The Platform

Netflix / Spaanse produksie

Die politiek rondom voedselverskaffing is die grondslag vir oorlewing. Dit blyk tans met die COVID-19-pandemie al sterker. ʼn Leë maag dikteer die mees basiese drange. In die Spaanse tronkdrama The Platform (El Hoyo, The Hole) is kos (of die gebrek daaraan) die sentrale metafoor en al die karakters se allesoorheersende obsessie. Om te eet, of nie te eet nie – dis die groot synsvraag. In ʼn toringtronk, ʼn “Vertical Self-Management Centre” met honderde vlakke, wag die gevangenes daagliks vir ʼn vierkant wat in ʼn skag neerdaal; ʼn soort dumb waiter. Die tafelblad word op die boonste verdieping deur ʼn span sjefs oorlaai met die gevangenes se gunstelinggeregte. Op elke vlak vertoef die swewende feestafel net lank genoeg vir gryp en verorber, en geen kriesel mag op ʼn vlak agterbly nie – anders raak die sel dodelik warm of yskoud. Tyd vir tafelmaniere is daar nie: die selmaats kniel en snuffel tussen hoër vlakke se oorskiet vir ʼn happie wat dalk nog eetbaar is. Die boonste vlakke eet die lekkerste, maar hoe laer jy in die tronkhiërargie of voedselketting is, hoe minder bly daar oor wat eetbaar is. Dis die oorlewing van die vraatsugtigste. Van mededeelsaamheid kan daar nie sprake wees nie. Een keer ʼn maand word die gevangenes met gas bedwelm en wanneer hulle ontwaak is hulle op ʼn ander vlak – hoër of laer, ʼn onreëlmatige herverdeling. Dis ʼn besonder sadistiese konsep: ʼn strafkamp met honger as enigste dryfveer of spil waarom elke konflik draai; dit verontmenslik almal en lei selfs tot kannibalisme. Die tronkvoëls kon elk een besitting saambring, waarmee hulle gekarakteriseer word: Goreng (Iván Massagué) het Don Quichote gekies, sy bejaarde selmaat Trimagasi (Zorian Eguileor) ʼn selfslypende mes; ʼn boek versus skerp lem in die stryd om geestelik-fisieke oorlewing. Goreng, ʼn idealis, probeer die stelsel rehabiliteer. Die regisseur Galder Gaztelu-Urrutia handhaaf ʼn moordende pas met sweepslagtonele, simboliese dialoog en plofbare handeling in ʼn labirint van omstellings en omverwerpings. Daar is raakpunte met Buñuel se The Discreet Charm of the Bourgeoisie (die klassestryd en maaltye) en selfs die Nazi-oordaad van Pasolini se Salò, or the 120 Days of Sodom. Soms lyk dit soos ʼn warboel van wreedheid, nie veel anders as die gore fests van generiese reekse soos Saw en Final Destination nie. Die oop einde met ʼn bonatuurlike kinkel bevredig nie – jy kan eintlik maar net jou eie slot opmaak. The Platform is wel ongewoon, steurend en geensins vervelig – ʼn surrealistiese riller met skoktonele wat deurgaans aan jou ingewande torring. Beslis nie vir sensitiewe kykers nie. Schalk Schoombie

 

Jonas (I Am Jonas)

