Landskappe as heerlike spieëls van onthou

deur Johan Myburg

Die landskap (as geskilderde voorwerp), sê Simon Schama in sy boek Landscape and Memory (1995) is ʼn kulturele konstruk, ʼn spieël van kodes vir ons herinneringe en mites wat ontsyfer moet word. ʼn Stuk grond met bome en wat nog daarop en die lug daarbo kan derhalwe op talle maniere voorgestel en uitgebeeld word. Dít sal afhang van die herinneringe en die mites. Maar meer nog, ook van die kodes wat gebruik word; kodes waaroor daar binne kultuur (weer met heelwat variante) ooreengekom word. Kodes soos byvoorbeeld realisme, of abstraksie.

Om kultureel ooreen te kom oor realisme (die landskap lyk soos die stuk grond) is dalk eenvoudiger as abstraksie as ʼn kulturele konstruk. Maar as ek Schama reg verstaan gaan alle landskappe eintlik oor wat ons wíl sien as wat ons wél sien. “We don’t see things as they are, we see them as we are,” het Anaïs Nin gesê.

So het Olaf Bisschoff, Johannesburgse skilder wat jare lank al landskappe, spesifiek lug en wolke, in sy kuns verreken, in sy Terra incognita, ʼn 2008-uitstalling, veel meer as weergawes van stukke grond eerder ʼn uitbeelding van verlies aan die onbekende vergestalt; ʼn verlies aan ʼn tyd toe alles nie bekend en so uitgepluis was nie. Toe die “terra” wat “incognita” was, nog deur monsters bewoon was.

Onlangs, tydens en ná ʼn verblyf in Swede, het geometriese vorme en ontwerpe bo-oor en in sy landskappe hulle opwagting gemaak – moontlik as ʼn kopknik in die rigting van Skandinawiese niefiguratiewe abstraksie en die Russiese Avant garde- en Suprematisme-beweging. Moontlik as ʼn manier van hulde aan die Modernisme van die vorige eeu wat deesdae nuwe belangstelling prikkel in ontwerp sowel as kuns.

Nou vertoon Bisschoff in die Dawid Ras-galery klein skilderye met ontwerpe op pikswart agtergronde, agtergronde wat netsowel pikdonker landskappe kan wees. Die landskap is tog daar wanneer daar beurtkrag is, jy kan dit net nie sien nie? Meer nog por hy in die rigting van besit. Kan jy grond besit wat jy nie kan sien nie?

Dink maar aan Thomas Gainsborough se befaamde Mr and Mrs Andrews (1748-49), die portret van die egpaar waarin die landskap in die agtergrond ʼn lewensgrootte portret van besit word – iets van alles dié is myne!

En so onderstreep Bisschoff die “memory”-deel in Schama se boektitel. Landskap loop ook saam met geheue of heugenis of verbeelde onthou. Hoe ʼn mens dit ook al wil stel.

Dít doen Bisschoff boonop in die heuglikste kodes, die heerlikste abstraksies wat herinneringe van die middel van die vorige eeu aktiveer – die 1950’s wat tegelyk jare van vrede én eindelose vergissing was.

Die laaste sin behoort aan Jean Dubuffet (1901-1985): “There is no such thing as abstract art, or else all art is abstract, which amounts to the same thing. Abstract art no more exists than does curved art yellow art or green art.”

  • The Shape of Things to Come, met skilderye deur Olaf Bisschoff en klein beeldhouwerke deur Renier le Roux is tot einde Mei te sien in die Dawid Ras-galery by Silvelaweg 18, Sandown Estate, Johannesburg. Bel Dawid by 082 492 9777 vir ʼn afspraak.

Die bootjie kan nie vaar nie

deur Johan Myburg

Die nag van 18 April 2015 het ʼn vissersboot van sowat 30 m tussen die kus van Libië en dié van die Italiaanse eiland Lampedusa gesink. Daar was net 28 oorlewendes. Die res van die tussen 700 en 1 100 vlugtelinge aan boord (betroubare bronne praat van 800) het, vasgekeer in die vragruim, verdrink toe die vaartuig omgeslaan het.

Die einste boot, wat teen miljoene vlot gemaak is ná die tragedie, pryk nou in Venesië se Arsenale as ʼn installasie, Barca nostra (Ons boot), ʼn projek van die Switsers-Yslandse kunstenaar Christoph Büchel. Dié boot is nou die stil getuienis van Europa se onverskilligheid jeens duisende vlugtelinge.

Büchel het nog geen onderhoud toegestaan nie, hoewel sy medewerker, die kurator Maria Chiara di Trapani, gesê het: “Ons lewe in ʼn tragiese oomblik sonder geheue. Ons kyk na die nuus en dit lyk so ver verwyderd. Iemand is dood in die see, en dan skakel ons oor na ʼn ander kanaal.”

Die aanwesigheid van die boot mag besoekers aan die Venesiese Biënnale dalk anders oor die voorval laat dink, het sy bygevoeg. “Ek hoop mense sal respek toon en in stilte daarna kyk.”

Dié deel begryp ek. Die goeie bedoeling.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Die hele vlugtelingsaak is netelig om die minste te sê. En verg omsigtigheid. Boonop was daar rondom die herwinning van die vaartuig ʼn hele boel wollerigheid.

Hoewel kuns ʼn katalisator is om mense aan die dink te kry en uit hulle roes te skok (iets waarmee niemand fout vind nie), voel ek ongemaklik met dié barca, asof dit, selfs binne die konteks van die Biënnale, kwalik meer word as nóg ʼn brokkie artistieke kommentaar. Daar is reeds na dié werk van Büchel verwys as “ʼn viering van die nostalgie van tragedie”.

Stroperige emosie as spektakel ondergrawe immer die erns van sake.

Dié paradering van tragedie herinner aan die Chinese kunstenaar Ai Wei Wei se selfportret wat hy vier maande ná die dood van Alan Kurdi op die strand van Bodrum gemaak het vir die Indiese kunsskou in Dehli. Ai het in dieselfde posisie gaan lê, wang teen die klippers, as dié waarin die driejarige se lyk uitgespoel het.

Weer eens – en ek twyfel nie vir een oomblik dat Ai die saak van Siriese vlugtelinge goedgesind is nie – die opportunisme en sensasie lê besonder vlak. Soos die geval met Barca nostra.

Lees ʼn mens Büchel se werk binne die konteks van die uitstalling waarvan dit deel is, met die titel “May You Live In Interesting Times”, dra die werk nie by tot die problematiek van vlugtelinge (of watter kwessie ook al) nie, maar word die werk self problematies.

Dié is ʼn bootjie wat besoekers gaan lok, wat lieflike selfie-oomblikke gaan bied. Maar dit is een wat nié vaar nie.

Lym, ink, verf: Tussen vorm en vormloosheid

deur Johan Myburg

In die 1990’s het Penny Siopis met koue lym begin eksperimenteer. Dié dik, wit vloeistof het sy ruimskoots op groot gespande doeke op die vloer uitgegooi. Dié werkwyse en die skilderye wat sy later voortgebring het, het sy by geleentheid beskryf as “ʼn fluïede affêre”. Die lym het die vermoë om van vorm en kleur te verander wanneer dit in aanraking kom met gravitasie, suurstof, water en bowenal die beweging van haar hand. Die wit vloeistof stol mettertyd en word deursigtig, word iets van ʼn membraanagtige visuele veld.

Dit is hierdie vermoë van die lym, om deurentyd “iets anders” te wees en tegelyk die gedaante aan te neem van ʼn beeld (image) of ʼn gelaat, wat Siopis kombineer met ink en olieverf om doeke te skilder wat verbeelde wêreld vergestalt.

So is dit weer die geval in Warm Water Imaginaries, haar jongste uitstalling in Stevenson in Braamfontein, Johannesburg. Dié werk het sy gemaak op uitnodiging om deel te neem aan Rising Waters: The Indian Ocean in the Twenty-first Century, ʼn groepuitstalling wat volgende jaar in Boston aangebied word. Hoewel die werk, en so ook die titels van die skilderye en 84 tekeninge, grotendeels dui in die rigting van aardverhitting, is Siopis se werk nooit in net een rigting gefokus nie. Sy slaag immer daarin om ʼn breër register by te hou. En word die “onderwerpe” wat ter sprake kom in haar werk eweso deel van “ʼn fluïede affêre”.

Tentacular Time, die titel van ʼn installasie met voorwerpe, koerantknipsels, boeke en wat nie al nie (en wat ʼn mens iets herinner aan die installasies van die 1990’s), het die soepel vernuf van ʼn seekat om sy of haar lyf te plooi: tussen vorm en vormloosheid. Maar die seekat word in die videowerk She Breathes Water (2019) as’t ware die stem wat die mens herinner aan sy vernietigingspad: “… You gained the upper hand … it is not all about your might … can you imagine the world without you?”

Dat ons in warm water is, is nie altemit nie.

