’n Vrydag, 2030

deur Sidney Gilroy

Dit was ’n lang nag. En die dae is meestal nou vervleg tot een.

Buite die rioolpyp waarin hy slaap, fladder sweempies gebrande gras verby, en wat hy hom verbeel die as van koerantpapier is. Maar hy weet dat daar jare laas ’n koerant gedruk is. In die verte borrel rook onverpoos uit die krematorium se betonpyp.

Die grond knars onder sy voete as hy homself regop stu. Dit is Juliemaand. Of is dit reeds Augustus? Gegewe die ryp wat soos fyn suiker teen die randte van die voetspore in die rooigrond klou, is die winter nou op sy ergste.

Hy vryf sy boarms, kyk links en dan na regs. Die soldate van gister is weg. Of is hulle?

Dit neem hom ’n rukkie om die kombers, sponskussing vol gate en die pakkies beskuitjies en enkele ui in ’n bondel toe te draai en dieper in die pyp te versteek.

Buite is die strate stil. Soos gewoonlik. Hy stap met sy kop af. Die rooi baret laag oor sy oë getrek. Die klokreël was eers net vir saans. Toe tot later in die oggend en vroeër in die middag. Tóé slegs twee ure in die oggend en twee ure in die middag wat enige iemand gesig op straat mag wys.

Meeste mense mik vir die sopkombuise. Nie hy nie. Wat sal dit help? Die kos is óf klaar voor die tafels in sig kom of voor die skare verwilder word deur soldate wat kwansuis lewenspermitte “nagaan”.

Sy maag grom hoe verder hy van sy slaapplek vorder.

Een ui. Drie pakkies beskuitjies. Verruil vir “gunste”. Gunste waaraan hy nie nou wil dink nie. Destyds was ’n guns iets wat jy vir ’n kollega of buurman sou doen. Nou is dit al wat oor gebly het nadat desperate politici en swerms onherkenbare gesigte die banke, munt en elke laaste kasregister in die land gestormloop het tydens Die Groot Verval. Munte en note is nou so skaars soos vleis. En buitendien waardeloos.

Hy maak goeie vordering. Die ashoop toring duskant wat oorgebly het van die snelweg. Hy vermy die karkasse van die trokke en uitgebrande karre op die valerige teer. Die voertuie van ouds waarvan die enjinkappe oopstaan soos batterye geplunder is toe die bevolking ná ses maande besef het dat die krag nooit weer gaan aankom nie, is ’n vieslike voorbode. Daar skuil mense daarin. Slaapplek. Wegkruipplek. Doodgaanplek. Hy kan die verrotting van hier af ruik.

Bo-op die berg van drek is daar meer lewe. Handjiesvol kinders, vrouens en mans diep al sedert vroegdag deur die plastiek en gemors wat al dor en krummelrig geword het. Hulle soek iets om te eet. Énige iets.

Hy ook.

Dis ’n redelike ent tot aan die anderkant van die vullishoop. Geleidelik verdof die klank van gedempte stemme en voete toegedraai in plastieksakke wat oor vullis sukkel.

Hy hurk af toe hy sy gewone wegkruipplek bereik.

Uiteindelik, ná wat soos ’n leeftyd voel: die bekende klank. Twee tortelduiwe wat in die rokerige lug verskyn. Hulle mik presies vir waar hy die enkele mieliepit maande gelede geplant het, die vrug ge-oes het en die gedroogde pitte tussen die kakiebos gestrooi het.

Reg langs die wip land die voëls.

Tien jaar van nou af

deur Ina Cantoni

Nee rêrig vir my is dit ‘n scary gedagte. Verstaan my mooi, ek is geensins bang vir doodgaan nie, dit wag vir almal. My vassteek-soos-‘n donkie gedagte staan hier reg voor my. Hy is drie jaar oud. Slim, glo my geen ouma het ‘n slimmer kleinkind as ek nie, en verstaan tog net asseblief, hy is ons groot seun.

Tien jaar gaan vir my ‘n onmoontlik groot verskil maak.

Dan het ek my rug op tagtig gedraai. Op hierdie aardbol of miskien reeds die ewigheid in. Salige gedagte vir my, want ek is heeltemal voorbereid. My oë vlieg na die driejarige by my voete.

“Ouma, wanneer gaan die siek mense nou gesond wees?” strikvraag. Teenvraag!

“Hoekom vra jy?”

“Wa-a-a-nt, ek is moeg vir lockdown.”

My Kroonkind, gaan jy die tien jaar van nou af sien? Gaan jy die lockdown onthou, of die vakansie saam met oupa en ouma in die wildtuin?

“Ouma, wanneer gaan my Pappa werk toe?”

“As die lockdown verby is my kroon?” sy gesiggie frommel in duisend vrae. “Gaan Pappa weer werk toe?” ek weet nie my kind en of jy weer kan skool toe gaan?

Oor tien jaar is jy dertien. Reeds in die Hoërskool, slimkoppie, met drome in jou oë en jou hartjie.

Ek sien jou oor die doellyn nael, ek hoor jou maatjies skree om jou aan te moedig. Ek sien jou op die krieketveld, jy is so oulik met ‘n bal.

Jy sal jou kitaar speel, die klavier baasraak en alles doen waaroor ouma droom.

Jou nefie kom sit by ons. Tweedejaarstudent, potensieële ingenieur. My blondekop slimkop kleinseun. Sal ouma jou sien as jy graad kry? Sal jy in ons sonnige land werk of vêr in ‘n vreemde land, soos jou Pa ‘n heenkome gaan vind? Sal jou Ma ook huil van verlange na jou, soos ek vandag na jou Pa?

Waar gaan julle oor tien jaar wees?

My man, wat van jou? Ah nou voel dit beter, ek bid om nog hier te wees na tien jaar. So ja nou kan ek drome droom.

Tien jaar van nou is ons kroos groot, ek en jy sit saam op die balkon en staar  oor die see. Jy met ‘n esel, op die doek voor jou, ‘n see toneel.

Skielik krimp my hart weer. Tien onbekende onseker jare. Gaan ons die virus spook vermoor, of gaan hy ons uitmoor?