Netflix, 2018

Sielkundiges het al die mens as ʼn skilpop beskryf. Daar is soveel verskillende weergawes van een persoon. En die rolle kan selfs meer kompleks wees: seun, pa, broer, eggenoot, vriend, kollega, werkgewer of diaken. Elkeen het as ’t ware sy eie identiteit; en soms amper onversoenbaar met die ander. Die Franse fliek Jonas bied aan sy kyker die twee psiges van die titelkarakter – eers in 1997 en dan sowat agttien jaar later (in 2015). Eers is daar ʼn inkennige skoolseun wat besef hy is gay, maar weens ʼn ondenkbare trauma en oorweldigende terugflitse al hoe meer in sy dop kruip. Die skrywer-regisseur Christophe Charrier vervleg die twee “karakters” en hul verhale in sowat 82 spanningsvolle minute. Op een vlak is dit ʼn coming-of-age-fliek wat al met Call Be My Your Name (2017) vergelyk is. Laasgenoemde was egter ʼn uitgesponne en idilliese storie wat bittermin raakpunte met Jonas toon. Hoewel daar in Jonas romanse en ʼn liefdesontwaking ter sprake is, is dit die gevolglike trauma wat ʼn mens met soveel empatie vir die titelkarakter laat. Die volwasse Jonas is selfdestruktief en van sy onmiddellike wêreld vervreem. Die halter om sy eie nek is buite sy bereik en waar hy die spoor byster geraak het, bly vir meer as driekwart van die prent ʼn tergende raaisel. Sy buitestanderskap toon daarom eerder raakpunte met François Ozon se Time to Leave wat in 2005 tydens die Cannes-fliekfees soveel aandag getrek het. Een van Jonas se sleuteltonele is waar hy in hegtenis geneem word. Die een polisiebeampte herken hom dadelik: hulle was saam op skool! Haar kollega vra dan of Jonas al op skool ʼn “moeilikheidmaker” was, want dit is die soveelste keer dat hy in ʼn vuisgeveg in die openbaar betrokke was. Nee, hy was nie, verduidelik sy. Wat het dan skeefgeloop dat die skaam seun met sy GameBoy-speletjie vandag met ʼn bloedneus in die polisiekantoor sit? Filmies bied Charrier onvergeetlike tonele soos die een waarin Jonas ʼn sigaret in ʼn hotelkamer aansteek. Die beligting en kleurgebruik laat die fliek ook bo die gemiddelde TV-prent uitstyg. Voeg daarby die legkaartstukke-narratief en jy het ʼn filmiese verhaal wat ʼn mens met vertedering laat kyk na mense wat soms geweld gebruik om hul probleme op te los. Wie weet waarlik waar die waarheid woon? Kobus Burger

 

Love Wedding Repeat

Netflix, 2020

“As ek maar net…” is ʼn bogger. Dis ʼn maermerrie-marteling, want jy is die een wat skop. Jy het daardie een kans gehad en jy het dit pimpel en pers opgedônner. In die draaiboekskrywer-regisseur Dean Craig se Brits-Italiaanse romkom Love Wedding Repeat wonder ʼn mens reeds binne die eerste paar minute oor die moontlike tweede kans. As jy voor jou siel weet wat jy in daardie deurslaggewende moment moes gesê of gedoen het, wat sal gebeur as jy weer die dobbelsteen kry om daai ses te gooi? Die hoofkarakter Jack moet ʼn paar jaar ná die soen-wat-nooit-gebeur-het-nie sy geliefde suster bystaan om haar troudag met ʼn welgestelde Italianer onvergeetlik te maak. ʼn Bitsige eks, ʼn onvoorspelbare, ongenooide gas en die vrou wat nooit gehoor het wat hy regtig vir haar wou sê nie, daag gelyktydig op. Die kinders besluit om naamkaartjie-roulet te speel en selfs die wit toring van ʼn troukoek is skielik nie meer veilig nie. In die tradisie van ʼn giggellag Feydeau-klug moet meer as net Jack sorg dat die bruilof nie voor die eerste dans al ineenplof nie. Die verhaal is bevolk met kostelike karakters en spitsvondige dialoog. Craig (bekend om sy draaiboek vir Death at a Funeral) se mallemeule-draaiboek kry ʼn ekstra kinkel wanneer die Verteller vra wat sou gebeur as die ontwykende “tweede kans” in ʼn derde, vierde of vyfde poging kan ontplooi? Alles is seker moontlik en elke karakter kry as ‘t ware ʼn kans om ʼn stok in die trouwiele te steek. Jack en sy ewig ontwykende geliefde probeer steeds naarstiglik om net vir ʼn minuut of twee mekaar in die oë te kyk. Die noodlot (of is dit toeval?) het iets heel anders in gedagte. Die verhaallyn herinner sterk aan Richard Curtis se uitstekende About Time, maar sonder die verhoudingsdinamiek en lewenswyshede. Waar Love Wedding Repeat wild begin wankel, is wanneer Jack ʼn randfiguur in sy eie verhaal word. As kyker voel ʼn mens later dat die aantrekkingskrag tussen Jack en sy glibberige beminde nooit verken word nie. Die twee is duidelik nie vir mekaar bedoel nie, wil ʼn mens lank voor die einde sug. Waarom blaf die hond? Daar is nie ʼn kat in die boom nie! Love Wedding Repeat is vervlietende vermaak en ʼn wolkie spookasem tussen tierdokkies en pandemie-rillers. Salige soetgoed, al moet ʼn mens dan die vervulling (weer) in ʼn fliek soos About Time gaan soek. KB

  

