Joan Hambidge. Foto: Antonia Steyn

Joan Hambidge: Die oond is altyd aan by my

deur Deborah Steinmair

Wat maak van ’n skryfsel ’n gedig?
Ek glo nog aan die idee van “the well wrought urn” waar die gedig se boodskap en die tegniek iets besonders moet wees.

Hoe daag ’n gedig by jou op?
Dit is ’n proses wat ’n mens nie kan voorspel of beheer nie. Jy sien iets, beleef iets, is onrustig oor iets dan kom die gedig in fases na jou.

Skryf en herskryf jy?
Om te skryf is om te herskryf. ’n Mens beweeg telkens na dieselfde psigiese “scene of the crime” en delf dieper om by antwoorde uit te kom.

Word alles op aarde metafoor vir digters?
Groot digters het al hieroor getob. Die mens is metafoor en meer. Nie alles word metaforiek nie. Daar is ook ander kragtige digterlike tegnieke soos die simbool onder andere.

Wat inspireer jou?
Dit staan in my gedigte.

Hoe voed reis jou digkuns?
Om na vreemde ruimtes te reis, konfronteer ’n mens met jouself.  Jy staan op ’n plek sonder bakens of beskerming. En dan skuif iets kaleidoskopies oor mekaar …

Het jy raad vir jong digters:
Lees soveel moontlik goeie digters in Afrikaans en in ander tale. Jy kan net dig as jy weet wat reeds in jou taal gebeur het. Vir my is skryf verbind aan lees. En andersom.

Kan ’n mens iemand leer dig?
Ja ’n mens kan ’n persoon leer om sy maksimale talent te ontgin. Ek bied self ’n werkswinkel aan al vir etlike jare en het ’n hele paar talente gesien “gebeur”.

Almal het ontsag vir digkuns, maar daar is so min lesers of kopers van digbundels. Waarom?
Ek dink mense word getref deur een gedig en dra dit saam met hulle van skool af. Miskien dink mense ook die digkuns is te moeilik?

Jy het al prosa ook geskryf, met groot sukses. Hoe verskil die proses?
Presies dieselfde proses. Behalwe die gedig is soos 100m naelloop en die romankuns is soos ’n maraton.

Wanneer skryf jy?
Elke dag. Terwyl ek wag … altyd ’n boekie by my. Wanneer ek ’n bundel skryf tussen 3 – 5 vm.

Hoe beoordeel jy digkuns – aan die hand van formele riglyne of meer intuïtief?
Beide. Daar is formele riglyne, maar ’n mens kan ’n goeie gedig voel en sien en hoor.

Is dit soos enige vaardigheid wat ’n mens slyp?
Ek meen so.

Wie is jou gunstelingskrywers?
Perec, Proust, Flaubert, Binet, Etienne Leroux, Hennie Aucamp.

En digters?
Daar is geen digters nie, net ’n digkuns, het Neruda opgemerk. Almal wat goed dig, praat met my.

Ly jy ooit aan skrywersblok en wat is die teengif?
Ek skryf resensies en artikels en romans – so die oond is altyd aan by my.

Die poel is so klein by ons, dat skrywers dikwels ook resensente is. Is dit maar oral so?
Absoluut orals so. Skrywers is dikwels die beste resensente, omdat hulle ’n binneblik het.

Onder nomadiese sterre

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere?

So teen hierdie latenstyd ’n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was;
’n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur ’n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend,
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op ’n bitter tong geproe.
Eerste woorde op ’n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens ’n self verloor, soos ’n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van ’n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat ’n hartenswoord was, sou verloën.
’n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, ’n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.

Joan Hambidge

Shirley Gunn

Die waarheid is soos ’n kurkprop

deur Deborah Steinmair

Ashley Kriel was ’n twintigjarige Suid-Afrikaanse aktivis wat op 9 Julie 1987 in Kaapstad deur polisie vermoor is vir sy rol in anti-apartheidsaktiwiteite.

Umkhonto we Sizwe se eenheid in die Wes-Kaap is na hom vernoem en is gelei deur Shirley Gunn en Aneez Salie.

Voices from the Underground wat onlangs by Penguin verskyn het, bied die beknopte lewensverhale van agtien lede van die Ahsley Kriel Detachment: Shirley Gunn, Aneez Salie, Shanil Haricharan, Melvin Bruintjies, Mike Dearham, Kim Dearham, Ismail Vallie, Julie Vallie, Mogamat Salie, Seiraaj Salie, Sidney Hendricks, Vanessa November, Dicki Meter, Patrick Presence, Timothy Jacobs, Charles Martin, Heinrich Magerman en Chales Chrodnum. Dis saamgestel deur Shirley Gunn en Shanil Haricharan.

Die betrokkenes was ’n groep jongmense wat dikwels bang was, maar bereid om hulle lewens neer te lê in die stryd om vryheid tot die bitter einde. Hul lewens spreek van idealisme, toewyding en dissipline.

Dis ’n boek vir lesers wat van geskiedenis, biografieë en ware lewensdrama hou en ’n dokument van ’n lae punt in ons geskiedenis.

Shirley Gunn is wit en het in gegoede omstandighede in Rondebosch grootgeword, maar was van kleins af bewus van ongelykheid. Sy is tronk toe vir haar beginsels. Sy is vals beskuldig van die bomaanval op Khotso House in 1988 en haar lewe is telkens bedreig. Haar huwelik met Aneez Salie het nie die trauma van die struggle oorleef nie. Sy is verder getraumatiseer deur die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy het gesê die waarheid is soos ’n kurk wat altyd weer op die oppervlak sal kop uitsteek, jy kan dit nie lank onderdruk nie. Sy is tans direkteur van die Human Rights Media Centre, wat bewustheid van aktivisme kweek deur middel van narratiewe historiese projekte, soos hierdie boek.

Sy het ook gesê: “My life journey has followed a path of résistance, with truth, justice and equality as my guiding stars”.

Die boek is opgedra aan Ahsley Kriel, Coline Williams, Robbie Waterwitch, Anton Fransch en Chris Hani wat, soos vele ander, gesterf het in die stryd om vryheid.

Dis fassinerende leesstof wat ’n menslike gesig aan die gewapende stryd gee.

Boeke – intiem, kosbaar en vol geheime

deur Deborah Steinmair

Wat sou ’n vakansie sonder boeke wees? Ek sleep ’n swaar tas saam na my bestemming, klokslag.

Ek het wyd gelees in Desember, alles waarvoor ek lus was, sonder om op te teken. Dit was meestal domestic noir om die feesliggies uit te balanseer. Wat bly vassteek, is Gone by Midnight, Snap, Into the Woods, The Whisper Man, Dry, Freefalling, Blue Moon.

Ek was besonder beïndruk met Candice Fox se Gone by Midnight. Wonderlike eksentrieke hoofkarakters wat deur die samelewing verstoot word. Soos dikwels het ek laat by die partytjie opgedaag: Gone by Midnight is die derde boek in ’n reeks. Ek gaan die twee voriges, Crimson Lake en Redemption Point, ook aanskaf. Die boeke speel in Australië af. Hierdie land wat soms vlak geblaai word, het al ’n Nobelpryswenner in letterkunde opgelewer, Patrick White, een van my heel gunstelingskrywers. Nog iemand wat die atmosfeer van die outback in al sy wydsheid en benepenheid onvergeetlik vasvang, is Jane Harper (The Dry, Force of Nature, The Lost Man).

As jy van rillers hou, is The Whisper Man van Alex North ’n uitstekende keuse. Dit het elemente van Jeffrey Deaver en Steven King en sal jou laat bibber en wakkerbly. Vir misdaadvrate stel die nuwe Jack Reacher, Blue Moon, glad nie teleur nie. As huishoudelike noir jou gunsteling is, is Snap deur Belinda Bauer tot op breekpunt gespan.

Nou is dit weer tyd om belangrike, letterkundige boeke oop te slaan. Hoewel ek my tussendeur sal bly vergryp aan misdaadrillers. Mag jy aanhou omblaai in 2020.

Phyllis Green se top-10
  1. Sewe-en-veertig deur Irma Venter
  2. Grensgeval deur Marita van der Vyver
  3. Smit Motors deur Renay Warrington
  4. Die boek van gelukkige eindes deur Debbie Loots
  5. Die Verevrou deur Jan van Tonder
  6. Die Wolkversamelaars deur Nadia de Kock
  7. Strafjaart deur Theo Kemp
  8. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach
  9. Die kind uit die wingerde deur Helene de Kock
  10. Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout

Diane de Beer

Top 10: Diane de Beer se boeke van 2019
  1.  Mick Herron’s Slow Horses series
  2.  Kyk na my – herinneringe aan ’n kindertyd deur Nataniël
  3.  A Sin of Omission by Marguerite Poland
  4.  Black Tax Burden or Ubuntu by Niq Mhlongo
  5.  Too Many Tsunamis by Vincent Pienaar
  6.  Tell Me How Long The Train’s Been Gone by James Baldwin
  7.  The Gene: an intimate history by Siddhartha Mukherjee
  8.  The Theory of Flight by Siphiwe Gloria Ndlovu
  9.  Chernobyl Prayer by Svetlana Alexievich
  10.  Charlotte by David Foenkinos

Lees Diane se blog: https://debeernecessities.com/

Etienne van Heerden

Die biblioteek: Van Heerden in vyfde rat

deur Deborah Steinmair

Etienne van Heerden is ’n gevierde romansier, een van ons grootstes. Hy is ook ongelooflik prolifiek: dit voel soos gister toe die lywige Die wêreld van Charlie Oeng op die Afrikaanse lettere losgelaat is. En nou: Die biblioteek aan die einde van die wêreld: ambisieus, groots in omvang, aktueel, polsend, kompleks en verbluffend.

Waar kom hy aan al sy idees en storielyne? Van Heerden sê in die bedanking die volgende oor die ontstaan van die boek: “Hierdie roman het ontstaan toe my bergfiets my in Jonkershoek buite Stellenbosch afgegooi het … In die dae wat volg, plat op my rug met ’n stukkende ribbekas waar die fietsstang my met die valslag getref het en op pynpille wat kodeïen bevat, het ek droomsnapse op my Facebook-muur gepos … Dit was verbeeldingsvlugte oor ’n biblioteek aan die einde van die wêreld.”

Hy was ook op ’n lesingreis na China, in hierdie roman ’n sentrale koplandskap.

Oor die woelige, hiper-aktiewe roman sê hy: “Die teks gaar dus op – nes die hamerkop, die weerligvoël, in sy nes opgaar aan die debris wat hy in die omringende landskap kry.” Van Heerden het tot aan die einde van 2016 die Hofman-leerstoel beset as emeritus professor van die Skool vir Tale en Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad – dus het hy die #Feesmustfall-beweging van naderby beleef en dit vind ook neerslag in die boek.

“Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés – die chronolek waarna hierbo verwys is – in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks.”

Hy verklap enkele van die temas: “Kwessies van identiteit … Daarbenewens is daar die groeiende diskoers – plaaslik en internasionaal – rondom sigbewaking. Kunsmatige intelligensie en verwante nuwe tegnologieë se impak op privaatheid en identiteit …”

Ten slotte stateer hy dat dit uiteindelik fiksie is: “en weerspieël die insigte en menings van storiekarakters nie noodwendig dié van die ondergetekende nie.”

Alhoewel, gee hy toe: “’n skrywer se boeke uiteindelik hóm skryf.”

Dié woelige Biblioteek wemel van temas en standpunte en die skrywer stuit nie vir sogenaamde cultural appropriation nie, hy is immers romansier en storiewewer en sy verbeelding is fenomenaal. Hy is ook nooit toondoof nie (ek sien daar was twee sensitiwiteitslesers, nog ’n relatief nuwe bergip: Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen).

En uiteindelik is dit ’n uitasem leeservaring wat jou by die venster uitwaai, teen die kant van die kop klap en al vinniger laat omblaai, soos ’n Deon Meyer-misdaadroman. Leesstof uit die boonste rak, maar hou dit vir ’n naweek of vakansie wanneer jy al jou aandag daarin kan belê.

Vyf vrae aan Sonja Loots

deur Schalk Schoombie

Dr. Sonja Loots is saam met Steward van Wyk samesteller van Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek. Sy is die Senior Lektor: Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en die skrywer van Sirkusboere.

Uit die Voorwoord: “Die rangskikking in die bloemlesing is ʼn tentatiewe, verskuiwende kaart en sommige padtekens sal duideliker wees as ander. Daar is sypaadjies, doodloopstrate, voetpaadjies en dwaalroetes. Lesers word uitgenooi om self hul eie weg tussen verhale te vind. Soms sal spronge van een soort padoppervlak na ʼn ander nodig wees.”

In die voorwoord word verwys na “prosas” van Jan Rabie, wie se stories uit sy bundel 21 as tematiese riglyne gebruik is en wie se “prosas” elke afdeling open. Wat is prosas en hoe verskil dit van kortverhale?

Rabie was moontlik besig om beskeie te wees toe hy na sy eie skryfwerk as “prosas” verwys het. Moontlik het hy probeer aandui dat sy “prosas” korter was as die gemiddelde “kortverhaal”. Dalk het hy met die word “prosas” te kenne probeer gee dat hy eksperimenteel te werk gegaan het. Ons weet nie presies hoe hy dit bedoel het nie, maar ons meen hy sou te vinde gewees het vir bydraes in die bundel wat eksperimenteel is, baie kort is en/of generiese grense laat vervaag deurdat hulle oorspronklik as koerantrubrieke of verhoogdialoog bedink is.

Daar is nege afdelings sonder titels wat sleutels vir die leser kan bied in dié lywige bundel. Hoe het julle te werk gegaan om stories te rangskik?

Die rangskikking is ʼn losse een en wil doodgewoon hier en daar raakpunte tussen verhale suggereer. Ons aanvaar heeltemal dat lesers die verhale nie noodwendig sal lees in die volgorde waarin ons hulle geplaas het nie. Dit is in die haak en sal ander betekenisse losmaak.

Wat is die bundel nie?

Dit is nie ʼn bundel van “die beste” verhale deur “die beste” skrywers in Afrikaans nie. Ons voel die era van selfversekerde kanonisering is waarskynlik verby. Die klem val eerder op verskeidenheid, en op hedendaagse eggo’s van Rabie se verhale en temas.

Hoe is die nuwe ongepubliseerde verhale gekeur? Is daar nuwe tendense te bespeur?

Tydens keuring van ongepubliseerde verhale is ons gelei deur die beginsels wat in die vorige antwoord uitgelig word. ʼn Opvallende tendens was die aandag aan sosiaal-maatskaplike geweld en in besonder seksmisdade, veral teenoor kinders. Dit was vir ons ontstellend.

Uitgewers trap deesdae lig vir kortverhale, novelles, dramatekste en digbundels, terwyl mlisdaadfiksie die botoon voer. Hoop julle Die Groot Prosaboek kan lei tot ʼn opbloei in korter Afrikaanse fiksie?

Ons het nie die bundel aangepak omdat ons voel dat kortverhale ’n afskeepgenre is nie, maar dit sal mooi wees indien Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek wel nuwe stemme en benaderings stimuleer.

Ses nuwe sakeboeke wat saakmaak

deur John King

John King, bestuurder van UPPERcase Boekwinkel in Menlyn Maine, bekyk 6 plaaslike besigheidsboeke wat onlangs uitgegee is.

How to succeed in the African Market deur Winfred Oppong-Amoako, Zebra Press, 2019, R280

Afrika is ʼn gesogte beleggingsmark en meer as 75% van maatskappye en belleggings in Afrika is suksesvol. Hierdie boek vra hoekom? En hoe kan enigiemand ook sake doen in en met Afrika en die vrugte pluk.

So you want to build a Startup deur Matthew Buckland, Tafelberg, 2019, R295

Suksesvolle mense gee dikwels voor dat alles waaroor hulle gedroom het waar geword het en dat haarfyn beraamde planne hulle hul doelwitte laat bereik het. Die werklikheid is ʼn reeks van suksesse, maar ook terugslae. Dié boek is ʼn eerlike verhaal van hoe moeilik dit kan wees om ʼn besigheid te begin en op te bou, maar ook die pret wat daarmee saamgaan.

The Ultimate Guide to Retirement in South Africa deur Bruce Cameron en Wouter Fourie, Zebra Press, 2019, R270

Nou in ʼn tweede uitgawe met ʼn voorwoord deur Pravin Gordhan is hierdie net die gids om jou te help om ʼn suksesvolle aftrede te bereik. Hierdie opgedateerde uitgawe sluit die jongste regulasies rondom pensioenfondse in en is op die jongste statistieke en syfers gebaseer.

Make your Money work for You deur Anthea Gardner, Jonathan Ball Publishers, 2019, R230

Droom jy van ʼn toekoms sonder enige finansiële kommer? Een waar jy dalk jou eie besigheid kan begin? Beleggingskenner Anthea Gardner wys hoe jy jou bates vir jou kan laat werk en hoe om jou rykdom ʼn hupstoot te gee om jou drome te verwerklik – en jy het nie ʼn graad in rekeningkunde nodig nie.

The 7 Things every young Black Entrepreneur should know  deur Karabo Che Mokoape, Zebra Press, 2019, R190

ʼn Praktiese, inspirerende gids vir die volgende generasie entrepreneurs. Die skaal swaai gereeld weg van jong entrepreneurs en hierdie boek stel ten doel om die jong sakepersoon se kanse te vergroot. Met Suid-Afrika se lae indiensnemingsvlakke is daar nie ʼn beter tyd vir bemagtiging van entrepreneurs nie.

Manage your Money like f*cking Grownup deur Sam Beckbessinger, Jonathan Ball Publishers, 2018, R210

Ons het nie ʼn gids gekry wat verduidelik hoe finansies werk nie. En daar was nie ʼn toets vir ʼn geldlisensie voor ons eerste kredietkaart nie. Geen wonder baie van ons sit hand in die hare oor ons finansies nie. Dié boek vertel jou hoe om jou geld te beheer en sodoende ook jou lewe. Daar is oefeninge en illustrasies en tabelle om die leser te bemagtig – en dis flippen snaaks ook.

Wat Jonathan Amid gelees het

2019 is nog ʼn besonderse jaar vir plaaslike fiksie. Lucky Packet, Trevor Sacks se debuut, is verbysterend goed. Soveel so dat ek met die intrapslag meegevoer was, binne ʼn paar bladsye se lees reeds meer as ʼn paar keer kliphard gelag het, en presies die karakters, ruimte en gebeure voor my kon sien afspeel.

Sacks het hier ʼn Bildungsroman geskep wat tot ʼn breë leserspubliek sal spreek. ʼn Coming-of-age-story wat tegelyk ʼn besonder ryk sin vir karakter, fantastiese humorsin, onstuitbare momentum (ja!), onvergeetlike detail en bowenal ʼn wysheid oor die menslike kondisie en ons swakhede vasvang.

Elke hoofstuk – kort, kragtig, vol kwinkslae en menschlichkeit, maar nooit te selfbewus in vertelling nie – is soos ʼn kortverhaal op sy eie, vertel vanuit die perspektief van die ouer Ben Aronbach. Hoewel die ouer Ben sy vertelling begin deur ʼn moment vas te vang van sy jonger self op ‘vyf of ses’, is die kern van die verhaal wanneer die twaalfjarige Joodse seun kennis maak met die skelm, die scheister, die schlemiel, die vermetele Leo Fein.

Lucky Packet dokumenteer met sjarme, houding, chutzpah, ontnugtering, meelewing, en ontsaglike deernis presies hoe Fein ʼn verwoestende impak op sy eie lewe, die lewe van sy familie, en veral sy moeder, sou hê.

Ben word groot in ʼn piepklein dorpie (raai waar?) in die 1980’s. Dis geen verrassing dat hy nie inpas nie. Tussen konserwatiewe, hiper-Christelike Afrikaners is hy die Joodse, Engelssprekende, avontuurlustige, ondeunde outsider. Om nie eens te praat van sy twee broers wat soos dag en nag van mekaar verskil nie. Met Ben se pa se dood, en die verskyning van Leo Fein – wat glo sy pa geken het – verander sy lewe onherroeplik.

Verwag die onverwagse, soos toe die einde van Apartheid nader sluip en Ben gedwing word om in kringe te beweeg wat hy nooit sou kon voorsien nie. Wat Lucky Packet met speelse ironie, wrang humor en dodelike erns vasvang, is die absurditeit en die magdom onverwagse konneksies en verhoudings wat uit die Apartheidsregime voortgespruit het. Net wanneer jy dink jy het ʼn houvas op die trajek van die verhaal, word jy telkemale opnuut uit die veld geslaan.

Kyk hoe beskryf die ouer Ben die lucky packet, wat hy in die openingstoneel onthou:

A lucky packet offers not only the most reward, with its surprise gift, but a release from the burden of choice, from the consequences of a bad choice. Pick a bad lucky packet and you have a throwaway knickknack, but still the sweets; pick a good one and you have a toy to play with for the rest of the week.

So word dit algaande in hierdie uitsonderlike roman duidelik dat die lewe soms soos ʼn lucky packet mag wees – en dat ons selfs met slegte of verkeerde keuses iets van waarde kan wegneem – maar dat ons ook nie altyd ʼn keuse het in die rigting waarop ons lewe afstuur nie. Soms moet elk van ons tog ook lees uit die Boek van Toeval en Toeverlaat.

Ekow Duker is in enigeen se boekie ʼn fassinerende figuur. Hy het sy opvoeding en verdere studies meegemaak in Ghana, die Verenigde Koninkryk, die VSA en Frankryk, en het ervaring as olieveld-ingenieur, as bankier en as korporatiewe strateeg. Hy is tans werksaam in die data wetenskap.

Voor Yellowbone het Duker reeds drie ander romans gepen, hoewel dit die eerste is wat ek van die skrywer lees. Yellowbone se skryfwerk is van so ʼn gehalte, en die trefkrag van die roman so groot, dat ek beslis van plan is om die vorige romans so gou moontlik op te spoor. Die roman kan nie maklik opgesom of gereduseer word tot ʼn eenvoudige sinopsis nie. ʼn Antieke viool verbind die karakters en lewensreise van Karabo Bentil – die ‘yellowbone’ van die titel – en Andre Potgieter, ʼn begaafde vioolspeler.

Karabo en Andre se paaie kruis direk met mekaar in Londen, hoewel die verhaal draai in Suid-Afrika, Engeland en Ghana. Beide is tragiese figure – randfigure op hul eie manier, onseker van hul plek in die wêreld, en veral in onsekerheid gedompel oor hul toekoms – en Yellowbone beproef elk ten sterkste, voor ʼn ietwat hoopvolle dog gepaste wending die roman afsluit.

Karabo, wat in Mthatha grootword, is ʼn karakter wat ʼn reeks uiteenlopende emosies by die leser wakker maak, en beslis nie altyd positief nie. Juis daarom is dit moontlik vir Duker om met sy vroulike hoofkarakter ʼn pleidooi te lewer vir groter deernis, vir groter pogings om te verstaan, hoe moeilik dit steeds is vir enigiemand wat anders lyk om te integreer. Selfs, of dalk veral, in die kleinste gemeenskappe. Haar karakter laat Duker toe om met ontsag te skryf oor ras, klas, gemeenskap, die kosmopolitiese, en die foutlyne tussen inklusiwiteit, identiteit en kultuur.

Duker skep met Andre Potgieter ʼn diep versteurde, dog baie simpatieke, manlike protagonis, een wat tegelyk besoek word deur engele wanneer hy speel en getreiter word deur verskeie demone wanneer hy buite die wêreld van musiek en musikaliteit durf beweeg. Andre is anders, en hy herinner ons aan ons eie feilbaarheid en swakhede, sonder dat sy verhaal enigsins didakties of prekerig begin raak. Trouens, dis haas onmoontlik om nie in vervoering te wees met die lees van Andre se gawes en optredes nie, en hoe hy deur die engele besoek word nie.

Yellowbone is nie soseer magiese realisme nie, maar dit wend die magiese, en die krag van woorde en kuns aan om hierdie narratief tot ʼn plek van heiligdom te verhef.

Duker is ʼn begaafde skrywer. Yellowbone sal vir die regte leser ʼn onvergeetlike leeservaring bied.

 Leo Tolstoy het op ʼn kol gesê: ‘All great literature is one of two stories; a man goes on a journey or a stranger comes to town.’

Rénay Warrington se tweede roman, Smit Motors, is die soort tydlose verhaal wat grense tussen lekkerlees-boek en ‘great literature’ verdof. Resensies loof die skrywer se karakterontwikkeling, aanvoeling vir plek en ruimte, sensitiwiteit soos sy omgaan met gestremdheid, ouerskap, en trauma. Hoe sy leesbaarheid en ʼn outentieke stem vir haar verskillende karakters vasvang.

Vir my is Smit Motors – intiem verbeel, pragtig gepen, so gemaklik met stilte as met die dreigende maalkolk van verbale en fisieke geweld – Warrington se eie aanbod van ʼn Nouveau film in die Afrikaanse Lettere. Soos ʼn top regisseur steun Warrington op twee sekure fondasies: die eerlike, opregte, ruwe krag van ʼn verhaal wat hoofkarakter Petra Smit op ʼn letterlike en geestelike reis neem, en om haar die vreemdeling te maak, die ‘stranger coming to town’ waarvan ʼn dorp se mense van notisie moet neem.