Ek kry skaam vir myself as ek my hande saamvou en saggies prewel.

Vir ons is alles onbekend, maar by U my Vader is dit reeds bekend. U het reeds die pad gestap wat ons moet volg. Ons volg in geloof dat, wat ook al op ons wag, is goedgekeur in die Alwyse plan van God.

Tien jaar? Honderd jaar is dan net een dag in die oë van God. Wat is tien jaar? Net een uur. Wat gaan oor een uur gebeur? Ek weet nie en dit maak ook nie saak nie, ons is veilig soos ‘n kuiken nog in sy dop.

NUWE KORTKORTVERHAALKOMPETISIE:

TIEN JAAR VAN NOU AF

Skryf vir ons ‘n kortverhaal van 500 woorde oor die toekoms – tien jaar van nou af. 2030.

DIE WENNERS VAN ONS KWARANTYNWOORDE-KORTSTORIEWEDSTRYD IS CARIE MAAS EN ELMI SMITH!

Hier is Carie Maas se wenverhaal:

Plastiekproppe

Sy het vier dae voor haar een-en-vyftigste verjaardag besluit sy gaan nie meer die plastiekproppe vir die kerk insamel en namens hulle aan die liefdadigheidsorganisasie oorgee nie. Sy het gewonder wanneer sy dit vir hulle moet sê. Toe haar broer se kinders die week ná haar verjaardag weg is nadat elkeen een van die Golden Cloud-muffins wat sy gebak het, geëet het, het sy haar winters- en somersklerekaste omgeruil, miskien ’n bietjie vroeg, en probeer om nie die oorgetrekte hangers almal in dieselfde rigting te hang nie. Toe kom die stilte.

Haar kaste was reeds agtermekaar, behalwe die Tupperware wat te vol is en wat sy bly uitstel het. Hier en daar het sy ’n herfsblaar laat begaan om haar hark te ontsnap – niemand kon tog in die vierkantige klein tuin insien nie. Toe het sy al haar ou kerse opgesmelt om drie nuwes te maak, bly oor die jogurthouers wat sy tog maar gebêre het.

Sy moet meer uitreik, het sy begin dink. Sy het haar WhatsApp-kontakte deur vyf gedeel vir Maandag tot Vrydag. Sondag is gesinstyd en om vir iemand op ’n Saterdag ’n boodskap te stuur kan desperaat klink. Dit was eweneens dan ook maar goed dat X, Y en Z op ’n Vrydag val.

Mettertyd het sy egter agtergekom selfs mense met gesinne stuur nou boodskappe op ’n Saterdagaand. Dit het haar verstom. En bly gemaak. Dit was nie meer skaamtyd nie. En sy het begin wonder wat in die tyd ná die stilte sal gebeur.

Sy het gewens sy het tog maar vir haar broer se seun gevra om na die drade van haar hoëtroustel se speakers te kyk; hoe sy hulle ook al gewikkel het, die radio het bly krap. Sy het selfs begin meen haar begroting laat meer oproepe toe. En deur ’n resepteboek geblaai.

Wat sy nie kon regkry nie, was om die proppe wat sy reeds gehad het, weg te maak. Op ’n dag het sy hulle uitgepak, in patrone, soos vir dambord. Sy het ’n mooi bloue gevat, blou soos die helder winterlug, en dit oor ’n goue laat spring, en lag gekry vir haarself. Toe het sy die vrouevereniging se voorsitter gaan bel.

Hier is die naaswenner, Elmi Smith, se komiese verhaal:

Corollawierus lôkdown

In ons huis is agt onder kwar … kwara … Kwart … lôkdown.

Oupa, Ouma, Ma, Stiefpa, Antievirginia, Ekssandra, ek en Wagter.

Ons is nie gewoond om só in mekaar se hare te wees nie. Veral nie in Antievirginia se mal-t-color teeze nie. Sy het kom plak net voor lôkdown. Sal nooit alleen koup nie, reken sy.

Oupa rook heeldag pyp op die stoep. Hy bespied die straat met sy verkyker en verwilder enige verdagte met ’n bulderende ‘WYK SATAN!!’

Ouma bid, sing, sug en maak kos. Wanneer iets aanbrand, vloek sy gedemp maar verwoed.

Wanneer Stiefpa nie help-my-sterk-lykoefeninge doen nie, lê hy en Ma en Corollawierus kyk. Elke etenstyd beswaar hulle ons met die nuutste doem en gloem. Volgens Stiefpa gaan ons almal vrek.

Antievirginia is my oorlede pa se suster. Oupa sê sy doen absoluut ef-ôl behalwe rondslaap. Die matraswinkel kan haar aanstel om terugvoer te gee oor hulle matrasse. Daar’s nie ’n matras in die dorp wat sy nog nie getoets het nie. Oupa het nie baie ooghare vir sy eie dogter nie en die Corolla maak dit net erger. Ek vermoed Antievirginia is beroemd want Ma sê sy dink Virgin Active is na Antivirginia vernoem. Antievirginia bad lank en trek mooi aan en ruik lekker en … verder is Oupa seker reg. Antievirginia sê sy is met verlof, haar louere rus bietjie.

Ekssandra is my sussie. Sy moes eintlik Xandra gewees het maar my pa het my ma verkeerd verstaan toe sy sê Sandra met ’n eks. Ekssandra luister heeldag musiek en whapp haar vriende. Sy help net vir Ouma onder dwang.

Ek is Kasper. Kasper met ʼn Ka. Ek moes eintlik Jasper gewees het maar Oupa sê my pa was lisdeksies en ek kan maar net bly wees hy het nie ʼn R in plaas van die J geskryf nie. Oupa sê ek is ʼn oulike seun, net jammer vir die gebrek aan breinselle, ek moes dit by my pa geërf het maar hy het nie veel gehad om mee te begin nie. My pa het hom vrek gesuip, sê Oupa. Ma sê Pa is oorlede as gevolg van ʼn oordosis coke. Nou drink ek net Fanta.

Gister bring Ekssandra se boifrênd, Jakkals, tyding dat sy ma aan Corolla beswyk het. Toe hoes hy en sak inmekaar op ons stoep.

