As die eetlus vlamvat!

Kobus Burger besoek:

FireRoom: Sushi and Grill, Winkel no. 64, Montecasino, Fourways, Johannesburg

Lank voordat mense hul stertvere op sosiale media gelek het, het Johannesburg  ʼn kleurvolle sosiale vlinder gehad. Die kok-kunstenaar Braam Kruger was  ʼn opspraakwekkende improvisasie-sjef; lank, lank voordat soveel resepmatige kookprogramme uitgeryg is.

Desjare bevind ons ons buite die Johannesburgse Dieretuin se Olifanthuis met Kruger as gasheer. Die betrokke aand het hy  ʼn sappige (rou) biefstuk met  ʼn blaasvlam bygedam en bedien –  ʼn teatrale dog praktiese toertjie wat die Goudstad se glitterati na hul asems laat snak het.

Die ander middag sit ek en my vriendin Tamara in Montecasino (die dobbelkompleks) se FireRoom en vir  ʼn oomblik sou ek sweer Kruger se jaspante flap hier neffens ons tussendeur die tafels, want in hierdie restaurant vat die geregte vlam. Letterlik.

Ek en Tamara het besluit om die dim sum (Gao, vier stukkies teen R60) met spinasie en roomkaas as voorgereg te deel. Ons is dit eens – die heel, heel beste dim sum wat ons tot nog toe geproe het. Die omhulsel is nie taai en jellierig soos dikwels die geval nie. Dit smelt in die mond. Doeksag.

Vir hoofgereg besluit ons albei op die Bang Bang Chicken (R132) – hoenderrepies met groenboontjies, wortels, brandrissie, sprietuie, geroosterde grondboontjies  en sesamsade. Tamara gaan hare met brandrissie probeer; myne daarsonder. Dit word met gestoomde rys bedien.

By die tafel langsaan word twee borde soesji met  ʼn blaasvlam bygedam en ons doen by ene Kelly navraag. Sy verduidelik dat die blaasvlam die kaas bo-op laat smelt en dat die soesji met hulle “Fantasy Sauce” bedrup is. Ons is nuuskierig! Kelly noem dat daar onder andere kondensmelk in die Fantasy-sous is, maar dit klink hopeloos te soet vir ons.

Maar Kelly skud haar kop en sê ons sal moet proe! Voordat ons ons oë kon uitvee, sit Kelly ʼn volle porsie van die soesjie voor ons neer. Met komplimente van die restaurant.

Die Haloumi Crunch (agt stukkies teen R135) is diepgebraaide en krakerige Kalifornië-rolletjies met haloumi, peppadew, die taaierige Fantasy-sous, blokkies avokadopeer en nog ʼn spesiale sous wat slegs FireRoom skep. Ons vergaap ons aan Kelly se vernuf met die blaasvlam en sien hoe die kaas oor die diepgebraaide Kalifornië-rol smelt. Dit is geensins té soet nie en die krakerige tekstuur van die soesji tesame met die gesmelte kaas is  ʼn belewenis.

Nie lank daarna nie, daag die Bang Bang Chicken op –  ʼn soort soet-suur-hoendergereg. Dit is effe vars en  ʼn teleurstelling ná die vorige smaaksensasie. Ek het myne met  ʼn bietjie sout besprinkel en dit nogtans geniet, al het die soesji nog bly eggo.

FireRoom se wynlys het ons beïndruk. Vir  ʼn glas witwyn sal jy tussen R30 en R90 opdok en vir ʼn bottel CBC Amber Weiss-bier altesame R68.

Kelly het as voorgereg die krokodil-carpaccio aanbeveel, terwyl ons albei oor die Bourbon Smoked Salad ( ʼn tipe nachos met mozzarella) gewonder het. FireRoom bedien ook roerbraaigeregte, oesters, calamari, tuna, biefstuk en “tradisionele” soesji neffens ʼn rits ander “Sushi on Fire”-spesialiteite.

Die diens was nie altyd so flink nie, maar Kelly (wat vermoedelik die vloerbestuurder is) het ons so tuis laat voel én bederf dat sy genoeg rede is ʼn herbesoek. En natuurlik om nog  ʼn paar van die vlambare soesji-geregte te beproef.

Die kelners is ook met tablette toegerus en kan by navraag foto’s van die verskillende disse vertoon.

FireRoom is meer as net ʼn foefie-restaurant. Braam Kruger sou dalk met my saamgestem het!

  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie ete betaal (buiten die komplimentêre Haloumi Crunch) en die restaurant asook sy personeel was onbewus daarvan dat hy die eetplek resenseer.

Burger kry sy burger!

Kobus Burger besoek:

De Vrije Burger, Pleinstraat no. 61, Stellenbosch

De Vrije Burger so skuins oorkant die Stellenbosse Stadsaal laat jonk en oud toustaan.

Op  ʼn drafstap op pad tussen produksies tydens die jaarlikse Woordfees val ek ook by die ry in en bestel Die Kombonasie (sic) –  ʼn biefburger met handgesnyde aartappelskyfies teen R100.

Die biefburger is die basiese opsie (sonder tamatie en slaaiblare), maar darem met kaas en souse. By die betaalslag kan jy kies of die bief pienk of heeltemal gaar moet wees.

Die piepklein wegneemeteplek met sy Delftblou geteëlde mure het toonbanke met kroegstoeltjies buite en binne waar ʼn mens kan sit en eet. ʼn Glas Gabrielskloof Chenin Blanc kos R55 en word in ʼn karaffie bedien.

Binne sewe minute nadat ek bestel het, word die kos voor my neergesit. Die burger is sag, sappig en smelt in die mond. As jy al ʼn renons in droë hamburgers ontwikkel het, gaan hierdie burger jou aangenaam verras. Die kombinasie van souse is verruklik, maar die vleis effe té pienk na my smaak. Die gaarder keuse sal eerder aanbeveel word.

Die skyfies is kraakvars en sonder speserye (die BBQ-sout kos R5), maar sout en tamatiesous word verskaf.

Saam met my betaalstrokie het ek ʼn bewys vir ʼn gratis draairoomys ontvang – poeding op ʼn drafstap. Die roomys is nie die romerige “soft serve” wat jy uit daardie klankryke kombi’s kry nie. Dit het ʼn growwe, yserige tekstuur, maar blyk gewild te wees onder die tientalle studente wat net roomys kom koop het.

De Vrije Burger bedien ook ʼn Uitpakslaai (R35) en uieringe (R30) asook die volle burger teen R85, wat dan die slaai, tamatie, uie, piekels en ʼn dubbelporsie kaas insluit.

Vinnige, flinke en vriendelike diens en een van die heel sappigste burgers wat ek tot nog toe geniet het, maak dat De Vrije Burger my weer sal sien. Net nie weer pienk nie!

  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie eet- en drinkgoed betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die eetplek resenseer.

Boeretroos (en lamspastei)

Kobus Burger eet by:

Beans About Coffee, No. 136 Hoogstraat, Oudtshoorn

Enkele dae voor die 20ste KKNK in Oudtshoorn open Johan Breunissen sy Beans About Coffee in een van Oudtshoorn se geskiedkundige geboue. Hierdie besonderse koffiewinkel is gesetel in ʼn bank wat in 1897 tydens die twee volstruisbloeitydperk gebou is met ʼn plafon soortgelyk aan dié van Lloyd’s in Londen. Die bank se oorspronklike reuse-instapkluis is nou ʼn stoorkamer neffens die bedieningsarea.

Hier drink jy ʼn onvergeetlike Americano teen R18, geniet gratis Wi-Fi en begin jou dag met ʼn rits keuses uit smaaklike varsgebak.

