Louis Viljoen

 Eensame cowboy met wraak op die hart

 deur Mariana Malan

Louis Viljoen se toneelstukke skyn ʼn lig in die donker hoeke van die siel. Hy skrik nie vir uitdagings nie en het nie ʼn wag voor die mond nie.

Dis dus net gepas dat hy die eerste woord gaan hê in die seisoen waarmee die Baxter-teatersentrum in Kaapstad die stilte na die inperking gaan verbreek.

Sy jongste stuk The Outlaw Muckridge  is tans in die Baxter-atlejee te sien tot 23 Oktober.

Dis ʼn eenpersoonstuk waarin die omroeper en akteur John Matham onder regie van Alan Committie te sien is.

Matham het vir Viljoen gevra om vir hom ʼn  toneelstuk oor die pandemie te skryf.

“Ons het daaroor gepraat en op die ou end besluit dat die storie nie spesifiek oor die pandemie moet gaan nie (so ʼn stuk sal vining dateer), maar eerder met fokus op isolasie en eensaamheid: albei dinge wat die pandemie vereger het,” vertel Viljoen.

Die Covid-19 uitsluiting was vir hom ʼn moeilike tyd en geensins inspirerend nie.

“Vir my het dit my tekortkominge as persoon en skrywer vir my onder ʼn vergrootglas geplaas. Maar ek probeer om myself uit daardie negatiewe ruimte te skryf, en te leef.”

Nogtans het die stuk vorm gekry toe hulle saam besluit het dat die stuk sal gaan oor die emosionele prys wat mense moet betaal wanneer hulle in isolasie  en eensaam is.

“ Ek het John beloof dat ek kranksinnigheid en vrees sal bied en die humor en meelewing was natuurlike uitvloeisels hiervan.”

Die karakter in die verhaal is ʼn eensame man wat feitlik sy hele lewe sy siek ma moes versorg. Hy is  angstig en terneergedruk en troos homself met die wens dat hy ʼn  cowboy met wraak op die brein kan wees. In hierdie persoonlikheid kan hy die wêreld invaar en ongerigtigheid uitwis. Wat hy presies wil wreek is vaag en in een lang nag besef hy dat hyself dalk die oorsaak van al sy ellende is.

Al word sy werk dikwels as donker beskou, meen Viljoen self dat die mees voor die hand liggende gemenedeler in sy werk die gebruik van taal is en om te sien hoe ver hy die beperkings van woordgebruik kan strek.

“Dit gaan vir my daaroor om ʼn storie te skryf wat taal gebruik om dit op die mees boeiende en dwingende manier te vertel. As daardie verhaal donker word, is dit nie noodwendig doelbewus nie.”

Wie sou hy in een van sy toneelstukke wou vertolk? “Ek het al voorheen self in my eie toneelstukke opgetree, maar dit was in die vroeë dae toe ek nie altyd akteurs kon kry om optetree nie. Dit sal ek beslis nooit weer doen nie, want ek beskou myself glad nie as ʼn goeie akteur nie en ek dink my toeneelstukke is net te moeilik. Dus laat ek daardie aspek eerder oor aan mense wat beter (of miskien gekker) as ek is.”

Viljoen se toneelstukke sluit in: The Hucksters, The Bile Boys, The Frontiersmen, The Verbalists, Champ, Porno 88, The Kingmakers, The Pervert Laura, Oh Baby, I’m A Wild One, The Emissary, The Eulogists en The Demon Bride. The Champ and The Kingmakers is onderskeidelik in 2013 en 2015 bekroon met Fleur du Cap-toekennings vir beste nuwe Suid-Afrikaanse tekste.

  • The Outlaw Muckridge is tot 23 Oktober in die Baxter-ateljee te sien en dra ʼn ouderdomsperk van 18. Bespreek by Webtickets.

PJ Powers tree saammet die Tygerberg-kinderkoor op.

Ry in vir die Suidoosterfees!

 deur Mariana Malan

Kaapstad skud stadig maar seker die dwangbuis van inperking af. Die Suidoosterfees word van 4 tot 15 November in ʼn splinternuwe formaat gehou – as inryteaterfees waar gehore vanuit hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm kyk.

Produksies wat geprojekteer word, word direk opgeneem terwyl die kunstenaars op ʼn buitelugverhoog optree. Inryteatergangers skakel in op ’n FM-radiofrekwensie om in hulle motors na die klankbaan te luister.

Volgens die uitvoerende hoof van die fees Jana Hattingh was dit vir die bestuur baie belangrik om die fees uit te stel en nie af te stel nie.

“Sedert die grendelstaat ingestel is, het ons van die begin af planne vir die uitgestelde fees beraam. Soos wat die regulasies aangepas is, moes ons ook ons planne aanpas. Ons het ook gekyk na wat in die res van die wêreld gebeur, en die inryteater-idee werk uitstekend in baie lande. Dit is ʼn veilige opsie omdat sosiale afstand behou kan word. Atlantic Studios het op dieselfde idee gebroei, en ons het besluit om hande met hulle te vat,” het sy gesê.

Daar is wel uitdagings. “As mense wat in ʼn teateromgewing werk, is ons gewoond daaraan om sitplekprobleme uit te sorteer, en nie parkeerstaanplekke nie. Ons is reeds aan die oefen om die motors so vinnig en maklik moontlik te laat parkeer. Tegnies is dit ook ’n gekompliseerde storie. Daar is die kwessie van die produksies wat lewendig op die verhoog afspeel, se klank direk via ʼn FM-frekwensies uit te saai sodat mense in hul motors daarna kan luister terwyl hulle na die vertoning op die silwerskerm kyk.”

Sou die Kaapse wispelturige weer  nie saamspeel nie, sal een van Atlantic Studios se ateljees gebruik word  vir die lewendige vertoning en van die ateljee na die skerm gestroom word.

Die NATi Jong Sterre en die Jakes Gerwel-gesprekke vind in ʼn ateljee plaas. Vyftig feesgangers gaan die geleentheid kry om die produksies in die ateljee by te woon. Toneelstukke van jong dramaturge is deur die NATi Jong Sterre-projek identifiseer (ondersteun deur die Jakes Gerwel Stigting en Kunstekaap) en sal op 21 en 22 November in een van Atlantic Studios se ateljees opgevoer word. Amy Jeptha en Rafiek Mammon het die jonges gehelp om hul tekste af te rond en vir die verhoog te verwerk.

Die vier topverkopers vir Suidoosterfees 2020, wat vroeër vanjaar as gevolg van die grendelstaat uitgestel moes word, was Kaapkreools, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks en Marc Lottering. Gehore het nou die geleentheid om die nuwe produksies by die inryteater te geniet.

ʼn Parsifal wat konvensies verbreed

deur Paul Boekkooi

WAGNER: Parsifal. Ryan McKinny (Amfortas), Karl-Heinz-Lehner (Titurel), Georg Zeppenfeld (Gurnemanz), Klaus Florian Vogt (Parsifal), Gerd Grochowski (Klingsor), Elena Pankratova (Kundry), e.a. Koor en orkes van die Bayreuth-Fees. Dirigent: Hartmut Haenchen. Verhoogregie: Uwe Eric Laufenberg. Stelontwerp: Gisbert Jäkel. Kostuumontwerp: Jessica Karge. Deutsche Grammophon 00440 073 5350 (2 DVD’s – 247 min.)

Wagner was ʼn meester in die musikale manipulasie van emosies. Dit is ʼn moontlike rede waarom sy musiek so bedwelmend vir sommiges is en so gehaat word deur ander. ʼn Spesifieke suiwerheid en spiritualiteit word feitlik dwarsdeur by die komponis se swanesang-opera, Parsifal, ingeasem.Binne ʼn allegoriese konteks beeld dit ook die triomf van die Christendom oor paganisme uit. Daardie tydlyn van gebeure vind soms weerklank in die spesifieke agtergrond waarteen eietydse produksies hulle afspeel, soos by die première van dié een in Bayreuth einde Julie 2016 deur die regisseur Uwe Eric Laufenberg. Hy plaas dit in ʼn eietydse Irak, met Christene, Jode en Islamiete, wat oënskynlik beskaafd met mekaar oor die weg kom.

Iets wat dae voor dié feespremière gebeur het, soos o.a. verskeie aanvalle in Duitsland deur onbekendes met vermeende bande met radikale Islam-groeperinge, het tot gevolg gehad dat die Bayreuth-fees spesiale veiligheidsmaatreëls in plek moes stel. Hul vrese is versterk deurdat gerugte versprei is dat Laufenberg “oneerbiedig” in sy uitbeelding van Moslems sou wees. Wat die produksie  bewys is dat daar met wilskrag altyd die potensiaal kan ontstaan dat daar dwarsoor godsdienstige skeidslyne baie meer gemeenskaplike aspekte ontdek kan word wat ons eerder verbind as skei. Dít maak dit uitdagend en tersaaklik.

Parsifal is daarby ook veelal dubbelsinnig, metafisies, diepgrawend en in baie opsigte veral uitdagend rondom die uitbeelding van moraliteit, mites en simbolisme. Laufenberg vind die oplossings van binne-uit homself op ʼn oortuigende vlak. Sy regie floreer visueel, intellektueel én gevoelsryk – veral op interpersoonlike vlak. Met ses hoogs ontwikkelde Wagner-sangers in die hoofrolle (vier uit Duitsland/Oostenryk en een elk uit Amerika en Rusland, kom ʼn mens weer onder die indruk van Bayreuth se vokale standaarde. In wêreldterme bly dit in baie opsigte weergaloos, al het nie een van hulle  universeel welbekende name nie.

Kortliks, iets wat elkeen laat uitstaan: Vogt in die titelrol beheer sy omvangryke tenoorstem met volkome natuurlikheid – vanaf sy jeugdige angs tot by sy latere sereniteit. Die afronding van sy vokale uitdrukkingsvolheid voeg nuwe en andersklinkende dinamiese aspekte daaraan toe. Zeppenveld se Gurnemanz is waarlik tot in die fynste detail ʼn volronde karakter met sy vermoë om aan elke woord spesiale betekenis te verleen. Dit word verder aangevul met ʼn poëtiese visie. Ryan McKinny as die gewonde Koning Amfortas se bas-bariton is soepel genoeg om alle kontraste tussen krag en edelheid, asook dié tussenin, duidelik te illustreer. In kontras daarmee is sy rituele uitbeelding van Christus as gekruisigde ʼn dramatiese kragtoer.

Kundry, op soek na verlossing, maar soms ook ʼn femme fatale, is een van Wagner se mees misterieuse vrouekarakters. Sy word deur die Russiese sopraan Elana Pankratova vokaal en dramaties met allure uitgebeeld en toon ʼn totaal ander mens in die derde bedryf. Grochowski, in 2017 oorlede, is die epitoom van boosaardigheid as die towenaar Klingsor. Lehner se Titurel is gepas kragdadig. Haenchen dirigeer teen ʼn ideale tempo wat nooit die onderliggende spanning of uitdrukkingskrag van Wagner onderskat nie.

Samevattend: Dit boei om só ʼn Parsifal wat konvensies verbreed te aanskou.

5 vrae aan Kosie Smit

deur Kobus Burger

Kosie Smit is een van die mees kreatiewe én handigste teatermakers in die teaterbedryf. Die afgelope sowat 23 jaar was hy al betrokke by Afrikaanse en Engelse produksies. Hy is ʼn vervaardiger en ontwerper wat sommer self kan sorg dat die rekwisiete en/of poppe oud en jonk gaan begogel.

Hy sê sy hartstog is vir oorspronklike teaterproduksies en die ontwikkeling van nuwe talent. Van die (meer onlangse) werk wat onder sy leiding die lig gesien het, sluit in die Afrikaanse musiekspel Altyd in my drome, asook die verhoogstukke Dop en Karel se oupa. Hy was ook die mede-vervaardiger van die musiekspel Avenue Q.

Hoe het jy as teatermaker die Grendeltyd oorleef? Waarmee het jy jouself besig gehou?