Ouma skree dat iemand moet kom help.

Ma skree terug dat sy sewe maande swanger is en dat sy niemand kan help nie. En dat niemand haar kan help nie.

Oupa gryp die verkyker.

Stiefpa begin push-ups doen.

Antievirginia wonder of die arme vrou dalk wyn sou oorhê.

Ekssandra loer om die deur en sê die kys is uit.

Wagter hol weg.

“Kaspertjie, gaan roep vir suster Syringe!”

“Dis lôkdown Ouma!”

Ouma wring haar voorskoot en ek bring suikerwater.

In ons huis is nou nege onder kwar … kwara …. Kwart …. lôkdown.

Oupa por gereeld vir Jakkals om Stiefpa raak te hoes. “Hy’s lui en vreet te veel,” sê Oupa.

Corollawierus. Niemand rus nie.

Ons kondig volgende week aan wat hulle gewen het.

Doodsertifikaat

deur Johann Smith

P.E. Fourie: 1954/02/28 

Onmiddellike oorsaak: Nierversaking

Sekwensiële oorsaak: Onbeheersde Diabetes

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

Denver teken die dokument en oorhandig dit aan die verpleegster. Vandag is ’n besige dag. En ’n sombere dag vir ten minste drie families wat ’n geliefde verloor het.

Pasiënt Fourie was nie ’n verrassing nie. Sy niere het reeds ’n week gelede begin ingee. Selfs al sou die hospitaal ’n dialise-masjien beskikbaar gehad het, sou sy kanse steeds skraal gewees het. Uit ’n mediese oogpunt is die afsterwe van Pasiënt Fourie ’n perfekte voorbeeld van ’n oorsaak-en-gevolg. ’n Amper-gerusstellende wete dat die mediese wetenskap nog steeds in beheer is. Steeds kan voorspellings maak oor wie gaan oorleef en wie nie.

Maar Pasiënt Fourie was ’n mens.

Hy het geliefdes gehad. ’n Vrou wat daagliks moes skakel om te hoor hoe dit gaan. Wat mediese terme google om te verstaan wat haar man makeer. ’n Laaste gesprek met ’n WhatsApp Face Call wat ’n verpleegster vir hulle gereël het.

  1. Roux: 1995/08/03 

Onmiddellike oorsaak: Longontsteking

Hy was nog nie eens vyf-en-twintig jaar oud nie. Hy’t ’n foto van sy verloofde in sy hempsak gehad.  Geen komorbiditeit nie. Op die oog af gesond. Net ongelukkig. Virusse diskrimineer nie.

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

Denver is geloof vir sy opoffering. Dit vat ’n spesiale tipe dokter om in die intensiewe eenheid van ’n hospitaal in ’n tyd soos hierdie te werk. Tog voel hy veiliger hier as by ’n praktyk. Die prosedures wat gevolg moet word is strenger as by enige kliniek of mediese sentrum. ’n Kollega het haar kliniek met die plaaslike winkelsentrum vergelyk: ontsmettingsmiddels en ’n chirurgiese masker. Haar simptome was matig. Soos die meeste gevalle waarvan Denver net hoor, maar nooit sien nie.

Dis amper middernag as Denver by die huis kom. Die luukse tweeslaapkamerwoonstel het geen gebrek aan ruimte nie. Hoewel die skoonmaker se dienste meer as ’n maand gelede gestaak is, lyk dit nie asof daar enigiemand in die woonstel woon nie. Vir Denver is dit bloot die plek waar hy slaap. Sy lewe is by die hospitaal.

Terwyl hy wag vir die mikrogolfete om gaar te word, dwaal sy gedagtes na die samesweringsteorieë wat die rondte gedoen het oor die gevare van die mikrogolfoond. Die 5G van die vorige eeu. Hy eet in stilte. Die bobotie is lekker. Ek moet dit weer koop. Sy oog vang ’n boekie met siekbriewe. Die tyd toe hy ’n gewone GP was. Eeue gelede.

Dokter Denver Griessel. Algemene Praktisyn.

Elke woord sorgvuldig gekies. Dokter vir geloofwaardigheid. Voornaam vir menslikheid. Griessel … sy enigste identiteit.

Die stilte raak skielik oorverdowend. Hy trek die boekie met ’n doelbewuste, harde sug nader en begin skribbel.

Dokter Denver Griessel: 1982/03/30

Hy dink aan ’n vrou wat mediese terme google sodat sy kan verstaan wat fout is met haar man. Sodat sy die pad saam met hom kan stap.

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

’n Meisie wie se foto verdwyn en in ’n verloofde se hempsak beland.

Onmiddellike oorsaak: Eensaamheid.

Flat line EKG

Martelize Kolver lees Jeanne Goosen se kortverhaal “Lemoene”

Beurtsang in drie bewegings

deur Riana Wilkens

Gelykmatig

Die apies, wat gereeld van die bos af deur die bome swaai, kapperjol oop en bloot in die straat. Een sit selfs en suig aan sy pootjie. Geen karre of mense nie. Vreemd.  Sy kry haar dagboek. Die een met die rooimerkie in. Op elke bladsy staan “Inperking” geskryf. Sy weet nie hoekom nie. Die rooimerkie val en spat onder die bed in. Sy bel haar seun, vra wat die datum is. Dan sien sy ’n woord in haar dagboek. “Inperking.” Wat beteken dit? Haar seun sê hy het al verduidelik. Sy vra die datum. Sy moet die merkie by die regte dag insit anders vergeet sy.

Hy sien sy vrou wil vra hoe hy voel. Hy staan op. Hy gaan die geute regmaak. Die Inperking is ’n gulde geleentheid om alles te doen waarvoor hy nooit tyd kry nie. Buite kyk hy op. Verstommend. Daar is ’n bosjakkalsvoël in die peperboom.

Sy hou van die stil dae, die inkeer binnetoe. Sy hou van al die foto’s oor diere wat die stede inneem. Veral die bokke op die mure in Wallis. Sy gaan sit voor haar klavier. Larghissimo. Baie, baie stadig. Dis die gevoel van inperking. Stadig en stil.

