Warm JFO-winterseisoen hier

deur Paul Boekkooi

Oor die voorspelbare en konserwatief-veilige programmering by feitlik al ons simfonieorkeste, het ons reeds op SKROP se kuberruimte voete gestamp en enkele idees rondgegooi (sien argief). Nagenoeg 80 persent van orkeste se gehore is behoudend. Vir die lede van al vier orkeste se artistieke beplanningskomitees gaan dit eerder oor die hoogste loketinkomstepotensiaal wat bereik sou kon word as oor gehoorontwikkeling. Dít is op die lange duur kortsigtig.

Met ʼn vinnige blik oor die programaanbod van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JFO) se Wintersimfonieseisoen wat vandeesweek in die Linder-ouditorium in Parktown wegspring, is daar tog ʼn paar uiters positiewe aspekte rondom die repertoriumkeuses wat verheug. Die ouer, uiters patriotiese ondersteuners wat die orkes al 19 jaar goedgesind is, sal verbaas en dalk teleurgesteld wees dat hulle in die nuwe seisoen dit sal moet oorleef om nie één keer werke van Beethoven, Rachmaninov of Tsjaikowski te hoor nie.

Veral dié drie komponiste is die stapelvoedsel van die massas: reg so, maar dit gaan immers ten koste van ʼn wyer perspektief op die genot wat ook musiek uit ander tydperke as slegs die Romantiek kan bied.

Hou julle stoele vas: Die Klassieke era is nou ook verteenwoordig deur Mozart en Haydn, terwyl selfs die voorafgaande Baroktydperk  ʼn staanplek kry deur die uitvoering van die gewildste werk óóit wat Vivaldi nagelaat het: Le Quattro stagioni (Die vier seisoene) wat bestaan uit vier vioolconcerto’s waarin die komponis se beeldende fantasie op loop gaan met wat elke seisoen in sy breedste verskeidenheid vir die mensdom beteken.

Die uitvoering hiervan is ʼn eerste vir die JFO. Daar is baie meer aantreklike orkeswerke uit die Barok wat hopelik van nou af op hulle programme sal verskyn – veral welkom wanneer die genooide dirigente met historiese uitvoeringspraktyke vertroud is!

Vandeesweek se Program 1 bestaan uit die Simfonie no. 94 in G majeur, die sogenaamde “Verrassingsimfonie”, van Haydn, die Klavierkonsert no. 2 in g mineur van Saint-Saëns en die Simfonie no. 4 in d mineur van Schumann.

Op die verhoog vir die eerste twee van vier programme, is daar die Japanse dirigent Yasuo Shinozaki wat vir die meerderheid Suid-Afrikaners ʼn  immer gesogte gas is. Saam met hom voor die klavier in die Saint-Saëns concerto is daar die jong Venezolaanse pianiste Edith Peña wat hiermee haar debuut met die JFO maak.

Hierdie konsert word Woensdag-, Donderdag- en Vrydagaand  in die Linder uitgevoer, maar let wel: slegs vir hierdie winterseisoen is die aanvangstyd van die gebruiklike 20:00 na 19:30 vervroeg. Ook die gratis voorafpraatjies deur Deano Maduramuthu van Classic 1027 is vervroeg na 18:30, maar word steeds in die Space Frame foyer aangebied.

Seisoen-subskripsiekaartjies teen verlaagde pryse en enkelkaartjies kan deur Computicket bespreek word, maar is ook vanaf 18:30 by die Linder-loket verkrygbaar.

  • Vir volledige inligting oor die JFO se Winterseisoen, besoek die orkes se webtuiste by jpo.co.za

Labirint & metamorfose

deur Paul Boekkooi

KRZYSZTOF PENDERECKI: La Follia (2013); Duo concertante (2010); Sonate no. 2 vir viool en klavier (1999); Metamorphosen – Concerto no. 2 vir viool en orkes (1992-95). Anne-Sophie Mutter, viool / Roman Patkoló, kontrabas / Lambert Orkis, klavier / Londense Simfonieorkes / Krzysztof Penderecki. Deutsche Grammophon 483 5163 (2 CD’s)

Penderecki word uiteindelik op 85 gereken as die beroemdste onder lewende Poolse komponiste. In sy vroeë beroepsjare, die laat-1950s en die 1960s, is hy as ʼn avant garde-figuur beskou wat musiekkonvensies radikaal in sy soeke na ʼn persoonlike styl wou deurbreek. Dit het nie maklik gekom nie. Die skimme van voorganger-komponiste het aan hom bly vaskleef – iets wat gereeld kritiek van musikoloë ontlok het.

Onder sy mees blywende werke uit dié tydperk wat intussen “klassiek” geword het, is die selfverklarende orkesstuk Threnody to the Victims of Hiroshima, die St. Lukas Passie, ʼn Poolse Requiem, Anaklasis, Utrenja en later ook ʼn Credo, ʼn Magnificat en sy Simfonie no. 3. So vanaf 1970 het Penderecki na melodie teruggekeer. Veral sy skryfwyse van koormusiek is wyd aangeprys, terwyl sy voluit eksperimentele fase intussen vervang is met ʼn styl wat spreek van uiterste geladenheid. Grandiose geluidsontploffings kontrasteer met uiterste verstilling; skreiende chromatiek ding mee met volle klanktrosse wat naas suiwer tonale harmonieë geplaas word.

In vier operas, waarvan Ubu Rex, die mees onlangse (1991) een is, word daar van tyd tot tyd uiters moedig, uitdagend, parmantig en selfs met ʼn sterk satiriese onderbou verwys na mag, terwyl dit met algehele absurditeit alle vorms van korrupsie genadeloos met giftige angels uitlig en bespot.

Die samewerking van bykans drie dekades tussen Penderecki en die Duitse violis Anne-Sophie Mutter toon ʼn kwantumsprong rondom ʼn onkeerbare individuele rypheid wat hom vanaf die vroeë 1990s beetgepak het. Hy het selfs redelik onlangs onthul dat ook hý graag ʼn negende simfonie sou wil voltooi.

Opvallend by Mutter se program is dat al vier werke uit tradisioneel klassieke vormskemas  ontwikkel het: die sonate, ʼn concerto, ʼn duo vir viool en kontrabas, asook ‘n werk vir solo viool in ʼn tema met variasies.

Na die concerto Metamorphosen word formeel verwys as die Concerto no. 2 vir viool en orkes (1992-95).  Penderecki se Concerto no. 1 vir viool en orkes het byna 20 jaar vroeër ontstaan en is opgedra aan Isaac Stern, terwyl dieselfde eer Mutter beskore was met No. 2. By dié werk sluit die komponis hom aan by laat-19de eeuse klanktradisies en Penderecki se motto: “Ou vorms moet verlewendig word om nuwes te kan skep.” Albei concerto’s is eendelig. Die steeds veranderende stemming en ritme vervang as’t ware die tradisionele meerdeligheid. Die orkes se aandeel is groot en deurslaggewend. Die werk is warmbloedig en spreek die luisteraar op ʼn unieke wyse aan. Die virtuositeit is fabelagtig, met forte-dele wat kragtig gekontrasteer word met piano- en pianissimo-dele. Mutter verstom met haar flitsende passasiewerk waarmee al die registers én  tegniese moontlikhede van die viool uitgedaag word. Die komponis is op die podium voor die Londense Simfonieorkes. Hulle besit ʼn dinamiese klankkleur en ondersteun en stimuleer Mutter optimaal.

Met La Follia (2013) vir solo-viool voel dit asof dit ʼn verre Barok-nasaat is wat voluit vir die 21ste eeu bestem is. Met ʼn tema en nege variasies wat uitermate fantasieryk is en met óf die fynste óf in soms dramatiese stemmingskontraste oorgedra word, neem dit geensins lank om met die inhoud vertroud te raak nie.

Duo Concertante (2010) is drie kort dele waarin die violiste en Roman Patkoló met sy kontrabas in ʼn nie-ernstige tweegesprek tree. Trouens, as daar nog luisteraars is wat glo dat Penderecki skaars oor enige sprankies humor beskik, sal hulle na dese hul vooroordele moet sluk. Musikaal gesproke is veerlig (die viool) en loodswaar (die kontrabas) hier voorwaar pasmaats.

In totale kontras hiermee, doen die komponis ʼn enorme beroep op die uithouvermoë van die luisteraar in die Sonate no. 2 vir viool en klavier (1999). Mutter en Lambert Orkis se uitvoering is vol oorgawe, maar ʼn meesterwerk is dit nie, tensy dit die potensiaal het dat dit op enkele luisteraars sou kon “groei”. Soms banaal en galsterig is helaas woorde wat by my opgekom het. Die enigste deel van die bestaande vyf wat my enigsins kon bekoor, was die derde: Notturno. Adagio. Die Andante slot het die aandag momenteel geprikkel, maar dit is gesmoor deur ʼn soort misplaaste pretensie. Hierdie was ʼn labirint waaruit ʼn mens skaars kon ontsnap.

Equus: Om opnuut te glo

deur Paul Boekkooi

Tussen 1973, met Equus se debuut in Londen en nou, het daar 46 jaar verloop. Die wêreld, asook die veranderlike, soms drastiese denkprosesse oor dié tydperk, laat jou met nuut verworwe insigte dieselfde verhoogstuk aanskou.

Die feitelik gebaseerde intrige van die drama staan rotsvas, onveranderlik soos ʼn standbeeld. Maar wat tussen die karakters gesê word en hoe die inhoud van daardie dialoë in ʼn nuwe tydvak geïnterpreteer mag word, kan ’n klemverskuiwing of selfs ʼn gedeeltelike grondverskuiwing tot gevolg hê.

Moontlik is ’n meer tersaaklike vraag: Verteenwoordig die wye spanveld in Equus rondom psigologie, religie, filosofie, die reg en ander etiese vakgebiede nog dieselfde gewig as in ’n vorige eeu? Dra dít wat die dramaturg Peter Shaffer so nougeset neergeskryf het nog dieselfde trefkrag as destyds? Het die mens se uitkyk enigsins drasties verander?

Vir ’n relatief verhelderende antwoord hierop kan aangehaal word uit ‘n huldeblyk aan Shaffer deur Bruce Weber en Robert Birkvist in The New York Times, 6 Junie 2016 – die dag van sy heengaan:

“Though the play (Equus) drew much praise – ‘stunning’, Walter Kerr called it in The New York Times – it also courted controversy. A few amateur shrinks (that is, critics) offered a variety of interpretations, including that the play was about closeted homosexuality – a suggestion that especially flummoxed Mr. Shaffer – and professional ones complained about the portrayal of their profession”. ’n Oorloggie van omstredenheid het vir ’n kort rukkie in die lug bly hang…

Die jongste plaaslike produksie van die stuk is meesterlik in dié sin dat dit die grootsheid van die oorwegend nie-fiktiewe gegewe heg en geïntegreerd weergee. Niks doen as synde verouderd aan nie. Terwyl die stuk handel oor twee mans, die psigiater Martin Dysart (Graham Hopkins) en sy tienerseun-pasiënt, Alan Strang (Sven Ruygrok), slaan die stem van die dramaturg deurlopend in die terapiegesprekke deur. Hulle is soms driftig, genuanseerd, maar weerspieël meestal ’n ondertoon van broosheid.

’n Uiters treffende stelling kom in die tweede bedryf voor wanneer Dysart vir Hesther Salomon (Cassandra-Tendai Mapanda) met vertwyfeling sê: “Can you think of anything worse one can do to anybody than take away their worship?” Hiermee kon Shaffer netsowel met die 21ste eeuse mens in gesprek tree. Dit raak aan ’n sentrale leitmotief in die drama.

Fred Abrahamse, die regisseur en beligtingsontwerper, het ’n sterk konsepsionele eenheid in sy regieplan nagestreef, verkry deur die stel- en kostuumontwerpe van Marcel Meyer, die bewegingschoreografie van Marc Goldberg en Charl-Johan Lingenfelder se musiek.

Dat mans en vroue met soms verstommende bewegings die perde “lewe” laat kry, is by geen vorige plaaslike professionele opvoering van Equus bereik nie. Ook die spanningvolle geladenheid in die interaksie tussen mens en perd is hier meer tasbaar as by vorige produksies. Die toneel waar Strang die ses perde verblind, wek afsku.

Nog meer indrukwekkend was die prestasies rondom die karakterryke inlewing deur die hoofspelers, met Graham Hopkins aan die spits met ’n karakter wat sy eie krisisse beleef en dit met wyd aangewende stemmodulasies en gesiguitdrukkings verinnerlik het. Sven Ruygrok is byna sy eweknie – veral so in die tweede bedryf. Ongelukkig moet Maggie Gericke as Dora Strang nog deeglike stemprojeksie onder die knie kry.

Equus deur Peter Shaffer. Pieter Toerien-teater, Montecasino. Tot 26 Mei.

Draai die stilteknoppie oop

Kobus Burger skryf oor:

Ses dae van my week begin met ʼn beker koffie of suurlemoenwater – iewers het ʼn gesondheidsghoeroe dit aanbeveel. Maar die sewende dag behoort aan ʼn afgetrede Amerikaanse radioveteraan wat in Seattle woon.

Elke Sondagoggend lê tussen 45 en 50 minute van Nick Francis se weeklikse radioprogram QuietMusic in my MixCloud (toep) en wag. Half deur die slaap prewel ek nou al slaafs die woorde saam … “Time to slow things down … turn up the quiet”.

Dan volg Francis (ʼn jazzfanatikus) se eklektiese mengsel van musiek wat wissel van ambient, lounge, elektronika en jazz tot instrumentale musiek en swewende esoterika.

Danksy Francis het ek al ʼn imposante gerf nuwe musiek op my ontdeklysie, soos die Yslandse duo Kiasmo, die Amerikaanse musikant en produksieleier Tycho (alias Scott Hansen) en die klaviertrio GoGo Penguin van Manchester.

QuietMusic is vanjaar ‘n kwarteeu oud, al het dit al meer as dertig jaar gelede ontstaan en verskeie ander name gehad. Gaan lees gerus meer op www.quietmusic.com oor hoe ʼn fassinerende kronkelpaadjie Francis en sy radioloopbaan geloop het.

Francis is intussen afgetree nadat hy vir lank die musiekdirekteur van KNKX-FM, ʼn openbarediensradiostasie, was en ook op ʼn stadium hoof van programmering van die aanlynstasie Jazz24.org. Hy is egter nou die aanbieder én vervaardiger van Quietmusic waarvan die volle drie ure op sy webblad gepubliseer word. Teen $5 (sowat R72, afhangend van die wisselkoers) per maand kan jy die volle drie uur lange program (en die volledige speellys) aflaai of aanlyn stroom.

Francis is allermins ʼn pronkperd wat met sy musiekkennis probeer spog. Hy klink eerder soos ʼn passievolle vriend wat deur sy plateversameling krap en die een rare juweel na die ander afstof. Die afgelope week se program was ʼn soomlose klanklandskap bestaande uit Thievery Corporation, Aretha Franklin, Sade, Rodrigo & Gabriela, St. Germain, Liz Story en die Duitse pianis Lambert.

Francis is getroud met die fotograaf Sharon Styer, wat die foto hiernaas van hom geneem het. En as jy op YouTube gaan soek, sal jy musiekvideo’s raakloop waarin hy “mashups” speel op ʼn selfontwerpte masjien met musiekgrepe van onder andere John Coltrane, The Police en Branford Marsalis. [Soek vir “A Loop Supreme” Live / Mashup on The Choppertone”.]

Nodeloos om te sê daar is nie ʼn enkele advertensieklingel tydens QuietMusic nie en Francis groepeer die snitte soms so drie-drie saam sodat die musiek die praatwerk doen.

Vir jare lank is my Sondae nou al sinoniem met Nick Francis en sy QuietMusic. Heimlik hoop ek dié musiekreus  draai vir nog ʼn kwarteeu die stilte-knoppie van sy skatkis harder, want glo my, hy het geen gelyke nie.

ʼn Visionêre Russiese tjellomeester

deur Paul Boekkooi

Edward Elgar (1857-1934), die selfgemaakte Victoriaanse man wat tot diep in die Eduardiaanse tyd in Engeland geleef het, se Tjellokonsert in e mineur, opus 85 is welsprekend en suggereer en weerspieël iets van die aandskemering van die Britse ryk. Met ʼn nostalgie wat veral in die twee Adagio-dele die hartsnare aanraak omdat dit – so kort ná die tragedie van die Eerste Wêreldoorlog –  inderwaarheid en ook letterlik sy afskeids-ode is aan ʼn tyd wat vir altyd verby sou wees. Dié werk se buitengewoon aandoenlike melancholiese karaktertrekke enersyds en die Allegro molto se kwiksilweragtige briljantheid andersyds, is deur die passieryke uitvoerings en opname daarvan deur die legendariese Jacqueline du Pré, in luisteraars se bewussyn ingegrif.

Haar siening is geensins die enigste geldige een nie. Nabootsers struikel in elk geval in hulle pogings. Vir ‘n vars beredeneerde en oortuigende visie is daar altyd ruimte – soos op 29 Mei bewys is deur die Russiese tjellis Alexander Ramm saam met die Johannesburgse Filharmoniese Orkes onder leiding van  Yasuo Shinozaki in die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Ramm is ‘n veelbekroonde meestermusikus met onder meer ʼn tweede prys in Unisa se Strykerskompetisie (2010) en ʼn silwermedalje in die Internasionale Tsjaikowski kompetisie in Moskou (2015).

Sy uitvoering was gelaai met ʼn detailryke beligting van die partituur. Geen konvensionele vertolkingsmaniërismes het ingesluip nie. Alles het nuutgemunt geklink op ʼn vlak wat ek nog nooit tevore in ʼn lewende uitvoering daarvan kon ontdek nie. Ramm konsentreer veral op ʼn dinamies-vloeiende seggingskrag wat ryp kontraste na vore bring. Dit is ook duidelik sigbaar (en hoorbaar!) dat hy die vertolking in groot detail vooraf met die dirigent bespreek en ontleed het. Hulle kommunikasie was haarfyn en intens. Die orkes het wakker daarby aangesluit. Al is dit kort kennisgewing, kan ʼn mens dié uitvoering, wat op 30 Mei om 19:30 herhaal word, nie hoog genoeg aanbeveel nie. Gaan luister – veral ook omdat die uitvoerings van die ander werke, Weber se ouverture tot Der Freischütz en Sibelius se Simfonie no. 1 in e mineur, opus 39, eweneens voortreflik is.

Ramm, wat sopas sy konserttoer deur die land begin het, tree vir die komende paar weke nog by die volgende plekke op:

Saterdag 1 Junie om 16:00: Miriam Makeba konsertsaal, Unisa, Pretoria. Werke van Beethoven, Britten, Tsjaikowski en Chopin, met Bryan Wallick, klavier.

Sondag 2 Junie om 16:30: Endler-saal, Stellenbosch. (Dieselfde program)

Maandag 3 Junie om 19:30: NG Kerksaal, Knysna. (Dieselfde program)

Donderdag 6 Junie om 19:30: Stadsaal, Durban. Elgar se Tjellokonsert met die KZN Filharmoniese Orkes en Yasuo Shinozaki (dirigent).

Donderdag 13 Junie om 20:00: Stadsaal, Kaapstad. Prokofjef se Sinfonia Concertante met die Kaapse Filharmoniese Orkes en Arjan Tien (dirigent).

Saterdag 15 Junie om 15:00: Baxter-teater, Kaapstad. Dieselfde program as 1 Junie.

Job in die Goudstad

deur Paul Boekkooi

Alles wat oor eeue oor Job in die Ou Testament geskryf is, waarborg ʼn sonderlinge, bevredigende en boeiende ervaring vir elke konsensieuse leser. Dié boek, alleenstaande wat styl, inhoud en aanbieding betref, plus die digterlike taal, sterk dramatiese gegewe – die opstandigheid van Job teenoor sy God, die konflik en onderhandelinge tussen die Here en Satan rondom Job se lot – het wyd neerslag gevind. Dit was geensins slegs beperk tot teologie en eksegese nie, maar het ook in die letterkunde, filosofie, die sedeleer, sielkunde en ander dissiplines en denkrigtings na vore gekom. Die kern van al dié prosesse wentel om die begrip “teodisee”, wat die HAT verklaar as die “verdediging van die goedheid/almag van God, gesien in die lig van die bestaan van die bose”.

Dit na aanleiding van die verhoogstuk Jobe wat tans in die Auto and General Theatre on the Square in Sandton opgevoer word. Aangepas vanuit die oorspronklike bron deur Teboho Sengoai en geregisseer deur Josias dos Moleele, is die stuk redelik verbeeldingryk in ʼn eietydse Johannesburg geplaas, met ʼn verhoogstel en kostuums wat nouveau riche voorwerpe meng met soms kitscherige Afrika-artefakte. Die kernuitgangspunt word só in die program verwoord: “Why do bad things happen to good people? When life is going smoothly, faith is easy. The test of faith always comes when life stops making sense.” Pronto!

Jobe (Muzi Mthabela) en sy vrou, Princess (Mogau Paulina Motlatswi), is as ʼn mens hulle liggaamstaal takseer, gelukkig en geheg aan mekaar. Hulle koer en kan hulle hande nóg stil nóg tuis hou. ʼn Nuwe motor, in die klas van ministers en politici s’n, kom ter sprake. Die hoogheilige tweetjies oorweeg ook die aankoop van eiendom omdat dit so ʼn goeie belegging is. Princess lig Jobe terloops in dat ʼn dakwoonstel van die Michelangelo Hotel in Sandton te koop is …

Van hier af konsentreer die skrywer en regisseur op Jobe se sinies-gevoellose vriende se reaksies op die paartjie se dilemma. Op allerlei maniere tref ongelukke en ongelukkigheid hulle. Daar is by tye tekens van venynig-humoristiese tussenwerpsels en heelwat aktiwiteit op die verhoog, maar daar is weinig te vinde van ʼn ontluikende subteks in dié gebeure wat enigsins met die Bybelgedeeltes verband hou.

Die produksie verloor fokus, terwyl ʼn klankbaan met Joodse gesange wat so dawerend weergalm dat jy die dialoog by tye kwalik kan volg, heelwat van die belangrike aspekte en detail van die oorspronklike verhaal se doel in die niet laat verdwyn. Met die afgelope Sondagmiddag se opvoering het die gehoor dit skaars gesnap toe die einde aanbreek.

Hier’s nog baie werk wat wag.

  • Jobe, aangepas deur Teboho Sengoai. Auto & General Theatre on the Square, Sandton. Tot 15 Junie.

ʼn Byna geslaagde Vivaldi

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Robert Moody (dirigent) en Ye-Eun Choi (viool); Die Vier Seisoene (Vivaldi); Simfonie no. 3 in F majeur (Brahms)Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Antonio Vivaldi (1678-1741) was ‘n Barokkomponis by uitnemendheid: kreatief, fantasieryk, asook kwalitatief uiters produktief. Sy Vier Seisoene waarmee sy Opus 8 open, het ʼn wêreldbestormende treffer geword toe dit uiteindelik in die vroeë na middel- 20ste eeu herontdek is. Vandag is dit  universeel gesog. Elke kamerorkes met vernuf voer dit uit, verwerkers met oorspronklikheid – en helaas ook húlle daarsonder – laat dit op alternatiewe wyses opklink. En nou, vir die eerste keer in sy bestaan van 19 jaar, het die JFO hulself uiteindelik tot Vivaldi se magnum opus gewend.

Met ʼn behoorlik uitgedunde strykerskomponent en John Coulter voor die klavesimbel (skaars hoorbaar) en met die orkesopstelling van verlede week wat merendeels behou is vir die Vivaldi- én Brahms-uitvoerings, was die verwagtinge hoog dat ons ʼn histories redelik ingeligte uitvoering sou beleef. Daaraan  is merendeels voldoen – veral danksy Ye-Eun Choi as vioolsolis en die dirigent Robert Moody se inspirerende insette wat oorkoepelend musikaal boeiend was, maar in geïsoleerde onderdele soms minder so.

Hierdie jaargetye in aardse klanke handel nie oor pastorale illusies nie, maar betrek gewone mense: Italiaanse boere wat hul boerbokke wei, mense wat die taal van voëls verstaan en deur insekte gepla word, wat jag, suip en in die middaghitte wegdommel. In die winter skaats hulle of sit mymerend by ʼn vuur. Sulke situasies eis subtiel uitgebeelde musikaliteit en verbeelding. Hier is dit slegs gedeeltelik teenwoordig. Die dansagtige dele kan meer ligvoets wees, terwyl die Presto uit die Somerkonsert ontsier word deur momenteel slordige ensemblespel en ‘n gejaag na die einde toe.

Benewens ‘n skitterende tegniek, het Me. Choi ook minder gelukkige oomblikke beleef – veral waar grofheid in haar spel insluip. Nogtans was daar heelwat om te waardeer, soos haar smaakvolle ornamentasies. Moody se beheer oor die ensemble was nie vlekkeloos nie, maar in die Largo– en Adagio-dele was die fluisterende pianissimo’s te midde van verfynde dinamiese skakerings uiters verkwikkend.

In Brahms se Simfonie no. 3 in F majeur, opus 90 is die dirigent se interpretasie gekenmerk deur outoriteit vir die komponis se wense, en die handhawing van ideale tempokeuses, asook ‘n ewewigtige siening van die werk se innerlike krag. Die klankewewig tussen alle instrumentale groepe het homogeen na vore gekom. In die openings-Allegro con brio waar die herhaling verrassenderwys wél gehoorsaam word, vereis die fors- en felheid ietwat meer beklemtoning om ʼn meer dramatiese effek te verseker. Die Andante was gepas liries, hoewel die klimaks waar die strykers die leiding neem, net te ondervoed was. Hierna word die immer meevoerende Poco allegretto wel met orkestrale warmte gevul, maar die melodiese kontoere se frasering kan sterker belig word. Die Allegro-finale besit die gewenste stukrag, terwyl die rustige slot deur Moore se detailryke beheer ʼn bykans vertroostende en ʼn perfek afsluitende effek in die gemoed vestig.

  • Herhaling: Vanaand, 13 Junie, om 19:30. Kaartjies: Computicket, of van 18:30 by die Linder-loket.