Die naam Petra beteken oorspronklik ‘klip’ of ‘rots’. Warrington gee kleur en dimensie aan Petra deur haar formidabel te maak juis ten spyte van haar eie kwesbaarheid, onsekerheid en feilbaarheid. Kind van ʼn ma wat haar verstoot het. Verstoteling. Skrywer wat sukkel om te skryf, ʼn randfiguur wie se moed haar dikwels begewe. Ellendeling. Smag na moederskap van haar eie kind, maar haar identiteit as lesbiese vrou bemoeilik enige eenvoudige pogings tot swangerskap. Haar verhouding met Cyla vol passie en drif, maar Petra baklei teen die smart van ʼn verlede wat eers volledig tot haar deurdring wanneer haar tyd in ʼn klein dorpie in die Vrystaat haar direk met ʼn ontsaglike dilemma konfronteer: is sy genoeg van ʼn rots om ʼn weerlose kind, Monty, van sy eie pa te red?

Die Smit Motors van die titel – ʼn werkswinkel op die koop toe beskou te veel van ʼn las vir erfgenaam Petra om aan vas te klou – word ook die narratiewe motor van ʼn veelvlakkige verkenning van broosheid en innerlike krag, ons pogings om of onsself of ander te red. Warrington se veer is vol gitswart ink, dog weeg haar prosa veerkragtig eerder as bloot gespierd. Vroue as sielsgenote, minnaars, vriende, vertrouelinge, word weergegee soos ʼn gebed en ʼn geweerskoot: ontsag, onmiddellikheid, omarming van weerloosheid en patos.

Voel ook die pyn aan die bors van kunstenaar Susan, ʼn buitestander wie se verhaal op uitsonderlike wyse tot die van Petra spreek. Spandeer tyd in die township met die kinderoppasser Johanna, die verwaarloosde Monty, die wreedaardige dorp se slagter en die nimlike, minlike Arno, wat soveel meer as net sy gestremdheid is.

Smit Motors is, soos Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens, ʼn meesterlike sprokie vir volwassenes, een waar die stryd tussen lig en donker nooit deur die bonatuurlike bepaal word nie. Eerder die besef dat gebrokenheid alleen nie kan keer dat ons die noodlot tart deur die helde en heldinne van ons eie verhale te word nie. – Jonathan Amid

Wat Deborah gelees het

Tussendeur die meer gewigtige boeke wat ek vir werk lees, verslind ek huishoudelike noir. Dikwels verval hierdie gewilde genre helaas in resepmatigheid: as jy ’n paar gelees het, weet jy gewoonlik lank voor die einde wat gaan gebeur en die kinkel in die stert verbaas jou glad nie. Hierdie was een van daardie, maar tog bly jy vinnig omblaai en sit jy op die punt van jou stoel.

Die premis is interessant: die hoofkarakter, Alex, is al twee jaar in ’n koma ná ’n bergklim-ongeluk. Niemand het veel hoop dat hy gaan wakker word nie en dokters kan geen breinaktiwiteit by hom bespeur nie. Sy geliefde, Bea, bly nogtans aan sy sy, maar uit welke motief: liefde of skuld? Want dit word algaande duidelik dat sy besering geen ongeluk was nie.

Dis interessant dat die hele storie vertel word vanuit die oogpunt van ’n man in koma: hy kan elke (rare) aanraking voel, hy kan elke woord hoor en verstaan en soms, wanneer sy oë toevallig halfoop is, kan hy grys figure uitmaak. Hy kan egter nie roer nie. So hoor hy sy vriende bo-oor hom baklei oor hul eie huishoudelike sake en ruik hy met waterende mond hoe hulle Indiese wegneemkos eet terwyl hy deur ’n buis in sy maag met ’n koue vloeistof gevoed word. Hy word deur ongevoelige verpleegpersoneel soos ’n sak patats rondgeslinger en deur hartelose dokters gedruk en bevoel. Dis slegs sy meisie, Bea, wat agter sy rug inkrul en hom alles van haar dag vertel, maar hy voel sy doen dit soos iemand wat in ’n dagboek skryf of by ’n priester bieg: sy deel goed wat sy nooit sou deel as sy geweet het hy hoor nie, dinge wat haar sleg kan laat lyk, waaroor sy gejok het, waaroor hy haar (in die verlede) sou kon spot.

Sy grootste wens is om dood te gaan. Maar dan ontmoet Bea iemand anders en skielik wil hy lewe: hy wou doodgaan met ’n geliefde wat oor hom rou, nie alleen nie. Hy span sy merkwaardige wilskrag in om ’n vinger te roer om vir iemand te wys hy is nog daar binne. Gaan hy hierin slaag? Gaan hy uitvind wie hom gestamp het en wat Bea se agenda is? Lekker ontspanningslektuur, hoewel die einde my nie bevredig het nie.

Emily Koch is ’n bekroonde joernalis van Bristol en dis haar eerste boek.

Die verslawende misdaadfiksie van Penny, Sigurdardottir & Vargas

deur Mariana Malan

Die misdaadfiksie van sekere skrywers dwing jou om onmiddellik die boek van die winkelrak te haal en sonder om ’n oog te knip die volle prys te betaal. Daar is geen kans dat ’n nuwe roman van Louise Penny, Yrsa Sigurdardottir of Fred Vargas stof gaan vergader nie. Hul werk is verslawend.

Louise Penny se verhale speel af in die dorpie Three Pines, iewers in die ysigste deel van Kanada. Dis so klein en geheimsinnig dat dit nie eers op ’n kaart gevind kan word nie. Die mense wat daar woon en die eienaardige moorde wat gepleeg word, is vervleg met die lewe van die speurder Armand Gamache.

Die jongste twee in haar reeks van meer as tien oor Three Pines is Glass Houses en Kingdom of the Blind. Gebeure in die twee volg direk op mekaar en dit maak sin om hulle so gou moontlik na mekaar te lees. Dis eintlik ook sinvol om al die vorige in die reeks te lees. Daar is soms herhaling en terugverwysings, maar om volledig in die prentjie te wees kan gerus met Still Life afgeskop word.

Glass Houses gaan deels oor ’n waagstuk om dwelmhandelaars vas te trek maar dis veral die geheimsinnig cobrador, ’n gemaskerde figuur wat verskyn en bloot in ’n openbare plek in ’n mantel gehul staan. Hy/sy is die gewete van iemand wat iets so verskriklik gedoen het dat ’n gewete in sigbare vorm moet kom om vergelding te eis. Die ontknoping in hierdie verhaal is fassinerend.

In Kingdom of the Blind word gebeure uitgebrei wat met die dwelmhandelaars en ’n aweregse kadet wat Gamache teen almal se sin (en teen sy eie beterwete) tot die akademie toegelaat het, maar daar is ook veel meer. Dit begin met ’n byeenkoms van drie onwaarskynlike eksekuteurs van die boedel van ’n vrou wat hulle glad nie geken het nie. Met kinkels in elke moontlike kabel ontwikkel dit in ’n raaiselagtige moordverhaal wat slegs Gamache met sy besonderse insig en mensekennis kan oplos.

Boelies is die onderwerp in Yrsa Sigurdardottir se jongste riller/speurverhaal The Absolution. Dis die derde in die reeks met die speurder Huldar en die kindersielkundige Freyja (met The Legacy en The Reckoning wat dit voorafgaan).

Selde voorheen is daar so diep gedelf in die siel van afknouers en die uitwerking op hul slagoffers en hul gesinne. Die manier waarop daar met boelies afgereken word is bloedig, morsig en afgryslik. Daar is ook ’n ernstige waarskuwing dat die gevolge van afknouery oor dekades kan strek en dat wraak dikwels met tyd meer kwaad kan laat uitbroei.

Die rol van sosiale media kom onder die loep. Wat veral tref, is dat afknouery glad nie meer ontsnap kan word nie. Wanneer ’n kind van die skool af tuis kom, is die boelie steeds daar op sosiale media en met ’n baie groter gehoor as in ’n geslote omgewing.

Yrsa skram nie weg van grafiese geweld nie, soos lesers van haar vorige romans teen hierdie tyd al weet. En dié keer is dit nie net die moorde wat jou bloed laat stol nie. Dis die wreedheid waarmee iemand se siel verwoes word wat jou bybly.

In Augustus maak Fred Vargas (Franse historikus en argeoloog en, ja Fred is ’n vrou) se enigmatiese Commissaire Adamsberg weer sy opwagting ná sowat drie jaar se afwesigheid. Die prikkelende titel is This Poison will Remain. Vargas het ook reeds bekoorlike karakters geskep in die reeks wat begin het met The Three Evangelists. Haar boeke is in 45 tale vertaal en meer as tien miljoen eksemplare is al verkoop. Lees meer oor Vargas by https://www.penguinrandomhouse.com/authors/52967/fred-vargas

V & A met Réney Warrington

deur Jonathan Amid

Réney Warrington

Smit Motors. Een sin wat die kern van die verhaal vasvang?

Die liefde van mense.

Was Smit Motors ʼn groter uitdaging as Oktober?

H’m, nee. Beide was ewe maklik/moeilik en het ewe veel oorskryf gekos. Maar na die sukses van Smit Motors begin ek nou al stres oor nommer drie! Wat gaan Tannie Bettie, my 88-jarige bewonderaar, dink van die distopiese skop-skiet-en-donder wat al op 100 000 woorde staan? Of maak ek eerder die versameling briewe aan my broer klaar? Senuwees!

Is alle fiksie outobiografies?

Ek kan nie namens anders skrywers praat nie, maar sover skryf ek oor mense, vraagstukke en storielyne wat ek ken, of vir my belangrik is.

Hoe beïnvloed jou liefde vir films jou skryfwerk?

Dit is moeilik vir my om te peil. Ek skryf net soos ek skryf. (Duidelik het ek nie tale of kreatiewe skryfkuns bestudeer nie. Ek het ’n graad in politiek. Nee, ek weet ook nie hoekom nie.) Ander mense sê my boeke is filmies, amper draaiboeke.

Gunsteling fiksie-en filmkarakters, en hoekom?

Het almal nie ’n sagte plekkie vir die underdog nie? Die buiteperd? Vir die beskadigde, maar o so heroïese Sarah Connor in Terminator 2, Ripley in Alien/s en dan natuurlik, Charlize se brose en briesende Fioriosa in Mad Max: Thunder Road?

Een van my vroegste ‘karakter’ obsessies was Dian Fossey. Ek het die boek oor haar (Woman in the mist), asook die semi-wetenskaplike boek wat sy self geskryf het (Gorillas in the mist), gelees, onderstreep en weer gelees. Die hoogtepunt van my standerd 7-jaar was die uitreiking van die film, Woman in the mist, met Ripley van Alien, ag ek bedoel, Sigourney Weaver, in die hoofrol.

Eerste beeld wat by jou opgekom het vir Smit Motors?

Petra sit in ’n verlate speelpark voor sonop. Sy rook. Haar hoodie is oor haar kop getrek. Sy is bang vir wat die dorpenaars met haar sal doen as hulle wakker word en besef ’n queer het ingetrek. Die toneel is vroeg uitgesny.

Wat beteken die woord ‘familie’ vir jou?

Te veel.

Watter storie(s) moet ons nog in SA ontgin as storievertellers?

Ontelbaar baie. Stories is die ideale manier om ‘die ander’ gaping in ons land te oorbrug, om mense mekaar beter te laat verstaan sonder om prekerig te raak. Kyk na die film Kanarie, of selfs die TV reeks Spreeus. Ons kan deur stories en die ondersoek van mekaar se kulture, al is dit ons spookstories, minder vreemd raak vir mekaar.

Jy is baie naby aan jou ma. Beste advies wat sy jou al gegee het?

Mense wat se oë te naby aan mekaar sit kan jy nie vertrou nie! Nee, ek spot net. Sy gee omtrent daagliks vir my advies. Ek weet nie wat ek sonder haar eendag moet doen nie.

Wat’s volgende vir Réney Warrington?

Ek moet die klaarmaak van twee manuskripte balanseer met ’n nuwe besigheid op die been bring. Vir ’n skrywer en kunstenaar, my vrou Hannelie Coetzee, is patente, kontrakte, personeel en prokureurs omtrent Grieks. Hou vir my duim vas.

Lien Botha

Teksture, woorde, wegholvuur & ketties

deur Deborah Steinmair

Lien Botha is visuele kunstenaar en skrywer. Daar is ’n “gesellige simbiose” tussen die kunsvorme, vertel sy: “Die twee het maar altyd hand aan hand geloop as ek nou daaraan terugdink. Weeklikse besoeke aan die Openbare Biblioteek in Pretoria-Noord saam met ons moeder, het dieselfde betowering gehad as skemer se speel-speel met die vorms van blare en die teksture van takkies … Dis wonderlik om op ’n latere ouderdom ’n tweede asem te kry met ’n ewewydige loopbaan.”

Was sy swaarmoedig toe sy Wonderboom geskryf het? “Nie werklik nie; die skryfproses was voedsel vir die siel en allesoorheersend. Net soms het ek in my maag woorde voel kwes, waar herinneringe aan persoonlike verlies met maatskaplike ellende gekruis het.”

’n M in kreatiewe skryfkuns “het aan my die aanmoediging sowel as kardinale padwysers gegee om ’n manuskrip te voltooi.”

Sy is weer besig aan ’n manuskrip: “Ek meen dit is drasties anders. Hierdie roman handel oor die wel en weë van ’n kunskurator wat moet oorleef binne die komplekse uitbuiting en sisteme van die kunswêreld.”

Hoe voel dit as ’n wegholvuur jou aardse besittings bedreig? “Surrealisties. Jy word vinnig gereduseer. Vroeg daarde oggend  (van 11 Januarie 2019) het ek geweet hier kom ’n ding. Die noordwes het soos ’n woedende despoot geblaas, en dit was reeds onheilspellend want dit is ons winterwind daai. Raymond was in die stad dié oggend, maar ek het ’n paar geliefde boeke, cd’s, rekenaars, dokumente en ’n tas met allerlei in die motor gesit en dit buite die hek gaan parkeer. Daarna het ek die tuin natgespuit en die gas toegedraai. Die brand het later oor die teerpad gespring en ’n bergpad van verwoesting oopgekloof, waar dit teen skemer aan die suidoostelike kant van ons dorp geblus is, grotendeels weens reën wat begin uitsak het. 31 huise is in puin gelê en 28 erg beskadig.”

Gunstelingskrywers: “Eugène Marais, Herman Charles Bosman, Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Wilma Stockenström, Harry Kalmer, Karel Schoeman, J.M. Coetzee, Eben Venter, Imraan Coovadia, Henrietta Rose-Innes, Margaret Atwood, Virginia Woolf, Richard Flanagan, Chimamanda Adichie,  Jim Crace, Martin Amis, Saul Bellow, Roberto Bolaño, Italo Calvino, Albert Camus, Thomas Mann, Bruce Chatwin, V.S. Naipaul, Keri Hulme, Jumpa Lahiri, Primo Levi, Milan Kundera, John Williams, Umberto Eco, W.G. Sebald en Tatyana Tolstaya.”

Groot Afrikaanse Roman? “Daar was al ’n hele paar en 2019 lyk vir my hels belowend. Maar ja, wie weet … heel moontlik is ’n skrywer tans grootskaals aan die timmer in ’n klein kamertjie iewers tussen Koffiefontein en Triomf.”

Sypaadjielangs, hoe voel sy oor die gevaar om ‘toondoof’ oor te kom versus vryheid van spraak? “Ek skat dis veiliger om te fluister of gebaretaal te gebruik in ’n land waar menswaardigheid nog tot verhaal moet kom.”

Oor Suid-Afrika: “Mens vra jouself natuurlik af waar op aarde  jy beter daaraan toe sal wees, want in die woorde van Tatyana  Tolstaya: ‘Geen enkel samenleving deugt’ … Steeds,  ek  vermoed hierdie land het te veel mense wat met ketties rondloop (met apologie aan Emily Dickinson.)”

V & A: Pierre du Plessis (40)

deur Schalk Schoombie

Hoe sou jy jouself beskryf?

Ek het nie ʼn elevator pitch nie, vat saam met my die trappe dan praat ons. Ek is ʼn prediker (ek hou van die ou woord, preacher), skrywer, kunstenaar, kwasi-filosoof, crossfitter.

Hoe begin jy met ʼn boek soos Boomwortels in die Hemel?

Boeke by my begin met ʼn gevoel, iets in my maag wat my aantrek tot ʼn tema. Dit begin soms by ʼn nuuskierigheid en ander kere ʼn woede oor iets. Boomwortels is ʼn kwaai boek, ek het nodig gehad om iets te sê oor die wanpersepsies en die manier hoe die koninkryk voorgestel word, as eksklusief en iewers wat nie hier is nie.

Die boek reik wyd op geestelike en samelewingsvlak, maar wat is vir jou die kern?

Die boek gaan oor perspektief. Ons het ʼn sekere perspektief en opinie en natuurlik dink almal hulle s’n is die regte een, die een wat regop is en almal anders is onderstebo. Die boek vertel dat Jesus se perspektief regop is en die rede hoekom Hy so vreemd vir ons voorkom is omdat ons die is wat onderste bo is, die kat aan die stert beet het, die wortels van die boom lê eintlik in die hemel. Jesus se koninkryk is nie onderstebo nie, ons is.

Hoe lank het jy daaraan geskryf, en wat was die moeilikste?

Die hele proses was seker ʼn jaar lank, meeste van die skryfwerk het ek in November en Desember gedoen, wanneer die wêreld bietjie stiller is. Die moeilikste is altyd die persoonlike dele, ek twyfel altyd of ek dit moet insluit.

Wat lees jy tans? Gunsteling skrywers?

Ek het nou net klaar gemaak met A Hobbit, a Wardrobe, and a Great War deur Joseph Loconte, fantastiese boek. Ek lees alles van Leonard Sweet, Donald Miller se memoirs (ek hou baie van sy skryfstyl).

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Ek lei die Kaapstad kampus van InVia Gemeente, ʼn kontemplatiewe gemeenskap. Ek praat met besighede oor betekenis en hoe om werk te doen wat saak maak. Ek hou van kruisfiks en kan darem al so 170kg opstoot.

Mentors?

My Spiritual Director beteken vir my op die oomblik die meeste. Sy is fantasties en het my gehelp om my lewe anders te sien.

Wat beteken die Desmund Tutu-Gerrit Brandprys vir jou?

Dit is fantasties om raakgesien te kan word deur die bedryf en jou eweknieë, ek was heel verbaas oor die prys en het ook nie besef die prysuitdeling is so ʼn groot ding nie. Ek het my toespraak net daar gesit en uitdink. Ek het ook die prys opgedra aan ons broers en susters in die LGBTQ+ gemeenskap, dit bly steeds ʼn belangrike gesprek.

Wat is die dwingendste vraagstuk vir die moderne mens? Verskil dit van vorige tye?

Beteken ek iets? Ek dink nie dit verskil nie, ʼn mens is maar mens, ons soek dalk net op ander plekke vir die antwoord as ʼn eeu of millennium gelede.

Gerda Taljaard-Gilson

Kelder, laksman en noir

deur Deborah Steinmair

Die skrywer Gerda Taljaard-Gilson lyk soos ’n Jane Austin- of Charlotte Bronte-heldin: fyn, bleek, met ’n lakonies-ironiese blik en lang goudrooi hare. Sy woon in Pretoria met haar man Rodger en hul drie honde. Haar stokperdjies is tuinmaak, stap en sing vir haar honde. Sy het hulle lief, want: “Hulle is so naby aan wolwe. En hulle oordeel nie, hou nie boek van die kwaad nie, en weet van dinge waarvan ons niks weet nie.”

Haar vroegste invloede was Kate Bush se musiek, Henriette Grové se kortverhaalbundel Jaarringe, en Petra Müller se Die dwerg van die Infanta: “Hierdie drie vroue se werk het my losgemaak van die banale, en laat ontsnap van die benepenheid van skool, kerk, politiek en voorstedelikheid.” En natuurlik haar ouma Griet: “Sy was ’n storieverteller van formaat. As sy geleerdheid gehad het, sou sy waarskynlik ’n skrywer of digter geword het. Sy het vir ’n ruk by my in die kamer geslaap, en my voor slapenstyd met haar stories vermaak – kompleet met klanknabootsing, gesigsuitdrukking en verskillende stemme. Party stories was uiters ontstellend, maar dit is daar waar ek betower is deur die vertelkuns.”

Haar boek Kelder word verfilm en Die laksman se dogter is met die @kykNet-Rapport-filmprys bekroon. Sy vertel: “Nog voor ek ’n bibliofiel geword het, was ek ’n filmverslaafde. Ek is visueel ingestel; elke paragraaf is ’n toneel wat voor my afspeel. In die vroeë oggendure, in daardie salige toestand tussen slaap en wakker word, pak idees my beet en spook dit by my, tot ek ’n tipe raamwerk in my kop opstel met karakters, plot en milieu.” Maar wanneer sy eindelik begin skryf, slaan die storie sy eie rigting in, en dan is die einde selfs vir haar ’n verrassing. “Dit vat my ’n rukkie om gefokus te raak tydens die skryfproses, maar as ek die storie behoorlik beetkry, los ek dit nie, of dalk is dit die storie wat mý nie wil los nie.”

Boeke wat haar onlangs uit die slaap gehou het, sluit in: “Emma Healey se Elizabeth is Missing (2014) wat vir my een van die mees onthutsende boeke oor die aftakeling van ouderdom is sedert Alba Bouwer se Die afdraand van die dag is kil. Oud word is erger as die dood, en ek vrees dit meer as enigiets anders. En dan Martin Steyn se Donker Spoor, ook in 2014 gepubliseer, en onlangs in Turks vertaal. Steyn is nie bang om die donkerste van donker plekke te betree nie, en die boosheid is voelbaar in dié boek.”

Sy beskou Ingrid Winterbach se Niggie as die Groot Afrikaanse Roman.

Sy glo boeke moet lewensveranderend, maar ook boeiend en vermaaklik wees. “Ek het ’n broertjie dood aan sieldodende romans geskryf deur akademici vír akademici. Daardie dit-verveel-die-hel-uit-my-uit-maar-dis-so-donners-amazing boeke. Nee dankie.”

Ja, sy is weer aan die skryf: “Die manuskrip waaraan ek tans werk, bevat elemente van historiese fiksie. Dit handel oor die wel en weë van vier susters tydens die Tweede Wêreldoorlog, en hulle interaksie met Stormjaers, Rooilussies en ’n Italiaanse krygsgevangene.”

Christopher Hope and his son, violinist Daniel Hope, during a recent visit to the USA.

Why write about travel?

by Christopher Hope

Why travel to countries where you don’t understand the language or the customs? For this good reason – they are not like home. Leaving home is a way of leaving yourself behind. No-one knows who you are or where you’re headed and, better still, nor do you. It is, to borrow a phrase from Graham Greene, a journey without maps.

I was over thirty before I left my own country. South Africa at the time was a closed society, hedged in by borders, rules, fences and warning signs, discouraging travel, personal and political. We were always warned to beware of ‘the outside world’. And the warnings made me wish to go there.

In 1975 I landed in Paris, where I did not speak the language but felt understood. Next came London, where I spoke the language but found that it took time to understand the natives. I was not permitted to return to South Africa for some years, so I had time. A great thing about England is that just across the water lies Europe and it got to be known that I enjoyed getting lost in foreign places and writing about them.

First came Switzerland. Not so much a country as high-wire balancing act in the Alps, where four very different ethnic groups contrive, against the odds, to get along. Berlin was next – a city which was divided up into four sections by the victors of World War Two. The city was divided again between West and East, except for a well-guarded crossing point called Checkpoint Charlie. Separated countries and segregated peoples I knew about. I came from a country where the passion for partition had sent us mad. I wrote about divided Berlin. Many years later I was lucky to find myself in town on the night when the Wall came down and the Soviet empire collapsed, and wrote about that.

I went to Russia in the years of perestroika, when party members got the favours and everyone else got stiffed. I felt at home. I saw Muscovites born, schooled, married and buried – and put these surreal encounters into a book. I set off on what I called ‘travels in tyranny’, to places run, and ruined, by dictators and despots: ex-Yugoslavia, Vietnam, Laos, Cambodia, Zimbabwe and Burma. I was fascinated by the way despotic leaders and systems seem to mimic one another. As if they shared a very small props cupboard, same caps, moustaches, slogans and curses. Such regimes are deadly but they can be darkly comic. Absolute power is almost always shot through with absurdity. And someone needs to make notes.

Thirty years ago, I returned to South Africa for a long road trip I called White Boy Running. Last year I took much the same route in The Café de Move-On Blues. That’s how it goes. The scenery may change but the direction is much the same and travel has a way of bringing me face to face with myself.

  • Gaan luister na Christopher Hope by die FineArts Kunstefees in Hermanus (7 – 17 Junie), waar hy ’n boekepraatjie lewer oor sy reisjoernale op 11 en 12 Junie om 10:00.

Emma Bekker

Storieverteller en stoep-performer

deur Deborah Steinmair

Emma Bekker was nog nooit op haar mond geval nie. Sy dink haar liefdesverhouding met woorde het met die aanhoor van haar eerste woord begin. “My ouers het vreeslik baie met my gepraat vandat ek gebore is. Daarmee saam is daar baie gesing en gelees. En stories vertel! Dit help ook om groot te word in huis waar jy omring is deur boeke.”

Emma lyk soos ’n Afrikaner-Kahlo, of ’n Mexikaanse Sarie Marais. Met ’n klappie Japannees. Haar hande en haar hele lyf gesels saam, maar sy reken: “Ek is meer aandagafleibaar as wat ek ’n ekstrovert is!”