Veral besonders is die banting quiche (teen R33 elk). Daar is een met Bolognese en die gewilder een onder ʼn groepie kollegas was die spek en fetakaas. Geniet sommer albei, plus ʼn koffie teen R84.

ʼn Ander gewilde keuse en persoonlike gunsteling is die croissant met gerookte hoender, slaaiblare en ʼn sous wat op ʼn mens se smaakpapille bly talm. Dan is daar gewone quiche en selfs ʼn lamspastei (ook kerrielampastei) wat natuurlik die keuse vir ontbyt kompliseer.

Die diens is flink, hoewel ʼn mens by die toonbank moet bestel en betaal. Dikwels ontvang jy dadelik jou eetgoed op ʼn houtbord met ʼn afdruk van ʼn tjek wat deur Sagmoedige Neelsie oftewel die skrywer CJ Langenhoven onderteken is.

Die eerste Beans About Coffee is ʼn dekade gelede in Dullstroom (Mpumalanga) geopen en het toe uitgebrei; ook tot in hierdie karaktervolle sandsteengebou met sy houtvloere.

Koffieliefhebbers kan bone of gemaalde koffie koop vir huis toe neem. Daar is ook snoepgoed, soos crunchies (met byvoorbeeld appelkose en amandels) as jy die res van die dag nog wil peusel.

Johan en sy span is passievol en een van Oudtshoorn se vernaamste trekpleisters. ʼn Besoek aan die Klein Karoo is onvoltooid sonder ʼn lang koffiekuier op Beans se stoep wat boonop hondevriendelik is!

  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie eet- en drinkgoed betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die koffiewinkel resenseer.

Kubaanse kos lok jou terug

Kobus Burger besoek:

The Royale, Jan Smutsrylaan no. 357, Craighall Park, Randburg, Johannesburg

ʼn Paar blokke van die Hyde Park-winkelsentrum op die rumoerige Jan Smutsrylaan skuil daar ʼn Kubaanse oase agter ʼn vaal muur. As jy dié spesiale kuier- en eetplek wil vind, moet jy jou dus nie aan die onaptytlike straataansig steur nie.

Die interieur met sy helderpienk neonligte (“It’s Good”), palms en lowerryke mure verras ʼn mens tussen ondernemings wat beddens, boumateriaal en bier verkoop.

Met ons besoek moes ons buite in die beknopte stegie gaan sit – die binnedeel was glo volbespreek en ons het nie vooraf bespreek nie. Naweke en veral met middagete bars The Royale glo uit sy nate. En laataand verander dit in ʼn polsende partytjieplek waar die rum nie ophou vloei nie.

Die spyskaart spog met Kubaanse hoofgeregte en knibbelkos – wat Guava BBQ Ribs, ʼn hamburger, mossels in witwyn en knoffel, Noorweegse salm en tradisionele Kubaanse biefrepies in ʼn tamatiesous  insluit.

Ons het besluit op ʼn aptytwekker en van die kroeg se knibbelkos bestel – kroketjies met ham en kaas (R40). Dit was ʼn gawe porsie, maar Tamara was spyt sy het nie haar vergrootglas ingepak nie. Ons kon omtrent nie die ham proe nie en het aanhou soek vir iets pienks!

My hoofgereg was die Bistec de Palomilla (R115) – 300g rump-biefstuk wat in lemmetjiesap en knoffel gaargemaak is met gemarineerde uie en vars koljanderblare bo-op. As bykos het ek die verpletterde baba-aartappels (R40) op aandrang van die kelnerin bestel.

Die biefstuk was smelt-in-die-mond-perfek en volgens my versoek voorberei. Die knoffel en lemmetjiesap is ʼn uitstekende kombinasie. Die sogenaamde “smashed”-konsep vir die aartappels was nog ʼn verrassing.

Tamara het die ribbetjies in koejawel met skyfies en uieringe (R145) bestel, letterlik haar vingers afgelek en moes die helfte huis toe vat. (Let wel: daar is ʼn halwe porsie teen R100 beskikbaar.)

Ons het besluit om terug te keer vir die nagereg, wat onder andere piesangbrood en ʼn amandelwafel met rum en karamel insluit.

Toe ons sowat twee ure later die restaurant verlaat, was die meeste van die “bespreekte” tafels binne sonder enige gaste. Dit het ons laat kopkrap oor die rede(s) waarom ons in die stegie tussen die rokers moes sit.

Waar The Royale se diens en gasvryheid nie die “It’s Good”-belofte volbring nie, is die Kubaanse geregte ʼn herbesoek werd. Laat jou GPS jou gerus na hierdie weggesteekte juweel in die besige betonoerwoud lei.

  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie eet- en drinkgoed betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die eetplek resenseer.

Mmm-mariachi in die mond!

Schalk Schoombie eet by:

Calexico Vinyl Lounge and Restaurant, 44 Stanley Ave, Milpark, Johannesburg

Skielik is Mexikaanse cuisine (as mens dit so verhewe kan bestempel) orals en plaaslike lekkerbekke kan nie genoeg kry nie. Vir ʼn vriend se verjaardag vergader ons by Calexico, ʼn eetplek met die ontpanne ambience van ʼn moderne kaktuskroeg: ʼn onderdakstoep, kleurryke muurskilderye van Mexikaanse skedels, ʼn ry vinkgeel kroegstoeltjies by die toonbank, twee gesellige sitkamers en mure vol langspeelplate van klassieke en alternatiewe rockgroepe.

Die kuierplek is genoem na die eienaars se geliefde rockgroep en  ʼn Amerikaanse dorpie neffens die Mexikaanse grens. Wanneer ons die spyskaart bestudeer, onthou ons dat die vriend nie versot  op rissies is nie. As toets bestel ons tortillaskyfies met ʼn warm artisjok- en japaleño-doopsous – die soort welkomhappie wat jou tong aangenaam laat tintel sonder om dit te martel. Vriend en sy meisie proe eers baie versigtig, en eet dan lustig saam terwyl die Mexikaanse bier vloei.

Die Mexicali-spyskaart laat – nes die speserye – die mond water. Hulle bestel die dubbele bourbon-kaasburger met twee bieffrikadelle en ʼn dubbelporsie gesmelte mozzarella, tamatie en rooi uie, gebalanseer met ʼn vars groen slaai van gesnipperde appel, seldery, kool en vinkel. Ek bestel Mexikaanse viskoekies wat arriveer met ʼn mieliebroodjie stomend uit die oond, aangevul met tamatiesalsa, ʼn drieboonslaai en romerige avokado.

Vleiseters kan weglê aan geroosterde varkribbetjie, chipotle-styl braaihoender of chimichurri-droogverouderde biefstuk. Vir vegetariërs is daar ʼn geroosterde sampioensosatie en “corn-on-the-cob” bedruip met lemmetjie- en japaleñosous. Vir nagereg bestel ons ʼn ryk, donker sjokoladebrownie en belowe mekaar plegtig om spesiaal hiervoor terug te kom – en sommer gou!

Die porsies is gul, die geregte maak mond én hart warm (sonder dat jy jou bek verbrand!), en pryse is redelik. As jy ʼn hond uit ʼn bos wil kuier en hou van indie-musiek in ʼn retro-Amerikaanse omgewing, kan jy nie ʼn fout maak nie.

Pienk plesier van Frankryk tot Marokko

 Kobus Burger eet by:

KCC – La Vie en Rose, Vyfde Straat no. 60, Houghton Estate, Johannesburg

Hoe het die “mossie van Parys” Édith Piaf, bekend om die treffer La vie en rose, tussen rolbal, ʼn gimnasium en pluimbalbane beland? Dié onopgeloste raaisel tref ons op ʼn snerpende Hoëveldse wintersdag toe ons die Killarney-buiteklub binnery op soek na die KCC – La Vie en Rose.