Musiek van volgroeide wonderkinders

deur Paul Boekkooi

Die programmering van simfoniekonerte is ʼn fyn kuns. Indien dit met kennis, oorleg en estetiese voldoening aangepak word, kan dit invloedryk wees en ʼn blywende nawerking op gehore hê. Vandeesweek bied die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JFO) slegs die werk van twee komponiste in die Linder-ouditorium in Parktown op 5 en 6 Junie om 19:30, aan: Wolfgang Amadeus Mozart en Felix Mendelssohn. Die aanbod is nie opsigtelik temagedrewe nie. Want daar is die standaardformule van ouverture, concerto en simfonie. Die musiek se styl is onderskeidelik Klassiek en Romanties.

Tog is daar ʼn dinamiese dimensie wat oorkoepelend bykom: albei komponiste was wonderkinders in die mees letterlike sin van die woord en albei het relatief vroeg gesterf – Mozart in die ouderdom van 35 en Mendelssohn op 38. Iets wat maklik uit die oog verloor word, is dat hulle binne ʼn kreatiewe gesinsverband ontwikkel het waar huismusiek beoefen is. Mozart se pa was behalwe violis ook ʼn komponis, terwyl Mendelssohn se vier jaar ouer  suster, Fanny, ʼn bekende pianis en komponis was.

Op die JFO se program, gedirigeer deur die Nederlander Arjan Tien wat al vir ruim 20 jaar gereeld deur Suid-Afrikaanse orkeste uitgenooi word, verskyn Mozart se Ouverture tot Die huwelik van Figaro en die Klavierkonsert no. 23 in A majeur, K. 488. Met laasgenoemde tree die Britse pianis van Ghanese ouers, Sodi Braide, as solis op.

Albei werke is in 1786 gekomponeer – ʼn jaar waarin Mozart se skeppingskrag, slegs vyf jaar voor sy afsterwe, opvallende nuwe hoogtes bereik het. Dié A majeur concerto was die voedingsbron vir die laaste vier klavierkonserte wat hy sou voltooi. Hulle het aan hom sonder twyfel die eretitel van “vader” van die klavierkonsert, soos wat ons dié oeuvre tot vandag toe ken, besorg. Geestelike besieling en tegniese afgerondheid het daarna in sy oorblywende klavierkonserte ewewigtig hand aan hand geloop.

Ná pouse volg die sogenaamde “Skotse” Simfonie van Mendelssohn – die No.3 in A mineur, Opus 56 wat oor ʼn tydperk van 13 jaar, tussen 1829 en 1842, gekomponeer is. Enorm kontrasryk en boeiend, meesterlik georkestreer en gelaai met beeldende musiek – vanaf hoogs verfynd, deur episodes wat programmaties is omdat dit landelike voorstellings in musiek weerspieël, tot by ʼn storm – is hierdie sonder twyfel sy mees meevoerende orkeswerk.

Ontmensliking op sy kruuste

deur Paul Boekkooi

Ek skryf hierdie resensie in die eerste persoon en sonder aansien des persoons. Ek draai geen doekies om nie. Ek is net so kaal en dalk selfs meer weerloos as die sewe naak akteurs op die Markteaterverhoog. ʼn Voordeel is dat ek níé op daardie verhoog hoef te staan of doen wat die dramaturg en regisseur aand na aand van hulle verwag nie.

Die Rypmaakkamer is ʼn Afrikaanse vertaling deur regisseur Frans Swart van die Amerikaanse dramaturg David Ian Lee se The Curing Room. Dit beeld die tragiese werklikheid van sewe Russiese soldate uit wat in 1944 deur die Nazi’s gevange geneem en nakend in die rypmaakkamer van ʼn Poolse klooster gegooi is. Daar was geen kans op ontsnapping nie, die enigste deur is van buite gegrendel.

Ná ʼn blitsige eksposisie volg die sentrale riller-drama; sewe mans staar sonder hoop hul sterflikheid in die gesig. My gedagtes dwaal veertig jaar terug na ʼn dramakunde-klas waar prof. Louw Odendaal die “Teater van wreedheid” (Theatre of Cruelty) bespreek het. Ons “Bybel” was Allardyce Nicoll se World Drama (1976), waarin slegs vier verwysings voorkom, soos dié een: The so-called ‘theatre of cruelty’ has attracted a number of young authors – perhaps largely through the influence of Peter Brooke, who became an ardent admirer of (Antonin) Artaud’s philosophizings, particularly those which proclaimed the theatrical spectacle as a means of releasing man of his inner tensions and of forcing him to see himself morally and psychologically ‘naked’. Teen die middel-1960s het dié denkrigting doodgeloop. Die Rypmaakkamer gryp skokkend terug daarna.

Lefra-produksies reik hiermee na die uiterste teenpool van die ver-Afrikaanste klugte waarvoor hulle bekend is. Ons ervaar die krag van teater op sy mees weersinswekkende. Vir my roep dit aspekte van Lord of the Flies (William Golding) op – net nog erger, intenser en skokkender: die rudimentêre hiërargiese seleksie – tipies Darwiniaans – en in Lee se drama val die klem sterker op ʼn oorlewingstryd. Swart se rolbesetting is oordeelkundig gekies en oortuig merendeels. Dit verg konsentrasie om ʼn volronde begrip van elke karakter te vorm omdat die teks suggestief met inligting omgaan.

Benewens ʼn hegte ensemblegevoel is daar by elke speler individualiteit waarbinne hul karakters gedy. Een voorbeeld hiervan is Gregg Pettigrew as Weerman Nils Sukeruk. In ʼn sterk monoloog laat sy verwysings na sy geliefde vrou Ludmilla oomblikke van helder lig deurskemer. Zack Mtombeni het kompleksiteit en ironiese humor as Weerman Yura Yegerov oorgedra. Die orige spelers blink veral in konfliktonele uit en die talle gevegsekwense is uiters realisties gechoreografeer. Van die akteurs se stemprojeksie kan verbeter. Die taal pas presies by dit wat uitgebeeld word. Die vervaardigers van die prosteses het alles hiperrealisties verwesenlik.

Die Rypmaakkamer is beslis nie vir sensitiewe teatergangers nie. Ek het die uitgebeelde kannibalisme onverteerbaar skokkend gevind, en die gebruik van bebloede mensbeendere as “wapens” selfs meer.

Intieme hotel-intriges

deur Mariana Malan

ʼn Kroeg in Tokio in die 1960s verplaas goed na een in ʼn spoghotel in Kaapstad vandag. Tennessee Williams se The Day on which a Man dies is radikaal verwerk na In the Bar of a Tokyo Hotel.

ʼn Gefolterde kunstenaar worstel met nuwe denke en verwarring. Sy gefrustreerde vrou brand van begeerte en wonder angstig wat haar man se verlore reputasie aan haar lewenstandaard gaan doen. Mark (Marcel Meyer) drink en strompel met verfbesmeerde klere rond terwyl Miriam (Melissa Haiden) haar bates in skrapse Japanse uitrustings vertoon. Sy flankeer met die beskroomde kroegman (Loreto Cabrera) terwyl sy wag op haar man se agent (Matthew Baldwin) om van Amerika af te kom. Sy koms en kil hantering van sake bied geen oplossing nie. Tragedie volg en bied ʼn ongemaklike vryheid waarna Miriam gesmag het, maar die afloop anders sou verkies het.

Die stuk is geïnspireer deur die kunstenaar Jackson Pollock en sy muse. In die klein opset van die kroeg langs die swembad van die Vineyard Hotel (Nuweland, Kaapstad) is die gaste wat aansit sowat ʼn meter van die spelers af. Die intimiteit raak soms ongemaklik. Tog is dit nie naastenby so intiem soos die eerste twee van Abrahamse en Meyer se vorige hotel-produksies van Williams-werke nie.

Die eerste keer, in Talk to Me Like the Rain and Let Me Listen en Green Eyes, was gehoorlede letterlik in twee paartjies se slaapkamers waar elke emosie rou uitgespeel is en klere bysaak was. Die tweede keer, in A Perfect Analysis Given By A Parrot en The Remarkable Rooming-House of Mme. LeMonde, is amper sadistiese humor op die gehoor losgelaat,

Vanjaar se stuk bied aan Haiden elke moontlike geleentheid om haar aansienlike voorkoms en speeltalent te vertoon. As die middelpunt orkestreer sy gebeure en laat die gehoor aan elke woord uit perfekte rooi lippe hang.

Soos by vorige geleenthede word ʼn driegangmaal as deel van die teaterondervinding aangebied en geregte word afgewissel met drama.

Abrahamse en Meyer stel reeds geruimte tyd Williams se werk aan plaaslike gehore voor en beïndruk gehore oorsee in New York, London, New Orleans, Provincetown en St. Louis. Hulle het onder meer Kingdom of Earth, The Milk Train Doesn’t Stop Here Anymore en One Arm opgevoer.

Williams (The Glass Menagerie, A Streetcar Named DesireCat on a Hot Tin Roof) het sowat vyf dekades meestal in hotelle gewoon. Hy het verskeie kort stukke geskryf wat in hotelkamers afspeel, en dit word die afgelope dekade wêreldwyd as The Hotel Plays aangebied.

Puik jonger geslag pianiste tree aan

deur Paul Boekkooi

Volgens die gesaghebbende Alink-Argerich Stigting, met Gustav Alink en Martha Argerich onderskeidelik as direkteur, beskermvrou en mede-stigters van dié onafhanklike wêreldwye inligting- en dienssentrum vir musici en kompetisies, word daar jaarliks internasionaal ruim 350 ernstige klavierkompetisies op vyf kontinente gehou. Bykomend bestaan daar in talle lande ook nasionale klavierkompetisies waaraan slegs burgers van daardie lande mag deelneem. Ons eie Unisa Internasionale Klavierkompetisies het in 1982 tot stand gekom deur die visie van Prof. Hennie Joubert, bygestaan deur sy assistent John Roos wat ná eersgenoemde se dood die leisels by hom oorgeneem het.

Die afgelope naweek het die sesde Unisa Nasionale Klavierkompetisie ten einde geloop. Agt pianiste, vier mans en vier vroue tussen 20 en 28 jaar oud, het aan die klassieke afdeling deelgeneem, Ses manlike jazzpianiste tussen 21 en 28 jaar het in die jazzkategorie kragte gemeet. Die prysgeldbedrag vir die algehele wenners in albei die kategorieë beloop R75 000, terwyl die tweede pryswenners R45 000 ontvang het. Daar was ook ses spesiale pryse van R3 500 elk wat aan kandidate in die drie voorafgaande rondes in spesifieke repertorium uitgeblink het, toegeken is. Die algehele wenner in die klassieke kategorie was Willem de Beer van Pretoria, en die naaswenner was Lezanti van Sittert, ook van die Jakarandastad.

Prof. Karenda Devroop het na die aftrede van John Roos artistieke direkteur van Unisa se musiekkompetisies geword – ʼn taak wat hy met uiterste professionaliteit en geesdrif  bly volvoer. Dit is ook hy wat die jazzkomponent kort ná sy aanstelling aan die klavier- en sangkompetisies toegevoeg het om aan ʼn lank bestaande behoefte te voldoen. Die toevoeging van jazz het veral by jong oorsese jazzpianiste aanklank gevind. Hul deelname aan 2015 se Unisa Internasionale Klavierkompetisie het Suid-Afrikaners bewus gemaak wat ware internasionale jazzstandaarde behels. Vanjaar het Thabiso Mfana (25) die prysgeld van R75 000 ontvang en Ntando  Ngcapu (28) was tweedepryswenner en die ontvanger van R45 000. Albei is van Pretoria.

Die kompetisie is oor vier rondes deur twee uitsoek-beooordelaarspanele plus ʼn skadupaneel geëvalueer. Die peil van die onderskeie kompetisies was hoog – moontlik by die klassieke afdeling nog meer so as by die jazz. In die klassieke afdeling was daar veral vier belowende pianiste wat nie die finale ronde(s) bereik het nie: André Breet, Rosemarie Lemmer, Jolandi Schaap en Sulayman Human. Hul musikaliteit was dikwels op ʼn hoë inspirasievlak, al was hul tegniese beheer by tye nie op ʼn vlekkelose peil nie.

Die vier hoofpryswenners, almal Pretorianers, het die hoofstad trots gemaak. Willem de Beer en Thabiso Mfana se onderskeie oorwinnings stel hulle in staat om sonder oudisies aan die komende Unisa Internasionale Klavierkompetisie in Februarie 2020 deel te neem.

Knetterdanse laat die vonke spat

deur Mariana Malan

Die as moet waarskynlik aan die einde van die aand van die verhoog af gevee word. Die titel, Burn The Floor – The Rebel Tour, beloof dat die vonke gaan spat, maar niks berei jou voor op die vurigheid van hierdie dansproduksie nie.

Enigeen wat al na baldanse gekyk het, weet dat die dissipline en vaardigheid van die dansers betower. Die dansers van dié produksie neem dit egter ʼn stap of wat verder met passies wat aan die onmoontlike grens en die adrenalien laat pomp.

ʼn Energieke vertoning van baldanse is in 1997 by Elton John se 50ste verjaardagparty in Londen aangebied. Hier het die vervaardiger Harley Medcalf die potensiaal van baldanse met ekstra woema raakgesien. Die eerste Burn the Floor het in 1999 in Londen geopen en dit het puriste in hul borstrokke laat bewe, maar deure is oopgegooi vir almal wat die tango, wals, cha-cha, samba of jive in die oortreffende trap wou sien.

Tien jaar later het die produksie meer as 60 stede wêreldwyd besoek. Die huidige seisoen (tans in Kaapstad, gevolg deur Johannesburg en Durban) ʼn produksie wat nie misgeloop mag word nie.

Die internasionale rolverdeling kom van onder meer Italië, Australië, China en Engeland. Daar is drie Suid-Afrikaners in die rolverdeling – die danser Kylee Vincent, die vroulike hoofsanger Lelo Ramasimong en die perkussiespeler Mike Swaga. Die regisseur en choreograaf is Peta Roby.

Daar word gedans op maat van onder meer die musiek van James Brown, Aretha Franklin, Frank Sinatra, Janis Joplin en Led Zeppelin. En dan is daar die bruisende herbeskouing van Carmen (Bizet) en selfs Carl Orff se O Fortuna.

Dis ʼn uitdagende produksie. Moet net niks tuis probeer doen wat jy op die verhoog gesien het nie.

  • In die Baxter-teater, Kaapstad tot 17 Augustus; Theatre of Marcellus, Emperors Palace, Johannesburg, 22 Augustus tot 8 September; Sibaya Casino, Durban, 12 tot 29 September. Bespreek by Computicket.

Ander invalshoeke op die ‘Bard’ se R&J

deur Paul Boekkooi

William Shakespeare se werk is klassiek, universeel, uniek, maar veral ook aanpasbaar. Wanneer nuwe tydsgewrigte ánder benaderings en interpretasies rondom ‘the Bard’ – sy bynaam, oorspronklik Kelties en wat verwys na ʼn volksdigter – sou begin vereis, word so iets vanselfsprekend ʼn opsie. Helaas word daar in ons tyd gereeld rondom Shakespeare geknoei, gepeuter of  gemanipuleer, sodat die uitgangspunt van sy temas só belig word dat dit dusdanig in diens kan staan van bv. politiese ideologieë wat in die dramaturg se tyd hoogstens hersenskimmig sou kon wees.

In Montecasino se Pieter Toerien-teater het die afgelope Sondag ‘n produksie van Shakespeare’s R&J  in ʼn bewerking deur Joe Calarco en spelleiding deur Fred Abrahamse geopen.  Calarco is ʼn Amerikaanse dramaturg, verwerker van bestaande dramas en regisseur wie se Shakespeare’s R&J vir ʼn seisoen van ʼn volle jaar in New York opgevoer is. Die oorspronklike teks van Romeo and Juliet is aansienlik verkort, alhoewel die vermoede sterk is dat Calarco enkele aanhalings uit Shakespeare se sonnette asook letterlik een uit A Midsummer Night’s Dream ingevoeg het. ʼn Riemtelegram doen  die rondte dat beplande besoeke aan dié produksie deur leerlinge van sekere plaaslike skole afgelas is toe bekend word dat die rol van Juliet en ander vroue soos Lady Capulet en die verpleegster deur manlike akteurs gespeel word. Die hoop beskaam nie dat ons opvoeders immers wéét dat hulle in die Bard se tyd ook deur mans gespeel is nie…

Vier jong akteurs, almal koshuisbewoners van ʼn Katolieke skool in die 1950s, speel die volgende rolle: Matthew Baldwin is Romeo, Tailyn Ramsamy is Juliet en Benvolio, Dean Balie is Mercutio, Lady Capulet en Friar Laurence, terwyl Jeremy Richard te sien is as The Nurse, Tybalt en Balthasar. Hulle is verbied om R&J te lees, maar gedurende die middernagtelike ure in hul slaapsaal doen hulle dit wél. ʼn Proses van selfontdekking neem sy loop. Tienerdrifte en -drange word nog met ʼn mate van skaamte gesublimeer. Oor tyd lig die aanvanklike ongemak wat hulle teenoor mekaar voel om plek te maak vir versigtige kameraderie.

Abrahamse se regiekonsep staan stewig. ʼn Flinke tempo word gehandhaaf, daar word jeugdig en vlot beweeg en die dialoog word duidelik gevolg, behalwe wanneer die akteurs hul stemme na die agterkant van die verhoog draai. Minder oortuigend is die feit dat, vanweë die vier seuns se strenge verbondenheid met die teks, dit hulle daarvan weerhou om te suggereer dat hulle ook as individue daarin slaag om te groei. Bykomend hiertoe werk die suggestie dat hulle deur hierdie Romeo and Juliet -teks deeglik te ontleed ʼn regstreekse roete na hul manlikheid sou kon ontdek, is uiteindelik teenproduktief en skaars volgens die reëls van ʼn logika van wat mág of kán gebeur.

  • In Pieter Toerien se Montecasino-teater, tot 8 September. Kaartjies: Computicket.

Kwartet op hoë vlak van wasdom

deur Paul Boekkooi

Die hopelik tydelike ontbinding van die Evolution of 4-Strykkwartet het Gauteng spesifiek maar ook die land musikaal gesproke heelwat armer gelaat. ʼn Strykkwartet as musikale entiteit is ʼn uiters uitdagende eenheid, maar ook gevoelig vir verandering. Van die beroemdste kwartette in die geskiedenis – die Russiese Borodin-kwartet, die Oostenrykse Alban Berg-kwartet en die Quartetto Italiano (om slegs drie uit ʼn paar dosyn internasionale top-name te noem), het merendeels hul roem te danke aan die lojaliteit oor dekades wat van hul lede geopenbaar het. By die Borodin het dit selfs oor geslagte gestrek.

Met die Evolution of 4-kwartet – Johanna Roos (eerste viool), Ané van Staden (tweede viool), Valery Andreev (altviool) en Jessica Bailey (tjello) – se afskeidskonsert op 4 Augustus by Mooibly, naby Saartjiesnek in die Noord-Wes provinsie, het die gehoor hulle waarskynlik op die hoogste vlak van wasdom in die ongeveer agt jaar van hul bestaan ervaar. Beethoven se Kwartet no. 8 in E-mol majeur, opus 59 no. 2 (Razumovsky), en Dvorák se Kwartet no.12 in F majeur, opus 96 (Amerikaanse) is uitgevoer.

In die Beethoven was dit veral ʼn dramatiese spanningslyn wat reeds met die (vir daardie tyd) vreemde openingsakkoorde gevestig is. Ook die latere misterieuse episodes in die openings-Allegro is voortreflik voorgedra. In die daaropvolgende Molto adagio het hul oorwegend liriese instelling ʼn meer as gewenste indrukwekkendheid daaraan verleen. In die Allegretto en veral ook die Presto-finale wat met ʼn aansteeklike veerkragtigheid gelaai was, het spelkwaliteite soos die ferm stokvoering van al vier musici ʼn deels ontspannende, gevoelige, maar waar nodig ook ʼn vurige temperament openbaar. Kontraste tussen forte en piano is op die mees natuurlike wyse gevestig, terwyl een van Beethoven se mees karakterryke gebruike, naamlik ʼn kort crescendo wat lei na ʼn skielike pianissimo, immer met ʼn ingebore musikale natuurlikheid uitgebeeld is.

Die kwartet was duidelik gemakliker “ingespeel” met die aanvang van Dvorák se sogenaamde Amerikaanse kwartet wat in wese idiomaties ʼn meer Tsjeggiese as Amerikaanse milieu weerspieël. Dit was ʼn innemend geïnterpreteerde vertolking waarin rubato, agogiek, tempoveranderings en dinamiese uiterstes met gematigdheid toegepas is. Dit het eweneens nooit te soet op die oor geval nie. In bykans alles was daar outoriteit, onmiddellikheid en bowenal die gevoel dat ʼn welbekende werk met varsheid en ewewigtige spontaneïteit benader is. In die tweede deel, Lento, was daar in die middelgedeelte beeldende solowerk deur die twee violiste en later tussen die tjellis en die leier. Slegs enkele kere was daar kortstondige intonasie-insinkings, niks ernstigs nie.

Valery Andreev se altvioolspel was, soos altyd, onberispelik en inspirerend. Met sy vertrek na Rusland het ʼn moeilik oorbrugbare binnekringhiaat by Evolution of 4 ontstaan. Oor altvioliste word daar helaas soms venynige grappe versprei, maar hulle verteenwoordig die hart van ʼn strykkwartet.  Feit bly staan: die bestes onder hulle is moeilik vervangbaar.

Beste vyande: Evita en Pieter-Dirk

deur Mariana Malan

Vlymskerp tonge is Pieter-Dirk Uys en Evita Bezuidenhout se voorkeurwapens. Die twee leef al dekades lank onafskeidbaar van mekaar, en tog het ʼn mens hulle nog nooit saam gesien nie. Nou is hulle so dapper om saam op die verhoog te verskyn in Uys se solo-stuk #HeTwo.

“Ek salueer Evita vir die 40 jaar wat ons nou al saamloop,” sê Uys.

Ná al die jare is Evita nog net so bekkig en strydlustig soos altyd, en Uys sal sy passies moet ken om by te hou in hierdie tango totdat een se tong uithang of die ander een die knie buig.

“Net omdat Evita nie bestaan nie beteken dit nie sy is is nie werklik nie,” meen hy.

Sy is immers die bekendste wit vrou in Suid-Afrika. Al is sy nie meer die vurige Nasionalis van voorheen nie, kook sy nou onder die ANC-vaandel vurige brousels vir rekonsiliasie.

Natuurlik word sy ouer. Waar sy eers hooghakkig rondgetrippel het, is haar voete nou nader aan die aarde. Sy dra nou eerder Lady Di of die Koninginmoeder se praktiese hakke.

“Skoene is belangrik. As jou skoene druk raak jy suur. Het jy geweet al die Broederbonders het hul skoene te klein gedra?”

Volgens Uys is daar vir die vertoning deur ure se film- en ander materiaal gewerk om nuwe humor na die planke te bring.

“Daar’s nie grappe nie, maar hope humor. En dis nie ʼn movie nie. Dis interaksie en dit het vir my baie herinneringe opgeroep. Natuurlik is my herinneringe baie persoonlik en dit kan nie met ʼn gehoor gedeel word nie. Ons neem gehore op ʼn reis. Vir baie mense bestaan ons land se geskiedenis nie voor 1990 nie. Bring die kinders saam en op pad huis toe sal hulle die regte vrae vra.”

Evita Bezuidenhout het in die laat sewentigerjare vir die eerste keer op die toneel verskyn. Waar dit toe onwettig was om sekere dinge te dink, sê of doen en dat ʼn man vroueklere aantrek, het Evita die wag voor haar mond die trekpas gegee en gedoen en gesê wat sy wou.

Sommer gou het sy selfs politici in haar sak gehad en bekendes wou in haar geselskap gesien wees. Net vir Pieter-Dirk Uys het sy geen tyd gehad nie. Sy wou hom dagvaar vir laster.

Hy dink byvoorbeeld haar swart en silwer jas wat Chris Levine gemaak het, was eintlik vir onse Mimi bedoel. Toe sy nie wou betaal nie, het Evita dit skaamteloos oorgeneem.

Uys was al byna 8 000 keer alleen op die verhoog. Gelukkig kry hy hierdie keer ʼn waardige opponent om die kollig te deel.

JFO terug by musikale lewensessens

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Daniel Boico (dirigent) en Gary Hoffman (tjello). Program: Die Moldau (Smetana); Variasies op ʼn Rokoko-tema vir tjello en orkes(Tsjaikowski);Elegie (Fauré); Simfonie no. 2 in c mineur, opus 17 – Klein Russiese (Tsjaikowski). Linder-Ouditorium, Parktown, Johannesburg. 

Lewe en lente het voluit teruggekeer na Gauteng en spesifiek Johannesburg se enigste professionele orkes. Ná verlede week se sluimerkonserte waarin slegs die pianis-solis Megan-Geoffrey Prins soms tot die redding gekom het van ʼn totale rus-tot-in-ewigheid-gesus, is ons gisteraand weer gevul met musikale lewensessens. Dit bewys net weer één pertinente feit: ʼn Orkes kan selde beter wees as die dirigent wat hulle lei. Daniel Boico wat teen dié tyd die geur van die maand-fase ná enkele geringe insinkings in die verlede ontgroei het, is nie slegs in beheer nie, maar het veral ook geïnspireer.

Dit is reeds binne die eerste minute van Smetana se Moldau, die tweede toondig uit sy siklus van ses onder die titel My Vaderland, duidelik. Daardie houtblaserspassasies met hul klankkurwes wat die vloei van water by die Moldau-rivier se oorsprong helder uitbeeld, is ʼn verademing om na te luister. Boico se aksent in sy interpretasie is nouliks gerig op die onverwoesbare immergroen aspekte, maar eerder ʼn evokatiewe ode aan die natuurskoon van Tsjeggië met, waar nodig, oorrompelende uitdrukkingskrag.

Met die meestertjellis Gary Hoffman in ons midde, is die daaropvolgende twee werke,  Tsjaikowski se Rokoko-variasies en Fauré se Elégie, ʼn pragvoorbeeld van instrumentale geraffineerdheid wat deur die solis ontsluit is en oorgeneem word deur die dirigent en orkes. Hoffman is skaars op virtuositeit ingestel, maar bepaal hom eerder by die karakterryke seggingskrag en stemming van elkeen van die agt variasies en koda. In sy spel verkry kontraste tussen teerheid en uitbundigheid spesiale en musikaal sinryke karaktertrekke. Die Elégie se deurlopende progressiewe melodiese opbou tot ʼn klimaks is skitterend gekontrasteer met die dénouement wat met ʼn ryp, subtiele beheer lei tot die magies wegsterwende slotmate.