  • Die uitstalling is te sien tot 3 Mei. Die Stevenson-galery is by Jutastraat 62, Braamfontein. Navrae: 011 403 1055. Die galery is oop van Maandag tot Vrydag 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 10:00 tot 13:00.

Suile teen die tyd

deur Johan Myburg

Amalie von Maltitz het onlangs haar negende solo-uitstalling van beelde in keramiek in Dunkeld, Johannesburg, aangebied.

Met die Columns/Suile van die uitstallingtitel roep Von Maltitz elemente van ʼn klassieke wêreld op: dié van Griekse pilare, van edele kariatides en desnoods begoëlende totempale. Verdere aanduiding hiervan sou die feit kon wees dat sy die beelde nie titels gee nie, maar eien met Romeinse numering – van II tot XVIII (no. I was nie op die uitstalling nie). Haar beelde spreek van klassieke soliditeit, daar is glimpse van die figuratiewe en daar is trekke van mitologiese en natuurlike vorms – alles geboetseer in klei. Om klei te lei tot beelde van sowat ʼn meter hoog getuig van jare se ervaring en ure in die ateljee; van dissipline en deursettingsvermoë.

Maar dan moet ʼn mens in gedagte hou dat jy te make het met Amalie von Maltitz, die vrou wat nadat sy in 1983 haar meestersgraadverhandeling oor die beeldhouwerk van Edoardo Villa voltooi het, haar kommersiële vlieënierslisensie verwerf het en vir nege jaar safari-vlugte in die lugruim oor Botswana, Zimbabwe en Namibië onderneem het.

Dit was Villa wat op ʼn dag na ʼn kleinerige keramiekbeeld van haar sit en kyk het en haar gepor het om groter te werk, minstens ʼn meter hoog, het hy gesê. En so het die reeks Suile begin, beelde wat sy in segmente maak (so groot as wat haar oond kan akkommodeer) en dit stapel.

Al haar ervarings, of dit nou dié is van ʼn tamaai tamarisk in die Vrystaat, of die kontoere en riwwe in die landskap uit ʼn vliegtuig, of rotse in getypoele of formasies in Kappadosië, bring sy byeen in haar beelde. Eweso die invloede wat haar kunstenaarsloopbaan bepalend gevorm het.

Aan die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad (UK) het sy in die vroeg 1960’s onder leiding van Lippy Lipshitz kennis gemaak met houtkerfwerk. Ná haar studie aan die UK is sy van 1963 tot 1965 na Stuttgart, waar sy beeldhou studeer het aan die Akademie der Bildenden Künsten en op ʼn keer ʼn handwerkklas van prof. Schellenberger bygewoon het. Von Maltitz onthou hoe Schellenberger, op sý dag ʼn student aan die Bauhaus, in ʼn lesing nadruk gelê het op eenvoudige handelinge soos weefwerk, om ʼn lepel en ʼn vurk uit takkies te kerf en om klein potjies met spirale klei te vorm. Dié kwaliteite het vir haar die beginsel vir haar verstaan van kreatiwiteit geword.

Later was daar ook ander invloede en ruggespraak met medekunstenaars soos Thijs Nel en Villa.

Dié invloede het sy verwerk en haar eie gemaak om Suile met ʼn eie stem voort te bring: gestileerd in ʼn Europese tradisie, met die asemhaling van Afrika; in klipharde klei, met die soepelste beweging; met die juiste verhouding tussen grinterige klei, oksiede en glasuur. Wat opval is die noukeurige afwerking, dat ʼn skildershand as’t ware plek-plek deurslaan in haar afwerking van oppervlakke. En daarmee saam Von Maltitz se respek vir klei.

“Wanneer die kunstenaar klei benut,” het sy by geleentheid opgemerk, “deel sy op ʼn mikro-skopiese skaal weer in die kringloop van die aarde se bestaan. In ʼn sekere sin is dit betekenisvol om weer die klei tot teken te kan omskep, wat gelyk rots, klip en mens kan wees, en ou simboliese waardes van die rots in herinnering te roep.”

Moontlik is dit die simboliese waardes, soos sy daarna verwys, inherent in haar beelde wat haar werk so aantreklik maak. Tesame met haar eenvoudige benadering tot eerlike materiale (die saadjie wat Schellenberger jare gelede geplant het). Op dié manier kry Von Maltitz se werk ʼn tydlose kwaliteit.

Beurtkrag inspirasie vir Sasol-wenwerk

deur Johan Myburg

Toe Vincent van Gogh sy Aartappeleters in 1885 geskilder het, was daar nie elektrisiteit nie. Die enigste ligbron in dié donker tafereel is die hanglamp bokant die etenstafel waar vyf mense, algar bewerkers van grond, aansit vir kos en koffie. Die vier wie se gesigte ʼn mens kan sien lyk selfs moerig, na die aartappels wat hulle kweek en eet.

Heelwat later, 134 jaar later om die waarheid te sê, wen die 24-jarige Patrick Rulore die Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompetisie met ʼn skildery wat herinner aan Van Gogh se Aartappeleters. Die vyf figure in Rulore se Stage 4 Moments, olie op doek, is eweneens aan tafel. Maar die omstandighede is nie boertig nie en daar is nie ʼn aartappel in sig nie. Benewens die inrigting van sy doek en plasing van die figure is die groot ooreenkoms die lamp op die tafel in Rulore se uitbeelding van Suid-Afrikaanse beurtkrag. Dit is dié plasing wat die skaduwees tot gevolg het, skaduwees wat as’t ware verdere tafelgenote word.

Sy skildery bied hy nie aan as lamentasie oor beurtkrag nie, maar eerder as ʼn viering van die afwesigheid van elektriese ware wat oorbodig raak tydens dié donkerte – “en die geleentheid om mekaar in die oog te kyk, te gesels, te lag en [bord]speletjies te speel”.

Dit is dié skildery wat die beoordelaars – Pieter Binsbergen, Cate Terblanche, Mary Sibande en Wilhelm van Rensburg – beïndruk het en Rulore, ʼn finalejaarstudent aan die Tswhane Universiteit vir Tegnologie, laat wen het. As deel van sy prys kry Rulore die geleentheid om volgende jaar ʼn solo-uitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum aan te bied.

Luyanda Zindela van Durban is aangewys as naaswenner met ʼn tekening in pen, ink en grafiet.

Die vyf merietewenners is Nico Athene (Johannesburg), Angelique Patricia Mary Bougaard (Johannesburg), Cecilia Maartens-Van Vuuren (Bloemfontein), Kgodisho Moloto (Polokwane) en Mlamuli Eric Zulu (Durban).

  • Die wenners se werk is saam met dié van die gekeurde kunstenaars tot 29 September te sien in die Pretoriase Kunsmuseum.

As AI die geskiedenis begin vertel

deur Johan Myburg

Met die aanbreek van die lente het Oliver Mayhew ʼn versameling werke byeengebring onder die titel Autumn Leaves, ʼn uitstalling wat spruit uit beeldmateriaal uit die hoogsomer van apartheid. Dié uitstalling is nog tot Sondag 15 September te sien in Maboneng, Johannesburg.

Sy oogmerk met dié uitstalling is onder meer om te probeer vasstel of die verlede begin het om sy herfsblare af te skud.

Mayhew het ná sy kunsstudie aan die Universiteit van Pretoria hom aanvanklik toegelê op grafiese drukwerk (veral linosnee) en hom mettertyd begin verdiep in nuwe media met kennis en ervaring wat hy gaandeweg self opgebou het. Dié jongste uitstalling slaan as’t ware ʼn brug tussen digitale en artifisiële intelligensie (AI) vorms van uitdrukking en tradisionele kunsvorms.

Sy vorige projekte sluit in Post Apartment, aangevulde werklikheids-app, “Outmeant”, poskaarte en OBS-bord; What is mine, isn’t mine, is mine, virtuele kopstuk, Lyrebird Realistic Voice Cloning, FakeAPP, GAN; Body-film: Mapantsula, gemengde werklikheids-app, “Body Film”, Oliver Schmidt se rolprent Mapantsula; en Un-Pop, aangevulde werklikheids-app, 3D model van blikkies Rhodes- tamatie-en-uie-mengsel.

In Autumn Leaves het hy AI-tegnologie ingespan en daarmee saam visuele materiaal uit die apartheidsverlede asook foto’s van twee blommende bome: die Chinese Ailanthus altissima (bekend as hemelboom) en Nuxia floribunda (die inheemse watervlier). Die twee bome lyk nogal op mekaar. Die hemelboom groei soos sy naam aandui vinnig en hoog, terwyl die vlier onder goeie omstandighede maar een meter per jaar groei.

Die beelde is volledig met AI gegenereer en Mayhew is net so verbaas as die kyker om die eindproduk – ʼn herskrywing van die geskiedenis met behulp van voorstellings uit die apartheidsjare deur die strukturele en komposisionele perspektief van die twee bome – te sien.