Sy dink lank en skryf vinnig: “Die meeste van my skryfwerk word in my kop gedoen, voor dit op papier of rekenaar losgelaat word. Ná lank se gedink, word dit dikwels soos ’n oorryp stoelgang losgelaat.”

Op skool was sy só lief vir perform, dat sy drama gaan studeer het. “En toe ná my eerste jaar van rigting verander het. Ek is meer van ’n storieverteller as ’n performer. En as jy my reg op my agterstoep betrap, word ek maklik tydens ’n lang Sondagmiddagete ’n performer.”

Die beste Afrikaanse boek wat sy onlangs gelees het, is Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé. “Dit voel asof Murakami en Robbins in ’n klitser saam met Afrikaanse eiers gesit is en hierdie boek gebak is. En dan is Naudé se digterlike taalgebruik, marginale verbeelding en sy geslepe sin vir humor totaal verleidelik,” reken sy.

Verveel ander skrywers se boeke haar soms? “Ek ly maklik aan leesdepressie. Ek bewonder mense wat konstant ’n boek in die hand het. Dis vir my maklik om ’n boek op te tel en neer te sit. Maar ek vind dat wanneer ’n boek my aangryp en intrek, ek amper ’n gevoel van rou ervaar as ek klaar gelees het.”

Die eerste oplaag van haar digbundel, Skryn, (Protea Boekhuis) het uitverkoop. Haar kortverhaalbundel, Vel, verskyn volgende jaar ook by Protea. Hoe skryf sy? “Dit begin by stories, hoe stories onthou en verdraai word. En hoe geskiedenisse fiksie word en mites geskiedenis. Ek is tans baie geïnteresseerd in die manier waarop magsdinamikas verhoudings beïnvloed.”

Day job?

Ek noem myself ’n transformasiefasiliteerder – iets tussen ’n masseuse en ’n shrink. Die Tannie In die Voorskoot wat tee en troos bedien. En lywe vryf. Met ’n skeutjie gatskop en ’n empatieke oor.

Boeke wat haar bybly:

Klein Verseboek, Groot Verseboek, Die Uile, Fritz Deelman, Die Hart Van Java (I.D. du Plessis). “En toe begin ek vroeg grootmensboeke lees: Paul Gallico se boeke, veral The Snow goose, en in Graad 9 Credo Mutwa se Let not my country die.”

Invloede:

Erica Jong, Margaret Atwood, Jeanne Goosen, Chinua Achebe, Virginia Woolf, Kurt Vonnegut en Tom Robbins uit my vroeë twintigs, toe Marques, Rushdie, John Updike, Umberto Eco, Haruki Murakami, Jonathan Frantzen, en onlangs Patricia Lockwood, George Sanders en Adichie. “En dan pas Harari se Sapiens. Die hele kwessie van volhoubaarheid lê op my eierstokke.”

TANSTAAFL, Waldo!

deur Deborah Steinmair en veral Schalk Schoombie

Die jeugboekskrywer Paul Zindel het gereken: Reality is a crutch for those who can’t face science fiction. Het jy al gehoor van harde wetenskapfiksie en sien jy kans daarvoor?

In een van Schalk Schoombie se kortverhale lees ek Robert A Heinlein raak. Wikipedia noem hom die ‘dekaan van wetenskapfiksieskrywers’. Hy was ’n lugvaartingenieur en het aangedring op wetenskaplike akkuraatheid in sy fiksie. Hy was dus die pionier van die subgenre ‘harde’ wetenskapfiksie.

Hy het dinge gesê soos:

“Never attempt to teach a pig to sing; it wastes your time and annoys the pig.”

“Once a month, some women act like men act all the time.”

Schalk skryf die volgende oor hom:

“Hy het aanhoudend teruggekeer na sosiale temas soos die belangrikheid van individuele vryheid en selfstandigheid, die verpligting wat individue aan hulle samelewings verskuldig is, die invloed van georganiseerde godsdiens op kultuur en regering, die tendens van ’n gemeenskap om nie-konformerende denke te onderdruk.

Heinlein munt begrippe wat deel van die Engelse taal en internasionale bewussyn geword het, soos “grok”, “waldo” en “speculative fiction”. Hy het begrippe soos TANSTAAFL, “pay it forward” en “space marine” gepopulariseer. Hy het tegnologiese vernuwings met sowat 35 jaar geantisipeer. In sy roman The Door into Summer beskryf hy ’n moderne weergawe van die waterbed, hoewel hy nooit een gepatenteer of gebou het nie.

Die woord “grok” kom in Heinlein se roman Stranger in a Strange Land voor. Dit verwys na diep en omvattende begrip, om iets so deeglik en diepgaande te verstaan dat die waarnemer deel word van sy waarneming – om daarmee saam te smelt, verweef te raak, om te ondertrou, jou identiteit binne groepverband te verloor.

TANSTAAFL is ’n akroniem wat uit die vroeë 20ste eeu kom, gepopulariseer in Robert A. Heinlein se roman The Moon is a Harsh Mistress. Dit staan vir “There ain’t no such thing as a free lunch”. Iets wat geadverteer word as “gratis” het altyd verskuilde koste.

Die woord “waldo” is in sy kortverhaal Waldo in Astounding Magazine gemunt.

Die hoofkarakter Waldo Farthingale-Jones is ’n meganiese genie wat homself afskei van die res van die mensdom. Hy ly aan myasthenia gravis, ’n seldsame outo-immuun siekte gekenmerk deur verswakte spiere sonder atrofie, en ’n algemene weersin in mense. As baba was hy so swak dat hy skaars sy kop kon optel om te drink of ’n lepel vashou. Hy kanaliseer sy aansienlike intellek en familiegeld in die ontwikkeling van ’n apparaat gepatenteer as Waldo Jones se Sinchroniese Herdupliserende Pantograaf. Wanneer Waldo ’n handskoen en ’n harnas dra, kan hy ’n veel kragtiger meganiese hand beheer deur net sy hand en vingers te beweeg. Dis een van verskeie meganismes wat hom so ryk maak dat hy vir hom ’n huis in die ruimte kan bou.

Later, in ons werklikheid, is afstandbeheerde manipuleerders ontwikkel wat as “waldo’s” bekend staan en sommige is deur NASA gebruik. ’n Amerikaanse maatskappy, The Character Shop, wat animatroniese toestelle vir rolprente skep, het die handelsmerk Waldo geregistreer.”

Vier grotes van 2018

deur Deborah Steinmair

Ek is geen lysiemens nie. Ek verpes bullet points. Dinge moet vir my kontingent wees, spontaan – lukrake brokke informasie moet mekaar uit alle oorde verdring. Ek lees ʼn paar boeke per week, dikwels meer as een tegelyk, maar kry dit eenvoudig nie reg om rekord te hou van wat ek lees nie. As ek weer sien, is die lysie tien boeke agter. Ek glo slegs die boeke wat in my kop bly vassteek, is die moeite werd. As ek dink aan verlede jaar se leesvreugde, is daar ʼn handvol boeke wat uitspring.

My heel beste was George Saunders se Lincoln in the Bardo. Wat ʼn onweerstaanbare gekkespul, soms meer toneelspel as boek. Hierdie begraafplaasgeraas van siele wat nie wil weet hulle is dood nie, is voorwaar anders, die stemme is uniek en die karakters laat jou van voor af bittersoet verlief raak op die lewe met al sy mankemente, laat jou dankbaar om hier en nou te wees, net nie in ʼn houer in die grond of dwalend tussen sfere nie.

Gelyk aan Lincoln, want ek sukkel ook met keuses, is Priestdaddy van Patricia Lockwood. Lockwood is een van daardie voortvarende mense wat in haar dertigs haar outobiografie skryf. Sy het bekend geraak vir haar prosagedig “The Rape Joke” wat die internet laat knetter het. Haar pa is ʼn Rooms Katolieke priester (ja, dit kan gebeur) en wat ʼn monumentale, bissar-eksentrieke teenwoordigheid is hy nie. Haasmal en verboos uitgesproke. Patty en haar man het teruggetrek na haar ouerhuis ná ʼn finansiële terugslag en sy beskou haar ongewone familie met ʼn houtoog. Dis gekantel en gilsnaaks.

Op eie bodem was Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis loshande my gunsteling, omdat dit eg, eerlik en sonder tierlantyntjies is. En tog bitter intelligent met verwysing na antieke tekste en gepeper met Latyn. Ek raak soms moeg vir parallelle storielyne, magiese realisme, metateks, kwantumfisika en ander foefies. Karakter en storie, asseblief. Hierdie is die lewensverhaal van ʼn kwasterige ou man wat ʼn leeftyd in die kas was. Aanvanklik vervreem hy die leser met sy rigiditeit en bombasme, maar stadig groei hy op jou soos mos.

Ek het ook van Die Troebel Tyd gehou, soos van elke woord wat Ingrid Winterbach nog ooit geskryf het. Haar romans gaan aspris mank aan storielyn, drade word opgetel en laat val, niks word deurgetrek nie, maar ek lees agter die kronkels van haar briljante brein en haar opsetlike, aweregse humor aan.

Deborah Steinmair (links) op besoek aan Marié Blomerus

´n Sestiger in Namibië

deur Deborah Steinmair

Ek het al ʼn paar sestigers ontmoet: André Brink, Breyten Breytenbach, Chris Barnard, Dolf van Niekerk, Abraham H de Vries. Hulle is/was sjarmant en bejaard. ʼn Week gelede ontmoet ek op Swakopmund nog ʼn sestiger: die 87-jarige Marié Blomerus. Sy is sjarmant en allermins bejaard. Dit voel asof sy jonger as ek is. Sy lyk soos ʼn Spaanse danser: viets en fyn, met lang, donker hare en ʼn perdebylyfie. Haar houding is fier, haar stem en haar blik sonder huiwering. Sy is uitgesproke met ʼn wakker, ondeunde brein.

“Neem jy dit op? Nee, sit af daardie ding. Jy kan liewer vir my vrae stuur.” Sy beduie afkeurend met haar slanke hand.

So staan dit op Wikipedia: Helene Marié Blomerus is op 24 Desember 1931 op Keetmanshoop in Suidwes-Afrika (tans Namibië) gebore en sy word ook daar groot. In die sestigerjare is sy mederedakteur van die tydskrif Wurm en lewer bydraes tot verskeie tydskrifte soos OphirIzweSestiger en die Tydskrif vir Letterkunde. Sy verhuis gereeld en bly op een of ander stadium in Namibië, die Kaapprovinsie, die Vrystaat en die Transvaal. Later aanvaar sy ’n betrekking by die Universiteit van Suid-Afrika se Departement van Onderrig en Tegnologie, waar sy as ’n draaiboekskrywer van opvoedkundige programme werk.

Marié publiseer: Fosforblom, Nasionale Boekhandel, 1968, Blou as beginsel van duisternis, Perskor-uitgewery, 1975, Soo-oo-oopwa: ‘n novelle, Perskor, 1975, Seisoene Van Terreur, Jutalit, 1988, Ithaka, Perskor, 1985 (bekroon met die Perskorprys).

Voordat Marié by Unisa as opvoedkundige draaiboekskrywer gewerk het, was sy vir ongeveer vier jaar dokumentêre draaiboekskrywer by ʼn private firma. “Dit was ʼn baie wye veld vir navorsing en het my ook na ʼn hele klompie vreemde plekke met vreemde mense in Suid-Afrika geneem,” onthou sy. “Na my aftrede by Unisa het ek ongeveer ses jaar lank vertaalwerk vir ʼn Pretoriase uitgewer gedoen. Ligte leesstof; ʼn nuwe bedeling en heel prettig.”

Die uitgewer waar ek werk, gaan haar essays publiseer. Die kontrak lê op ʼn lae tafeltjie. Ek wil ʼn stoel nadertrek, maar sy gaan kniel flink by die tafeltjie en begin teken. Toe ek verbaas is oor haar soepelheid, meld sy dat sy haar voet hoër as haar kop kan lig.

“Doen jy joga?” wil ek weet.

“Nee.”

“Is jou man ook so gesond?”

“O ja. Hy is 92. Hy is vandag op die gholfbaan.”

Sy vertel ʼn staaltjie wat iets oor haar lewensbeskouing verklap: Sy was by Medunsa waar ʼn professor vir ʼn groep van hulle sy beendere wys.

“Dis seker ou bene, hulle is dan spierwit,” merk sy op.

“Nee, ʼn mens kook dit af,” seg die professor.

“Nou maar wat word dan van die siel?” wil sy weet.

“Wel, die siel sit in die kop, êrens agter die oor, so ek vermoed hy word afgekook,” antwoord die professor.

Sy lees baie, maar nie juis Afrikaans nie. “Wee’ jy, ek sien daar’s tot nou ʼn boek Moord op Karibib. Die skrywer het seker net daar verbygery,” reken sy.

Só skryf sy later vir my:

“As jy enigiets meer wil skryf kan jy sê dat ek klassieke musiek geniet, dat ek deesdae net tyd het om Nobelprys-skrywers en Man-Booker en so aan te lees en dat ek versot is op skilders van ʼn sekere tydperk met Velasquez en El Greco bo-aan die lys. Ek wil niks van my eie lewe vertel nie, want ek wil nie op ʼn persoonlike vendusie opgeveil word nie. Ek antwoord nie persoonlike vrae nie, behalwe as dit ʼn onderwerp is waarin ek belangstel soos sosiale kommentaar, die ingewikkelde psige van mense en sulke nonsens!”

ʼn Vraag oor haar gunstelingskrywers laat haar kopkrap. “Genade, enige skrywer wat iets fassinerend skryf (volgens my) is ʼn gunsteling. Indien ek moet kies, so ʼn paar: Cervantes, Shakespeare, Gabriel Marquez, Dostojefski, plus. As digters, John Donne, Dylan Thomas, Rainer M. Rilke, Lorca, Odysseus Elytis. Ander boeiende gunstelinge is William Manchester en Peter Gay (sover ek weet Amerikaners).

Suid-Afrikaanse skrywers wat haar beïndruk? “Dis nogal problematies. Te na aan die huis. C. Louis Leipoldt verskaf my eindelose genot. Dan Sleigh het myns insiens een van die aangrypendste boeke, Eilande, in Afrikaans gelewer. Karel Schoeman is ook ʼn boeiende skrywer. Die vroeg-gestorwe digter, Casper Schmidt, se klein oeuvre beskou ek as baie besonders en buitengewoon.”

Van reis word mens nooit sat, glo Marié. Maar ʼn goeie boek moet ook saam en geen tablet of iets van die aard nie. “Die lewe is een groot reis, as mens mooi oplet. Nogtans sou ek graag meer van die VSA wou sien; ʼn ongelooflike land. Dan is daar Suid-Amerika en Egipte waar ek nog nooit was nie. Te veel om op te noem. Ek sou weer en weer kan terugkeer na Spanje, Italië, Portugal en Griekeland. In laasgenoemde maak die ambience my heel gelukkig.

“En nou,” maan sy, “volgens Ernest Hemingway is dit ʼn fout om van ʼn skrywer te weet. Mens moet liewer die boeke lees.”

  • Marié Blomerus se bundel herinneringe met die titel  ʼn Porseleinskerf, verskyn in September by Protea Boekhuis.

Miss Mandy loop die pad al 40 jaar, my lam

deur Deborah Steinmair

Eerste liedteks:
“Dit was 1979. Rosa Keet en Merwede van der Merwe het my genader om deel te wees van die nuwe Afrikaanse TV musiekprogramme wat hulle sou vervaardig vir die SAUK. TV was toe net vier jaar oud. Rosa het my aangepor om ook ’n liedjie in Afrikaans te skryf. Sy het net gesê: ‘Ek weet jy kan dit doen’.

“Dit was Meimaand en triestig in Johannesburg. Ek het in ’n woonstel oorkant die Chelsea hotel in Hillbrow gebly. Ek onthou nog die groot advertensiebord voor die hotel: “Taubie Kushlick presents ‘Jacques Brel is alive and well and living in Paris'” en Laurika se naam was ook op die bord. Die enigste Afrikaanse lied waarvan ek op daardie stadium gehou het, was haar weergawe van Koos Doep se “Kinders van die wind”. Trouens, dit het my asem weggeslaan dat Afrikaans só kon klink en ek my nie daarvoor hoef te skaam nie.

“Ek het met ’n Croxley-klaswerkboek en ’n potlood by die tafel voor die venster gaan sit en die eerste sin geskryf: “Ek loop die pad al lank my lam, so kaalvoet deur die kou”. Ek het alles net soos een lang gedig geskryf; geen versie, koor, brug, versie koor nie. Ek het niks van liedjieskryf of struktuur geweet nie.

“Ek het dit die volgende dag vir Rosa gegee en sy het dit na Zane Cronje, destyds ’n baie bekende, briljante pianis en musikale regissseur geneem. Hy het dit getoonset en ek kon nie glo dat my woorde so mooi kon klink nie. Hy het niks daaraan verander nie, net die gedig in sy volheid gekomponeer.”

Hennie Aucamp:
“Ons het mekaar in 1980 by die Oude Libertas-teater in Stellenbosch ontmoet by ’n Simposium oor die Musiek en Liriek-beweging en ons het onmiddellik gekliek. Hennie het my potensiaal as kabaretkunstenaar raakgesien – seker omdat ek ’n opgeleide aktrise was wat kon noot hou. Een van die hoogtepunte van my loopbaan was om in sy literêre kabaret “Met Permissie gesê” by die Markteater op te tree. Ons het geskiedenis gemaak met dié kabaret en die speelvak is drie keer verleng. Hennie het geweldig baie boeke oor kabaret vir my gestuur – die geskiedenis daarvan, wat dit moet en nie moet wees nie. Ek het deur die jare ook stapels kassette van hom ontvang – Bertolt Brecht, Kurt Weill, Zarah Leander, Marlene Dietrich, Lotte Lenya en later Liesbeth List, Jacques Brel en Herman van Veen. Hennie het my altyd gesmeek om self te skryf en in 1991 het ek weer begin. Ek het elke liewe liedteks vir hom gefaks en dan het hy raad gegee, voorstelle gemaak, altyd per faks met netjiese aantekeninge langs my lirieke. Hy was my gunsteling onderwyser, my mentor en tweede vader.”

“Ek het gedroom”:
“Die Sondag na Ralph (Kerkorrel) se selfmoord, kom my man Tony uit die tuin met ’n blou ballon in sy hand. Hy het dit in die bougainvillea sien hang. Daar was seker gister ’n troue by die kerk hier anderkant, sê hy. Nee, het ek geglo. Dis Ralph. Ek het die ballon in my kamer gehang. En toe droom ek hy kom kuier vir my, so nonchalant, asof niks gebeur het nie. Ek het die lied geskryf om myself te troos, om van my woede en seer jeens hom ontslae te raak en in die proses het die lied ook baie mense getroos. Die reaksie daarop is tot vandag heilig – dis of mense eers huiwer om hande te klap en dan bars ’n luide applous los. Hy was só bemind, al het hy nie altyd so gedink nie.”

Gunstelingskrywers:
“Musiek: Paul Simon, Leonard Cohen, Sting, Stef Bos, David Kramer, Coenie de Villiers.
Boeke: Elsa Joubert, Marlene van Niekerk, Karel Schoeman, Breyten Breytenbach, Deon Meyer, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, Deon Maas.”

Waar kom stories vandaan?
“Fairies. En engele. Van diep binne én van ver af, soos Piet le Roux se plaas. Dit gebeur dikwels snags net voor ek aan die slaap raak met my – dan moet ek weer die lamp aanskakel en die klaswerkboek nadertrek.”

  • Bestel haar liedteksbundel, Kaalvoet, hier.

Die Wonderwese – reismistiek en fantasie-avontuur

deur Deborah Steinmair 

Die tweede boek in Carina Stander se begogelende triptiek het pas verskyn – Die Wonderwese. Die eerste was Die Bergengel en lesers sien reeds uit na die derde, Die Waterplek.

Genre:
“Na my mening is die trilogie ’n reismistiek wat vaagveg binne die tydgleuf van die laat-negentiende eeu afspeel teen die agtergrond van geskiedkundige gebeure soos die walvishandel, industralisasie, ontvolking van die platteland, die wegsterf van minderheidstale, die opkoms van ’n wêreldmag en landskapverkenning. Dit wil egter tydloos wees in die uitbeelding van sekere oerbeginsels. Die ruggraat van die verhaal is die lewenstrewe van Eron Verberger. Dit is ’n soort coming of age-verhaal; fantasie-avontuur eerder as jeugboeke. Dit wemel van buitengewone belewenisse in doodgewone omgewings en doodgewone belewenisse in buitengewone omgewings.”

Metafoor:
“Ek is my lewe lank op die uitkyk vir alternatiewe beskouinge, nuwe beeldings, metafore. Met die skryf van Die Bergengel en Die Wonderwese wou ek met ’n digterlike stembuiging ’n allegorie skep, ’n uitgebreide metafoor van ’n mens se reis na sy of haar binnelandskap. Uiteindelik sal die trilogie gelees kan word as een baie lang gedig.”

Poësie:
“Ek het die laaste dekade net opdraggedigte geskryf. My digterlike idees stort ek in die trilogie – dis waarom dit vir my so heerlik was om die digter Anav Elanov as karakter in Die Wonderwese uit te brei. Die digkuns sypel oral in – of jy tuin maak of tee maak, die kat voer of appeltert bak. Digterskap is ’n denkwyse.”

Name:
“Die digkuns het my klankgevoelig gemaak en ek kies klanke wat by ’n sekere plek of karakter pas. Meeste van die name in die trilogie het ek uit die lug gepluk – en wat ’n lekker speletjie om dit uit te gorrel! Ek het gesoek na name wat ’n soort profetiese voorskouing is van dit wat karakters deur die verloop van die trilogie word. So het ek op allerpragtige Hebreeuse name afgekom: Eron (“verligte”) Anav (“sag”) is die digter, Talia (“dou uit die hemel”) word die Reine genoem en Gibor (“sterk”) is die klokgieter en vader.”

‘Wêreldbou’
“Ek leef myself heeltemal in die fiktiewe landskappe in, maar ek maak dit toeganklik en oortuigend vir lesers deur stip beskrywings van die landskapvorming, die weerstelsels, die fauna en flora, die streeksgesegdes, kleredrag en gebruike van elke gebied. Om die verhaal verantwoordbaar te hou, werk ek die afstande en getye presies uit en respekteer natuurverskynsels soos die effek van mistigheid op klank of die feit dat ’n eiland altyd ’n natter en ’n droeër kant het. Op dié manier plant ek myself stewig op vaste aarde.”

Roetine:
“Omdat ek myself daagliks oorgee aan die stories en kuns in my kop, is my alledaagse omgewing geweldig georganiseerd. Ek het van baie jongs af vir myself stelsels geskep om ’n brug te kan hê tussen my verbeeldingslewe en die gewone lewe. Ek gee nie ’n blou duit om as ander mense in chaos leef nie, maar ek bestuur my eie lewe en gevolglik mis ek nooit ’n sperstreep nie. Ek is egter ook genadig met myself, ek smeer myself nie te dun nie, daarom skryf ek slegs soggens as my seuns op laerskool is en saans as hulle slaap. In die middae, naweke en vakansies verlustig ek my aan die wonders van die gewone gesinslewe – voordat ek weer terugroei na Gabriëllië.”

Navorsing:
“Ek gebruik die magdom nota’s wat ek deur die jare tydens reise gemaak het, maar ek doen ook ontsaglik baie navorsing. Ek het ’n groot behoefte om die beweegredes van my karakters te verstaan. Wat is byvoorbeeld die “bestanddele” van ’n sadistiese psigopaat? Ek het Dante se Heilige Komedie as interteks gebruik in die trilogie en Die boek van Enog wat geskryf is deur Noag se oupagrootjie. En dan is daar ook ’n kopknik in die rigting van Batman en die Joker.”

Die Bybel:
“Dis ’n veelkleurige, eerlike oergeskrif. Die Bergpredikasie van Mattheus 5 het my nog altyd gefassineer, omdat dit sulke agterstevoor logika het. In Die Wonderwese het ek allerlei Bybelse verwysings versteek soos die kaptein van die gevreesde Nisiaanse Perdeweermag, Kornelius (wat gebaseer is op die Romeinse offisier in Handelinge en Petrus se visioen van die onrein diere wat rein verklaar word). Vir die engelogie in Die Wonderwese het ek gekyk na Daniël. Maar nêrens in die trilogie word die woord “God” gebruik nie. Hierdie is hoogstens ’n gelykenis.”

Gunstelingskrywers:
“In Afrikaanse prosa: Chris Barnard. Afrikaanse poësie: Breyten Breytenbach en Sheila Cussons. In die wêreldprosa: Michael Ondaatje, Anne Michaels en Clarissa Pincola Estes. Al drie is ook digters.”

Die derde boek?
“Ek het nog net die verhaalopsomming geskryf, ek weet wat in elke hoofstuk moet gebeur en meeste van die navorsing is gedoen. Nou eers tjieng maak om van te leef, dan kan ek na Die Waterplek vertrek.”