Boico het sonder twyfel sinryke repetisies gelei ter voorbereiding van sy en die orkes se steeds meer intens en afgeronde uitvoering van Tsjaikowski se Simfonie no. 2 met die bynaam “Klein Russiese”. Folkloristiese invloede is wyd verspreid. Dit is opvallend dat die derde en vierde dele as meer gedisiplineerd, virtuoos en dus bevredigend geklink het as die voorafgaande twee. Shakespeare het alles behalwe per abuis verklaar “All’s well that ends well.” Binne die vier orkesafdelings skitter die houtblasers by uitstek, terwyl die koperblasers vorige, soms wankelende, prestasies dié seisoen hier reggestel het. Gerben Grooten is as poukenis die ster-musikus van die aand. Sonder sy insette sou veral die ritmiese stukrag van die uitvoerings minder presies en kernagtig wees.

Geen sprake van verveling

deur Paul Boekkooi

Danrè Strydom (klarinet), Grethe Nöthling (klavier) en Samson Diamond (viool). Trio’s van Srul Irving Glick, Aram Khachaturian, Gian Carlo Menotti, Darius Milhaud en Paul Schoenfield. In die Miriam Makeba-konsertsaal, Unisa, Pretoria.

Vyf komponiste, nasionaliteite en geeste is hier tesame. Almal het ʼn individuele benadering openbaar in die proses om ʼn eie styl te ontwikkel. Die meerderheid van hulle het ʼn verbintenis met mekaar deur tradisies: By Glick, Milhaud en Schoenfield is dit verskeie vertakkinge van Joodse oorlewering. Khachaturian was ʼn Sowjet-Armeense komponis van Tbilisi, die multikulturele hoofstad van Georgië. Hy voeg iets eksoties aan sy musiek toe. Menotti, ʼn Italiaans gebore Amerikaner, openbaar binne ʼn eie, gesofistikeerde styl, meer van ʼn klassieke benadering. Milhaud, die mees produktiewe onder hulle, is deur Brasiliaanse musiek en jazz beïnvloed. Die enigste komponis onder hulle wat nog leef is Schoenfield.

Khachaturian, Menotti en Schoenfield noem elkeen hul werk ʼn Trio vir dié spesifieke instrumente. Milhaud karakteriseer syne as ʼn Suite. Glick gee syne die titel The Klezmer’s Wedding.

In dié drie musici van Bloemfontein se uitvoerings was daar geen sprake van ʼn vervelige oomblik nie. Wat wel gebeur, is dat daar in sommige onderdele só ‘n frenetiese stukrag en ritme ontlaai word dat stilistiese formules begin neig om te oorheers. Nou moet ʼn mens toegee dat, indien enkelinge in die gehoor ooit by ʼn Joodse troue was, die musiek van byvoorbeeld The Klezmer’s Wedding enigiemand sou kon aanspoor om onophoudelik daarop te dans.

Die kombinasie van klarinet, klavier en viool was vroeg al ʼn gevestigde tradisie by die Ashkenazy’s se Joodse musiek. G’n wonder dat musici wat hulself in klassieke musiek wil uitleef, veral ook soms die wortels van voorsate wil ontdek. Baie internasionale beroemdes soos die violis Itzhak Perlman of die klarinettis Giora Feldman hou die Klezmer-geskiedenis lewend deur die oordra van sprankeling en vreugde. Strydom, Nöthling en Diamond is ʼn gedugte kombinasie wat veral in Schoenfield se onophoudelik uitdagende en grensloos virtuose Trio, wat ʼn bykans demoniese dryfkrag loslaat, hulle hoogste troefkaarte uitspeel.

In die Milhaud-, Khachaturian- en Menotti-Trio’s was daar hegte eenheid in die samespel en ʼn deurdagte beklemtoning van elke komponis se individualiteit, al vloei grense tog by tye oormekaar. Die onderdele by Milhaud waar Mediterreense vrolikheid na vore tree, is deur ligte aksente ondersteun, aangevul deur vloeiende kontinuïteit te midde van sprankelende frasering deur die musici. By Khachaturian het veral individuele solowerk die komponis se kenmerkende idioom van welluidendheid vrye teuels gegee. Menotti se Trio het ʼn groter mate van kontrasrykheid weerspieël as die ander vier s’n.

Unisa se versorging van hul programme stel teleur – veral in die lig daarvan dat dit ʼn gesiene akademiese instelling is. Geen programnotas word voorsien nie. Ook selfs nie die mees basiese gegewens soos aanduidings van die individuele dele nie. Die universiteit beskik immers oor ʼn musiekfakulteit. Die Enoch Sontonga-saal het in onbruik verval. Die Miriam Makeba se harde klank raak oor tyd uitputtend.

Kragtoer van hardebaard-humor

deur Kobus Burger

Benny Bushwacker – Human Nature, Studio-teater, Montecasino, Johannesburg

Ben Voss is voorwaar een van Suid-Afrika se voorste komiese akteurs, wat ook die kuns van hardebaard-satire vervolmaak het. Saam met sy makker, John van de Ruit (skrywer van die SPUD-reeks), was hulle die skeppers van die veelbekroonde Green Mamba– en Black Mamba-vertonings, waarin heilige koeie skouspelagtig geslag is en die akteurs vreesloos oor die elektriese heinings gewip het.

Voss het later die kostelike en bitsige alter ego, die sakevrou Beauty Ramapelepele, geskep wat sy solovertonings onvergeetlik gemaak het.

Nou is Voss terug met ʼn gedugte teks deur Van de Ruit oor ʼn aweregse wildbewaarder, Benny Bushwacker. Dié jafel glo nie regtig in die Groot Vyf nie en reken die luiperd moet aandag kry en gered word, al het sy medebewaarder albei sy knaters aan einste spesie “geskenk”.

Die stuk onder spelleiding van Janice Honeyman kom stadig op dreef, maar Voss glip soomloos deur ʼn reënboog van karakters – van ʼn 84-jarige ouma, die “ontmande” bewaarder, ʼn lewensmoeë millenniër en ʼn Duitser wat die flou grap vervolmaak het. Sy tydsberekening as akteur kan gerus as meestersklas geliasseer word.

Die millenniër het die gehoor byna laat verstik van die lag, so ook ʼn mini-uitbeelding van die Titanic-rolprent met Leonardo DiCaprio en Kate Winslet. Voss laat die sweet en spoeg spat in ʼn kragtoer met haarfyn tydsberekening. Nie vir ʼn oomblik laat hy die pas verslap nie.

Soos ʼn mens nou al die verhoogduo ken, skram hulle nie weg van die politiek en sosiale kwessies nie. So koes maar betyds – daar is dawerende dwarsklappe midde die histeriese lagbuie.

Benny Bushwacker is ʼn broodnodige teatertonikum én teenvoeter vir die tientalle “komedievertonings” waarin sogenaamde grapjasse net louwarm anekdotes aframmel. En ʼn mens vergeef selfs die prekerige, amper stroperige einde oor die “menslike natuur”.

DEURnis open deure in die Kaap

deur Mariana Malan

Vir sy Kaapse debuut gooi DEURnis die deure van ʼn nasionale gedenkwaardigheid oop. Byderwetse teater word aangebied in die keurige vertrekke van Wrench House in Observatory wat oorweldig met sjarme wat terugstrek na 1741.

Vir inwoners van Kaapstad en selfs bure van die lieflike boetiekhotel, is Wrench House een van die bes bewaarde geheime in die stad. Aan die mure hang kunsskatte van vorige eeue saam met werk van Breyten Breytenbach en Anton Kannemeyer. Dit vorm die inkleding vir ʼn teaterondervinding wat verslawend kan raak.

Dis die tiende speelvak van DEURnis. Diegene wat dit al by kunstefeeste beleef het, vertel dit is hul allerbeste ervaring in die teater. Net een teaterganger in die gehoor is die ander karakter in die verhaal, maar jy hou jou kommentaar vir jouself.

Dis uitdagend om voor ʼn speler te sit wat jou wysmaak sy hande wat hipnoties beweeg kan jou genees. Of wanneer ʼn sterwende vrou jou uittrap omdat jy te bang is om te leef. Jy krimp effens weg van ʼn hartroerende, half onbeholpe liefdesverklaring wanneer jy op die naam genoem word. Jou hart breek vir die seuntjie wat dinge moet beleef waaraan geen kind blootgestel behoort te word nie. Jjy bal vuis saam met die eens gesette vrou wat vet in die  gimnasium laat wegsmelt vir ʼn matriekreünie. Dan speel jy ook lekker saam in ʼn wêreld waar woorde verdwyn en stilbly die enigste manier van praat is.

Die akteurs is dié keer Tiaan Nortjé ( in Cecilia du Toit se Skyn,, regie Rudi Sadler), Roché van Blerk (in Leef, teks en regie Johann Smith), Jaques van Jaarsveld (in Stom, ʼn konsep van Van Jaarsveld en Toni Morkel met regie deur Morkel), Steffie le Roux (in Lyf deur Braam van der Vyver en regie, Lihan Pretorius), Ben Pienaar (in Du Toit Albertse se Seuntjie, regie Johan van der Merwe) en Mauritz Badenhorst (in met teks en regie deur Henque Heymans).

DEURnis is ʼn samestelling “deur” en “deernis” wat verwys na die deur wat lei na ʼn stuk wat met deernis en gestroopte eerlikheid aangebied word.

Atterbury Klavierkompetisie inspireer

 deur Paul Boekkooi

Ons land het lankal ʼn heilsame klavieronderrigstelsel in werking gehad. Dit is een wat nou, in veel meer uitdagende tye, in die skoot van ʼn jonger geslag klavierpedagoë geval het. Die totstandkoming van Pretoria se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie wat vanjaar ʼn negende keer aangebied is, bewys dat die peil van klavieropleiding geensins agteruitgegaan het nie, maar inderwaarheid floreer. Dít alles terwyl die eens bestaande wye verskeidenheid kompetisies waaraan jong musici en sangers kon deelneem helaas aan’t krimp is.

ʼn Onlangse voorbeeld is die onttrekking van die ATKV aan hul wyd geroemde Musiq- en Musiqanto-projekte wat oor jare vir talle van die wenners ʼn deurslaggewende springplank was na latere professionele suksesse.

Wat die bestaan van die Atterbury-projek veral vir pianiste van 19 jaar en jonger sou beteken het, was die gevolg van ʼn weldeurdagte besluit. Benewens eisteddfods, Unisa se reuse aandeel in ernstige musiekontwikkeling  en dié van ander universiteite met musiekdepartemente, het die Atterbury-bestuur met die lank reeds legendariese Claudine van Breda as artistieke hoof ʼn nis in die kompetisielandskap geïdentifiseer. Dit was om ʼn nasionale klavierkompetisie te loods waaraan kinders van enige ouderdom onder 12 kan deelneem tot by 19 as die ouderdomsperk-plafon.

Onder die vorige wenners van die Atterbury-kompetisie tel o.a. Willem de Beer, Suleyman Human, Lezanti van Sittert, André Breedt en Louis Nel. Bykans almal van hulle het later in ander kompetisies geseëvier – ʼn bewys dat die kompetisie ʼn nuttige doel ondersteun, om kandidate vroeg vertroud te maak met die enorme voorbereiding wat kompetisies vereis en die voortspruitende strawwe mededinging.

My heel eerste ervaring van ʼn finale ronde in die Atterbury-kompetisie afgelope Vrydagaand was uiters vervullend. Die toegewyde voorbereiding en die artistieke resultate rondom die voordrag van die nege finaliste was onweerlegbaar en inspirerend. By die meeste was tegniese bekwaamheid voluit aanwesig, maar dit was eerder ʼn welsprekende musikaliteit en afronding wat die langdurigste kwaliteit was wat bly eggo het.

Interessant is ook die feit dat die drie hoof-pryswenners se ouderdomme nie in die hoogste toelaatbare kategorie (18 en 19) geval het nie, maar dat deelnemers  van onderskeidelik 15, 16 en 17 die beste presteer het.

Die eerste prys van R30 000  is aan Qden Blaauw (15) van Parow toegeken, die tweede van R15 000 aan Leo Huan (16) van Pretoria en die derde ten bedrae van R7 700 aan Vitske van Zyl (17) van Bellville. Qden Blaauw was by verre die deelnemer wat die grootste indruk op die beoordelaars gelaat het. Hy het by verre met die meeste bykomende pryse in verskeie spesiale kategorieë weggestap. Heinrich Sutton (12) van Waterkloofrif was die kategoriewenner in die ouderdomsgroep 12 jaar en jonger.

Prysenswaardig is die feit dat die wenners van die eerste drie pryse se onderwysers elk met ʼn geldprys beloon is.

Al die borge, beoordelaars, organiseerders, voorsitter, beskermheer en -vrou, asook dié wat stil-stil agter die skerms werk, deel in die sukses van dié vaartbelynde organisasie. Jaar 10 van dié kompetisie belowe om ʼn verdere mylpaal te wees.

 Guang begeester met Prokofiëf 3

 deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Roderick Cox (dirigent) en Antonio Chen Guang (klavier). Program: Ouverture: Die Entführung aus dem Serail (Mozart); Klavierkonsert no. 3 in C majeur, opus 26 (Prokofiëf); Simfonie no. 4 in e mineur, opus 98 (Brahms). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Pianiste is ʼn aparte spesie in die musiekwêreld. In hul eie oë bevolk hulle sonder twyfel die elite onder musici. Hulle bevind hulself op ʼn aansienlike aantal trappies hoër as húlle wat maar net melodiese instrumente bespeel. Die meeste het ook ego’s wat rotsvas staan en selde wankel. By sommige word selfs grade van narcissisme aangetref. Gelukkig loop jy ook ander raak wat nederig bly in hul roeping om die totale wese van die komponis wat hulle uitvoer sentraal te laat staan. Helaas is hulle in ʼn minderheid – veral deesdae.

Oor die afgelope twee weke het twee jong klawerbordmagiërs met stewige CV’s met talle klavierkompetisie-oorwinnings daarop as soliste saam met die JFO opgetree: Die Rus Dmitry Shishkin en die Chinees Antonio Chen Guang: Enorm verskillend wat temperament en musikaal-tegniese uitdrukkingskrag betref. Shishkin kon nie naastenby Chopin se Poolse hart in sy vertolking van die e-mineur klavierkonsert omvou nie. Omtrent alles by hom het rondom tegniese belustiging en momentele “mooispelery” bly vassteek –  die vinnigste manier om Chopin totaal te verloor. In teensteling het Guang  Prokofiëf se Klavierkonsert no. 3 in C soos ʼn Bybelse Simson benader, maar juis veral ook al sy reserwekrag oordeelkundig ingespan om die komponis se wydlopende en kleurryke fantasmagorie soos ʼn laserstraal te belig.

Guang het ʼn begeesterde, maar totale beheer oor die intensiteit waarmee hy die komponis se tipiese, individuele Russiese klankidioom oordra. Daar bestaan geen beperkinge in die wyse waarop hy die oorkoepelende grootsheid van die werk se struktuur kon laat kontrasteer met die fyner detail wat in die soloparty verskuil lê nie. Sy tegniese ewewigtigheid lei daartoe dat die concerto se hoëvlak-oorspronklikheid – m.i. uniek in 20ste eeuse klavierrepertorium – met ʼn  nuutklinkende brio en verrukking luisteraars se bewussyn kon binnedring.

Die enigste kritiek wat geuiter kan word, is dat die eerste deel se Allegro-tempo plek-plek ietwat getemper kon wees om momentele slordighede te vermy. Origens was dit ʼn vertolking wat alle emosies binnedring deur die pianis se weloorwoë benadering en beskouing van wat Prokofiëf wou oordra. Guang se sukses deel hy met die totale betrokkenheid wat die Amerikaanse dirigent Roderick Cox en die JFO openbaar het. Cox het die komponis se meesterlike orkestrale vindingrykheid in elke maat belig en jou vir eens opnuut bewus daarvan gemaak dat ʼn concerto, soos in dié geval, daarop neerkom dat titaniese wedywering tussen solis en orkes losgelaat word.

Cox het met ʼn stilisties bruisende Mozart-ouverture die konsert ingelui en dit groots afgesluit met Brahms se Vierde Simfonie. Hy het genoegsame spanning opgebou om die deurlopende lyn in al vier dele deur te trek. Detailbeligting het ʼn weldeurdagte en ewewigtige eenheidsbeskouing na vore gebring. Individuele solo’s deur die meerderheid orkeslede is met genuanseerde uitdrukkingskrag belig. Die JFO se spelpeil bereik nuwe hoogtes.

Van Alphen se geesdrif en dryfkrag

 deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Conrad van Alphen (dirigent) en Matilda Lloyd (trompet). Program: Suite uit Watermusiek (Handel); Trompetkonsert in E mol (Haydn) en The Planets, opus 32 (Holst). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Conrad van Alphen tel onder die top-vyf gebore Suid-Afrikaners wat met groot welslae ʼn uitdyende internasionale loopbaan as dirigent handhaaf. Met elke besoek, helaas minder as vroeër jare, is sy CV ook meer omvattend. Heelwat van sy aanvanklike jeugdige musikaliteit en spontaneïteit bly steeds, met die jare, deurdring. Geen tekens van veilige geroetineerdheid sluip in nie.  Geesdrif is pertinent aanwesig en vuur sy interpretasies aan.

Sy verbintenis met die JFO was van meet af aan artistiek wedersyds opbouend Nou, ruim ʼn dosyn jare ná sy debuut met hulle, is ʼn sterker samehang tussen die dirigent en sy musici gesmee. Sy uitgebreide ervaring met sy selfopgerigte Sinfonia Rotterdam maak van hom ook die ideale leier van kleiner ensembles. Hy het die JFO se getalle behoorlik ingekrimp vir die uitvoering van die Handel- en Haydn-werke vóór pouse.

In vier dele uit eersgenoemde se Watermusiek het die ensemble as geheel, maar in besonder die blasersoliste (hout én koper), uitgeblink. In Handel se orkestrasies lê meesterskap verskuil in die harmoniese en gepunktueerd-ritmiese geraffineerdheid en soepelheid, flair en outoriteit waarmee Van Alphen die basiese Barokprinsipes binne ʼn kort tyd by die musici vestig. Momenteel was ʼn nog té geromantiseerde benadering by sommige onderdele aanwesig. Maar dan is die JFO uiteraard ʼn orkes wat helaas stééds aan die Romantiek gespeen bly…

ʼn Bloedjong Matilda Lloyd uit Brittanje is die trompetspeler wat met tegniese finesse en hoogs ontwikkelde musikaliteit vir ons ʼn Haydn Trompetkonsert met min gelyke laat ervaar het. Haar soliede spelbedrewenheid is opmerklik, haar klankproduksie is tot in die uithoeke van die instrument se register, ook wat dinamiese nuanses betref, van ʼn ongrypbare skoonheid. Geen effeksoekery was buite die Klassieke mondering waarbinne Haydn geskep het te vinde nie. Die dirigent en orkes het haar naatloos ondersteun – selfs ook in die Piazzolla-toegif met bykomende JFO musici, met verdere, verdiende staande ovasies tot gevolg.

Die grootste “toets” vir Van Alphen en die JFO was vanselfsprekend die sewedelige The Planets van Holst, ʼn Brit met Sweedse voorouers. Struktuele en proporsionele elemente is deel van dié reuse werk. Die dirigent verstaan om die kuns om die effekryke, sinnestrelende aspekte van hierdie briljante partituur totaal in diens van die musikale opbou te stel.

Die openingsdeel, getiteld Mars, the Bringer of War, het ʼn motoriese, aggressiewe ostinato-ritme. Met bravade en oorlogsugtigheid in klank, was die ensemblespel aanvanklik wankelend en ongelyk. Veral die koperblasers het klaarblyklik nie die dirigent se tempo deeglik dopgehou nie. Van tempo gespraat: die meerderheid dele s’n was aan die vinnige kant – iets wat soms die misterieuse grensloosheid van Holst se musikale ekskursie deur ʼn gedeelte van ons sonnestelsel ondermyn. Die houtblasers het kollektief ongekende hoogtes bereik, met die strykers in die virtuose onderdele nie deurentyd presies nie. Dat ʼn koor nie beskikbaar was vir die slotdeel Neptune, the Mystic nie, verwek ergernis.

Grooten se Mozart met vernuwende krag

deur Paul Boekkooi

MOZART: Kroningsmis, K 317; Requiem, K 626. Alna Smit (sopraan), Teresa de Wit (mezzo-sopraan), Arthur Swan (tenoor), Aubrey Lodewyk (bas). Pretoria Bach-Koor en –Orkes o.l.v. Gerben Grooten. In die ZK Matthews Grootsaal, Unisa, Pretoria.

Mozart was meesterlik met alles wat hy aangepak het. Die eise van elke musiekidioom het hy deurgrond, sy eie gemaak en in talle gevalle wonderbaarlik uitgebou en verryk. Vir meer as ʼn generasie ná sy dood was komponiste wat iets van sy genialiteit probeer naboots het, swak verloorders. Hy het nooit vir amateurs gekomponeer nie, nog minder vir siellose perfeksioniste. Slegs uiters toegewyde en vaardige dirigente, musici of sangers laat hy oorleef. Minderes beland musikaal gesproke in ʼn woestynstreek, sonder enige kanse op oorlewing. Foei!

Pretoria se Bach-Koor is ʼn instelling wat ek van my prille jeug af ken. Die stigtersdirigent Bruno Peyer se soliede werk met hulle is dankbaar deel van my verwysingsraamwerk. Sy dekades-lange teenwoordigheid het Pretorianers verryk. Ná sy aftrede het dirigente gekom en gegaan: g’n ideale situasie nie. Oor die afgelope bykans 15 jaar is daar weer voortsetting in die persoon van Gerben Grooten wat steeds vernuwend te werk gaan. Terloopsm musiekwetenskap het sedert die 1950s enorme vordering gemaak t.o.v. kennis van die uitvoeringspraktyke rondom ouer musiek – vanaf die Klassieke periode terug na die Renaissance en selfs Middeleeue.

Grooten het in sy onlangse uitvoering van ʼn Mis en die bekende Requiem van Mozart daardie kundigheid toegepas en die mufheid wat begin vaskleef het aan oor-Romantiese benaderings tot ouer musiekstyle, die trekpas gegee. Oor die jare het Grooten die droë hout in die Bach-koor verwyder, die getalle verminder en met lote wat uit beter en meer ervare sangers saamgestel is, die koor (of boom as jy wil) meer dinamies en suksesvol laat uitspruit. Alle tekens is daar dat Mozart se merendeels ongelooflike greep op die materie met ʼn intense graad van toewyding na hoër sfere gelig is. Ook ʼn seldsame homogeniteit val op in die samebinding tussen soliste, koor en orkes.

Alna Smit se sopraanstem het ʼn helderheid wat jou soms herinner aan dié van ʼn ontwikkelde seunsopraan. Ook haar intonasie en diksie toon ʼn stygende kwaliteitskurwe sedert hierdie skrywer haar laas gehoor het. Teresa de Wit se mezzo het inherent ʼn uiters ekspressiewe klankkwaliteit wat gepaard gaan met ʼn uitdrukkingsryke tekshantering. Arthur Swan se tenoorsolo’s was ʼn skitterende kombinasie van krag, subtiliteit en klinkklare intonasie – veral in dié onderdele wat sy tegniek uitdaag. Aubrey Lodewyk se resonante bas het die teksbetekenisse in al hul dinamiese nuanses laat leef in ʼn vertolking wat uit sy hart gekom het.

Dié uitvoering van die Requiem is gegrond op die Mozart-sketse wat kort ná Mozart se dood deur Franz Xaver Süssmayr voltooi is. Dit is, ondanks die omstredenheid daaromheen, steeds internasionaal dié weergawe wat meer dikwels as enige ander in uitvoerings gebruik word. Die saamgestelde orkes het, buiten die trombones, wat soms onnodig “gegly” het, merendeels afgerond gemusiseer.

Unisa bied Lente-Musiekfees

 deur Paul Boekkooi

Die Unisa Musiekstigting is in die reël ʼn ernstige bolwerk van aktiwiteite rondom die bevordering van klassieke musiek én jazz waarvoor ʼn mens respek mag hê. Dit omvat in ʼn gelyke mate die praktiese sy van musiekopleiding, maar geniet eweneens ʼn wye teoretiese en,  internasionaal beskou, ook ʼn hoog aangeskrewe akademiese dimensie.

Vir eerskomende Saterdag, 19 Oktober, het dié Stigting onder die leierskap van prof. Karendra Devroop iets nuuts onderneem. Hulle bied ʼn mini-musiekfees van vier konserte aan wat tussen 15:00 die middag en 20:00 saans plaasvind. Al vier word in die Miriam Makeba-konsertsaal op Unisa se hoofkampus te Muckleneuk, Pretoria aangebied.

Met verskillende instrumentale samestellings is dit ʼn uiteenlopende program wat strek van die vroeë Baroktydperk, deur die Klassieke en Romantiese eras tot by ‘n lewende komponis: die Suid-Afrikaner Hendrik Hofmeyr.

Vir die openingskonsert om 15:00 maak die Nederlandse duo wat bestaan uit Antoinette Lohmann (Barok- en klompviool) en Jörn Boysen (klavesimbel, Barokkitaar, siter en Joodse harp) hul buiging. Hulle fokus informeel op die twee ouer musiektydperke, met 17de eeuse repertorium wat die musici en style van verskillende sosiale klasse naasmekaar plaas. Die hele proses word ook met die nodige humor belig.

Die tweede konsert van vier wat elk ʼn uur duur, is in die hande van die Kaapstadse Trio du Cap Classique wat verlede jaar saamgestel is deur die pianis François du Toit, die tjellis David Pinoit en die fluitis Liesl Stoltz. Die totstandkoming van dié ongewone trio is vanaf hul heel eerste optredes wyd verwelkom. Hulle program strek oor bykans drie eeue se musiek. Hulle voer werke van Joseph Haydn (1732-1809), Felix Mendelssohn (1809-1847) en Hendrik Hofmeyr (gebore 1957) uit. Aanvangstyd: 16:15.

Die daaropvolgebnde konsert om 17:30 is ʼn klavieruitvoering deur die KwaZulu-Natalse pianis Christopher Duigan. Hy open sy program met Handel se Chaconne in G en eindig dit met Liszt se Hongaarse Rapsodie no. 12. Tussenin voer hy twee werke van Chopin asook twee van Schubert uit.