The Invisible Man

Universal Pictures

Die aanvaller wat die meeste vrees inboesem, is die een wat jy nie kan sien nie. ʼn Stelling wat in 2020 net na een vyand kan verwys: Covid-19. Die moordvirus is wel sigbaar onder ʼn mikroskoop, maar wag helder oordag in veilige plekke sonder om gesien te word. HG Wells se berugte skim is terug in The Invisible Man, dié keer as Adrian Griffin (Oliver Jackson-Cohen), ʼn sakeman-uitvinder en optiese ingenieur wat nes ʼn virus enige ruimte kan binnedring. Hy beweeg geruisloos en sy aanvalle is dodelik effektief, Hy glip weg soos die wind. Soms kan hy “aangevoel” word deur Cecilia Kass (Eizabeth Moss), sy gefolterde minnares wat ʼn sesde sintuig vir oorlewing kweek. In die openingsekwens ontsnap Cecilia uit Griffin se bed en hoëtegnologiese kasteel, ʼn skriksekwens wat die spanning styf trek en nooit laat skiet gee nie. Die begaafde Moss, wat haar staal in Mad Men en The Handmaid’s Tail gewys het, is die perfekte heldin vir die tyd van #MeToo. Sy is nie ʼn prikkelpop nie, maar geensins onaardig op die oog nie; met ferm kakebeen en sielvolle kykers skep sy ʼn moderne variasie op die blonde scream queens van ouds, al skreeu sy nie sommer nie. Sy is (aanvanklik) die slagoffer wat uiteindelik kan afreken met roofsugtige mans. As femistiese rolmodel is sy tans Hollywood se go to girl (jammer Reese, Nicole, Charlize!). Die regisseur en draaiboekskrywer Leigh Whannell ontwyk meestal die cliche’s van die gruwelgenre: hy laat die hare rys op onkonvensionele maniere wat pas by konteks en tema: ʼn stoomasem in ʼn koue nag, spore in die matvesels, ʼn ingeduikte sitplek. Die gebruiklike storttoneel het ʼn snykant wat verras. Die kombers wat stadig van slapendes afgetrek word, is nie nuut nie, maar laat jou nietemin asem ophou. Die spesiale effekte is nooit oordadig nie, en met Moss hiperventilerend in nabyskoot, streel en prik dié geslypte riller al die senupunte. Dit huldig voorgangers soos The Invisible Man (1933) met Claude Rains in die titelrol – kyk uit vir ʼn pasiënt in ʼn hospitaalgang wat in verbande gehul is, soos Rains – en Hollow Man (2000) met Kevin Bacon. Die Australiese produksie is geskiet by Fox Studios in Sydney, Australië – ironies in die lig van Fox News se moleste rondom wyle Roger Ailes. So draai die wiel, en word die sluier afgeruk van al die onsigbare wolwe in skaapklere. SS       

  