Stormagtig

’n Man met ’n masker op die gesig keer haar op die sypaadjie voor. Sy skrik. Hy sê: “Dis oukei, Gogo. Polisie.” Sy is verward. Hy vra waar is haar kinders dan? Sy skud haar kop, een in Londen, een in Ghana, een in Gauteng. Die polisieman sê die een in Gauteng moet ’n spesiale permit kry en haar kom haal. Sy bel haar seun. Dis alles hulle skuld. Drie seuns en nie een by haar nie. Haar vriende se kinders is hier. Hy moet dadelik kom. Hy verduidelik hy mag nie provinsiale grense oorsteek nie. Sy verstaan nie.

Sy vrou sê: “Ons versorg nie ons ouers soos dit hoort nie.” Hy skop sy stoel agteruit. “ Wil jy Kwa-Zoeloe toe trek en my ma versorg? Jy, wat elke keer kla as ons vir jou ma gaan kuier.” Hy storm uit. Wat dink sy? Dat hy nie omgee nie. Hy is die een wat gereeld afgery het voor die Inperking. Hy is die een wat elke dag sy ma se baie oproepe oor dieselfde dinge moet beantwoord.

Die rustigheid van die eerste drie weke is verby. Dis asof ’n ander virus die mensdom beetgepak het. Die virus van ontevredenheid en negatiwiteit. Sy probeer positief bly maar snags droom sy van spinnekoppe en insekte. Blykbaar ’n wêreldwye fenomeen. Sy begin ’n Schubert-sonate speel maar daar is fout met haar linkerhand. Seker seergemaak van al die huiswerk wat sy doen.

Kontemplatief

Sy sit en kyk uit oor die vreemde, stil wêreld. Die vreemde stil lewe wat sy lei. Die straat is vol apies.

Hy kyk op. Die bosjakkalsvoël sit rustig in die peperboom.

Ons is almal ingeperk dink sy, ingeperk in ons eie persoonlikhede en drome. Sy begin speel. A piacere. Soos dit jou plesier.

Wolhaarstories

deur Ilse Genis

Tyd vir ʼn nuwe stokperdjie, kondig die man se vrou aan. As daar ooit ʼn geskikte tyd was, is dit nou, in die tyd van hul gedwonge isolasie.

Tolletjiebrei. Dit is ook haar voorstel.

Sy gaan haal vier tolletjies en vier kleure wol (rooi, grys, blou en geel) uit haar naaldwerklaai, spykertjies en hamer uit die gereedskapkas.

Eers is die man skepties. Hoe sal dit nou lyk, ‘n man wat met tolletjies speel?

Dis geen skande nie, paai sy. Dit hou kop en vingers besig, wie weet, jou kop ook. Brei is beter as om te broei oor uitwissing en onwelkome besoekers. Buitendien, dis goed om ʼn nuwe vaardigheid te leer.

Die ou man se vingers wil eers nie. Hulle verdwaal in die gekleurde wolstringe. Hy knoop en swets en begin van voor af, kruis en dwars trek hy die wolle, tot daar ʼn rooigrysblougeel slangetjie by die onderste gaatjie uitkruip.

Sy vrou het drie tolletjies en brei vlytig tot die houtvloer vol kleurstringe krul. Sy kry ander kleure wol in die gangkas: babapienk, koningspers en kakiegroen.

Die nuus op die radio word by die uur vreemder. Hulle luister maar hoef dit nie te glo nie, want wolslangetjies krioel die voorhuis vol en het hul verbeelding oorgeneem.

Hy steek haar verby met breiwerk. Sy werk al die stringe aanmekaar vir truie, matte, onderbaadjies, serpe en rompe. Net betyds vir die winter, beduie sy.

Dit gaan ʼn lang, bitter winter wees.

Wat doen ons volgende, wonder hy. Gordyne, stel sy voor, dik wolgordyne vol gebreide stories. Om als wat ongenooid is hier uit te hou.

Die goue hok

deur Annie Anoniem

Maaike is eintlik van Nederland maar haar man is jare gelede oorgeplaas Duitsland toe in een of ander hoë pos. Sy kies ’n tafel in die hoek – donker en knus-gesellig.

“Jirre, maar daai prof is ’n doos,” lag sy. Sy’s nie ’n mooi vrou nie maar sy’t ’n aanloklike selfvertoue wat Europeërs van nature besit. Ons drink albei gulsig aan ons bier – moeg klas geloop en dors vir enigiets nie-akademies.

“Hoe gaan dit met jou kinders?” vra ek.

Maaike is ’n huisvrou en hou haarself daagliks doenig met dietjies en daaijies terwyl die kinders besig is met allerlei aktiwiteite. Die dag toe die twee tieners hulself as volwasse verklaar, het sy haarself blitsig ingeskryf vir ’n meestersgraad in Antropologie.

“Ag, hulle is heeldag op hulle fone en steur hulle nie eintlik aan my nie. My skoonma het ’n draai gaan maak by die huis so hulle sal orraait wees. Gaan ons nog ’n rondte bestel?”

“Ja,” sê ek dadelik en roep die kelner nader. “Ek dink nie ek soek kinders nie,” sê ek as nagedagte en steek ’n sigaret aan. Ek hou die blou pakkie Dunhill uit na haar. Sy huiwer vir ’n oomblik voor sy die sigaret in haar mond druk en aansteek – sy stoot die pakkie terug na die middel van die tafel.

“God weet ek is lief vir my kinders, maar as ek tyd kon terugdraai en weer begin …” sy bied geen verdere verduideliking nie en sluk weer vinnig aan haar bier.

“Wat sou jy doen?”

Sy huiwer weer. “Ag, ek sou meer soos jy wou lewe.” Sy trek die glasbottel se plakker af en vou dit klein tussen haar vingers. Die kelner kom plak twee koue bottels op die tafel neer.

“Ha!” lag ek bitter. “Soos ’n eensame closeted case met konstante jet lag?” Ek druk my sigaret dood om oogkontak met haar te vermy. Ons versluierde hoekie in die kroeg word ’n biegkamer.