Nataniël, wese wat die koekiedrukker vrygespring het

deur Deborah Steinmair en veral Diane de Beer

In ’n artikel vir Vrye Weekblad sê ek oor Nataniël se jongste boek, look at me, recollections of a childhood, Human & Rousseau, 2019:

Min of meer die ganse land bemin hierdie flambojante buiteruimtelike reisiger reeds vir dekades. En, soos met elke besitting, wil ons hom in ’n boksie sit met ’n etiket op; wil ons hê hy moet presies dieselfde bly en vir ewig droef-snaakse, verbeeldingryke stories in ’n minieurtoon met ’n Liewe Heksie-stem vertel.

Sommige mense probeer nie om enigiets anders te wees as wat hulle is nie. Moontlik kán hulle nie, miskien makeer hulle die orgaan vir voorgee, inpas, probeer plesier. So iemand was die koddige, mollige seuntjie Niel le Roux. Sy vroegste herinnering het te doen met ’n sandput vol katdrolle. En twee feetjies met goue stof; ’n skraal een en ’n dik een.

Die boek is deur Iolandi Pool in ’n soort enigmatiese Engels vertaal wat heeltemal wérk, omdat ’n mens die woorde in Nataniël se heserige stem hoor. Dis ’n losse, bedwelmende sameflansing van geheueflitse, van ’n kindertyd in die dae van haai Apartheid, in drie klein dorpies en ’n groot suburb.

Die fabelagtige Diane de Beer, wat reeds ’n leeftyd lank oor kuns, teater en boeke skryf (eers vir Pretoria News en nou op haar webwerf, De Beer Necesssities, het onder andere die volgende te sê oor die stories in Nataniël se jongste show: When giants waltz: 12 monumental concerts.

“In each tale, once the laughter dies down, and just before the next song, the sadness of all the hilarity at what is sometimes the horrors we all encounter in normal living, hits you full on. But, with perfect timing, just before you succumb, a stunning new costume or a song fills the empty space and we move on.

No matter how little or how well you know this artist’s work, he surprises you.

How does he do it? I watched in wonderment and awe while experiencing the thrill of a performance that epitomises the excitement of live theatre – and it happens year after year.

From the entrance with Nataniël tripping onto stage draped in creature couture which immediately puts you in an imaginary place, this genius storyteller takes you a-wandering in his world of merriment intertwined with melancholy.

The language, the images he conjures up with his characters and the lives they lead, the way everything unfolds and the music which drifts between blues, jazz and a few pop classics – some original, others re-arranged – all come together sweetly.

It’s his imagination – unchecked – that never lets him down as he draws a world with his visually rich stories (in both English and Afrikaans) while entertaining in a manner few can achieve year in and year out.

When giants waltz, Nataniël says, the earth moves, which may be true. He doesn’t have to rely on size or stature, he gets everything moving with his gigantic creativity and imagination.” – Diane de Beer.

Ons toweragtige naaldekoker bly van vlerk verwissel. 

Woordfees, koorsdrome en kwarantynleeslys

deur Deborah Steinmair

Kan dit net ’n week gelede wees dat ons in die besige strate van Stellenbosch gestap het? Die afgelope week was ’n lang jaar. Die dae is leeg en ons voetstappe weerklink hol soos in ’n leë gebou. Die Woordfees, ons laaste fees vir die afsienbare tyd, was besig en jolig en as ek daaraan terugdink, vloei alles ineen. Soveel kunstenaars en skrywers, soveel aanbiedings, soveel mense. Ek onthou spatsels boekomslae, oomblikke in die teater wanneer die ironie van die lewe jou vierkantig tussen die oë tref, soos in Valsrivier, die verwerking van Dominique Botha se bekroonde roman. Soos in Kamphoer, wat ook haar ontstaan as boek gehad het: Francois Smith s’n. Dan was daar ook Marita van der Vywer sê Die dinge van ’n kind wat op die planke beland het. Dit verg ’n spesifieke, magiese fokus om ’n roman as teaterstuk te vergestalt. Op die ou end is alles stories, maar die manier waarop dit vertel word, verskil.

Daar was wonderlike boekbesprings. Natuurlik kon ek nie alles bywoon nie, maar ’n paar wat uitstaan, is Petrovna Metelerkamp en Sandra Prinsloo oor die Jeanne Goosen-biografie, ’n Lyf vol sinne, China Mouton en Dana Snyman in gesprek oor China se boek Tronkhond en Schalk Schoombie en Willem Krog in gesprek met Lien Botha oor hul boeke. Ek kon in lewende lywe gesels met skrywers met wie ek al op hierdie werf geklets het, soos Olivia M. Coetzee (Innie Shadows) en Lou-Marie Kruger (Of Motherhood and Melancholia). ’n Mens skuur terloops skouers met inspirerende boekfeë soos Hettie Scholtz en Bibi Slippers.

En dan is jy terug in jou studeerkamer of in my geval, plat op jou bed met jou laptop. Isolasie is geen vreemde konsep vir skrywers nie, maar ná die feestelikheid is dit ekstra stil. En toe sink dit opeens nasionaal heeltemal in: die implikasies van Covid-19. Ons werk van die huis af. Die supermark is ’n spookdorp, dis soos om saans op die skoolterrein te wees. Mense beweeg versigtig, op ’n afstand, gemasker en gehandskoen.

Skielik is ons op ’n verlate eiland. Ek slaan my oë op na die boekrakke en ek is besonder bly dat ek soveel boeke gekoop het waarvoor ek nog nie tyd gehad het om te lees nie. Boeke, glo ek, is meer waardevol as blikkieskos en toiletrolle. Skielik is ons op ’n verlate eiland.

Wat gaan ons lees? Lapa deel die volgende kwarantynleeslys:

As ek een moet saamflans:
The Plague deur Albert Camus
Maddadam deur Margaret Atwood
The Last Man deur Mary Shelley
Love in the Time of Cholera deur Gabriel Garcia Márquez
The White Plague deur Frank Herbert
The Road deur Cormack McCarthy
Station 11 deur Emily St John Mandell
Die muur van die pes deur André P. Brink
Koors deur Deon Meyer
Wonderboom
deur Lien Botha
In ’n land sonder voëls
deur Harry Kalmer
Oemkontoe van die nasie deur P.J. Haasbroek
Hotel Atlantis en Raka die roman deur Koos Kombuis
Miskruier deur Jaco Botha
Horrelpoot deur Eben Venter
Die nege kerse van Magriet deur Barend P.J. Erasmus
Die nag ruik na spoed deur Schalk Schoombie
Offers vir die dooies deur Fanie Viljoen
Alleen onder die maan deur Willem Krog

Laat ons boekevat.

As jy skrywers op die wêreld loslaat: Woordfees

deur Deborah Steinmair

Die Woordfees het afgeskop. Dis die enigste fees waarvan die naam aandui dat dit ook oor skryfwerk gaan. Dis ’n fees waar boekgesprekke bygewoon word. Dis immers Stellenbosch.

Die woordfees begin met Ingrid Winterbach, Kerneels Breytenbach en Frederik de Jager se eendag-skryfskool by die Lanzerac. Wat ’n geleentheid!

Vrydag het vroue oor misdaad gesels, Foeta Krige en ander oor ondersoekende joernalistiek, Tobie Wiese het met Karin Brynard oor verlies gesels.

Saterdag het Adriaan Basson en Angelo Agrizzi oor Bosasa gesels en Dana Snyman en Johannes de Villiers was in gesprek oor Soekmekaar.

Maandag gesels Fransjohan Pretorius met Carel van der Merwe oor Kansvatter, die verhaal van sirkusboer generaal Ben Viljoen. Om 11:30 praat die Nederlandse skrywer Conny Braam oor haar navorsing vir Ek is Hendrik Witbooi.

Ek gesels met Olivia M. Coetzee oor Innie Shadows, haar Kaapse krimi.

Oud-Springbokkaptein Wynand Claasen gesels met Kerneels Breytenbach oor sy onstuitbare rugbyboek, Hond se gedagte.

Ek deel die verhoog met ’n Vlaamse en ’n Nederlandse skrywer, Lize Spit en Mira Feticu. Christy Weyer-Loedolff vra ons uit.

Debbie Loots en Reney Warrington gesels met Abraham le Roux oor wat vroue wil hê.

Annelize Visser gesels met Lientjie Wessels oor haar lieflike Geure.

Tertius Kappe en Andre Kruger gesels oor laasgenoemde se Geen engel nie.

Diana Ferrus, Musawenkosi Khanyile en Beverly Rycroft gesels met Bibi Slippers oor hoe hul digbundels stories vertel.

Loftus Marais, Ingrid Winterbach en MC Botha gesels oor Etienne Leroux.

Dinsdag praat Foeta Krige oor die SABC8.

Ena Jansen praat met Ingrid Winterbach, Myrtle Witbooi en Clementine Mosimane (Poppie) oor Soos Familie.

Andre le Roux praat met Julian Jansen oor Kinders wat moor.

Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek kom aan die bod met Sonja Loots en Steward van Wyk.

Die nuwe Toyota US Woordees-kortverhaalbundel word bekendgestel.

Ek en CapeTalk se Sara-Jayne King gesels in ’n eksklusiewe Skype-onderhoud met Jodi Picoult in Amerika.

Andries Buys alias Lodewyk G du Plessis gesels met Danie Marais oor die musiek van Die dao van Daan van der Walt. Andries praat ook later met Frederik de Jager oor dié boek.

Erla-Mari Diedericks klets met Marion Holm oor Seks, leuens en die internet.

Marita van der Vyver, Christy Lefteri en Diana Ferrus gesels met Meg Vandermerwe oor die impak van oorlog op vroue.

Pieter Hugo praat met debuutdigter Kleinboer.

Erns Grundlingh gesels met Johann Symington oor Sushi en Shosholoza.

Carla van der Spuy praat met Riëtte Rust oor Liefde agter tralies.

Irna van Zyl en Ingrid Jones gesels oor Bloedsteen terwyl Anna Davel sing.

In ’n Vernacular Spectacular: Keeping Up met Kaaps gesels Theresa Biberauer met André Trantraal, Olivia M. Coetzee en Ricardo Arendse en Jitsvinger tree op.

 Jaco Wolmarans praat met Rudie van Rensburg oor Skag.

Daar is ’n huldiging aan teaterpionier Reza de Wet, met Temple Hauptfleisch, Marisa Keuris, Danie Stander en Dawid Minnaar. Susan Coetzer lees voor

Ek sien uit na die bekendstelling van Jeanne Goosen se biografie ’n Lyf vol sinne. Biograaf Petrovna Metelerkamp praat met Sandra Prinsloo.

Louise Viljoen gesels met Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer.

Annemarié van Niekerk en Pieta van Beek gesels oor “my moeder se moeder se moedertaal”.

Hannes Barnard en Ben Viljoen gesels met Bettina Wyngaard oor seuns se seerkry.

Johan Jack Smith, Sidney Gilroy en Pieter-Louis Myburgh gesels met James-Brent Styan misdaadfiksie en -niefiksie.

Elna van der Merwe lei ’n gesprek oor Alba Bouwer.

China Mouton en sy hond, Dirkie, praat met Dana Snyman oor sy treffer Tronkhond.

Petro Hansen en Ira vBlankenberg gesels oor Hansen se rubriekebundel, Vervleg.

Azille Coetzee gesels met Lindie Koorts, Martie Meiring en Mercy Kannemeyer oor In my vel.

Bibi, Loftus en nog ’n spul digters praat oor sewe sondes.

Willem Krog en Skrop se Schalk Schoombie is in gesprek met Lien Botha oor wetenskapfiskie en Dawid Minnaar lees voor.

Ruan Kemp praat met Etienne Bloemhof oor Gedeeltelik bewolk.

 Baie van die boeke en skrywers het ons hier bespreek. Gaan soek self die venue en tyd op, ek het maar net enkele hoogtepunte uitgelig. Laat die woord feesvier!

Marius Crous: Geen ou wit man wat kletsrym nie

deur Deborah Steinmair

Hoe leef jy met ’n kop vol metafore?
Is nogal vermaaklik. Veral as ek dit probeer gebruik in gesprekke met mense. Soms lei dit tot selfspot, want dis aanstellerig. Ek wens net ek was minder toondoof. Gelukkig neem ek nie myself so ernstig op, dat ek onder die vyeboom sal gaan sit en met ’n pose in die lug staar en, hees gestem, voordra nie. Ek dink tog daar is iets soos die nege muses wat soms vir ons snitte uit die Akasjiese rekords voorspeel.

Hoe ontstaan ’n gedig?
Ek luister na musiek en ’n reël uit die liriek prikkel my. Ek sien iets en dink daaroor na. Kyk na ’n fliek en onthou ’n beeld – of kyk na skilderye en dokumentêre films op You Tube. Ek probeer my oog te leer om meer om my te kyk. Ek voel onmagtig as ek byvoorbeeld na Bach luister, want hoe kan ek daardie matematiese presisie vasvang in ‘n gedig. ’n Mens begin maar met ’n skrale gediggie, so ’n skelet, wat jy dan moet oppomp met dikmelkwaterpoeiers en daaglikse oefeninge.

Wanneer skryf jy?
Ek het nie ’n spesifieke tyd nie. Die heerlikste tyd om te skryf is wanneer jy in een van daardie ellelange vergaderings sit en verswelg word deur ’n strontvloed van nonsens. Jirre, om te dink mense wat pretendeer om intellektueel te wees, kan met soveel retoriese oordaad vorendag kom. Jy word gedwing om af te skakel en te konsentreer, veral aangesien jy vasgekeer word en nie kan vlug nie. Ek begin altyd sulke lang rye rymwoorde te maak.

Kan jy iemand leer dig?
Mens kan iemand hoogstens bekend stel aan poëtiese vorms. Of hoe om geykte taal te vermy. Of hoe om sing-song rymwoorde te vermy. Ek probeer studente ook blootstel aan digters in ander tale (al is dit in vertaalde vorm), want ek weet nie wat voornemende digters lees nie.

Day job:
Ek doseer Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk (in Engels vir voorgraadse studente) en in Afrikaans. Dit is juis as gevolg van moontlike invalshoeke soek vir studente se skryfoefeninge dat ek Marjorie Perloff se boek The Poetics of Indeterminacy ontdek het. Ook haar opstelle oor collage. Maar wanneer studente fotokopieë maak van voorgeskrewe boeke of op hulle fone sit en lees, dan raak ek mistroostig. Of laas jaar toe ek liries raak oor Keats en ek besef, die tweehonderd studente voor jou het nie ’n fokken clue waaroor jy so aangaan nie. Gaan ek voort? Spot ek met Keats en myself? Of wat?

Ideale leser:
Iemand wat nie sal uitroep: Og, got, tog nie al weer nie.
Iemand wat nie sal uitroep: Weer die ou moffiegesanik.
Iemand wat sal nadink oor wat ek geskryf het en die storie verder vat.

Is plagiaat ’n gevaar?
Altyd. Mens wonder of jy studente moet aanmoedig om te lees ter wille van tegniek, want wie gaan naboots en wie gaan plagiaat pleeg. Die kwessie van oorspronklikheid is ter sprake: hoekom iemand anders verwerk en nie jou eie idees uitdink nie? Of is daar niks nuuts onder die son nie? Skryf ons almal nie maar as deel van ons kollektiewe onderbewussyn oral oor dieselfde issues nie?

Boekgesprekke?
Ek hou nie daarvan om oor my eie werk te praat nie. Ek vind dit ook vervreemdend om artikels oor my werk te lees, alhoewel ek soms dink: sjoe, ek het nie daaraan gedink nie. Ek weier om my gedigte met studente of leeskringe te behandel.

Tussenganger:
Daar is gedigte oor die dood van my ma in 2015; daar is gedigte oor moderne skilders; daar is gedigte oor Middeleeuse en eietydse geestelikes; gedigte oor die Katolieke kerk (ek is ‘n lapsed Catholic, lou in die mond). Ek probeer sin maak oor Fees Must Fall, oor die verniel van die planeet en op siniese wyse sluit ek af, met Von Trier se Melancholia waarin Leo, Justine en Claire sit en wag vir die groot planeet om met ons s’n te bots – vir die finale knal.

Tussenganger is nou op die rak. Prof. Louise Viljoen gesels Saterdag 22 Februarie om 11:00 met Crous by Protea boekwinkel in Stellenbosch.

“Ôs liewe, ôs su’vive, ôs groei, ôs raak stêkker”

deur Deborah Steinmair

Olivia oor Kaaps:
Ek skryfie in standaard-Afrikaansie. Dissie my taalie, ek sal oekie try om dit te doenie. My naskoolse opvoeding was in Engels, van die bachelor’s af tot by master’s. Innie Shadows was ees in Engels geskryf, en deu leiding van my supervisor skryf ek dit toe oo in Kaaps.

Ek het gehoo, en gelies dat Kaaps is infact ouer as Afrikaans. Maa ôs wiet mos nou amal hoe Afrikaans mag gekry het, en oo’gevat het. En die storie wat vetel wôt oo Kaaps, en Afrikaans is mos nog steeds een van, “Kaaps is ʼn veil, smetterige taal, ʼn taal wat gêngstes praat en wattie in die kêkbanke hootie”, maa “Afrikaans, ja, Afrikaans is die ‘regte operate’”. En dissie net standaard sprekers wat dit soe sienie. Onthou, die woort ‘Kaaps’ is maa ʼn niewe woort. Voo ek my bachelor’s graad beginte het, het ekkie gewiet van ʼn Kaapsie, wan volgens my was die taal bekend as Slêng, nou wie willan nou koebuis Afrikaans praat of in skryf? Maa daai way van dink het gou gechange toe Litnet my vra om vi hulle te skryf in Kaaps.

Oor die Kaapse Vlakte:
Ek dinkie ôs kan heel annekant uitkô as ôssie familie, en mense in ôs liewe het wat helpie. Ek mien ôs moet helfte van die maand brood op skuld gevat het by die huiswinkeltjie, of by Antie Des, en Antie Yolanda ees ʼn bietjie die, of ʼn bietjie daai loep lien het. My ma het ôs allien groot gemaak, en die ‘nonsupport’ wat sy gekry, was glattie ees genoeg om die eeste wiek rêrig mien uit te kô nie. My ma het na ʼn kinnes van die neighbes gekyk, sy’t naalwêk gedoen, wat sy nog steeds doen om ôs antelat gan. Ek het op hoërskool êntjies en bubblegum gemêrt, ek het krismis tye anne mense se huise gat skoonmaak, en klere gestryk net soerat daa ʼn brood en ʼn blikkie vis kon wies om an te iet. En assitie vi ôs neighbes wassie, dan wiet ekkie hoe ôs daa deu kon gekommitie. Soe ek konnie rêrig kindwiesie, wan my reality het dit van my af vewag om grootmens te wies. En ek dink dat dit nog steeds soe is, assittie êger issie.

Maa dit gattie net oo geld of resourcesie, maa dai giestelike bystand wat communities vi mekaa is, daai is wat ôs dra. En dissie geval ooral in gemienskape wat djy nie kan help, but om op annes te dependie, waa annesie kan help om op jou te dependie. En dis hoe ôs kan suvive, maa om groot te droem is mos maa min op die spyskaart vi ôs, soe om deu te kô sonne dat djy deel raak van ʼn gêng, of djy gat hak vas by die drugs, is maa moeilik, maa baie mense su’vive, hulle bly, hulle begin biesaghede, hulle change hulle realitiete, hulle droem.
Soe, dit lykkie miskien of ôs “uitkô” nie maa ôs liewe, ôs su’vive, ôs groei, ôs raak stêkker.

Oor aktivisme:
Ek is net ʼn gender-aktivis, wan ek is ʼn taal-aktivis oek, en ʼn menseregte-aktivis, diere-aktivis, land-aktivis. Vi my garrit oo wat kan ek doen as mens in my kapasiteit om annes te help. Wat is my service wat ek kan gie an die mense daa buite? En dis waa skryf en die stem wat ek het wanne ek skryf inkô.

Oor ‘gaan dinge regkom?’
As djy praat van hoe lank garrit vat vi So-Called-Wit mense om amal te sien dat hulle nie hoër is as die res van ôs sie, dan gat dit oek tyd vat. Die selle met So-Called-Black mense wat nog daagliks moet deal met die kwaad en die haat tienoo die Apartheid se legacy wat ôs nog daagliks tien vaskyk. Ek dink Suid Afrika het nog somme ʼn vê pad om te stap, Suid Afrikaners het nog somme ʼn baie hoë berg pas om te klim, en wee annie annekant af te stap, en mens wiet mos die opklim issie die swaaste nie, maa daai afkô… En ek dink ôs kô nou eeste af van daai eeste hiewel af, die bêg wat voo lê, wel, ek dink ôs moet maa nou al beginte bid.

Oor haar karakters:
Ek het miskien ʼn oeg of ʼn nies hie of daa gesteel, maa hulle elkeen op hulle eie is uniek, en nie gebase op mense wat ek kennie.

Oor godsdiens en die menslike aard:
Die ‘core’ van menswies is volgens my en wat die Bybel my oek geleerit, Liefde, wan ôs Got is Liefde, en ôs is oek ʼn representation van Got, en dan oek van Liefde. Godsdiens lat mense gloe dat hulle kan kies-en-keer uit die huilige scriptures uit om te maak net soes hulle wil. Was kolonialisme en Apartheid se wortels nie gevoed deu die ideë dat ‘wit mense’ die Bybel se kinnes issie? Ek mien hoe stêk is daai geloef nog tot vandag toe? Soes Tata Tutu gesê, ‘Hulle het ôs die Bybel gebring, en hulle het ôs land gevat.’

Ek voel net mense gebruik die Bybel, en anner huilige skrifte om te maak soes hulle Got is, en hulle trek anne mense agte hulle an. En mense volg. En dit maak see dat mense soe met toe oë die Bybel lies.

Oor poësie:
My skryf het begin by gedigte. Dit was deel van my present an my ma vi haa birthdays, en Mother’s Day. Ek het dit die eeste kee getry, en toe ek sien hoe dit my ma raak, het ek dit anmekaa gedoen. Ek het deu my jongmense liewe gerebel en my vegooi in drank en parties, en het my gedigte skrywery en liesery weg gedruk. Maa dit wee later in my 20s wee opgetel. Maa ek het nooit in Afrikaans of Kaaps rêrig geskryffie, tot nou toe nie. Wan ek hettie die taal wat ek praat gesien as ʼn taal wat ʼn mens kan in skryfie, wan niemand annes het dit gedoenie.

Oor ’n volgende boek:
Ja, ek het al beginte skryf, hie ʼn stukkie, daa ʼn stukkie, en is biesag met nog navorsing vi die neks boek. Die Boek se naam is ‘Die Twiede Koms’. En ek sien uit om dit klaa te skryf, maa op selle tyd maak daai ‘realiteit’ wat ek moet gat face in daai my dodelik bang, maa die storie djaag my, soe ek sal maa aandag gie soes dit moet wies.

Kom luister by die Woordfees na Innie shadows: Krimi in Kaaps! MisdaadfiksieAangebied deur Modjaji

Deborah Steinmair stel ’n splinternuwe krimistem bekend, dié van die UK-student Olivia M. Coetzee, wat haar misdaadroman oor die Kaap in sy geheel geskryf het in die taal van sy mense – Kaaps. Welkom, Innie Shadows. Armoede, tik en godsdiens is ’n groep vrinne se daaglikse brood tot een van hulle vemis raak. Waa is Carl, hoekô niem Gershwin sy eie liewe, en wat lê agte die vebrande lyk wat in Shadow Heights gekry wôt?

9 Maart 12:00, 60 min | Adam Small-seminaarkamer R65 | R85 by die deur

Parys, heimwee, die groen fee, die Vierkleur

Renée Rautenbach Conradie se boek Met die Vierkleur in Parys verskyn by Protea sodra die drukpers weer begin rol. Dis ’n historiese roman oor ’n jong Afrikaanse argitek wat help ontwerp aan die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Wêreldskou in Parys in 1900. Die Bolander Paul Roux het ’n Joodse geliefde in Kaapstad, maar word verlei deur die aanloklikhede van die stad van die liefde. Die leser ervaar saam met hom die kleure en geure van jolige Parys en ’n brok van ons geskiedenis wat aan vele heeltemal onbekend is. Dis onweerstaanbaar aards geskryf. Hier is ’n proesel:

“Die kaal stamme van rye bome om ’n vierkantige plein blink onder die lampligte. Daar is ’n paar kafees waarvan die vrolikheid buite toe trek, maar hulle stap verby, die bult af tot hulle by ’n eetplek op ’n hoë hoek kom. Van buite af hoor Paul die geruis van stemme.

“Le Lapin Agile,” sê Sébastien. “Pour les Bohèmes.

Hier kom ook ’n ander soort mens bymekaar, sien Paul. Beslis niemand van die ZAR se kantoor of iemand wat in Rue de Rivoli paradeer nie. Hul hare is langer, baie van die mans dra vrolike serpe, die vroue se hare is losserig en hul halse ontbloot. Dit klink of almal met verhewe stemme die sangeres op ’n verhogie wil doodpraat.

Sébastien sit met ’n glas voor hom. Paul hang sy jas en hoed aan ’n kapstok op en skuif by die tafel in terwyl die Fransman iets bestel om te drink. Paul leun gemaklik terug en steek sy pyp op. “Dis darem ’n raserige dorp van julle dié!”

Twee glase met bolle aan die onderkant, twee vreemde silwer lepels met gaatjies in en ’n bottel met ’n groen fee op die etiket word hard deur ’n kelner voor hulle neergesit. Sébastien balanseer ’n lepel met ’n suikerblokkie bo-op elke glas en skink dan van die groen drank daaroor. Hy beduie dat hulle moet wag tot die suiker gesmelt is, dan kom daar water by wat dit melkerig maak.