Die grendeltyd het baie onverwags gekom en alle planne vir die jaar (2020) moes gestop word. Ek het einde 2019 besluit om met  sabbatsverlof te gaan, omrede ek graag nuwe werk wil ontwikkel, maar nie die tyd het nie. So besluit die heelal in 2020 dat almal sasbatsverlof moet vat en alles werk toe mooi uit.

Ek het baie joga gedoen, geskryf en nuwe projekte ontwikkel. Tussendeur doen ek ook ʼn aanlyn-geselsprogram met die (aktrise-sangeres) Elzabé Zietsman genaamd TWAKPRAAT MET DIE DIERE wat weeksdae op Facebook uitgaan. Dit hou my aan die gang en my kop besig.

Wat mis jy die meeste van die teater (en feeste)?

Ek mis die teatermense –  gehore en makers.

Wat is jou ervaring van die hoeveelheid aanlyn-teater en –feeste wat beskikbaar is? Wat dink jy van die produksie-standaarde en gehalte?

Dit is ongelooflik dat soveel teatermakers ingespring het en teaterwerk aanlyn gekry het. In die proses het hulle bietjie geld kon maak en aan die lewe bly. Dit is ook positief omrede daar mense blootgestel word aan teater op dié wyse; mense wat dalk nie andersins sou teater toe gaan nie.

Ek moet bieg, ek is nie ʼn  groot aanhanger van teater aanlyn kyk nie. Ek is maar seker ʼn teaterverslaafde in daardie opsig. Boeke lees of radiodramas luister, is ʼn beter  opsie vir my.

Teaters en feeste het reeds vóór Covid-19 swaargekry. Wat dink jy gaan noodsaaklik wees vir die teaterbedryf om hierdie tye te kan oorleef?

Ons moet fokus op ons kreatiwiteit en aan die lewe bly. Na mekaar kyk in die bedryf en help waar ons kan. Dit mag dalk beteken dat jy alternatiewe moet gaan doen om die potte aan die kook te hou. Die tyd gebruik wat ons nie teater kan maak nie, om unieke Suid-Afrikaanse stories vir die verhoog te skep.

Wat dink jy het kunstenaars in die uitvoerende kunste in 2020 nodig om relevant, veerkragtig, besig en skeppend te bly?

 Kyk na jouself. Maak seker jy is verstandelik, geestelik en liggaamlik  gesond. Gebruik hierdie kosbare tyd, terwyl teaters toe is, om skeppend te wees en aan jou eie vaardigheid te werk. Skep uit jou eie perspektief. Want dit sal relevant wees.

Niks in die lewe is konstant nie. Hierdie sal ook verbygaan.

Prof. Eric Rycroft, dr. Bambie Heiberg, lank konsertmeester van die UPSO, en dr. Charl du Plessis op die verhoog tydens applous ná  ʼn uitcvoering.

Huldeblyk: Die volkome musikant

deur Paul Boekkooi

Prof. Eric Rycroft was ʼn musikus wat met uitsoektalente geseën was. Hy het dit met sy jong leerlinge, studente en mede-musici op  ʼn inspirerende vlak gedeel. Sy afsterwe afgelope Dinsdag het almal wat sy pad oor ruim ses dekades gekruis het, diep geraak.

Musiek kan vir die meeste sterflinge as synde ongemaklik of selfs abstrak oorkom. Ernstige musici lewe en groei binne die magiese aura van musiek. Hulle bevind hulself in  ʼn eie private wêreld – gekonsentreerd, afgesonderd, uitdagend, maar soms ook knus of selfvergenoegd. Musici kan hulself te gemaklik as eenkantmense beskou. Hulle doen hulsélf ‘n onreg aan, maar ook  húlle wat die hoofrede vir hul bestaansreg bepaal: die  luisteraars. Vanaf my eerste kennismaking as tiener met Eric Rycroft as altviolis in ʼn konsertsaal, het ʼn bewustheid  gegroei dat hy as musikus die lewende verbindingskrag verteenwoordig tussen die komponis en die gehoor – ʼn uiters verantwoordelike roeping.

Rycroft, gebore in Stellenbosch, is lank as dié voorste altviolis in Suid-Afrika gereken. Deur sy studies as jong man aan die Royal Academy of Music in Londen, het sy pad met die bekendste huishoudelike name in die destydse internasionale musiekbedryf gekruis. Cecil Aronowitz was sy mentor wat die  altviool betref, maar is ook verder onderrig deur legendes soos Lamar Crowson, Vernon Handley, Yehudi Menuhin, Dorothy Delay en Lionel Turtis. As dirigente het talle hul stempel op Rycroft afgedruk, soos onder andere Britten, Rostropowitsj, Henze, Leppard en Barenboim. Kort na sy tuiskoms in Stellenbosch vestig hy hom as pedagoog en betree nuwe loopbaanuitdagings. Hy stig die US Strykensemble in 1977 en die US Simfonieorkes in 1981. Hy bereik groot suksesse by albei en sit dit voort vanaf 1995 as musiekdirekteur van die Nasionale Kamerorkes.

Vanweë sy hoogs ontwikkelde kommunikasiegemak wat jong musici betref, is hy as die “vader” van universiteitsorkeste beskou – ʼn roeping wat hy vanaf 2003 tot 2015 as dirigent van die Universiteit van Pretoria se Simfonieorkes sou voortsit. Dié dosyn jare was in musiekterme ʼn tydperk van hoogkonjunktuur in die gekiedenis van dié ensemble. Rycroft het die orkes uitgedaag met repertorium wat hoë eise gestel het. Dit het spontane spel tot gevolg gehad, maar ook stilisties in fyn detail só ontleed is dat die meerderheid vertolkings tereg met geesdrif begroet is.Veral sy spesiale toewyding aan jong soliste wat saam met die UPSO opgetree het, was opvallend.

Sy mentorskap was openbarend. Elke orkeslid kon natuurlikerwys in ʼn protégé ontwikkel. Dít het ʼn wasdom in spel met hom meegebring wat elke speler baie deeglik op ʼn professionele loopbaan kon voorberei, sou hulle dit so verkies. Sy konserte was nooit van  ʼn “verbygaande” aard nie; eerder ware gebeurtenisse. Daar was ʼn enorme spontaneïteit aanwesig. Met een spesifieke konsert kon die uwe dit nie weerhou om die volgende te skryf nie: “Eric Rycroft is ʼn eersteklas dirigent en ʼn eenman-komediant in ʼn enkele pakket. Waar in die wêreld vind  ʼn  mens dít?” Laasgenoemde het betrekking op sy gebruik om soms oor die uitgevoerde werke in gesprek te gaan. Die verskil met ander musiekpersonlikhede wat dit probeer doen,is dat hy in die proses sjarme en verbandhoudende inligting perfek kon kombineer. Te veel ander faal mateloos in hul pogings.

Die pianis Charl du Plessis, vir lank  ʼn kollega van Rycroft, se herinnerings aan hom strek wyd, maar vloei saam rondom sy aanvoeling vir die spesifieke behoeftes eie aan ʼn jong pianis wat sy repertorium wil uitbrei. So sou elkeen wie se pad met Rycroft gekruis het, iets spesiaal kon byvoeg.

‘Ek skryf drama om my punt te maak’

 deur Kobus Burger

 Die Johannesburgse dramaturg Lee Doubell is bekend om bekroonde radiodramas soos Rommel, rommel en Koue kaiings en meer onlangs – Krag, ’n Covid-19-drama wat vroeër vandeesmaand op RSG uitgesaai is. Die drama is binne vier dae geskryf en het dit vir akteurs moontlik gemaak om vanaf hul huise in te skakel na die opname-ateljee, pleks daarvan om rondom dieselfde mikrofoon te vergader. Krag was ook die laaste stuk waarin die ontslape aktrise Elize Cawood gehoor kon word.

Hoe en waar het jou skryfloopbaan begin?

Toe ek 14 was, het ek op ʼn skooluitstappie Ampie met Marius Weyers in die titelrol in die Breytenbach-teater in Pretoria gesien. Daardie aand het ek begin werk aan my eerste drama. Ek kan nie ʼn tyd in my lewe onthou waar ek nié aan een of ander teks gewerk het nie.

Hoekom verkies jy drama en meer spesifiek radiodrama?

Ek is die tipe ou wat nie aan ʼn debat deelneem nie, omdat ek nooit op die oomblik aan ʼn goeie antwoord kan dink nie. Dis dan dat ek drie uur in die oggend wakkerskrik en presies weet wat ek moes gesê het. Dan skryf ek maar ʼn drama om my punt te maak.

Met radiodrama werk jy altyd tussen dissipline en verbeelding. Die dissipline wat ʼn radiodrama-ateljee noodgedwonge na ʼn teks bring, maak dat jy aan innoverende en nuwe maniere moet dink om ʼn storie te vertel. Met ʼn radiodramateks is daar geen beperking op waar my verbeelding mag gaan nie. Karakters kan vir die verloop van die drama in die kattebak van ʼn kar, of bo-op ʼn vinnig bewegende trein wees. Radiodrama bied aan ʼn teksskrywer ongekende vryheid met sy storie – ʼn teks wat in ʼn slaapkamer of in die diepste buiteruim afspeel, kos presies dieselfde om te vervaardig. Radio is ál medium wat dit so kan regkry.

Wat dink jy maak van jou ʼn goeie storieverteller?En wat voed jou verbeelding?

Ek stem met Groucho Marx saam toe hy gesê het: “I don’t want to belong to any club that would want me as a member.” ʼn Buitestander maak gewoonlik dan ook ʼn beter storieverteller.

Ek wens ek het geweet wat my verbeelding voed. Die idee vir ʼn storie kom net wanneer dit wil, en so veel as wat ek probeer, kan ek nie die formule van ‘storie-vang’ ontsyfer nie.

Wat is jou daaglikse skryfroetine?

Voor Covid19 was dit vroeg opstaan en skryf, werk toe gaan, huis toe kom, en weer skryf totdat dit bedtyd was. Maar tydens die inperking is dit heel eenvoudig – slaap, skryf en eet.

Jy is deesdae nogal passievol oor aanlynteater. Wat is of was jou hoogtepunte?

Die groot bederf van die inperkingsperiode is die hoeveelheid aanlynteater wat ʼn mens te siene kan kry. Die reeks toneelstukke wat Brittanje se National Theatre, met sy National Theatre Home-reeks (op YouTube) uitsaai, was vir my meesterklasse in teater. Cyprus Avenue (deur David Ireland en aanlyn beskikbaar gestel deur die Royal Court-teater), met die onoortreflike spel van Stephen Rea, sal my vir ʼn lang tyd bybly. Onder tientalle ander produksies staan Simon Stephens se Sea Wall met Andrew Scott uit.

  • Lee Doubell was die mede-wenner van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie met Rommel, rommel. Die kompetisie word weer vanjaar aangebied met prysgeld ter waarde van R155 000.
  • Gaan na rsg.co.zaen kyk onder WAT GEBEUR vir die handleiding en inskryfvorm. Die spertyd is 31 Julie.

Dirigent Schalk van der Merwe

ʼn Briljante sprong word hier gewaag

deur Paul Boekkooi

Capital Chamber Orchestra  / Schalk  van der Merwe / Christiaan Snyman, bariton. Program: Ombra mai fu uit “Xerxes”(Handel); Elegia uit die Simfoniese Suite, opus 4 (Leevi Madetoja); Miracle Tree / Isihlahla Sezimanga (Franco Prinsloo).

Ons lewe tereg al maande lank midde-in ʼn nuwe onwerklikheid: Fisies vasgekluister; daar buite afsydig en bykans robot-agtig teenoor ons medemens; ʼn kug of ʼn nies is soos ʼn doodstyding; waarheen vlug ons? Keuses, keuses. Gelukkig bestaan hulle nog: Virtuele kunstefeeste; Zoom-kameras wat op dosyne individuele orkeslede inzoem en wat dan deur klankingenieurs binne in ʼn brousel van klank en beelde gekoördineer word. Soms slaag dit. Ander kere ontspoor ritmiese korrektheid, óf dring kunsmatigheid die orkesklanke binne.

