Doer Onder in volkleur, wyedoek

deur Schalk Schoombie

Eerste indrukke van die Art Gallery Western Australia (AGWA), in die hart van Perth se kulturele sentrum, word oorheers deur kleur en nogmaals kleur. Onbeskaamd, onbeteueld kleurryk. ʼn Bont skouspel in wyedoek teen elke muur van die ruim vertoonsale. Jy sou selfs kon praat van ʼn reënboognasie van kunstenaars.

Die invloed van kwistige Aboriginal-kleurgebruik in golwe, spikkels, stroke, vaandels en blokke kleur is kruisbestuiwend aanwesig in soveel skilderye van die Australiese kunstenaars oor ses dekades.

Dekoratief is dit in die oortreffende trap, ʼn viering van die eilandkontinent se rykdom van  ʼn oker-en-amber milieu, die rooi-oranje grond, intimiderende rotsformasies, bloekomwoude, die ontembare binnelandse wildernis en woestyn, die ontsaglike einders. Selfs in die uitbeelding van bosbrande, is dit die skril rooi uitbarstings van vertikale vlamme wat die skoonheid van verwoesting dramatiseer.

Dis veral die sentrale AGWA-versameling van 17 500 werke wat ʼn magdom impressionistiese verrassings oplewer, ʼn kleurkaart na die stories, mites, tradisies en gekruisde lyne van die oerbewoners, kolonialiste en immigrante wat die Australiese kulturele identiteit help smee het. (Gedenk Bruce Charwin se The Songlines.)

Een van die kragtigste stellings is Norma MacDonald se Spirit Dawn (2008), ʼn groepsportret van vier seuns wat tekeninge van die omringende landskap vashou; hul sketse vervloei subtiel in die geelbruin omgewing. So word land en inwoner deur kuns en die medium van verf opgeneem en verenig.

ʼn Verdere verrassing is om hier ʼn geliefde Suid-Afrikaanse held raak te loop, Madiba getransformeer as superheld teen die agtergrond van die Struggle.

Tydens my besoek in Desember 2019 was daar verskeie gratis groeptentoonstellings, soos That Seventies Feeling … the Late Modern, ʼn keur van seldsame werke van die 70s, ʼn tydperk toe plaaslike kunstenaars gelei is deur sinnelike verkennings wat deur lig en landskap ontlok is. Eweneens ʼn kaleidoskopiese reis, onbevange en speels.

As ʼn korrektief en teenvoeter in gryse en bruine was daar Perth Brutal, Dreaming in Concrete, ʼn reeks diagramme, foto’s, sketse, bouplanne en ephemera wat die geskiedenis van die galery dokumenteer.

Kunsskrywer Nushin Elahi het enkele jare gelede ʼn besoekende uitstalling van Australiese kuns in Londen gesien. Sy vertel sy was getref deur die afwesigheid van politieke sinspelings, boodskappe en agendas – so kenmerkend van die Suid-Afrikaanse kunstoneel – en oorrompel deur die geesdrif en intensiteit waarmee ʼn aardse palet ontgin word.

Karin Preller se Suzie, 2020, olie op doek (85 x 85 cm)

Net voor ek vergeet

deur Johan Myburg

Waarskynlik was dit ʼn mooi dag toe dié foto van Suzie geneem is. Met selfvertroue kyk sy die kamera in die oog, haar voete ʼn aks na regs geplant, arms gemaklik langs die sye. ʼn Dag in die son. Uitgelate. ʼn Goeie heugenis van Suzie. Wie sy dan ook al was.

Want uit Karin Preller se Suzie, 2020, kan ʼn mens min aflei van Suzie. Eintlik gaan die skildery nie so seer oor Suzie nie, maar oor wie Suzie nie meer is nie. Uitgelate (in ʼn wêreld van onthou).

Preller se voortgaande belangstelling in foto’s as bronmateriaal vir haar skilderye word onder meer geëggo in die titels van haar uitstallings: Snapshots (2007), Aperture (2008), Stills (2009) en Stilled Lives (2015). In doeke waarin kleur afgedraai is tot hoofsaaklik monochrome blougrys. Dit is dié ondersoek na lewe in ou kiekies en die lewe wat dit kry in ʼn geskilderde konteks wat sy nou voortsit in haar jongste uitstalling in Lizamore & Associates, Almost No Memory.