“Absint,” sê Sébastien en glimlag skalks terwyl hy ’n sigaar opsteek.

Die musiek raak al lewendiger en harder en die ligte word verdoof. Uit die donker spring raserige meisies op die verhogie en toe dit weer ligter word, sien Paul net vere, valletjies en bene soos die vier hul rompe heen en weer swaai en opskop.

Die meisies hardloop al jillend vorentoe en agtertoe, skop reg die lug in, buk af grond toe om hul broekies te wys en slaan bollemakiesie – alles met die grootste lawaai. Paul neem ’n paar stewige slukke van die glas voor hom en probeer verstaan wat geskree word deur die gehoor en die danseresse, maar kan nie.

Hy kyk na Sébastien, maar dié lag so hard vir die woorde wat die meisies uitgil, dat hy nie agterkom Paul lyk geskok nie. Twee van die meisies het kniebroeke aan, bloomers soos sy ma sou sê, maar die ander twee se swart kouse kom tot net bokant die knie en verder is daar niks. Hy soek na sy pyp sodat hy rustiger kan lyk en nie so ooglopend geskok nie.

“Dis jolig, nè?” sê-vra Sébastien toe die meisies van die verhoog af spring. Dit eers nadat hulle met bloedstollende gille plat, met hul bene oopgespalk, op die vloer geland het.

Paul neem eers nog ’n sluk van die nuwe skoot absint wat vir hom ingeskink is.

“Nee kyk, my bek hang oop. Ek het veral van die een met die wilde rooi hare gehou. Is hulle dan nou klaar?”

“Dan is dit maar goed dat jy nie die woorde verstaan het nie. ‘Vulgêr’ is seker die beste woord, maar hier is dit altyd baie snaaks.” Sébastien bestel nog drank. “Die rooikop, sê jy? Ag nee wat, sy kan nie dans nie en het jy gesien dat sy nie in die spreibeen kon sak nie? Seker ’n nuweling, want ek het haar nog nie hier gesien nie.”

As dit is hoe jollie die lewe hier gaan wees, kan hy selfs hierdie nare ou kamertjie hanteer, lag Paul toe hy veel later op die kort kateltjie in madame Le Clerque se chambre de bonne neerval. Die briewe wat hy vir Miriam en sy ma wou skryf, skoon vergete.”

Vyf vrae aan Bloedsteen se Irna van Zyl

deur Schalk Schoombie

In Bloedsteen, jou derde speurroman, wiggel jy verskeie verhale en karakters. Hoe het jy tred gehou met als?

Vir elke boek maak ek ná die eerste draft ’n opsomming oor twee dubbelbladsye met ’n tydlyn langsaan. Dit help my om leemtes raak te sien en waar hoofstukke rondgeskuif kan word of wat moet gewoon geskrap word. Vir Bloedsteen was die proses ekstra belangrik weens die tydspronge en parallelle verhaallyne.

Voordat ek daaraan begin skryf het, het ek ’n taamlike ruggraat gehad van waarheen die boek wou gaan en het uitgebreide aantekeninge oor die karakters gemaak, maar daarna het ek dit oorgelaat aan ure en ure op my sitvlak en hopelik ’n skeut magic of twee om die proses te voltooi.

Ek werk ook gewoonlik met drie notaboeke – een vir waarnemings en daaglikse opskryf van verwante of onverwante dinge, een as ’n werkboek waarin enigiets neergeskryf word, van hoofstuk-opsommings voordat ek daaraan begin skryf tot stukkies dialoog wat ek by ander mense afluister. Die derde een is waarin ek die verhaallyne en karakters uitskryf en vir myself ook grafies voorstel. Dit gebeur organies soos wat ek verder en verder skryf.

En om dinge bietjie deurmekaar te maak, is dit alles baie meer ongeorden as wat dit hier klink en in verskillende kleure penne. Daardie deel is ’n bietjie van ’n bygeloof, ek glo dit help om te my kop los te maak.

Jou hoofkarakter is ’n veteraanspeurder en diep menslik. Waar het jy inspirasie vir speuradjudant Storm van der Merwe geput?

 Storm het saam met my gegroei soos wat die boeke gebeur het. Sy’s nie eintlik op enigiemand spesifiek geskoei nie. Ek dink op die ou einde het ek meer in myself gaan delf en meer onder haar vel gekom. Ek hoop ek kan dit volhou in die toekoms!

As navorser en bekroonde joernalis en redakteur het jy ’n fyn neus vir ’n nuusstorie getoon. Sou jy ’n speurder kon wees?

Dis baie snaaks. Toe ek op laerskool was, is my ma se handsak deur haar slaapkamervenster van haar bed af gesteel. Ek het met groot belangstelling ingesit in die speurders se ondervraging en soos ’n regte voorbarige kind met etlike voorstelle gekom oor hoe ek dink mens die skuldige kan vang. Totdat een van hulle gesê het ek moet ’n speurder word! Dit was in die tyd toe speurders nog die diefstal van ’n handsak sou ondersoek.

Ek moet sê ek dink boeke weerspieël ’n baie meer romantiese idee van die bedryf as wat die werklikheid is.

Die storie sirkel telkens terug na Hermanus. Is dit waar jou idees vandaan kom?

Hermanus is waar albei my ouers begrawe is (dalk dié dat die begraafplaas ’n rol in die boek gekry het) en die dorp waar hulle die langste gewoon het. Die eerste draft van Bloedsteen is in 2018 op Hermanus geskryf, terwyl die dorp vasgevang was in onluste.

Ek probeer gewoonlik soggens eerste ding skryf en soms duur dit voort tot in die aand, maar tans, met die inperking, is alles op sy kop gekeer en sukkel ek om ’n ritme te vind.

Die idees en temas vir Bloedsteen kom vanuit verskillende plekke: die diamante uit ’n gesprek met ’n Uber-bestuurder en die mode het ek spesifiek gaan navors deur ’n lang gesprek met ’n ontwerper, ’n moderedakteur en ’n modelbaas. Die res is verskaf deur Suid-Afrikaanse nuus met sy vele interessante egosentriese en korrupte karakters.

As groot leser en eertydse boekeredakteur van Insig is jy iemand wat wyd lees. Sou jy iets anders as speurromans wou aanpak? 

Ek was ’n taamlik snobistiese letterkunde-leser totdat Joan van Zyl, destyds by De Kat my voorgestel het aan Patricia Cornwell. Ek het verlief geraak op die spanningsgenre en al hoe meer daarin begin lees. Huidige internasionale gunstelingskrywers is Belinda Bauer en Jane Harper.

Ek skryf soms kortverhale as vingeroefeninge, maar is nie noodwendig baie goed daarmee nie en hier en daar krap ek aan ander idees: ’n populêre radiodrama dalk, ’n kinderboek moontlik, maar telkemale roep die spanningsgenre my weer. Tans is ek besig met ’n boek met ander karakters as Storm en haar maats. Ons sal sien of dit uitwerk.

3 vrae aan Christine Ferreira & Marielle de Vos

deur Schalk Schoombie

Die skrywers van Die liefdesboek: God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar (Lux Verbi) het in die Bybel en hul eie lewens gedelf om die aard van liefde te herontdek.

Christine Ferreira is die redakteur van die vrouetydskrif Leef met hart & siel. Sy tree dikwels as spreker op. Vantevore was Christine deel van SARIE se redaksie, waar sy vir bykans tien jaar skoonheidsredakteur was. Christine woon in Johannesburg en is getroud met Johan, ʼn pastorale sielkundige.

Marielle de Vos is ʼn pastoor van Randburg. Sy het die Evangelie al wêreldwyd – van Amerika tot Frankryk, Australië en Israel – en oor denominasies heen bedien. Sy is reeds 37 jaar lank getroud en het twee volwasse kinders en een kleinkind.

Hoe spreek die boek nou in die tyd van skrik en afsondering?

Christine: Ek dink die boek is van groot waarde in hierdie tyd aangesien dit ons weer aan God se standvastige karakter in onseker tye herinner. Sy liefde is getrou. In die boek neem ons die leser op ʼn reis om met vars oë na die liefde te kyk. Iets waarvoor ons in hierdie stiller dae tyd kan maak. Ek dink ons het juis nou die anker van God se liefde in ons lewens meer as ooit nodig.

Marielle: Geen virus of siekte of dood kan ons skei van Sy liefde nie. Leef Sy liefde tuis in hierdie tyd.

Hoe het julle saam aan die boek gewerk? Hoe lank het dit geneem?

Christine: Die idee vir die boek is gebore tydens ʼn radio-onderhoud oor die mooiste liefdesverhale van die Bybel wat ek met Marielle tydens my program op Radiokansel (Dinsdagoggende van 9:00 tot 11:00) sowat twee jaar gelede gevoer het. Marielle het daarna met die raamwerk van die hoofstukke vorendag gekom. Sy het ook haar gedeelte eerste geskryf. As pastoor was sy verantwoordelik vir die teologiese grondslag waarvandaan ek verder gewerk het as joernalis en skrywer. Ek het veral aandag gegee aan die praktiese toepassings van die liefde, die getuienisse van mense en aanhalings van bekendes oor die liefde. Ek en my man is see toe vir 14 dae gedurende die Paastyd verlede jaar en het ek daar elke dag ongeveer ses ure lank geskryf. Dit werk vir my die beste om dit alles op een slag te voltooi.

Marielle: Ek tik gewoonlik die raamwerk of indeks en dra die  geestelike aspekte by. Christine sien dan om na die praktiese deel.

Daar is al soveel boeke oor liefde en geloof geskryf. Wat maak hierdie een anders?

Christine: Ja, daar is inderdaad al baie boeke oor dié onderwerpe gekryf. Ek dink tog ons boek het ʼn vars aanslag in die manier waarop die inhoud aangebied word. Boonop maak die feit dat dit ʼn werksboek is waarin die leser aangemoedig word om notas te maak asook die pragtige illustrasies deur Paula Dubois, Lééf met hart & siel se kunsdirekteur, dis uniek en anders.

Marielle: Die liefdesboek dek verskeie aspekte van God se liefde. Die liefde van die Vader, dié van Jesus en Heilige Gees word ook ondersoek. Die boek dek aspekte van Sy liefde vir gelowiges, ongelowiges, uitgeworpenes, jong liefde en moederliefde om maar ’n paar te noem. Vir die intellektuele persoon word verskeie tipes liefde onder die vergrootglas geplaas.

5 vrae aan Deborah Steinmair

deur Schalk Schoombie

 Moorddrome en skuldgevoelens dryf Deborah Steinmair se jongste roman, As jy van moord droom (Lapa).

Waarvandaan die catchy titel?Het jy self al van moord gedroom? Hou jy ʼn droomjoernaal?

Ek droom van kleins af dikwels dat ek moord gepleeg het, maar ek kan nie die besonderhede onthou nie, of die motief. Ek weet net ek is diep skuldig. Dan wonder ek soms of ek nie dalk op ’n ander vlak, in ’n parallelle heelal, gemoor het nie. Die vae skuldgevoel kry ek moeilik afgeskud. Ek het begin om in die nag op my foon “Notes” te skryf oor my drome, soos nou die aand s’n: “Die virus gee mense geheueverlies tot verskillende mates. Hulle kan nie onthou hoe om te leef nie. Sommige kan wel nuwe herinneringe skep en hulle word die wyses. Ander moet elke dag leef asof dit die eerste is, soos groundhog day. Die vrou het vergeet hoe om te slaap. Soms kry sy dit per ongeluk reg, net om wakker te skrik en weer glad nie te weet hoe nie.”

Hoe verskil jou jongste roman van jou vorige, snel bewegende raaiselromans?

Ek is altyd verknog aan raaisels. Ek reken hierdie een is ook snel bewegend, dalk met meer aandag aan karakters. Huishoudelike noir is ’n groot sambreel. Die fokaliseerder is ’n vrou en sy is lekker onbetroubaar en soms die kluts kwyt. Dis nogal donker, maar uit die swartste modder ontspring die witste lelie, of dalk die blinkste galgehumor.

Wat was die moeilikste en lekkerste van die skryf aan dié boek?  

Niks was moeilik nie, dit was, soos Jeanne Goosen gesê het van skryf, soos om te toor of te droom terwyl jy wakker is. Die storie en karakters het my heeltemal ingesluk. Dis geskryf voordat ek voltyds begin werk het, so ek kon min of meer dag en nag in die tonnel vertoef. Dit het begin by ’n vraag wat elke moeder haarself afvra: Sê nou my kind word ontvoer? Toe gaan ek ’n stap verder, soos dit al in die werklikheid gebeur het: sê nou my kind kom terug, twintig jaar later en sy is ’n ander mens?

Die resensies is gloeiend. Steur jy jou daaraan?

’n Mens kan nie help om jou aan resensies te steur nie. ’n Mens steur jou aan elke mening, want jy skryf vanuit ’n donker tonnel, stoksielalleen en weet nooit hoe dit ontvang gaan word nie. En resensente is belese en geletterd en ingelig. Ek is innig dankbaar vir die positiewe resensies, want ek het in die afgelope jaar baie boekmense die harnas ingejaag.

Uitgewer, joernalis, skrywer. En dan nog onversadigbare leser. Hoe hou jy al die balle in die lug? Is jy ʼn spoedleser?

Hoe meer ’n mens doen, hoe meer kan jy doen. En hoe langer jy iets doen, hoe deegliker en vinniger kan jy dit doen. Dis lekker om besig te wees met iets wat jy hartstogtelik bemin. Ek kan vinnig lees, maar as die teks mooi is, lees ek sinne oor en oor en “luister” daarna. Dan kan ek nie vinnig lees nie. En ek slaan baie moeilik iets oor, selfs ’n geslagsregister.

5 Vrae aan Sophia Kapp

deur Deborah Steinmair

Vertel ons van jou nuwe roman:
Kanaän is ʼn historiese liefdesverhaal wat in 1944 in Senekal se distrik afspeel. ʼn Engelse meisie beland in ʼn gerieflikheidshuwelik met ʼn rou Afrikanerboer. Dis ʼn troop in die Afrikaanse liefdesromanwêreld, maar ek het probeer om deur die troop te skryf en die karakters mense te maak.

Nadat jou e-boek onwettig op kletsgroepe versprei is, het jy het gesê jy sal voortaan in Engels skryf. Sal ’n mens nie gekniehalter wees in jou tweede taal nie?
Baie. Ek het al probeer om ʼn Engelse storie te skryf, maar dis soos tande trek – bloederig en uitmergelend. Dit werk ook nie, want in plaas daarvan om storie te skryf, skryf ek taal, en dit raak aanvoelbaar – die storie is stram en ongemaklik en sommer net nie lekker om te lees nie. Maar as ek geen inkomste meer uit my skryfwerk in Afrikaans maak nie, moet ek nou maar eenvoudig my Engels afstof en nog ʼn keer probeer.

Hoe voel dit om ’n nuwe boek te hê, maar jy kan dit nie in die hand hou nie en niemand kan die harde kopie koop nie?
Kyk, dis sleg. Boeke is soos ʼn mens se kinders – jy maak hard aan hulle groot, en dan wil jy graag sien hoe hulle die wêreld invaar en ʼn verskil maak. Hierdie een is soos ʼn kind wat mondig geword het en nou nêrens kom nie, want die lewe het teen haar gedraai. Maar ek wil nou ook nie te hard kerm nie, daar is mense daar buite wat swaarder kry as ek.

Gelukkig is die boekwinkels weer oop. Is jy ’n groot aankoper van boeke? Wat lees jy graag?
Nee, en nee (erken ek tot my skande). My hele dag bestaan uit lees – ek werk ten minste 16 uur per dag voor ʼn rekenaarskerm. Dit is uitputtend, ʼn mens se oë is moeg en jou brein is voos. Om dan met ʼn boek te “ontspan”, werk nie. Maar as ek die dag lees, lees ek liefdesverhale. Ander goed ook, maar ʼn mooi liefdesverhaal met ʼn goedvoeleinde is ʼn baie gerusstellende ding.

Hoe dink jy gebeur dit dat pdf’s van manuskripte versprei word?
Boeke van alle uitgewers, nasionaal en internasionaal, word onwettig versprei. Ek dink een of ander kuberkraker het die enkripteringskode van e-boeke gekraak, en dieselfde program word nou net so gebruik om alle e-boeke om te skakel. Die vraag is eintlik ook nie meer wie dit gedoen het of waar dit gebeur nie, die vraag is of dit ooit stopgesit kan word, en dis daar waar ek begin vermoed die boekbedryf is in die moeilikeid.

Kanaän verskyn ná die grendelstaat by Lapa maar is reeds as e-boek beskikbaar. https://amzn.to/2V72grZ

Lees ook Sophia se insiggewende gesprek met Melt Myburgh LitNET oor e-diefstal in die grendelstaat en vermetel lesers wat boeke as allemansgoed beskou: https://www.litnet.co.za/e-boeke-afrikaans-word-dood-gesteel/

Om ’n dekade te definieer: Die 80’s se top-10

deur Deborah Steinmair

Op een van my geliefkoosde webwerwe, Literary Hub (www.lithub.com) lees ek oor die tien boeke wat die 1980’s gedefinieer het. In die 1980’s was ek jonk en het ek baie gelees. Ek is bly om te sê ek het sewe van die tien boeke gelees, wat vormend was in my lewe. Die drie uitsonderings wat ek nie gelees het nie was ’n wetenskapsfiksieboek, ’n jeugboek en ’n western.

Van die boeke wat ons gevorm het, behou ons die essensie, ’n soort konsentraat, of soms net ’n manier van kyk en verwoord.

Raymond Carver was digter ook en in sy kortverhale woon daar hele wêrelde tussen die reëls. Hy het my geleer om my woorde te tel en om te wys. Ek het my gunsteling-aanhaling van Carver gaan google, dit was ook in die fliek Birdman: “And did you get what you wanted from this life even so? I did. And what did you want? To call myself beloved – to feel myself beloved on the earth.”

Alice Walker se heldin in The Color Purple, Celie, se ongesofistikeerde maar wyse manier van vertel bly my by. Ek onthou hoe sy gesê het Sofia is die soort vrou, alles waarop sy haar hand lê, lyk soos ’n wapen.

Uit Don Delillo se White Noise onthou ek dat die verteller gesê het die gesin kyk graag op TV na natuurrampe en tragedies solank dit op ver plekke gebeur het. En dat die dogtertjie in haar slaap gepraat het. Toe die pa sy oor naby haar mond hou, hoor hy: Toyota Cellica …

Beloved van Toni Morrison het my hoogswanger en stoksielalleen in ’n plaashuis (moenie vra nie) vir ’n skrikwekkende nag wakker gehou en spook steeds by my. Ek onthou hoe kinderlik die spookkind was, so behoeftig aan moederliefde en soetgoed, eindeloos needy. “My first-born. All I can remember of her is how she loved the burned bottom of bread. Can you beat that? Eight children and that’s all I remember.”

Bonfire of the Vanities het ek op universiteit gelees en gesnap dat dit die dekade in ’n snapsglasie vasvat. En o, New York, New York. First we take Manhattan. Ek weet nie of dit goed was nie, maar dit was boeiend.

A Brief History of Time het ek gelees omdat ek gevoel het ek moet. En soms is dit so verleidelik wanneer helder denke duidelik verwoord word. Vergesigte wat oopval. Natuurlik kan ’n mens dit nie die volgende dag aan iemand anders verduidelik nie – het jy dit dus in die eerste plek werklik gekop? Tog, dit was ’n moet op elke boekrak met selfrespek. Stephen Hawking sal nou in my kop altyd lyk soos Eddie Redmayne in The Theory of Everything.

Rushdie se Satanic Verses het ek gedeeltelik gelees oor die skandaal, dat dit Islam bevraagteken het en die Ayatollah van Iran wat ’n fatwa uitgevaardig het dat Moslems die outeur om die lewe moet bring en verskeie aanslae op sy lewe. Tog het ek meer van Midnight’s Children gehou.

Hoeveel van dié boeke het jy gelees?

Tien onvergeetlike boeke wat die 1990’s definieer

deur Deborah Steinmair

Watter boeke het die negentigs gedefinieer? Weereens het ek gaan kers opsteek by www.lithub.com.

In die negentigs het ek min gelees. My kinders was klein en ek moes werk, huis en kinders jongleer. Ek onthou dat ek gewonder het of ek ooit weer ongestoord ’n boek van voor tot agter sal deurlees.

Uit die tien essensiële boeke van die negentigs het ek maar vyf gelees: The Secret History van Donna Tart, The Virgin Suicides van Jeffrey Eugenides, Bridget Jones’s Diary van Helen Fielding, The Fight Club van Chuck Palahnuik en Angela’s Ashes van Frank McCourt.

The Things They Carried, lees ek, was O’Brien se derde boek oor Viëtnam en word beskou as die beste boek wat ooit oor daardie oorlog geskryf is. Daar het wêreldwyd meer as twee miljoen kopieë verkoop.

Angels in America is nogal ’n drama. Dit het onder andere die Pulitzer-prys vir drama gewen en was glo die eerste belangrike drama met die gay leefstyl in Amerika in die negentigs, onder die skadu van Vigs, as sentrale tema.

Waarom het ek nooit Jesus’ Son gelees nie? Volgens lithub het min of meer elke skrywer dit gelees en omtrent die helte van hulle dit probeer naboots. Dit word beskryf as kultus-kortverhale, met invloede van Ernest Hemingway, Flannery O’Connor en Raymond Carver.

The Virgin Suicides het ek gelees en die fliek gesien. Eugenides het ’n manier van sien en sê wat in jou kop bly vassteek, ’n manier om ’n era in ’n neutedop te vervat, ’n gevoel vir milieu en aura wat moeilik te ewenaar is.

Infinite Jest, wat ek nie gelees het nie, word beskryf as die ur-teks van die negentigs. Dit het meer as ’n 1000 bladsye waarvan ’n tiende voetnota’s is. “Read today, the book’s intellectually slapstick vision of corporatism run amok embeds it within the early to mid-1990s as firmly and emblematically as “The Simpsons” and grunge music,” volgens Tom Bissel.

Briget Jones’s Diary word as die moeder van chit-lit beskou. ’n Mens onthou dit vir die humor en die fliek met Hugh Grant en Renée Zellweger. Die boek word beskou as die oorsprong van die woord “fuckwit”.

The Fight Club, wat ek gelees het, se verkope was blykbaar maar beskeie tot die fliek uitgereik is – toe het dit die kasregister laat klingel. Vir my is dit effe toksies manlik, met die onderliggende waarskuwing dat jy nie gewone, gefrustreerde mans moet onderskat nie. Die skelwoord “snowflake” het in die roman sy oorsprong:

Lithub noem Angela’s Ashes, wat ek ook gelees het, as die koningin van die Misery Memoir. Ons onthou ook die fliek. Die mense van Limerick was blykbaar nie so geïmponeer deur die boek nie en McCourt se ma (op wie Angela gebaseer is) het glo by geleentheid gesê dis ’n spul leuens, dis nie hoe dit gebeur het nie.

The Interpreter of Maladies, wat ek nie gelees het nie, is ook ’n kortverhaalbundel. Was die 1990’s die hoogtepunt van die kortverhaal-genre? Daar het meer as 15 miljoen kopieë verkoop en dit het die Pulitzer-prys gewen.

“Staaltjies stout en soet wat die oë laat rek”

deur Deborah Steinmair

Bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys het Die twee torings (die tweede deel van Tolkien se Lord of the rings) in gespierde Afrikaans omgetower. Dit word vanjaar deur Protea uitgegee. Hy was van kleins af lief vir tale: “Ek wou reis en vreemde goed en mense leer ken, en het besef mense is meer toeganklik as jy genoeg omgee om hulle moedertaal te (probeer) praat.”

Het hy die ander groot talekenner, Nerina Ferreira, geken? “Ja, ek was so bevoorreg! Staaltjies stout en soet wat oë laat rek – dit was Nerina daai! Ons het baie nagte deur gewerk terwyl ons albei in Seepunt vryskutvertalings vir oorklanking gedoen het. Sy het my ontsaglik baie van vertaling geleer – en tussendeur vele lewenswaarhede ingewerk. Dit was gewoonlik laatnag wanneer sy in haar sweetpak sit en werk en ons ’n film teen vinnige spoed kyk om uit te vind hoeveel dialoog daar is om te vertaal. Wanneer daar byvoorbeeld ’n toneel was waarin ’n skip geseil het en daar dus geen dialoog was nie, het Nerina kiertsregop gesit en gesê: ‘Seil, skippie, seil!’ want dit was geld wat inrol, aangesien ons betaal is per programlengte en nie die aantal woorde in die dialoog nie.”

Is enigiets vertaalbaar? “Onvertaalbaar is ’n vloekwoord wat gereeld by my opkom, maar jou werk as vertaler is om ’n ekwivalent in die teikentaal te vind. Indien nie, is daar altyd iets soortgelyks wat vir nuwe lesers in hulle taal die gevoel van die oorspronklike werk sal gee.”

Hoe pak hy vertaling aan? “Soms – soos met Tolkien – met bibberboude, maar ek het al geleer jy moet maar net induik. Ek vertaal gewoonlik taamlik vinnig, en bestee dan baie tyd aan selfredigering.”