Las Hurdes: Land Without Bread

Spaanse produksie

In 1917, die jaar wat gereken word as die begin van die Surrealisme, het Luis Buñuel, later bekend as Spaanse rolprentmaker, ʼn vriendskap aangeknoop met Salvador Dalí en Federico García Lorca, toe medestudente aan die universiteit van Madrid. Dié drie het die stukrag geword agter die Spaanse surrealistiese avant-garde … en meteen ook die avant-garde van die Spaanse surrealisme. (Die verhouding tussen dié drie kunstenaars was die onderwerp van regisseur Paul Morrison se Little Ashes van 2008.) Un chien andalou (ʼn Andalusiese hond), Buñuel se debuut van 1929, is sy bekendste prent (wat hy saam met Dalí gemaak het) – die surrealistiese fliek uit die stilprent-era met die beroemde skeermeslem-en-die-oogbol-toneel…. Dit is ʼn prent sonder ʼn konvensionele storielyn, maar een waarin, soos die Mexikaanse digter Octavio Paz dit beskryf het, die rolprentbeeld en die poëtiese beeld verenig om ʼn nuwe werklikheid te vorm – een wat verregaande en ondermynend is. In 1930 het Buñuel, L’age d’or (Die goue eeu) gemaak, ʼn satiriese verkenning van die middelklasbestaan, seksuele sedes en die waardestelsel van die Rooms-Katolieke Kerk. Danksy Open Culture (www.openculture.com) wat in dié dae van isolasie ʼn hele rits prente gratis beskikbaar maak, het ek nou vir die eerste keer toegang gekry tot die derde prent in Buñuel se surrealistiese trilogie (saam et Un chien andalou en L’age d’or), die “pseudo-dokumentêr” van 1933, Las Hurdes: Tierra sin pan (Las Hurdes: Land Without Bread). Die kommentaar is uit Spaans oorvertaal en ek is vas oortuig dat die Amerikaanse timbre die vlak van surrealiteit verhoog. Las Hurdes is die bergagtige streek suidwes van Salamanca in Spanje en die titel van die prent verwys na die armoede en haglike omstandighede waarin sowat 20 000 mense (versprei in 52 nedersettings) woon – so afgeleë dat brood volgens Buñuel teen 1929 onbekend was. Negentig of wat jaar later is Buñuel se prent steeds onthutsend. Só onthutsend was dit in die 1930’s dat die verspreiding daarvan verbied is. Juis omdat dit “goeie naam van die Spaanse volk sou aftakel”. Maar anders as dié nasionalistiese strewe van indertyd is dit nou die afstandelikheid en brutaliteit van die kommentaar wat opval. Een ding is dit om die prent te beskryf as “etnografiese surrealisme”, maar ʼn ander ding is die hovaardige aanslag. Terwyl jy die grinterige swart-wit beelde volg en probeer stoei vir asem onder die Brahms no. 4 wat dreig om jou te oorspoel (dit is glo ʼn latere toevoeging – Buñuel het nie aandeel daaraan nie), probeer ʼn mens sin maak van dié ekspedisie – te midde van ʼn vlaag hedendaagse politieke korrektheid wat eweneens dreig om jou te oorspoel. Dié etnografiese ekspedisie begin in Alberca waar ʼn “strange and barbaric ceremony” op ʼn Sondag op die markplein bygewoon word. “Barbaric”, soos “miserable”, is woorde wat dikwels in die teks opduik. Soos die “miserable little stream” wat die dorpenaars van water voorsien. In nog ʼn dorpie word Buñuel en sy span begroet deur ʼn “choir of idiots” (wat onder meer toegeskryf word aan ondertrouery) en ʼn dogtertjie wat siek op straat aangetref word. Haar gebit en oop mond word vir die kamera gewys en as die filmspan twee dae later weer dié dorpie aandoen, is sy dood. Net dit. Toe die prent in 1937 in Brittanje vertoon is, het Graham Greene dit beskryf as “an honest and hideous picture”. Maar heeltemal so eerlik was Buñuel ook nou nie. Die toneel waarin Buñuel wil illustreer dat die terrein so onbegaanbaar is dat selfs boerbokke die pad byster raak en by kranse af na hul dood val, is gedokter. Soos die donkie wat deur bye toegetakel word. Die donkie, so het Hurdanos later aangevoer, is met heuning gesmeer. Nietemin bly Buñuel se Las Hurdes by ʼn mens spook. Dit trek in én stoot af. Dit is behaaglik én ontstellend. En bowenal stook dit die immer dralende vraag: Hoe dokumentêr ís dokumentêr dan regtig? Johan Myburg

  