Die slotkonsert wat om 18:45 ‘n aanvang neem is in die hande van die Wits Trio: Zanta Hofmeyr (viool), Malcolm Nay (klavier) en Susan Mouton  (tjello). Op hulle program verskyn vroeë trio’s van onderskeidelik Beethoven en Brahms. Van eersgenoemde word die Trio in C mineur, opus 1 no. 3 uitgevoer en van laasgenoemde die Trio in B majeur, opus 8.

‘ʼn Baie intense erevaring’

Mariana Malan gesels met die kunstenaars van DEURnis.

Johan van der Merwe (medevervaardiger): 

“Die  betrokke akteurs leer om elke moontlike siutasie te kan hanteer. Die akteurs en die gehoorlid kan enige tyd uitstap as hulle wil. Dis belangrik dat altwee veilig voel. Mense wat na ʼn een-tot-een stuk kom kyk is in die algemeen ervare teatergangers wat weet ernstige kwessies soos seksualiteit, die spirituele, geestersversteuring, mensehandel en selfdood word aangespreek. Elke gehoorlid onderteken vooraf ʼn vorm waarin hulle ingelig word oor wat van hulle verwag word en wat hulle nie moet doen nie.”

Akteurs oor die ondervinding van een-tot-een interaksie met ‘n gehoorlid:

Tiaan Nortjé

“Dis ʼn baie intense ervaring vir akteur en gehoorlid. Dis elke keer anders en opwindend om te sien hoe die persoon voor jou reageer. Elke persoon bring ʼn ander energie. Soms is dit baie intimiderend en ʼn mens moet jou fokus behou. As akteur wil ek soveel moontlik uitdagings hê en hierdie is beslis een van hulle.”

Steffie le Roux

“Dis ʼn totaal ander wêreld as dit net jy en een ander persoon is. Dis intiem en direk. Dis makliker om saam met iemand te wees wat jy nie ken nie. Jy kan makliker in jou rol bly. Dit vra baie energie van ʼn akteur omdat jy dieselfde rol op een aand verskeie kere na mekaar met dieselfde intensiteit moet vertolk. Maar ek moet erken – die gogga het my gebyt en ek hoop om dit weer te kan doen.”

Om te wag is om te dans

deur Mariana Malan

Wag is deel van almal se lewe. Jy staan in rye in die bank, by die bushalte, voor SARS of die departement van arbeid se kantore. Jy wag vir iets beter in die lewe, vir moeilike tye om verby te gaan of vir daardie skip wat eendag mag inkom.

Hoe jy wag maak van jou die mens wat jy is.

Die vier dansers van Figure of 8 Dance Collective omskep die handeling van wag in die dansproduksie Wag/Waiting tot ʼn kunswerk.

Grant van Ster, Shaun Oelf, Dustin Jantjies en Gabriela Dirkse is die dansers wat op maat van neo-klassieke klanke, minimalistiese elektroniese musiek en bestaande komposisies van o.a. Dexter Britain en Murcof  lewe gee aan iets wat met ʼn passiewe proses assosieer word.  (Britain is pianis, komponis en vervaardiger veral bekend vir “The Time To Run” en Murcof die Meksikaanse elektroniese kunstenaar Fernando Corona.)

Van Ster en Oelf het die choreografie gedoen. Van Ster is ook die choreograaf van die musiekspel Aunty Merle It’s a Girl wat tans in die Baxter-teater te sien is. Hy het ook saam met Oelf opgetree in die aangrypende voorlegging Karatara by vanjaar se Teksmark

Stoele word effektief gebruik om energieke bewegings nog aanskouliker te maak. Wat voor jou afspeel voer jou mee, laat jou na jou asem snak en laat jou wonder hoe soveel aktiwiteit jou tog met soveel innerlike rustigheid en vrede kan vul.

  • Wag/Waiting in die Baxter-ateljee tot 7 Desember. Bespreek by webtickets.
  • Dit word ook twee keer aangebied op die Toyota US Woordfees (6 – 15 Maart 2020) op 9 en 11 Maart.

Uitdagende strykkwartet-premières

deur Paul Boekkooi

Unisa Komponistekonsert. Program – Christo Jankowitz: Strykkwartet no. 3 (2019). Bernett Nkwayi Mulungo: Strykkwartet no. 1 (2019). Péter-Louis van Dijk: iinyembezi (2000/2001). Christopher Jeffery:Holograms (2015). Odeion Strykkwartet – Samson Diamond (eerste viool), Sharon de Kock (tweede viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen Joubert (tjello), In die Miriam Makeba-konsertsaal, Unisa, Pretoria.

“Vokale musiek verskaf hoofsaaklik plesier d.m.v. van woorde; maar as instrumentale musiek daarin slaag om die gemoedere in beroering te bring, is dit alleen deur eie verdienste. Ook al kan instrumentale musiek net emosies opwek as dit iets beskryf of uitdruk, word ʼn alleenstaande taal gevorm wat vergelykbaar is met die taal van die skilderkuns of poësie.”  Só skryf die Italiaanse komponis Vincenzo Manfredini (1737-1799).

Met dié Unisa-konsert van die Departement van Kuns en Musiek, is drie nuutgeskrewe strykkwartette deur Suid-Afrikaanse komponiste (aldrie verbonde aan die genoemde department), bekend gestel: ‘n Aand ryklik gevul met verdienstelike, uiteenlopende toevoegings tot plaaslik geskrewe strykkwartette.

Die Strykkwartet no. 3 van dr. Christo Jankowitz waarmee geopen is, toon ʼn energieke diversiteit van ideë in sy eerste deel, Allegro moderato. Dit verskerp die luisteraar se aandag en woeker deurlopend met kontrasryke ontwikkelings. Veral die liriese onderdele, soos in die altvioolsolo en die harmonies gelaaide frases tussen die eerste viool en tjello, was meesterlik. Die daaropvolgende Cantilena – Andante mesto is ʼn fynsinnige konstruksie waaromheen heelparty figuratiewe insette deur al vier instrumente opval. Die Lidiese modus waarop die komponis ons in sy programnotas wys, is sfeerryk verwesenlik. In die Rondo-finale – Allegro vivace ervaar ons nie slegs ʼn moeder van ʼn solo vir die tweede viool nie, maar ook ʼn omvormde herhaling daarvan. Ook hier was die kleurrykheid en afwisseling van Jankowitz se verbeeldingkrag sentraal binne ʼn werk met ʼn seldsame graad van wasdom.

Bernett Nkwayi Mulongo se vierdelige Strykkwartet no. 1 is gedeeltelik outobiografies en opgedra aan die moederskant van sy familie. Dit klink in geheel as ietwat onvoorspelbaar, maar verras deurentyd. Die komponis se programnotas is helaas vaag en herhalend. Deel een, Nkwinika, klink morbied en ernstig. Die daaropvolgende Joshua’s Requiem is teen alle verwagtinge in vrolik en beweeglik, met ostinato-frases wat tussen die strykers rondspring, Hierna word kort opeenvolgende onderdele gehoor, terwyl deel vier, Mandlati, met die bytitel The Lost Found Bewildered, hoogs beskrywend is en in die musiek herken word.

Dr. Christopher Jeffery, Hoof van Musiek en Senior Lektor, se Holograms slaan op ʼn wetenskaplike begrip: die driedimensionele beeld deur die inmenging van ligstrale van ʼn saamgestelde ligbron. In sy musiek is daar ʼn obsederende ontwikkeling van temas en newe-temas wat na ʼn klimaks lei. Begeleidende frasepatrone ondersteun aanvanklik die sterk, leidende altvioolsolo. In die eerste van die twee dele word angstige emosies uitgedra voordat ʼn plotselinge stemmingsverandering die luisteraar heel subtiel terugvoer na verwysings wat dit voorafgegaan het. Twaalftoonreekse en ander teen dié tyd oorgebruikte passé-tegnieke werk m.i. téén die samehangendheid van dié werk.

Die drietal komponiste kan met vrug Peter-Louis van Dijk se iinyembezi (‘Trane’) as ʼn navolgbare voorbeeld van deeglike vakmanskap in komposisie in hul visiere hou. Wat die Odeion Strykkwartet betref: Hulle het die drie komponiste se werk in die mees positiewe lig moontlik geplaas. Hulle was die heldinne van die aand.

Súlke musici benodig geen dirigent nie

deur Paul Boekkooi

Personeelkonsert van die Vyfde Gauteng Kamermusiekfees. Werke van Vivaldi, J.S. Bach, Haydn, Handel en Grieg. Soliste: Réka Szilvay (viool), Toni Ivanova en Susan Mouton (tjello), Marnus Greyling (orrel) en Eulandri Venter (sopraan). In die Waterkloof NG Kerk, Deystraat, Pretoria.

Die Vyfde Gauteng Kamermusiekfees wat op 29 November begin het, moes – om ʼn tennisuitdrukking te gebruik – soos ʼn kolskoot-afslaan gewees het. Twee dae later, Sondag 1 November om 11:00 was dié personeelkonsert voluit op dreef: begeesterd, gedissiplineerd, hoogs professioneel en met oorgawe aan die musiek gewy. Daar was elf staande strykers, behalwe die twee tjello’s en die klavesimbelspeler/orrelis voor die preekstoel. Al die musici het aansteeklike blydskap uitgestraal – iets wat ook in hul spel rondom elk van die komponiste sentraal was. ʼn Dirigent sou niks kon verbeter nie.

Met “A Spring of Strings” as tema, was die openingstuk – die begin-Allegro van Vivaldi se Lente-concerto – in alle opsigte ideaal. Met Johanna Roos, ook die feesdirekteur as leier, was die ensemble-eenheid (wat in ʼn kort tyd gevestig is) opnuut opvallend. Deeglik deurdagte dinamiese kontraste en aksentuering het ʼn verfrissende herontdekking van ‘n bekende werk moontlik gemaak.

Eweneens, in die eerste deel van Bach se Brandenburgse Konsert no. 3, het die soepel ritmevoering en helder kontrapuntale lynespel verruk. Hierna was die Allegro uit Vivaldi se Dubbelkonsert vir twee tjello’s in g mineur ʼn “dieper” ervaring as die voorafgaande dele. Toni Ivanova en Susan Mouton se dialoog is musikaal beeldryk uitgedra.

Réka Szilvay van die Sibelius Akademie in Finland, die genooide violis wat by spesiale onderrig en meesterklasse betrokke is, was die solis in ʼn volle uitvoering van Haydn se Vioolkonsert in C. Dit was ʼn model van Klassieke suiwerheid, met ʼn beskeie, doelgerigte benadering om die essensie oor te dra.

Die bekende Handel-aria uit sy oratorium Messiah, “Rejoice”, is tegnies akkuraat en betowerend engelagtig deur Eulandri Venter gesing. ʼn Mens kan jou voorstel hoe sy sal klink indien sy die komponis se “Lascia ch’io piangi” bemeester het. In Handel se Orrelkonsert no. 13 (“Koekoek en die nagtegaal”) het die solis Marnus Greyling met styldeurtastende spel vorendag gekom en hom nie van stryk laat bring deur ʼn kerkklok wat skielik begin bengel het nie.

Ten slotte het die ensemble die neo-Klassieke inspirasie van Grieg se Holberg Suite, opus 40, spitsvondig afgerond in hul vertolking van die Rigaudon. Die toegif  is dalk iewers op ʼn solderkamertjie gevind waar dit vir jare vergete was; ʼn lieflike stukkie salonmusiek waarvan ek die titel nie ken nie. Ek het dit laas gehoor toe ek ses was.

  • Die Gauteng Kamermusiekfees sluit Saterdag 7 Desember15:30 af met ʼn galakonsert in dieselfde kerk. Kaartjies: R150 by die deur. gcmf.co.za

Pure betowering op Neverland-ys

deur Schalk Schoombie

Die skrywer J.M. Barrie verseker ons in sy immergroen kinderverhaal Peter Pan: “All the world is made of faith, and trust, and pixie dust.”

Al dié elemente is in oorvloed aanwesig in die ysskaatsskouspel, Peter Pan on Ice: A Journey to Neverland wat tans deur die Imperial Ice Stars in Montecasino se Teatro opgetower word. Agter my het ʼn kleuter ademloos uitgeroep “Peter Pan! Peter Pan!” toe die hoofkarakter se gitswart skaduwee verskyn en alle pogings om hom vas te trek ontduik. Volwassenes was ewe begeesterd en het hul geliefde karakters luidkeels aangemoedig.

Watter louter plesier om te sien hoe die verhaal in akrobatiese skaatsdanse gestalte kry! In tablo ná  magiese tablo word die gehoor weggevoer na Nimmerland. Dis ʼn viering van energieke vertolkings deur topskaatsers uit Rusland, swiepende choreografie, kleurryke kostuums en hoëdefinisie-animasie op die siklorama; alles begelei deur goedgekose uittreksels uit balletmusiek.

Magiese momente is volop: Captain Hook (Mikhail Kirsanov) en sy seerowers se dreigdanse, Peter Pan (Bogdan Berezenko) en die Verlore Seuns se onnutsige tuimeltoertjies, Tinkerbell (Olga Sharutenko) se vliegende binnekoms, getooi in skittervlerke vol reënboogliggies, die siervolle meerminne in hul onderwaterkoninkryk, vele tweepasse en spronge wat jou na jou asem laat snak. ʼn Gehoorgunsteling is die gespierde, groen krokodil (Kirill Polnikov), ʼn vrolike kalant wat selfs met Tiger Lily en Tinkerbell rinkink.

“The moment you doubt whether you can fly, you cease for ever to be able to do it,” waarsku J. M. Barrie. Dié indrukwekkende geselskap het die vermaning ter harte geneem; hulle sweef nie net grasieus oor die ys nie, hulle styg gereeld ten hemele in ʼn verstommende lugvertoning

Kan daar meer begogelende vermaak vir die Kerstyd wees as dié Peter Pan? Wanneer die buigings ná sowat twee ure aanbreek, lyk dit of niemand wil afskeid neem nie. Die skrywer het die laaste woord: “Never say goodbye because goodbye means going away and going away means forgetting.”

Gordel vas vir dié vinnige Rocky

deur Mariana Malan

Die ewig jong, dekadente dokter Frank N Furter het verkope van visnetkouse en uitspattige grimering in Kaapstad weer die hoogte laat inskiet. Wanneer die Rocky Horror Show op die planke is, wil almal met hom meeding en selfs in die skadu stel.

Richard O’Brien se Rocky Horror Show is dekades nadat dit geopen het, nie maar net nog ʼn musiekspel nie. Dis ʼn kultus wat aangehang word, gehore die kans bied om daardie bollas los te maak, op te tof en lustig saam te dans.

Craig Urbani klim hierdie keer in Frank N Furter se skoene. Jarryd Nurden is die minlike Rocky en die besadigde Brad en Janet word vertolk deur Anthony Downing en Didintle Khunou. Kate Normington as die Verteller het  flink gereageer op vrae wat die gehoor na haar gegooi het.

Elke weergawe van die musiekspel moet iets nuut bring sonder om gehore van die bekende inhoud te vervreem. Die beste raad is om vorige weergawes te vergeet en in te val met wat op die verhoog gebeur. Geniet die nuwe nuanses en anderse vertolkings as wat jy voorheen gesien het.

Hierdie keer het die dekor aan ʼn strokiesprent herinner en die pas was aansienlik vinniger as wat ʼn mens jou herinner. Die eerste helfte het in 45 minute afgespeel en die gehoor moes amper vasgordel om by te hou. Maar niks is uitgelaat nie, niks is afgewater nie. Dit is en bly feestelike vermaak.

Plek vir almal in Aunty se hart   

deur Mariana Malan

Aunty Merle is Kaapstad se Kersgeskenk vir almal. Daar is soveel vreugde, kleurvolle inkleding en plesier dat niemand vanjaar ʼn vaal feestyd hoef te he nie.

Marc Lottering se Aunty Merle It’s a Girl hervat waar die vorige  wegholtreffer Aunty Merle – The Musical opgehou het. Die twee verliefdes (een van Bantry Bay in Kaapstad en die ander een van Athlone ligjare daarvandaan) is nou al vyf jaar getroud. Waar die inwoners van Belgraviastraat in Athlone eers aan Merle se wit skoonseun  en sy snobistiese ouers moes gewoond raak, is daar nou net harmonie en afwagting van dalk die eers Bathlone-baba.

Maar alles verloop nie soos die opgewonde Merle dit in haar visoen en geestesoog sien nie.

Dit kan maklik gebeur dat ʼn opvolg in die skadu van die eerste produksie staan. Dié keer is die opvolg selfs beter as die eerste een.

Marc Lottering en sy span sit ʼn stukkie van die lewe in Kaapstad op die planke  Die karakters kon jy dalk al ontmoet het, die taal hoor jy daagliks op straat. Jy sien die mooi en besonder verligte jonges, die oues, die nydiges, die voortvarendes en dié wat met hartseer stoei en die beste daarvan maak.

Op een verhoog is daar Moslems, Christene, hetroseksuele- en gay paartjies, ʼn onpaar met ʼn jong man en baie ouer vrou, verhoudings tussen mense wat mekaar eintlik glad nie verstaan nie en tog oor die weg kom. Dis eintlik so iets van wat die reënboognasie behoort te wees.

Wat alles nog lekkerder maak is die oorspronklike musiek en liedjies wat saam met die teks uit Lottering se pen kom. Dan is daar die choreografie van Grant van Ster en ʼn orkes met van trompet tot saxofoon. Jy sal nie jou jeukende voete kan beheer nie.

Regisseur Lara Foot beskryf Lottering as “waansinnig skeppend met ʼn vlymskerp begrip van wat menswees in ons land beteken”.

Hierby kan ʼn mens sy deernis met mense voeg. Daar is geen oomblik van kritiek teen enige mens of groep nie. Daar word nooit vinger gewys of verwyt nie. Tekortkominge word aangedui met humor. Almal kan in liefde vir en saam met ander vir mekaar en hulself lag.

Hier is ook geen ego’s betrokke nie. Aunty Merle is die ster en alles draai om haar en haar bekkigheid. Elke ander akteur belig eintlik ʼn ander sy van Merle se groothartige karakter. Dis ‘ensemble-werk” uit die boonste rak wat deurentyd jou lagspiere prikkel.

Vir besoekers uit ander dele van die land is daar ʼn handige verklaring van ʼn paar plaaslike uitdrukkings.

Om hieruit aan te haal: Kykhie horie moenie dik versin wees nie. Gaan kyk kanalla na hierdie stukkie heerlikheid. Dis baie lekkerder as Merle se “lemon meringueww”  en meer verfrissend as Fanta Grape.

JFO se Valentynsdag varia-gala

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met William Eddins (dirigent), Zandile Mzazi (sopraan) Program: Werke van Berlioz, Rodrigo, Mascagni, Massenet. Katsjatoerjan, Verdi, Elgar en Tsjaikowski. In die  Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Wat ʼn mens ook al van die liefde mag dink … ignoreer dúrf of kán jy dit nie. Om Valentynsdag tydens ʼn resessie te vier is dalk nie vir almal ʼn topprioriteit nie, maar wanneer die idee daaromheen so oorspronklik aangepak is as wat die JFO dit vanjaar doen, sou wegbly ʼn jammerte wees. Hierdie is geen simfoniekonsert nie: Eerder agt stukke wat iets van alles binne klassieke musiek verteenwoordig en boonop die liefdestema op verrassende wyse komplementeer, word uitgevoer. Elkeen vertel ʼn verhaal wat wissel tussen oorstelpende vreugde en diepe leed, en alles tussenin.

Die Amerikaanse dirigent William Eddins is op die Linder-podium. Weer eens het hy, soos ons hom leer ken het, sy soms onnodige. oormatige energie op die orkes uitgestort, dit nie altyd ideaal gekanaliser nie, maar uiteindelik tog vir musikaal deeglike uitvoerings gesorg. Wat wel opgeval het, is dat hy nie altyd die idiomatiese kern van die verskillende lande wat die komponiste verteenwoordig karakterryk genoeg kon uitlig nie. Eerder fynsinnige subtiliteit as oormatige energie sorg gewoonlik daarvoor. Franse, Italiaanse, Russiese, ‘n Spaanse en ‘n Engelse stuk vorm deel van die program.

Goran Krivocapic is ʼn kitaarspeler van Montenegro wat die wêreld aan’t verower is. En gemeet aan sy uitvoering van die volledige Concierto de Aranjeuz van Joaquín Rodrigo verbaas so iets geensins. Met ʼn uiters presiese weergawe van die sololyn en met klankartikulasie wat die musiek dinamies verlewendig, kon luisteraars hul inleef in die Spaanse idioom waar kleur en ritme oorheers. Sy instrument is elektronies diskreet versterk. Ook vanweë Eddins se verskraling van die orkes se strykerslading kon die pikantheid van die blinde komponis se orkestrasie en melodiese rykdom floreer.

Die Wals uit Berlioz se Fantastiese Simfonie, die Intermezzo uit Mascagni se Cavalleria Rusticana en Elgar se bon-bon-agtige soetvloeisel in musiektaal, die Salut dámour, het in laasgenoemde se geval weliswaar soetsappig geklink, maar kon dalk nog meer aptytlik gewees het met ʼn meer intieme weergawe. Eddins het in die Adagio uit Katsjatoerjan se ballet Spartacus effens kleigetrap in die proses om ware Russiese emosies binne te dring. Alles ʼn bietjie te klinies vir ʼn volk wat van wroeg-emosies hou.

Ons uiters sjarmante sopraan Zandile Mzazi, oorspronklik van Elliot in die Oos-Kaap, is iemand om dop te hou te midde van die opera-renaissance wat plaaslik so welig ontwikkel. Sy het ʼn lieflike verhoogpersoonlikheid en in die arias uit Manon (Massenet), La Traviata (Verdi) en Guiditta (Lehár) het sy haar vokale veelsydigheid gedemonstreer. Meer skakering in  verbale dinamika en akkuraatheid in haar diksie sal haar kuns vinnig op ʼn nog hoër vlak plaas.

Kragtige liefdesbrief aan teater

deur Schalk Schoombie

Niemand kan gedurig oor sy/haar dood tob nie. Ons skram weg van ons eindes. Een strategie om die onvermydelike te vermy, die onverteerbare te verteer. is om die draak te steek daarmee, soos alle groot dramaturge doen.

Die grootste woordsmid, Wiliam Shakespeare, het in die meeste van sy verhoogdramas oor sterflikheid besin met poëtiese en spitsvondige vernuf. Is daar ʼn beroemder frase as Hamlet se bespiegeling: “To be, or not to be, that is the question?”

Die veelbekroonde Kanadese akteur en dramaturg Simon Fortin het, by wyse van spreke, al duisende dode gesterf – op die verhoog in die Bard se tragedies en in sy vierde eenmanstuk, … Or Not To Be, How Shakespeare Could Change Your Death. Sy doel met laasgenoemde is om die onsegbare uit te spreek, in die woorde van Shakespeare en ander digters, met liriese oorgawe; om beroemde, dikwels woordryke sterftonele sy eie te maak (Mercutio in Hamlet, Othello, Koning John, Cleopatra in Antony and Cleopatra, Koning Lear wat rou oor sy dogter Cordelia: “Howl!”). Aangrypend, roerend – en onverwags vrek snaaks.

Sy voleindings, wat wissel van heroïes tot absurd, word toegelig met biografiese staaltjies, kliniese gegewe en statistiek (sowat 58 miljoen mense sterf jaarliks wêreldwyd, rofweg die bevolking van Suid-Afrika). Sy pa, Louis Fortin, ook ʼn akteur, se skielike dood word bygeweef, en Fortin verwerk sy verlies met ʼn stewige skeut galgehumor. Die stuk is opgedra aan sy pa en ʼn oorlede vriend, Francois Bergeron.

“I wanted to write a love letter to the theatre, but the kind of love letter that would reconcile two quarrelling lovers,” skryf hy in die programnotas. “And what I have loved most about being an actor, besides the camaraderie and the pleasure of having many other lives, is to have had the luxury to explore what it means to be engaged in this mysterious journey we call ‘being human’, starting with mortality, and the meaning of being alive for such a brief season.”

Sy kennis van en passie vir Shakespeare, aangevul met uittreksels uit Harold Bloom, W.H. Auden, Philip Larkin, Sir Thomas Browne e.a. belig ʼn immer tergende onderwerp maar bly deurentyd intens persoonlik.

Christian Coulson se vindingryke regie en deurlopende gebruik van multimedia-beelde, video en klassieke musiek, ondersteun en verryk Fortin se vertolkings sonder om dit te oordonder – die perfekte balans tussen visuele trefkrag en woordkuns.

Maar in alle opsigte is dit Fortin se spel wat bewondering afdwing, sy formidabele beheer oor stem en liggaam, ʼn loslit-vaardigheid, sy sinryke en genuanseerde hantering van diverse tekste, style en karakters – hoe hy met skaars merkbare verskuiwings in houding en stemplasing uiteenlopende scenario’s weergee. Want is elkeen se dood nie so individueel soos die persoonlikheid nie?

Dis nie aldag dat Suid-Afrikaanse gehore sulke geslypte internasionale talent beleef nie. …Or Not To Be is onmisbare, kragtige teater wat verrassende antwoorde op Hamlet se universele vraag gee.

Orkeste se repertorium-rondomtalies

deur Paul Boekkooi

Ons land het, wonderbaarlik genoeg, nog steeds drie professionele (voltydse)   simfonieorkeste wat oorleef: die Kaapse Filharmoniese Orkes (CPO) in die moederstad, die KZN Filharmoniese Orkes (KZNPO) in Durban en die Johannesburgse Filharmonese Orkes (JPO) in die Goudstad.

Aldrie word deur wydverspreide befondsing in staat gestel om jaarliks in die reël minstens 16 simfoniekonserte met voorste internasionale dirigente en soliste, verspreid oor vier seisoene, aan te bied. Elkeen van hulle het ʼn lojale ondersteuningsbasis wat hul gehore betref, met Kaapstad en Johannesburg aan die spits en dié in Durban wat helaas oor jare gevaarlik begin wegkrimp het.

Om hierdie verskynsel teen te werk, het die orkeste se keuse van repertorium al hoe meer begin verskraal en het selfs meerdere uitvoerings van dieselfde werk binne die top-40 uiters gewilde komposisies in ʼn kalenderjaar voorgekom. Veral in Johannesburg word daar die afgelope jare vasgesteek by die sogenaamde standaardrepertorium van “veilige” werke uit die Duits-Oostenrykse, Middel-Europese en Russiese Romantiek ten koste van meer eietydse meesterwerke.