Schalk van der Merwe, reeds geruime tyd dirigent van Pretoria se Capital Chamber Orchestra (CCO), het moontlik ʼn ietwat aweregse maar uiteindelik tog ʼn briljante sprong gewaag deur sy strykensemble in ʼn geslote ruimte (vermoedelik ʼn klein kerkie) te laat opneem. Geen truuks. Slegs mikrofone, kameras en uiteindelik uiters deeglike en tegelyk estetiese visuele redigering en klankvermenging het ʼn resultaat gelewer wat die kyker/luisteraar regstreeks binne die ekspressiewe tonale beeldrykheid van veral ʼn Madetoja  (1887-1947) en Prinsloo (*1987-) inlei.

In ʼn kort program van onder  ʼn halfuur word ʼn omvattende klankreis aangebied, met konsentrasie- en inspirasievlakke wat ontvanklike luisteraars onmiddellik gevange neem. Die bariton Christiaan Snyman in die bekende Handel-aria, “Ombra mai fu” uit die opera Xerxes wat hy ter ere van ʼn boom sing, doen dit met ʼn tegniese versekerdheid, maar ook ʼn karakterryke persoonlike benadering wat dit úít die immer dreigende sleur van konvensionaliteit lig. Sy stem besit uitstekende projeksie met ʼn bypassende resonansie.

Die dirigent dring hierna die wêrelde van twee buitengewone komponise binne. Madetoja, ‘n Fin wat dié land se beroemde Sibelius se natuurlike opvolger was, het in ‘n sekere sin ʼn meer persoonlike styl as sy kortstondige leermeester begin ontwikkel. Van der Merwe het in die Elegia, die openingsdeel uit Madetoja se vroeë Simfoniese Suite, opus 4, onmiddellik die elegiese sfeer getref en end-uit ontwikkel. Hy het elemente van die soms gelade aanloklikheid in die strykerspel beklemtoon, maar dit binne stilistiese perke gehou. Klankteksture is deurentyd helder belig. ʼn Mens wag ongeduldig vir wanneer dié ensemble eendag Schoenberg se Verklaerte Nacht gaan bemeester …

Franco Prinsloo is een van ons voorste jonger-geslag komponiste wie se reputasie wyer strek as sy tereg geroemde koorwerke. Hy skryf  met ʼn idiomatiese aanvoeling vir strykers, met heelwat klank- en dinamiese kontraste en ʼn fyn aanvoeling vir timbre-aanwending wat subtiel ʼn netwerk van stemming ondersteun. Sy Miracle Tree / Isihlahla Sezimanga verdien meer uitvoerings, want dit is uiters toeganklik – sonder dat dit enige tekens van  minimalistiese simplisiteit dra.

  • Aanlynkaartjies is tot 13 Julie verkrygbaar by Quicket. Kontak : Aanlyn by support @quicket.co.za of bel 021 424 9308. 

Marian Lewin, tjellis (1940-2020)

deur Paul Boekkooi

Een van ons land se voorste musici het ons afgelope Maandag, 29 Junie, op 80-jarige ouderdom ontval. Marian Lewin was, veral wat musikale ontwikkeling en uitstraling betref, ʼn uiters boeiende vertolker en bepaald ʼn doyenne onder tjelliste. Die invloed van haar nalatenskap rondom ʼn professionele loopbaan wat oor 60 jaar strek, was wyd. Haar familie het daarop gewys dat sy oor 75 jaar heen feitlik daagliks die tjello bespeel het. Op vyf ontvang sy haar eerste lesse by haar tante, die legendariese Betty Pack. Laasgenoemde het vele wonderkinders opgelei, maar haar eie susterskind, Marian, was die een wat uitermate deur St. Cecilia, die legendariese beskermvrou van musiek, met buitengewone talent geseën was.

Reeds op ʼn jong ouderdom het sy by eisteddfods en later by meer gespesialiseerde musiekkompetisies groot suksesse behaal. In 1963 wen sy die Unisa Oorsese Musiekbeurs. Reeds die jaar daarna word sy as leier-tjellis in die destydse SAUK-Simfonieorkes aangestel. In 1967 neem sy deel aan die Internasionale Tjelloweek in Nederland waar sy as die beste tjellis onder nagenoeg 60 internasionale spelers aangewys is en vir die Eurovision TV-kanaal opgetree het. Sy het talle ateljeeopnames vir die SAUK gemaak en het as solis met die SAUK-, Truk- en die destydse Nasionale Orkes opgetree. Kamermusiek het later ʼn groot aantrekkingskrag vir Marian geword. Sy was o.a, vir 34 jaar lid van die bekende Alma Musica Trio, later vir 14 jaar van die Rosamunde-Strykkwartet, asook vir 12 jaar deel van die Hemanay Trio.

Marian Lewin was ʼn uitblinker in wydlopende repertorium, van die Barok tot by dié van eietydse komponiste. Tog sal ʼn mens nouliks ver van die merk af wees om te beweer dat haar voorkeur-tydperk in musiek beslis in die Romantiek geleë was. Sy het ʼn natuurlike affiniteit met komponiste soos Beethoven, Schubert, Schumann, Brahms, Dvorák en uitgesoekte Franse en Russiese komponiste openbaar. Sy en haar instrument was één in die wydste sin van die woord. Benewens haar hoogs ontwikkelde tegniek, was virtuositeit as sodanig nooit sentraal aanwesig in haar vertolkings nie. Dit was net ʼn hulpmiddel om die musikale potensiaal rondom klankproduksie, dinamiese kontraste, ʼn wonderbaarlike spektrum rondom fraseringsnuanses en die interpretasievereistes wat komponiste stel op die suiwerste manier moontlik aan die gehoor oor te dra. Haar spel was altyd gevul met ʼn liriese stuwing binne ʼn musikale konteks.

Sy het eweneens ʼn belangrike merk as pedagoog gemaak. Benewens privaatonderrig aan talle tjellospelers, was sy ook verbonde aan die musiekafdelings van Wits, die Universiteit van Kaapstad en die Pro Arte-skool in Pretoria.

Marian Lewin word oorleef deur haar eggenoot, Harold Kimmel, en drie seuns: Bryan, Warren en Gary.

Tom Hiddleston, formidabel in die titelrol.

ʼn Coriolanus wat die gewete oopkloof

deur Paul Boekkooi                                          

Shakespeare se Coriolanus is een van twee laaste tragedies wat hy tussen 1605 en 1608 geskryf het. Die ander een is Antony and Cleopatra. Hierdie verfilmde National Theatre Live-produksie in die Donmar Warehouse ( 2013) is in rolprentteaters wêreldwyd vertoon. Josie Rourke se regie, asook die ontwerp en inkleding daarvan was gestroop tot presies dít wat by Shakespeare hoort: ʼn deurlopend genuanseerde tekshelderheid. Enersyds kragtig, met drif, maar ook subtiliteit. Visuele eenvoud met slegs funksionele toepassings van simbole, is suggererend-doelgerig in plek. Van tyd tot tyd boei dit ook die kyker op evokatiewe vlakke. ʼn Prominente indruk is van ʼn histories klassieke drama wat tot en met ons eie tyd genadeloos die siel en gewete aanspreek. Dit bly resoneer.

ʼn Bondige sinoptiese blik op Coriolanus plaas die noodsaaklikste feite in konteks: Corialanus was ʼn Romeinse patrisiër wat in 491 vC deur die volkshof van Rome uit die stad verban is. Uit wraak beplan hy om sy volk ‘n les te leer. Hy trek toe saam met die vyand, die stam van die Volsci, op teen sy eie stadgenote. Wanneer sy ma, Volumnia, hom uiteindelik oortuig om van sy aanval af te sien, bly daar niks anders vir hom oor as om selfmoord te pleeg nie. Brümilda van Rensburg het in ʼn dramaverhandeling oor die Romeine geskryf: “Hulle het hulself meer begin aanbid as hul gode. Nie meer gesien as sodanig ʼn skakel tussen mens en god nie”.

Reeds lank voordat Tom Hiddleston in die titelrol “You common cry of curs, whose breath I hate” vir die gepeupel in Rome skreeu, besef jy dat ons hier met ʼn formidabele Shakespeare-akteur te make het. Hy is ligjare verwyder van hulle in togas wat in hul beste Oxbridge-Engels Shakespeare voordra … ja, asof dit ʼn gedig is. Hiddleston gee aan die dramaturg se woorde – tegnies perfek ráák maar ook gevoelvol, in wye golwe en waar nodig in ratse stroomversnellings – vólle betekenis. Die tempo laat woorde verbyflits. Dit genereer intense spanning. Dit verg nogals konsentrasie van die kyker. Ervaring in liplees sal skaars help. Mens kan jou indink dat die soms verbete graad van spelintensiteit bloot vermoeiend kan raak. Kyker, staal jou daarteen. Pluk die vrugte later. Die rolverdeling as geheel bewys voluit dat daar geen klein rolle in Shakespeare bestaan nie. Elkeen is ʼn organiese onderdeel en dra daardie funksie uit.

Beethoven en Coriolanus het ook ʼn verbintenis. Vanjaar, die 250ste viering van die komponis se geboorte, is kennisname van die komponis se ouverture onontbeerlik. Dit skets die sielestryd wat aan hierdie gebeurtenisse ten  grondslag lê op onoortrefbare wyse. Die uitbeelding van die wraaksugtige veldheer word onderbreek deur die herhaalde smeekbedes van sy ma in die tweede tema. Sy stuit haar teen haar seun se onvermurfbare hart, maar haal hom uiteindelik oor om sy planne tersyde te stel. Sy woede verander in ʼn innerlike stryd. Die openingsakkoorde keer herkenbaar terug, maar eindig in wanhopige stilte.

Die tyd waarin ons leef vind eweneens weerklank in hierdie Coriolanus. Die geëlektrifiseerde daarstelling daarvan voel meer aktueel as ooit tevore. Die pad na die verderf is immers geplavei met misplaaste voornemens. Die “slangetjies en leertjies”-spel van politici, die soms makabere rol van sosiale media en die donker sy van die gepeupel se mag kom spook. By my het ook visioene van George Floyd en Collins Khosa verbygeflits …

Andrew Scott as Alex in sy wereld in die kleine.

Meesterklas in storieverteling

deur Kobus Burger

Leepoog staar ek na die soveelste Zoom-konferensie oor die toekoms van teater in Suid-Afrika. Die afgelope paar weke was dit ‘n kakofonie van stemme wat dapper deur die dryfsand probeer waad. ʼn Teatermaker vertel hoe hy imphepho (die krui vir tradisionele medisyne-rituele) in die kleedkamer brand in ‘n bespreking oor hoe om werk vir ʼn aanlyngehoor te skep. ʼn Paar dae later hoor ek hoe ʼn mens nie noodwendig jong talent by universiteite moet gaan soek nie… Die doolhof-string van nuwe, onbeantwoorde vrae pers die laaste bietjie lug uit my longe.

Kyk hier, flits ʼn vriendin se boodskap op Facebook. Ek klik op die skakel. Dit is die Ierse akteur Andrew Scott (van Fleabag-faam) alleen in ʼn leë studio en die monoloog heet Sea Wall uit die pen van Simon Stephens.

Die halfuurlange produksie (nou verfilm) het al in 2012 op wêreldverhoë gedebuteer, maar tref skielik met ʼn verbluffende tydigheid. ʼn Mens wag in spanning dat Alex, die hoofkarakter in die verhaal, na Corona of Covid-19 gaan verwys.

Stephens se storie skilder hy met ryk simboliek en trillende stiltes. Sy woorde is kwashale wat periodiek onvoltooid in die lug bly hang. ʼn Mens wag vir Alex om sy gedagtegang af te sluit, maar hy onderbreek homself onophoudelik. Sy wêreld is klein, maar idillies en beeldskoon. Daar is hy, sy vrou, sy kind en sy skoonpa. En God, maar hier kan sy skoonpa hom nog nie heeltemal oortuig nie.