Soos die geval met Suzie is dit in dié uitstalling nie meer heugenis wat voorop staan nie, maar vergeet. Uitgelate onthou. Skilderye van blakende mense wat verbleik, wat uitlek in die agtergrond.

Soveel anders as in vorige uitstallings wat die daad van onthou nog voorop stel, is dit in dié jongste uitstalling nie meer die geval nie. Soos die uitstallingtitel aandui gaan dit nie meer oor “memory” nie, maar neig dit na “no memory”, na daardie oomblik voordat onthou heeltemal vervaag, en oplos in die blou niet.

Hoewel Preller nog in titels name van mense aan skilderye heg, is dit nie meer representasie as sodanig wat sy in die oog het nie, maar die mate waarin dié figure toegang bied tot die verkenning van onthou voordat die grens na vergeet oorgesteek word. Naamgewing word as’t ware ʼn manier, om vergeet te besweer. Soos wat ʼn kolossale vertoonkas wat bykans die helfte van ʼn portret in beslag neem (The Display Cabinet, 2020) ʼn voertuig word om ʼn greep op onthou te behou.

In Suzie Overbeek, 2020, nog ʼn portret van Suzie, word haar blommende rok en die landskap in die agtergrond, tesame met skadu’s, as’t ware die ankers wat haar skimmige gestalte nog in die skildery hou. Die buitelyne het verdwyn en kleur- en verfgewys is daar tussen figuur en omgewing geen onderskeid meer nie. Die onthou gekoppel aan die figuur het reeds begin disintegreer, begin een word met die agtergrond (en groot heelal).

In ʼn tyd waarin geweld ʼn nuttige woord geword het, sou ʼn mens seker kon praat van die geweld van vergeet, die geleidelike dog gewelddadige wegkalwing van ʼn teenwoordigheid, van ʼn lewe. Selfs al sou ʼn mens sê jy sal ‘altyd’ onthou, is daardie ‘altyd’ onderhewig aan solank jy kan onthou. ‘Always’ is hoogstens ‘almost’.

Dit is dié geweldige gedagte wat Preller so oënskynlik moeiteloos gestalte gee in olie op doek. Die gemaklike afstand tussen kamera (fotograaf) en subjek ondergrawe sy nie net in die nabye afstand tussen kwas en doek nie, maar bowenal in die ongemaklike nabyheid van kyker en skildery. Vergelyk byvoorbeeld die naby weergawe Karin c1964, 2020, ʼn koplose portret met voue en valleie lap.

Soos wat die figure nie meer net representasie word van die mense in die skilderye nie, volg Preller se kwaswerk dieselfde koers. Sy bied aan (‘present’) met seker hale, maar laat terselfdertyd gaan, in kwashale wat verdoesel. Want niks is haas meer omlynd nie. En so kan Suzie deel word van die doek en eventueel deel word van die niet.

Waarmee ons sit, is verf op doek, as beswering van vergeet. Verf as teenvoeter vir die efemere. En skilder, as ʼn daad ín teen die groot vergeet.

  • Tot 28 Maart. Lizamore & Associates is by Jan Smutsrylaan 142, Parkwood, Johannesburg

ʼn Nuwe begin vir Lizamore

Johan Myburg het met Teresa Lizamore gesels oor haar besluit om haar galery weer terug te neeem na haar huis in Fairland, waar sy begin het.

Teresa Lizamore bedryf al sedert 2001 ʼn kommersiële kunsgalery in Johannesburg. Eers as ArtSpace in Fairland en Parkwood, en later onder die naam Lizamore & Associates. Kunstenaars wat in die vroeë dae in ArtSpace uitgestal het, sluit in Wayne Barker, Colbert Mashile, Kagiso Pat Mautloa, Karin Preller, Richard Smith, Angus Taylor en Diane Victor.