Die ryke repertorium van die laaste 70 jaar van die 20ste eeu word geen kans gegun nie, om nie eers te praat van die 21ste eeu nie. Die JPO het in sy goue jare (naastenby tussen 2007 en 2012) dikwels avontuurlik te werk gegaan deur selfs komposisies van Messiaen, Ligeti, Bartók, Copland, Kodály. Berg, Sjostakowitsj, Suid-Amerikaanse komponiste, asook stukke van lewende Suid-Afrikaanse toondigters te programmeer. Van laasgenoemde was daar ook wêreldpremières.

ʼn Mens sou ʼn analogie ten opsigte van die gebrek aan kontemporêre werke kon trek met dít wat in die beeldende kunste gebeur. Stel jou voor dat kunssale sou besluit om slegs werke van Pierneef, Maggie Loubser, Gregoire Boonzaier en van hulle tydgenote uit te stal en die werk van twee geslagte daarná sou begin ignoreer. Hulle sou nie ‘n bestaan kon maak nie, want by dié kunsvorm is deurlopende vernuwing ʼn lewensaar wat gekoester word.

Ook in die teaterkuns maak die kontemporêr geskrewe dramas of komedies ʼn veel hoër persentasie van die geheel uit as die werk van die klassieke Griekse dramaturge en later byvoorbeeld Shakespeare, Ibsen of Tsjechof (om maar enkeles te noem). Nuut geskrewe teater ontleed al hoe meer die menslike staat tot in sy diepste wese. Gehore word diep daardeur geraak. Ook die ontploffing binne kontemporêre dansgenres spreek kragtiger tot eietydse gehore as die sprokiesballette uit die Romantiek van weleer.

Waarom lewe musici so graag asof hulle in die verlede vasgevang is? En waarom kan luisteraars slegs gesus word deur ‘n herkenbare melodie? Is daar nie meer enige stimulerende avontuurlikheid te vinde binne hulle vryetydsbesteding nie?

Antwoorde daarop is nie maklik te vinde nie, maar my eie waarneming oor 18 jaar by die JPO-konserte – waarvan die uwe terloops slegs vyf níé bygewoon het nie – is dat die meerderheid van gehoorlede altyd positief gereageer het op die uitsondelike ervaring wat die uitvoerings van  komposisies deur die hierbo genoemde lysie komponiste aan hulle gebied het.

Sela.

Meesleurende Paaskonsert

deur Paul Boekkooi

Lamentatione – Musiek vir Paastyd, aangebied deur die Koepel Kunstesentrum. Met die Ensemble Fons Partita, Koor en soliste. Konsertmeester: Antoinette Lohmann. In die Johanneskirche, Pretoria.

Komponiste is deur die eeue heen sterk deur die gewydheid en inkeer wat die voorbereiding vir die jaarlikse Paasgebeure impliseer, aangegryp. Tussen Goeie Vrydag met sy dramatiese gebeure, die sogenaamde “stil” of “swart” Saterdag en die viering van die Opstanding op Paassondag, is dit vir alle ontvanklike Christene ʼn emosiebelaaide tyd. Dit gaan nie onaangeraak by jou verby nie, terwyl die musiekgeskiedenis ons leer presies hoe komponiste sulke verskillende tradisies binne hul individuele musikale style geïntegreer het.

Hierdie konsert, wat die afgelope Sondagmiddag in die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg herhaal is, was 2019 se terugblik op Pase deur die geestesoor en -oog van Joseph Haydn, die omvattendste voorloper en vervolmaker van die Klassieke tydperk in musiek. Die openingswerk was die Simfonie no. 26 in D mineur, Hob. 1: 26 met die bynaam Lamentatione wat mettertyd ontstaan het.  Sy eerste simfonie in ʼn mineur toonaard is die ideale keuse om iets van die bedrukte stemming daarvan weer te gee, al laat die openingsdeel se tempoaanduiding van Allegro assai con spirito jou iets anders verwag.

Vanuit haar sentrale konsertmeesterposisie het Antoinette Lohmann se stilisties vars en vitale leiding van dié relatief vroeë Sturm und Drang simfonie opgeval – ʼn vertolking wat ook deur gepaste kontraste op die vlak van artikulasie en frasering sy merk gelaat het. Die Gregoriaanse gesang wat Haydn as tweede tema in die eerste deel vestig, het weer duidelik in die daaropvolgende Adagio na vore getree. Die Minuet en Trio het ʼn gepaste bedrukte stemming gesuggereer. Die Franse horingspelers het op ou of kopieë van ou instrumente gemusiseer, terwyl die hobo’s en fagot bygedra het tot subtiele kleurkontraste.

Hierna het die grootse Stabat Mater wat, onverklaarbaar, steeds verwaarloos word, Christus se lyding sentraal geplaas. Hierin pas Haydn verskeie Barokprinsipes toe, waaronder ʼn briljante, virtuose koorfuga. Die meeste dele se stemming en tempo’s wissel tussen ingekeer en gematig, maar die komponis se emosionele betrokkenheid is merendeels op ʼn hoë vlak gemik.

Die soliste is deel van die koor wat uit 13 sangers bestaan. Hulle bring kollektief ʼn veel meer resonante klank voort as wat verwag is. Hulle bydrae het Haydn se harmoniese progressies en die botone op ʼn hoë vlak geplaas. Die suiwerheid van die koor was onberispelik.

Daar was geen swak skakel onder die vier soliste nie. Sonder om ‘n puriteinse skerpslyper te wil wees, lyk dit asof Alna Smit (sopraan) meer spesifiek konsentreer op musikale lyne as teksbelewing, want haar diksie kan verbeter. Die alt-arias is met diepe belewing deur Aukse Trinkunas benader, terwyl haar ingetoë voordrag se uitdrukkingspektrum vir haar duidelik belangriker as tegniese virtuositeit is. Chris Mostert (tenoor) was deurgaans welluidend  en musikaal gesproke op ʼn kruin. Sy mees aangrypende voordrag was in die “Vidit suum dulcem natum ”, ʼn klaaglied van Maria by haar seun wie se gees hom begin verlaat. Hendré van  Zyl (bas) se soepel tegniek, hoë peil van voordrag en ʼn oorkoepelende begrip vir alle stilistiese vereistes, het sy enorme groei oor die jare herbevestig.

Sonder Antoinette Lohmann se stilistiese kundigheid en haar energieke toepassing daarvan, sou alles baie anders geklink het: waarskynlik treuriger…

Twee konings stamp koppe

deur Kobus Burger

Om die Suid-Afrikaans gebore akteur sir Anthony Sher op die vooraand van sy sewentigste verjaardag ter plaatse in ʼn splinternuwe toneelstuk op die planke te sien, is ʼn belewenis.

Sher het in 1982 by die Royal Shakespeare Company (mede-vervaardiger van hierdie nuwe drama uit die pen van John Kani) aangesluit. En hier knoop hy sy loopbaan meesterlik saam met ʼn drama wat met Shakespeare se King Lear in gesprek tree.

In Kunene & The King daag die verpleër Lunga Kunene (Kani) by ʼn bejaarde akteur met lewerkanker, Jack Morris (Sher), op om hom te versorg. Morris is ʼn  korrelkop, vereensaam en kyk nog hopeloos te diep in die bottel al berei hy voor vir sy rol as Lear in ʼn produksie wat in die Kunstekaap-teater sal open.

Die “koning” en Kunene stamp uit die staanspoor koppe. Die pyn, wonde en verskille lê veel dieper as net die kanker. Plek-plek kreun die stuk onder die politieke retoriek en kommentaar wat nog nie in die karakters lêplek gekry het nie. ʼn Mens hoor nog die dramaturg se stem. Net té letterlik; té veel wysvinger na die gehoor.

Sher kan met die klap van die vingers transformeer. Sy oorgange is soomloos-oortuigend van ʼn lydende akteur tot ʼn formidabele Lear. ʼn Meesterklas in die toneelkuns met ragfyn toneelspel wat soos ʼn emosionele stemvurk tril.

Kani skets sy Kunene met bekende aanwendsels wat ʼn sterker regisseurshand sou kon uitstryk. Hy is wel ʼn gedugte teenwig vir Sher en sorg vir ʼn magdom komiese momente wat maak dat Kunene & the King nie as ʼn volwaardige tragedie onthou sal word nie.

Lungiswa Plaatjies se sang met musiek deur Neo Muyanga word vir dramatiese oorgange benut. Birrie le Roux se besonderse stelontwerp vestig twee uiteenlopende huise op die Fugard-verhoog. Tesame met Mannie Manim se beligtingsontwerp is die produksie tegnies van hoogstaande gehalte.

Die ontknoping en slot het net té maklik oorgekom, asof dit afbreuk doen aan die ryk, geskakeerde en diepgaande verhaal wat in die voorafgaande sowat 100 minute vertel is. Die kompleksiteit van die karakters en politieke moeras waarin die twee mans hulle bevind, word met ʼn kitsoplossing uit die pad gevee. ʼn Mens wonder: Kon Shakespeare, Lear of Kunene se voorvaders (of selfs hul spoke) nie dalk in hierdie sleuteltoneel aangemeld het nie?

Kunene & The King is steeds ʼn ʼn tydige nuwe Suid-Afrikaanse drama en behoort nes Kani se Nothing But The Truth nog lank onthou te word. Gaan kyk dit, al is dit dan net om Sher se manjifieke Morris-vertolking te beleef.

  • Kunene & The King, The Fugard Theatre, Kaapstad. Vir meer inligting of besprekings besoek www.thefugard.c

Haydn die juweel van die aand

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Yasuo Shinozaki (dirigent) en Edith Peña (solis). Program: Simfonie no. 94 in G majeur – Verrassing (Haydn); Klavierkonsert no. 2 in g mineur (Saint-Saëns); Simfonie no. 4 in d mineur (Schumann). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. 

ʼn Orkes, of dit nou 20, 50, 70, of oor ʼn honderd lede tel, is vergelykbaar met ʼn korporasie en funksioneer in ideale omstandighede ook so. Verder is dit ook ʼn dig verweefde samestelling van hoogs begaafde individue wat daarna streef om as ʼn harmoniese geheel te funksioneer. Die skoonheid van die uitvoerende kunsvorm het sy eie en spesifieke estetiese reëls. Dit is hier waar die dirigent as ’t ware die kragbron word wat tydens repetisies sy instrument (die orkes) moet inspireer en lei sodat elke partituur die luisteraar so getrou moontlik sal bereik deur die komponis se aanwysings te realiseer.

Vandeesweek se JFO konsert voldoen aan talle van die basiese vereistes wat ons van ʼn orkes verwag. In die volksmond sou ons kon sê die balkie is hoog gelig – veral in die uitvoering van Haydn se sogenaamde “Verrassingsimfonie”, waarin die komponis op speelse wyse sy humoristiese insigte met die gehoor deel. 21ste eeuse gehore is helaas so ernstig, dat  hulle dit nie eintlik snap nie.

Yasuo Shinozaki het sy eiesoortige idees oor hoe dinamiese effekte, tempo’s, frasering en balans tussen die vier afdelings van die orkes behoort te klink. Haydn sou waarskynlik vir hom geknipoog het met soveel inenting van lewe in die simfonie. Sy werkswyse het hoë vlakke van ensembledissipline bewerkstellig, en terselfdertyd soepelheid behou. Tempo’s was vlot, maar die Menuetto se Trio-gedeelte was ʼn misrekening: Haydn sou skaars met so ʼn ossewa-tempo tevrede wees. Die JFO het aan die vereiste virtuositeit voldoen, met veral die houtblasers seëvierend en Magda de Vries voor die keteltromme so akkuraat soos donderslae.

Edith Peña het oorkoepelend ʼn verdienstelike indruk gemaak met haar vertolking van Saint-Saëns se Klavierkonsert no. 2, maar in belangrike details minder bekoor. Tegnies is dit ʼn enorm uitdagende werk, bygesê. Sy het deurentyd die meeste van dié eise waargemaak, maar haar klankproduksie besit te min vloeiendheid en kontrasrykheid waarmee die komponis die solis uitdaag. In die Andante sostenuto openingsdeel was haar klank soms onnodig perkussief. Daar was helaas te min tekens van dinamiese kontraste wat sinryk gedra word deur ʼn digterlike aanvoeling en ʼn subtiel aangewende klankpalet.

In die oorblywende twee dele, ʼn Allegro scherzando en ʼn Presto, was die tempo’s ideaal gekies. Met ʼn ooraanwending van die regterpedaal het die klavier se klank in wollerigheid verval. Dit werk in teen die komponis se visie rondom helderheid ten alle koste. Orkestrale ondersteuning was gaaf en attent. Me. Peña het as toegif haar uitsonderlike siening van Chopin gedemonstreer in ʼn vertolking van een van sy walse.

Shinozaki bewys hom as ʼn betroubare Schumann-eksponent. In die JFO besit hy ʼn skare volgelinge wat sy visie detailryk geassimileer het. Die orkes het virtuoos en gevoelsryk die kompleksiteite rondom die Schumann-orkestrasies binnegedring. Met uitstekende solowerk deur van die strykers (konsertmeester inkluis) en houtblasers, kon jy helaas andersyds nie wegkom van die feit dat daar dikwels ʼn logheid in klank die geheel binnegedring het nie.

  • Herhalings: 23 & 24 Mei om 19:30.

Macbeth vir altyd

deur Mariana Malan

Macbeth maak die afgelope tyd onverwagte draaie in my lewe.

Eers bring ʼn gewaardeerde kollega ʼn lapsak van Londen af met Lady Macbeth se wanhopgie woorde wanneer sy denkbeeldige bloed van haar hande afwas (“Out, damned spot! Out, I say!”), as geskenk. Boonop kry ek Jo Nesbo se boek Macbeth, gegrond op die Shakespeare-drama. Aanvanklik lees dit moeilik, maar ek raak gou vasgevang deur die magspel, wraak en verraad van die vergange tragedie wat in die hede afspeel..

Macbeth is ʼn ambisieuse polisieman en dwelmhandelaars die skurke. Die net van mag, geld en respek spin hom gou vas. Sy “koningin” se naam is Lady en sy sterk hom vurig in sy kwaad.

Op ʼn baie slim manier kry elke karakter in die oorspronklike drama sy plek in die verhaal –

Duncan, Banquo en sy seun Fleance, Lennox, Cathness en natuurlike die hekse.

Jy gaan ver soek na hekse om hierdie drie te troef. Twee is klein Chinese wat hul lang swart hare oor hul gesigte kam en in piepstemme praat. Die ander een is ʼn fopdossser, lank en gespierd soos ʼn uitsmyter en geklee in ʼn kleefpak met luiperdvelpatrone.

Daar is gewere, moderne tegnologie, ʼn casino en ʼn volledige verklaring van hoekom Duff (die drama se Macduff) die een is wat Macbeth kan aanvat. Al wou ʼn mens al effens verveeld raak met Nesbo, knetter dié boek met vindingrykheid en hoogspanning.

Skaars het ek die laaste bladsy gelees of ek kry ʼn uitnodiging van (Fred) Abrahamse en (Marcel) Meyer Productions. Hul produksie van Macbeth is ‘n tyd gelede in Gauteng opgevoer en vir agt Naledi-toneelpryse benoem. Ses mans vertolk al die rolle.

Meyer se kostuums is altyd iets om na uit te sien. Almal dra swart Skotse rokkies afgerond en bostukke met leer borduursels en gedetailleerde bykomstighede. Die handeling speel af om en op ʼn lang tafel, swart en rooi is die oorheersende kleure en rookmis skep stemming.

Die leerders (dis ʼn voorgeskrewe werk) in die gehoor was begogel met die opvoering. Selde vantevore in ʼn Shakespeare-produksie was daar soveel fluisterings oor Macbeth (“Jis dis ʼn vieslike man”) of die hekse (“Hulle maak my bang!”) of is ʼn spook se verskyning met soveel skok begroet.

Tog is dié produksie nie uitsluitlik op kinders gemik nie. Volwassenes sal eweneens geboei wees. Dit noop my toe om vir die eerste keer in meer as ʼn dekade The Riverside Shakespeare met sy Bybelagtige blaaie oop te maak en te begin lees.

Die blywende indruk is van ʼn tydlose tragedie met vele moontlikhede en uiteenlopende vertolkings. Shakespeare praat hard en reguit met lesers en toneelgangers van alle tye en kulture oor die gruwels van despote wat hul mag misbruik.

ʼn Weergalose Skotse simfonie

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Arjan Tien (dirigent) en Sodi Braide (solis); Die huwelik van Figaro ouverture & Klavierkonsert no. 23 in A majeur (Mozart); Simfonie no. 3 in A mineur – Skotse (Mendelssohn). Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Musikale ontdekkingstogte kan in ʼn groot mate en in talle gevalle ook ʼn variant van werklike reiservarings word. Die komponis Mendelssohn (1809 – 1847) het byna altyd ʼn sketsboek byderhand gehad wanneer hy in ʼn koets ry of voetslaan. Die gevolg was twee simfonieë waarin sy herinneringe aan en beelde van twee lande duidelik spreek: die No. 3 (Skotland) en No. 4 (Italië). In verlede week se JFO-konserte het die dirigent Arjan Tien ons musikaal gesproke op ʼn Skotse toer geneem. Mendelssohn het vir dertien jaar aandag aan dié projek geskenk – ʼn simfonie wat nie net bestaan uit musikaal-folkloristiese of -geografiese sfeertekening nie, maar ook ʼn subteks uitlig wat ʼn geestelike dimensie openbaar. Laasgenoemde kom, benewens in die Adagio, veral na vore in die kontrapuntaal verwikkelde slotdeel, Allegro vivacissimo – Allegro maestoso assai, waaruit die komponis se bewondering vir J.S. Bach straal.

Arjan Tien is bekend vir die strawwe deeglikheid van sy voorbereiding en die gekonsentreerdheid en gedrewenheid tydens repetisies. Hy is ook een van die min dirigente wat die histories ingeligte plasing van veral die strykers – die eerste en tweede viole voor op die verhoog teenoor mekaar, die kontrabasse heel links in ʼn halfsirkel, die tjello’s sentraal-links en die altviole op die konvensionele plek – in ere herstel. Dit alles is prosesse om ideale klankdeursigtigheid en -vermenging te bereik, maar ook sodat die musici mekaar beter kan hoor. Dit bevorder onder andere ritmiese presisie.

Die JFO het die afgelope week beide aande noukeurige ensemblewerk met ʼn ekspresiewe spontaneïteit verbind.   Oorkoepelend is daar talle details in die partituur uitgelig wat luisteraars sou opval: sommige meestal verwaarlooste newestemme is geaksentueer, presiese beheer oor die koperblasers het die simfonie se struktuur natuurlikerwys belig, terwyl die musici se perfekte artikulasie Mendelssohn se oorwoë temas die eer wat hulle verdien laat ontvang het. Victoriaanse hoogdrawendheid is totaal vermy. Die oorwegend voortvarende tempo’s het die oor na nuwe ontdekkings gelei.

In die openingswerk, Mozart se Huwelik van Figaro ouverture, is ʼn mens jolig daarvan bewus gemaak dat dit een van die komponis se dawerendste suksesse in ʼn kompakte miniatuurvorm is. Die Klavierkonsert No. 23 in A majeur was orkestraal solied en in die Adagio weliswaar ook aangrypend. Helaas het die (ingevoerde) solis, Sodi Braide, nie voluit oortuig in sy interpretasie daarvan nie. Benewens dat hy die linkerpedaal te chronies aangewend het en innerlikheid bo enige manifestasie van Mozartiaanse vreugde verkies het, was sy spel te neutraal om enigiets nuuts daarin oor te dra. Sy enkele ornamentasies het momenteel die hoop laat ontstaan dat ʼn nuwe wending sou kon uitspruit, maar nee … Soms word daar nog steeds te veel “erediens” by sekere vertolkers ontdek.

Albei pianiste wat in die JFO se Winterseisoen opgetree het, was op verskeie vlakke teleurstellend. Ironies, omdat daar Suid-Afrikaners is wat die werke op ʼn hoër vlak sou kon uitvoer.

  • Woensdag 12 en Donderdag 13 Junie vind die JFO se slotkonserte plaas: 19:30. Linder-ouditorium. Dirigent, die Amerikaner Robert Moody. solis die Koreaanse violis Ye-Eun Choi; Vivaldi se ‘Vier Seisoene’ en Brahms se Simfonie no. 3 in F majeur. Besprekings: Computicket.

Verrykende familiegeheime

deur Paul Boekkooi

’n Vriendin wat my pad sowat 45 jaar gelede gekruis het, noem onlangs vir my dat sy tot die slotsom gekom het dat die lewe in essensie om verhoudings wentel – spesifiek interpersoonlike verstandhoudings. Oor die liefde is sy ietwat sinies, of dalk realisties?

Met die aanskoue van die Italiaanse dramaturg Enrico Luttmann se Family Secrets in ʼn Engelse vertaling, het dié gesprek telkemale deur my kop geflits. Dié komedie-drama handel oor ʼn bejaarde ma, Grazia (Dorothy Ann  Gould), wat in ʼn Italiaanse kusdorpie woon. Haar 28-jarige seun, Adamo (Sven Ruygrok), kom ná ʼn lang afwesigheid kuier. Duidelik sit ma en seun nie langs dieselfde vuur nie. ʼn Koue afstandelikheid heers.

Wat Luttmann se tweepersoonstuk in die eksposisie laat blyk, is dat daar ʼn duistere geskiedenis tussen hulle hang, dat hulle dinge van mekaar verberg het wat in “normale” verhoudings lankal opgeklaar sou weest. Die dramaturg ken die geheime om die gegewe agter alles drupsgewys deur te gee. Terughoudendheid in intieme gespreksontknopings is ʼn kuns wat sepieskrywers nog nooit kon bemeester nie.

Family Secrets is ʼn wonderlik subtiele kommunikasiespel (en in enkele tonele ook manipulerend) tussen twee familielede wat van mekaar weggedryf het. Die verwikkelinge behoort nie uitgelap te word nie.

Waaroor ʼn mens nie wil swyg nie, is die spel van die twee akteurs wie se ouderdomssverskil tot byna ʼn geslag strek. Dorothy Ann Gould hou jou in haar spreekwoordelike handpalm, terwyl sy in die tweede helfte demonstreer wat ʼn kragtoer werklik behels. Sven Ruygrok, onlangs te sien in Equus as Alan Strang, is een van die meer boeiende jong Engelse akteurs, met sterk teenwoordigheid en wydlopende talent. Daar het nog geen voorspelbare maniërismes in sy spel posgevat nie.

Alan Swerdlow se regie druk nie kunsmatige stempels af nie, maar is altyd gerig op die innerlike wêrelde van die karakters wat hy met verdrag in repetisies aan die akteurs oordra. Daar is immer verrassings, soos in een subtiele toneel waar Adamo moet rondbeweeg om sy kop volledig in die kollig te kan plaas. Dit spreek, binne konteks, boekdele. Kosie Smit te stelontwerp is eenvoudig, maar treffende funksioneel.

Gaan verpoos met Family Secrets. Dit is die moeite werd en selfs in ʼn groot mate lewensvervullend.

  • Pieter Toerien se Montecasino-teater. Tot 30 Junie.

Sempre Opera: La Traviata in die Goudstad

deur Paul Boekkooi

Lus vir opera? In Suid-Afrika sal die vraagsteller in die meeste gevalle nie ʼn lewende opvoering bedoel nie.  Dit sou eerder ʼn verwysing wees na ‘n Met Opera in HD-produksie by Cinema Nouveau, ʼn DVD of CD, ʼn langspeelplaat, kasset, of Sondagaande op RSG (Wouter de Wet se Dis Opera).

Opera gaan plaaslik stadig maar seker agteruit. Tog is twee operaskole, in  Kaapstad Pretoria, nog aktief met opleiding. Daar is enkelinge wat saamspan om dié mees verwikkelde van uitvoerende kunste lewendig te hou: Sempre Opera van Pretoria bestaan geruime tyd en word gedryf deur individue wat die vaandel van sang- en teaterkuns hoog hou. Met beperkte borgskappe, weldoeners, sangers, musici, dirigente, regisseurs en teatertegnici wat dit vir die liefde van  die saak doen, het Sempre Opera vele kleinode meestal minimalistie op die planke gebring.

Verlede jaar ís ʼn geslaagde Carmen in die Joburg Theatre (vroeër Stadskouburg) opgevoer en vanaf dié naweek volg hulle dit op met vyf opvoerings van Verdi se La Traviata in die Nelson Mandela-ouditorium.

Die openingsaand van dié opera op 6 Maart 1853 in Venesië was ʼn klaaglike mislukking. Verdi het die opera ‘n jaar lank opsy geskuif  totdat sy librettoskrywer Francesco Piave en ʼn groep jong Venesiërs hom versoek het om dit weer op te voer – dié keer met Piave aan die stuur. Op 6 Mei 1854 het La Traviata in die kleiner Teatro San Benedetto ‘n opspraakwekkende sukses gehad. Sedertdien is dit een van Verdi se gewildste operas.

Die Kaapstadse sopraan Leah Gunther maak haar debuut in die Joburg Theatre én met Sempre Opera as die courtisane Violetta Valery. In 2018 het sy haar meestersgraad in musiekuitvoering aan die Universiteit van Kaapstad behaal, en meesterklasse in Hong Kong van Dame Kiri Te Kanawa ontvang. Teenoor haar sing die Johannesburgse tenoor Yudi Cohen as Alfredo Germont. Cohen het uitgebreide sangonderrig in die Verenigde State en Australië ontvang. Die derde hoofsanger is die Pretoriase bariton Danie Verster as Alfredo Germont se pa, Giorgio. Verster het in Duitsland gestudeer en opgetree. Ná sy terugkeer neem hy gereeld deel aan plaaslike opera- en  oratoriumproduksies.

Pierre du Toit is die regisseur. Plaaslik het hy verskeie produksies behartig. Hy is bekend as sangpedagoog met ʼn internasionale reputasie vir die Voce Vista rekenaargegenereerde onderrigstelsel wat onder meer by die Juilliard-musiekskool in New York gebruik word.

Schalk van der Merwe, die jong Suid-Afrikaanse dirigent wat vroeër vanjaar geseëvier het in die Len van Zyl dirigentekompetisie in Kaapstad, dirigeer die Capital Chamber Orchestra vir dié Sempre Opera La Traviata .

  • Die produksie open Saterdag 22 Junie om 19:30, met opvoerings op 23, 26 en 28 Junie (dieselfde tyd), en laastens op Sondag 30 Junie om 15:00.
  • Kaartjiepryse: R200 – R475, Bespreek by joburgtheatre.com of bel 0861 670 670. Groepbesprekings teen afslagpryse: skakel 011 877 6853.