Veiling ná aanval op Helena Hugo

deur Johan Myburg

Kunsvereniging Pretoria bied Maandag 30 September ʼn veiling aan van kunswerke deur Helena Hugo om dié kunstenaar se mediese uitgawe te help vereffen. Hugo is op 5 September in haar huis in Pretoria aangeval en is met harsingskudding, ʼn gebreekte kakebeen, neus, tande en oogbank in die Eugène Marais-hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem. Sy sterk tans aan.

Hoewel sy ʼn hospitaalplan het, is sy verantwoordelik vir die uitgawes wat nie deur dié plan gedek word nie – ʼn aansienlike bedrag. Vir dié doel die kunsveiling wat ook van haar gesogte pastelwerke insluit.

Hugo het visuele kunste aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in 1997 haar eerste solo-uitstalling in Pretoria aangebied. Daarna het deelname aan verskeie groepuitstallings gevolg asook solo-uitstallings. In 2011 was sy die feeskunstenaar op die KKNK in Oudtshoorn met die uitstalling Portret.

Met dié versameling pastelportrette het sy veral “gewone mense” en werkers asook die band tussen mens (werker) en masjien ondersoek. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk beeld sy so intiem uit dat die identifisering met die werk duidelik blyk. ʼn Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan.

Hugo gee dié mense weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen.

Dikwels is dit juis die “misgekykte mense” wat sy skilder (in olie op bord) of teken (met pastel op bord). Of dit nou tekeninge van straatwerkers is of ’n boer wat trots in sy mielieland staan, in elk van dié portrette straal daar ʼn soort trots uit die houding of uit die oë.

In 2012 het sy ʼn tyd in Parys, Frankryk, deurgebring nadat sy die Bettie Cilliers-Barnard-prys ontvang het. In 2014 was sy die wenner in die kompetisie van die Collection Beaux-Arts Réaliste et Impressionniste in Montréal.

“Ek dink ek hét ʼn bietjie van ʼn obsessie met detail,” het Hugo al oor haar werk opgemerk. “Ek vorm inderdaad ’n verhouding met die portret waarmee ek besig is. Dit is baie keer die plooie rondom die oë of die tekstuur van die vel wat my interesseer.”

Private kunsmuseums neem oor by sukkelende openbare instellings

deur Johan Myburg

In ʼn land waarin openbare kunsmuseums – wat deur die staat óf deur stadsrade onderhou behoort te word, maar inderwaarheid verwaarloos word – al hoe meer sukkel om kop bo water te hou, kom die een na die ander private kunsmuseum/kunsgalery tot stand. Die voordeel van dié nuwe museums/galerye is dat die publiek, in die afwesigheid van dié openbare instellings wat hul verantwoordelikheid versaak, wel toegang kry tot kuns van goeie gehalte.

Die eerste van dié soort instellings in die jongste tyd is Kaapstad se Zeitz- museum vir kontemporêre kuns van Afrika (Mocaa) wat met finansiering van die Duitse sakeman Jochen Zeits opgerig is. Daarna het die Norval-stigting by Steenberg tot stand gekom, met finansiering van die eiendomsmagnaat Louis Norval.

Pretoria het onlangs in dié geledere aangesluit met die opening van Javett UP, ʼn kunstesentrum op die Tukkie-kampus wat ten dele opgerig is met finansiering van die Johannesburgse sakeman Michael Javett.

Wat al drie mans gemeen het, is dat hulle benewens suksesvolle sakelui en ywerige kunsversamelaars ook hulle name aan die drie instellings onderskeidelik gekoppel het, en die deur oopmaak vir kritiek dat dit ydelheidsprojekte sou kon wees. Dié kritiek kan alleen oorleef word deur dít wat dié instellings aan die einde van die dag vermag.

In die geval van Javett UP wat direk aan ʼn tersiêre instelling gekoppel is (anders as die ander twee) is dit Christopher Till, direkteur, se oogmerk om dié plek meer die gevoel van ʼn kunstesentrum te gee as ʼn museum. Boonop ʼn kunstesentrum ín en vír Afrika.

Opleiding is deel van Till se visie; op só ʼn manier dat Javett UP ʼn vastrapplek in Afrika word, met die oog op opleiding en bewaring, maar meer nog, met die oog op ʼn gesofistikeerde (opleiding)sentrum vir restourasie van kunswerke.

Wat ʼn mens moet doen is om dié én openbare kunsmuseums te besoek. Sonder die steun van die publiek gaan nóg die een nóg die ander werklik slaag.

Die spel tussen sin en versinsel

deur Johan Myburg

Wit leuens en lastige waarhede / White lies and inconvenient truths – Corné Joubert, Marinda du Toit en Piet Grobler. Tina Skukan-galery, Pretoria

Dis in en met stories waarmee ons begrip vorm van die wêreld waarin ons lewe, en sin maak van onsinnighede wat ons op die lyf loop. Soms span ons verdigsels in om die waarheid te temper, en soms lieg ons prontuit ter wille van oorlewing. Miskien is dit in hierdie konteks dat Friedrich Nietzsche se bekende woorde (wat al so dikwels buite konteks – as ʼn vorm van verdigsel? – aangehaal is) by ʼn mens opkom: “We need art in order not to die of truth.”

Corné Joubert, Marinda du Toit en Piet Grobler is drie begaafde en gedugte kunstenaars wat wys genoeg is om te weet sekerheid dryf ʼn mens tot waansin en gek genoeg om te weet ons almal vrees die waarheid. Of die gedaantes waarin die waarheid sig voordoen. Want, soos Piet oor bronne van “die waarheid” opmerk: “Sprokies, fabels, gelykenisse, testamente, getuigskrifte, belydenisskrifte, wette, dokumente, verklarings, nuusvrystellings, grappe, ouvroustories, dronkmanspraatjies, nonsens, kakpratery, teorieë, heilige én profane boeke, vertalings, berymings, rymelary en prentjies is almal varkies wat uit dieselfde trog vreet.”

Dié bronne takel dié drie met finesse en verbeelding, met fanfare en ʼn gesonder skeut gekheid. Elkeen in sy en haar idioom wat ʼn mens gaandeweg met hulle werk begin assosieer het.

Marinda du Toit het haar staal gewys in die maak van twee- en driedimensionele kunsobjekte, van animasieprente, maar dit is ook met haar vernuf met gevonde objekte, wat sy “junk” sou noem, waarmee sy die afgelope paar jaar soveel sukses behaal. Iets van ʼn kraai, van ʼn versamelaar van ledemate, van alles wat ledemate kan word, én van woorde en woordspelings, knoop en knoei sy onderdele aanmekaar wat groei tot posture en suggesties van posture – vergelyk die werk met die titel Preacher / Politician / Prostitute / Take your Prick. Dit is juis in die suggestie, die afheid en die vlym verbeelding (en uitbeelding) waarin die kunstenaar as hanswors blyk.

Soos wat Marinda woorde as ʼn narresepter swaai, is dit stories wat ʼn onderbou vorm vir Corné Joubert se figure, pikant gemonteer op helder oranje viltvoetstukke, en tekeninge. As woordsmid – sy is ook dramaturg – en hier as keramiekkunstenaar gee sy gestalte aan stereotipes en die soort “shortcuts” wat ons dikwels vat om netelige situasies onder woorde te bring. Soms wit leuen, soms lastige waarheid. Dit is byvoorbeeld onwaar dat alle politici Pinnochio-neuse het. Of is dit?

Moontlik onthul die figure nie hul stories by eerste oogopslag nie. Sommige van hulle vertel hul stories eers as jy stil gaan sit en luister, na ʼn hele paar koppies koffie, of glase wyn.

Wat opval in die werk van al drie kunstenaars is die noue band tussen die visuele en taal, en die fyn aanvoeling tussen visuele beeld en woordbeeld. Hier is nie sprake van kunswerke met titels nie – dikwels weet ʼn mens nie wat was eerste nie, weet ʼn mens nie wat was vonk en wat is nagloei nie. Wat jy wel weet is dat jy jou kan verkneukel aan die spel met woord, die spel tussen sin en versinsel, tussen waarheid en fiksie. En self moet uitmaak watter een die vreemdste is.

So is stories die matrys vir Piet Grobler se tekeninge en collages. Dit is as illustreerder van kinder- en prenteboeke dat hy sy merk gemaak het, ook met volop internasionale erkenning. Wat uit dié versameling werk blyk is dat die meester sonder ʼn uitgewerkte narratief ʼn prenteboek optower in ʼn enkele tekening. So sit ʼn ganse wêreld opgesluit in ʼn werk soos Portrait of the holy man as a boy.

In die Ecce Homo skryf Nietzsche: “I have a terrible fear that one day I will be pronounced holy: you will guess why I publish this book beforehand; it should prevent people from doing mischief with me. I do not want to be a holy man, sooner rather a Hanswurst. – Perhaps I am a Hanswurst.”