Sea Wall is soos ʼn kantsakdoekie wat jy in ʼn grootjie se skoenboks ontdek. Jy wil dit sorgsaam in nog iets fyner toedraai en vir ʼn volgende geslag bewaar. Dit is ʼn hartverskeurende verhaal oor verlies en rou, wat in die laaste paar minute soos ʼn legkaart in plek val. Die halfvoltooide sinne kry dan elkeen ʼn punt. Die stiltes word gevul. En ook nie.

Scott doof uiteindelik die kamera met die palm van sy hand, soos twee vingerpunte wat die vlam van ʼn kerspit stroop. ʼn Meesterklas in eenvoud, spel en storievertelling. Ek moes ‘n tweede én derde keer kyk om myself verder aan die briljansie oor te gee. Vir geen oomblik reken ek dit is die antwoord op aanlynteater nie, maar dat dit al die elemente van gehalte-teater deur een lens vervolmaak, is ʼn voldonge feit. Vergryp jouself aan hierdie skerfie porselein en bly hoop dat die teater (met of sonder deure) vir die volgende dekades ons siele sal bly voed, soos Sea Wall.

  • Kyk dit hier – https://www.youtube.com/watch?v=j01kVmBoJW0&t=9s

Die geselskap van Barber Shop Chronicles juig oor TV-sokker.

Een dag, ses stede, ʼn duisend stories

deur Schalk Schoombie

Ná ʼn rits prestige-produksies wat klassieke verhale (Jane Eyre, Treasure Island, Twelfth Night, Frankenstein) onder die vaandel van The National Theatre Live At Home opgedis het, is vandeesweek se Youtube-aanbod verfrissend eietyds en relevant.

Die Nigeriese dramaturg Inua Ellams se Barber Shop Chronicles, ʼn priemende blik in die psige van die swart Afrika-man, lewer passievolle kommentaar op die lot van immigrante in Engeland, sake van die dag, sokker, kolonialisme, diktators, die generasiegaping en seks. Beslis ʼn bekvol, alles hoogs vermaaklik en toeganklik aangebied.

Vir generasies van Afrika-mans wat by hul haarkappers uithang, is dit ʼn nuuskamer en politieke platform waar hulle uiting kan gee aan ʼn hutspot van menings en opgekropte gevoelens. Die sitplek verteenwoordig ʼn biegstoel, ʼn preekstoel en terapiebank waar hul hare en ego’s geknip en gemasseer word. Dis ʼn helende omgewing waar nek en hart skoongemaak word.

Die oop speelruimte word deur die gehoor omring en optimaal benut met bewegende stoele om haarsalons in Johannesburg, Harare, Kampala, Lagos, Accra en Londen voor te stel. ʼn Veelsydige geselskap glip moeiteloos in uiteenlopende karakters en aksente, terwyl hulle oorgange tussen tonele hanteer met gatskop-energie en panache, in tradisionele sang, kletsrym en robuuste choreografie. Die toeskouer wil summier saam dans. Al die karakters word skerp en meestal humoristies afgerond, elk met ʼn eie haarstyl (of gebrek aan hare), geite en oortuigings.

Die stemming is openhartig en spraaksaam, bekkig en woordryk – verpak in stories, staaltjies en grappe (die dronk vlieg), maar kan skielik oorskakel na intense konfrontasies wat die sosiopoltieke situasies in die onderskeie lande kragtig aanspreek.

Die slottonele ontroer en snoer die verhale en temas van gewelddadige en afwesige pa’s treffend saam. Oorkoepelend belig dit die teelaarde waaruit eenpartystelsels, diktators, geweld en korrupsie spruit.

Dit is ʼn drama wat perfek op plaaslike verhoë sal werk, wanneer so iets weer moontlik is. Gryp intussen die kans aan om dié bruisende samewerking tussen Fuel, die Leeds Playhouse en die National Theatre te ervaar.

Benedict Cumberbatch as Creature en Jonny Lee Miller as Frankenstein

ʼn Skepsel op soek na liefde en begrip

deur Kobus Burger

Toe Mary Shelley se Frankenstein-roman in 1818 die lig gesien het, was dit waarskynlik ongewoon dat iemand in die middernagtelike ure met ledemate en organe ʼn “nuwe mens” wil skep. Vandag se wetenskaplikes kan “kloning” op hul kerfstok sit en poog al om koppe oor te plant.

Nick Dear se verhoogverwerking van die roman kon eintlik “Frankenstein’s Creature” geheet het, want in hierdie produksie is die Creature (Benedict Cumberbatch) die slagoffer van ʼn hartelose eksperimenteerder wat nie sy smagting na liefde begryp nie. Dit is eers baie later wat Frankenstein sy verskyning maak.

Vandaar die eerste kwartier waarin die geboorte en ontwikkeling met soveel fisikaliteit deur Cumberbatch en sy rubberlyf uitgebeeld word. Lanklaas het ‘n mens ʼn verhoogakteur met so ʼn verbluffende vergestalting van ʼn karakter aanskou. (Met die Londense speelvak het Cumberbatch en Jonny Lee Miller as Frankenstein elke tweede aand rolle geruil. Daarom is daar ook ʼn tweede weergawe op YouTube gelaai met Miller as die monster en Cumberbatch as Frankenstein.)

Miller se monster is meer karikatuuragtig en cliché-agtig, terwyl Cumberbatch die hartsnare roer. Die fliekregisseur Danny Boyle (Trainspotting, Slumdog Millionnaire) het in sy spelleiding ʼn tipiese heldereis gekarteer, maar met die skadukant van ʼnn skepper wat deur sy eie skepping (lees monster) verower én verorber word. Boyle is bygestaan deur die stelontwerper Mark Tidesley en die groep Underworld (bekend om die treffer Born Slippy) wat ʼn epiese klankbaan ontwerp het. Bruno Poet se liggies-wolkgordyn wat Frankenstein se ideeryk uitbeeld, is geniaal en terselfdertyd nie genoeg lig om die mens se donkerste drif aan die kaak te stel nie.

Die Cumberbatch-vertolking laat al die ander spelers na figurante lyk. Selfs Miller moet die knie buig voor hierdie meesterklas. In die toneel met die blinde man (Karl Johnson) was Cumberbatch se lyfspel tot in sy tone en uithaak-kakebeen merkbaar. En dank vader vir die nabyskote wat ʼn mens as kyker ʼn veel intiemer ervaring as die gehoorlede bied.

Boyle en Tidesley se filmiese aanslag is selfs in die draaiverhoog sigbaar en hoe verskillende ruimtes binne sekondes geskep word. Die kamera van bo het ook die stelontwerp en spel verder belig. Ja, daar is plekke waar die produksie wankel, soos die spel van George Harris as M. Frankenstein.

Ook Boyle se skielike verdonkering in ʼn sleuteltoneel was steurend, asof iemand té lomp geredigeer het. Tog vergoed Cumberbatch se menslike monster vir die enkele dowwe kolle. Kyk sonder skroom en verbeel jou dit is ʼn solostuk met Cumberbatch wat bewys waarom hy een van die blinkste spelers van sy generasie is.

  • The National Theatre Live At Home se Frankenstein is nog op Youtibe te sien tot Donderdag, 6 Mei.

https://www.youtube.com/watch?v=tl8jxNrtceQ

Grant van Ster en Shaun Oelf

Om steeds te dans

deur Mariana Malan

Figure of 8 Dance Collective was vanjaar by die Toyota US Woordfees die wenner van die eerste Woordtrofee vir dans met die produksie Wag/Waiting. Grant van Ster, Shaun Oelf, Dustin Jannetjies en Gabiella Dirkse was in die stuk te sien.

Net so inspirerend soos genoemde produksie, is dit waarmee die lede hulle tans besig hou. Hulle werk onder meer aan ʼn dansproduksie vir internasionale Dansdag op 29 April. Hulle beoog om ʼn mini-dansfees te hou met drie verskillende dansklasse in verskillende genres, ʼn praatjie en ʼn vertoning van ʼn vorige FO8-produksie  Most Honest Man.

Hulle bied ook aanlyn-klasse via Zoom aan. Plaaslike dansers en van ander lande van Spanje, Australië, Nieu-Seeland, Engeland en Dubai neem reeds deel. Klasse word op Maandag en Vrydag om 10:00 en 18:00 aangebied. Die klasse is gratis en net ʼn donasie vir deelname word gevra.

Dis nie net vir professionele dansers nie, sê Grant van Ster (choreograaf en danser). Hulle bied verskillende opsies met grade van gevorderdheid en dansers kan kies wat hulle wil doen.

Ons wil hê dat elkeen wat die behoefte aan beweeg het, kan meedoen en die vreugde van dans kan beleef,” sê hy

Grant van Ster en Shaun Oelf aan die woord:

Dis ironies dat die stuk Wag/Waiting juis te doen het met wag en nou wag ons almal. Voer julle die wag-tema verder in die nuwe werk?

Ja, ek dink om te wag is altyd deel van ons lewe en nou is dit nog meer relevant. Ons wag almal nou meestal vir dieselfde ding. Om te wag is binne ons en deel van ons bestaan. Daar sal elemente van wag wees, maar dis nie die oorkoepelende tema nie.

Vertel meer van die nuwe werk. 

Dansers uit verskillende dele van die  wêreld werk saam. Die dansvideo sal aanlyn debuteer. Dit het nog nie ʼntitel nie, maar is daar om ʼn boodskap uit te beeld van gebed, eenheid, samewerking en hoop. Ons het die aanvanklike choreografie in ons woonstel geskep en dit op sosiale media platforms uitgestuur vir dansers om te leer en deel te wees daarvan. Hulle maak die choreografie hul eie, neem dit op stuur dit terug na ons. Ons neem dan al die videomateriaal en dan begin al die magic met ons saamstel van die stuk.

En die musiek? 

Die musiek, Wise Enough, is vooraf opgeneem en vertel van tyd op aarde en hoe ons tyd spandeer.

Wat is die uitdagings vir julle as dansers onder inperking?

Dit is bitter moeilik. Ons het geen inkomste nie, want al ons optredes is gekanselleer. Dis moeilik om in isolasie te werk, want dans vra intieme interaksie tussen gehore en dansers wat nou glad nie moontlik is nie.

Hoe verkies julle om hierdie tyd te sien? 

Ons probeer om die beste van die situasie te maak. Ons rus, maar beplan ook wat om in die komende maande te doen. Ons werk aan kommunikasietegnieke en probeer saam met die res van die dansgemeenskap mekaar ondersteun. Ons probeer alternatiewe idees ontwikke sodat ons kan bly skep. Daar’s nie tyd vir rou nie. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.

Gaan die nuwe manier van werk skep die danswêreld onherkenbaar verander?

Ons glo die kreatiewe proses sal na ʼn tipe normaal terugkeer, maar die aanlyn teenwoordigheid en vertonings sal baie meer prominent raak.

Wil julle ʼn boodskap oordra?

Kom ons put inspirasie uit hierdie tyd en maak die beste van die situasie. Bly met mekaar in verbinding en mag die magiese van die lewe, liefde en die kunste altyd voortbestaan.

Van links na regs. Colin ‘The Bushman’ Meyer, middel agter Ulric ‘Namasun’ Roberts en regs Frazer Berry.

Die digter word beloon

deur Mariana Malan

Vier jaar se werk lê agter die wenner van die topprys by vanjaar se Toyota US Woordfees. Die musiekgedrewe Die Poet. Wie’s hy? is aangewys as die beste feesproduksie. Hierdie prys is vanjaar vir die eerste keer toegeken.

Die reis met die produksie het meer as vier jaar gelede vir Dean Balie begin. In 2014 het Margot Luyt hom gevra om Adam Small se  “Groot Krismisgebed” vir RSG se Kersprogram op te neem.