Bombshell

Annapurna Pictures

Drie vroue op die oorlogspad, drie slagoffers van seksuele teistering by die werk (Fox News). Drie beeldskone blondines, méér as mooi gesiggies. Dié drie beroepsvroue word beliggaam deur drie uitblinkers, Charlize Theron as Megyn Kelly, Nicole Kidman as Gretchen Carlson en Margot Robbie as Kayla Pospisil (ʼn saamgestelde karakter). Hulle staan skouer aan skouer op die plakkaat, beloer mekaar onderlangs as moontlike mededingers/bondgenote in die hysbak. Theron en Robbie is vanjaar vir Oscars benoem, en by die Screen Actor’s Guild Awards is die hele rolverdeling uitgesonder. Die ware geval van die magtige TV-magnaat Roger Ailes se val is verlede jaar in sappiger detail in die minireeks The Loudest Voice (met Russell Crowe in ʼn vetpak as Ailes) verbeeld. In die fliekweergawe is die fokus vol op die vroue, met Ailes (John Lithgow) as onkiese randfiguur. Minder kantoorkafoefel, meer gang- en raadsaalpolitiek. Ander manlike akteurs verskyn kortliks in ondergeskikte rolle, soos Malcolm McDowall as Rupert Murdoch, eienaar van  Fox Network, en sy twee seuns. Die vroue is die vertellers van hul eie stories, en kyk by tye direk in die kamera, soos tydens ʼn nuusuitsending, om hul diepste gevoelens te deel – ʼn biegstyl wat in sitkoms soos Modern Family en The Office gepopulariseer is. Dit is ʼn postmoderne foefie wat goed werk en heel gepas is in die konteks van onaantasbare ankervroue wat onverwags ʼn weerlose kant onthul. Daar is ook die ander vroue in Ailes se lewe wat in twee kampe geskaar is, die wat hom bemagtig en beskerm, soos sy eggenoot en persoonlike assistent, die ondergeskiktes wat bang is om hul werk te verloor, en die vroue wat deur hom betas en gemanipuleer word. Die vertrekpunt is Kelly se uitdagende onderhoud met president Trump en sy vernederende twiets daarna, waarin hy na haar “bloeiende oë” en maandstonde verwys. Fox News, ʼn ultra-regse broeiplek van fopnuus – skertsende menings eerder as feite – en ideologiese speelveld van opgeblase ego’s, verteenwoordig Amerika-in-die-kleine waar mans die septer swaai en vroue as sekssimbole meer been moet wys. Die #MeToo-beweging se boodskap van bevryding weerklink deurgaans helder, onweerlegbaar. Die dramatiese verloop is wel effens voorspelbaar. Die vernaamste rede om die fliek te sien is die deurleefde spel van Theron en Robbie. Sowat 15 jaar ná haar Oscar-bekroonde reeksmoordenaar in Monster, slaan Charlize Theron weer die spyker op die kop. Sy smee elegansie, uitspraak en beteuelde emosie oortuigend saam vir ʼn hipnotiese transformasie. So vergestalt sy ʼn sterk heldin wat moeilike morele keuses maak en simpatie sowel as bewondering afdwing. Plofbaar! SS

 

Moffie                                                    

Portobello Productions / Penzance Films

Moffie, Oliver Hermanus se vierde vollengte fliek, is onwrikbaar in sy doel om nuwe perspektiewe rondom lank onderdrukte feite en misleidende persepsies wat verband hou met ons uitgerekte, berugte Grensoorlog van die 1970s en 1980s radikaal los te wikkel. Sy bydrae is belangrik wat dié en bykomende invalshoeke betref, Uiteindelik strek dit ook veel wyer as om slegs as ʼn spreekbuis rondom die lot van jong gay of biseksuele mans in die destydse SA Weermag te dien. Die Nasionale Party se politiek-ideologiese kortsigtigheid om by grensoorloë betrokke te raak wat, benewens lewensverlies, ons ook die gramskap van die internasionale gemeenskap op die hals gehaal het, se ware beweegredes was bloot om die status quo (apartheid) wat sedert 1948 bestaan het te behou. Die titel is totaal eerlik oor waarop die klem hier val. Hermanus het dit geensins uitgebuit nie, maar het die waagmoedige stap geneem om die essensiële kern van die gelyknamige boek van André Carl van der Merwe as basis te gebruik en dit verder in sy draaiboek en visuele konsep uit te bou. Moffie spring aanvanklik weg met ʼn rustige tempo wat dien as ʼn teelaarde vir die ontwikkeling van latere interpersoonlike konflikte, soos dié tussen die offisiere en hul manskappe waarvan sommiges skaars 16 jaar oud was. Die deurlopende, radikale en onmenslike vernedering van die gay voetstampers is realisties eerder as oordrewe uitgebeeld. Dalk minder realisties was die skote van soldate op die trein wat almal deur die bank al net té gou totaal beskonke was. Ook die goedgeklede swartman wat by ʼn stasie op ʼn bankie met ʼn “slegs blankes” kennisgewing sit en die rassistiese bohaai en vernedering wat daarop volg, voel asof dit berekend en kunsmatig-aangeplak aandoen. Wie weet, dalk was hý ʼn vlugteling uit Malawi. Die sentrale karakter is die gay, Engelssprekende Nicholas van der Swart (Kai Luke Brümmer) wat die volle aanslag teen sy seksuele oriëntasie van die Weermagowerhede en in besonder sersant Brand (Hilton Pelser) verduur. Laasgenoemde woord is bloot ʼn eufemisme vir hel op aarde. Nicholas ontwikkel ʼn méér as oppervlakkige gevoel vir sy mede-troepie Dylan Stassen (Ryan de Villiers), maar word beklem deur die onthutsende gevolge daarvan indien so ʼn koverte optrede ooit by die masochistiese opleidingsregime te berde kom. Die isolasie-sieksaal met kodenommer 22 is jou voorland. Daar word jou gees stelselmatig en onkeerbaar afgemaai. Hermanus is uiters knap in die kinematiese prosesse wat hy aanwend om in beelde vrees en angs te suggereer. Ons ervaar dit veral deur die oë van Nicholas. Skaamte en geheimenisse het sy lewe gekenmerk en agtervolg. Brümmer is deurgaans in staat om diep wonde oortuigend in sy spel te suggereer. Die spektrum van Jamie Ramsay se kamerawerk sluit alles tussen estetiese fynsinnigheid tot rou wreedheid in. Braam du Toit se oorspronklike komposisies versterk subteks deurlopend, terwyl Sugar Man van Rodriguez dit midde-in die vroeë 1980s plaas. Ná aanskoue van Moffie word jy, te midde van diep introspeksie wat die fliektemas uitdra, veral gekonfronteer met toksiese manlikheid. Dié tydperk het wyd bygedra tot die ontstaan daarvan. Dit woed onverpoosd voort. Paul Boekkooi