Om hanswors te wees, is nie altyd om ʼn narrepak aan te hê nie. Dit sou nie ʼn wit leuen wees nie, gewoon net onwaar. As ek Nietzsche geparafraseer reg verstaan benadruk hy dat humor ʼn vaardiger voertuig as tragedie is om in die aangesig van tragedie ʼn persepsie van die self te formuleer wat kan triomfeer oor noodlot en die lewe.

Dit is wat ʼn uitstalling soos dié bewerkstellig. ʼn Mens kry die geleentheid om die tragedie van die wit leuen – ter wille van oorlewing – en die lastige waarheid – in ʼn poging om nie van waarheid om te kom nie – in die oog te kry met die hulp van humor. Om te keer dat ons nie gek word van sekerheid nie.

In ʼn tyd van fopnuus en foppers van allerlei aard herinner dié drie kunstenaars ons weer eens daaraan dat ons kuns nodig het om nie te verstik aan waarheid nie.

ʼn Sterk greep op landskap – Santu Mofokeng 1956-2020

deur Johan Myburg

Dit was Lesley Lawson, een van die stigterslede van Afrapix, ʼn onafhanklike fotografiese kollektief waarvan Santu Mofokeng ook in die 1980’s lid was, wat oor Mofokeng se foto’s gesê het dit gaan veel meer oor struggling as oor die struggle. In ʼn tyd toe die kamera die ideale medium was om protes en pandemonium vas te lê, het Mofokeng fotografie gebruik om die alledaagse swaarkry in townships te dokumenteer. Train Churches, sy foto-essay van 1987, het reeds blyke gegee hiervan – van die treinritte wat swart mense daagliks moes onderneem om van townships en selfs die landelike omgewing rondom stede by wit werkgewers te gaan werk. Die gevoel van dié dokumentering het later beslag gekry in die reeks Getting by in Soweto.

Mofokeng se ondersoeke na spiritualiteit, onderliggend in Train Churches, het in 1997 gestalte gekry in Chasing Shadows en die volgende jaar in Appropriated Spaces waarin hy kerkgroepe gefotografeer het in die veld, en in stedelike ruimtes – nie in kerkgeboue nie (anders byvoorbeeld as die NG-kerkgeboue wat David Goldblatt verewig het in sy foto’s), gewoon omdat dié groepe nie beskik het oor geboue vir aanbidding nie.

Sy foto’s van kerkgeleenthede in grotagtige oorhange naby Clarens in die Vrystaat (Church of God, Motouleng Cave at Surrender Hill, near Clarens, 1996) het dalk die brug geslaan tussen spiritualiteit en landskap. En hoewel hy toegee dat die begrip ‘landskap’ gelade is en swaar dra aan geheue, herinnering, mag, mite en ideologie (à la Simon Schama), is Mofokeng se landskappe (stedelik sowel as landelik) soveel minder polities van aard en soveel eerder ʼn besinning oor die absurdheid van bestaan.

In sy voorwoord vir ʼn katalogus vir ʼn uitstalling by Warren Siebrits in 2008 het Mofokeng só hieroor gereflekteer: ‘To most people landscape photography is a genre suitable to the limp-wristed. Better, it is considered irrelevant in a country with a strong documentary tradition.’ Dit mag so wees, maar Mofokeng se sterk hand en greep op landskap as genre was deur die jare onmiskenbaar en rigtinggewend. In swart-wit (‘…ek hou nie van die verleiding van kleur nie,’ het hy volgehou) het hy landskappe hier en in die buiteland afgeneem, en in die proses nie net die skadu’s agternagesit nie, maar ook met kykers gedeel (Sad Landscapes, 2000 en Rethinking Landscapes, 2004). Die wesenlike in die foto’s, het hy in 2010 by Let’s Talk, sy laaste solo-uitstalling in Johannesburg se Arts on Main, gesê, is nie wat jy sien nie, maar wat jy nié sien nie … maar wel aanvoel.

In ʼn tyd van luide stemme en geregverdigde geskreeu, het Santu Mofokeng se kuns gefluister, maar nooit minder dringend nie.

Mofokeng het wyd erkenning én lof vir sy werk gekry. In 1991 is die Ernest Cole-beurs aan hom toegeken, wat hom in staat gestel het om in New York te gaan studeer. In 1998 het hy die Duitse Künstlerhaus Worpswede-genootskap gekry en drie jaar later die DAAD-genootskap.

In 2002 was hy een van vier Suid-Afrikaanse kunstenaars wat deur Okwui Enwezor genooi is om op Documenta11 in Kassel, Duitsland, werk te gaan vertoon. Benewens solo-uitstallings in Suid-Afrika was daar ook dié in New York, Parys, Rotterdam, Brugge en Bamako.

Die Prins Claus-prys is in 2009 aan Mofokeng toegeken.

Ruimte vir mitiese monsters

deur Johan Myburg

Hougaard Winterbach vertoon sy werk nie al te dikwels nie. Daarom is dit louter vreugde om ʼn versameling pen- en Plaka-tekeninge van hom te sien in die galery van Open Window, die private tersiêre kunsskool in Centurion waar hy heeltyds klasgee in rolprentkuns.

Toe sy jong seun hom ʼn ruk gelede vra om prente vir hom te teken, het Winterbach weggespring en, anders as die gewone detailtekeninge wat hy gewoonlik maak, vorendag gekom met tekeninge van monsters en mitiese wesens wat (onder meer) gesellig ʼn koppie tee kan sit en drink.

Uit dié tekeninge het ʼn reeks werke vir Armageddon It, soos die Open Window-uitstalling heet, tot stand gekom.

As akademikus met ʼn belangstelling in strokiesprente en veral die uitbeelding van die held in dié genre (vergelyk byvoorbeeld sy navorsingsartikel “Heroes and Superheroes: From Myth to the American Comic Book”) eggo dié uitstalling iets van die super- of fantasiewêreld waarin monsters, reuse en mitologiese kreature seëvier.

As kunstenaar staan hy in dié uitstalling op die skouers van die Fransman Jean Giraud, wat onder die skuilnaam Moebius werk, en die Amerikaanse strokieskunstenaar Jack Kirby, verwys hy na wetenskapfiksie en put hy uit die beeldhoutradisie van antieke eras – dié van die Assiriërs, antieke Egipte en Griekeland. Kortom, enige tradisie wat ruimte skep vir mitiese monsters. En hoeveel het nie volksverhale van dié soort kreature nie.

Al dié verwysings skep ʼn stewige verwysingsveld en kan ʼn mens jou eie betekenis aan die werk heg – altyd ʼn goeie ding want op dié manier eien die kyker die werk haar of hom toe. So draal in die agterkop byvoorbeeld iets van Goya se Saturnus verslind sy seun, sy uitbeelding van die Griekse mite van Titan Cronus wat sy kinders opeet omdat hy bang is hulle gooi sy gesag omver.

Armageddon It (met verwysing na Def Leppard se snit in die 1987-album, Hysteria), volg kontekstueel in die spore van Ragnarok, Winterbach se vorige (meestersgraad-) uitstalling in 2004. Die uitstalling van beelde het eweneens mitologie – dié van die groot veldslag en natuurrampe in die Noorse mitologie – en ʼn kataklismiese ingryping as onderwerp.

Nietemin is ʼn groter gemeenskaplike faktor dalk die behoefte aan of sug na helde. Dié soort wat nie voete van klei het nie, wat jou nie in die steek laat nie, wat nie ʼn eie agenda het nie, en les bes dié soort wat tyd inruim vir tee.

Oor die kunstenaar

Hougaard Winterbach was op Stellenbosch op skool, het aan US juweliersontwerp studeer en sy MTech aan TUT behaal. Teken was nog altyd die voor die hand liggende manier waarop hy gestalte gee aan sy kreatiwiteit – tekeninge wat wemel van verwysings en ikonografie uit godsdiens, strokiesprente en rock ʼn roll.