ʼn Blink gestewelde kat

deur Mariana Malan

Hierdie keer maak die vere nie die voël nie, maar die stewels die man.

Die heerlike musiekspel Kinky Boots trap die onweer in Kaapstad plat en laat almal daarna hunker om een enkele keer ʼn paar rooi stewels wat tot in die onnoembare strek aan te trek.

Dit is die lekker storie van ʼn skoenfabriek op die rand van bankrotskap wat gered word deur weg te breek van daardie soort skoene wat net in stowwerige raadsale gesien word na stewels wat enige fopdosser se hart laat klop.

Die ommekeer kom wanneer die bleeksiel Charlie die flambojante Lola ontmoet en hulle saamspan om stewels te maak vir mans wat weet spykerhakke is nie vir sissies nie. Om jou man te staan etlike sentimeter hoog met punte wat kan moor, is nie ʼn grap nie. Om daarmee saam jou lyf te kan swaai en flankeer en jou hare laat bons vra spierkrag en stamina.

Die span wat tans in Kaapstad op die verhoog is, doen dit met oorgawe.

Skaars ʼn paar maande nadat Earl Gregory met sy beskeie Josef in Joseph and the Amazing Techniclor Dreamcoat elke moederhart geroer het, pronk hy nou op sy hemelhoë hakke rond om mans en vroue te bekoor. Niemand op die verhoog kan by hom kers vashou nie.

Voeg hierby kostuums wat die asem wegslaan en musiek (gekomponeer deur Cindi Lauper) en jy het ʼn rooiwarm treffer.

Die speelvak in die Fugard-teater in Kaapstad het pas begin, maar dis reeds verleng tot einde Oktober. Tans is die groot plesier net vir Kaapstad beskore, maar as die noorde hard pleit, kan dinge dalk verander.

Jy hoef nie The Rocky Horror Show op die rak te bêre nie, maar hier is ʼn byderwetse stukkie pret wat kan vuisslaan vir ikoniese status.

Seldsame teater-alchemie

deur Paul Boekkooi

Daar bestaan geen regverdiging daarvoor om enige vorm van geykte teatertradisies te laat herlewe by ʼn  verhoogproduksie van enige literêre werk deur die Joods-Duitse skrywer Franz Kafka (1883-1924) nie. Gebeur dit wél, sou dit teen die grein van Kafka se wese as skrywer indruis. Hy was ʼn nieuligter van statuur – ironies genoeg só sonder dat hy dit ooit self besef het.

Hy het nooit dramas per se geskryf nie, maar sy fiksie is met so ʼn oorvloed van eiesoortige gedagtestrominge gelaai – absurditeit, donkerheid, eksistensialisme, plus wroegings rondom gekwelde individue wat magteloos probeer oorleef binne ʼn gesigslose, verstrengelende burokratiese bestel waarvan daar geen uitkomkans is nie. Dié stelsel wil bowenal elke vorm van individualiteit smoor.

In Kafka se novelle The Metamorphosis, gepubliseer in 1915, word die kern gevorm deur prosesse rondom ʼn bedreigende vorm van vervreemding, deels konkreet, deels abstrak. Dié gevoelsbeskrywing het die byvoeglike naamwoord “Kafkaesk” laat ontstaan. Niks daarin is simplisties nie, veel eerder is dit uiters kompleks, waarin verskeie fundamentele beginsels van eksistesialisme oorheers.

Die Universiteit van Johannesburg se Kuns en Kultuur-fakulteit in samewerking met hul innoverende fakulteit van Kuns, Ontwerp en Argitektuur het reeds in 2018 gedebuteer met ʼn verhoogweergawe van Metamorphosis. Dié produksie is gegrond op Steven Berkoff se verwerking van The Metamorphosis wat van 1969 dateer. Dít, asook die minimalistiese, uiters beweeglike verhoogontwerpe wat gemaklik deur die geselskap en ʼn enkele helper rondgeskuif word, hou die toeskouer vasgenael.

Met Alby Michaels se skerp waargeneemde, detailryke regie, ʼn geselskap wat behoorlik gedril is in gedissiplineerde bewegingskuns wat nog verder aangevul en afgerig is deur Craig Morris as choreograaf, ʼn knap animasie-ontwerpspan, die komposisies en klankontwerp van Kuba Silkiewicz, asook verskeie ander tegniese spesialiste, is dit ʼn opvoering wat ook tempogewys in hoogste rat bly stoomroller.

Hoeveel van Berkoff se spelstyl behou is, is moeilik bepaalbaar, maar die resultate voer deurentyd mee. Soepel bewegings en ʼn frappante konsentrasie op afgeronde mimiek maak van dié Metamorphosis ʼn visuele skouspel. Karakterisering staan sentraal, terwyl die humor, waarvan daar aanvanklik heelwat is, ook wydlopend sy merk maak.

In die hoofrol van die jong Gregor Samsa, wat ná ʼn nagmerrie ontdek dat sy liggaam transformeer na iets wat soos ʼn miskruier lyk, suggereer William Harding die trauma wat daarmee saamgaan. Craig Morris as Mr Samsa, die vader van die huis, is energiek en hoogs akrobaties. Khutjo Green as Mrs Samsa en Ameera Patel as die suster, Greta, lewer karakterisering wat wissel van uitbundigheid tot oomblikke van gevoelsryke empatie. Jack Mabokachaba is knap as die loseerder.

Die vier hoofspelers vorm ʼn hegte ensemble wat die indruk skep dat hulle deur ʼn span onsigbare poppemeesters gemanipuleer word. ʼn Mens kyk onbewustelik oopmond na sulke teater-alchemie! ʼn Prestasie wat wye ondersteuning verdien in dié tweede en finale week van opvoerings.

  • Metamorphosis, UJ Kunssentrum-teater, Auckland Park, Johannesburg. Tot 20 Julie.

Vaarwel aan Russiese voortreflikheid

deur Paul Boekkooi

Selfs op sy beste lei afskeid tot moeilik hanteerbare emosies. Selfs meer so wanneer die persoon wat vertrek ʼn onvervangbare voetspoor van voortreflikheid laat en, soos meestal in sulke gevalle, onvermydelik ook ʼn ongemaklike leemte laat wat, tensy ʼn wonderwerk gebeur, onvervulbaar blyk te wees.

Spesifiek ter sprake is die Russies-gebore en -opgeleide altviolis Valery Andreev wat in 1991 na Suid-Afrika geëmigreer, al gou leiersposisies in verskeie orkeste begin beklee het en wyd as ʼn gesiene pedagoog jong musici begin onderrig het: in besonder by die Pro Arte-skool en Musiekdepartement  van die Universiteit van Pretoria. Nou, 28 jaar later, keer hy terug na sy wortels om in sy geboorteland sy vele talente terug te ploeg binne ʼn kulturele ambiance wat hom vanselfsprekend na aan die hart lê.

As uitvoerende musikus het sy persoonlike talent en leiersfunksie veral sterk na vore gekom in sy betrokkenheid by kleiner ensembles, soos die intussen helaas ontbinde Kamerorkes van Suid-Afrika, maar veral ook as stigterslid van die Evolution of 4 Strykkwartet waarvan hy vanaf  November 2011 (uitgesonderd ‘n kortstondige onderbreking) tot nou ʼn lid was. Benewens Andreev is sy drie kollegas in die strykkwartet, Johanna Roos (eerste viool), Ané van Staden (tweede viool) en Jessica Bailey (tjello).

Andreev se afskeidskonsert met Evolution of 4 vind eerskomende Sondag, 4 Augustus, om 15:00 by Mooibly, Saartjiesnek, op die R511 roete, suid van die Hartbeespoortdam, plaas. Die ingang na Mooibly is links, slegs 300 meter van Saartjiesnek se kruin indien in ‘n noordelike rigting gery word.

Op hul program verskyn twee beroemde skrykkwartetkomposisies: Beethoven se Kwartet no. 8 in E mineur, Opus 59 no. 2 – die tweede van drie kwartette wat Beethoven in sy kragtig ontluikende middelperiode in opdrag van die Russiese  graaf  Razumovsky, wat hom as ambassadeur van sy land in Wene gevestig het, gekomponeer het. Dit is ʼn werk met simfoniese dimensies. ʼn Russiese tema wat die opdraggewer aan Beethoven voorgelê het, word in die derde deel, gemerk Allegretto, gehoor.

Na ʼn kort pouse volg ʼn uitvoering van Dvorák se gewildste strykkwartet: die No. 12 in F majeur, Opus 96 wat as die “Amerikaanse” bekend staan. Dit is gekomponeer tydens die komponis se verblyf in New York tussen September 1892 en April 1895. Hoewel Dvorák se Tsjeggiese inspirasie hom nooit verlaat het nie, is daar dele wat deur inheemse Amerikaanse musiek beïnvloed is.

  • Besprekings: Stuur ʼn sms aan Dietmar Holm, 072 437 4724.
  • Kaartjies: R150 (volwassenes) en R50 (kinders). Ná die konsert word sjerrie bedien.

Violet: Onpretensieus en heerlik

deur Paul Boekkooi

Musiekspele in teaters is reeds vir geslagte een van die grootste trekpleisters vir genotsoekers. Vandag is dit in talle lande ook die mees winsgewende onder teatergenres. Veral dié  met universele temas is onverwoesbaar. Ander met verhale wat dieper delf en die kyker met ietwat hoër vlakke van erns aanspreek, verkry selfs van tyd tot tyd ʼn kultusaanhang. Totaal onbekend aan my en ongetwyfeld seker ook aan baie ander, was Violet met lirieke en ʼn boek uit die pen van Brian Cowley en musiek gekomponeer deur Jeanine Tesori, gegrond op die Amerikaanse verhaal The Ugliest Pilgrim deur Doris Betts.

ʼn Ongeluk het Violet (Lerato Magagane) getref wat haar lewensgehalte, laat staan ʼn “normale” lewe, vir altyd sou beperk: Haar gesig is geskend, maar daar is ook dieper traumas – sommiges waarmee sy al van kindsbeen moes worstel. Die opvoeding wat sy van haar vader, ʼn enkelouer, ontvang het, was nie altyd ideaal nie. Die musiekspel toon hoe sy as ʼn jong volwassene geleidelik haar eens uitsiglose toekoms oorwin met haar ysterwil, sonder om ooit tot heldin te ontwikkel. Die musiekspel speel in die vroeë 1960s af toe ʼn revolusie rondom burgerregte in Amerika aan’t broei was.

Hierdie opvoering is ʼn produk van die samewerking tussen die Oakfields College se Fakulteit van Musiekteater en Dans en die Universiteit van Pretoria se Dramadepartement. Die regisseur is die Amerikaner dr. Harold Mortimer wat reeds vir meer as dekade plaaslik betrokke is by drama-, sang- en dansstudente van kolleges en universiteite. Dit is, tipies Amerikaans, ʼn uiters energieke opvoering, met ʼn pizzazz wat ons selde op ons studenteverhoë ervaar. Veral die agterdoekprojeksies van outentieke Amerikaanse foto’s uit dié era is uiteindelik slegs ʼn enkele aspek wat sterk uitstaan. Ook die modes, musiek, spraak en gedragskodes is fyn bedink en kry voluit lewe.

Violet is pasklaar en ʼn ideale voertuig vir jong studente wat hulle in drama en verwante dissiplines begeef. Ons tyd vereis verstommende veelsydigheid van akteurs met ʼn visie om eendag wêreldverhoë te betree. Dit is dan ook die ensemblewerk wat hier die hoogste vlak van lof in dié skouspel van onderling verbonde vaardighede loslaat. Sang, drama, beweging en choreografie kan daarby gevoeg word. In die groot rolverdeling word bykans elke individu ook die kans gegun om – al is dit in enkele oomblikke – te skitter.

Larato Magagane word ʼn dapper Violet deur ʼn kombinasie van broosheid en ʼn positiewe lewensgerigtheid wat sy uitstraal. Sy besit reeds ʼn ontwikkelde stem wat verras. Van hierdie kwaliteite is ook te vinde by Jordan Soares as die jong Violet. Musanete Sakupwanya as hul vader bring in die kort tonele verskeie emosies kontrasryk na vore. Hoewel die sang by Thandaza Silwana se Flick en Keegan Roux se Monty (albei doen militêre diens) nie altyd op dieselfde peil as hul spel is nie, oortuig hulle tog.

Die produksie besit ʼn ideale tempo, die verhoogontwerp is slim bedink om die road trip subteks realisties sentraal te plaas, terwyl enkele massatonele en veral dié een in die Pinkersterkerk uiters outentiek oorkom – danksy die loslittige passies van die prediker (Lehlogonolo Clifford Tlomatsana). Die musikale leiding verloop vlot met onder andere die pianis-musiekdirekteur Paul Ferreira as dirigent en Michael-John Anderson as sy assistent op tromme.

Hierdie ervaring is onpretensieus en heerlik!

  • Violet, in die Lesedi van die Joburg Theatre, Braamfontein.

Die strykstok vertel die verhaal

deur Paul Boekkooi

Yi-Jia Susanne Hou, viool; Annalien Ball, klavier. Program: Sonatine in D majeur, opus 137 no. 1 (Schubert); Vioolsonate in F majeur, opus 24 – “Lente” (Beethoven); Suite Populaire Espagnol (Falla); Suite van Chinese volksliedere en danse (Yang Boa Zhi); Variasies op ‘n oorspronklike tema, opus 15 (Wieniawski). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Gisteraand.

Elke musikus wat vir die eerste keer ʼn konsertreis deur Suid-Afrika onderneem, is meestal ʼn onbekende entiteit. Konsertbesoekers is vanselfsprekend ietwat skepties teenoor die reputasies wat sommige toonkunstenaars vooruitloop. Ons is bewus van die invloed van fopnuus wat só opgeblase op uiterlikhede fokus dat ware kunstenaarskap verdwyn.

Die Chinees-Kanadese violis Yi-Jia Susanne Hou (41) het haar opleiding hoofsaaklik in Kanada en die Juilliard Skool in New York ontvang. In ʼn kort tydsbestek het sy in drie Europese vioolkompetisies geseëvier. So iets is immer deurslaggewend vir enige loopbaan.

Haar optrede die naweek in die Linder-ouditorium, Johannesburg, waar sy die legendariese Giuseppe Guarneri-viool bespeel het wat eens Fritz Kreisler se eiendom was, het van meet af aan ʼn verstommende vlak van beeldend-poëtiese klankverfyning uitgestraal. Sy en haar SA begeleier, Annalien Ball, het reeds in die Schubert-sonatine ʼn wonderlike twee-eenheid geskep waarbinne albei die speelse, dialogiserende instrumentale tweegesprekke met ʼn fyn tegniek en lig vloeiende kommunikasie aangepak het. Hier is kamermusiek sentraal geplaas. Geen wedywering van dinamiek was nodig nie. Gee en neem, met baie kontraste wat beurtelings tussen hulle na vore kom, was die grondslag. Met Hou se ligte, geronde strykstokvoering het sy ʼn verhaal vertel oor die subteks van dié driedelige werk: gemoedelike variasies rondom ʼn met finesse onderdrukte hartseer.

Die mees konvensionele werk was weliswaar Beethoven se Lente-sonate, maar dit het op ʼn verstommende manier minder van dié seisoen se optimisme uitgedra. Veral in die tweede deel – ʼn Adagio wat vir eens ietwat traer en diep beskouend uitstaan – was die kommunikasie tussen Hou en Ball duidelik omlyn en kontrasryk,

Me. Hou het spontaan met die gehoor gekommunikeer. Veral haar inleiding tot Falla se Suite Populaire Espagnol wat oorspronklik uit ses Spaanse volksgeoriënteerde liedere bestaan het, wat in opdrag van die violis Paul Kochanski vir viool en klavier verwerk is, het die gehoor tydens haar vertellings aan haar mond laat hang. Onvermydelik het haar spel die verhale laat leef. Uit haar geboorteland is ʼn verdere Suite van Chinese volksliedere en danse deur Yang Boa Zhi uitgevoer. Met virtuose uitdagings is dié suite uniek in sy pogings tot Chinese programmusiek. Hue het dit gemaklik laat klink – iets wat dit allermins ís.

Uitdagendste was Wieniawski se Variasies op ʼn oorspronklike tema. Die soms letterlike opeenstapeling van ʼn magdom tipies violistiese pirotegnieke het ʼn mens asemloos laat luister. Hau is in dié repertorium tegnies en musikaal bykans onaantasbaar.

Gevoelsryke woordskildering

deur Paul Boekkooi

FRANCESCO  CAVALLI: Opera-arias, – duette en -voorspele uit Xerse, Statira, Erismena, Calisto, Eliogabalo, Elena, Ercole amante, Ormindo, Gli amori d’Apollo e di Dafne, Orione, Eritrea, Giasone, Doriclea, La virtù de’ strali d’Amore en Pompeo Magno. Philippe Jaroussky (kontratenoor), Emöke Baráth (sopraan), Marie-Nicole Lemieux (alt) / Artaserse Ensemble. Erato 0190295518196.

Die Franse kontratenoor Philippe Jaroussky se jongste CD is met die titel “Ombra mai fu” bekend gestel. Elke sang- of Barokliefhebber mag intuïtief dink: Dit is immers Handel se bekende aria uit sy opera Xerxes. Tog is dit hier níé die geval nie. Die aria wat Jaroussky sing, is nie Handel s’n nie, maar die een uit die Italiaanse komponis Francesco Cavalli (1602-1676) se opera Xerse. Handel is eers agt jaar ná Cavalli se afsterwe gebore. Laasgenoemde was ʼn leerling van Monteverdi, die “vader” van opera. Hy was ook die belangrikste eksponent in die totstandkoming en opbloei van die Venesiese opera.

Opvallende kenmerke van dié operastyl is, soos wat Jean-François Lattarico dit in sy inleidende essay in die CD-boekie stel, dat Cavalli ʼn “nuwe sintese bereik deur die pastorale, tragiese, komiese, epiese en romanse saam te voeg. Musiek word die dienaar van die teks – sinnelik, sensueel en teatraal”. In dié versameling word dit alles duidelik geopenbaar deur Jaroussky se omvangryke vokale vermoëns in meer as ʼn dosyn uiteenlopende rolle. Anders as by sommige van sy mede-kontratenore, is die afwesigheid van maniërismes by Jaroussky net so openbarend as wat dit ʼn verligting is.

In baie opsigte kan ʼn mens hom as die Cecilia Bartoli onder kontratenore beskou, omdat hy dieselfde gemaklikheid en ratsheid as dié Italiaanse sopraan openbaar. Ook in die meer emosioneel gelaaide resitatiewe (eintlik ware lamentasies) en arias val ʼn vergelykbare intensiteit in sy stemhantering en -projeksie op. Dit bevestig Jaroussky se volledige inlewing in die dramatiese spektrum wat Cavalli en sy librettoskrywers van hul protagoniste vereis. Hulle kan na hartelus hul emosies uiter: jaloesie, seksuele passie, verliefdheid, woede en wraaksug val geensins by die meeste van dié uittreksels vreemd op nie.

By Jaroussky is die introspektiewe dele enersyds roerend en gelaai met gevoelsryke woordskildering, terwyl andersyds die opwinding van ʼn ekstroverte aria afspat, soos ervaar in “Alcun più di me felice non è” uit La virtù de’ strali d’Amore of “La bellezza è un don fugace” uit Xerse. ʼn Voorbeeld waar dié uiteenlopendheid binne een aria prikkelend saamgevoeg word, is te vinde in “Che città” uit Ormindo. In die snitte waar die sopraan Emöke Baráth en alt Marie-Nicole Lemieux by Jaroussky aansluit, raak ʼn mens bewus hoe uniek menslik opera-opvoerings destyds moes gewees het; ontdaan van die melodrama wat die Romantiek vergesel.

Die kontrasrykheid wat dié album bied word verder verryk deur die aandeel van die ensemble wat hulself gepas Artaserse noem . (Google dit gerus). Cavalli se instrumentasies is deursigtig en Artaserse bring ʼn polsende oortuigingskrag daaraan. Cavalli kon nie wens vir beter ambassadeurs vir dié taak nie.

Hoffman se grenslose musikaliteit

deur Paul Boekkooi

Gary Hoffman, tjello; François du Toit, klavier. Program: Pièces en Concert (Couperin); Tjellosonate no.3 in A majeur, opus 69 (Beethoven); Suite vir Solo-tjello (Cassado); Tjellosonate no.2 in D majeur, opus 58 (Mendelssohn);  Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Saterdagaand.

Ná ʼn lang afwesigheid op plaaslike verhoë het die Kanadees-gebore tjellis Gary Hoffman (lankal in Parys gevestig) vir uitgehongerde gehore kom herinner waarom hy as ʼn uitsonderlike eksponent van dié instrument gereken word. In ʼn kontrasryke solo-program waarvan die musiek ruim twee-en- ʼn -halwe eeu omspan het, val twee van die komponiste in minder bekende kategorieë: François Couperin (1668-1733) en Gaspar Cassado (1897-1966). Vir ewewig is Beethoven en Mendelssohn verteenwoordig.

François du Toit, hoogleraar in klavier aan die Universiteit van Kaapstad, was die ideale keuse as “begeleier”. Hy is inderwaarheid ʼn volslae medespeler wat ʼn gedagtegang van eenheid in interpretasie, musikaliteit en tegniese beheersing nastreef. Wedersydse duospel is ʼn intuïtiewe kommunikasieproses wat eers in die middeljare tot volle rypheid ontwikkel.

Couperin se vyfdelige Pièces en Concert is soveel meer as slegs ʼn beurtelingse gesprek tussen twee aanvullende instrumente. In die tyd van oorsprong is dit  op ʼn viola da gamba en ʼn klavesimbel uitgevoer wat ʼn delikaatheid of broosheid sou uitstraal. Wat Hoffmann, met ʼn Amati-tjello (1662) en Du Toit op ʼn 21ste eeuse Steinway-vleuelklavier vermag het, was om die komponis se bedoelings met sy hoogs ontwikkelde, tog relatief tydgebonde uitdrukkingskrag te behou. Die Franse komponis se “sierlike” styl is binne die duo se wisselwerking tussen ʼn wonderbaarlike graad van elegansie met ʼn ligte aanslag en dinamiese nuanses gekontrasteer. Dus ʼn wydlopende klankspektrum sonder vertoon.

In die Beethoven sonate, sy bekendste en uitdagendste, was hierdie duo se oorwegend Klassieke benadering die rede waarom dit so oortuig het. Wat betref voordrag en soms diep opwellende fraseringskurwes, plus afwisselende toonvorming wat dikwels vibratolose onderdele met ánder wat ryk daarmee voorsien was kontrasteer, was daar deurgaans ʼn volkome eenheid. Opvallend was die ligte speelsheid van die Scherzo, die introspektiewe geladenheid van die ver-af klinkende Adagio cantabile en die energieke uitstorting van Beethoven op sy hoogste vlak van inspirasie wat die Allegro vivace- slotdeel gekenmerk het.

Die Spaanse tjellis-komponis Gaspar Cassado se vierdelige Suite vir Solo Tjello het gevolg. Ook hier het Hoffman die introverte subteks  met oorgawe benader as die Katalaanse vuur wat elders opgloei.

In Mendelssohn se Sonate no. 2 in  D majeur het Hoffman en Du Toit met virtuositeit die eerste twee bewegings uitgevoer, met ʼn ligtheid in die tweede, Allegretto scherzando. Die Adagio het ʼn digterlike melancholie met ingehoue sentiment opgeroep. In die bruisende Finale was ʼn ideale tempokeuse aanwesig wat oorromantisering beteuel.

Die twee toegifte, Fauré se Sicilienne en Bloch se Gebed uit Jewish Life, het regstreeks tot die hart gespreek het.

Geniale lewe van ʼn skoonheidsgodin

deur Kobus Burger

Die “mooiste vrou ter wêreld” en die “moeder van Wi-Fi” is ʼn paar van die akkolades wat die Oostenrykse aktrise en Hollywood-silwerdoekgodin Hedy Lamarr toegedig is. Selfs Catwoman en die rolprentweergawe van Sneeuwitjie is op haar voorkoms geskoei.

In die veelbekroonde solostuk Hedy! The Life & Inventions of Hedy Lamarr neem die Amerikaanse dramaturg-aktrise Heather Massie haar gehoor deur die verrassende en kleurryke lewe van Hedwig Eva Maria Kiesler (later Lamarr).

Massie, wat tans in New York woon, neem ons deur die glinster en glans van Hollywood met sterre soos onder andere Clark Gable en Bette Davis wat hul verskyning maak. Sy skets Lamarr se roemryke rolprentloopbaan wat later gelei het tot onder meer die ontdekking van “The Secret Communication System” – tegnologie wat vandag nog in selfone, Wi-Fi, GPS en Bluetooth ingespan word.

Al het Lamarr nooit voldoende vergoeding en erkenning vir haar uitvindsels gekry het nie, is sy in 2014 in die National Inventors Hall of Fame in die VSA opgeneem – eers sowat ʼn dekade en ʼn half ná  haar dood.

Die Hedy!-solostuk is deegliks nagevors en tegelykertyd ʼn stukkie fliekgeskiedenis, maar ook ʼn biografiese uitbeelding van Lamarr se liefdeslewe, kinderjare en wetenskaplike genialiteit. Massie moes weens ʼn onlangse voetbesering die produksie met die steun van ʼn kruk in Johannesburg op die planke bring, maar het dit so meesterlik hanteer (én geïnkorporeer) dat die gehoorlede verby die besering kon kyk.

Die stuk is wel effe lank, steun sommer swaar op al die feite en geskiedenis en klink by tye prekerig. Massie voer dit ook by skole op om jong vroue te inspireer om hulself in wetenskap en tegnologie uit te leef.

Desondanks lewer Massie ʼn kragtoer en bring ʼn vervloë era deur enkele rekwisiete en filmbeelde lewensgetrou na die verhoog. Gehoorlede sal dalk nog raakpunte met Marilyn Monroe en selfs Liz Taylor kan uitlig, maar agter Lamarr se verbluffende skoonheid was soveel meer as net ʼn prikkelpop of skoothondjie.

Hierdie inspirasie-inspuiting is spesiaal deur Daphne Kuhn van die Auto & General Theatre on the Square na Johannesburg gebring ter viering van Vrouemaand. Dit is teater wat jonk én oud sal begogel en ʼn mens weer die kreatiewe moed gee om jou verbeelding wild en wakker te laat galop.