Nie ver van hier nie, is die Gupta-woning, beduie iemand. Maar ons is op soek na die gewilde tuinrestaurant.

Dan doem ʼn volgepakte eetplek in skelpienk servette en kolle getooi, voor ons op. Dis ʼn geroesemoes met verskeie lang tafels wat onder andere ʼn sestigste verjaardagviering asook ʼn ooievaarstee huisves.

ʼn Swerm kelners sak op ons toe en gou besef ons dat die diens hier niks minder as uitstaande gaan wees nie. Daar is geen Franse flair in sig nie en die agtergrondmusiek is afwesig. Moet dus nie chansons verwag nie!

Die kelnerin versoek dat ons bestel voordat die langtafels hul bestellings plaas, anders gaan ons lank wag.

Terwyl ons aan ʼn Mai Tai-mengeldrankie (R57) en Roseberry Mojito (R57) teug, besluit ek en Tamara op die Moroccan Rose en Madiba Burger onderskeidelik. Tamara het dadelik bely dat sy Mandeladag gaan vier met “ikoniese” cheddar- en Jalapeño-gestopte biefburger (R142) wat met ʼn Jalapeño-popper en soetpatatskyfies bedien word.

Ek sou later eers hoor dat Romy Muller, die gasvrou en sjef, van Marokkaanse afkoms is. Die Moroccan Rose (R194) is dus ʼn bieffilet met Marokkaanse speserye wat bo-op ʼn babaspinasieslaai met dadels en amandels bedien word. As afronding is daar soetpatatkoekies as bykos.

Die kelnerin verras ons met gratis warm tamatie-en-basiliekruid-sop wat in glase met varsgebakte brood en botter voorgesit word, met die komplimente van die restaurant.

My bieffilet was veerlig, sag, sappig en perfek voorberei, soos versoek. Van die Marokkaanse speserye het ek nie veel geproe nie, maar die slaai daarby het dit onvergeetlik gemaak. Die patatkoekies was té melerig en amper smaakloos.

Omdat Tamara van iets met ʼn byt hou, het haar burger ook haar goedkeuring weggedra.

ʼn Glas merlot-rooiwyn het R42 gekos en het my bieffilet goed aangevul.

Vir nagereg het ons die Careless Love (R65) gedeel, aldus die kelnerin ʼn nagereg wat jou “lewe sal verander”. Toblerone-sjokolade is in filodeeg toegevou met ʼn aarbei-coulis daarby. Hemels, al het die coulis ʼn skerp, amper sintetiese nasmaak gehad.

La Vie en Rose is ʼn herbesoek werd, veral om in die lente of somer onder die bome in die tuin aan nog van die mengeldrankies te teug en van die eksotiese slaaie of selfs die Noorweegse salm te proe. In die winter sluit hulle wel vroeër en is gewild vir ontbyt, so bespreek liefs ʼn tafel om teleurstelling te voorkom.

Bring ‘n skerp mes!

Kobus Burger eet by: 

Tumulus-restaurant, Eerste vloer, Maropeng-besoekersentrum, R400 op pad na Magaliesburg, Hekpoort

Daar was ʼn stadium wat die voorsny-ete (die Ingelsman se “buffet”) by die destydse Gramadoelas-restaurant in die Markteaterkompleks die Goudstad se Tafelberg-van-eet was. Soos ʼn kabelbar moes ʼn mens jou self die gastronomiese reis regdeur die langtafel gun.

Sedertdien was daar nie ‘n voorsny-ete of eg Suid-Afrikaanse/Afrikaanse restaurant in Johannesburg wat feesmaal met ʼn hoofletter kon spel nie.

Anderdag, met besoekers uit Brittanje, en met ʼn gesonde skeut Gramadoelas-heimwee sit ons aan in Maropeng se spogrestaurant. (Neffens die kaartjieskantoor is ook ʼn eetplek met ligte etes soos hamburgers.)

Tumulus se voorsny-ete begin met slaaie soos aartappel-, kool- en wortelslaai asook broodrolletjies en botter. Die aartappels in my slaaiporsie was kliphard en het op my bord agtergebly.

Ons het ʼn bottel Hill & Dale Pinotage (R131) gedeel en toe nader gestaan vir die hoofgereg. Daar was braaihoender en beesvleis tesame met geroosterde groente, ʼn vleis- en sampioensous. Die bykosse het ingesluit ʼn macaroni-en-kaasgereg, geelrys, pampoen en spinasie.

Van die biefporsies aan ons tafel was taai en ons moes die kelner roep vir ʼn skerp mes.

Die nageregte het die grootste verskeidenheid gebied. Van malvapoeding met vla, koeksisters, melktert, wortelkoek, ʼn vanielje-plaatkoek, ʼn yskas-kaaskoek asook karamel- en sjokolademoes.

Alhoewel die yskas-kaaskoek té jellierig was, het hierdie deel van die maal vir die ander teleurstellings vergoed.

Die diens was wisselvallig en met elke gang is die vuil borde nie dadelik van die tafel verwyder nie.

Teen R195 per volwassene vir die volle voorsny-ete en drinkgoed uitgesluit, kan ʼn mens verstaan waarom daar slegs enkele tafels met mense was.

Maropeng-besoekers kan die Tumulus se “buffet” gerus misloop, maar maak wel ʼn draai by die “Long March to Freedom”-tentoonstelling bestaande uit Suid-Afrikaanse vryheidsvegters. Die beeldhouwerke is neffens die parkeergebied en gratis.

Nou wonder ek net: is daar regtig niemand wat Gramadoelas kan laat herleef nie?

Bobaaskos – ʼn feit soos ʼn koei

Kobus Burger eet by:

Cowfish, Rand Steam-winkelsentrum, h/v Barry Hertzogrylaan en Napierstraat, Auckland Park, Johannesburg

Een van die vernaamste uiteet-irritasties is ʼn kelner wat nie met die spyskaart vertroud is nie. Ja, as aansitter moet jy self besluit, maar ʼn rigtingwyser deur die moeras van keuses is iets wat enige smulpaap hoog op prys stel.

Kelners wat nie vrae oor die disse kan beantwoord nie, is deels voor die deur van die restauranteienaar te lê. As dit nie ʼn gebrek aan opleiding is nie, is dit bloot ʼn bestuurspan wat nie toelaat dat kelners self deur die spyskaart kan eet nie.

Cowfish is deesdae ʼn gewilde kettinggroep van eetplekke wat – soos die naam aandui – hoofsaaklik op vis en vleis geskoei is. ʼn Mens kan dus kies tussen soesji of ʼn biefstuk met ʼn aanloklike paar variasies tussenin. Vir diegene wat die middellyf dophou, is daar ʼn paar poke bowls (teen R140) wat as heel gesonde keuses sou kon deurgaan.

Met ons besoek aan Cowfish in Rand Steam se binnehof met restaurante was dit die kelnerin Thembi se kennis van én passie vir die disse wat bygebly het. Sy kon ons darem wyer laat kyk as net die vis-of-vleis-mantra wat seker hier die standaard koekiedrukker-diens geword het.

As voorgeregte het ons die Halloumi Veg Spring Roll (R55) en Chicken, Cheese & BBQ Spring Roll (R55) gekies. Die rolletjies is in die helfte gesny met ʼn unieke kombinasie van doopsouse wat tesame met die bros filodeeg waarin dit gerol is, hierdie gewilde dis in ʼn heel ander klas geplaas het.

Vir hoofgereg het Tamara op die Calamari (R140) met lemoenbotter en ʼn keuse van rys of skyfies besluit. Ek wou die Rump Steak met ʼn Asiatiese BBQ-sous (300 g teen R155) proe. Hier kan ʼn mens kies uit ʼn rits bykosse – van aartappel- en soetpatatskyfies tot gebraaide rys, uieringe, of ‘n groenslaai.