Judith Mason vanjaar Innibos

deur Johan Myburg

Die lewe en werk van Judith Mason (1938-2016) word vanjaar op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit gevier met ʼn uitstalling saamgestel deur haar dogter Tamar Mason.Die uitstalling, Living Lines and Impressions: A Glimpse of Judith Mason’s Editions and Drawings, bied ʼn intieme en persoonlike blik op Judith Mason se grafiese werk, tekeninge, kunstenaarsboeke en tapisserieë. Grafiese drukwerk uit The Artists’ Press word ook vertoon.Dié uitstalling is te sien in die White River Art Gallery, Casterbridge, Witrivier. Mason het die laaste 15 jaar van haar lewe net buite Witrivier gewoon.In haar loopbaan wat strek oor vyf dekades het sy in verskillende dissiplines gewerk. Haar werk is opgeneem in belangrike en groot versamelings, openbaar sowel as privaat. Sy het Suid-Afrika verteenwoordig op die Venesiese Biënnale in 1966, die São Paulo Biënnale van 1971, die Houston-kunstefees in 1980 en Art Basel, Miami Beach, in 2008.Judith Seelander Menge is op 10 Oktober 1938 in Pretoria gebore en het grootgeword op Zeerust en Bosbokrand in Mpumalanga. Sy het in 1956 aan die Pretoria High School for Girls gematrikuleer.Sy het kuns aan Wits studeer en daarna skilderklas gegee aan die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad en die Scuola Lorenzo de Medici in Firenze, Italië.Oor haar beroep het sy by geleentheid gesê: “I paint in order to make sense of my life, to manipulate various chaotic fragments of information and impulses into some sort of order, through which I can glimpse a hint of meaning. I am an agnostic humanist possessed of religious curiosity who regards making artworks as akin to alchemy. To use inert matter on an inert surface to convey real energy and presence seems to me a magical and privileged way of living out my days.”Tamar Mason is op Woensdag 26 Junie om 11:00 by die Kuns-oase, Laerskool Nelspruit, in gesprek met Johan Myburg oor dié uitstalling. Toegang is gratis.

Keur van Afrika-kuns nou in Johannesburg

deur Johan Myburg

Sy aanspraak dat hy nooit voet op die Afrika-vasteland gesit het nie, kan ʼn mens Pablo Picasso toegee. Maar dat hy teen 1907, toe hy Les demoiselles d’Avignon geskilder het, gʼn benul van Afrika-kuns gehad het nie – dis dik vir ʼn daalder. Teen 1900 was “kurio’s” uit Afrika en die Stille Oseaan-streek die in-ding in Parys en is dit onder meer in die Musée d’Ethnographie du Trocadéro uitgestal. Hoewel Picasso aangevoer het dit was die Iberiese klipbeelde wat hy op besoek aan Spanje gesien het wat die visuele vertrekpunt vir die figure in dié skildery was, weet almal dat Henri Matisse die klein sittende figuur wat hy in 1906 in ʼn Paryse kurio-winkel gekoop het, vir Picasso gewys het … en dat hy gaande was daaroor.

Nietemin, die belang en invloed van Afrika-kuns – veral maskers – in die Westerse kunsgeskiedenis word algemeen aanvaar; al in die werk van Edouard Manet, Paul Cézanne en Paul Gauguin en later in Fauvisme, Kubisme en die Duitse Ekspressionisme.

Om meer as ʼn honderd jaar later deur die uitstalling 40 Years of Collecting: A Celebration of the Standard Bank African Art Collection in die Standard Bank-galery in Johannesburg te stap, is dit wonderlik om benewens die intrinsieke seggingskrag en waarde van die stukke ook te verreken hoe dié erfenis invloed gehad het en steeds het op Suid-Afrikaanse kuns en kultuur.

Irma Stern (1894-1966) was nie net ʼn versamelaar van Afrika-kuns nie, maar het dikwels ook dié elemente in haar kuns gebruik. Alexis Preller (1911-1975) se behoefte aan “kuns gewortel in Afrika” het hom gelei op talle reise, onder meer na die destydse Swaziland, Zanzibar, Egipte en die Kongo. In Parys was dit die Afrika-kuns in die einste Trocadéro wat sy aandag geboei het. Hier ter plaatse was dit die Ndebele (Mapogga)-kultuur waarin hy heelwat inspirasie gevind het.

Soos Stern en Preller is reis ʼn belangrike stimulus vir Karel Nel (1955), ʼn kunstenaar wat self ʼn omvangryke versameling Afrika-kuns het en wat Afrika-elemente ook ruimskoots in sy werk gebruik.

Kyk ʼn mens na die dierefiguur in een van die kopstutte uit die noorde van die land, kan jy begryp uit watter wêreld die beeldhouer Sydney Kumalo se diere met hul stewige pote kom. En in Laduma Ngxokolo se grafiese ontwerpe vir Laduma-breiwerk vir MaXhosa maak die patrone in tradisionele kralewerk hul opwagting.

Hierdie is maar ʼn paar voorbeelde en redes waarom ʼn besoek aan dié keurige uitstalling, saamgestel deur Same Mdluli, Standard Bank se kurator, in samewerking met die kurators van die Wits-kunsmuseum (WAM), die moeite werd is.

  • Tot 6 Julie. Rondleidings op 8, 22 en 29 Junie om 10:00. Standard Bank-galery, h/v Simmonds- en Frederickstraat, Johannesburgse middestad. Veilige onderdakparkering: h/v Harrison- en Frederickstraat. Maandag – Vrydag 08:00 tot 16:20, Saterdae 09:00 – 13:00. Toegang gratis.

Onder die vel van die dagdroom

deur Johan Myburg

Min dinge haal by die ervaring van dagdroom: anders as nagdroom kan jy die koers bepaal; jy is onbewus bewus; jy is in daardie wonderlike kokon wat hulle verbeelding noem; die onmoontlike word haalbaar, en daar is die heerlike elektrisiteit wanneer jy wakker skrik – die sensasie dat jy betrap is waar jy nie mog wees nie.

“Woolgathering” is wat Engels dit noem. Komende van die oënskynlik doellose dool agter wolle aan wat aan takke bly steek het in ʼn landelike verlede.

Dit is ook die titel van Benjamin Skinner se jongste uitstalling in Parkhurst in Johannesburg. ʼn Foto-uitstalling van portrette van mense in daardie allerindividueelste oomblikke van droomverlorenheid.

Skinner is veel meer as fotograaf: Hy is die instigeerder van dagdroom deur ʼn konteks en omgewing te skep in ʼn “den” (met die allure van ʼn 19de-eeuse opium den) waarin hy die portrette geneem het, maar ook in die galery gerekonstrueer het – met op openingsaand sewe sitters/modelle/karakters in situ. Au naturel.

Boonop staan sy hande vir niks verkeerd nie. Soos in ʼn kamer van kuriositeite vertoon hy van die foto’s, gedruk op twee lae – die een suurvrye veselpapier en bo-oor ʼn honderd jaar oue sy – in handgemaakte kabinette van berkehout, of gedruk op Awagami kozo-moerbeipapier met sy bo-oor ʼn laag van die sy, eiehandig geraam in dun berke-rame.

Naaktheid à la Gustave Courbet (L’origine du monde) is soos in al Skinner se vorige werk gewoon deel van dié “woolgathering” as “indulgence in aimless thought or dreamy imagining” en dit is op dié punt waar die elektrisiteit dalk optimaal kraak. Terloops. Die sy waarop hy sy foto’s druk is in die 1920’s gebruik as insulering vir elektriese kabels.

Die den is tans leeg, die vuur wat op openingsaand in die kaggel gebrand het, is dood. Maar in die vertrek draal die drome van die sitters nog.

Die moontlikheid van oorlewing

deur Johan Myburg

Muholi het dié argief wat reeds foto’s van meer as 500 vroue insluit in 2006 begin en die eerste portret was dié van Busi Sigasa, digter, aktivis en vrou wat “ʼn daad van korrektiewe (“curative”) verkragting” oorleef het. Sy is egter in 2007 op 25 dood.

Dit is die einste projek wat, toe dit destyds in die Konstitusionele Hof in Johanneburg vertoon is, die argwaan van die destydse minister van kuns en kultuur, Lulu Xingwana, ontlok het. Xingwana het die uitstalling as onsedelik beskryf.

Wat veral blyk uit Muholi se foto-projek is die moontlikheid van oorlewing van misdade wat spruit uit haat, die maniere waarop gerou word en die behoefte om te behoort.

Muholi se volgehoue aktivisme op die terrein van die visuele kunste het die afgelope 13 jaar bygedra om ten opsigte van dié onderwerp suksesse sowel as leemtes in die Suid-Afrikaanse gemeenskap uit te wys. Ses van die deelnemers wie se portrette ingesluit is in die projek is intussen dood. Vir Muholi is dié sterftes aanduiding van ongelykheid wat steeds gedy en die feit dat nie almal se grondwetlike reg ewe veel waarde het nie – ondanks verskansing daarvan in die Grondwet.

In ʼn tyd waarin Afrika-lande toenemend homofobies raak en wetgewing deurvoer wat anti-homoseksueel is, klink Muholi se stem klokhelder op téén sulke vergrype. Dit is haar onuitwisbare argief foto’s wat sal blý getuig dat lesbiese, gay, biseksuele, transgender- en interseks-gemeenskappe nie “on-Afrika” is nie.

Muholi se Faces and Phases-reeks was in 2013 deel van die Suid-Afrikaans paviljoen op die Venesiese Biënnale en die São Paulo Biënniale in 2010. Die reeks is ook van 29 April tot 18 Oktober volgende jaar deel van die Zanele Muholi-oorsiguitstalling in die Tate Modern in Londen.

  • Stevenson is by Sewende Laan 46, Parktown-Noord, Johannesburg. stevenson.info.