“Die uitdaging was nie om ʼn liedjie te maak nie, maar eerder om die vers en gevoel met nog meer klem oor te dra. Ná die opname het sy gesê Small se werk my speelstyl sal  baie goed sal werk as volledige produksie. Ek het my toe ingeleef in sy prosa en digbindels. Dit sou nog twee jaar vat voordat ek die idee gekry het om tradisionele instrumente, moderne instrumente en die vers saam te ‘trou’. Daarna het ek my vriend, De Klerk Oelofse genader, sonder wie die produksie heel moontlik in my sitkamer sou bly met net my kat en my verloofde, Bianca Flanders as gehoorlede,” vertel hy.

Aan die begin het hy verskillende idees van Small se werk identifiseer.

“Ek het begin speel met die idee van die drie Adams: Adam die godsdienstige jong skrywer met die worsteling van ons sosiale omstandighede van daardie tyd en sy struweling met sy God; Adam die Kaaps-Afrikaaps ‘rebel’ en familieman wat geglo het hy is Afrikaans in murg en been , maar dat hy die Afrikaans sal skryf wat ʼn hele gemeenskap verteenwoordig, dat hy opinies sal lig van die stem wat andersins verdoof is en dan Adam die ou man, wat terugkyk op sy werk en uiteindelik tevrede voel.

“Ons regisseur, Frieda van den Heever was die perfekte persoon om hierdie visie, met van sy prosa as skakels, alles met ʼn deurlyn op die verhoog te sit. Ek wou nie ʼn CD of  ʼn konsert maak nie. Ek wou ʼn boodskap bring van oom Adam se werk wat vandag nog meer relevant is as ooit tevore.”

Die grootste uitdaging van die produksie was om vers en musiek naatloos te laat saamwerk. Al die musikante speel ʼn verskeidenheid instrumente en dit was belangrik om al hierdie klanke met mekaar te laat “praat”. In die teater was die uitdaging om  al hierdie instrumente hoorbaar te maak deur mikrofone en ʼn goeie balans te kry tussen van die oer-emosionele en melodiese klanke te meng.

Pierre-Arnold Theron, ons klanktegnikus, het sy hande vol gehad, maar was baie opgewonde oor die uitdaging.”

Volgens Balie was hy nooit angsbevange  of senuweeagtig gedurende die repetisie of aanbieding nie. Hy het ten volle geglo in die span met wie hy saamgewerk het.

“Die produksie is nog lank nie uitgespeel nie. Die terugvoering was oorweldigend en ek dink dit spreek boekdele van oom Adam se les : “As daar nou swart, bruin en wit bly,is die grootste hiervan vir my die liefde …”

Trio mis soms Schubert se hoogste eise

deur Paul Boekkooi

SCHUBERT: Klaviertrio’s No.1 in B mol, D 898 en No.2 in E mol, D 929;  Sonate in a vir Arpeggione en Klavier, D 821; Fantasia vir Viool en Klavier in C, D 934. Trio Les Esprits – Adam Laloum, klavier / Mi-sa Yang, viool / Victor Julien-Laferrière, tjello. Sony Classical 19075821702 (2 C D’s).

Die musiekgeskiedenis en almal wat hulle daaraan steur, kan slegs met moeite by twee tragedies verbykyk: Die vroeë dood van Mozart op 35 en dié van Schubert, nóg vroeër, op 31. Veral die gevleuelde grafskrif van laasgenoemde wat deur die Weense dramaturg Franz Grillparzer opgestel is, het in dié woorde wêreldwyd geresoneer: “Die dood het hier ʼn ryk besit, maar nog mooier verwagtinge begrawe.” Van dié verwagtinge se saad is reeds in Schubert se laaste twee Klaviertrio’s geplant – albei vierdelig en binne sy laaste lewensjaar (1827-1828) voltooi. Albei verdien die etiket meesterwerke – nie slegs omdat hulle wat stemming en karakter betref verrassend verskil nie, maar ook omdat hulle emosionele inhoud spesifieke verbindings, maar ook uiterste kontraste oproep.

In nuwe opnames van albei werke deur die Frans-Koreaanse Trio Les Esprits ontdek ons weliswaar die wydlopendheid van Schubert se eie stem, maar op  ʼn   musikaal-tegniese, asook meer durende inspirerende vlakke, bly veral twee langer gevestigde ensembles – die Beaux Arts Trio (Philips) en die Trio Wanderer (Le Chant du Monde) – se uitvoerings ongehinderd steeds die botoon voer. Die Koreaans gebore vrou, Yang, het duidelik ʼn deeglike opleiding as violis ontvang, maar in haar spel behaal sy nie heeltemal die vitale élan wat haar twee Fransgebore en -opgeleide kollegas bykans deurlopend op ‘n hoër vlak illustreer nie. In die Allegro moderato openingsdeel van No. 1val dit in ‘n klein onderdeel op dat daar, eienaardig genoeg, ʼn intonasie-insinking wat liefs deur die produksieleier gekorrigeer moes wees, deurgeglip het.

Met talle onderdele in albei trio’s wat duidelik klaviergesentreerd is, bereik die uitvoerings ʼn kommunikatiewe helderheid wat Laloum in sy wyd genuanseerde spel waarmaak. Dit is ook duidelik dat hy met Julien-Leferrière in die Arpeggione Sonate  ʼn ideale eenheid daarstel, alhoewel ʼn mens nie anders kán as om te erken dat ʼn pianis soos Martha Argerich veel meer karakterryke elemente in die musiek na vore haal as dit wat Laloum hier demonstreer. Ietwat meer besinnende, poëtiese hartsverlange, of noem dit Weense melancholie, sou veral in die Adagio – attacca nie ongepas wees nie. In haar uitvoering van die Fantasia vir Viool en Klavier in C, D 934, bereik me. Yang en die pianis in die meer ekstroverte dele ʼn gedrewe, speelse sintese in hul ensemblewerk, maar slaag minder in die tema-en-variasies derde deel, gemerk Allegretto, om struktuur en uitdrukkingskrag ideaal te verenig. Die Noorweegse violis Vilde Frang slaag in alle opsigte duidekiker daarin om dié werk musikaal te integreer in haar onlanse CD op die Warner Classics-etiket, gewy aan solowerke van Schubert, Paganini en ander.

Die stadige tweede deel van die Trio No. 2 met die tempo-aanduiding  Andante con moto, het ook roem verwerf as klankbaanmusiek. Die legendariese regisseur Stanley Kubrick het dié wonderbaarlike tema, wat klink soos ʼn verhewe lied sonder woorde binne  ʼn uiters subtiele marsritme, gebruik in sy historiese drama Barry Lyndon (1975).

Fassinerende, hallusinerende klanke

deur Paul Boekkooi

DEBUSSY: Strykkwartet in g, opus 10. THOMAS ADÈS: Arcadiana vir Strykkwartet (1994). RAVEL: Strykkwartet in F. Signum Strykkwartet – Kerstin Dil en, Annette Walther (viool), Xandi van Dijk (altviool) en Thomas Schmitz (tjello). Capriccio C5239.

My eerste kennismaking met die strykkwartette van Debussy en Ravel was reeds voor my tienerjare. Die opnames deur die destyds bekende Loewenguth kwartet van Frankryk, met Alfred Loewenguth as leier, het haas onafwendbaar ʼn invloed op my as luisteraar gehad. Dié viertal het Suid-Afrika drie keer besoek: in 1955, 1956 en 1964. Hulle uitvoerings was normgewend in Franse repertorium, maar ook hul hantering van die Klassieke lyn – vanaf Haydn deur Mozart en Beethoven na Schubert – is vir baie lank onder die heel bestes geag. Die Duitse Signum Kwartet, in Keulen gevestig, se tegniek in die twee Franse komponiste is weliswaar verbasend soewerein, maar op idiomatiese vlak tree daar in hul spel by tye ʼn te kliniese indruk na vore.

Van albei Franse werke is die uitvoering van die Ravel die beter een omdat dit die volbloedige, ietwat nerveuse styl van die Duitsers (waaronder ook die SA gebore Xandi van Dijk tel), die beste verdra. Die eerste deel, Allegro moderato, klink sorgvuldig en objektief, met solistiese detail wat uitstaan – al kon dit meer natuurlik gestalte kry. Deel twee, gemerk Assez vif, is mooi getemper én genuanseerd, met ʼn strak ritmiese profiel. Die daaropvolgende Très lent is intiem en gesluierd, terwyl die finale, gemerk Vif et agité, as gepas stormagtig en virtuoos oorkom. Prysenswaardig in die Debussy is die fraai klank van die primarius en die naadloos verlopende ensemblewerk. Die enigste element wat nog ʼn mate van konformering vereis, is die neiging om in vinnige onderdele té hartstogtelik tempovariasies te hanteer. ʼn Hoogtepunt hier is die klankskoonheid en uiters subtiele timbres wat in die derde deel, Très lent, uitgebeeld word . In albei kwartette se pizzicato-onderdele voer die graad van klankkontraste jou plek-plek na kosmiese hoogtes.

Die Britse komponis Thomas Adès is in 1971 gebore. Hy is nie slegs die Sondagskind van Engelse musiek nie, maar ook op die Kontinent word sy partiture deur musici, sangers en dirigente uit sy hande geruk. Hy is veral ook daarvoor bekend dat hy nogal gereeld fassinerende hallusinerende klanke skep. Gewoonlik is dit vir soliste en ʼn groot orkes en koor, maar in sy sewedelige Arcadiana bereik hy dieselfde met slegs vier strykers. Tegelyk vreemd en amusant is sy rock-bewerking van sy opus genaamd Cardiac arrest – ʼn proses waarby hy nie rekening hou met die werklike erns wat so ʼn titel, medies gesproke, impliseer nie …

Al sewe dele van Aracadiana het titels. Dit is dus programmusiek wat verwys na enkele reeds bestaande komposisies van ander komponiste, maar deur Adès se musikale prisma bykans onherkenbaar word. Tog domineer die Arkadiese stemming feitlik dwarsdeur. Dit is toeganklik, dikwels mesmeriserend en oorspronklik. Dit het, terloops, presies 101 jaar ná Debussy se kwartet die lig gesien. Die Signum-vier se vertolking daarvan glinster te midde van ʼn soms makabere kleurerykdom.

Metamorfoses rondom die 4 Seisoene

deur Paul Boekkooi

REFLECTING THE SEASONS – Vivaldi: Die Vier Seisoene. Tim Kliphuis-Trio – Tim Kliphuis (viool), Nigel Clark (kitaar) en Roy Percy (kontrabas) / Stellenbosch Universiteit Camerata. Sony Classical 88985352012.

Al wéér ʼn opname van Vivaldi se Vier Seisoene? Is die by die duisend plus uitvoerings daarvan wat sedert die vroeë 1940s verskyn het, nie reeds oorbodig genoeg nie? Die werk is weliswaar vir eeue lank slegs sporadies uitgevoer. Dit kan wees dat Haydn, Mozart, Beethoven, Schubert of selfs Wagner geensins bewus was van die bestaan van dié vier concerto’s nie. ʼn Keerpunt was die eerste langspeelplaat-uitreiking daarvan deur die geroemde Italiaanse strykorkes I Musici in 1955. Van toe af het die werk se gewildheid onverpoos begin sneeubal.

Nie alle uitvoerings daarvan was “outentiek” nie. Jazz-musici en -sangers het ook daarop beslag gelê. Onder eersgenoemdes was daar Moe Koffman, Jacques Loussier en laasgenoemde die Swingle Singers, Dít net drie voorbeelde onder tientalles. Een van die meer onkonvensionele invalshoeke op die werk wat deur my vingers geglip het, was die Nederlandse violis Tim Kliphuis en sy trio se 2016 opname daarvan saam met die Universiteit Stellenbosch se Camerata. Kliphuis, wat Suid-Afrika verskeie kere besoek het, se verwerkings van twee dele uit elke “seisoen” belig veral die improvisasie-element by Vivaldi.