ʼn Glas rooiwyn kos hier in die omgewing van R55 tot R62, terwyl Stella Artois of Devil’s Peak Lager teen R48 vir 500 ml bedien word.

Die calamari en bottersous was perfek in Tamara se kraal en my biefstuk is medium voorgesit, soos versoek, met so ʼn aks na die pienk kant toe. Smelt-in-die-mond was my bevinding en die soetpatatskyfies krakerig-perfek.

Hier was Thembi veral besorg of ek my kos geniet, maar by navraag het sy aan Tamara bevestig dat sy gesigte kan lees en verseker was dat haar dis haar goedkeuring wegdra. Thembi het haar fooitjie deur en deur verdien. En met ʼn herbesoek sal ek beslis vir haar vra.

Moenie ʼn koei met vinne verwag nie, maar besoek Cowfish vir liplekker-geregte en keurige diens wat bo middelmoot-verwagtings sal uittroon.

Dis nou ʼn wen-wen situasie!

 Kobus Burger eet by:

Winner Winner, Vierde Laan no. 65, Melville, Johannesburg

Die koerantplakkate basuin dit in hoofletters uit – die middelklas struikel onder die skuld …

En die nuus eggo in die leë restaurante waar die kelners nou toustaan en wag vir mense om aan te sit. So het die Mexikaanse eetplek Perron onlangs sy deure gesluit, maar dieselfde eienaars het aangebly en ʼn nuwe konsep bekend gestel.

Winner Winner is geskoei op die liedjie Winner Winner, Chicken Dinner met ʼn innoverende sakpas-spyskaart wat van student en toeriste tot die middelklas-gesin sal lok.

Die restaurant is in rooi getooi en het ʼn koel, dog vurige atmosfeer met wit mure en knus sitplekke vir groter groepe.

Die burgers se pryse wissel van R45 tot R60 (die skyfies of ander bykosse uitgesluit), terwyl die vlamgebraaide hoender jou R60 of R95 kos vir ʼn kwart of halwe porsie onderskeidelik en ook sonder bykos.

Die spyskaart pas omtrent op ʼn halwe blad, maar geen hoofgereg kos meer as R100 nie en die bykosse so in die omgewing van R25 en R35.

Dit was ʼn somerse lentedag in die Goudstad en ek het die Hoegaarden (beer on tap) teen R59 vir ʼn halwe liter bestel. Die skemerkelkies is hier om en by R70 met ʼn aanloklike keuse waarvan sommige ʼn sorbet is. Perfek vir die snikhete dae wat voorlê.

My hoofgereg was die Buttermilk Chicken Poutine (wat bestaan uit southern fried chicken bites met handgesnyde skyfies en feta).  Teen R75 per porsie het dit diepgebraaide hoendervelletjies ingesluit wat in ʼn bittersoet sousie gedoop kan word. Die hoender was droog en die sous té suur.

Tamara het die vlamgebraaide hoender met ʼn slaai (R35 vir die klein groenslaai maar nogtans ʼn goeie porsie) bestel en teen die einde van die aand gesweer dat sy nou van Nando’s genees is … Ek moes proe en wou my Poutine-dis opsy skuif. As dit nie vir die krakerige hoender was nie, was dié bra gemiddeld.

Die Princess Lay-A hamburger word glo aanbeveel vir diegene wat graag soesji geniet en dit is op my lysie vir ʼn volgende besoek. Die gemmer saam met die hoender en koolslaai is volgens die kelnerin iets om te ervaar.

Vir nagereg is daar kaaskoek met kersies, ʼn sjokoladekoek met Snickers en grondboontjiebotter en sjokoladebruintjies (chocolater brownies) wat met dagga-olie (CBD) gebak word.

Wat bekostigbaarheid betref, is hierdie nuwe eetplek ʼn wenner. Voeg daarby die flink diens en ʼn skemerkelkie-aanbod van halfprys weeksdae vanaf 16:30 en daar het jy ʼn rede om die vlamgebraaide hoender sonder skroom te gaan proe. Dalk het Tamara vandeesweek die Lotto gewen?

Dasse aan die dak en outentieke disse

Kobus Burger eet by:

Parreirinha, Sesde Straat no. 9, La Rochelle, Johannesburg

“Se bebes para esquecer paga antes de beber,” waarsku ʼn bordjie by die ingang van een van die Goudstad se mees outentieke restaurante. In Afrikaans sou dit beteken – “as jy drink om te vergeet, betaal voordat jy begin drink”.

Alles omtrent Parreirinha (“little grapvine”) is eklekties en outentiek. Van die dasse wat soos digte gordyne van die dakbalke hang, tot en met die seekos wat vars op ʼn silwer skinkbord na die tafel gebring word sodat ʼn mens kan kies voordat die sjef begin kook!

In Julie 1975 het twee broers dié Portugese restaurant begin en dekades later is dit steeds ʼn gewilde kroeg en eetplek wat in hierdie voormalige polisiekantoor (uit die jare 50) bedryf word.

Ons was ʼn groot groep, wat buitelandse besoekers ingesluit het, wat uit die staanspoor deur die flinke en uitmuntende diens verras is. Boonop was ons tafel neffens die wynkamer met sy glasmuur en kon ons sommer met die wys van ʼn vinger drinkgoed bestel.

My Avo Ritz (SQ) was smaaklik voorberei, maar die avokadopeer nog nie heeltemal ryp nie. Die gas oorkant my het die Giblets (groot porsie teen R75) bestel, maar het dit teruggestuur. Die kelner was darem bereid om dit met iets anders op die spyskaart te vervang.

Die Rissois de Camarao (garnaalkoekies teen R15 elk) was ʼn treffer en het ʼn hele paar breë glimlagte aan ons tafel ontlok.

My hoofgereg was die Steak Trinchado Cassarola met skyfies bo-op (R129) wat met die verruklikste knoffelsous bedien word. Die biefstuk was só taai dat selfs ʼn skerp mes nie die dis koubaar kon maak nie.

Die kelner het dadelik aangebied om dit met iets anders te vervang. Binne enkele minute was hy terug met die Madagaskar-biefstuk (R159), filet in ʼn groenpeperkorrelsous, wat nie eens ʼn mes se hulp vereis het nie. Doeksag, romerig met die byt van die peperkorrels wat minute later nog op die tong kotteljons.

Vir die visliefhebbers is daar van kreef en sardyne tot calamari op die spyskaart. En om alles te kroon, seekos-sosaties (maar vra die kelner wat hulle alles op die stokkie gaan ryg).

Die groep was dit eens dat die oorrompelende diens hierdie eetplek in ʼn ander liga plaas. En elkeen het minstens een (of twee) disse wat hulle met ʼn herbesoek wil beproef.

Al is daar ʼn veiligheidswag by die ingang, is dit nie ʼn slegte idee om van Uber of die een of ander taxi-diens gebruik te maak nie.

Die klein prieel is steeds in die binnehof en vra gerus die rede waarom soveel van die manlike besoekers met ʼn das op die arm daar opdaag…

Ontmoet soetlief Ophelia

 Kobus Burger eet by:

Ophelia Café, Gebou 2A, Vyfde Laan, Emmarentia, Johannesburg

“Ophelia was a rebel girl, a bluestocking suffragette who remedied society between her cigarettes. And Ophelia was the sweetheart to the nation overnight. Curvaceous thighs, vivacious eyes, love was at first sight…”

Dit is dié lirieke van die titelsnit van Amerikaanse sangeres Natalie Merchant se baanbrekeralbum Ophelia wat deur my kop maal toe ek aan ʼn Americano (R25) sit en teug in die koffiewinkel met dieselfde naam. Minute later bely ek teenoor die eienaars – Christoff en Amoré Swanepoel – dat ek nie dadelik aan Shakespeare of Hamlet dink wanneer ek Ophelia se naam hoor nie. En daar vertel hulle my toe glimlaggend dat die plek na einste Merchant-album vernoem is.