Protes gee museum gas oor portretprys

deur Johan Myburg

ʼn Portret van ʼn vriendin van die skilder Charlie Schaffer is onlangs aangewys as die wenner van die 2019 Britse BP-portretkompetisie. Imara in her Winter Coat, soos die portret heet, is van Imara wat net nie meer Schaffer se koue ateljee in Brighton kon trotseer nie en ʼn jas van fopnerts met groot swart kolle oor haar skouers gegooi het.

Op sy beurt het Schaffer gesê hy het Titiaan se portret van Girolamo Fracastoro in gedagte gehad by die skilder van dié portret. Die grootste ooreenkoms is die swart-wit nertsigheid om die nek. Fracastoro, ʼn man, kyk weliswaar ook nie die kyker in die oë nie, maar in die geval van Imara is haar oë boonop afgeslaan.

Schaffer se portret is een van ʼn dosyn of wat van swart sitters deur wit skilders in die uitstalling van 44 portrette in Londen se National Portrait Gallery (NPG), die museum wat die kompetisie vanjaar vir die 40ste keer aanbied. Soveel as 2 538 kunstenaars uit 84 lande het vanjaar portrette vir dié prys ingeskryf.

Maar die prys en prysaand is oorskadu deur die hewigste protes nóg teen BP as borg van dié kompetisie.

In ʼn brief aan Nicholas Cullinan, direkteur van die NPG, het 80 toonaangewende kunstenaars, onder hulle voormalige Turner-pryswenners én ook wenners van die BP-portretkompetisie, daarop gewys dat BP een van die wêreld se grootste fossielbrandstofprodusente is en dat bande met dié instelling verbreek moet word.

Korporasies wat die kunste borg met geld wat hulle verdien het uit fossielbrandstof het die afgelope jare toenemend onder skoot gekom, veral met wêreldwye kommer oor die omvang van die klimaatkrisis.

Onder die kunstenaars wat die petisie onderteken het, is Antony Gormley, Rachel Whiteread, Anish Kapoor, Gillian Wearing en Mark Wallinger.

Gormley het gesê: “BP het bewys die maatskappy het geen belang in die kollektiewe toekoms nie en sal dit opoffer in die najaag van wins. Wetenskaplikes toon aan dat die sake wat BP doen ons bestaan ondermyn. Ons het geen ander keuse nie as om beswaar aan te teken.”

  • Die uitstalling in die National Portrait Gallery is te sien tot 20 Oktober. Besoek npg.org.uk.

In gesprek oor landskap

deur Johan Myburg

In situ was in 2017 die laaste geleentheid wat Gautengers gehad het om ʼn solo-uitstalling van MJ Lourens te sien in Lizamore & Associates. Kapenaars kry meer dikwels dié geleentheid en tans is sy Land Rewoven / Land herweef te sien in La Motte, die museum op die gelyknamige wynplaas buite Franschhoek. Dié uitstalling duur tot 12 Januarie.

La Motte was onlangs in die nuus toe dié museum JH Pierneef se persoonlike versameling bekom het. Terwyl die befaamde Pierneef-Stasiepanele, die 32 doeke wat Pierneef in opdrag vir Johannesburg se Parkstasie gemaak het, in die Rupert-museum in Stellenbosch uitgestal word, word projeksies van dié skilderye op La Motte vertoon op die hoogte (4,25 m) waarop die panele aanvanklik in 1932 in die stasiegebou aangebring is.

Die werke van Lourens wat vir Land Rewoven / Land herweef gekies is, tree in gesprek met geselekteerde Pierneefs. Met bykans 90 jaar tussen die twee kunstenaars kom die interpretasie en tradisie van landskapskilder onder meer ter sprake in dié gesprek.

Lourens het in Pretoria grootgeword, met die buierige luim wat net die Hoëveld kan bied, en met dieselfde bollende wolkformasies wat Pierneef so kon orden in sy skilderye. “Toe ek landskappe verken het,” sê Lourens egter, “was dít die vistas wat ek teëgekom het in die Pretoria van my grootwordjare. Maar ek het hom [Pierneef] nooit probeer naskilder nie, en ek wil ook nie hê dat hy moet blyk uit die manier waarop ek die landskap hanteer nie.”

Ooreenkomste moet daar wees, dit is immers dieselde soort Hoëveld-landskappe wat ter sprake is. Die verskille is egter net so opvallend. In albei se werk is die menslike figuur afwesig. Maar in Lourens se werk word die mens se teenwoordigheid byvoorbeeld sigbaar in masjiene en vaardighede en tegniese vernuf. Die immanente God wat so aanwesig was in Pierneef se skilderye, is bloot oorbodig in Lourens se werk.

  • Daar is rondleidings deur die kunstenaar op Dinsdag 27 Augustus om 10:00; Dinsdag 17 September om 10:00; Dinsdag 19 November om 10:00; Dinsdag 17 Desember om 10:00 en op Dinsdag 7 Januarie om 10:00. Bespreking is noodsaaklik. Besoek la-motte

Ratels en buffels bly spook

deur Johan Myburg

As jy ʼn wakker ervaring gehad het van die 1980’s in Suid-Afrika, kan die woord “noodtoestand” kwalik neutraal wees. Dit het onder meer beteken dat die staat al sy mag drakonies kon mobiliseer om wet en orde te handhaaf – wat op sy beurt die spanning tussen alles wat “ons” was en alles wat “hulle” was op ʼn spits gedryf het. Dié toestand waarin die nood hoog was is meer as 30 jaar later die impetus vir Johann van der Schijff se solo-uitstalling, Noodtoestand/State of Emergency, in Lizamore & Associates in Johannesburg.

Dit was die tyd toe konvooie deur land geratel het en Casspirs nie vriendelike spokies was nie.

Dit is hierdie gedreun van voertuie (en Mirages as jy in Pretoria gewoon het) wat Van der Schijff weer aktiveer in ʼn uitstalling wat bestaan uit miniatuur weergawes in brons van buffels en ratels uit ʼn oorlog in ʼn bos. Dié oorlogsmasjinerie word miniatuur bronsspeelgoed wat laer trek in die middel van die galeryvloer.

Daarby betrek hy ook in topografiese kaarte sy familiegeskiedenis en karteer hy waar hy homself tans bevind: ambivalent, middeljarig en melancholies. Hou in gedagte dat die noodtoestand vir Van der Schijff ook meer is as ʼn eksterne (en historiese) gegewe. Hier is ook sprake van ʼn persoonlike noodtoestand in talle gedaantes.

Maar dit is waarskynlik die eksterne ambivalensie (of selfs digotomie) wat uit die uitstalling blyk wat die kyker die meeste tref, aangevuur deur Van der Schijff se bewondering vir die militêre vernuf en die slaankrag van die eertydse staat aan die een kant en die aversie in geïnstitusionaliseerde geweld aan die ander kant.

In dié opsig vertolk die kunstenaar sy rol as tarter, as hofnar en les bes as destabiliseerder van alles wat op die oog af gaaf en vreedsaam lyk.

Nuwe kunsprys bevoordeel gemeenskappe

deur Johan Myburg

In ʼn wêreld waarin die kunstenaar al minder sy dae in sy ateljee slyt, die galery nie meer mure het en die fokus nie altyd op die verhandelbaarheid van kuns is nie, is daar nou ʼn kunsprys vir kuns wat buite die geykte parameters bedryf word.

Die Rupert-museum in Stellenbosch, met die rugsteun van die Rupert-stigting, het vroeër vandeesweek ʼn prys aangekondig wat fokus op kuns (met ʼn skopus veel wyer as net die visuele kunste) wat ʼn direkte en meetbare effek op individue en gemeenskappe het. Die prys staan bekend as die Social Impact-prys.

By die bekendstelling van die prys het Hanneli Rupert, uitvoerende voorsitter van die prys, gesê die oogmerk met die prys is “om ʼn bydrae te lewer tot die inspirerende gemeenskappe in Suid-Afrika en die res van die wêreld wat kreatiwiteit inspan om sosiale kwessies mee hok te slaan”.

Die naam van die Amerikaner Theaster Gates, die man wat aanvanklik roem verwerf het as keramiekkunstenaar, kom onmiddellik op as iemand wat benewens kunstenaar ook kultuurwerker en aktivis is en met sy Rebuild Foundation met kulturele programme vorendag kom in arm woonbuurte.

In een van sy projekte het Gates in Chicago se South Side verskeie geboue omskep in kulturele sentrums. ʼn Woonhuis het ʼn leeskamer met meer as 14 000 boeke geword; ʼn lekkergoedwinkel het die Listening House geword, geskik vir gemeenskapsbyeenkomste; en ʼn gebou wat voorheen vir ʼn bank gebruik is, het die setel geword van besoekers op ʼn kunstenaarsverblyf.

Dit is soortgelyke kreatiewe projekte in Graaff-Reinet, die dorp wat gekies is as begunstigde van al die projekte en waarna Rupert verwys as “ʼn museum sonder mure”, wat die organiseerders van die prys in gedagte het.