“Onverbonde, man! Jy kom en gaan soos jy wil en jy antwoord aan niemand nie. Jy kan môre jou tas pak en gaan! Ek’s … ek’s onlosmaaklik van my lewe en sommige dae is daar nie spasie vir diep asemhaal nie.” Sy druk haar sigaret dood en trek die blou pakkie en aansteker nader.

“Vryheid is subjektief. Jy’t meer vryheid as ek, Maaike. Jy’t tyd en geld en jy’s eerlik oor jou seksualiteit – hoeveel meer vryheid het een mens nodig?” vra-sê ek.

Maaike skud haar kop asof ek nie verstaan nie.

“Kom ons bestel iets, toe. Is jy honger?” probeer ek paai.

“My hok is dalk van goud gemaak, maar ’n hok is steeds ’n fokken hok,”

Kwarantyn:  Dag 25

deur Marthe McLoud

“Is jy mal, Estelle?”  Hy kyk haar geskok aan.  Dewald irriteer haar. Hy was nog altyd die perfekte landsburger.  Hy ry nooit oor die spoedgrens nie, steek nie ‘n vragmotor wat voor hom drentel op ’n wit streep verby nie, wag geduldig by ’n rooi verkeerslig, al is dit eenuur in die nag en daar geen siel op straat is nie.  Hy is so bang vir die gereg dat Estelle wonder of sy ouers hom met die polisie gedreig het toe hy klein was.

Dis dag 25 van grendeltyd en die President het alle sigarette-aankope verbied.  Vier dae al dat sy niks te roke het nie en haar humeur is besig om soos ’n vuurpyl spoed op te bou.  Die meme op facebook van die kinders wat vasgemaak op die mat lê terwyl die ma by haar lessenaar probeer werk, raak al hoe meer in haar huis ’n moontlikheid. En dan nog al die skottelgoed!  ’n Eindelose produksie wat nooit end kry nie.  Daarby het sy die laaste bottel rooiwyn twee dae gelede opgedrink.  Nou kom Dewald ook nog aan haar karring.

“Ja, die swartmark,” herhaal sy bitsig.  “Ek gaan na die township ry.  Daar SAL iemand wees wat sigarette verkoop.”

“Ek kan nie glo wat ek hoor nie,” sê Dewald.  “Het jy geen skaamte of vrees nie? Voor jy jou kan kry sit jy in die tronk of met ’n helse boete wat ons nie kan bekostig nie. Jy is nie ernstig nie.”

“Doodernstig!  Net môre hoor ek by Katriena wie verkoop sigarette in hulle township.”

Estelle draai op haar hak om.  Haar kop pyn.  Sy sluk twee hoofpynpille af en gaan lê op haar bed.  Dewald kyk televisie en die kinders speel iewers in ’n kamer Catan.

Skielik is daar ’n massiewe ontploffing. Estelle en Dewald hardloop mekaar onderstebo by die kombuisdeur.  Die hele kombuis is van die plafon tot die vloer geel.  ’n Vloeistof hardloop teen die mure en plafon af en vorm plasse op die vloer.

“My pynappelbier!” gil Estelle.  “Jy het … wat?” vra Dewald.  “Ek het my eie pynappelbier gebrou,” snik Estelle.

Tot laataand is Estelle en Dewald op hulle knieë om die kombuis skoon te skrop.

“As Katriena net hier was!  As sy net weet hoe mis ek haar, hoe waardeer ek haar, hoe kan ek nie sonder haar nie, hoe moeilik dit is om ’n huis skoon te hou,” kerm Estelle.

“Daar praat die President nou,” sê Dewald.  “Los eers dat ons luister.”

“My Fellow South Africans,

It has been exactly seven weeks since the first case of the coronavirus was confirmed in our country. 

Since then, all our lives have changed …

The sale of cigarettes will be permitted.”

Estelle spring met ’n gebalde vuis en ’n jubelkreet in die lug.

“Gaan jy nog môre vir Katriena whatsapp oor sigarette?” vra Dewald.

Estelle begin lag.  “As die ontploffing van die pynappelbier ’n voorspelling is van wat dalk by die swartmark op my wag, hou ek liewers nog ’n week uit.”

Op vrye voet

deur Hendie Grobbelaar

“Daar is nog net twee dae se mieliemeel oor, julle moet minder vreet!” Antie Sybie se vet wysvinger waai rond in die lug, rus so breukdeel van ʼn sekonde op elkeen van haar drie kinders en laastens op hom, langer op hom.

Hy staan stilswyend op en gaan lê op sy slaapsak op die stoep vanwaar hy die sterre kan sien. Dit is weer ʼn wolklose aand, min wind en klein maan. Perfek.

Sy plan is om uit te sluip so uur nadat antie Sybie en die kinders gaan slaap het. Die bure ook. Hulle gaan slaap ook vroeg vandat al hulle drank klaar is. Hy is dankbaar. Hy kan slegs dink in die stilte.

Wat doen sy pa nou, wonder hy. Kyk hy ook van sy bywonershuisie se stoep af op na die sterre bokant die plaas. Wonder hy oor sy seun? Dink hy aan hulle laaste baklei? Daardie dag toe hy sy rugsak gepak het en Johannesburg toe gekom het. Agter die geld aan. Weg van die vrees, die droogte, skape met leë oë en jakkalse wat kerm in die kloof. Honger en dors oral.

Hier is ʼn ander droogte, ʼn ander dors, ʼn ander vrees. Dors na vryheid, na werk, na geld en kos. Vrees vir die virus. Maar die dors is groter.

Die mens is nie gemaak om ingeperk te word nie, dink hy. Veral nie ʼn mens soos hy nie. Nie ʼn Kalaharikind nie. Hy praat nie hierdie stad se taal nie. Hý praat leeu, korhaan en bobbejaan. Hy praat veld, wind en son. Hy en sy pa. Hulle sal weer praat, hy en sy pa.

Hy het gehoor dit het gereën in die Kalahari. Die duiwelsklou gaan mooi blom hierdie jaar. Die tsammas en gemsbokkomkommers gaan volop wees. Hy kan dit op sy tong proe.