Raiskin meesterlik in Brahms se eerste

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Daniel Raiskin (dirigent) en Yi-Jia Susanne Hou (solis). Program: Adagio vir strykers (Barber); Vioolkonsert no. 1 in g mineur, opus 26 (Bruch); Simfonie no. 1 in c mineur, opus 68 (Schumann).  Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Die Amerikaner Samuel Barber (1910-1981) se Adagio vir strykers is ʼn ideale openingswerk. Dit bied met sy roerende melodiese eenvoud en aanvoelbaar rype harmoniese subtiliteit vir die gehoor ʼn geleentheid om hulself tydelik af te sluit van ʼn dolle wêreld en mediterend die golwing van die komponis se inspirasie in te neem. Daniel Raiskin dra meesterlik die statige, eerbiedwekkende prosessie-aard daarvan uiters idiomaties aan die strykers oor. Hierna kon die Romantiek van Bruch en Brahms florerend gedy.

Yi-Jia Susanne Hou se uiters persoonlike, openbarende wyse waarop sy die werk van verskeie komponiste benader (soos op SKROP onlangs beskryf ná haar solo-uitvoering in die Linder) word met dieselfde soort kreatiewe vryheid voortgesit in haar uitvoering van Bruch se oorbekende Vioolkonsert no. 1 in g majeur, opus 26. In kontras met haar reeds fenomenale kamermusiekvertolkings, weet sy nou binne ʼn totaal ander musikale situasie hoe om haar viool te boetseer in klank- en vormgewing.

Bruch was ʼn skepper van ryk melodieë, strelende strykersklanke komende van die solis en orkes, en bykans eteries klinkende blasers. Hier is alles in volmaakte ewewig – soveel so dat dit oorromanties sou kon klink. Met me. Hou as solis gebeur dit selde. Sy stort haar beeldende vermoë as musikus kontrasterend op elke nuanse uit. Sy is afwisselend stormagtig en bedagsaam binne die musiek se natuurlike eb en vloed. Die een na die ander aangrypende of gevoelsryke melodie word gevul met kontrasryke sonoriteit. Die liries-ekspressiewe onderdele is reeds meevoerend, maar sy toon ook die reserwekrag om die onmiskenbare virtuositeit met besieling te voed.

Die JFO het onder Raiskin uiters beskaafd gemusiseer, met ritmiese presisie en soepelheid, ʼn goeie interne balans en oorkoepelend beskou uitstekende spel in veral solowerk. In ʼn gul toegif het Yi-Jia Susanne Hou gisteraand drie onbegeleide Chinese volksliedere en -danse uitgevoer. ʼn Hipnotiese ervaring.

Raiskin is meesterlike interpreteerder van Brahms. In laasgenoemde se oor ʼn uiters uitgerekte periode saamgestelde Simfonie no. 1 in c mineur, opus 68, het hy volle aandag aan alle aspekte daarvan gegee. Dit verbaas geensins dat dit die wêreld ná die première daarvan stormenderhand verower het nie. Raiskin het byvoorbeeld die herhaling van die eksposisie nie geminag nie, maar juis met die belang daarvan oortuig. Hierdie was ‘n uitvoering met hartstog, stukrag en ʼn tipies “Brahmsiaanse” klankkarakter –   ietwat donker, maar altyd warm getint. Die dirigent laat die note aan hulself oor, orden hulle sorgvuldig, maar belig hulle met afgeronde detail en verfynde lig- en skaduwerking. In dramatiese episodes voeg Raiskin ʼn opmerklike impulsiewe kern daaraan toe.

So val erns, poësie en skertsende onderdele sinergisties saam in ʼn grootse vertolking – iets wat ʼn mens byna totaal laat vergeet dat die trombone enkele slegte(r) oomblikke beleef het.

Fugard-aanklag herleef skreiend

deur Mariana Malan

Meer as vier dekades nadat Athol Fugard se versetdrama Statements after an Arrest under the Immorality Act die eerste keer opgevoer is, slaan dit net so hard as destyds.

Die stuk is tans te sien in die teater wat die dramaturg se naam dra, The Fugard in Kaapstad. Vroeër vanjaar het dit ʼn draai gemaak by die KKNK  waar dit vir vyf Kanna-pryse genomineer is.

Sedert Fugard en Yvonne Bryceland die eerste keer die rolle vertolk het van die skoolhoof Errol Philander en die bibliotekaresse Frieda Joubert, het verskeie akteurs hul gedoemde liefdesverhaal op die verhoog vertel. In die huidige produksie  is Marlo Minnaar en Liezl de Kock in die rolle te sien.

Onder die wette van destyds was verhoudings oor die kleurgrens ʼn misdaad. Sy as blanke en hy as kleurling moes hul liefde, drome en hoop in die geheim in die donker kantoor van die biblioteek van die klein plattelandse dorp Noupoort deel. Daar was dan altyd die vrees dat hulle ontdek sou word. Die nuuskierige buurvrou agter die biblioteek het gesorg dat die polisie eindelik daar ingebars het.

Die flitsende kameras en die bulderende stem van die polisieman en die daaropvolgende verklarings word in al sy naaktheid gewys.

Statements is ʼn stukkie geskiedenis waaroor koppe in skaamte laat sak moet word. Dis ook ʼn liefdesverhaal wat aan die hart gryp. Daar is soveel skoonheid in die dialoog en soveel stof tot nadenke dat dit geen wonder is dat dit die toets van die tyd weerstaan het nie.

The Fugard het heel gepas vandeesweek die dokumentêr The Space – Theatre of Survival twee keer gratis vertoon. Die dokkie bied die agtergrond tot die heel eerste opvoering van Statements in 1972. Dit bring hulde aan die versiende groep akteurs en teatermakers wat in die tyd van apartheid, opstande en rassespanning die moed gehad het om ʼn teater te begin en te bedryf waar alle rasse saam op die verhoog en in die gehoor kon wees.

Die impak van Statements en daaropvolgende dramas het meer as grense verskuif. Dit het grensdrade afgeknip en mure met woorde afgebreek. Dink aan John Kani, Winston Ntshona en ander se opgang nadat hulle ook vir die eerste keer in die Ruimte-teater die kans gekry het om hul werk op te voer.

Bevredigend, maar nie totaal geslaagd

deur Paul Boekkooi

Megan-Geoffrey Prins (klavier), met die Amici Strykkwartet – Susanne Martens en Petrus de Beer (viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello). Program: Kwartetdeel in C mineur, D. 703 (Schubert); Klavierkwintet in E mol majeur. opus 44 (Schumann); Klavierkwintet in f mineur, opus 34 (Brahms).In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Saterdagaand.

Dit lei skaars twyfel dat al vyf musici op dié verhoog konsensieus en met oorgawe te werk gaan. Met ʼn program wat bowendien uitdaag, is die verwagtinge hoër. Dit was dus uiters stimulerend en bevredigend om drie meesterwerke te ervaar al was die maatstaf van die uitvoerings nie volledig daar waar dit kón wees nie. Dit laat die vraag ontstaan of die Amici-kwartet gereeld musiseer of dalk tog meer van ʼn geleentheidsensemble is. Megan-Geoffrey Prins het as pianis en as jongste binne dié geselskap ʼn aansienlike rypingsproses oor die afgelope vier jaar ondergaan – ʼn kwaliteit wat in die werke van Schumann en Brahms uitgestaan het, alhoewel hy by tye ʼn nog voller en spelgewys meer kontrasryke idiomatiese detailrykdom in sy benadering kon bereik het.

Die energiek-stuwende Kwartetdeel in C van Schubert is veeleisend. Presiese ensemblespel is van kardinale belang. Elke instrument is blootgestel. Die uitvoering is gekenmerk deur ʼn paar suiwerheidsfoutjies: heeltemal vergeefbaar, maar dalk tog vanweë senuwees? Gelukkig het Amici in hul interpretasie én spel maniërismes vermy. Daar was ʼn ideale ewewig tussen die Schubertiaanse wesenskenmerke, soos melancholie en veerkragtige ritmiese stuwing. Frasering kon nog voller en ʼn fraksie meer gewaagd wees.

In Schumann se meesterlike Klavierkwintet in E mol was die samespel op ʼn hoër vlak, met Prins wat homself volledig as ʼn gelykberegtigde musikus in dié geselskap bevind. Die Allegro brillante het presies aan dié beskrywing voldoen, terwyl die donkerkleurige tragies-marsiale stadige beweging wat daarop volg en waarin ʼn paar helder flitse wat op Schubert slaan ervaar kan word, aangegryp het. ʼn Momentele hoogtepunt hier was die “duet” tussen die eerste viool en tjello. Schumann het hierna ʼn Scherzo met die tempo-aanduiding Molto vivace geskep wat oorloop van oorspronklikheid. Hy daag die musici tot bykans roekelose spel uit – veral in die tweede trio wat ʼn ware tour de force is. Spontaneïteit en dissipline loop hand aan hand. Hier en in die slotdeel, Allegro ma non troppo, was Prins se spel heg binne die ensemble veranker. ʼn Vurige hantering van die fuga is met opwinding nagekom.

Oor Brahms se Klavierkwintet in F loop die menings, akademies en andersyds, baie wyd – soos  die geval is by baie van sy opusse wat ʼn uitgesponne ontstaantydperk moes ondergaan. Lewende uitvoerings is skaars. Dié ervaring het die moeite geloon deur die oortuigende insette van die vyf musici. Partituurgetrouheid was die basiese uitgangspunt. Krag en emosionele warmte was voluit aanwesig. Die uitvoering het in die twee middelste dele, ʼn Andante, un poco adagio met daarna ʼn Scherzo met die tempo-aanduiding Allegro, die meeste behaag deurdat ʼn waarlik diepgevoelde uitdrukkingskrag deur die musici ontgin is.

Wolfram Christ verras met Gershwin

 deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes & die  KZNFO, met Wolfram Christ (dirigent) en Linda Nteleza en Njabulo Mthimkhulu (soliste). Program: Porgy and Bess: ‘n Simfoniese Portret, verw. Robert Russell Bennett; Drie vokale uittreksels uit Porgy and Bess (Gershwin); Simfonie no 1in D majeur (Mahler). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Die jaarlikse samevoeging van die orkeste van Johannesburg en Durban is lank reeds vir fynproewers ʼn hoogtepunt op die orkeskalender. In die reël word werke wat groter getalle musici vereis uitgevoer. Dit was ook die geval met Woensdag- en Donderdagaand se konserte, plus die ekstra een van Vrydagoggend. Die programsamestelling was vreemd. Mahler en Gershwin verteenwoordig teenpole in musikale smaak. Eersgenoemde se werk is ernstig en laasgenoemde s’n meer vermaaklik. Dit mag die rede wees waarom die bywoning Woensdag teleurstellend was, maar Donderdag minstens weer tot normaal – ʼn besetting van ruim 80 persent – teruggekeer het.

Vir Wolfram Christ, die Duitse dirigent wat talle kere tevore met die KZNFO opgetree het, was dit dié keer sy debuut voor die JFO. Hy het as hoof-altvioolspeler binne die kultuur van die Berlynse Filharmoniese Orkes sy wasdom as musikus bereik en eers later ʼn  dirigeerstok hanteer. Om jou program te open met die Simfoniese Portret van Gershwin se Porgy and Bess in die verwerking deur Robert Russell Bennett, wil gedoen wees. Waarin Bennett uitmuntend slaag, is om die spesifieke kwaliteite van die opera in ʼn suiwer simfoniese idioom oor te plaas. Hy het die emansipasie van jazz uiters gevoelsryk in die rigting van konsertmusiek gelei en voortgesit waarmee die legendariese orkesleier Paul Whiteman begin het. Christ en sy bykans honderd orkeslede het idiomaties gewerskaf en Gershwin springlewendig hanteer.

Twee van  ons jong operasangers met wye ervaring het drie gewilde uittreksels uit die opera gesing. Linda Nteleza se sopraanstem was ryk en tereg ook ʼn titseltjie rokerig in haar swoele vertolking van die mesmeriserende “Summertime”. Hierna het bariton Njabulo Mthimkhulu aangesluit vir ʼn meesleurende interpretasie van “Bess, You Is My Woman Now”. Ten slotte het Mthimkhulu met “It Aint Necessarily So” sy teatrale vernuf aangevul met liggaamstaal en gesigspel. Dit het die terggees in hom na vore gebring.

Christ se interpretasie en vertolking van Mahler se Simfonie no. 1 kan nie as die mees geslaagde in die annale van die JFO gereken word nie. Dié eer kom een van sy landgenote toe. Tog was daar oorgenoeg duidelike meriete, soos spontaneïteit, aanwesig – dikwels helaas ook ten koste van presiesheid in die ensemblewerk. Die punt is: By ʼn lewende uitvoering gaan dit oor die moment. Die dirigent laat hom meesleep. Soms byvoorbeeld, soos by ʼn abrupte tempoverandering, het ʼn mens met ʼn spontane beslissing te make, maar as die orkes nie totaal daarop voorbereid is nie, kan dit presiesheid laat wankel. Dit is só ʼn indruk wat Christ dikwels gelaat het.

Tog het Christ die oormoedig-heroïese en sarkastiese aard van die simfonie raak getref, soos dit veral in die stormagtige slotdeel duidelik was.

Carpenter ʼn Don Quichot vir die orrel

deur Paul Boekkooi

RACHMANINOF: Rapsodie op ʼn Tema van Paganini, opus 43 – Weergawe vir Orrel en Orkes deur Cameron Carpenter (2018). POULENC: Konsert vir Orrel, Strykers en Pouke in g mineur, FP 93. VIERNE: Allegro-Finale uit die Orrelsimfonie no. 1 in d mineur, opus 14. Cameron Carpenter (Internasionale Toerorrel) / Konserthuis-orkes Berlyn / Christoph Eschenbach. Sony Classical 88985390822.

Daar is iets heiligs en soms ook iets skrikwekkends aan om ʼn pyp- of kerkorrel te ontdek. Is dit dalk dié koning van musiekinstrumente se onaantasbaarheid, die rype, majestueuse klankgolwe wat ʼn kerk of konsertsaal kan laat dreun, óf dat spesifieke komponiste se muses op hul mees inspirerende vlak na vore gekom het wanneer hulle vir hierdie instrument skryf?

Toe dit lyk asof die nuwe millennium ʼn aanvoelbare afplatting in die belangstelling vir orrelmusiek sou meebring, tree ʼn jong, rebelse en revolusionêre Amerikaanse orrelis, Cameron Carpenter, na vore. Soos ʼn Don Quichot van ouds, hef hy ʼn swaard vir die orrel aan. As ʼn produk van die “Big Apple” se Juilliard Musiekskool, besef hy al gou dat ʼn vervoerbare digitale “pyporrel” die antwoord op sy drome sou wees. Dié is in  opdrag van Carpenter deur Marshall & Ogletree gebou. Dit het vyf  manuale waar van die mees unieke klanke van orrels oor die wêreld ingesluit is en met mekaar gekombineer kan word.

Carpenter se derde CD kom skaars sonder ʼn skok of twee vir behoudende of dogmatiese orrelliefhebbers. Vreemd, maar ongelooflik oorspronklik en vindingryk, is sy orrelweergawe van een van Rachmaninof se gewildste werke vir klavier en orkes: die Rapsodie op ‘n Tema van Paganini. Skeptisisme het aanvanklik soos ʼn tropiese slaapsiekte by my kom broei. Dit was onnodig. Carpenter verryk die stuk met sy hoogs intelligente aanpassing. Die geheim is: waar ʼn klavier in wese ʼn slagwerkinstrument is, bied die orrel ʼn ryper liriese en harmoniese onderbou sonder dat dit enigsins die virtuositeit wat die komponis in gedagte gehad het, ondermyn. Carpenter se tempo’s is soms verbysterend. Dit verleen nuwe klankprofiele aan die werk. Waar die nuwe weergawe in besonder wen, is in dié variasies waar die Dies irae-tema na vore kom. Op die orrel klink dit des te meer bedreigend.

Poulenc se enigste Orrelkonsert (1938) is volgens Carpenter se programnotas in sý weergawe daarvan “Duruflé-free”. Waarop dit neerkom is dat hy die Franse orrelis Maurice Duruflé se registrasies vir dié werk vervang het met van sy eie. Sodoende, meen Carpenter, word Poulenc se concerto, wat lank deurgeloop het onder tydgebonde religieuse benaderings, daarvan bevry. Carpenter oortuig dié luisteraar met sy musikaal-intellektuele hersiening. Die effek daarvan is vergelykbaar met ʼn ou skildery ná restourasie: Die oorspronklike skerpheid en nuanses in die kleure is ineens weer duideliker sigbaar.

Die Berlynse Konserthuis-Orkes onder Christoph Eschenbach se merendeels idiomatiese oplettendheid, lewer voortreflike ondersteuning aan die orrelis in albei werke. ʼn Enkele teleurstelling betreffende dié uitreiking is Carpenter se oorwegend slordige en té voortslepend-inspirasielose weergawe van die Vierne-toegif. Gelukkig duur dit slegs ses minute…

OMS Camerata vul leemtes plaaslik

deur Paul Boekkooi

Odeion Musiekskool Camerata. Dirigent: Elsabé Raath. Soliste: Anneke Lamont, klavier; Chris van Zyl, tjello; Nina Cilliers, fluit. Program:Werke van Gallus/Phillip, J.S. Bach, Haydn, Gerrit Jordaan, H Pieter van der Westhuizen/Phillip, Ligeti/Gerhard de Jager, Hendrik Hofmeyr, Bartók/De Jager, Bartók en Vasks/Moss. In die Atrium, Wits, Johannesburg.

Om ʼn resensent te wees herinner dikwels, soos soms ook by akademici, aan ʼn ivoortoringbestaan. Jy hoor en sien alles van ʼn afstand. By “gewone”, veral orkestrale  konserte, is die kanse sterk dat jy iets sal hoor wat jy al dikwels tevore ervaar het. Dan dink jy: “Beethoven bly maar steeds so ʼn bietjie die hard-rocker van die klassieke musiek – kom wat wil…” Die afgelope naweek se besoek deur die Odeion Musiekskool van Bloemfontein se Camerata aan Pretoria en Johannesburg het enige suggestie van ʼn ivoortoring vermorsel en gehore midde-in ongewone musieksfere ingetrek. Dit is immers wat ʼn mens van ʼn progressiewe, vooruitsiende instelling verwag.

Hul kamerorkes besit twee belangrike gevestigde ankerpunte: ʼn artistieke leier in Marius Coetzee wie se credo uitgestippel is. Musiek word nie slegs uit ʼn Romantieke verlede gevoed nie, maar dit is die eietydse wat dit sal laat bloei en uiteindelik oorleef. Dit is ook opvallend dat hul dirigent, die jong Elsabé Raath, se kontak met haar ensemble van intense konsentrasie en kommunikasie getuig. Dit is veral laasgenoemde wat reeds grootliks die dissipline gevestig het wat van ʼn professionele ensemble vereis word. Haar maatslag is duidelik, helder en konsekwent. Ietwat meer onafhanklikheid tussen die linker- en regterhandbewegings sal die indruk van effens rigiede spieëldirigering vervang met ʼn meer soepele akkuraatheid wat duideliker genuanseerde kontraste in dinamiek na vore bring.

Die optredes van twee soliste, Anneke Lamont wat ʼn Steinway bespeel het in die slot-Allegro uit die Klavesimbelkonsert in d van Bach, en Chris van Zyl se tjellospel in die Allegro molto-finale van Haydn se C majeur concerto, was die standaarde hoog, met oomblikke van ritmiese onstabiliteit wat by eersgenoemde ingesluip het. Die energievlakke en virtuositeit van die solis én ensemble in die Haydn was hoogs aansteeklik. In kontras hiermee het die musikaal en tegnies frappante en deurleefde spel deur die fluitis Nina Cilliers het elke aspek in Hofmeyr se solostuk, Orithyia and the North Wind, met maksimaal verwesenlik – waarlik ʼn kragtoer.

In Gallus/Phillip se Duo Seraphim is die era van eersgenoemde stilisties kragtig opgeroep en kontrapuntaal fyn afgerond. Jordaan se Vreemde Vriende, met ʼn libretto deur Marthie Driessen met “sprechgesang”-agtige teksbehandeling deur Coetzee was vermaaklik. By Phillip se Onskuld, met ʼn teks deur H. Pieter van der Westhuizen was die koördinasie tussen spraakstem en orkes soms ietwat weifelend. Die grootste pretverbintenis is in Ligeti / De Jager se Pápainé ervaar, met by tye skreeusnaakse effekte soos belig deur die orkes. Met twee Bartók-stukke, Vier Slowaakse Volksliedjies en Roemeense Volksdanse, is die verskeie vlakke in orkesdinamiek en -timbres deeglik ontsluit, terwyl Vasks/Moss se innoverend saamgestelde Kersfees Maskerade dié uiters oorsponklike konsert skitterend afgesluit het.

Petru Wessels en Carl Trichardt

 ʼn Kersreis met teks en musiek

deur Paul Boekkooi

Vergeef hulle… Jesus se eggo van krip tot kruisKlanke van Orrel en Woord. Met Petru Wessels, Carel Trichardt en die Rooi4 Orrelduo: Andrea Kayser-Mitas & Isabelle van Rensburg. In die NG Kerk Universiteitsoord, Pretoria.

In en deur Christus het die Godheid Hom aan die mensdom openbaar. Dit leer ons immers uit die Skrif via die profete in die Ou Testament, die vier Evangeliste in die Nuwe Testament, asook die laaste skakel in die Drie-eenheid, die Heilige Gees wat uitgestort is. Dit is logies gesproke seker onnodig om hierdie welbekende feite te herbevestig – veral só vir almal wat reeds van kindsbeen met die prosesse rondom Heiligmaking vertroud is. Maar enige herinnering daaraan kan immers die geloofslewe van Christene versterk of selfs ʼn herbekering tot stand bring.

Die akteurspaar Petru Wessels en Carel Trichardt se bekende program Kersklanke (so lees ek op ʼn strooibiljet) word vanjaar die 24ste keer aangebied. Dit is ʼn fyn uitgesoekte voorleesprogram wat ons jaarliks voorberei op die Adventstyd: die laaste vier weke voor Kersfees aanbreek.

Hier het hulle egter met ʼn meer omvattende program vorendag gekom: Vergeef hulle – Jesus se eggo van krip tot kruis wat, buiten dít wat die Bybel verwoord, verder aangevul is deur kort historiese perspektiewe en digkuns rondom die Kersgebeure deur bekendes soos W.E.G. Louw, Elisabeth Eybers, I.L. de Villiers, I. Rousseau en andere.

Met die twee begeesterde orreliste wat hulself die die Rooi4 Orrelduo noem, is daar besondere luister aan die aand verleen. Die krag van dié “koning van musiekinstrumente” het veral in die groot koepelruimte van die Universiteitsoord-kerk ryklik weerklink. Gepaste musiek het die feestelikheid rondom Kersfees sterk laat kontrasteer met die donker gestemde Passiemusiek, om kort daarna die opstanding bykans letterlik uit te basuin met gepaste uittreksels uit Die Messias van Handel. Ook orrelwerke deur die Suid-Afrikaanse komponis Jacobus Kloppers was eweneens welkome toevoegings.

Wessels en Trichardt se voorlesings het die hart aangegryp en op ʼn merendeels intuïtiewe  wyse die sintuiglike lading van elke teks benadruk – iets waarin slegs akteurs met lewenslange ervaring kan slaag. Daar is nie voorgelees nie, maar belééf. Die momentele gespannendheid, o.m. deur fyn deurdagte stiltes, is een van vele voorbeelde waar hulle totale inlewing rondom die Woord ʼn seldsame vlak van emosionele betrokkenheid tot gevolg gehad het.

Mee. Kayser-Mitas en Van Rensburg het in hul orrelduette en -solo’s ʼn onberispelike tegniek verbind met ʼn gepaste stilistiese uitdrukkingskrag wat in elk van die ryklik kontrasterende komposisies suiwer oorgedra is. Johan Deysel het Is dit, is dit my Koning? met suiwerheid, uitstekende frasering en helder diksie gesing. Klank en beligting is hoogs professioneel hanteer en het slegs op ʼn ingetoë vlak dramatiese hoogtepunte sintuiglik ondersteun. Ná afloop het die wens sterk by ʼn mens opgekom dat liefs ʼn oorvol kerkgebou dié aand moes ervaar het!

Palissander verheug met Kersprogram

deur Paul Boekkooi

Palissander-koor Kerskonsert. Sarita Hauptfleisch (dirigent). Bambie Heiberg (viool en sopraan). In die Rex Kerk, Sorex Landgoed, Clubview, Centurion.

Ons land het geen ernstige tekort aan kore nie, behalwe miskien in kerke. Tog val dit op dat daar weinig van hulle is wat met soveel begeestering hul taak aanpak as Pretoria se Palissander-kamerkoor. Kinderkore en universiteitskore is weliswaar die teelaarde vir individue wat hulle later in ander vertakkinge van musiek, vokaal of instrumentaal, tot ʼn hoë professionele vlak musikaal wil ontwikkel.

ʼn Koor soos Palissander bied die geleentheid om die hunkering na koorsang te vervul vir alle individue wat in ander beroepe staan, maar nie daarsónder kan lewe nie. Dr. Sarita Hauptfleisch se koor het van meet af aan ʼn belangrike credo uitgeleef: om spesifieke behoeftes in die samelewing te identifiseer en dit jaarliks as ʼn oorkoepelende tema in hul programsamestelling te weerspieël. Vanjaar s’n was “Boodskap in ʼn bottel” wat o.a, ons afhanklikheid van water sentraal plaas.

Palissander het buitengewone stemmateriaal – vanaf kristalheldere soprane tot sonore basse, plus alle vermengings tussenin. Hul dirigent hou verskeie stemme kundig in ʼn dinamiese ewewig en drapeer die koorklanke sodat hulle nou aansluit by elke komponis se spesifieke vereistes en karaktertrekke. Die 24 sangers versmelt tot ʼn verbluffende eenheid en laat jou presies hoor watter effekte bereik kan word met homogene koortimbres, plus liniêre klankdeurstromings saam met deursigtige dinamiek. Die koor se repertorium boei omdat 20ste en 21ste eeuse koorwerke of eietydse verwerkings van ouer musiek domineer. Die solowerk van individue, maar ook van kleiner stemgroeperinge binne die koor bevorder die kontrasrykheid. Elke uitgevoerde werk was in eie reg  begeesterd en vervullend – presies wat van Kersrepertorium verwag kan word.