Roelof van Wyk, direkteur van die prys, het benadruk dat benewens kunstenaars ook argitekte en ingenieurs, omgewingskundiges, kortom alle kreatiewe individue en groepe wat onderlê is in gemeenskapsgebaseerde projekte – en wat ʼn betekenisvolle bydrae kan lewer tot die gemeenskap van Graaf-Reinet – in aanmerking kan kom vir die prys.

Veiling ná aanval op Helena Hugo

deur Johan Myburg

Kunsvereniging Pretoria bied Maandag 30 September ʼn veiling aan van kunswerke deur Helena Hugo om dié kunstenaar se mediese uitgawe te help vereffen. Hugo is op 5 September in haar huis in Pretoria aangeval en is met harsingskudding, ʼn gebreekte kakebeen, neus, tande en oogbank in die Eugène Marais-hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem. Sy sterk tans aan.

Hoewel sy ʼn hospitaalplan het, is sy verantwoordelik vir die uitgawes wat nie deur dié plan gedek word nie – ʼn aansienlike bedrag. Vir dié doel die kunsveiling wat ook van haar gesogte pastelwerke insluit.

Hugo het visuele kunste aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in 1997 haar eerste solo-uitstalling in Pretoria aangebied. Daarna het deelname aan verskeie groepuitstallings gevolg asook solo-uitstallings. In 2011 was sy die feeskunstenaar op die KKNK in Oudtshoorn met die uitstalling Portret.

Met dié versameling pastelportrette het sy veral “gewone mense” en werkers asook die band tussen mens (werker) en masjien ondersoek. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk beeld sy so intiem uit dat die identifisering met die werk duidelik blyk. ʼn Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan.

Hugo gee dié mense weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen.

Dikwels is dit juis die “misgekykte mense” wat sy skilder (in olie op bord) of teken (met pastel op bord). Of dit nou tekeninge van straatwerkers is of ’n boer wat trots in sy mielieland staan, in elk van dié portrette straal daar ʼn soort trots uit die houding of uit die oë.

In 2012 het sy ʼn tyd in Parys, Frankryk, deurgebring nadat sy die Bettie Cilliers-Barnard-prys ontvang het. In 2014 was sy die wenner in die kompetisie van die Collection Beaux-Arts Réaliste et Impressionniste in Montréal.

“Ek dink ek hét ʼn bietjie van ʼn obsessie met detail,” het Hugo al oor haar werk opgemerk. “Ek vorm inderdaad ’n verhouding met die portret waarmee ek besig is. Dit is baie keer die plooie rondom die oë of die tekstuur van die vel wat my interesseer.”

Suggestie voer die botoon

 deur Johan Myburg

Dit was die Engelse kunskritikus John Berger wat gesê het “we never look at just one thing: We are always looking at the relation between things and ourselves”. Dié opvatting kry kwalik klaarder gestalte as in die werk van die fotograaf Michael Meyersfeld. Sy jongste uitstalling, Notional, is tot 16 November te sien in The Henry George-galery in Parkhurst, Johannesburg.

Sy vroeëre werk met ʼn sterk narratiewe onderbou het Meyersfeld se voorkeur vir noukeurige beplanning benadruk. Dit was die “staged” element (veral in uitstallings soos Staged Life) van ʼn tafereel waarmee hy die verhouding tussen die objek en die kyker, en dan die reaksie van die kyker, so netjies vasgevang het. Gaandeweg het die representatiewe aspek, onmiddellik herkenbare tonele en gebeure, begin plek maak vir ʼn meer intuïtiewe aanpak. En het sy werk nader aan abstraksie begin beweeg – met minder nadruk op “verstaan” en meer op “voel” of “ervaar”. Hiervan het veral die uitstalling Accessing the Encoded in Julie verlede jaar getuig.

In die meesterlike versameling swart-wit foto’s in Notional is die oogmerk nie die onmiddellik herkenbare nie, maar eerder die grein, lig, kontras en dubbelsinnigheid. Dit is suggestie wat botoon voer (soos “notional” aandui) en wat die kyker noop om die verhouding tussen “jouself” en die “ding” (soos Berger sê) te ondersoek, die persoonlike wêreld van ervaring en dalk geheue of herinnering.

Met sy nabyskote elimineer Meyersfeld as’t ware die konteks (waarna ons so naarstiglik soek vir “betekenis”), bied ʼn glimp van die geheel aan en noop die kyker om te fokus op die sensuele vloei van lyn en tekstuur (vergelyk Emma I). Sonder om noodwendig te “verstaan”.

Dié jongste foto’s verg ʼn ander oog, een wat nie verlei is om te verstaan nie, maar een wat wakker is vir suggestie, en vir die gesprek wat tussen die individuele werke tot stand kom.

Met die titels van die werk flirteer Meyersfeld verder met interpretasie – aan die een kant begrond hy die werk in ʼn vorm van betekenis (wat titels immer doen), maar aan die ander kant is die titels so vlugtig dat ʼn finale greep buite bereik bly.

Waarmee die kyker gelaat word, is die stilte van die werk. En ʼn mens in staat stel om te reageer op die verhouding tussen jouself en die kuns.

Pat Mautloa wen Helgaard Steyn-prys

Kagiso Patrick Mautloa is aangewys as vanjaar se ontvanger van die Helgaard Steyn-trust se toekenning vir skilderwerk. Dié prys met ʼn prysgeld van R625 000 – een van die grootste pryse vir die kunste in die land – word al om die vier jaar vir ʼn uitnemende prestasie in skilderkuns toegeken. In die ander jare kom die dissiplines beeldhoukuns, musikale komposisie en letterkunde aan die beurt.

Mautloa (67) is vereer vir sy werk Urban Vibes (City Buzz) van 2018.

Met ʼn loopbaan wat oor dekades strek is daar min Suid Afrikaanse kunstenaars wat Mautloa se statuur kan ewenaar. “Bra Pat” soos hy geliefd bekendstaan, is in 1952 op Ventersdorp in Noordwes gebore.

Tydens sy hoërskooljare het hy buitemuurs kuns aan die Jubilee- en Mofolo-kunssentrum studeer. In 1970 het hy die OK Bazaar-beurs ontvang wat hom die geleentheid gebied het om vir twee jaar (1978 tot 1980) aan die Rorke’s Drift-kunssentrum in KwaZulu Natal te studeer.

Mautloa het deur die jare ʼn kardinale rol gespeel in die ontwikkeling en koestering van jong en opkomende kunstenaars. In 1991 was hy ʼn medestigter en direkteur van die Bag Factory in Johannesburg, kunsateljees waar hy ook vir homself ʼn ateljee ingerig het.

Hy word deur baie van sy eweknieë erken as een van die meesters van moderne skilderkuns in Suid Afrika. Sy werk is opgeneem in kunsversamelings van Hollard, Standard Bank, die Johannesburg Kunsmuseum, Iziko in Kaapstad, Yellowwoods, Nando’s, Spier en Sasol. In 2006 was Mautloa ʼn finalis van die Sasol Wax-kompetisie en hy was KKNK se feeskunstenaar in 2016.

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die nalatenskap van wyle dr. J H (Jan) Steyn, ’n oud-student van die voormalige Grey-Universiteitskollege (nou die Universiteit van die Vrystaat), oud-LV vir Potchefstroom. Die trust is genoem na sy pa, ’n voormalige LPR van Bloemfontein en jongste broer van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, M T Steyn. Die huidige trustees is Hanneli Rupert-Koegelenberg, Gerard Rupert, Francois van der Merwe, Johannes van Niekerk en die Absa-trust.

Die beoordelaars vir die skilderprys, Angela de Jesus van die Universiteit van die Vrystaat, Moya Goosen van die Noordwes-Universiteit en Richardt Strydom, kunstenaar en onafhanklike kurator, was dit eens in hul aanwysing van Pat Mautloa as die ontvanger van die 2019-toekenning vir skilderkuns. Die kunswerk verbeeld die wyse waarop die transito-energie en pols van die stadslandskap met dié van sy inwoners se lewens vervleg. Daar is ook ʼn sterk wisselwerking tussen die abstrakte en die figuurlike, wat die detritus wat voortdurend in Johannesburg se strate versamel eggo.

In gemengde media word die driekleurige plastieksakke, wat sinoniem is met immigrante, verweef om ons aan die migrantegeskiedenis van die stad te herinner. Terselfdertyd verwys hierdie element spitsvondig na die onlangse xenofobiese-aanvalle wat duisende mense in die middestad van Johannesburg verplaas het.

Vorige ontvangers van Helgaard Steyn-toekenning vir skilderkuns sluit in Pippa Skotnes, Nel Erasmus, Robert Hodgins, Cyril Coetzee, Bronwen Findlay, Pauline Gutter en Penny Siopis.