Saggies staan hy op en kry sy gepakte rugsak in die hoek. Hy rol sy slaapsak op en maak dit bo-op die rugsak vas. Hy sal moet roer. Alfonso tel hom oor ʼn halfuur op met sy afleweringstrok. Hy sal hom saamvat tot by die grens, weggesteek agter die bokse groente. Vir die gattas. Hy het gehoor hulle skiet jou as jy buite jou huis is.

Op die hoek van die straat kyk hy om na die rye en rye huisies. Hy het sy laaste geld vir antie Sybie en die kinders gelos. Daar sal nou genoeg mieliemeel wees vir nog ʼn week. Die welfare sal wel sorg vir iets by die pap.

Aspidistra

deur Anton Dockel

Vier maande gelede het hulle begin uitgaan. Dadelik was hulle gemaklik met mekaar. Hulle smaak stem in amper alles ooreen. Braam het ’n eksentrieke streep en hy kom met die malste idees vorendag. Kom ons gaan swem kaal by Sandy Bay tweeuur in die môre? Gaan twaalfuur in die nag op aandag staan voor die Kasteel met ’n fakkel in die hand. Deesdae toer hulle die natuurreservate in die Wes-Kaap een vir een en laat ’n klipstapeltjie agter: “In liefdevolle herinnering”.

“Lockdown”, kondig die president af. Grendeltyd, sê Gertrud. Afspertyd, sê Braam.

“21 Dae is darem nie so lank nie,” sê Gertrud. “Ek gaan by my ma bly, en jy?”

“In eensame opsluiting in my flat. Ek gaan mal word. Jy moet baie Skype en WhatsApp.”

“Braam, ek wou net vra: As ek oortrek na my ma, wat word van my potplante?”

“Keep the aspidistra flying,” lag hy. “Jy vat ’n leë plastiekbottel, steek ’n klein gaatjie in die prop en gooi vol water. Druk dit koponderstebo in die plantpot en voila!

WhatsApp:
Braam – Ek verlang jou verskriklik.
Gertrud – This too will end. My ma maak my mal.
Braam – My wyn raak op. Gelukkig rook ek nie. Ons minister van polisie het nie baie brein-Cele nie. Dis hoekom hy hoed dra. Skype ’n slag, toe?

“Hallo Gertrud. Jy blom soos, soos … ’n  morning glory. Ekskuus, dit het allerhande innuendo’s. Purperwinde in Afrikaans – tjitt, dis ook ’n ding onder die kombers.”

“Dit lyk of jy nog in die bed lê, grapjas. Skeer jy, eet jy gesond? Moenie dat ek my bekommer nie.”

“Toast en tee. Ek lees enige ding wat voorkom. Ek is half-Joods het jy geweet? Braam is kort vir Abraham. In hierdie dae lees ek obsessief oor ghetto’s en konsentrasiekampe. Sê nou maar El Presidente kondig af dat inperking nie gewerk het nie omdat “my people are confined to ghetto’s”. Die middelklas en opperklas moet opskuif en die armes moet plek kry. Die Departement van Gesondheid sal kom toets of twee gesinne wat langs mekaar woon “skoon” is en dan moet hulle besluit wie se huis hulle gaan deel. By die oop huis sal gesinne uit ’n informele nedersetting intrek. Dan woon ons almal in upmarket ghetto’s – ministers uitgesluit.”

“Braam! Gaan speel iets mindless soos solitaire op jou rekenaar.”

“Ek het my depressie vir jou weggesteek. Dis redelik manies. Ek moet my medikasie gaan afhaal, maar my voorskrif het verstryk en die dokter is te besig en ek is net lus om hier te bly lê. Hulle kan nie wag om jou as ’n Covid-19-statistiek aan te teken nie. Sterf van depressie of honger is nie nuus nie.”

“Ma, oom Wllem was mos hoog op in die polisie. Vra hom of hy toutjies kan trek. Ons moet Braam se lewe red. Hy kan by ons kom bly en ek sal na hom kyk.”

“Oukei. Cabin fever, here we come.”

“Jy is wonderlik, Gertrud,” sê Braam toe hy instap. “Let’s keep the aspidistra flying.”

Plaagbeheer

deur Jan Schaafsma

Wieg van die Mensdom, verkondig die geskilderde sierletters op die groot bord. Hy trap dit flenters en voer die vuur met twee plankies.

Dit sal die laaste twee blikkies warm maak om die spesiale geleentheid te vier. Die merkies teen die muur wys hulle’s al sewe maande hier. Min of meer. Soms vergeet jy om te krap en soms krap jy dubbel.

Die klammigheid het die blikkies se etikette lankal losgeweek. Jy vat maar ’n kans met die oopmaak. Vanaand eet hulle katkos in sous, en aspersies.

“Môre pie ons groen,” sê sy, en hy kan nie help om te lag nie. Net sy kan so mens bly, al kerf die kommer elke dag dieper vore in haar gesig.

Die grotlewe is primitief, maar dis lewe. Drinkbare water drup van die dak af. Daar is ’n handvol muwwe neute, ’n pot grondboontjiebotter en ’n leksel heuning in die spens oor.

Gelukkig kom hulle nooit hier nie. Hul yslike logge lywe pas nie deur die noutes nie. Hulle kan die stank nie veel nie. Hierdie swaartekrag laat hulle nog hoog trap, en hulle hyg gou. Hulle wag eerder bo tot iemand dit met knipperende oë buite waag. Dan gaan hul plaagbeheer voort.

“Ons móét gaan kos soek,” sê hy.

Sy knik. Môre sal hulle twee(-en-’n-half) dit met knipperende oë buite moet waag. ’n Mens leef nie net van vlermuise nie.

Hy dink terug aan toe hulle gekom het. Die skok toe die bestaan van ’n yslike ruimtevaartuig ver anderkant Pluto bekend gemaak word. Hoe almal gewoond geraak het aan die skip in sy wentelbaan tussen die maan en die aarde. Die stroom seine van die wesens aan boord. Die wêreldwye obsessie om die seine te ontsyfer.

Toe, oplaas, die verstaanbare boodskap: “Ons wil help. Ons val nie aan nie. Ons wil help.”

“O ja?” wou die aarde weet. “Waarmee?”