In 2008 is die Lizamore & Associates-mentorskapprogram in die lewe geroep en het intussen gegroei tot die Johannes Stegmann-mentorskapprogram, ʼn kuratoriale mentorskapprogram en sedert 2013 word Lizamore & Associates se Thami Mnyele-mentorskapprys gekoppel aan die jaarlikse Thami Mnyele-kunsprys.

Jou besluit om Lizamore & Associates te skuif na die perseel waar jy ook woon in Fairland, Johannesburg, het gekom voor die Covid-pandemie (waarskynlik bevestig deur dié gedoente). Het jy ʼn kristalbal geraadpleeg (!) of hang die besluit net saam met die kwynende ekonomie?

Omtrent vier jaar gelede het ons begin agterkom die mark verander – kunstenaars het hulself op sosiale medie begin bemark, het al meer ateljeebesoeke begin aanbied en al huiweriger geraak dat galerye hulle verteenwoordig. Van ons kliënte het kunstenaars by hul ateljees begin besoek en het direk van hulle kuns begin aankoop. Daarby het besoekers aan ons galery in Jan Smutsrylaan al minder begin word.

Aanvanklik het dit ons onkant gevang, maar ons het besef dit is wat reg deur die bedryf besig is om te gebeur.

Een of ander tyd verlede jaar het ons besluit om meer te fokus op die konsultante-aspek, maar omdat kuratorskap my so na aan die hart lê, wou ek gereelde uitstallings behou. Om dié rede het ons verlede jaar in November na ʼn kleiner perseel skuins oorkant ons bestaande galery in Jan Smuts verhuis. Ons het die kleiner galery geniet en kliënte en besoekers het veral van die intieme aard van die plek gehou. Die mark het al taaier geword en verkope steeds laag, maar ons kon onsself aan die gang hou.

ʼn Ramp het ons egter vroeër vanjaar getref toe ons galery een naweek tydens ʼn swaar reënbui oorstroom het. Die water is deur die galery en behalwe skade aan meubels en ons voetstukke (vir beeldhouwerke) het ʼn paar kunswerke wat toegedraai was in ons kantoor ook skade gely. Die eienaar van die gebou het onderneem om dreineringslote te grawe en tydens dié proses is die stormwater weer tydens ʼn reënbui net-net nie deur die galery nie.

Ons het voortgegaan met die opening van die Karin Preller-uitstalling (in Maart), maar ons versekering het ons daarop gewys dat die vog in die mure skadelik vir kuns kan wees. En toe kom Covid-19 en die kennisgewing van grendeltyd en ons is drie dae voor die tydperk van isolasie sak en pak daar uit. Ons het op daardie stadium besef dat verandering in alle opsigte dwarsdeur die wêreld gaan plaasvind en daarom die geleentheid aangegryp om ʼn nuwe en ander begin te maak. Die grendeltyd het ons gebruik om ʼn galery tuis in te rig by my huis in Fairland, Johannesburg. Dit is trouens waar ek in 2001 my galery begin het voordat ons na Jan Smutsrylaan verhuis het.

In ʼn tyd van ‘nuwe normaal’ is dié skuif verteeenwoordigend van ʼn vars en nuwe taksering van wat ‘galery’ beteken. Ek dink dit onder meer ʼn skuif na die galery eerder as ‘konsultant’ as ‘vertoonvenster’. In die groter konteks van internet en die plek wat kunsmarkte (art fairs) inneem, dink ek galerye (soos ons dit altyd verstaan het) het problematies begin raak …

Verandering is nodig en die afgelope paar weke het galerye in alle erns aanlyn bemarking begin inspan. Galerye gaan waarskynlik namate die ekonomiese krisis toeneem kwyn, gewoon net omdat lopende uitgawes dit onmoontlik gaan maak om te oorleef. Kunsmarkte kry inderdaad tans al die aandag en het die plek van galerye ingeneeem. Maar as galerye sou toemaak, gaan dit nuwe kriteria verg vir deelname aan kunsmarkte omdat dit op die oomblik galerye is wat uitstal op kunsmarkte.

Ons besef almal aanlyn platforms is die nuwe normaal en Lizamore bestee ook meer tyd aanlyn en op sosiale media.