Wat was uitdagend aan Tolkien? “Intense verhoogvrees en paniek voor die tyd! Beslis die meer “formele”, gedrae taalgebruik wat ek in Afrikaans getrou wou weergee. Dan die liriese en beskrywende gedeeltes – ek vaar van nature baie beter met dialoog! Verder is dit ’n kwessie van stamina; my moed was gereeld verby op. Ek en my redakteur, Shané Kleyn, dink baie dieselfde; danksy haar ondersteuning kon ek werk lewer waarmee ek uiteindelik tevrede was.”

Wat doen hy nóg? “Ek is seepskrywer en teksredakteur op Suidooster. Dis heerlik om met gevestigde skrywers én beginners te werk. Ek leer baie by die jongmense. Ek het jare lank oorklankingswerk gedoen, en gaan nou weer Die Sneeukoningin 3 in Afrikaans vertaal. Ek geniet dit om TV-draaiboeke te skryf – enkeldramas, en op die skryfspan van dramareekse soos Swartwater te wees. Hoe meer afwisseling, hoe beter!”

Sy gunstelingskrywer om te vertaal is David Walliams: “Hy is beslis die Dahl van die 21ste eeu. Ek verkneukel my in sy humorsin, sy konstellasie van karakters, sy afbreek van stereotipes – en boonop is alles met soveel deernis deurspek. Sy woordgebruik bied ook altyd heerlike taaluitdagings. Dit voel glad nie soos werk nie!”

Hier is ’n watertand voorsmakie uit Heerser van die torings: “… hy lyk soos ’n koning wat die kuste van mindere mense uit die newels van die see betree het.”

Zirk van den Berg

Ja, Zirk is sy doopnaam

deur Deborah Steinmair

Zirk van den Berg se eerste boek Ekstra dun vir meer gevoel het verskyn toe hy 29 was. Hy reken: “Die goed wat ek lees en wat ek wil skryf val iewers tussen Tryna du Toit en Ingrid Winterbach, en die mark verkies blykbaar die een of die ander – kommersieel of literêr. Ek sou graag boeiende stories wou skryf, soos kommersiële skrywers, maar met die geloofbare karakters en sorgsame prosa van literêre skrywers.”

Hy werk soms in ’n kantoor en soms tuis: “Sodra my vrou en kinders werk toe is, is dit net ek, my skootrekenaar en kat.” Hy skryf enigiets waarvoor hy betaal word. “Instruksies hoe jy paaie bou, persverklarings oor hoenderboerdery, bemarkingsbriewe vir kredietkaarte, tendervoorleggings vir skoonmaakdienste, brosjures vir begrafnisondernemers, en so aan. Dan het ek oor die afgelope klompie jare ook ’n hele paar boeke in Afrikaans vertaal, altesaam meer as ’n miljoen woorde.”

Oor Nieu-Seeland, waar hy woon: “Nieu-Seelandse skrywers het in 1985 en 2013 die Bookerprys vir literatuur gewen. Sedert 1993 het 24 Kiwis al Oscars gewen, onder meer die akteurs Russell Crowe en Anna Pacquin. Richard O’Brien se musiekblyspel The Rocky Horror Picture Show en flieks soos Jane Campion se The Piano en Peter Jackson The Lord of the Rings-reeks was wêreldwye treffers. So ook die musikante Kiri te Kanawa en Crowded House.”

Oor Suid-Afrika: “Dis baie swaar om jou land te verlaat. Een van die maniere waarop ek myself vergoed vir die gemis is om so min as moontlik te weet van wat in Suid-Afrika aangaan. Die teorie is dat die gebrek aan ontstellende nuus darem bietjie vergoed vir die hartseer.”

Hoe het Ek wens, ek wens ontstaan? “Ek het tien jaar gelede die idee gekry van die begrafnisondernemer wat glo hy het ’n wens gekry wat waar gaan word. Vroeg in 2017 was ek so radeloos oor ek niks uitgegee kry nie, dat ek probeer dink wat is die beste storie-idee wat ek het. Ek onthou toe hierdie een, los alles anders en skryf dit tjoef-tjaf klaar.”

Invloede: “Vladimir Nabokov, Raymond Chandler en Philip K. Dick. Die mense wat ek graag gelees het toe ek seker op my vatbaarste was.” Die bekroonde Franse skrywer Romain Gary se oeuvre beïndruk hom die meeste. Hy het ’n swakheid vir “voosgevatte boeke in tweedehandse winkels. So ontdek ek onlangs vir Andreï Makine en James Sallis. Die laaste topverkoper wat ek gelees het, was Annie Proulx se The Shipping News in die vroeë 1990s en die laaste literêre pryswenner kan ek nie onthou nie.”

Gunsteling Afrikaanse boeke: “W.O. Kühne se Huppelkind en Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe. Die een het my laat lag en die ander het my laat huil.”

Hy is altyd aan die skryf en het twee manuskripte gereed: “Een is vieslik en vermaaklik, ’n gruwelverhaal vol misdaad en seks, Nazis en annerlike monsters. Ons sal nog maar sien of iemand kans sien vir hom. Die ander is die vervolg op my Duitswesroman Die vertes in, wat seker my beste boek sover is.”

Tinus Horn (Foto Johann Kruger)

“Bob is bobaas,” reken Tinus

deur Deborah Steinmair

Tinus Horn is joernalis, skrywer, skilder en vertaler, maar het nie ’n day job nie: “Ek teken karikature by troues, verkoop af en toe ’n skildery, vertaal die Wimpy Kid-reeks in Afrikaans, doen taalversorging. Dit hou my aan die lewe.”

Wat was die impuls agter sy roman Boas Mei is verward? “Ek het in 2002 die kluts kwytgeraak en in die hospitaal beland. Hulle het ’n skandering gedoen en ’n bloedmassa so groot soos ’n gholfbal op my brein bespeur. Die herstel was die moeilikste ding wat my nog oorgekom het. Ek wou later daaroor skryf, en absurdisme staan my aan. Dit was nie eers nodig om baie ver van die waarheid af te wyk nie.”

Hy het onlangs Leon de Kock se The love song of André Brink in Afrikaans vertaal. Hy vertel: “Brink was ’n openbare figuur. ’n Biograaf wat iemand se beeld blinkpoets en van die feite wegskram, mors sy eie tyd en die leser s’n. Nou moet ek beken dat skrywersbiografieë my verveel, op een uitsondering na: Gore Vidal se skitterende outobiografie, Palimpsest. Die biograaf se verantwoordelikheid is om die waarheid te vertel en die leser te vermaak.”

Wou hy nog altyd skryf? “Die romantiek van ’n lonesome traveller wat sy omswerwinge beskryf, soos Jack London, het my aangestaan.”

Hy verkies skryf bo skilder: “Ek het myself as skilder in die steek gelaat; altyd ’n oog op die mark gehou, eerder as om te speel en te kyk wat gebeur. Ek is ’n prentjiemaker eerder as ’n kunstenaar. Dis seker nog nie te laat om om te draai nie. Wanneer ek skryf, is daar geen perke nie. My romans is my beste en bevredigendste werk.”

Help dit om visueel ingestel te wees wanneer ’n mens skryf? “Nee. Almal weet hoe lyk ’n boom en ’n rivier en ’n vrou se bolip. Moet dit asseblief nie probeer beskryf nie, tensy dit ’n hoogs uitsonderlike rivier, boom of bolip is.”

Invloede? “Nie een is Afrikaans nie: Herman Charles Bosman (na my mening verreweg Suid-Afrika se beste skrywer) en Kurt Vonnegut. Maar die grootste invloed was sonder twyfel Bob Dylan. Ek het nog nie ’n beter storieverteller teëgekom nie.”

Hoe werk hy? “Terwyl ek aan ’n boek werk, het ek ’n roetine, en as ek opgewonde raak oor ’n storie, gaan dit maklik. Ek staan vroegerig op of skryf in die bed, en skryf enigiets tussen 500 en 2000 woorde op ’n dag. Teen twaalfuur kan iemand my maklik ompraat om ’n bier te gaan drink.”

Hy lees op die oomblik Barcelona, deur Robert Hughes.

Oor die GAR: “Ek en al my skrywersvriende glo ons volgende boek is die Groot Afrikaanse Roman. Ek hoop een van ons is reg.”

Het hy hoop vir die land? “Ek dink nie verder as my volgende koppie koffie nie. O, en ek moet by die veearts ’n draai maak. Ek sien my hond se sjampoe is op.”

Boeke: Droster, Bomskok, Boas Mei is verward, Wat het geword van Dinsdag?

Carié Maas (links) skryf oor Marilynne Robinson

Marilynne Robinson preek nooit nie

deur Carié Maas

’n Mens moenie oor Marilynne Robinson lees nie, ’n mens moet haar net lees. Haar trilogie, Gilead, Home en Lila, slaan ’n mens se asem weg. Eintlik ook haar debuut, Housekeeping, wat 24 jaar voor Gilead verskyn het. Die boeke was die wag werd, al was Housekeeping reeds ’n verbysterende debuut. ’n Mens wil elke paragraaf weer lees, en dit stadig indrink. Hoe langer ’n bladsy kan rek, hoe beter. Dis nie net wat die sinne sê nie, dis ook wat tussen hulle adem. Dit kan ’n sonde wees om wel iets aan te haal, want hoe kies jy?

Gilead is ’n ou dominee se brief aan sy jong seun wat dié moet lees as hy eendag groot is, en só beskryf Robinson hoe John Ames sy sewejarige sien seepbelle blaas in die tuin: “I saw a bubble float past my window, fat and wobbly and ripening toward that dragonfly blue they turn just before they burst.” Die onderwerpe is nie lig nie, maar die humor is ’n redding. Die hoofkarakter beskryf hoe hulle as kinders eenmaal ’n klompie klein katjies gedoop het, en toe kom die helfte weg. En later het hulle telkens gewonder as hulle weer een raakloop: Is hy ’n Christen of heidens? Maar die katte kon bly gewees het hy was nie ’n Baptis nie, want dan sou hy hulle moes onderdompel. Sy skryf oor godsdiens, maar sy preek nooit.

In Home val die kollig op John Ames se beste vriend, ook ’n dominee, se seun Jack Boughton. Dis ’n storie oor die geheime van die swartskaap van die familie, maar sy pa se lieflingseun. Dit ruk jou derms. Lila vertel wat gebeur het met John Ames se jong vrou voor en ná hy haar ontmoet het.

Dat Robinson al van die grootste litêrere pryse gewen het, ’n essayis en akademikus van formaat is en ’n vriendin van Barack Obama, is alles goed en wel. Dis wat sy met woorde doen, en met jou kop en jou hart, wat haar vir haar lesers ikonies maak. Haar droë wysheid.

Gilead het in 2004 verskyn, Home in 2008 en Lila in 2014. Mag die volgende roman deur die genade nie ver van publikasie af wees nie.

Carié Maas se roman Koljander was die debuutwenner in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Die (on)draaglike swaarheid van Bookerpryswenners
deur Schalk Schoombie

“Te moeilik!” “Ontoeganklik!” “Onleesbaar!” Enkele klagtes wat ek al teëgekom het oor romans wat met die jaarlikse Bookerprys in Brittanje bekroon is. Nog ’n aantyging: “Gekies om omstrede te wees!” Ter verdediging van die beoordelaars se keuses sou jy kon aanvoer: dis ’n literêre prys, nie ’n gewildheidsprys nie.

Jy wil hoop en glo dat gehalte en stilistiese vernuwing die bakermat moet wees. Onafwendbaar speel persoonlike smaak (van die beoordelaars) en die tydgees (politieke korrektheid, bepaalde behepthede) ’n deurslaggewende rol, solank daar darem ook waagmoedige keuses gemaak word, met wenwerke wat grense verskuif en lesers uit hul gemaksones prik, hulle uitdaag om wyer en dieper te verken, vrae te stel en deel van die breër diskoers te word.

  • Aanvanklik was ek meegevoer met The Luminaries deur Eleonor Catton, ’n epiese relaas oor die goudvelde van Nieu-Seeland (Booker 2013), maar ek het die afloop duister en onafgerond gevind; te veel los drade.
  • Richard Flanagan se The Narrow Road to the Deep North (Booker 2014) was deurdrenk met Japannese wreedheid en afgryslike oorlogmisdade, die soort skokroman wat jou op elke bladsy laat gru, maar wie kan stry dat dit ’n emosionele kragtoer en oorrompelende historiese evokasie is?
  • Marlon James se A Brief History of Seven Killings (Booker 2015), ’n dramatisering in tientalle perspektiewe van ’n sluipmoordaanval op die reggae-koning Bob Marley, het ek byna onleesbaar gevind, meestal te wyte aan die gedronge en skurwe Jamaikaanse dialek. Dit verg voorwaar volharding as jy jou in elke sin en paragraaf vaslees teen vreemde kliekwoorde en -frases wat eers nageslaan moet word.
  • Dit gaan aansienlik vlotter met Anna Burns se Milkman (Booker 2018), ’n tydige narratief wat tredhou met die #MeToo-beweging; maar wees daarop bedag: dis geen piekniek nie. Die prosa is gelade en veelvlakkiger – “heightened language” soos Shakespeare-kenners sal sê – en taamlik herhalend van aard, ’n doolhof van genderpolitieke mymeringe wat die handeling telkens bladsye lank onderbreek en uitstel. By tye fassinerend, merendeels frustrerend as jy agter die storie wil aanlees.
  • Sommige lesers vind Lincoln in the Bardo van George Saunders (Booker 2017) onleesbaar en tematies makaber, ’n fantasmagoriese ekskursie na die begraafplaas, waar ’n horde geeste saamdrom as getuies van die Amerikaanse staatsman se obsessiewe rou oor sy gestorwe seun. Die “soundbite”-styl van los gedagtes, geskiedkundige aanhalings, anekdotes en vertellings deur eksentrieke spoke doen aanvanklik vreemd voor, maar algaande gaan dit gladder en raak die aanbod ryk en lekker.
  • Die slot van die veelsydige Julian Barnes se The Sense of an Ending (Booker 2011) is weliswaar enigmaties en raaiselagtig, wat die leser noop om te herlees, te herkou, en selfs om dit van voor af aan te pak.
  • Verskeie lesers het my vertel dat hulle heeltyd hardop gelag het met die lees van The Sellout deur Paul Beatty (Booker 2016), wat dit ’n sterk aanspraakmaker as toeganklikste Bookerpryswenner die afgelope tyd maak. Dis volgende op my leeslys.
Wat Deborah gelees het

Zakes Mda se Zulus of New York (Umuzi, 2019) is ’n dunnerige boek wat vurige emosies by die leser ontketen. Dis op sensaionele ware gebeure gegrond, soos Sonja Loots se Sirkusboere. Die leser beland pens en pootjies in die VSA in die dae van P.T. Barnum en die groot Farini. Mense betaal om ‘fratse’ uit Afrika van nader te beskou; hoe wilder en vreesaanjaender hoe beter, want: “Who the hell wants to see a friendly Zulu in New York?”

Dit begin in kwaZulu in 1878. Mpiyezintombi of Mpi is ’n gunsteling aan die hof van koning Cetshwhayo. Mpi se pa was ’n lid van die reglement wat vir Piet Retief doodgemaak het. Hyself is in die binnekring, maar hy raak verlief op een van die bloedjong meisies wat die koning aan sy hof neem en ‘beskerm’, word in die maanlig in haar arms betrap en vlug vir sy lewe met net sy assegaai en skild. Hy beland uiteindelik in New York, ’n stad wat wemel van koninklikes uit Afrika, want skielik was elke Afrikaan ’n prins of prinses – ’n besienswaardigheid. Soos ’n reuse-Zoeloe in ’n kou wat lewendige hoenders met sy tande verskeur en met vere en al verorber en Dinky, die Dinka-prinses uit Soedan, ’n lang, persswart skoonheid wat heeldag in ’n beknopte sit-sit en stoïsyns voor haar uitstaar. Daar is ’n kennisgewing: Do not touch the exhibit.

Mpi word deel van ’n troep sogenaamde Zoeloedansers, van wie hy die enigste ware Zoeloe is. Em-Pee soos hy in New York genoem word, raak verlief op die sogenaamde Dinka-prinses, wat ’n Brit se eiendom is, al is slawerny reeds afgeskaf en natuurlik eindig dit nie mooi nie.

Dis een van daardie boeke wat ’n mens aangryp en jou vel ongemaklik laat kriewel met koloniale skuld en nuttelose, mosterd-na-die-maal berou. Maar dit laat jou ook verwonderd oor die vindingrykheid en oorlewingsdrang van die menslike gees.

Soms is ’n roman klein en dun en stil, maar dit dawer soos ’n spreuk of blink soos ’n edelsteen. Hierdie is so ’n roman. Dis asof dit nog altyd daar was. Daar is niks geprakseer of bewimpel daaraan nie: dis amper vanselfsprekend. Daar is geen poging tot mooiskryf of opstoppery nie, die taal is gestroop, net die nodige inkleding word gedoen, soos met ’n novelle, en wat die leser bybly is die karakters. Daar is te min van hierdie soort boeke in Afrikaans, want almal probeer óf om gewigtige Groot Afrikaanse Romans óf deurdrumpels wat misdaadvrate heelnag wakkerhou, te skryf.

’n Reeks soos Six feet under het lykbesorging sexy gemaak, maar daar is niks glamoreus aan Seb se job by White Lily Funerals nie. Tog is hy goed in sy werk, maar ontdaan van lewensvreugde en emosioneel verwyder van sy vrou en kinders. Tot hy ’n sterwende kind, Gawie, ontmoet wat hom aan ’n engel herinner en die Rubrik-vierkant aan sy sleutelring blitsig laat uitwerk. En Gawie se ma.

Sê nou wense word waar? Seb begin in wense glo en sy lewe is nooit weer dieselfde nie. Hierdie Zirk van der Berg wat in Suidwes gebore is en nou in Nieu-Seeland woon, kan gerus dopgehou word.

Ek wens, ek wens word van Donderdag 6 Junie elke weeksaand om 19:20 op RSG voorgelees.

Het jy al iets van Rupert Thomson gelees? Hy het al meer as tien boeke geskryf, maar Katherine Carlyle word as sy ‘breakthrough novel’ beskou. Ek het dit in Bargain Books raakgegryp en kon dit nie neersit nie. Die titelkarakter, Kit, was ’n proefbuisbaba: meer nog, sy was as embrio vir agt jaar gevries voordat sy in haar ma se baarmoeder geplant is. Ons leer die jong Kit ken – sy is negentien en skrander, woon saam met haar treurende pa in Rome, is veronderstel om Oxford toe te gaan, maar sy kry nie rigting nie, veral na haar ma se dood aan kanker, waarvoor sy die prosedures wat tot haar geboorte aanleiding gegee het, en dus haarself, blameer.

Die boek begin so: “I was made in a small square dish.”

Katherine voel ankerloos, toevallig, onwerklik. Sy hunker na ’n bestaan gevorm deur lukrake besluite en die noodlot, sy wil bly beweeg, op die uitkyk na tekens en gekodeerde boodskappe. Sy hoor die naam van ’n vreemdeling en ’n deel van sy adres in Berlyn en vertrek soontoe om hom te gaan soek. ’n Soort verhouding ontstaan, maar daar is ook ander mans wat haar oog vang en wat sy as deel van haar bestemming herken. Die leser reis saam met die rustelose Kit, al hoe verder noord, waar dit ysig is, met permanente ryp en min daglig, waar die elemente verwoed is en die mens in ’n stryd om oorlewing gewikkel. Hier voel sy tuis, bekend. Sy speel ook kat en muis met haar bedroefde pa. Gaan hy haar opspoor, gaan iemand haar red?

Die wonderlikste ding van hierdie boek is Tomson se prosa: hy het daardie oënskynlik moeitelose, digterlike manier van skryf bemeester: woordekonomies, evokatief, kinematies: “Outside, the night is so cold that breathing is difficult. My throat and lungs feel scoured by the air. I tip my head back, and the sky towers above me, layer on layer of blackness. The moon is a round hole, small and brilliant. Light streams through it from another, brighter world.” Dis ’n verstommende reis na wie weet waar. Ek beveel dit hoog aan.

Oorkant Juliana Coetzer

deur Deborah Steinmair

Juliana Coetzer is die skrywer van Bloedvreemd en Oorkant jou. Sy is ook ’n terapeut.

Waar het dit alles begin? “Vandat my standerd 9-onderwyser my die hoogste punt in die standerd vir ’n opstel gegee het, het ek my verbeel ek kan skryf. Ons was net 60 in die standerd. Dit was Springbok.”

Woorde is haar passie. “Ek skryf omdat dit my ’n doel gee en die fokus van die lewe en sy dramas wegvat. Dit daag my uit om nuut en anders te dink.”

Skryf sy ook fiksie? “In Oorkant jou is daar ’n karakter wat glad nie op ’n ware karakter gegrond is nie, maar in retrospek is sy dalk ’n alter ego. Sy is ’n prostituut, ek weet nie wat dit van my sê nie. Ja, ek het ’n storie wat wag om vertel te word, maar eers moet ek Bloedvreemd se opvolg voltooi. Ek dra te swaar aan verlies en moes dit eers uit my onderbewussyn skryf. Ek wil vars begin met fiksie met geen reste, geen skrapnel. Ek wil nie meer die storie wees nie. My lewe is veel meer en ek begeer dit wat onverteld is.”

Sy skryf graag in die oggend wanneer haar brein vars is. “Ek skryf oor en oor – dis uiters irriterend. Daar is ’n perfeksionisme wat inskop wanneer ek skryf.”

Kan jy iemand leer skryf? “Nee, maar wel die tegniese aspekte daarvan. Niemand kan jou help om jou eie stem te ontdek nie – uitdaag wel.”

Wat is awareness? “Dit begin met ’n persoonlike bewuswording van jou vrese, behoeftes, motiewe. Om jou beperkings te oorwin. Mense wat bewustelik leef, het deernis met hulself en ander en vertroue dat hulle die lewe kan hanteer. Elke keer wat ek skryf, worstel ek deur vrese. Dis soos staan voor ’n leë doek, maar ek kan voel my vertroue groei.”

Intuïsie is belangrik vir ’n skrywer: “Dis die vermoë om enige vorm van beheer te laat gaan en die onderbewussyn toe te laat om met die antwoorde of oplossings na vore te kom. Dit beteken mens moet soms stil word en wag. Ek glo daar is ’n kollektiewe bewussyn waar alle woorde van alle tye gestoor is. Daar is net een manier om dit by te kom: Lees, lees, lees. Soms skiet ’n gedagte my te binne wat niks te doen het met wat ek op daardie oomblik lees nie.”

Hoekom lees mense? “Boeke bevat soms ’n woord of situasie waarmee ’n leser identifiseer, wat hom laat besef hy is nie alleen nie en hom  ‘normaal’ laat voel. Dit kan verhelderend of genesend wees. Ek lees veral baie wanneer ek skryf om my in die realm van woorde te hou, maar dan is daar tye wat ek niks behalwe Facebook wil lees nie. Omdat ek in my werk met die erns van die lewe en trauma gekonfronteer word, wil ek my soms met nietigheid besig hou.”

Boeke wat haar onlangs beïndruk het:

Where the Crawdads sing – Delia Owens.

Die Verevrou – Jan van Tonder

Metamorphosis – Kafka

V & A: Kerneels Breytenbach

deur Schalk Schoombie

ʼn Lywige roman oor rugby. ʼn Kommersiële besluit?

Rugby is net die aanknopingspunt; eintlik is die teologiese laag vir my belangriker. Ek het my effens misreken met alles wat met die spelers en randfigure gebeur in die laaste twee weke van ʼn wêreldbeker-rugbytoernooi, vandaar die lywigheid. As daar ʼn kommersiële oorweging was, moet elke skrywer homself afvra: Hoe is hierdie boek relevant vir die moderne leser? Sal ek hul aandag kan weglok van al die dinge wat aanspraak maak daarop, soos sosiale media, TV, ens ens?

Waar kom die titel, Hond se gedagte, vandaan?

Ek is hond- en kat-mens. Die hond op die omslag lyk op ʼn haar na Jasper, ’n Duitse herdershond wat my van 2007 tot 2017 vereer het met sy teenwoordigheid, aandag en liefde.  Ek het gespeel met talle variasies van spreekwoorde waarin “hond” voorkom, maar uiteindelik besluit op die uitdrukking wat my pa altyd gebruik het wanneer hy my wou laat weet dat hy dink ek praat nie die waarheid nie.

Hoe verskil hierdie roman van jou vorige, Ester?

Daar is een sterk ooreenkoms – albei speel af teen ’n vaste tydsraam. Maar Hond se gedagte is meer speels as Ester, sluit eintlik meer aan by Piekniek by Hangklip. Ek gebruik ook van die karakters van Piekniek weer. Waarin dit baie van Ester verskil, is die satiriese inslag, en my doelbewuste poging om nie neerbuigend oor godsdiens te skryf nie. Ek wou respek betoon met gelowiges, én in die proses ’n ernstige vraag vra oor die kern van gelowigheid. Die twee bene waarop ’n satire gebou word, is ontluistering en openbaring. Die openbaring volg altyd op die ontluistering, en nie andersom nie. Eintlik wou ek tog kyk na die dinge wat mense laat glo.

Is jou hoofkarakter, Fleur de Villiers, ʼn alter ego?

Die dinge waaroor sy haar bekommer, is my bekommernisse. Maar ek was van kleintyd af versot op rugby, en sy nie. Ek deel wel haar kos-voorkeure! ’n Gesprek met Joan Hambidge het by my gespook, oor die mate waarin manlike skrywers dit kan regkry om vroue as karakters in hul boeke uit te beeld. Dit was eintlik vir my die grootste uitdaging, om Fleur te laat gestalte kry as vrou. Haar naam verwys een van die grootste (en vroulike) leiersfigure in ondersoekende joernalistiek uit die goue jare van The Sunday Times.