Kliphuis is volledig klassiek opgelei. Vir die viool-solis het Vivaldi weliswaar solokadense neergeskryf, maar sonder twyfel daarmee geïmpliseer dat hy/sy liefs op dié vlak hul eie fantasie moet aanwend. Dit is presies wat Kliphuis en sy twee virtuose Britse kollegas doen. Hy beskou dit nie as ʼn ikonoklastiese fusie tussen klassiek en jazz nie, maar eerder een waarin meer eietydse improvisasiestyle ingebed word. Sigeuner-jazz is herkenbaar, maar ander kere is dit weer die loslittig-vloeiende en uiters virtuose tradisie van die Frans-Italiaanse jazzviolis Stéphane Grapelli wat die botoon voer.

Met die luister hierna word dit gou duidelik dat Vivaldi se v ernuf nêrens aangetas word nie. Dit dien eerder op die regte oomblikke as ʼn springplank na  avontuurlustigheid waarin ouer tradisies binne jazz positief en metafories inval by Vivaldi se oorspronklike gedagtegange. Dié  bykans realistiese beelde vind ons in sy selfgeskrewe sonette wat hy by elkeen van die oorspronklike Vier Seisoene se twaalf dele nagelaat het. Dit is só evokatief dat dit nie anders kán as om musici verder te prikkel nie. Dié onderdele waarin jazz domineer word hier op ʼn hoogs ontwikkelde peil met virtuose en energie gelaaide vlakke verder volvoer.

Dit vat tyd om alles wat hier gebeur ten volle musikaal te assimileer, maar met meer luister val die musikale beredenerings volledig in plek.  Die Camerata se spel is op ‘n hoë peil, al is die klankteksture nie altyd op ʼn ideale helder vlak nie. Daar is egter talle onderdele waarin die knap solowerk van byvoorbeeld die tjello’s en kontrabasse deeglik omlyn is.

Hierdie is een van die mees oorspronklike weergawes binne die kategorie van “alternatiewe” Vier Seisoene.

Met Vänskä is jy veilig by Sibelius

deur Paul Boekkooi

SIBELIUS: Simfonie no.3 in C majeur, opus 52; Simfonie no.6 in d mineur, opus 104; Simfonie no.7 in C majeur, opus 105. Minnesota-Orkes / Osmo Vänskä. BIS-2006 (SACD).

Jean Sibelius (1865-1957), die Finse komponis, verdeel luisteraars en selfs ook die musici wat sy werke uitvoer. Daar is die heldevereerders wat hom as die grootste simfoniese skepper ná Beethoven en Brahms beskou en ander wat hom ʼn “vulgêre, selfingenome provinsialis” noem. Ai tog, die vooroordele wat so na albei kante toe uitreik… Daar is talle dirigente, selfs welbekendes met groot name, wat skaars aan ʼn Sibelius-simfonie sal raak en hoogstens sy Vioolkonsert ter wille van die solis sal begelei. Wat gereeld rondom Sibelius misverstaan word, is die invloedrykheid van Finland se omvattende nasionale heldedig, die Kalevala, waar mitologie, patriotiese en revolusionêre poësie (Finland is lank deur Rusland onderdruk) die bewussyn van al sy inwoners binnegedring het.

Dit is hierdie wesenlike subteks by Sibelius wat sy geheime moet ontsluit voordat die luisteraar ʼn meer volledige begrip kan ontwikkel oor hoe dié komponis te werk gegaan het. Wat ook sy reputasie bevoordeel het, is dat ʼn jonger geslag Finse en ander Skandinawies gebore dirigente in ons tyd na vore getree het. Onder hulle is daar Paavo Berglund, Osmo Vänskä, Sakari Oramo, Herbert Blomstedt, John Storgards, Jukka-Pekka Saraste, asook enkeles van ander nasionaliteite, soos Neeme Järvi, Sir Colin Davis, Sir Simon Rattle, asook vroeëre Britse Sibelius-beeldpoetsers soos Sir John Barbirolli en Sir Thomas Beecham. In ons tyd is dit veral die Fin Osmo Vänskä wat Sibelius se wese as komponis detailryk deurgrond. Dit is vandeesweek presies twee jaar gelede dat hy saam met sy Minnesota-Orkes hul debuut-konsertreis deur Suid-Afrika onderneem het.

Tydens dié toer het hulle Sibelius se En saga (‘n Sage) op van hulle programme uitgevoer en vir die eerste keer het dié toondig  binne SA konteks sy volle betowering op die Kaapstadse gehoor uitgestort en ʼn langdurige, hoogs verdiende spontane applous ontvang. Met dié opname van drie minder bekende simfonieë is die reaksie ʼn verrukking op gelyke vlak. Vänskä se interpretasies dring deur na die essensie van Sibelius. Sy verbondenheid met die natuur klink selde beskrywend, al is die temas opsigself kernagtig en beeldend. Selfs binne ʼn hoogromantiese verwikkeldheid of juis vanweë dit, is dit bykans onmoontlik om sy musiek volgens bestaande konvensies te ontleed. Die dirigent slaag daarin om die partituur deurgaans suiwer aan te haal. Só kompleks en tegelyk subtiel is die benutting van sy tematiese materiaal.

Opvallend ook is Vänskä se spesiale aandag wat hy aan die laer stemme in sy orkes verleen: byvoorbeeld tjello’s en kontrabasse. Hulle en ander vorm ʼn stewige fondament binne die klanksuile wat as ‘t ware in hierdie magtige voorbeelde van Sibelius se hoogs individuele musikale transformasietegnieke uitgelig word.

Vänskä omvou in sy dirigeerwerk die essensie van die komponis: Oënskynlik tradisioneel wat die boustene betref, maar voluit eietyds in vormgewing. Die spanning en eenheid binne aldrie simfonieë oorval die luisteraar wanneer die slotmate bereik word.

ʼn Brahms gelaai met herfstinte

deur Paul Boekkooi

BRAHMS: Sonate vir altviool en klavier in f mineur, opus 120, no.1; Sonate vir altviool en klavier in E mol majeur, opus 120, no.2; Hongaarse Danse: No.1in g mineur; No.4 in c mineur; No.5 in g mineur; No.16 in f mineur. Nils Mönkemeyer, altviool / William Youn, klavier / Signum Strykkwartet. Sony Classical 88875122782.

Herfstinte fassineer. Hulle is warm omdat daaraan ʼn lewe van opbloei en rypheid voorafgegaan het. Die helderheid en selfs skerpheid van die vorige twee seisoene vloei inmekaar en die natuur ontvou haarself in ʼn ryke kleed met skakerings van goudgeel, koperrooi en roesbruin. Baie hiervan word deur Brahms in ʼn musiektaal vergestalt binne die kamermusiekrepertorium van sy laaste skeppingsperiode. Twee belangrike werke, slegs twee jaar voor sy dood neergepen, is die Klarinetsonates van opus 120 wat ook as Altvioolsonates gepubliseer is, plus – en dié feit is veel minder bekend – een vir viool en klavier. Laasgenoemde is tegnies uiters uitdagend en voeg ʼn derde dimensie tot die bestaande weergawes by.

Die Duitse altviolis Nils Mönkemeyer se spel toon ʼn gepaste diepgang en ontleding van die komponis se oorwegend beskouende en met rus gevulde uitdrukkingspektrum. Moet egter nie dink dat passionato (hartstog), waar gevra, ontbreek nie. Analiseer ʼn mens die verbintenis tussen die altviolis en die pianis William Youn (van Koreaanse afkoms) se spel, besef jy gou dat albei die karaktertrekke van Brahms in hul sterk en voluit persoonlike voordrag kernagtig onderstreep. Waar die altviool se warm en soms diep resonerende klanktimbres sterk deur ʼn sensuele element gedra word, onthou die pianis se aanslag tog soms ʼn essensiële element rondom Brahms se palet van kleurskakerings, ondanks vaardige en virtuose spel.

Daar is talle asem-wegslaanoomblikke binne die vertolkings aanwesig. Albei musici gee, binne die spektrum van hoogs ontwikkelde musikaliteit, ook aandag aan die aard en die potensie van die klankverbindings binne hul spel. Aan die einde van die Allegro appassionato-openingsdeel van die f mineur sonate is daar ʼn uiters tere epiloog. Dit word hier met ongelooflik subtiele nuanses in pianissimo-spel magies verklank. Talle ander voorbeelde kan eweneens uitgelig word. Mönkemeyer se altviool klink volrond, met slegs momentele oomblikke waar ʼn effens nasale klank na vore kom. Sy virtuositeit is waar nodig op ʼn hoë vlak, maar oorskrei nooit kontekstueel die uitspraak van die dirigent Eduard van Beinum se beskrywing van die altviool as synde “’n stadige viool” nie.

Vier kort toegifte volg uit Brahms se versameling van Hongaarse Danse, deur vier verskillende mense verwerk – die nommer een deur Brahms se violis-vriend Joseph Joachim. Opvallend by elkeen is dat hulle in ʼn mineur toonaard is. Brahms het gou besef dié gebruik is ideaal om hul sigeunerstemming mee te bevestig. Slegs in die eerste een word die altviolis deur die klavier begelei. By die orige drie tree hy met die Signum Strykkwartet met ʼn SA konneksie op: Hulle altviolis is Xandi van Dijk. Die stemming rondom elkeen wissel vanaf ouderdomsweemoed tot by ʼn oordaad aan uitbundige vitaliteit.

Skryf in vir Teksmark 2020

deur Mariana Malan

Die Teksmark wat vanjaar vir die vyfde keer gehou gaan wordm gaan voort ondanks groot uitdagings.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) meen dit gaan veral baie interessant en uitdagend wees gegewe die buitengewone omstandighede waarin die uitvoerende kunste vanjaar moet voortbestaan.

“Hierdie jaar se Teksmark word voorberei om voort te gaan in enige omstandighede. Ek glo ons sal Teksmark kan aanbied in die tradisionele vorm en steeds seker wees dat die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is.

“Ons wou Teksmark al vir geruime tyd stroom om meer mense toegang te gee tot die geleentheid en hierdie jaar sal dit elk geval noodsaaklik wees. Indien regulasies aangepas word en klein groepe mense kan nie byeenkom nie, dan sal ons maniere vind om die uittreksels op te neem en die geleentheid virtueel aan te bied. En in absolute uitsonderlike omstandighede sal ons die geleentheid skuif. Deesdae moet mens ʼn Plan A, B, C en D vir alles in plek sit. Ons berei ons daarop voor.

“Tog hoop ek steeds dat ons met Teksmark die bedryf se mense weer byeen kan bring. Dis ʼn familie wat mekaar mis. Ons het baie om oor te gesels, baie om oor saam te droom, te beplan en uit te rafel. As dit kan gebeur sal dit ʼn ekstra spesiale Teksmark wees.”

Daar was al voorheen voorstelle oor virtuele teater en Theart meen vanjaar is die tyd daarvoor meer ryp.

“Die pandemie het almal gedwing om waaroor eers gepraat en gedroom is nou ernstig te benader.”

Dramaturge het nog ‘n maand oor om hul voorleggings in te stuur. Die beoogde datum vir die Teksmark is van 27 tot 29 Oktober in die Baxter-teaterkompleks in Kaapstad. Die projek is ʼninisiatief van die KKNK en word moontlik gemaak met ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum.

Voorstelle word oorweeg om oor drie dae as leesteater by die Teksmark in Kaapstad aangebied te word, waar skrywers ook oor hul teks-idees gesels. Verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers word genooi en kan van hierdie platform gebruik maak om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in en verdere ontwikkeling van hul tekste.

“Daar is die drang om kreatief en produktief te wees. Vir skrywers is dit soos kos en water. Jy moet daarmee besig wees anders is jy nie heel nie,” aldus Theart.