Hoewel virtuele galerye die nuwe norm gaan word, is dit belangrik dat aanlyn aanbiedings en uitstallings van só ʼn aard moet wees dat dit kopers sal aanmoedig om kuns aan te skaf. Gesprek en die manier waarop kuns aangebied word is belangrik. Daar moet nog heelwat water in die see loop en daar is in dié bedryf ruimte vir ontwikkeling en nuwe maniere om kuns te vertoon.

Ek glo die versamelaar sal kuns steeds kuns bly koop, maar dalk nog kieskeuriger as in die verlede.

Wat is die voordele aan die ‘inhuis’-galery? Wat bedoel jy met dié uitdrukking)?

Ons gaan voort met ons Sondag-openinge en ons vertrou dat die publiek dit steeds sal geniet om kunswerke op uitstalling te sien en ʼn koppie tee in die tuin te geniet. Gedurende die week sal ons van Dinsdag tot Saterdag per afspraak oop wees. ʼn Meer informele atmosfeer word geskep deur die inhuis-galery want nou word kuns besigtig in ʼn omgewing met meubelstukke, en soms saam met ander objekte uitgestal. Die laat die toeskouer toe om te sien hoe ʼn kunswerk in hul huis sal vertoon.

Wat beplan jy vir die res van die jaar?

Ons gaan voort met die beplande maandelikse uitstallings vir die res van die jaar. Op die oomblik word Zolile Phetshane en Anton Burger se werk vertoon, en daarna volg ʼn uitstalling van Jan Tshikuthula en in Julie ʼn uitstalling deur Candice Kramer, een van ons mentorskapkunstenaars. In Augustus bied ons ʼn uitstalling aan van die werk van Johan Stegmann.

Ons het ook kort seminare in samewerking met ArtSource in gedagte oor die nuwe kunsbedryf en wat kunstenaars moet doen om hul loopbane te bevorder.

En hoe loop jou kop vir wanneer die donker wolke van virusse begin wyk?

Ons vertrou dat die bedryf verder sal ontwikkel deur nuwe platforms te gebruik. En die toekoms kan nuwe moontlikhede bied – ook dié wat ons tans nie kan versin nie.

Besoek 3 groot kunsmuseums

Die Louvre

Die Vatikaan

Die Metropolitan, New York

Landscapes of the heart

by Nushin Elahi

Above: The painter Alice Elahi and her daughter, Nushin Elahi.  Path to the Beach, Mowi Bay, 1991, watercolour 47cm X 67cm

Last Sunday was International Women’s Day. It was also my mother Alice Elahi’s birthday. The night before her 94th birthday, she finally slipped the bonds of earth, peacefully, yet suddenly. She was the most incredible woman, a superb artist, a creative and beautiful soul whose passion and fire touched so many lives, a loving mother and a dear, dear friend, whose loss I mourn for myself, but not for her. After so many years of sharing adventures, of listening to the tales when she returned from her trips into the desert, of putting on more than 25 annual exhibitions together, it gives me great joy to know that she has finally embarked on her last adventure into the unknown.

I know that her legacy will be not only in the wonderful works of art that now hang in homes and give constant joy to their owners, but particularly in the way she opened people’s eyes to the beauty of nature. She could find a stark beauty in a landscape that others would simply see as barren and dry, and one of the great pleasures she had was at every annual exhibition, there would be at least a couple of people who would come and tell her how they saw ‘an Alice Elahi’ on their trips. Even today, people will talk about seeing an Alice Elahi in a sunset, or a wide sky, and those who know and love her work will understand. It is truly a great gift she had, the ability to make others see with her own vision. That makes her a great artist.

Alice Elahi painting in the desert.

Kuns argief

  • Nuwe kunsprys bevoordeel gemeenskappe
  • Veiling na aanval op Helena Hugo
  • Private galerye neem oor by sukkelende openbare instellings
  • Suggestie voer die botoon
  • Die spel tussen sin enversinsel
  • Pat Mautloa wen Helgaard-Steyn-prys
  • Santu Mofokeng 1956-2020
  • Finaliste vir die Social Impact-prys
  • Ruimte vir mitiese monsters
  • 5 vrae aan Michele Nigrini
Lees nou