Die 10 beste oorlogflieks
  1. Saving Private Ryan (1998)
  2. Apocalypse Now (1979)
  3. 1917 (2019)
  4. Patton (1970)
  5. Ran (1985)
  6. Platoon (1986)
  7. The Beast of War (1988)
  8. Red Cliff (2008)
  9. Waterloo (1970)
  10. Hacksaw Ridge (2016)

Hoeveel het jy gesien?

Internasionale fliekfees vir almal

Groot internasionale rolprentfeeste gaan saamspan vir ʼn gratis aanlynfees van 10 dae op Youtube in reaksie op die COVID-19-pandemie, die We Are One Rolprentfees. Dit is ‘n inisiatief van Youtube en Robert De Niro se Tribeca Rolprentfees in New York.

Ander fliekfeeste wat betrokke sal wees, is Cannes, Venesië, Berlyn, Londen, Karlovy Vary, Locarne, Marrakesj, San Sebastian, Toronto, Tokio en Jio Mani Mumbai.

Die fees sal vollengte rolprente, dokumentêre prente en paneelbesprekings insluit. Die program word later aangekondig.

  • Volg die skakel na die fliekfees: youtube.com/weareone
Skryf in vir die Kajuitkoors Fliekfees!

Verveeld? Kreatief gefrustreerd? Maak jou eie kortfilm van vyf minute (jy kan selfs jou slimfoon gebruik) en skryf dit in vir The Cabin Fever Film Festival. Dit moet ʼn toiletrol en een of ander toets, asook ʼn voorgeskrewe sin insluit. Elke week is daar ʼn ander fliekgenre, soos romkom of riller. Sluit aan by die kompetisie se Facebookgroep en lees die reëls hier. Die kortfilms word aanlyn vertoon.

Las Hurdes:
Kyk gratis na Cirque du Soleil:
Kyk uit vir hierdie nuwe flieks:

Moffie

1917

Judy

Top 10: Leon van Nierop se beste flieks van 2019
  1. Pain and Glory (Pedro Almodóvar)
  2. Parasite (Joon Ho Bong)
  3. Joker (Todd Phillips)
  4. Midsommar (Ari Aster)
  5. Capernaum (Christine Labaki)
  6. Roma (Alfonso Cuarón)
  7. The Favourite (Yorgos Lanthimos)
  8. Eighth Grade (Bo Burnham)
  9. Green Book (Peter Farrelly)
  10. US (Jordan Peel)
Top 10: Paul Boekkooi se beste flieks van 2019
  1. Cold War
  2. Parasite
  3. Joker
  4. Pain and Glory
  5. Dialogues des Carmélites (Met Opera)
  6. My Extraordinary Summer With Tess
  7. Once Upon a Time… In Hollywood
  8. Les Misérables
  9. Die seemeeu
  10. Roma
Top 10: Kobus Burger se beste flieks van 2019
  1. Parasite
  2. Pain and Glory
  3. Hail Satan?
  4. The Farewell
  5. Can You Ever Forgive Me?
  6. Anima
  7. Luce
  8. The Great Hack
  9. Amazing Grace
  10. Clive Davis: The Soundtrack of Our Live
Top 10: Schalk Schoombie se beste flieks van 2019
  1. Roma
  2. Never Look Away
  3. Parasite
  4. Can You Ever Forgive Me?
  5. Free Solo
  6. Shoplifters
  7. The Wife
  8. Pain and Glory
  9. The Favourite
  10. Joker