Voorstelle moet teen Vrydag 7 Augustus 2020 om 17:00 per e-pos na teksmark@kunste.org.za gestuur word, en moet aan die volgende voorwaardes voldoen:

  • Tekste en voorstelle in alle Suid-Afrikaanse tale word oorweeg.
  • Veeltalige produksies word aangemoedig en verwelkom.
  • Slegs tekste wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg
  • Geen handgeskrewe voorstelle word oorweeg nie
  • Volledige inligting en voorwaardes is beskikbaar by kknk.co.za. Vir Teksmark-navrae skakel 044 203 8600, of stuur e-pos na teksmark@kunste.org
Theart se wenke vir dramaturge

Teksmark is die platform waar skrywers kan waag. Niemand kan enige iets verloor nie. Eksperimenteer en volg jou instink..

Skryf oor gewaarwordinge, die dinge wat kwel en ondersoek deur jou skryfwerk die wêreld. Persoonlik (en ek is nie op die leespaneel wat die keuring doen nie), is dit toneelstukke wat of met intieme klein idees versigtig omgaan of toneelkstukke wat met grootse gedagtes en idee op ʼn interessante manier omgaan, die opwindendste teater.

Skrywers moet hulself uitdaag om slim met komedie en satire om te gaan. Dit is sulke wonderlike genres wat die afgelope jare heeltemal afgeskeep en onderontgin is. Moenie vaskyk in die letterlike nie. Teater is ʼn magiese spasie waarmee jy so lekker kan speel en omgaan.

Die moeilikste en mees gekompliseerde onderwerpe kan met teater aangeraak, oopgekrap, uitgeryg en weer bymekaar gesit word. Dis ʼn veilige ruimte. Teater is waar jy mense kan uitdaag en konfronteer met onderwerpe wat sensitief is. Satire en kabaret is wonderlike genres om juis dít te vermag.

Teksmark is juis daar om te droom. So ja, jy kan dink aan aanpasbaarheid van tekste vir kleiner of unieke ruimtes, of vir tekste wat ook op ʼn aanlynplatvorm kan werk. Uiteindelik wil Teksmark skryfwerk vir teater ontwikkel, waar en hoe dit gebruik en plaasvind kan bepaal word. Die begin van alles is ʼn stewige gefokusde en goedgeskrewe teks.

Skrywers word aangemoedig om met meertalige tekste te speel.

Bo: Jigsaw met Iain Robinson en James Cuningham. Onder: Anton Krueger se The Voice in Your Head.

Die skerm as nuwe teaterplanke

deur Kobus Burger

“When forced to work within a strict framework, the imagination is taxed to its utmost and will produce its richest ideas. Given total freedom, the work is likely to sprawl.” Die dramaturg P.G. du Plessis het destyds hierdie T.S. Eliot-aanhaling gebruik in die voorwoord vir die publikasie van sy ses kort dramas, Teerling.

Volgens Du Plessis het die beperkings wat hy vir homself as dramaturg gestel het – soos byvoorbeeld slegs twee akteurs, dieselfde rekwisiete en byklanke – het gemaak dat sy verbeelding nie grense geken het nie.

Totale vryheid kan tot verveling lei, terwyl ʼn mate van inperking nodig is om die kreatiewe sappe weer te laat borrel. En dit is juis wat by my opgekom het toe ek die regisseur Sylvaine Strike se Jigsaw asook die skrywer-akteur Anton Krueger se The Voice in Your Head aanlyn beleef het tydens vanjaar se virtuele Nasionale Kunstefees (vNAF). Die Grahamstadse fees het sy totale aanbod – van jazz en film tot teater en visuele kunste – na die internet geskuif.

Jigsaw met James Cuningham en Iain Robinson handel oor twee pêlle, Paul en Simon (terloops, daar is heelwat verwysings na Simon & Garfunkel), wat met mekaar via Zoom klets. Hulle praat oor T-hemde, syfers, natuurwette en later ʼn skielike skouerskuur met die dood, want die een vriend het ʼn “tamatie” wat op sy brein groei en hy wag om die uitslag van die neurosjirurg te kry.

Die innoverende gebruik van musiek en animasie maak dat die Zoom-gesprek nie in twee pratende koppe ontaard nie. Hoewel ʼn mens gevoel het die werk kan maklik met tien tot twintig minute gesny word.

Krueger se Zoom-sessie, The Voice in Your Head, was ʼn kruis tussen praatjie/lesing en interaktiewe teater. Hy verken die konsep van mindfulness via verskeie speletjies, brokkies navorsing, interaksie met die deelnemers asook ʼn skeut terapie. As jy nie van deelnemende teater hou nie, sou hierdie jou in angssweet laat uitbars het.

Weer eens het dit gevoel asof die 80 minute lange aanbieding heelwat verkort kon word. Krueger is wel ʼn boeiende begeleier wat selfs die deelnemers in groepe laat uitbreek het om ʼn paar terapie-beginsels te verken. Later mymer hy oor die rol van ʼn kunstenaar/akteur en ons as kykers (“gehoorlede”) se ervaring daarvan. Hy reis deur emosies en die uitdrukking daarvan en prikkel met sy innoverende interaksie met die skerm. Nes Jigsaw word ʼn mens se verbeelding en oë geprikkel.

ʼn Mens kry die gevoel dat talle verhoogkunstenaars nog voel-voel in die donker van hierdie “nuwe medium”, maar dat die opwinding en eksperimentasie reeds daar is. Ondanks die uitdagings – soos internetkonneksie en die irriterende draaiende wieletjie in die middel van die skerm – was beide aanbiedinge tog skitterende sprankies van hoop.

Trifonov oorweldig met Chopin-spel

deur Paul Boekkooi

CHOPIN: Klavierkonserte no. 1 & 2; Variasies op ‘Là ci darem la mano’ uit Don Giovanni (Mozart); Rondo vir twee klaviere in C; Impromptu no. 4 in c kruis. Werke geïnspireer deur Chopin van Barber, Grieg, Mompou, Schumann en Tsjaikowski. Daniil Trifonov & Sergei Babayan, klavier / Mahler Kamerorkes / Mikhail Pletnev. DG 479 7518 (2 CD’s).

Franz Liszt (1811-1886) het vier jaar voor sy dood iets onverwags en buite karakter aan sy leerlinge meegedeel: “Chopin se musiek is die enigste geesdrif rondom my jeug wat my deurgaans tot nou bygebly het.” Dié twee komponiste kan nie in dieselfde asem genoem word nie. Die 20ste eeuse Amerikaanse komponis Virgil Thomson het Chopin se styl so verduidelik: “Chopin se voorskrif vir rubato-spel – in breë trekke is dit ʼn beginsel wat slaan op buigbaarheid en veerkragtigheid betreffende tempo en ritme – is in wese presies dít wat Mozart ook as ideaal beskou het. Hý het voorgeskryf dat die regterhand vryhede moet neem met tydswaardes terwyl die linkerhand ritmies onveranderd bly”.

Met Chopin Evocations het die Russiese pianis Daniil Trifonov (27) sy Chopin-meesterskap bevestig. Sulke baniere glip dikwels deur as ʼn publisiteitstruuk, maar hier openbaar dit meer as wat die beskrywing suggereer. Chopin vereis uiteenlopendheid én uiterstes in musikaal-tegniese vermoëns. Dáárom lewer elke tyd slegs ʼn handjievol grootmeesters op. Die ander is gewoonlik óf vervelig óf op effekbejag gerig. Sentraal op dié dubbelalbum is beide Chopin-klavierkonserte – geklee in ʼn ietwat gewysigde orkestrale mondering. Dit is die debuutopname van die Russiese pianis-dirigent Michael Pletnev se nuwe orkestrasies van hierdie jeugwerke.

Altwee concerto’s is deur musiekhistorici afgemaak as ondervoed en geensins  as ʼn wedywering tussen solis en orkes wat ʼn concerto impliseer nie. Dit is waar. Pletnev se ingryping is meer as kosmeties en verryk die orkestrale palet harmonies. Hy en sy solis laat dit nuutgemunt en ryper klink. Tempo’s word ideaal gekies en uitgeleef. Die openingsdeel van die E mol majeur konsert se Allegro maestoso word met gravitas gelaai, terwyl die slotdeel, Rondo: Vivace, merkwaardige veerligtheid voortbring: ryke uitdrukkingskrag gevul met ʼn dinamiese, natuurlike wydlopendheid.

Die Bel canto elemente in beide konserte se Larghetto-bewegings is met ʼn  poëtiese natuurlikheid gelaai, ontdaan van sentimentaliteit, delikaat met eenvoud gevoed. Trifonov toon vars benaderings in drie Chopin-klavierstukke: die Don Giovanni-variasies, die Fantasie-Impromptu no.4, asook ʼn rariteit wat nadoods gepubliseer is: die Rondo vir twee klaviere wat hy met sy mentor en een van sy gewese leermeesters, Sergei Babayan, met virtuose vingervaardigheid vervolmaak binne ʼn ryp interpretasie.

Vyf komponiste wat hulde aan Chopin bring, word ingesluit. Die mees uitgebreide werk is die 20ste eeuse Katalaan Frederic Mompou se Variasies op Tema van Chopin.  Hier tref Trifonov met die kontrasryke wyse waarop hy al twaalf variasies karakteriseer. Opvallend was die “blou note”, wat met jazz verbind word, in die eerste twee. In vier korter stukke van Barber, Grieg, Schumann en Tsjaikowski herken ons Chopin se regstreekse invloed, al klink sommiges skaars meer as intermezzo’s tussen die groter werke.

Trifonov vervreem jou geensins van jou bewondering vir opnames deur Martha Argerich, Krystian Zimerman of Elisabeth Leonskaja nie. Hy voeg bloot enkele stimulerende perspektiewe tot hul interpretasies toe.

By Netrebko oorheers veelsydigheid

deur Paul Boekkooi

ROMANZA – ANNA NETREBKO & YUSIF EYVAZOV. CD 1: IGOR KRUTOY: 19 solo-liedere en duette rondom die liefde. Anna Netrebko (sopraan);  Yusif Eyvazov,(tenoor) / Londen- en Los Angeles Ateljee-orkeste / Verskeie dirigente.CD 2: Opera- en operette-arias en duette asook liedere van Puccini, Verdi, Kálmán, Lehár,Grieg, Dvorák, Rachmaninov, Richard Strauss, Offenbach, Bellini, Mozart en Tsjaikowski. Anna Netrebko, sopraan, met Saimir Pirgu (tenoor), Elina Garanca (mezzo-sopraan) en Thomas Quasthoff (bas-bariton) / Verskeie orkeste en -dirigente. Panorama 479 7679.

Die operaverhoog is alomvattend en uitputtend. Daar is talle suksesverhale rondom sangers wat op die gebied van blote uithouvermoë wêreldrekords breek. Dink maar aan Placido Domingo. Húlle is helaas by verre in die minderheid. Diesulkes se vokale voorbereiding en dramatiese oortuigingskrag op die verhoog is in die reël onberispelik. Die grootstes onder hulle moet hard werk en veg vir hul reputasies. Die psigiese en fisiese uitdagings loop ʼn parallelle roete waarin ʼn totale ewewig verseker dat ʼn loopbaan seëvier. Maar té dikwels gebeur dit dat fisieke ooreising lei tot die kansellasie van optredes. Ek noem geen name nie. Die internasionale media floreer gulsig op sulke nuusgebeure.

Een sopraan wat ek bloot per toeval twee keer ervaar het met ʼn besoek aan Europa  in 1996, was Anna Netrebko – ʼn protégé van die Russiese dirigent Valery Gergiev. Sy was skaars 25 en het tóé reeds duidelik die gehore in Londen (by die Proms) en in Rottterdam in die holte van haar hand gehad met o.a. ʼn aantal opera-arias en Moessorgski se oorwegend komiese liedsiklus, Die kinderkamer. Binne enkele jare daarna was sy wêreldberoemd. Vandag is sy ʼn veelsydige en leidende sopraan in die internasionale operabedryf. Suid-Afrikaners ken haar veral deur haar gereelde verskyning in die verfilmde weergawes van opvoerings deur New York se Met Operas.