“Hierdie planeet gaan dood. Ons het talle kere op ander planete gehelp. Ons weet hoe.”

Natuurlik was hulle reg, dink hy. Ons, die dinkers, het die oorhand gekry, die natuur na ons behoeftes getem, die vermoë ontwikkel om alles te vernietig, die planeet letterlik opgevreet en ons nes onleefbaar bevuil.

“Hoe?”

“Julle is te veel. Daar moet baie minder wees. Dun self uit, of ons doen dit.”

O, die verontwaardiging, die woede, die weerstand!

O, die onvermoë om saam te stem, planne te maak, iets te doen!

O, die vrees, die paniek, die geweeklaag toe die skip se uitdunspanne neerstryk en begin maai!

“Ons wil nie, maar vir julle eie beswil móét ons …”

’n Sak mieliemeel! Met miete vir ekstra proteïne. Eiers! Nugter weet watter voëlsoort s’n. Drie boksies langlewemelk. Geelwortels wat iemand begrawe het om vars te bly. Die punte van die nuwe loof het geklikbek. ’n Plastiesak vol blikkies langs ’n koplose geraamte in vodde, die arm nog daarna uitgestrek.

En net een van hulle. Gelukkig ongewapen. Hy’t haar groteske boep een kyk gegee, gewis gereken dis ’n verskriklike siekte, en weggeskarrel.

Die grotlewe is primitief, maar dis die lewe.

Die virus

deur Johanni de Beer

Mart kyk grimmig na die man oorkant haar. Lank, donker en aantreklik. En ’n vreemdeling.

Hulle het vir navorsing, vir werk, die tog bergop aangepak om monsters van ’n skaars Proteasoort te oes. Hulle sou dieselfde middag terug, bergaf.

Toe kom die reën, weerlig en stormwind en keer hulle vir twee dae hoog teen die hange vas. In ’n berghut wat aan die departement behoort en waarin komberse, vuurmaakhout, kerse en ’n paar blikkies kos en ’n sak rys is.

Hulle selfone is pap en daar is nie elektrisiteit nie. Die reën gee nie bes nie.

Dag drie: Met MacGyver-agtige improvisasie kry hy ’n ou radio wat in die berghut was, aan die lewe. Statika, gedruis en gekrap. Die president se stem. Hy gebied almal om vir drie weke in hul huise te bly. So wil die land probeer om die Coronavirus en die Covid-19-pandemie hok te slaan. Die grendelstaat begin Donderdagnag om twaalfuur.

“Watter dag is vandag?” wil sy weet, net voordat die omroeper aankondig: “Dit was dan die president se toespraak vroeër die week.” En die radio se battery die tou opgooi.

“Dis Vrydag,” sê hy rustig.

“Ons hoef seker nie hier ingeperk te wees nie? As die reën net wil ophou, verhinder niks ons mos om terug te gaan nie?”

Die reën hou nie op nie.

“Die wêreld het van ons vergeet,” brom hy deur sy baard. “Het jy nie mense wat ’n soekgeselskap agter jou sal aanstuur nie?”

Sy bloos. “Dit klink corny, maar ek is ’n weeskind. Op ’n studiebeurs. Nie juis tyd gehad om vriende te maak in die stad nie. Praat nie juis meer met iemand in die kinderhuis nie. Waar is jou mense?”

“Ek is ook ’n lone ranger. My ouers is in Namibië, ons praat nie gereeld nie.”

“Die departement se sekretaresse het seker mooitjies vergeet van ons uitstappie,” brom hy.

“Moenie seksisties wees nie. ’n Mens praat deesdae van sekretaris.”

Sy sien die moedeloosheid op sy gesig, sien hoe hy by homself wonder of hy in ’n verlate berghut saam met ’n feminis vasgekeer is. Sy lag.

Eers op dag vyf begin hulle gesels soos bloedverwante wat mekaar dekades gelede gesien het. Die reën het steeds nie opgehou nie. Hy het ’n seil gespan om die ergste neerslag van die stoep weg te keer. Sy het vuurgemaak met die laaste hout. Hy het in die reën, met sy kaal hande of dalk ’n knipmes, ’n haas platgetrek. Sy eet nie vleis nie, maar ’n mens moet oorleef.

Die laaste kers is amper uitgebrand. Kom wat wil, more pak hulle dit terugtog aan. Sy weet intussen soveel van hom, weet dat hy snork en soms ’n hele sin in sy slaap praat. Dat sy oë sag word wanneer hulle op haar rus.

Haar wange smeul en sy dink by haarself dat die liefde ook maar ’n virus is.

PRYSE, PRYSE!

Wanneer alles weer min of meer normaal is, stuur ons die volgende blink boeke aan die wenners van ons kortverhaalkompetisie:

Die wenner, Elsabe Brits, ontvang:

  • Skag deur Jaco Wolmarans (Tafelberg)
  • Bloedsteen deur Irna van Zyl, Penguin
  • As jy van moord droom deur Deborah Steinmair, Lapa
  • Die nag ruik na spoed deur Schalk Schoombie, Protea
  • Tussenganger deur Marius Crous, Protea
  • Oolog, gedigte deur Nathan Tantraal, Kwela Boeke
  • Blydskap, Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe deur Johannes de Villiers, Human & Rousseau
  • In ‘n land sonder voëls deur Harry Kalmer, Penguin
  • Kinders wat moor: Wie se skuld is dit? deur Andre le Roux, Tafelberg

Die naaswenner, Hendie Grobbelaar, ontvang:

  • Die Antie met die Pienk Rok en ander stories deur Jan Spies, Tafelberg
  • Hart tot hart, 366 grootdruk dagstukkies deur Kobus van der Westhuysen, Lux Verbi
  • Anderman se vrou deur Chris Karsten, Human & Rousseau
  • Twee kinders later deur Charme Kriel, Lux Verbi
  • Tronkhond deur China Mouton, Protea

ONS WENNERS: CARIE MAAS & ELMI SMITH

DIE WENNER EN NAASWENNER VAN DIE LIEFDE BENODIG MIN WOORDE IS:

Elsabe Brits met “Stilgelieg”

en

Hendie Grobbelaar met “Eenhonderd perdekrag”.