Wat was die vonk vir die geslepe Jaap Schvantz en Krystle van Corpus Christi?

Schvantz dateer uit Glimlag – ’n oorblyfsel van die apartheid-era, ‘n mengsel van Lang Hendrik van den Berg en Eugene de Kock.  Krystle en haar struggle-aktivis familie het met hom bevriend geraak in Piekniek by Hangklip, toe Jaap homself getransformeer het tot bemagtigingspesialis. Schvantz is vir my so oer-Suid-Afrikaans. Sy soort was in die apartheidsera daar, en vandag is daar baie van hom in die wandelgange van die Parlement en Luthuli House. As jy Julius Malema dekonstrueer, kry jy Eugene Terre’Blanche. Jaap tóé en Schvantz nóú.

Verklap iets van jou skryfroetine.

Soggens, en hoe vroeër, hoe beter. Saans is daar té veel afleiding. Dit moet stil wees. Ek sukkel om te konsentreer met musiek op die agtergrond. Miskien omdat ek dan eerder op die musiek wil fokus. Sommige dae vorder ek nie by die eerste paragraaf verby nie, ander dae vloei die woorde, ver by 2000 verby.

Werk jy ʼn storie eers haarfyn uit?

Die eerste aantekeninge het ek al in 1973 gemaak – dis hoe lank die tema my al aangryp. Ná Ester het ek gemeen dat ek die ideale konteks vir die probleem het – die Springbokke s’n met afrigters. Ek werk eers die breë raamwerk uit. Beskryf die karakters elk afsonderlik. Werk vir elkeen ’n geskiedenis uit. Die gelol begin wanneer mens skielik deur jou verbeelding op afdraaipaaie geneem word. Of jy eensklaps besef dat ’n karakter anders geword het as wat jy aanvanklik gedink het hy sou wees.

Raak lees soms moeisaam as uitgewer?

Ek sit boeke neer voordat ek hulle klaargelees het, veral Engelse speurverhale. Sodra ek ’n spesmaas het wie die booswig is, of hy ontmasker word en dit van daardie punt af ’n lang pad gaan wees klimaks toe, sal ek besluit of die skrywer se skryfwerk vir my sterk genoeg is vir die opoffering. Wanneer ek manuskripte vir uitgewers lees, maak ek aantekeninge dwarsdeur, en dit is vir my genoeg rede om vas te byt. Dis vir my een van die groot plesiere van my lewe – die ontdekking van merkwaardige skeppings voordat hulle gepubliseer is.

Skrywers wat jou aangryp?

So twee jaar gelede het Frederik de Jager vir my, Ingrid Winterbach en Eben Venter gevra om hom te help met ’n skryfskool op Stilbaai. Op Eben se aanbeveling het ek James Salter se romans van ʼn kant af begin lees en herlees, en op Ingrid se aanbeveling die boeke van Saul Bellow. Dit het my teruggeneem na Eben en Ingrid se eie boeke. Verder het ek ’n passie ontwikkel vir die skryfwerk van Etienne Leroux, John Miles, Richard Hughes, Thomas Pynchon, William Gaddis, Richard Ford, Dorothy L Sayers, Damon Runyon …

Wetenskap, mynwese, digkuns en skopskiet

deur Deborah Steinmair

Drie van bekroonde misdaadskrywer Irma Venter se gunstelingdinge is: “Kind mense, die warmte van geliefdes en Koos Doep se Somerkersfees gesing in ’n kerk.

S-titels

“Dis heel toevallig. Ek kon nie aan ’n titel vir my eerste boek dink nie. Gelukkig kon ons uiteindelik op Skoenlapper besluit. Met die tweede boek het ek ’n klomp vriende genooi, vir hulle wyn en die HAT gegee, en gevra om enige werkbare boektitel met ’n S neer te skryf. Ek gebruik hierdie lys nog steeds.

Volgorde?

“Ek sou aanbeveel dat mense die reeks van die begin af lees, maar ek weet dit kan nogal ’n duur affêre wees. Ons trek immers nou al by nommer sewe. Elke storie het darem sy eie moordsaak, so dit beteken ek glo laatkommers kan bloot inspring as hulle wil.”

Karakters:

“Ek dink daar sal nog so een of twee bykom, en een sal dalk wegval, maar die ‘bende’ wat ek bymekaar gemaak het werk goed vir die tipe boeke wat ek skryf. Ek kan omtrent elke tipe storie met hierdie hand vol karakters skryf.”

Ander genre?

“Miskien, ja. Ek wil graag eendag ’n wetenskapfiksie boek skryf wat op ’n ander planeet of op ’n ruimteskip afspeel, met so ’n lekker iesegrimmige, gatskop middeljarige vrou aan stuur van ’n moordsaak.”

Vertalings:

“Engels. En Skoenlapper is in Turks beskikbaar. Hou saam met my duimvas vir nog!”

Verfilming?

“Ja. Kan jy glo! Die televisieregte/filmregte van Skoenlapper is deur Suid-Afrikaanse filmvervaardiger Maynard Kraak in samewerking met Kanadese filmvervaardiger Jeremy Torre bekom. Kraak en Torrie het suksesvolle befondsing van die Canadian Media Fund gekry om te begin met die aanvanklike pre-produksie van die beoogde internasionale Engelse TV-reeks. Dinge mag dalk eers hier teen 2021 sigbaar word.”

Skryftyd:

“Wie is dan nou lus om te slaap … Nee, ernstig. Ek staan vroeg op om te skryf, en het al geleer dat mens wondere kan verrig as jy 45 minute het. Of as jy ver ry op ’n bus. Of trein ry. Of koffie drink. Of wag vir iemand. Ek en my skootrekenaar is een.”

Day job:

“Ek is adjunk-redakteur by Engineering News en Mining Weekly. Ons skryf nuusstories oor wetenskap, tegnologie, beleid, vervaardiging, mynwese en industriële ontwikkeling. Dit raak nogal moeilik met die twee tale, veral in terme van sinstruktuur – hoe Engelse sinne aanmekaar gesit word vs Afrikaanse sinne.”

Leesstof:

“Moordstories van elke land, veral Japan. Alexandra Fuller se Afrika-boeke. Slim wetenskapfiksie. En ek is ’n fên van die Afrikaanse digkuns. Danie, Bibi, Loftus – almal fantasties.”

Vroue in fiksie:

“Ek haat ’n boek waar die vrouekarakters bloot die slagoffer, die bietjie afleiding in die bed of die token gesagsfiguur is met drie lyne dialoog. Die Bechdel-toets geld: ’n Boek moet ten minste twee vroue hê wat met mekaar gesels oor iets anders as ’n man. En al twee moet name hê. Kyk bietjie hoe min daar is.”

Inspirasie of roetine:

“Roetine skep inspirasie. Mens se brein raak fikser hoe meer gereeld jy skryf. Ongelukkig verhoed dit glad nie dat jy soms die grootste klomp nonsens skryf nie.”

Donker dinge en reeksmoordenaars

deur Deborah Steinmair

MARTIN STEYN oor homself:

“Ek weet nie hoekom donker dinge en spesifiek reeksmoordenaars my fassineer nie, dit was maar nog altyd so. In die laerskool het ek al van gruwelprente soos Nightmare on Elm Street gehou. Maar ten spyte van my liefde vir gewelddadige videospeletjies is ek glad nie gewelddadig in die regte lewe nie. Ek maak nie eers vlieë dood nie.”

Oor die donker:

Swartval se skryf was nogal intens. Claire is die enigste perspektiefkarakter, so daar was geen wegbreek van haar situasie af nie. Ek het basies heeldag daaraan gewerk tot laataand toe en ek het heeltyd heavy metal—hoofsaaklik ou Slayer en Sepultura—geluister om daardie donker, neerdrukkende gevoel vas te vang. Ek moes dit saam met Claire ervaar.”

Oor storielyne:

“My idees kom van ’n misdaad of ’n misdadiger wat my interesseer, ’n spesifieke reeksmoordenaar (Donker spoor) of gyselaaronderhandeling (Losprys). Ek moet weet wie die misdadiger is, wat hy doen, hoekom hy dit doen, en ek doen soveel navorsing as moontlik voor die tyd. En dan begin ek met die misdaadtoneel, my speurders kom daar aan en hulle bestudeer dit, praat met enige getuies en volg die leidrade. In Skuldig is die slagoffer geskiet, so ek was by die Ballistiekafdeling om uit te vind hoe dit hanteer word en dit lei dan weer my storie.”

Oor tegnologie:

Ek is baie lief vir my rekenaar en my Xbox, maar ek onthou hoe ons destyds in die regte wêreld gespeel het. Kinderprogramme was net ’n paar uur op TV en daar was nie ’n selfoon of tablet om op te speel nie. Ons het op fietse gery en toue aan bome vasgemaak, ons moes ons eie speletjies en stories opmaak. In die hoërskool het ek begin lees en met ’n boek moet jy deelneem, jy moet die woorde vat en die storie daarmee in jou kop bou. Vandag word alles vir ons gegee, jy hoef nie te dink hoe ’n toneel lyk of ’n karakter klink nie.”

Oor Stephen King:

“Hy het my gewys mens kan heeltemal wegraak in ’n boek, dat jy deur woorde op papier na enige plek toe kan gaan en enigiets kan beleef, selfs al is dit eintlik onmoontlik. Soos wat daar destyds op sy paperbacks gestaan het: “words are his power”.

Oor Afrikaans:

“Afrikaans is my huistaal, maar ek was nooit besonder lief daarvoor nie. Totdat ek in Afrikaans begin skryf het. In vergelyking met Engels is dit maar ’n klein taal, en ’n eenvoudige taal. Maar ons kan alles sê wat ons wil. Ek hou van daardie amper gestroopte eenvoud. En ek is mal daaroor om Afrikaanse dialoog te skryf.”

Oor mentors:

By die South African Writers College was Wilna Adriaanse my tutor en vir my was dit deurslaggewend. Nie dat ek direk daarna gepubliseer is nie, daar was nog heelwat werk en groei nodig, maar Wilna het my op die regte pad gesit. En sy het aanhou glo in Donker spoor se potensiaal, wat my “geforseer” het om aan te hou werk daaraan en dit beter te maak totdat dit uiteindelik goed genoeg was.”

Oor moordenaars:

“Afgesien van deeglikheid, dink ek die truuk om ’n suksesvolle moordenaar te wees gaan veral oor ingesteldheid, of jy daarmee kan saamleef, of jy normaal kan optree wanneer die polisie aan jou deur klop.”

Oor skryf:

Ek wil nie regtig enigiets anders doen nie. Dis ’n groot voorreg om ’n publiserende skrywer te wees en ek is baie dankbaar dat ek die stories kan skryf wat ek wil skryf, dat ander mense dit wil lees.”

https://www.martinsteyn.com/

Onverskanste emosie

deur Deborah Steinmair

As kind was Petro Hansen, wie se boek Vervleg vandeesmaand by Protea Boekhuis verskyn, altyd besig om haar gedagtes op papier neer te pen. “Op hoërskool het ek begin opstelle skryf en besef dat my woorde mense aanraak. My Afrikaanse juffrou het my opstelle in die klas voorgelees en wanneer my oupa Kobus kom kuier het, wou hy eerste my nuutste opstel lees. Ek wou joernalistiek studeer, maar het toe  ʼn regsgraad behaal.”

Lees sy baie? “Ek is skuldig hieraan. Ek hou ʼn persoonlike notaboek waarin ek enige woord wat my opval neerskryf. Ek sal eers ʼn hele stuk klaar skryf en woorde vervang en skaaf om dit af te rond. Ek skryf eenvoudig presies wat en hoe ek oor ʼn sekere onderwerp dink en hoe die gedagtes by my opkom.”

Sy glo wanneer mens eerlik oor ʼn onderwerp skryf, het jy trefkrag. “Ek dink die geheim is om emosie te verwoord sonder om iets te verskans. Dis wanneer mense identifiseer.”

Sy is lief vir Afrikaans, want die variasie is enorm. “Ek dink baie van die mooiste Afrikaanse woorde is nog onontgin of selfs vergete.”

Sy lees graag Dana Snyman en Annelie Botes se boeke. “Francois Smit en Dominique Botha se boeke raap ek ook op. Kamphoer en Valsrivier is van die beste boeke wat ek nog gelees het.”

Sy skryf nog op vryskutbasis vir koerante en tydskrifte. “Ek het onlangs op Netwerk24 ook weer begin publiseer. Meeste van my skrywes moet ek sintuiglik waarneem. Ek moet die storie self beleef of iemand na aan my moet daardeur gaan. Ek moet die elemente in my skrywes kan hoor, of ruik of proe.”

Sy het geen teikengehoor nie. “Ek skryf net en het wel agtergekom my rubrieke praat met verskillende gehore. Ek dink nie aan wat die reaksie op my skrywe gaan wees nie. As ek iets neergepen het en dis iets wat my gelukkig maak, het dit reeds sy doel gedien. Ek het ʼn rubriek oor ʼn pa en sy seun wat in die tronk is geskryf. Die pa het my gekontak nadat hy die rubriek gelees het en vir my gesê, hy het sy seun wat hy afgeskryf het weer in die tronk besoek.”

Sy dink te veel mense lewe nie in die oomblik nie. “Ek streef self daarna om nie oor die verlede te kwel of die toekoms te bekommer nie. Ek is die dogter van ʼn matroos en die seewater loop deur my are. So by die see op Kleinbrak se strand is ek die blyste. Om ma te wees vir my drie pragtige kinders, Gerda, André en Elsa, maak my bly. Ek geniet ʼn mooi kunsfilm, is lief vir die reuk van ʼn sagte parfuum aan my vel en my gunsteling soetding is halva, ʼn Griekse lekkerny.  Ek is ʼn optimis. Ek dink die oplossing lê daarin dat elkeen net daar waar hy geanker is ʼn verskil moet maak.”

Sy werk reeds aan die volgende boek. “Hierdie keer ʼn roman. Om ʼn nuwe boek aan te pak is opwindend. Oor die storielyn kan ek nie nou veel verklap nie.”

Jonathan Amid oor Hond se Gedagte

Bok vir sports? Rugbymal sportsgeesdriftige? Lief vir woorde en wysheid? Al drie? Slegs een? Maak nie saak nie. As jy oë in jou kop het, jy funksioneel geletterd is, en nie ʼn droë drol is wat geen plesier uit die lewe kan of wil put nie, is hierdie baldadige boek vir jou. Jo Black sing dalk van ‘bring die hoop weer terug’, maar hierdie boek is nog langer as die sanger se baard, en dit gee ʼn mens opnuut weer hoop vir genuinely epic romans sonder ʼn bang haar op hul koppe. Romans wat jou op ʼn reis neem na plekke sonder naam, plekke binne jouself wat jy nie eers lekker geweet het (nog) bestaan nie.

Min skrywers het eerstens die vermoëns, en tweedens die deursettingsvermoë, om ʼn boek van amper 500 bladsye te pen. Om boonop ʼn roman te prakseer wat wemel van woordspelings, wulpse woepse, ʼn wonderwerk of twee, besielende beskrywings van alles wat die spel van rugby so besonder boeiend maak – en die dinkwerk agter die skerms – sit nie in elke ou se broek nie. Hoor my lied, mense: hierdie skrywer is in sy element. Soos ʼn Fransie Steyn sool hy die spreekwoordelike bal van sy eie kwartgebied tot agter die pale, nie net een keer nie, maar sommer gereeld.

Kerneels Breytenbach is meer as net nog ʼn skrywer: hier het ons die tipe siel wat ʼn daadwerklike poging aanwend om iets deur sy fiksie te skep wat ons toelaat om met nuwe oë na die wêreld te kyk. Om onsself af te vrae wat vir ons belangrik is, hoekom hierdie dinge belangrik is, en hoe ons elk sinmaak van ʼn samelewing wat ons gereeld tot die uiterste beproef. Die ovaalbal as kristalbal, by wyse van spreke.

Breytenbach weet hoe belangrik dit is om te lag, om sy lesers toe te laat om saam met hom te lag, oor dit wat ons vreugde maar ook diepe trauma besorg. Van lekker lag kom lekker huil, maar van lekker huil kan daar ook lekker lag kom. Hierdie skrywer verstaan dit. Iemand wat boekhou van belaglikheid, hebbelikhede, uitskieters en spekskieters, maar ook ʼn ou met ʼn moerse sagte plekkie vir die afvlerk-verstoteling, die geniale buitestaander, die middelmannetjie, die onderpresteerder.

ʼn Blik wat dalk kyk na wat bolangs blink, maar vasvang wat onder die oppervlak dobber. Wat die heaven in a wild flower in sy prosa-potpourri kan laat lewe. Wat ʼn skewetand-glimlag na die mooiste ding onder die son kan laat klink. Jou nou eenmaal jou kop kan laat skud, vir jouself en die skrywer: ‘Jis, wat ʼn vuil etter!’

Ek kan praat van die verhaal se verrassende diepgang, van die verskeie verbysterende besluite wat die skrywer neem, van die bliksemstrale wat jou tref soos aksie, nabetragting, geestesreis en genot kombineer. Maar nee, eintlik wil ek my reaksie weergee in ʼn eenvoudige ou sinnetjie wat alles mooi duidelik vir die leser van hierdie resensie uiteensit: Hond se gedagte is een bleddie befokte boek!

Jonathan Amid resenseer Zola

Zola is gewis ʼn debuut om van kennis te neem. Dis ongetwyfeld grillerig, grieselrig, gewelddadig, en gaaf met trauma en verlies. Bladsye deurweek van droewige, deurmekaar, deurwinterde mense, wat sluimerend en met rukke en stote hul dae oorleef. Heldeparades staan oor. Vergeet van die glitz en die goud en die glorie van diversiteit en geluk en vooruitgang – die stad van Johannesburg is een groot litteken. ʼn Stuk vleis wat sweer en vrot. ʼn Lappieskombers wat sukkel om almal warm te hou. ʼn Teater van rook en oker.

Die leeservaring is intens, moeisaam, moeilik, vol afdraaipaaie en donker hoekies. Hierdie is geen lekkerlees-boek nie. Verwag geen gelukkige eindes nie. Fok die geskenkpapier en die strikkies en die kaartjie met die mooi woordjies. Hierdie is woedende, wroegende, bloed-uit-klip karterings van ellende en hartseer.

Daar is tonele wat jou maag laat draai, jou kop laat spin en jou sin vir geregtigheid en die goeie behoorlik laat vlamvat. ʼn Laag van grys wat kleef aan die drie van swart, en so word die wêreld gebou. Vol rook en roet en reën wat vlaag en tref en klou. Geen uitkomkans, geen wegkruipplek. Die maaiers doen hul werk, die verrotting is in elke huis, elke kamer, elke liggaam. Dalk weet hulle dit net nog nie. Maar dis daar.

Daar is ook keer op keer oomblikke in Zola van teerheid, deernis en menslikheid, stringe woorde wat iets in jou binneste roer. Iets in die teks wat jou smeek om met ʼn sagter oog na die persoon langs jou te kyk. Om jou geliefdes in die oë te kyk en hulle te vertroos. Om jouself in die spieël te kyk en eerlike vrae, harde vrae. Vrae oor die tipe mens wat jy is, en wil wees.

Zola is dalk eerstens ʼn moordstorie, ʼn misdaadverhaal, ʼn stadsroman, maar dit is ook ʼn uitgebreide verslag, ʼn diagnose, van die moderne mens se stryd om betekenis, om iets vir mense te beteken, en om sin te maak van dit wat by ons spook. Apartheid se spoke, ja, maar ook die spoke van gebroke drome, van drome geaborteer, opsy geskuif en begrawe. Droomverlore, disnis geslaan deur roetine en plig.

Johan Jack Smith het ʼn agtergrond in visuele kuns. Dis dalk vernaam hierdie belangstelling in visuele voorstellings, in die wyses waarop daar visueel singemaak word van idees, maar ook vlees en bloed, wat sy skryfwerk in Zola so boeiend en filmies maak.

Op een vlak is dit ʼn kragtige krimi propvol detail, groot en klein – soos die uiters kreatiewe gegewe om dossiere uit die apartheidsregime op figuurlike maar ook totaal letterlike wyses (weer) te beliggaam, tot die temalied uit The Exorcist wat op die mees ongeleë tye op ʼn hoofkarakter se foon lui. Op ʼn dieper vlak is Zola ʼn daadwerklike poging om die tapisserie van die speurverhaal, en spesifiek die polisie prosedure, op sy kop te draai, om dit uit te daag, om dit te karnuffel en te boelie tot die nate begin ooptrek.

Die mees welkome nagmerrie.

Martin Steyn oor ‘appropriation’

“Die enigste skrywers wat regtig met totale outoriteit ’n spesifieke karakter se storie kan skryf, is iemand wat dit geleef het. Maar as ons as fiksieskrywers ons daardeur laat terughou, sal die oes interessante stories geweldig beperk wees. Iets wat my van die begin af van stories aangetrek het, was om in ’n ander karakter se lewe te klim, om ’n ander lewe te ervaar. En dis vir my lekker van skryf ook. Ek hou van verskillende agtergronde en perspektiewe en ervarings. Dis hoekom ek nie net een reekskarakter het nie. Ek wil nie heeltyd dieselfde karakter se storie skryf nie. Ek wil ook nie altyd uit ’n manlike en/of ’n wit perspektief skryf nie. Ons land is so ryk aan diversiteit; ek weier om myself te beperk tot een klein deeltjie daarvan.

Maar dit is natuurlik ’n groot uitdaging om uit ’n ander perspektief te skryf. En ek gaan nooit so ’n outentieke vroulike karakter kan skryf soos ’n regte vrou nie. My Enzo sal nooit so outentiek wees soos wanneer ’n bruin skrywer hom skryf nie. Maar ek is ook nie ’n speurder of ’n forensiese deskundige of ’n reeksmoordenaar nie. En dis uiteindelik hoe ek Claire van Swartval en Enzo van Losprys benader het: net soos wat ek gaan navorsing doen het oor die SAPD en reeksmoordenaars. Ek het vroue se stories gelees, veral vroue wat deur traumatiese gebeure is. Ek het ’n vriendin met vrae geteister en haar ook gevra om elke hoofstuk van Swartval se manuskrip te lees soos wat ek dit geskryf het en basies te monitor of Claire soos ’n regte vrou optree, wanneer sy neig na ’n vroulike karakter wat deur ’n man geskryf is, wanneer sy nalaat om iets te dink of voel wat ’n vrou in daardie omstandighede sou. Vir Enzo het ek lank met ’n speurder gaan praat wat in Mitchells Plain bly en werk en daar grootgeword het. En dan doen ek die beste wat ek kan.”

Wat lees hy?

  • Ek het ’n paar ouer Stephen Kings oorgelees (Different Seasons lê langs my bed)
  • Tolkien (The Silmarilion en Unfinished Tales en toe The Hobbit vir die derde keer).
  • Tans doen ek navorsing, meestal ware misdaad en forensiese boeke.
Wat Jonathan Amid gelees het

Min dinge kan kers vashou met ʼn heerlike eerste proesel. Die eerste happie van ʼn maaltyd, ʼn hartstogtelike soen, die heimlike saligheid van ʼn nuwe stem – musikaal, letterkundig – wat jou dadelik intrek en nie sommer laat los nie. Zelda Bezuidenhout se prosa laat jou sommer met die intrapslag besef dat ʼn besonder skerp skrywer haar toetrede maak tot die landskap van volwasse fiksie. Chic lit, of fiksie vir vroue, hoe jy dit ookal wil benoem, word nie noodwendig na waarde geskat nie. Sure, dis populêr. Sure, dit verkoop. Sure, dit kan opskuddings veroorsaak, dan en wan. Kyk na Griet skryf ʼn sprokie. Maar die genre is nie juis bekend daarvoor dat lesers of kritici uit hul pad gaan om uit te wys presies hoe slim, aweregs, en akuut die insigte is wat weergegee word nie. Die dekonstruksie van Retta Blom is dalk net die spiritual successor van Griet skryf ʼn sprokie, sonder om te ly aan ʼn gebrek aan eie identiteit of ooit soos ʼn siniese cash grab te lees. Hiervoor moet die skrywer, uitgewer en versorgers agter die skerms erkenning kry.

Ek voel dat die beste genrefiksie dit regkry om sowel uitstaande karakterisering as oortuigende plots en plot devices in te span. Die triek is om die leser te plaas in ʼn spesifieke milieu wat oortuigend weergegee word, die identifikasie met die protagonis so (gou) moontlik te maak, bronne van konflik en handelinge geloofwaardig en realisties uit te beeld, en om uiteindelik die verhaal die nodige integriteit en standvastige fondasie te gee om te verseker dat lesers behoorlik emosioneel belê in die karakter(s) se reis. Om die verhaalgegewens hier te lys is onnodig. Ek vermeld eerder drie areas waar die roman die verwagtinge oortref.

Een: karakterisering. Eenvoudig uitstekend. Van Retta Blom self, wat op fisiese en geestelike reis gaan om haar ‘beige gaap’ van ʼn lewe reg te ruk, tot haar diverse vriendekring, haar man, Tobias, en hul kinders, Ben en Dawid, tot onverwagse nuwe vriende langs die pad – Bezuidenhout skep egte, feilbare, onthou-karakters.