Dié 2017- uitreiking van Netrebko se ‘n dubbelalbum getiteld Romanza met die Azerbaidjanse tenoor Yusif Eyvazov as haar sangmaat het by my verbygegaan, maar met die huidige inperkings was die tyd uiteindelik ryp om daarna te luister. Sy en Eyvazov was toe reeds getroud. Die eerste van die twee CD’s word gewy aan meertalige liedere geïnspireer deur die vele fasette van die liefde, gekomponeer deur Igor Krutoy, oorspronklik van die Oekraïne. Opera-snobs sal hierop neersien, maar in die proses hulself ontneem van ʼn aangename luisterervaring in die ligter genre. Dink aan Bocelli op sy beste. My naïwiteit het in my gesig ontplof, want my verwagting was dat Krutoy se musiek veel meer Russies sou klink.

Lilia Vinogradova is die Russiese digter wat vir die meerderheid lirieke rondom Krutoy se 19 liedere verantwoordelik was. Hulle is die antitese van rymelary of klewerige sentiment. Krutoy se styl raak soms ietwat voorspelbaar, maar sy orkestrasies is welluidend en luuks, terwyl die twee sangers beurtelings of saam die projek met vokaal-musikale insig afrond. Al is daar kontraste in die liedjies, is my ervaring dat hulle in kleiner dosisse ingeneem moet word. Beslis nie al 19 na mekaar nie!

Wat die tweede CD betref, vervaag enige vorm van ernstige kritiek. In dié wydlopende, oorwegend alombekende arias, duette en liedere kom Netrebko se grenslose talent en weloorwoë interpretasies as persoonlik maar tegelyk baie verrykend, na vore. Eyvazov sing terloops nie op dié voluit klassieke CD nie.

Doendinge vir kajuitkoors

Kobus Burger het aanlyn gaan skrop en met ʼn lysie vorendag gekom wat die ledigheid tydens die lang dae van binnebly, (hopelik) gaan vertrap.

Begin inkleur

Party kunsonnies beskou dit as een van die heel grootste euwels. Toe tref die gonswoord “mindfulness” die korporatiewe wêreld en net daarna stapels en stapels inkleurboeke – nogals vir volwassenes. Of jy nou meer “mindful” wil wees of nie, ʼn inkleurprent is steeds kinderlike pret!

Wat van die Peanuts-karakters? Of die Klein Prinsie? Sherlock Holmes? Hier is ʼn paar galerye met prente:

http://www.supercoloring.com/coloring-pages/stories-tales/peanuts

Vlerke van papier

By die dag is daar meer pleidooie op sosiale media. “Het iemand dalk vir my ʼn pakkie sigarette?” Nie net die rokers se vingers moet besig bly. Kom ons vou vliegtuie wat vér kan vlieg en kyk of jou vousel die buurvrou se worteltuin kan bereik?

https://www.youtube.com/watch?v=SpYS5WtvNvQ

Bak en brou

YuppieChef se aanlyn-kookskool ter waarde van R3 000 is tot einde April heeltemal gratis. Die klasse wissel van souse, Franse kookkuns, soetgoed, ontbytdisse tot vinnige én maklike aandetes.

https://www.yuppiechef.com/yuppiechef-cooking-school.htm?PHPSESSID=sl0v86pj7nqq3ie1dq1vrntslv&id=49081&name=Cooking-School-30-Days-Free-Bundle&ref=featurepanel

Stap deur die beste museums en kunssale

The Guardian het ʼn lysie gemaak van die tien beste kunssale en museums wat ʼn mens aanlyn kan beleef. Sonder ʼn vliegtuigkaartjie of reisplan kan jy nou vir ure deur die voorste bakens gaan dwaal.

https://www.theguardian.com/travel/2020/mar/23/10-of-the-worlds-best-virtual-museum-and-art-gallery-tours

Wikkel daai boude

Lank lê en sit, is gif veral as ʼn mens meer gereeld deur die yskas en koskaste gaan krap. Rujeko Dumbutshena is ʼn danser van Zimbabwe wat ʼn kort dansklas in Afrikadans vir die Kennedy Center aangebied het. Met tromspelbegeleiding leer sy jou binne meer as vyf minute hoe om die danspassies baas te raak.

https://www.youtube.com/watch?v=Ewqq-3xJFdI&t=4s

Begin meditatief teken

ZenTangles is ʼn verslawende manier om patrone, krulle en kraaineste heel meditatief op ‘n klein blokkie papier vas te vang. Daar is soveel verskillende wyses (en skole) asook ʼn spul nuwe variasies dat jy vir ure lank sal kan besig bly. ʼn Blokkie papier, swart pen, potlood en uitveër is al wat jy benodig. WikiHow se artikel en foto’s wys hoe jy dit binne elf stappe kan baasraak.

https://www.wikihow.com/Make-a-Zentangle

Leer iets nuuts

Daar is talle aanlyn-akademies waar ʼn mens derduisende dinge kan leer. Die gewilde Udemy.com het onlangs ʼn rits kursusse gratis beskikbaar gestel. Gewoonlik kos Udemy-kursusse sowat R180 (afhangend van die wisselkoers en winskoopveldtog wat geld). Nou kan jy enigiets van aromaterapie tot kitaarlesse, PowerPoint en tydsbestuur sonder ʼn sent leer.

Leer hoe om na die sterre te kyk:

https://www.udemy.com/course/astronomy-state-of-the-art/

Hier is ʼn gratis kitaarkursus vir beginners:

https://www.udemy.com/course/total-beginner-guitar-lessons/

Leer met hierdie animasie-kursus hoe om skaak te speel:

https://www.udemy.com/course/funmastermike-teaches-all-chesskids/

 En hier is ʼn kursus in produktiwiteit vir skeppende mense:

https://www.udemy.com/course/productivity-for-creative-people-master-your-day/

Die Khoisan Gypsy Band

Dean Balie vertel meer van die orkes wat saam met hom opgetree het.

”Dit was ʼn droom om saam met al die kunstenaars op een verhoog te staan. Ons het van die begin af besluit dat die vers die ster van ons vertoning sal wees. Daarom was die orkes soos ʼn Griekse koor die hele tyd deel van die  storie. Ek wil selfs so ver gaan om te sê dit is die eerste keer wat so ʼn verskeidenheid van tradisionele en moderne instrumente saam in een potjie gegooi is. Baie van die instrumente is self gemaak en enig in sy soort.

“Elke klank, elke klein krap of kap was net so belangrik soos elke akkoord, sangnoot of stilte. Met Charl-Johan Lingenfelder as musiekregisseur het ons gefokus op ‘n klank wat net sal bydra, en nooit steur nie.

Frazer Berry was op die verhoog met sy ramkiekie (blikviool), seebamboeshoring, sigaarbokskitaar, banjo, melodion, bekfluit en ratel met saadjies; Garth Erasmus met sy alt-saxofoon, blik’n snaar, ghôrrah (kalbasboog), kriolofon (saxofoon van bamboesk) en ratel; Ulric ‘Namasun’ Roberts met sy djembé-tromme, tarabuka, dollietrom-blikbeker, didjeridoe, petrolkan, reënmaker, kraak-masjientjie en mopani-ratels; Leon Ecroignard met sy ketelkitaar, cerimbillo (mengsel tussen berimbau en tjello), ukelele, uke-bass, hung (staalpan) en koedoehoring. Colin ‘The Bushman’ Meyer met sy ungoloop (tou aan ʼn blik), trom, kitaar en kalimba.

Almal het ook ʼn vorm van die tradisionele boog gespeel (Khoi- boesman- en mondboë). Bailie was die voorsanger en het ook kitaar en kazoo gespeel.

Blaasorkesvreugdes met Tien

deur Paul Boekkooi

RICHARD STRAUSS: Variasies op ‘Wilhelm von Oranien’. BEETHOVEN: Mars in C majeur vir Militêre Orkes, WoO 20. MENDELSSOHN: Nokturne in C majeur, opus 24. BRUCKNER: Militêre Mars in E mol majeur, WAB 116. HINDEMITH: Simfonie in B mol vir Konsertorkes. SCHÖNBERG: Tema en Variasies vir Blaasorkes, opus 43A. WEILL: Klein Trippens-Opera vir Simfoniese Blasers.Mariniersorkes van die Koninklike Nederlandse Vloot / Arjan Tien. Channel Classics CCS 42019.

 Assosiasies is ʼn belangrike onderdeel en sleutel tot die ontwikkeling van begrippe rondom spesifieke belangstellings. Vir een of ander rede lei die aanhoor van ʼn militêre orkes my soos klokslag na die onvergeetlike woorde van die 18de eeuse Britse Klassikus en Handel se belangrikste librettoskrywer, Thomas Morell. In die oratorium Joshua word daar gesing: “See the conquering hero comes! / Sound the trumpets, beat the drums!”

Die funksie van sulke orkeste het oor die eeue verander. Vandag is uitsoeklande se top orkeste minder seremonieel van aard. Hulle lewer konserte soos simfonieorkeste dit doen. Een van die wêreld se voorstes onder hulle is die Mariniersorkes van die Koninklike Nederlandse Vloot – sedert 2017 deur majoor Arjan Tien gelei. Hul tweede CD met die ietwat vergesogte titel Worthweill Originals, bestaan oorwegend uit blaasmusiek, aangevul met slagwerk en by die werk van Kurt Weill ook minder gewone solo-instrumente.

Die program, uit musiek van Duitse en Oostenrykse komponiste saamgestel, open met Richard Strauss se variasies op die Nederlandse volkslied Wilhelmus van Nassauwe. Die aard is oorwegend plegtig, maar deur die genialiteit van die 28-jarige Strauss word die volle potensiaal en rykdom daarvan ontgin. Opvallend is Tien se greep rondom die fraseringsopbou van die basiese melodie, maar ook in die fyner aksente en dinamiekkontraste wat Strauss in die variasies vereis.

Drie totale rariteite volg: Beethoven se Mars in C majeur, WoO 20, eers in 1888 gepubliseer, is verruklik ongekompliseerd, maar tog ook duidelik die werk van ʼn genie in vrolike luim. Die spel vonkel. Die Nokturne in C van Mendelssohn, gekomponeer op 15, is verwikkeld, virtuoos. Die luisteraar word meegevoer deur die vindingryke gees van ʼn tiener wat beide die hout- en koperblasers in veral die scherzo-agtige tweede helfte op hul tone hou. Bruckner se ware karakter is skaars herkenbaar in sy vroeë Militêre Mars – ʼn geleentheidstuk.

Twee veeleisende repertorium-bergpieke word deur dié Mariniersorkes en hul majoor met groot welslae oorwin. Hindemith, helaas tans een van die meer onderskatte 20ste eeuse Duitse komponiste, se driedelige Simfonie in B mol word met krag en, waar nodig, musikaal-argitektoniese helderheid belig. ʼn Mens is geneig om te vergeet van die ongelooflike bekwame wyse waarop hy ouer musiekvorms in ʼn 20ste-eeuse konteks laat herleef het. Tien herinner ons daaraan.

Dieselfde kwaliteite geld vir die vertolking van Schönberg se Tema en Variasies waarin die komponis se twaalftoonperiode reeds sterk begin wegsypel het. Dié uitvoering is geanker in die Tweede Weense Skool se sterkste kommunikasie-eienskappe.

Laastens is daar ʼn heerlike agtdelige suite, geneem uit Kurt Weill se Threepenny-Opera. Kom ons noem dit die Trippens-Opera – ʼn nagereg-smaakavontuur vir die ore. Kort voor lank sal jou ledemate en veral voete geensins bewegingloos kan bly nie.

Encore argief

  • 5 vrae aan Craig Urbani
  • ʼn Opwindende nuwe verhoogstem
  • Kragtige liefdesbrief aan teater
  • Betowerende Beethoven en Bizet
  • Hoe vrotter hoe vroliker
  • Bach soos dit hoort
  • Pynlike raakpunte bly behoue
  • Konsert sonder gehoor inspireer
  • Hofmeyr toer met Brahms-sonates
  • ʼn Voorhuis in vervoering
Lees nou