Ophelia lyk dalk van buite soos een van die nabygeleë Lindense dekorwinkels, maar die gasvryheid en uitstaande diens laat jou binne minute voel jy kan sommer vir die res van die dag hier sit en op die rusbanke met rakkies vol glanstydskrifte kuier. Met die aansit word ʼn glas en ʼn ornate, amper antieke glasbottel met water voor jou neergesit. En jy kan oombliklik van die gratis wi-fi gebruik maak.

Vir ontbyt beveel Christoff sy persoonlike gunsteling aan – 100%-rogbrood met avokadopeer en repies rooi-uie bo-op (R55). Die rooi-uie word apart bedien, want dit val glo nie in elkeen se smaak nie. Sprinkel dus na goeddunke oor.

Die porsie bestaan uit net een sny, en ek was steeds honger. Op die kelnerin se aanbeveling bestel ek toe die geroosterde ciabatta met ham en emmenthalkaas (R45). ʼn Groter en smaaklike ontbyt wat sterk aanbeveel word.

Vir diegene met ʼn soet(er) tand is daar geroosterde piesangbrood (R35) wat met botter bedruip word. Die botter het van die brood geloop, en die porsie bestaan uit twee snye. Die piesangbrood is dalk nie so soet soos ouma s’n nie en dit proe of die bakker (nie self deur Ophelia gebak nie) effe suinig was met sy piesang.

Soja- en amandelmelk is as ekstras beskikbaar, tesame met skinkroom en gegeurde koffies. Daar is ook gegeurde ystee (R40) waarvan die perskegeur ʼn gunsteling is.

Ophelia is in dieselfde blok as die Craft Beer Library (CBL) en reg oorkant die Botaniese Tuin in Emmarentia, vandaar die waterbakkies vir die honde. Na ʼn stap- of draftog deur die tuine is hierdie ʼn gewisse oase vir lafenis.

Met die uitstap kon ek my verbeel dat soetlief Ophelia in die hoekie sit met ʼn notaboek en vulpen terwyl sy op ‘n espresso wag…

  • Besoek Ophelia se webblad by https://www.opheliacafe.com of vind hulle op Facebook en Instagram.
  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie eet- en drinkgoed betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die eetplek resenseer.

Toskaanse feesmaal

Kobus Burger eet by:

Almost Orange (Gin & Wine Lounge), Altyd Mooi (plaas), R513, Hartbeespoort

Op ʼn loom herfsdag is ek en Tamara die gaste van ʼn groep vriende wat ʼn busrit na Hartbeespoortdam onderneem. Nie ver van die bekende vierrigtingstop op pad na Sun City in die Noordwes nie, draai ons by Altyd Mooi af en parkeer tussen die sitrusboorde.

In wat voorheen die plaas se waenhuis was, vergaap ons ons aan ʼn muur wat aan jenewersoorte van regoor die wêreld gewy is. Minute later, by ʼn langtafel wat op die boorde uitkyk, verbeel ek my ek is reg in die middel van die Toskane of daardie gewilde romantiese komedie, Under the Tuscan Sun.

Ons deel ʼn Panzella oftewel Italiaanse broodslaai (R80) en spring weg met Grão Vasco, ʼn vrugtige en ligte rooi wyn uit Portugal. Effe duur, teen R178 per bottel.

Almost Orange spesialiseer in uitpakborde met vingerhappies wat twee mense kan deel. Vir ʼn meer uitgebreide spyskaart en fynproewersete kan ʼn mens by Silver Orange Bistro langsaan in die oorspronklike plaasopstal gaan aansit.

Ons het op die Almost Orange Platter besluit (teen R285 vir twee mense) met onder meer samoesas met eend en vy, bieffilet-sosaties, dolmades, tsatsiki, tempura zucchini en kerriegegeurde kekerertjie-balletjies.

Die eend was bietjie taai en die smaak van die vye nie opmerklik nie. Dit was die enigste teleurstelling, maar die doeksagte bief het darem daarvoor vergoed. Die bord was meer as genoeg vir twee mense.

Naas die uitpakborde is daar ook oesters (R18 elk), sout-en-peper-calamari (R95), ʼn tert met biltong en botterskorsie (R75), slaaie en nageregte.

Vegetariërs kan die Mediterreense platter teen R205 bestel, hoewel ons vriende die vleisbord (R295) met onder meer ham, bief, salami en gerookte hoender as hul gunsteling uitgesonder het.

Nagereg was Black Rose Pomegranate jenewer (R33 per sopie) met suikervrye tonikum.

Daar is ook sangria (wit én rooi) teen R125 per beker en talle Suid-Afrikaanse wyne teen billike pryse.

Almost Orange is slegs op Saterdae en Sondae van 11:00 tot 16:30 oop en niemand jonger as 18 jaar word toegelaat nie. Gesinne kan wel by Silver Orange Bistro eet.

Die lui agtermiddag het tot verby sluitingstyd gestrek en ons het deur die boorde tot by Silver Orange gestap en die res van die aand op die stoep na die res van die familiegeskiedenis geluister. Al het Silver Orange eers in 2004 geopen, is die plaas al sedert 1978 in die Nel-familie se besit, met Leon Nel as sjef vir beide restaurante.

As jy moeg word vir die lewe in die stad, of op pad na Sun City vir ʼn paar ure in ʼn boord wil gaan sit en droom, weet jy nou waar om af te draai. Altyd Mooi.

Omarm jou waaghalsigheid

 Kobus Burger eet by:

Lotus Chinese Restaurant, Jan Smutsrylaan no. 160, Rosebank, Johannesburg

Om die k-woord in ʼn skrywe oor restaurante teë te kom, is deesdae raar. En ʼn mens sou meen dat meer smulpape sensitief sou wees daarvoor.

Ter viering van twee onlangse verjaardae, besluit ek, Tamara en twee vriende om weer Lotus se gewilde Sondagbuffet te gaan beproef; gewapen met ʼn spesiale bottel wyn. Daar moet ons hoor dat die kurkfooi nou R120 per bottel is. ʼn Jaar gelede was dit R70. Volgens die kelner vra die meeste restaurante in Rosebank nou ʼn kurkfooi van R150 per bottel!

Ons bottel bly onoopgemaak en ek besluit op die Louiesenhof Premier Collection Limited Release 2006 (R100) wat Lotus naas ʼn bottel Tall Horse op hul toonbank beskikbaar het. (‘n Paar ure later sou ons verneem van die skokmoord op Louiesenhof se eienaar.)

Lotus se buffet is ʼn poespas van kleure en geure, maar die afskop is by die soesji-tafel. Die keuse is beperk en die rys net té droog. Met die salmon roses, byvoorbeeld, was die sjef suinig met die salm en besonder klein in vergelyking met ander restaurante s’n. Nietemin ʼn goeie aptytwekker.

Elders is daar vegetariese spring rolls met souse, slaaie soos komkommer en ʼn seegrasslaai wat met knoffel voorberei is, asook gestoomde Chinese rolletjies (steamed buns).

Vir hoofgereg is daar twee ellelange tafels met geregte, hopeloos te veel om van te kies. Tamara was gek oor die Chinese wors, maar het ons aanbeveel om weg te bly van die biefbredie.

Ek het my vergryp aan die krakerige sesamehoenderrepies en daarna die soetsuurhoendergereg. Die sjef het ʼn liefde vir asyn wat die soetsuursous ʼn skerp smaak gegee het.

