentrale karakter en tussendeur bottels rooi wyn wat oopgemaak word en die vreemdste disse wat Sean optower, sorg Shyamalan en sy span dat die spanningsvlakke aangevuur word. Dit is ook ’n kat-en-muisspeletjie, want dit is nooit duidelik of Dorothy of Leanne vir van die bonatuurlike gebeure verantwoordlik is nie. En Sean en Julian fluister die hele tyd oor wat werklik voor Leanne se aankoms gebeur het. Daardie terugflits sien die kyker net ten dele. Servant oorspoel die tradisionele grense van televisie en is ’n filmiese bederf vir die sinne. Die episodes is sowat ’n halfuur lank, maar staan sterk geanker buite die voorspelbaarheid van die eietydse stroom-aanbiedinge. Voeg daarby die skitterspel deur die slim gekose rolverdeling en ’n mens het ’n reeks wat binne die tien episodes van die eerste reeks glad nie sy bekoring verloor nie. Hier is ’n kunsfliek, riller én verslawende TV-reeks verstrengel in ’n storie wat nie gou gaan sin maak nie. Byt vas! Kobus Burger