Elsabe Brits

Hendie Grobbelaar

Lees weer die wenverhale:

Stilgelieg

deur Elsabé Brits

Sy val amper met die uitklimslag. Die spasie tussen die treinwa en die perron voel groter as destyds, toe sy hier moes afklim.

Haar sykouse blink in die oggendson. Sy trek-trek aan haar handskoene, skuif die hoed ’n aks, net om seker te maak dit sit soos Sondae.

Met lang treë, wat pas by haar steeds lenige lyf en statige postuur, stap sy na die stasiekantien. Dit is die enigste stukkie lewe vir myle ver op dié onverbiddelike vaal vlaktes. Dis ook net die trein wat hier stop – al hoe ’n mens deesdae hier kan kom.

Nietemin, dis wat hy gesê het. Kan hulle hiér ontmoet. Hier tussen die stowwerige niks, waar die son jou doodbrand in die dag en die nag saans jaloers sy snerpende beurt neem.

Sy bestel tee. Sluk angstig. Voel hoe sy pakkie briewe en foto’s in haar handsak al swaarder word. Raak vlugtig daaraan met haar hand, maar pluk dit vinnig weg. Tot vanoggend toe, het sy in 40 jaar nie daaraan geraak nie. Dit sou tog nie die bestiering verander het nie. Die lot van liefhê, sonder om ooit te trou of ’n baba van jou eie vas te hou.

Vandat sy afgeklim en kom sit het, het sy nog nie een keer sóóntoe gekyk nie. Vandag is daar glo niks meer oor nie. Daar is net klippe en stukke blik. Grafte, knope en albasters. Dalk moet sy tog maar kyk.

In die verte kan sy die platberg sien. Die een waarna sy elke dag gestaar het, al die lang jare wat sy in die kamp was. Die res is alles weg, maar dit wás daar.

Niemand het ná die tyd gepraat oor die moedeloosheid, die hongersnood, die verraad en die oneer nie. Ook nie oor die vroue wat gek geword het, soos sy nie. Nee, hulle het dit alles ná die oorlog toegelieg. Stilgelieg, sodat almal kon sterk wees.

Dis waar hy haar gekry het, vasgemaak aan die kamphospitaal se bed. Gek van dra aan die oorlog, van verduur. Hy het haar gebalde vuiste losgewoel. Sag het hy haar heelgemaak, liefgehê.

Sy is so diep ingedagte sy hoor hom nie naderkom nie. Sien net die bekende staalblou oë raak toe hy sê: “Nonnie?”

EENDUISEND PERDEKRAG

deur Hendie Grobbelaar

Sy stap huiwerig die kroeg binne, al trekkende aan die nousluitende romp en stywe bloesie. Dan kyk sy vinnig rond en skuif haar moderne ronde bril hoër op teen haar neusbrug en vryf oor haar poniestert, ʼn spierwit roos in haar linkerhand vasgeklem.

Hy sal ʼn swart T-hemp dra met ʼn bekende motorfietshandelsmerk op. Sy het nogal gedink dit klink baie verwaand, maar nou ja. Sy is desperaat. Met haar werk ontmoet sy baie mans, maar hulle sien haar nie as vrou raak nie. Dit is hoekom sy haar aanlynprofiel so effens aangedik het. ʼn Paar goed hier en daar weggelaat het. Sy sal wel later verduidelik. Indien nodig.

Hy sien haar dadelik raak toe sy by die enkele oop stoel voor die toonbank gaan sit. Ten spyte van haar aangeplakte voorkoms, lyk sy so onvanpas in die kroeg soos sy oumagrootjie.

“ʼn Gin en tonic asseblief?” Haar stem bewe effens en haar hemelblou oë is vol valse bravade agter die brilglase. Hy knik en draai om om eers die bier in sy hand by die anderkant van die kroeg voor die bombastiese ou in die Harley T-hemp te gaan neersit. Die ou het egter skoonveld verdwyn en sy buddies aan weerskante trek net hulle skouers op. Badkamer toe, beduie die een en knik na die agterkant van die vertrek toe.

Hy gooi die drankie vir die meisie in en toe hy dit voor haar neersit, sien hy dat sy in ʼn ernstige gesprek is met die twee ouens aan haar linkerkant. Hulle hang aan haar lippe.

“…ek weet jy kan dit op daardie manier doen, maar ek belowe jou, om ʼn crank shaft uit te haal is nie so moeilik soos wat die ouens beweer nie. Jy kan dit binne ʼn paar uur doen as jy weet hoe.”

Sy het haar bril afgehaal en daar het stringe uit haar poniestert losgekom wat nou heen en weer swaai soos sy haar kop beweeg. Daar is ʼn vuur in haar oë en ʼn blos op haar wange.

Dan kyk sy na hom en iets gebeur in sy enjin. Dit voel of hy ʼn kraginspuiting kry en sy kop draai. Iewers in die omgewing van sy hart hardloop ʼn duisend perde teen duisend kilometer per uur.

“Haai Ferdinand, jy moet met hierdie girl gesels, my ou! Sy is ʼn mechanic met haar eie werkswinkel. Jy het mos gesê jy wil daai ou Ford Cortina van jou pa nog eendag laat oordoen?”

Sy snak na haar asem en gryp hom aan die skouer oor die breedte van die toonbank. Daar is ʼn begeerte in haar oë en haar asem jaag. Hy ruik haar parfuum en sy kop duisel.

“Jy het ʼn Ford Cortina?! Wanneer kan ek na haar kom kyk?”

Ferdinand vat haar growwe handjie in sy twee en glimlag skaapagtig.

“Dalk ná my skof vanaand?”

Kortstories argief

  • Die Hont deur Anton Döckel
  • Liefde post mortem deur Elmi Smith
  • Ginger deur Marthe McLoud
  • Eenduisend perdekrag deur Hendie Grobbelaar
  • Stefaans tot die redding deur Riana Wilkens
  • Stilgelieg deur Elsabé Brits
  • If we wait for mountains deur Ora van Droogenbroeck
  • Die geelbladsye deur Ora Droogenbroeck
Lees nou