Buitengewone ontdekkings was die Magnificat van Johann Christian Bach vir dubbelkoor. Die knap eggo-effekte en verfynde diksie was opvallend. Ook die Poolse tradisionele Kerslied Lulajze, Jezuniu waar die samevoeging van stemme binne bewegende klankspektrums vasgevang word, het verruk. Ola Gjeilo se veelstemmige verwerking van die bekende God rest you merry, gentlemen ontwikkel via uitdagende, fassinerende toonsoortmodulasies. Eweneens was die Amerikaner KC Daugirdas se weergawe van Stille nag kompositories ʼn fassinerende metamorfose van die bekendste Kerslied. Dit bly evokatief resoneer.

ʼn Leeue-aandeel in die sukses van dié uitvoering is die medewerking van die formidabel veelsydige musikus Bambie Heiberg. Oor ʼn lang tydperk was sy ewe beroemd as violis en sopraan, terwyl sy op atletiekvelde plaaslik en oorsee rekords gebreek het. Sy het geïmproviseer in talle stukke. Haar natuurlike gemak was veral opvallend in die Christmas joy medley, waar die volle spektrum van dié intuïtiewe talent kragtig na vore getree het. Haar stem klink nog uitsonderlik jeugdig en soepel. Een van talle solo’s het uitgestaan: Max Reger se Maria Wiegenlied. Haar ongelooflike liriese intensiteit, afgerondheid en aksentuering van elke woord is op ʼn peil wat min kan ewenaar.

  • Dié konsert word op Sondag 24 November om 15:00 herhaal. Kaartjies: R130 (R50, kinders onder 12); bookings@palissander.co

RSO begeester in Mozart en Beethoven

deur Paul Boekkooi

Symphonic Splendour. Randse Simfonieorkes met Carel Henn (dirigent) en Charl du Plessis (klavier). Program: Die Huwelik van Figaro Ouverture (Mozart); Klavierkonsert no. 3 in c mineur, opus 37 (Beethoven) en Simfonie no. 9 in e mineur, opus 95 (Dvorák). In die Roodepoort-Teater.

In elke groot stad wêreldwyd vind ʼn mens ʼn spesifieke hiërargie tussen sy  bestaande orkeste, hetsy hulle in ʼn professionele kategorie val of deel is van ʼn netwerk waarin jeug- of amateurorkeste hulle bevind. Laasgenoemdes vervul ʼn belangrike funksie op verskeie vlakke: musiekopleiding ten eerste, maar ook die feit dat hulle kultureel ʼn onderdeel vorm binne breër gemeenskapsaktiwiteite wat ʼn sterk samebindende faktor vestig en opbou. Die Randse Simfonieorkes (RSO) bevind hom reeds lank aan die voorpunt van amateurorkeste wat dié funksie vernuftig aan die lewe hou.

Hulle slotprogram vir 2019 se titel was “Symphonic splendour”. Met hul vaste dirigent Carel Henn op die podium en Charl du Plessis wat moes instaan vir ʼn kollega wat ʼn hand beseer het, was die groot gehoor in die Roodepoort-Teater, wat terloops ook baie duidelik uit talle gesinne bestaan het, oorgehaal om die gewilde program te geniet.

Mozart se Huwelik van Figaro ouverture is ʼn bruisende gordynligter in ʼn operahuis, maar ook binne die RSO en Henn se kollektiewe musikale vaardighede, is die ware karakter van die stuk op die spits gedryf. Henn se gekose tempo was so korrek dat dit die ouverture se borrelende gees totaal kon uitdra. ʼn Mens het al moeg geword vir temporekords wat deur professionele orkeste gebreek word, en dít alles ten koste van Mozart se geestigheid, fyn orkestrasie en ʼn subteks wat die hele opera in enkele minute opsom.

Du Plessis het in Beethoven se C mineur concerto die stempel van die komponis se baie persoonlik-universele wese op die uitvoering afgedruk. Sy betoog was op helder teksture gerig. Uitdrukkingskrag en, waar nodig, duidelik omlynde frasering wat afgewissel is deur ʼn ewewigtige beklemtoning van fyner detail, was alles deel van die solis se kerngesonde uitgangspunt. In die Largo is daar bykans perfek daarin geslaag om die oorkoepelende struktuur end-uit te belig. Die Rondo-finale was gelaai met Beethoveniaanse spontaneïteit. Henn en die RSO het hegte ondersteuning gebied. Die enigste teleurstelling was in die openingsdeel se cadenza waar momentele insinkings in die pianis se konsentrasie voorgekom het.

Ná  pouse, in die vertolking van Dvorák se  “Nuwe Wêreld Simfonie”, was dit al gou duidelik dat die orkes net te veel uitgedaag is om ʼn redelik getroue weergawe van die werk as geheel oor te dra. Harde werk het weliswaar tot gedeeltelik bewonderendwaardige resultate gelei, maar die geheel was minder bevredigend, met ʼn orkestrale balans wat dikwels nog te min na wense oorgelaat het.

Barok met intrinsieke drif

deur Paul Boekkooi

Met twee Barokuitvoerings in Gauteng deur die duo Antoinette Lohmann (verskeie viole) en Jörn Boysen (klavesimbel. kitaar en siter) agter die rug – en meer kom elders landwyd! – besef ʼn mens in watter mate dié tydvak in musiekgeskiedenis plaaslik stief behandel word.

Sou ons dit wel in uitvoerings deur plaaslike musici te hore kry, voldoen hulle selde aan die praktyke wat ons minstens van musici met ʼn hoogstaande begrip vir historiese getrouheid sou verwag. Gelukkig ís daar uitsonderings.

Lohmann en Boysen verrig eintlik sendingwerk met hul meesterklasse hier en oorsee, terwyl hul konserte vir luisteraars ʼn verkwikkende openbaring is rondom die aard en wese van Barokmusiek en betrokke musiekstyle. Met hul konsert Saterdagmiddag by Unisa is ons nie slegs aan onbekende werke van Johann Schop, Johann Erasmus Kindermann, N. (Nicolaes?) Goor (sy musiek het gelukkig nie so geklink nie!), Ignazio Albertini, Johann Fischer en die alomteenwoordige veelskrywer Anoniem voorgestel nie. Hulle het die kollig laat val op musikologies-maatskaplike klasseverskille binne die 17de eeuse musieklewe.

Hierdie speelse jukstaposisies “Between Art violinists and Beer Fiddlers” (die slagspreuk waarmee die program geopen is) en vertellings tussendeur, het die gehoor geboei.

Lohmann lig haar gehoor in op die mees natuurlik wyse, soos wanneer sy die begrip scordatura verduidelik. Sy bring nie net die begrip tuis dat die woord beteken (in haar geval) dat die viool anders gestem word as wat konvensioneel as korrek beskou word nie, maar demonstreer ook die emosionele gevoelsverandering wat dit meebring.

Die genoemde Goor, ʼn 17de eeuse Nederlands-Belgiese komponis, se Sonate in scordatura verlewendig die teoretiese sy daarvan in ʼn aandagvergende voordrag – een waarin ook Boysen ʼn leeue-aandeel gehad het. In die Suite van Johann Fischer (1646 -1717) beeld hy benewens die “kunsviolis” ook dié een uit wat musikaal gesproke ʼn “mindere”opleiding gehad het. Dié “violis” is subtiel komies voorgestel deur die fagotspeler Gerhard Benade wat met klompe ná aanvang van die werk die verhoog opgestap en ongesteurd met sy “mindere” opleiding sy beperkte vaardighede met die ander twee gedeel het.

ʼn Dag later, in die St. George’s Anglikaanse Kerk in Parktown, Johannesburg, is ʼn paar van die werke op hul Unisa-program herhaal. Die plaaslike African Renaissance Ensemble  onder aanvoering van hul leier op blokfluit, Adam Golding, het kort werke van Ruffo, Michael Praetorius, Rossi en Boyce uitgevoer. Benewens oomblikke van suur intonasie, het dit voortreflik geklink.  Die Sonate vir 3 onbegeleide viole van Johann Fux het in die uitvoering deur Lohmann, Tanya Spiller en Waldo Alexander met ʼn aangrypende graad van kontrapuntale sereniteit opgeklink. Verskeie ander werke, soos o.m. twee sonates met continuo van Philippe Friedrich Büchner, het die uniekheid van alles verhoog.

Teksmark kikker teaterbedryf op

deur Mariana Malan

Dit wag in die nabye toekoms op teaterliefhebbers: Een vraag aan God; die herbesoek aan ʼn gemeenskap se verlies in die Knysna-brande naby die Karatararivier; die bedreigde blommeskat op Agulhasvlakte; gendervloeibaarheid en taboes soos bababoerdery; bloedskande, en selfs kannibalisme.

Dit is maar ʼn paar van die kwessies wat dramaturge in nuwe tekste aangespreek het by die pas afgelope Teksmark wat oor drie dae (6 tot 8 November) in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad aangebied is.

Kunste Onbeperk se Teksmark is nou meer as ʼn terloopse item op teatermakers se jaarprogram. Dis vanjaar vir die vierde keer gehou en dis duidelik die opkikkermiddel waarna die teaterbedryf gesmag het.

Dis nie ʼn kompetisie nie. Dit bied eenvoudig aan dramaturge die geleentheid om nuwe tekste aan te bied  en aan belangstellendes die kans om die teks verder te help ontwikkel tot ʼn volwaardige produksie.

Vanjaar was daar 16 nuwe tekste op die program. Hulle is nie noodwendig reeds voltooi nie en slegs ʼn kort uittreksel uit elke stuk dien as lusmaker. Gesprekke volg, vrae word aan die dramaturge gestel en die gehoor kry insig in wat met die stuk beoog word.

Al 16 aanbiedinge het potensiaal en ʼn groot persentasie was van hoogstaande gehalte. Cornelia Faasen (uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief of NATi) het ná afloop van die Teksmark gesê elkeen het die potensiaal om ʼn volwaardige produksie te word.

Die opwinding van die Teksmark lê in die onverwagte juwele wat gesien kan word. Op die program vanjaar was o.m. werk deur die ervare dramaturge Wessel Pretorius, Philip Rademeyer en Herschelle Benjamin, eerste tekste van skrywers wat reeds in ander genres bekend is soos die digter Bibi Slippers en Beyers de Vos, wie se debuutroman Wrok op vanjaar se Barry Ronge Sunday Times Fiction se langlys pryk. Ook die akteurs Wentzel Lombard en Andrico Goosen, die violis Wilken Calitz in samewerking met die choreograaf Grant van Ster en die danser Shaun Oelf het werk geskep.

Die deelname van bekendes as regisseurs en akteurs dui ook op die betrokkenheid van gevestigde name in die teaterbedryf by die Teksmark. In verskillende rolverdelings was onder meer Faniswa Yisa, Waldimar Schultz, June van Merch, Carel Nel, Richard September, Nicole Holm, Joanie Combrink en Albert Pretorius te sien.

Meertaligheid het vanjaar se mark gekenmerk. Lara Foot (uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teatersentrum) het haar vreugde hieroor uitgespeek. Sy het die Baxter se verdere betrokkenheid by die Teksmark bevestig.

Die projek is ʼn inisiatief van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aanbied, en word moontlik gemaak deur die ondersteuning van NATi en die Baxter-teatersentrum. Die Teksmark is in 2018 vereer met ‘n spesiale Fleur du Cap-prys  vir innovasie in Teater.

Dié Jan klim die boontjierank tot bo

deur Kobus Burger

Janice Honeyman verdien die titel as Suid-Afrika se pantomime-koningin. En al het van haar produksies in die verlede onder resepmatigheid en voorspelbaarheid gewankel, was daar terselfdertyd vernuwing, soos verlede jaar se indrukwekkende 3D-ervaring.

Vanjaar is sy terug met Jan en die boontjierank en seker een van die heel beste vokale ensembles in jare. Talle van die sanger-akteurs is uit die musiekspel The Color Purple, waarvan Honeyman ook die regie behartig het. ʼn Groot sarsie van die dawerende applous behoort egter aan Germandt Geldenhuys (van Kanarie– en Binnelanders-faam) vir sy “dame” Mies Miemie Mosbolletjie-Melba, wat sonder enige voorspelbare aanwensels of truuks plus soepel sang die kalklig steel.

Voeg daarby die innoverende stelontwerp en beligting wat die gehoorlid na ʼn magiese wêreld meesleur, en jy het ʼn treffer-produksie wat jonk en oud op hul voete kry om te juig en saam te sing.

Dezlenne Ulster-Weale as Raspberry Rose was soms onhoorbaar in haar solo-dele. Die komediant Casper de Vries het verras met sy sang as die boosaardige Hendrik Hideoso, maar was met die openingsaand effe stram in sy eerste verskyning. Eers ná pouse (as die Reus se vrou) en in ʼn soort Greetje Appelmoes-verskyning het hy sy gehoor oorrompel.

Die hele rolverdeling lewer ʼn energie-ontploffing; van Zolani Shangase as Jack the Joller tot Justin Swartz as Notkop Simon en die fenomenale Clive Gilson as Dik-Dom Dick.

In ʼn meesterskuif het Honeyman en haar span Suid-Afrika se wêreldbekerrugby-oorwinning in die openingsaand se saamsingsekwens geïnkorporeer. Op die koop toe is die kwinkslae soms stuitig en propvol sosiale kommentaar, wat wyd byval behoort te vind. Die herhalende verwysings na drank en bekende handelsname word te ver gevoer. ʼn Mens besef dat van die borge van die produksie (soos ʼn gesinstydskrif) hul verskyning sal maak – dit is immers deel van die panto-tradisie. Maar met soveel kinders wat dit bywoon, is die oormatige inbring van alkohol nie nodig nie.

Al het dié resensent voorheen ander produksies van Jack and the Beanstalk beleef, troon hierdie een kop en skouers bo die res. Dit is so ʼn verruklike viering van kleur en klank dat ʼn

mens nie anders kan as om huppelend die teater te verlaat nie.

Gordel vas vir dié vinnige Rocky

deur Mariana Malan

Die ewig jong, dekadente dokter Frank N Furter het verkope van visnetkouse en uitspattige grimering in Kaapstad weer die hoogte laat inskiet. Wanneer die Rocky Horror Show op die planke is, wil almal met hom meeding en selfs in die skadu stel.

Richard O’Brien se Rocky Horror Show is dekades nadat dit geopen het, nie maar net nog ʼn musiekspel nie. Dis ʼn kultus wat aangehang word, gehore die kans bied om daardie bollas los te maak, op te tof en lustig saam te dans.

Craig Urbani klim hierdie keer in Frank N Furter se skoene. Jarryd Nurden is die minlike Rocky en die besadigde Brad en Janet word vertolk deur Anthony Downing en Didintle Khunou. Kate Normington as die Verteller het  flink gereageer op vrae wat die gehoor na haar gegooi het.

Elke weergawe van die musiekspel moet iets nuut bring sonder om gehore van die bekende inhoud te vervreem. Die beste raad is om vorige weergawes te vergeet en in te val met wat op die verhoog gebeur. Geniet die nuwe nuanses en anderse vertolkings as wat jy voorheen gesien het.

Hierdie keer het die dekor aan ʼn strokiesprent herinner en die pas was aansienlik vinniger as wat ʼn mens jou herinner. Die eerste helfte het in 45 minute afgespeel en die gehoor moes amper vasgordel om by te hou. Maar niks is uitgelaat nie, niks is afgewater nie. Dit is en bly feestelike vermaak.

Broedertwis grawe ou koeie uit  

deur Schalk Schoombie

Die voordeur gaan suutjies oop en ʼn skadufiguur verskyn – ʼn openingsbeeld wat onheil voorspel. Die onverwagte tuiskoms ná jare van die verloopte Koot (Gustav Gerdener) ontwrig die landelike bestaan van sy twee broers, die patriargale Ben (Dawid Minnaar) en simplistiese Jan (Drikus Volschenk) en ʼn susterskind, Willem (Ruan Wessels).

Uit dié kernsituasie vertak familietwis en broederhaat. Dis die bekende stryd tussen stedeling en plaasboer, vooruitgang (Koot het vir die Spoorweë gewerk) en tradisie, sekulêre en godsdienstige sienings. Ou koeie word opgegrawe. Rassisme en die k-woord krop onvermydelik op. Daar is ʼn jaggeweer en ʼn Bybel. Broedertwis, weet ons al, voorspel niks opbeurends nie.

Hoewel die verhaalgegewe en wendings taamlik voorspelbaar ontplooi word, boei Brothers, Victor Gordon se familiedrama vir vyf manlike spelers, op heelparty vlakke. Tonele is kort en gelade, byna filmies. Karabo Legoabe se dekorstel en kostuums aksentueer die leefstyl en karakters in aardse teksture. Kosie Smit se stemmingryke beligting roep ʼn vergange tydperk op.

In spelstyl en Francois Jacobs se regie is daar na realisme gestreef, wat veral slaag in klein huishoudelike rituele soos aartappels skil, ʼn stoof wat gestook word, huisskoonmaak.

Dawid Minnaar se middeljarige, effens geboë Ben is ʼn plaasmens in murg en been; eng, ongesmuk, skynbaar moreel onaantasbaar. David James se sersant De Brais is in stem, houding en gebaar ʼn tipiese polisieman van die tydperk – ʼn skerp en heuglike kamee.

Gustav Gerdener oortuig meestal as rammetjie-uitnek Koot – ʼn bra eenvlakkige karakter wat pronk en antagoniseer. Plek vir selfinsig of sensitiwiteit is daar helaas nie, wat soms verlei tot oordaad. Drikus Volschenk se skaam en gedienstige Jan verskaf momente van ligtheid – welkom in dié stroewe opset. Ruan Wessels maak die beste van die hakkelende Willem – ʼn dungeskrewe karakter wat in die tweede helfte omtrent verdwyn – skaars meer as ʼn huishulp.

Net te veel tonele tussen Ben en Koot is skril en skreeuerig – spelers wat mekaar probeer “top” raak gou histrionies en belangrike inligting gaan verlore. Die fyner skakerings van woede en verwyt kan nie so verken word nie.

Die teks kan nog groei. Koot se motiewe om herhaaldelik terug te keer nadat hy homself vergryp het en Ben hom verjaag het (en hy wéét die polisie soek hom) bly onduidelik. Jan se gewelddadige uitbarsting kom ten slotte uit die bloute – sonder ʼn spesmaas of leidraad dat hy dalk tot so iets in staat kon wees. Van die jaggeweer kom totaal niks.

Die Engelse teks wat handel oor ʼn Afrikaanse familie en agtergrond, met talryke Afrikaanse tussenwerpsels, is waarskynlik gemik op ʼn breër teatergehoor. Tog bly ʼn mens wonder of dié stuk nie sterker in Afrikaans sou staan nie.

Ondanks sulke bedenkinge bied Brothers by tye gespierde teater oor universele temas. Nes die armes sal Kain en Abel altyd met ons wees.

5 vrae aan Craig Urbani

deur Mariana Malan

Jy was in die rolverdeling van die Rocky Horror Show in 1992/1993. Watter rol het jy vertolk en geniet jy dit om weer in die musiekspel te wees?

My eerste professionele rol was Rocky in hierdie ongelooflike musiekspel en ek het dadelik daarop verlief geraak. ʼn Jaar later was ek Brad en nou is ek in die droomrol van Frank N Furter.

Waarom hou gehore so baie van Frank N Furter? 

Hy is totaal onvoorspelbaar. Aan die een kant is hy camp en aan die ander kant butch, die een oomblik skreeusnaaks en die volgende nogal gevaarlik. Hierdie omswaai van die een na die ander maak dit opwindend om hom dop te hou. Gehore hou daarvan om aanmekaar verras te word.

Hoekom hou jy van hom?

Om dieselfde redes as bogenoemde. Dis heerlik om ʼn karakter te vertolk wat hom nie aan grense hoef te steur nie, wat volkome vry is om hom uit te leef

Jy was vroeër vanjaar (2019) die gesofistikeerde Billy Flynn in Chicago. Was dit soveel pret om hom te vertolk as Frank N Furter?

Billy is gesofistikeerd, op die oog af hoflik, intelligent, maar veral gevaarlik. Hy is ook ʼn wonderlike karakter om te vertolk.

Wat laat jou werklik in Frank verander – die grimering of die skoene en die visnetkouse?

Ek is mal oor die grimering omdat dit my totaal anders laat lyk en voel. Dit help my om werklik in die karakter se kop te klim. Die skoene en die res help darem ook. Ek wonder net hoekom my dogter sê ek lyk te tuis in die hoë hakke.

ʼn Opwindende nuwe verhoogstem

deur Kobus Burger

Elke generasie is volgens die vorige geslag(te) verlore. Met die groeiende werkloosheid, misdaad en ander stoomroller-uitdagings in Suid-Afrika, is die put ter plaatse seker soveel dieper.

In William Harding se komiese drama, The Kings of the World, ontmoet ons vir David (Harding), ʼn hippie wat groen tee drink en homself onlangs in die buiteland gaan “soek” het. Hy is terug, steeds werkloos en soekend …

David woon in ʼn voorstedelike tuinwoonstel en sy vriend, Harry (Kaz McFadden), het die geneigdheid om almal rondom hom om te ellie. Die vrees vir inbrake het reeds albei die pêlle op ʼn mespunt, maar Harry is duidelik lus om iemand op te dons. Die tweetal bons soos kapokhaantjies op ʼn stoofplaat rond en loop tot vervelens toe in sirkels – heeltyd om die bank en stoel. Mettertyd lei dit die aandag af van Harding se spitsvondige, komiese dialoog.

Hoe Harding die hoofrol, teks én self die regie behartig het, gaan die verstand te bowe. Dis wel ʼn spanningsvolle komedie wat enduit boei en met McFadden se meesterlike spel en karakterisering, sorg die produksie vir ʼn onvergeetlike negentig minute in die teater.

ʼn Derde karakter, Jefferson (Chris Djuma), sorg vir selfs nog lagwekkender tonele. Dit bring ʼn welkome balans tussen die spanningslyn en kostelike lighartigheid.

Wat wel pla, is dat nie een van die karakters ʼn kentering ondergaan nie. Hulle is eerder stereotipes; soms grotesk, soos in die geval van Jefferson. Die ontknoping gebeur so vinnig en amper ondeurdag dat ʼn mens bly kopkrap: wat wou die dramaturg sê?

As ʼn soort slice-of-life-drama met knetterende komedie verskaf The Kings of the World (met regie-mentorskap van die akteur Robert Whitehead) genoeg komedie om ʼn Vrydagaand op te vrolik. Maar tekstueel laat die storie die teaterganger onversadig. Of dalk moes Harding afskeid geneem het van sy teks en steeds die hoofrol vertolk het met ʼn ander regisseur wat die leisels stewig(er) kon vashou? Desnieteenstaande toon The Kings of the World dat Harding as dramaturg genoeg vonk in hom het om een van die opwindendste nuwe verhoogstemme te word.

Betowerende Beethoven en Bizet

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Arjan Tien (dirigent), Tai Murray (viool), Aristide du Plessis (tjello) en Malcolm Nay (klavier). Program: Leonore Ouverture no.1 in C majeur, opus 138; Drievoudige Konsert vir Viool. Tjello, Klavier en Orkes in C majeur, opus 56 (Beethoven); Simfonie no.1 in C majeur (Bizet). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Een van Beethoven se geskrewe boodskappe lees: “Moenie slegs jou kuns beoefen nie, maar forseer jou pad na sy geheime, want dít en kennis kan die mens na ʼn goddelike vlak verhef.” Met die internasionale feesvieringe rondom dié komponis se geboortejaar 250 jaar gelede sterk op dreef, is dit ook nou die ideale tyd om dieper oor sy nalatenskap te besin.

Die JFO het nie op hom laat wag nie. Ná die onlangse Valentynsgeklingel en die towerkrag wat Ravel en Moessorgski direk daarna op die sinne uitgeoefen het, was dié derde konsert in die huidige Somerseisoen gefokus op Beethoven as klassikus en Bizet se jeugdige Simfonie in C majeur. Arjan Tien, immer ʼn welkome gasdirigent by die JFO, dra die ontginning en vestiging van Klassiek gefundeerde beginsels kreatief uit. Die openingswerk, Beethoven se Leonore Ouverture no. 3, is ʼn toetssteen, want wesenlik is dit nouliks ʼn ideaal gestruktureerde simfoniese bouwerk. Wat Tien ons bied, is ʼn atletiese Beethoven: bruisend, lenig, vinnig en soepel, met blasersspel deursigtig, suiwer en ʼn gepas ingekrimpte strykersgetal wat stewig en sonder oormatige gewig duidelik kon artikuleer en, waar nodig, spanningslyne intensifiseer.

Beethoven se Drievoudige Concerto vir viool, tjello en klavier is enig in sy soort in die Klassiek-Romantiese era en ʼn werk wat groot uitdagings bied aan soliste en dirigent. ‘n Swak skakel kan maklik die potensiaal van samespel en samewerking ondermyn. Geen ernstige teken hiervan kon bespeur word nie. Die soliste was op mekaar ingestem, hoewel deurlopendee oogkontak slegs tussen die twee strykers moontlik was. Ons hoor nie Beethoven as heroïese vegter nie, maar binne die intiemer omvang word eerder Beethoven as beskouende meta-fisikus ontdek. Tien het dié partituur hanteer as synde vergrote kamermusiek. Teenoor dié soliede orkestrale raamwerk kon die trio van soliste steeds hul persoonlike benaderings vestig. Dit was soms opvallend dat dié soliste vir die eerste keer saam gemusiseer het. Dit sal altyd ʼn ander eindresultaat bied as wanneer ʼn permanente klaviertrio dit uitvoer. Die tjello se leidende rol is met wyd kontrasterende spel deur Aristide du Plessis belig. Daarenteen was Tai Murray se vioolspel meer ekstroverties, met Malcolm Nay wat Beethoven se klawerbord-styl volmaak weerspieël, ondanks enkele grofkorrelrige oomblikke.

Bizet se enigste simfonie moet, gemeet aan Franse tradisies, soos sjampanje klink. Dit was duidelik dat daar deeglik gerepeteer is om die spelvlakke van veral die eerste en tweede viole perfek te kry. Daar is warmte te midde van geesdrif. Dis duidelik dat die musiek asemhaal en daardeur helder uitklink. Ritmies is dit ewe verfynd. Die finale se bykans moto perpetuo-drif het die JFO op sy beste in dié hartverowerende uitvoering laat uitstaan.

  • Herhaal Donderdag, 27 Februarie 19:30 in die Linder. Bespreek by Computicket of die loket.