Die geel hoenderkerrie met pynappel en groenrissies saam met die eiergebraaide rys was ʼn hoogtepunt.

Van die ander geregte sluit in diepgebraaide hoendervlerkies, vegetariese chop suey, ʼn gebraaide, souterige raapkoek (in skywe gesny) en won ton pork dumpling.

Die nageregte wissel van babatamaties tot lemoen-, appel en pynappelskywe asook soetpatatballetjies gevul met rooiboontjiepasta. Taroskywe – Taro is ʼn tropiese knolplant – wat in sesamsade gebraai is, was nog ʼn verrassende lekkerny. (Taro is giftig as dit rou geëet word.)

Die buffet kos R169 per persoon – bykans R50 meer as wat ons ʼn jaar gelede betaal het. Dit is steeds ʼn winskopie as ʼn mens die verskeidenheid in ag neem.

Omarm jou waaghalsigheid, vermy die kurkfooi en koop drinkgoed daar, daag vroeg op en spandeer minstens twee ure tussen die tafels wat letterlik kreun van die Chinese spesialiteitsgeregte.

  • Kobus Burger het ten volle vir hierdie eet- en drinkgoed betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die eetplek resenseer.

Spookasem, jenewer, eend & Kuifie

Kobus Burger eet by:

Hoi Polloi, No. 73 Breëstraat, Parys, Vrystaat

Moenie dat die naam jou mislei nie. Hier kan die “massas” (Grieks, hoi polloi) aansit vir uithalergeregte wat onder silwer koepels deur kelners met spierwit handskoene bedien word.

Die interieur is eklekties met ʼn Kuifie-beeldjie of speelgoedleeu wat neffens die sout- en peperpot na jou staar.

As ʼn mens die steil trappe na die boonste verdieping – onder is ʼn Hoi Polloi-kafee met ʼn “ligter” spyskaart – kon uitklouter, moet jy ʼn Bloedlemoen Gin & Tonic On Tap (R40) bestel wat met ʼn kleurvolle wolk spookasem bo-op bedien word. Hap in die soetwolkie en teug dan aan die bitter jenewer en mymer dan oor die betekenis van hemels.

As jy nie weet waar om te begin nie, is die eendgeregte ʼn goeie afskop. Beide die Aromatic Confit of Duck Spring Rolls met ʼn sous van soja, heuning en gemmer (R89) en Summery Asian Crispy Duck Salad (R110) is staatmakers met smake wat vir lank op die tong gaan talm.

Wat hoofgeregte betref, is die pasteie, gewoonlik sonder ʼn kors daarop, die lamskerrie en die hamburgers uitstekende keuses. Maak net seker die eendslaai het jou nie reeds versadig nie!

Ek het hierdie keer op die hoenderburger met gemmer, knoffel en peppadew (R115) besluit en Tamara het die bieffilet (met ʼn murgbeen) teen R192 bestel. My burger het min van die beloofde karameluie gehad en net te veel mayonnaise. Tamara het haar filet blinkmond verorber.

Gewoonlik ontvang gaste vuurwarm, tuisgebakte broodrolletjies en botter as ʼn komplimentêre voorgereg, maar ons het skielik net ons hoofgeregte gekry. Die kelners bring ook altyd wit, warm waslappies voor die hoofgereg – sou ʼn mens ʼn murgbeen wil vasvat – maar dit was ons ook nie beskore nie.

By navraag het die kelner gesê daar was nie genoeg vir almal nie, al het die tafel langsaan die spesiale behandeling gekry. Die silwer koepels en wit handskoene was ook afwesig. Verwag dus wisselvallige diens.

Hoi Polloi het ʼn indrukwekkende wynlys, peperduur vonkelwyn en selfs ʼn ellelange lys van plaaslike en ingevoerde bier. Die Bloedlemoen-jenewer is egter iets om te ervaar. Tamara het ook die Strawberry Swirl-skemerkelkie bestel, maar dié was te soet na haar smaak.

As die massas nie die dag opdaag nie en die kelners en hul diens is op koers, gaan jy in Hoi Polloi op die hande gedra word. En glo my, van die voortreflikste eendgeregte tot nog toe nuttig.

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal.

Skop jou dag af in Langstraat

Kobus Burger eet by:

Lola’s, Langstraat no. 228, hoek van Buitenstraat, Kaapstad

Die lang, maer blonde man – nie Carike Keuzenkamp s’n nie – stryk rustig met sy branderplank onder die arm op pad see toe. Op die volgende straathoek pik die seemeeue rondom ʼn hopie vullissakke.

Dit is Langstraat vroegoggend op ʼn Sondag. En al pronk dié straat met Clarke’s Bookshop, die baddens aan die bopunt, die legendardiese SGT. Peppers wat nou ʼn kuierplek is en talle boetiekwinkels, lol dit om ʼnontbytplek te vind wat hierdie tyd al oop is.

Dan duik Lola’s op – ʼn bistro op die hoek van Buitenstraat wat jy op ʼn drafstap sal miskyk. Dit is die Emerson-aanhaling op die muur en later die goedvoelklankbaan met Sonny & Cher se I Got You BabeSweet Caroline en Mrs Robinson wat my dadelik laat tuis voel. En die opgewekte gasvrou wat wil weet of sy solank ʼn glas water tafel toe kan bring. Dalk is sy psigies en het besef ek het sopas die helfte van die stad platgeloop op soek na ontbyt?

Die wit tafeltjies en plastiekstoele is ingeleef met skrape en reeds van hul glans gestroop. Op die oog af mag dit dalk vuil lyk vir diegene wat die glansryke uithangplekke jag. Maar dis outentieke Lola’s, want hier groet almal mekaar op die voornaam. Duidelik ʼn gewilde afskop vir diegene wat ook vroeg-vroeg kom aansit.

Die Americano (R23) is supersterk, soos ek dit verkies. Ek bestel die Eggs Benedict met spek en spinasie op ciabatta (R96).

Die eiers is perfek voorberei, soos ek versoek het, en die sous verruklik en romerig. Dikwels skrik die sous met sy oormaat asyn ʼn mens af. Tog het Lola’s hul Benedict-ontbyt vervolmaak. Op die koop toe is dit pragtig bedien, op ʼn kleurvolle bord en vuurwarm! Omdat ek in twee geskeur was tussen die Franse roosterbrood en Eggs Benedict, sal ek vir eersgenoemde móét terugkeer.

ʼn Google-soektog neem my na TripAdvisor wat verklaar dat Lola’s sedert 2015 jaarliks ʼn “Certificate of Excellence” ontvang het. Dié uitnemendheid het ek eerstehands ervaar.

Langstraat is ʼn loopstraat propvol klein juwele, soos die klerewinkel Unseen, van die heel beste Indiese dosa en arkades wat wissel van Afrika- tot antiekware. Parkeer ver en loop tydsaam tot by Lola’s vir ʼn heilsame, huislike ontbyt of middagete.

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die restaurant resenseer.

Melville kry sy eie Whippet

Kobus Burger eet by:

The Whippet in Melville – Harvest Store, h/v Sewende Straat en Vierde Laan, Melville, Johannesburg

The Whippet in die Johannesburgse voorstad Linden is ná ses jaar en verskeie gedaanteverwisselings een van die moet-beleef-koffiewinkels in die Goudstad. Verlede maand het hy sy vlerke gesprei na ʼn ruimte sowat drie keer die grootte van die Lindense moederonderneming.

As deel van sy pogings om sy koolstofvoetspoor te verminder, bedryf die “boer” Zakir Kathrada ʼn daktuin vir The Whippet wat dié restaurant van vars groente en kruie voorsien. Vandaar die houttafel met koolkoppe en ander vrugte en groente wat ʼn mens met die intrapslag begroet.