Finaliste vir Social Impact-prys

deur Johan Myburg

Nadat die Rupert-museum in Stellenbosch, met die steun van die Rupert-stigting, einde verlede jaar die Social Impact-prys aangekondig het, is die lys finaliste onlangs bekendgemaak. Die fokus van dié prys is kuns (met ʼn skopus veel wyer as net die visuele kunste) wat ʼn direkte en meetbare effek op individue en gemeenskappe het.

By die bekendstelling van die prys het Hanneli Rupert, uitvoerende voorsitter van die prys, gesê die oogmerk met die prys is “om ʼn bydrae te lewer tot die inspirerende gemeenskappe in Suid-Afrika en die res van die wêreld wat kreatiwiteit inspan om sosiale kwessies mee hok te slaan”.

Graaff-Reinet is die dorp wat gekies is as begunstigde van dié projek waarna Rupert verwys as “ʼn museum sonder mure”.

By die aankondiging van die finaliste het Roelof van Wyk, mede-direkteur van die prys, gesê die kunstenaars op dié lys het almal sterk interdissiplinêre kreatiewe konsepte voorgelê. “Elkeen van hulle het met planne vorendag gekom om die gesprek aan die gang te kry en iets te doen aan die dringende gemeenskapsuitdaging waarvoor Graaff-Reinet te staan gekom het.”

Die ses finaliste (in geen spesifieke nie orde) is:

“Hello wolk” deur studioMAS en Gustav Praekelt

Dié projek wat begin as ʼn kunswerk – geskoei op die Khoi en San se rotsteken-styl – bestaan uit ʼn tamaai wolk wat water opvang wat gebruik kan word vir die tuin onder die wolk. Die wolk is meteen ook ʼn digitale wolk wat gratis WiFi bied en dien as ʼn bron van inligting tot nut van die gemeenskap.

“Revealing the City” deur Kim Lieberman & Paragon-argitekte

Dié projek gebruik kantwerk as visuele metafoor vir die potensiaal wat ʼn inklusiewe gemeenskap het – ook ten opsigte van geskiedenisse. Visuele merkers word soos drukspelde op ʼn kaart gebruik om belangrike punte in Graaff-Reinet te bepaal en ʼn mobiele app word ingespan om besoekers deel te maak en ook self ʼn bydrae te maak deur verbintenisse.

“The Long Table”-projek deur Kasthuri Naidoo & Ayesha Mukadam

Dié projek het die manier waarop kos gedeel word in ʼn poging om konneksies oor geografiese en sosiale grense te herstel in die oog. Die projek gebruik die Markplein as fokus en dié terrein met ʼn ryk én droewige geskiedenis word die plek waar die lang tafel-ervaring sal plaasvind.

“PLANTed” deur Lorenzo Nassimbeni, Andrew Brose & Casper Lundie

Dié projek fokus visueel op die verlies aan plaaslike kennis omtrent medisinale plante asook die rol wat handwerk, die plaaslike koskultuur, argitektuur en inheemse tale. ʼn Sentrale struktuur word in die vooruitsig gestel waar kunstenaars, ontwerpers en die plaaslike gemeenskap gestalte kan gee aan hul kennis van dié plante.

“Tears Become Rain” deur David Brits & Raiven Hansmann

Dié projek bestaan uit ʼn massakoorprogram met die klimaatskrisis as fokuspunt.

Die oogmerk met dié projek is om ʼn gemeenskap wat uiteenlopend van aard is, saam te snoer deur koorsang. Daar word gebruik gemaak van die ryk koortradisie van die omgewing en die titel van die projek is ontleen aan ʼn San-verhaal van ʼn jong seun tydens ʼn groot droogte.

“Mirage” deur Studio August

Dié projek is maak gebruik van beeldhou en kunsmatige lig as media om ʼn byeenkomplek te skep vir die gemeenskap. Snags word die plek verlig wat Graaff-Reinet as baken in die Karoo laat uitstaan.

Die voorstelle van die ses finaliste word van 7 Maart in die Rupert-museum in Stellenbosch uitgestal en die wenner word op 12 Maart aankondiging. Die projek wat as wenner aangewys word sal tussen April en Julie vanjaar in Graaff-Reinet ingerig, gebou of begin word.

Die beoordelaars van die 2020 Social Impact-prys is Aliki Lampropoulos, hoof van internasionale ontwikkeling by die Museum vir Sikladiese kuns in Athene; Azu Nwagbogu, stigter en direkteur van die African Artists’-stigting (AAF) in Nigerië; Salma Tuqan, kurator van kontemporêre kuns en adjunk-direkteur van die Delfina-stigting in Londen; Suhair Khan, projekhoof van Google Arts en Google UK; Allan Schwarz, kunstenaar, argitek en omgewingsontwerper; en Marlon Parker, entrepreneur. Michelle Constant is die sameroeper van die paneel.

  • Besoek www.socialimpactartsprize.org
5 vrae aan Michele Nigrini, kunstemaar van Rosendal

Wat behels jou nuwe werk?

Ek het nog nooit regtig figure as tema wou ondersoek nie. Die idee het posgevat toe ek verlede jaar gewerk het vir ʼn groepsuitstalling by die Tina Skukan galery genaamd Hoek van my heelal.  Ek was nogal in ʼn hoek want ek het soveel van my heelal alreeds geskilder. Vriend Diek sê toe dat die duisende fotos op my selfoon wat geneem en nooit weer gesien word nie, ʼn goeie vertrekpunt kan wees. Dit was aanvanklik ʼn lekker nuwe uitdaging om die gist oftewel gees van die oomblik vas te vang, maar die teken van ʼn bepaalde foto met voorgeskrewe komposisie ensomeer was vir my te beperkend. Dit het aanleiding gegee tot die samevoeging van figure uit verskilllende foto’s van dieselfde gebeurtenis.

Dis vir my stimulerend want ek kan kies of ek met ʼn blerts verf of ʼn meer beskrywende lyn die gevoel van die dag, die oomblik, die geleentheid wil laat herleef. Hoewel die figure nie lewensgetrou weergegee word nie, herken ek die persone aan die houding. Dit kulmineer uiteindelik in ʼn collage van houdings. Dit maak die eindproduk  eerder ʼn spel van verrassings waarin die element van toeval ʼn baie groot rol speel.

Hoe verskil dit van jou ander werk? Is dit portretkuns? Groepkuns?

Die verskil lê grootliks in die tema, maar deesdae teken ek meer en kombineer dit met groot vlakke nat verf. Ek gebruik minder kwas en verf en eksperimenteer eerder met alternatiewe voorwerpe soos handgemaakte kwasse wat ek maak van takkies, blare, grasse, ou besems, stukkies materiaal. Verder gebruik ek houtskool, ink, waterverf, potlode, industriële verwe, sand, gom. Als met baie water gemeng sodat dit kan loop en nuwe onbeplande areas en merke genereer. Die spesifieke palet word ook my “notaboek” vir die betrokke tyd wat ek daarop werk, so daar is altyd lukrake skryfsels, nommers, adresse, diagramme, aanhalings, idees in die agtergrond van baie van my werk.

Wat is die invloede uit jou omgewing?

Ek woon nou al 15 jaar in die Oos-Vrystaatse dorpie Rosendal. Die skuif van Pretoria na die platteland was ingrypend en baie dinge het verander in my werk. Ek het hoofsaaklik op die landskap en strukture gefokus – dit was soos ʼn kompas. Aanvanklik styf en ondersoekend en later los en amper abstrak. Die plattelandse lewe is finansieël en emosioneel ideaal vir ʼn voltydse kunstenaar. Die vrede en vryheid hier laat mens toe om meer te sien en jouself beter te hoor.

Sou jy jou werk beskryf as abstrak?

Die rol van toeval bly ʼn element in my werk – ek het geen vooropgestelde “eindproduk” in gedagte nie – die aanvanklike stimuli (soos kiekies) bly slegs die vertrekpunt. Daar is nie ʼn pre-destined outcome nie. My proses is spontaan en hoogs reaktief. ʼn Kombinasie van abstrakte ekspressionisme wat berus op mark-making, kwashale, verfspatsels. Dit dui op die distorsie van herkenbare objekte om ʼn sekere stemming of gevoel te skep. Ek skep chaos wat ek later orden.

Ek maak altyd gebuik van gemengde media

Kunstenaars wat jou blywend beindruk?

Jackson Pollock  het ek in 1985 ontdek en sy invloed is seker die blywendste. Spore van sy spattegniek is vandag nog in my werk te sien.

Ook Monet, Matisse, Kandinski, Cy Twombly, en die kunsteorieë van Clive Bell, Francis Bacon, John Berger, Arthur Koestler, Johannes Itten.

Clive Bell se uitlating hang ek vandag nog aan: “The representative element in a work of art may or may not be harmful, but it is always irrelevant. For to appreciate a work of art, we must bring with us nothing from life, no knowledge of its affairs and ideas, no familiarity with its emotions.”