Die oorspronklike Whippet wou iets van Linden en sy geskiedenis bewaar én deel – ʼn  idee wat die interieurontwerpers Kassa House nou ook met die Melville-restaurant gedoen het. Daar is byvoorbeeld ʼn glasmuur met plante wat uit die nabygeleë Melville-koppies geneem is.

Met my en Tamara se besoek het die Harvest Store uit sy nate gebars, maar ons hoef nie te lank vir ʼn tafel gewag het nie. Daar is selfs ʼn klein sitkamer-area met ʼn rusbank en stoele asook werkstasies vir diegene wat vinnig ʼn skootrekenaar moet inprop.

Die Teriyaki Chicken Bowl (R108) het my mond laat water, terwyl Tamara sonder wik en weeg die Baby Gem Lettuce Salad (R118) en ʼn porsie Zucchini Fries (R35) bestel het.

My Japannese dis was ʼn gemarineerde hoenderborsie neffens kokosneutrys, lang slierte sesamsaad-gemarineerde komkommer, avokadopeer en portabellini-sampioene. Die hoender was sappig met ʼn sluimerende gemmergeur wat deur die bykosse gebreek het.

Tamara se slaai is met krakerige hoenderkrokette bedien, asook parmesaankaas en ʼn romerige Caesar-slaaisous. Wel ʼn klein porsie en ligte middagete, maar die Zucchini-skyfies het dit goed aangevul. Na ʼn happie van die krokette het ek beloof dat ek aanstaande keer dié slaai gaan bestel.

Die diens was flink en verskeie van die kelners en vloerpersoneel het kom seker maak dat als in orde is.

ʼn Glas wyn kos enigiets tussen R40 en R65, terwyl Devils Peak se biere sowat R32 elk kos. Of R48 vir die karamel-en-springmielie-warmsjokolade.

Naby die koffiekroeg is ʼn langtafel met varsgebak (koeke en handtertjies), asook ʼn paar rakke met van The Whippet se eie reeks produkte. Dit sluit in ʼn tuisgemaakte suurlemoenstroop en ʼn pomelo-en-jenewer-sout.

In vergelyking met die Lindense Whippet is hier meer ruimte en die geraasvlakke is veel laer. Die spyskaart is natuurlik gepak met ʼn nuwe verskeidenheid disse waarvan ons gesonde keuses die kroon span.

Wel gedaan aan die stigter-eienaar Divan Botha en sy span wat met die Harvest Store ʼn vars en unieke toevoeging tot Melville se reeds bestaande rits restaurante gemaak het.

Beproef Parys se bierproeplek

 Kobus Burger eet by:

The Dog and Fig Brewery, Jonmar Semo-landgoed, Kopjeskraalpad, Vredefortkoepelgebied, buit Parys, OVS

Die biergier het nog nie oorgewaai nie, al volg die jenewerdrinkers nou kort op die hakke van al die kleurryke en geurige nisbrouers. Vir die dapper drinkers bied ʼn mikrobrouery ʼn paar kilometer buite Parys in die Vredefortkoepel-erfenisgebied oorgenoeg om van te kies en te keur.

The Dog and Fig is nou al meer as ʼn dekade oud en spog bv. met ʼn Baldadige Boegoebier vir die waaghalsiges. ʼn Goeie afskop is egter die bierproe-opsie met ses biere (100 ml elk) asook soutpretzels (alles teen R95). Die jenewerdrinkers kan die Mestiere-jenewer proe in vyf verskillende opsies met tonikum en garnering ingesluit teen R120.

My gunsteling is hul Vyl Ale (ʼn bitter American Pale Ale met ʼn heuningnasmaak) teen R45 vir 500 ml. Tamara het die Alternative Orange Beer Cocktail bestel – vars lemoensap met Dog and Fig se Alternative Ale teen R40 vir 500 ml.

Met ʼn vorige besoek het ons die biere beproef en reeds ons gunstelinge uitgesonder. Die jenewer het ons nie toe aangestaan nie.

Vir hoofgereg het ek van die Braai-spyskaart bestel, naamlik die “Steak plankie”. Die 500 g-opsie (R140) bestaan uit repies “rump steak” wat op ʼn plankie bedien word met suurlemoensap, growwe sout en swartpeper waarin jy die biefstukkies doop. ʼn Klein porsie aartappelskyfies en tamatie en slaaiblare as bygereg word daarmee saam bedien.

Die biefstukkies was koud, maar nogtans ʼn ruim porsie. Sag en smaaklik met die gawe geurigheid van soetsuur wanneer ʼn mens dit in die suurlemoen, sout en peper doop. Smulpape wat souse by hul biefstuk verkies, moet hierdie gereg liefs vermy.

Tamara het die diepgebraaide calamari-ringe (R95) bestel wat met soetpatatskyfies opgedaag het. Dit is ʼn kleiner en ligter maaltyd, maar het haar goedkeuring weggedra.

The Dog and Fig is gesinsvriendelik met speelplek vir die kinders en perde wat in die nabygeleë veld verbydraf. Buite, onder die sambrele en tussen die laventelstruike waar die bye fluks na blommetjies soek, kan ʼn mens vir ure lank kuier. Die binnenshuise deel is betonagtig en onpersoonlik.

Bespreek dus eerder ʼn tafel buite en maak seker dis ʼn warm sonskyndag.

Die diens was ver van voortreflik. Nie al die kelners het naambordjies nie en ons moes op ʼn stadium navraag doen wie nou regtig ons kelner is. Nie al die kelners is bereid om vuil borde weg te dra of ʼn bestelling te neem nie.

Daar is ook ontbyt, slaaie, hamburgers, verskeie peuselkos-plankies asook ʼn volledige spyskaart vir die kleinspan.

En vir die volgende besoek het ons reeds die kaas-bierproe geoormerk – vier biere (150 ml elk) wat met spesiale kaaskeuses bedien word teen R150.

‘Vis & tjips met sout & asyn, asb!’

Kobus Burger bestel by:

Fish Hook – Traditional Fish & Chips, Winkel no. 4, Darrenwood-sentrum, Republiekstraat, Darrenwood (net oorkant Darrenwood Toyota), Johannesburg.

Gewilde toeps (“apps”) soos UberEats en Mr D sorg dat ons deesdae net dieper in die rusbank kan wegsink terwyl ons vir ons kos wag. G’n sofapatat hoef meer tou te staan vir wegneemetes of met koue kos tuis op te daag nie.

Dit beteken egter dat ons nou met heimwee vertel van die hoekkafee se vis en tjips en soms wonder in watter heelal dit nog bestaan? Wel, vir diegene wat nog saam met talle ander vir twintig minute kan staan en wag, is Welman Son se viswinkel Fish Hook (ʼn speelse verwysing na Vishoek in die Kaap) die Goudstad se beste kuur vir smaakpapille wat smag na toeka se kitsdisse.

Wees uit die staanspoor gewaarsku dat jy in spitstyd vir tot veertig minute vir jou kos sal wag, maar dit is omdat Welman en sy span alles vars, self en keurig voorberei – natuurlik soos jy dit verkies. “Sout en asyn?” is hier ʼn mantra en glo my, hierdie tradisionele slap tjips móét op die Fish Hook-manier geëet word; deeglik toegedraai in ongedrukte koerantpapier.

En al moet jy ʼn goeie twintig minute ry voor jy kan eet, gaan hierdie wegneemetes steeds vuurwarm wees. Sommige geswore ondersteuners sit dikwels reg voor Welman se deur in hul motors en verorber die lekkernye daar en dan.

Hake & Chips (klein porsie) kos R52 en is allermins klein. Jy gaan knuppeldik die vingers aflek. Die vis kan glutenvry voorberei word, vra net.

Die Calamari Tubes & Chips is teen R50 ʼn wenner en daarby moet ʼn mens die tartaarsous (R7 vir ʼn houertjie) bestel. Daar is gewoonlik ses stukkies calamari, maar sag, geurig en perfek voorberei.

ʼn Bakkie koolslaai kos R15, maar dié het my nie beïndruk nie. Dit het ʼn skerp, bitter nasmaak gehad en ek het die balans van ʼn paar rosyne gemis.

Die glutenvrye vis was vir my selfs lekkerder as die tradisionele opsie, so proe gerus albei. En vra vir die Mushy Peas (R27) as bykos.

Welman se viskoekies (teen R24 elk) is vullend en groot genoeg om as ʼn maal op sy eie te dien.

As jy selfs meer tradisioneel wil wegneem, wat van Russian & Chips (R45)? Of ʼn Chip Roll (R16)?

Die vis en skyfies swem nie in olie nie en jy hoef nie te vrees dat jy in galbulte gaan uitslaan nie.

Welman is al in sy piepklein winkel deur rowers in die gesig geskiet, maar is daagliks op sy pos met die klanke van Classic FM in die agtergrond om breed te glimlag as nog ʼn gelukkige eter met ʼn bierboks vol etes koers kies kar toe.

Sit aan by Ouma se eetkamertafel

 Mariana Malan eet by:

De Malle Meul,  h/v Hoof- en Meulstraat (oorkant die NG Kerk), Philadelphia

De Malle Meul se Sondagmiddag-buffet is nie vir knibbelaars nie. Dis vir mense wie se lus uithang vir boerekos – vleis, rys, aartappels, soetpatats en koperpennieslaai, vir afval wat groot mans laat trane stort. Om dan nie eers te praat van die nageregte nie.

Jy vat die pad uit die Kaap na Philadelphia so skuins anderkant Durbanville en draai af so 30 kmr voor Malmesbury. Mense in die omgewing ken dit as die koringmeul waar die Louws die Koeberg-boere se koring gemaal het. Dis van 1920 tot 1972 as meul gebruik..

Philadelphia het verder bekend geraak toe die kunstenaar Pieter van der Westhuizen sy hoofkwartier daar gemaak het. Hy en sy vrou Zebeth het die meul in 1998 gekoop en gerestoureer. Die Belg Eric Bartholomeeusen het die houtwerk binne en buite gedoen en hout afkomstig van die oorspronklike meul gebruik vir deure, hortjies en meubels.

In Desember 2009 het Madelein Roets, Carine le Roux, Adele du Plessis en Pieter Venter die meulgebou by Van der Westhuizen gekoop en hul restaurant de Malle Meul daar begin. Met die restaurant se tiende verjaardag op hande, doen dit steeds die naam gestand. Dis jeugdig, vrolik en lewenslustig met kos wat jou nostalgies maak vir Ouma se eetkamertafel van ouds.

Aan die mure hang Van der Westhuizen se werk, aangervul met dié van die sanger Lize Beekman se ragfyn mandalas en ander kunswerke. Jy kan hier nog met ʼn Van der Westhuizen onder jou arm uitstap om die smulfees af te rond.

Volgens Roets verander hulle die spyskaart om vir die personeel kans te gee om hul kookkuns te laat blom. Op Sondag 20 Oktober was die aanbod: tunamousse, brood, vetkoek, waatlemoenkonfynstukke, afval, lamsboud, hoenderpastei, frikkadelle, lamsribbetjies, gebakte aartappels, rys, soetpatat met esdoringstroop, skorsies met mielies, blomkool met witsous en salie, kerriebone en koperpennieslaai.Die nageregtafel het gekreun onder kaaskoek, Jodetert-, kwepertert, marshmallowtert, roomys, vla, rooi vrugteslaai en ʼn dekadente sjokoladekoek.

Dis raadsaam om stadig te begin, want jy kan keer op keer gaan skep. Jy kan die kunswerke bekyk en dan skielik kom jy op ʼn skat van stokou Afrikaanse hygromans af. Dis nou die soort waar die vroue nog hul wimpers skugter laat sak en die titels ewige liefde beloof. Dit laat jou dink aan die boekklubs waaraan jou ma behoort het toe liefde een keer per maand per pos afgelewer is.

  • De Malle Meul bied ook van Donderdag tot Saterdag ontbyt en middagete en daar is tuisgebakte koekies en klaar geregte te koop. Dit kan vir spesiale geleenthede gehuur word. R260 pp vir die Sondagmiddagbuffet en drank; ander drankies is ekstra. Bespreek vooraf by 021 972 1097 of 072 668 7901. Besoek info@demallemeul.co.za

Betaamlike boude & blye burgers

Kobus Burger eet by:

Bun’s Out, Sewende Straat no. 32, Linden, Johannesburg

Moenie die krag van sosiale media en bemarking onderskat nie. ʼn Eetplek kan gewild raak – of selfs “trend” – danksy die glansganse wat daar kloek.

Só gons dit nou al vir weke oor “Maps Maponyane se plek”. Die plasings lui, “kyk wie het ek by Maps se restaurant raakgeloop…” En wat van die kos, wonder ʼn mens?

Bun’s Out is die TV-aanbieder, akteur, model, ontwerper en stemkunstenaar Maps Maponyane se klein hamburger-restaurant in wat voorheen Ritual Café en later The Apartment was.

Met die aankoms is dit opvallend hoeveel mense buite op die sypaadjie staan, later boude in die lug, en dan vir tientalle foto’s poseer. Die kelners is gretig om foto’s te neem en te wys hoe om die agterstewe te laat “uithang”.

Binne moet ʼn mens by die toonbank bestel, waarná jy ʼn gonser ontvang wat begin vibreer as jou kos reg is.

Die burgers is in “Classics”, “Weirdos” en “Vegetarian” opgedeel en ek het op die “Go Nuts”-burger (R85) op die lys met vreemde verskynsels besluit. Dit is ʼn krakerige hoenderschnitzel wat ruimskoots met ʼn heilsame grondboontjiebottersous bedruip is. As jy van die tradisionele satay-sousie hou, gaan hierdie maak dat jy elke enkele vinger aflek.

Die burger word met ʼn behoorlike porsie “French fries” bedien en was skaars vyf minute na my bestelling reeds reg.

Ek het die Elderflower Gin & Tonic (R55) bestel, wat glo ʼn dubbele sopie inhet. Dit is in glasbottel met ʼn spriet roosmaryn bedien en was kragtig en verruklik.

Bun’s Out se skemerkelkies is almal R55 en ʼn glas wyn kos so tussen R65 en R85. Daar is ook bier (“on tap”) en koeldranke vir R25.

Op die peuselkos-spyskaart is daar ook uieringe (R45), tjips wat met kaas en brandrissiesous bedruip is (R45) en vegetariese ribbetjies (R65).

Met ʼn kookwater-hiphop-klankbaan in die agtergrond het ek die grondboontjiebotter-hamburger maar met die hand bygedam, en was later byna soet én taai van oor tot oor.

Tussen die happe deur het nóg mense op die sypaadjie saamgedrom asof hulle voor ʼn nasionale gedenkwaardigheid staan. Genugtig. En Maps was nie eens in die omtrek nie.

Op ʼn lekkerbek-vlak is Bun’s Out deur en deur die moeite werd. Die interieur is nie watwonders nie, maar gryp ʼn tafel buite of een van die toonbanktafels teen die venster.

Die vegetariese hoenderburger word deur ander eters uitgesonder as iets spesiaals, terwyl die diepgebraaide Tinkies klink na soete verleiding.

Burgers en “betaamlike boude” maak van Bun’s Out een van die interessantste nuwe kuierplekke in Linden.