Twee: balans tussen humor en erns, as geheel, en op individuele bladsy- en paragraafvlak. Retta Blom se greep op haar oënskynlik perfekte middelklasbestaan word wreed weggeruk. Hoe die skrywer haar reis karteer, en hoe die huwelik, liefde en vriendskap aan ‘dekonstruksie’ onderwerp word, word met ʼn wenresep van insig, deernis en sensitiwiteit aangepak.

Drie: diepte. Die skrywer kry dit reg om Retta se verhaal van ontreddering en ontnugtering te vervleg met elemente wat nie slegs groter diepgang aan die verhaal as geheel verleen nie, maar ook ʼn oortuigende blik te gee op die wat nie, soos Retta, alles blyk te hê nie. Ouerskap, siekte, verlies, medemenslikheid, hoe om trauma te verwerk. Elk met opregtheid vreesloos aangepak. Neem kennis hoe die konsep van ‘negatiewe ruimte’, en spesifieke musikale verwysings, nommerpas ingespan word. Kodes en sleutels om betekenis te ontsluit en te begogel.

Die dekonstruksie van Retta Blom vestig Zelda Bezuidenhout as skrywer om mee rekening te hou.

Klein portret: Johan Bakkes

deur Deborah Steinmair

Ek het Johannes Bakkes (sy pa Cas het hom “Jehaans” genoem) in Parys, Vrystaat ontmoet. Hy is ’n elegante, Boheemse figuur met hoed, baard en klingelende armbande. Hy rook omgewingsvriendelike sigarette en gooi met die hand ys in my witwyn. Ons gesels kopstukke en die middag verdwyn.

Casparus Johannes Bakker is in 1956 in Stellenbosch gebore en word in Saldanhabaai groot. Hy wou nie ‘een van die Bröntes’ wees nie: Sy ma, Margaret en jongste broer, Christiaan, was reeds skrywers toe hy debuteer. Hy is geoktrooieerde rekenmeester en professor aan die UWK. Hy en sy vrou, sielkundige en kunstenaar Nanna Vorster Bakkes, woon in die Paarl. Sy droom is om op elke trein in die wêreld te klim.

In sy eie woorde

“Ek is nie ’n skrywer nie, ek’s ’n storieverteller, ek’s ’n traveller, ek’s ’n professionele boemelaar. Ek’s doodeerlik as ek dit sê.” – Johan Bakkes, Rapport (2006)

“Ek wou nog altyd sien wat lê anderkant die horison.” – 2008

“Ek reis op die swaar manier. Ek gebruik graag openbare vervoer, want dit is waar jy die mense leer ken. Ek stap graag. En ek slaap in die vreeslikste plekke wat jy jou kan indink, want dit is al wat ek kan bekostig.” – 2008

Lewensbeskouing: “So is die mens ook ’n ongeval van sy eie persepsie. Dis so donners maklik om handdoek in te gooi en harpuis te ruik. Dis ’n kuns om daai vlugsout so onner jou neus te druk en vuisvoos aan te hou boks en baklei – dit maak jou ’n oorlewende.”

Plekke wat hy weer wil besoek: Namibië en Rusland.

Publikasies:

Oepse Daisy, Human & Rousseau (2011)
Samoe(r)sa reis, Human & Rousseau (2010)
Norrevøk, Human & Rousseau (2008)
To Hell and Gone, Human & Rousseau (2008)
Nou’s ons in ons donner in, Human & Rousseau (2006)
Moer toe die vreemde in, Human & Rousseau (2001)

Dossier: Deon Meyer

 deur Deborah Steinmair

Word jy op straat deur aanhangers oorval?

Darem net so nou en dan. En dit is meestal ’n aangename ervaring.

Toenemende druk?

Daar is baie misdaadskrywers in die wêreld met veel meer vaardigheid en sukses as ek. Die druk wat ek wel ervaar, is om nie met ’n volgende boek my lesers en uitgewers teleur te stel nie. En om as storieverteller aan te hou met groei en verbeter. Skryf is ’n lewenslange leerproses en — so cliché-agtig soos wat dit mag klink — ding ek net met myself mee om die beste skrywer te kan wees as wat my vermoëns my toelaat.

Misdaadfiksie:

Dis interessant hoe die misdaadsyfers in ’n land die aard van hul krimi’s beïnvloed: In Skandinawië is die fiksiemoorde veel meer gewelddadig en bloederig as byvoorbeeld hier by ons. Waarom is die genre universeel gewild? Misdaad is een van die grootste ontwrigters van die sosiale status quo, en ons is behep daarmee om dié status quo te probeer beskerm en bewaar. Dit is deel van ons groot smagting na geregtigheid, wat ons meer dikwels in fiksie kry as in die werklikheid.

Storielyn:

Dit is ’n lang en langsame proses van idees versamel, opweeg, navors, oordink, toets en ontwikkel. En eindelik besluit ek op die storielyn wat my die meeste opgewonde maak. Om ’n boek te skryf is ’n marathon en jy beter passie vir die storie hê as jy die eindpunt wil haal.

Karakters:

Hulle leef later so saam in ’n mens se kop, sodat jy wonder wat sou Bennie of Vaughn oor ’n ding gesê het. Ek kan nie ’n hamburger by ’n nuwe plek eet sonder om te wonder of Bennie daarvan sou gehou het nie.

Humor:

Humor is seker eindelik ’n pyl in die skrywerskoker om ’n spesifieke doel in ’n boek te bereik. Soos om spanning tydelik te verlig, of lig in die noir-donkerte te bring. Dus is dit net belangrik wanneer dit nuttig is.

Roetine:

Dis die lewensbloed van my skryfproses. As ek dit nie het nie, kry die muse nie suurstof nie. En tussen boektoere, rolprente en TV-reekse raak dit al hoe moeiliker om roetine te behou. Ek skryf van sesuur se kant af tot middagete. Soms nog smiddae en saans ook, hier na ’n boek se laaste kwart toe.

Lees:

Ek lees baie nie-fiksie, van wetenskap en geskiedenis tot politiek en biografië, maar is ook baie lief vir wetenskapfiksie, historiese romans en spanningsfiksie in die algemeen en probeer darem tred hou met literêre werk ook.

Literêre snobisme:

Ek moet beken dat dit nie ’n onderwerp is waaroor ek tob nie, dalk omdat ek geen ambisie het om literêre werk te lewer nie. ‘It is,’ soos oud-Bokkaptein Jean de Villiers soms gesê het, ‘what it is.’

Wat beteken toekennings?

Dit is uiteraard ’n groot vreugde en eer om erkenning te kry, veral omdat skryf so ’n onsekere, selfvertwyfelende proses is. Maar ek vermoed ook dat dit dikwels met ’n bietjie geluk gepaard gaan, want daar is soveel briljante skrywers en boeke op die kortlyste. En wanneer jy weer gaan sit om aan die volgende boek te skryf, help die toekenning nie met die woordworsteling nie. Maar dit sê darem dat jy eens so effens geweet het wat jy doen.

Volgende roman?

Ek is besig. Die werkstitel stel my nog nie tevrede nie, maar ek kan darem sê dis nog ’n Bennie-en-Vaughn-storie.

“Nee jislaaik, ek dink níks uit nie!” 

deur Deborah Steinmair

Annelie Botes, die skrywer van menige topverkoperboek, vertel: “Met my eerste boek het ek my werk gelos, voltyds begin skryf sonder om te weet dat dit ’n baie riskante ding is om te doen. Ek dink jy weet diep binne jou jy moet. As ek dink watter helse bokkerop het ek van my lewe gemaak in vele opsigte: van my huwelik, my geldsake, my beroep … Ek het baie van hierdie foute gemaak omdat ek wou skryf, ek wou hê hulle moes my fire, want dan kan ek loop. Soms skiet jy jouself heeltyd in die voet omdat jou mission ’n ander mission is, al gee dit jou nie jou brood op jou tafel nie.”

Temas:
“Ek skryf wat in my hart staan. Wanneer skryf nie maklik kom nie, weet ek ek is besig om iets te skryf waarmee ek nie in my hart saamstem nie of nie genoeg kennis van het nie … Nee jislaaik, ek dink níks uit nie, ek kyk net wat rondom my gebeur. Baie mense kan relate. Ek teken die klein events aan. Ons loop almal met pyn, teleurstelling, onsekerheid, verwerping. Ek wys dit. Wat ek wys, is almal s’n.”

Navorsing:
“Ek doen dit nie soos ’n professor nie, ek gaan in die veld in en gaan voel die goed aan my lyf. Wanneer ek navorsing doen en lewe elke dag, skryf ek min goed neer, behalwe statistieke. Wat na ’n maand nog uistaan, is dit wat ek veronderstel was om te onthou.”

Milieu:
“Ek glo wat skort in ’n stadsagtergrond is the African soul – as jy dit mis; ’n boom, ’n skaduwee, ’n plaasdam, ’n hoender wat kekkel, then you’ve missed the African idiom. Almal in hierdie land is people of the African soil. Daar ontbreek iets van onse basis as dít in ’n boek ontbreek: die milieu.”

Haar lewe:
“Ek geniet dit rêrig om te skryf, behalwe wanneer deadlines my lewe oorneem. Ek het ook ’n ander lewe; is kerkorrelis, reël paassangdienste, kerssangdienste, kooroefeninge. Ek hou huis en skryf rubrieke. Dan het ek nooit minder as 40 e-mails per dag nie. Elkeen word persoonlik beantwoord, dit vat omtent drie ure per dag.

Selfbemarking:
“Hulle sukkel nie om my goed te verkoop nie. Skrywers kan nie meer soos hermiete lewe nie, hulle moet uitgaan en beweeg, bemark, werk. My kinders het my gedare om op Sewende Laan te verskyn. Ek het dit gedoen. Dit was hel, heeldag op stel, en die verkeer in Johannesburg. Maar die week daarna, toe verkoop daar 7 000 Thulas.”

Motivering:
“Ek is baiekeer na aan uitbrand. Maar ek kry dit nie reg nie. Ek weet nie wat is senuwee-ineenstorting nie. Wanneer ek baie gelukkig is en ek het bietjie geld in die bank, genoeg om nie ’n worry op aarde te hê nie en ek en die ou gryse het vir ’n ruk nie ’n fight gehad nie en ek het bietjie gewig verloor, dan kan ek nie regtig skryf nie. Dan sukkel ek. Dan’s daar nie daai oop senuwee nie.”

Resensies:
“My prys is die royalty-state – nie soseer die bedrag nie, maar die aantal boeke wat verkoop het. Daar’s my resensie.”

Haar jongste boek, Kammaland, is pas uit die oond. Die titel verwys na die ou liedjie “Hoe sag gly ons bootjie …” Sy en die ou gryse het drie maande op ’n kanaalboot in Engeland rondgevaar, in die winter. Sonder ervaring of bootliksens. Om te toets wat hulle ná vier-en-veertig jaar nog aan mekaar het en om herinneringe te vergaar vir die ouetehuisstoep. Dis ’n vaart vol ontberings en hosannas soos net Botes dit kan vertel.

Van patoloog tot storieverteller

deur Deborah Steinmair

Elizabeth Wasserman is ’n patoloog in privaatpraktyk en was voorheen buitengewone professor in die afdeling Geneeskundige Mikrobiologie aan die US. Sy is ook jeugboekskrywer van onder meer die gewilde Speurhond Willem­, Dogtective William, Anna Atoom, en Elf dae-reekse.

Sy is in 1964 in Klerksdorp gebore en word in ’n piepklein dorpie genaamd Koppies, in die middel van die Vrystaat groot. Sy het twee broers en ’n suster wat gedurig vir haar stories vertel het toe sy klein was. Sy wou van kleins af skryf, maar het besluit sy moet eers iets kry om oor te skryf, daarom het sy medies gaan studeer aan die Universiteit van die Vrystaat.

Haar groot belangstellings is die natuur en die wetenskap. Sy glo dis uiters belangrik dat ons moet verstaan hoe die wêreld werk sodat ons alles en almal met meer respek kan hanteer. Sy woon saam met haar gesin in Welgedacht, naby Kaapstad saam met haar man, haar dogter en honde.

Haar jeugroman, Elf dae in Oxford, het pas by NB verskyn en word beskryf as “vir 14 tot 64-jariges”. In die Elf dae-reeks het reeds Elf dae in Oxford en Elf dae op ’n eiland verskyn.

In Elf dae in Oxford word die sestienjarige Alicia na Oxford gestuur om te gaan kyk hoe dit met haar suster, Inez, gaan. Inez het innoverende nuwe programmatuur ontwikkel, maar ’n onderduimse professor probeer dit verkoop. Voor sy weet waarin sy haar begewe, steel Alicia die verlore dagboek van Charles L. Dodgson, beter bekend as Lewis Carroll. Dit bevat ’n formule wat Inez se werk ver kan laat vorder. Met SkyTech kort op haar hakke maak almal op Alicia staat om die Wonderland­program te beskerm . . .

Hier is ’n lokprent vir die boek: https://youtu.be/x-JxrJN1qQs

Speurtog na die ondenkbare

 deur Deborah Steinmair

 Christine Barkhuizen-Le Roux is een van daardie skrywers wat kwessies aanspreek – vreesloos. Ek het onlangs met haar gesels op Aardklop. Sy sê as sy nie skryf nie, verdwyn sy in ’n donker put, sy skryf om heel te word, om vrae te stel en hulle te probeer beantwoord. Sy is lief vir navorsing en vertel van John Steinbeck wat statistieke aan die regering gestuur het om hulle bewus te maak van die armoedekwessie in Oklahoma tydens die Groot Depressie. Maar dit was eers toe Grapes of Wrath gepubliseer is, dat hulle ingegryp het. Stories is veel sprekender as syfers.

Haar jongste boek, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, gaan oor pedofilie, spesifiek die molestering van seuntjies en watter verdoemende uitwerking dit op die res van hul lewe en menswees het en op die mense rondom hulle. Dit gaan oor mense wat anderpad kyk en die pedofiel bemagtig, oor strukture soos die kerk wat dit doodswyg. Daar is eggo’s van die Solly Ozrevech-debakel: weeskinders en seuns in ’n koshuis word deur die charismatiese koshuisvader gegroom en misbruik, ja selfs verkrag. Hy is ’n psigopatiese manipuleerder wat boonop godsdiens gebruik om mag en aansien te kry. Dis ’n misdaad waar die slagoffer skuldig voel: aandadig. Die misbruiker skroom ook nie om die kind te laat voel dis sy skuld nie: Jy is so mooi, kyk wat laat jy my doen.

Daar is ’n sterk storielyn, die leser wil agter die kap van die byltjie kom: ’n Vrou, Corinne, is ’n sielkundige maar het nie raad met haar dominee-man wat toenemend in depressie verval en na die bottel gryp nie. Tot een van haar pasiënte se simptome en gedrag haar aan die van haar man herinner. Sy gaan saam met hierdie pasiënt en sy dogter na sy grootworddorp, die plek waar hy in die koshuis was, waar sy lewe ontspoor het. Sy is eintlik op ’n speurtog, op die spoor van haar man se beskadigde verlede.

In die gesprek het Barkhuizen-le Roux die gehoor verseker dat die boek nie ‘gross’ is nie. Dit is nie, maar dis tog soms grafies, soos benodig deur die onderwerp. Gelukkig is sy ook digter en kom beeldspraak tot die redding, soos wanneer die laerskoolseuntjie verkrag word en skielik ’n suising in sy ore hoor: hy word ’n vliegtuig, ’n Viscount en bars deur die vensterruit, die hoogtes in.

Barkhuizen-Le Roux verwys ook in die boek na Picasso se Guernica: hoedat kuns, die opteken van gruwels en die haas onverwoordbare tog heling bring. Vrae word gestel oor menslikheid en godsdiens. Dis ’n ongemaklike boek met karakters wat na aan jou lyf kom, oor wie se lot jy begaan is. Dit laat jou soms voel asof jy na die bottel wil gryp of jou lidmaatskap aan die menslike spesie wil kanselleer.

Sy het ‘n M in kreatiewe skryfkuns verwerf en een van haar mentors in digkuns was Breyten Breytenbach. Van haar ander romans is Padmaker, Die getuie en Vierklawerblaar. Sy is ook digter en vertaler uit Nederlands.

Die chaosteorie en kief interkontinentaliteit

deur Deborah Steinmair

André Krüger oor sy jongste boek:
Geen engel nie is ’n fyn boek oor growwe mense. Dit handel oor die lewe van ’n jong man van die (verouderde uitdrukking volg) “verkeerde kant van die spoor”, van kindsbeen tot in sy laat 20’s. Dit speel af in die 70’s, 80’s en 90’s, teen die agtergrond van ’n veranderende Suid-Afrika. Vir mense soos hy, met beperkte vooruitsigte, is ’n lewe van misdaad ’n byna onafwendbare voorland. Die mense in die boek sê en doen weersinswekkende dinge, en dit word so weergegee sonder versagting of filters. Ek het ’n, moontlik weerlegbare dog sterk, vermoede dat dit ’n paar mense in hulle tee gaan laat stik.

Oor tyd om te skryf?
Vir enige skrywer met ’n veeleisende werk is dit altyd ’n stryd om tyd te kry om te skryf. Dit beteken gereeld dat wanneer die maatjies buite speel, prettige tydverdrywe beoefen of slaap, ek vasgekluister sit agter ’n rekenaarskerm besig om te wonder of ek nie eerder beter moes leer sweis het nie. Wat vas en seker staan, is jy moet, moet, moet, aanhoudend en deurlopend skryf. Gewoonlik, na so 35-40 000 woorde, bou die verhaal ’n middelpuntvliedende krag op wat sy eie roetine begin afdwing. Miskien is my enigste ware roetine dat ek altyd ’n voorstelling van ’n kraai byderhand hou wanneer ek skryf. Ek is heeltyd besig om te skryf, waar en wanneer ek kan.

Beplan jy haarfyn aan storielyne, of begin jy op ’n punt en kyk waarheen dit lei?
Eerder laasgenoemde. Dis ’n goeie vraag, en toe ek goed daaroor nadink het die antwoord my nogal onverhoeds betrap. Sover het elke boek begin met ’n karakter. Dié was eerste in my kop, en die storie het later gekom, as’t ware ’n manier om die mens beter te leer ken. Ek weet ek moet meer skaam voel daaroor as wat die geval is, maar my werkswyse het onrusbarend veel in gemeen met chaosteorie. Of so sou ek gedink het as ek geweet het wat presies chaosteorie behels.

Wie lees jy?
Ek lees wyd, maar drie skrywers vir wie ek besondere agting het, is Philip Kerr, Sebastian Faulks en John le Carré. Die eerste twee bewonder ek nie net vir hulle wonderlike boeke nie, maar ook vir hulle vakmanskap. Hulle is beide (soos wat ek heimlik ook van myself dink) nie genreskrywers nie. Philip Kerr het wyd geskryf. Dit sluit onder andere in ’n wetenskapsfiksie-tipe boek wat my baie beïndruk het. Sebastian Faulks is ook so. Hy het nie net die briljante Birdsong geskryf nie, maar ook, in opdrag, ’n James Bond wat 100 persent die stem van Ian Fleming is, en ’n P.G. Wodehouse, net dieselfde. John le Carré se karakters is briljant. Ek hoor hulle stemme in my kop lank nadat ek die boek neergesit het.

Daar is vir my ’n internasionale gevoel aan jou boeke, so ’n kief interkontinentale vibe. Sal jy ooit in Engels skryf?
’n Kief interkontinentale vibe, nè? Nee maar schweet, my china. Ek scheme ek laaik dit! (DS: Dis my blerrie speltoetser wat telkens COOL na KIEF verander.)
Ek gaan vorme van die woord parogiaal nou twee keer in een paragraaf gebruik. Ek het ’n klein manlike weergawe van sibbe dood aan parogialiteit. Alles is aan alles anders gekoppel. Dis die lewe. Elke mens, so wonderbaarlik uniek en onbenullig soos ’n vuurhoutjievlam voor die son, is deel van dieselfde bestaan. Ek hou baie van ’n wye doek om op te skilder. Dit is vir my interessanter, en meer vervullend, as om benepe te wees.

My eerste boek, Die twee lewens van Dieter Ondracek, was oorspronklik in Engels geskryf. Ironies, in die lig van jou vraag, is dat ’n plaaslike Engelse uitgewer vir my gesê het hulle wil die boek nie publiseer nie, omdat dit té internasionalisties is. Volgens hulle laat die parogiale aard van die Engelse lesers hier nie sulke verkope toe nie. Vir só boek wil sulke lesers nie ’n plaaslike skrywer hê nie. So die kort antwoord op jou vraag is: Ja, ek sal nog in Engels skryf ook.

Watter boek wens jy jy het geskryf?
50 Shades of Grey. Want dan was ek skatryk en het die tyd en vryheid gehad om goeie boeke te skryf om te vergoed daarvoor dat ek so afgryslike een in die eerste plek gepleeg het.
Die boek wat my heeltemal oorrompel en in verwondering laat stilstaan het, is Umberto Eco se Foucault’s Pendulum. Dit is ’n juweel van ’n boek, en ek sou kon heengaan sonder om terug te kom om by almal te spook, as ek self so stuk manjifiekheid kon agterlaat. Dieselfde, miskien selfs meer, geld vir Tim Winton se An Open Swimmer.

Leef jy meestal in jou kop?
Vanselfsprekend. Die waansin binne my kop is net bietjie minder skrikwekkend as die waansin daarbuite.

Waarom is katte die ideale metgeselle vir skrywers (subjektiewe opinie)?
Dis natuurlik gewoon die waarheid, en glad nie ’n subjektiewe opinie nie. Jaroslav Hašek (dis nou die kat wat my aangeneem het) luister na alles wat ek vir hom voorlees. Sy geelgroen oë knip dan stadig. Dit beteken óf my woorde is treffend goed, óf dat ek eerder beter moes leer sweis het. Sy opinie is onfeilbaar, onpeilbaar korrek.

Is jy reeds besig aan ’n volgende roman?
Romans, meervoud, maar net in my kop. Die karakter wat op die oomblik voor in die ry staan is toenemend ongeduldig. Sy naam is Chris. Sien die probleem met tyd hierbo genoem. Dis erg frustrerend.

Lou-Marié Kruger oor die geweld van armoede

deur Deborah Steinmair

Lou-Marié Kruger, ’n kliniese sielkundige en dosent van Stellenbosch, het ’n hartverskeurende boek geskryf oor die vroue van die Dwarsriviervallei, duskant Helshoogte buite Stellenbosch. Vandag gooi ek alle woordtellingsbeperkinge oorboord en plaas haar antwoorde volledig, omdat dit, soos die boek, vensters in my kop laat oopwaai het.

Oor toegangklikheid:
“Ek dink ons almal (maar veral ons in die akademie) probeer armoede intellektualiseer, ’n “healthy defense mechanism”, as they say. Ek dink dit maak akademiese geskrifte dikwels ontoeganklik.

“Toe ek 19 was en ’n uitruilstudent in northern Minnesota (Fargo North Dakota was my naaste groot stad) het ek met die hartstog van ’n 19-year old huis toe Suid-Afrika toe verlang en Steinbeck gelees en melodramaties in my dagboek van destyds Steinbeck quotes neergeskryf, die een oor Tom Joad wat weggaan van die huis:

‘How ’m gonna know ’bout you? They might kill you an’ I wouldn’t know. How ‘m I gonna know?’

‘I’ll be all around in the dark. I’ll be everywhere. Wherever you can look—wherever there’s a fight so hungry people can eat, I’ll be there. Wherever there’s a cop beatin’ up a guy, I’ll be there. I’ll be in the way guys yell when they’re mad. I’ll be in the way kids laugh when they’re hungry and they know supper’s ready, and when the people are eatin’ the stuff they raise and livin’ in the houses they build, I’ll be there, too.’

“Van toe af het ek vir Tom Joad oral gesoek.

“Heelwat later het ek boeke van antropoloë soos Paul Farmer, Clifford Geertz, Michael Jackson, Nancy Schefer-Hughes, Joao Biehl en mediese dokters soos Oliver Sachs, Athul Gwande, Siddhartea Mukherjee gelees en gehoop ek kan ’n manier kry van skryf wat die pyn wat ek sien en mee werk toeganklik maak.”

Oor die langsame geweld van armoede:
“Rob Nixon se boek Slow violence was op ’n manier deurslaggewend vir my boek: hy het vir my woorde gegee vir wat ek dink ek sien en wat ek wil doen.

“Hy skryf oor “the disasters that are slow moving and long in the making … a world that is permeated by insidious unspectactular violence … drawn-out calamities inaccessible to the human senses.” Hy sê dan dat die uitdaging is hoe om hierdie stories van slow violence te verander in “stories dramatic enough to rouse public sentiment and warrant political interventions … writing can make the unapparent appear, rendering it tangible by humanizing drawn-out calamites inaccessible to the senses”.

“Ek het in 2015 ’n symposium gehou oor Slow Violence, met visuele kunstenaars, dramaturge, novelists, poets, musicians, academics. Dit was wonderlik. It was a sort of coming home. Ek wens my boek kon ’n sound track en visual art ’n (laasgenoemde was eers in die boek, maar dit was te complicated, die kindertekeninge was moeilik om te laat gaan). En ek wil so graag hê dit moet ’n play word.”

Oor wit-middelklas-verlamming:
“Ek het niks daarvan oorkom nie en sal nooit nie.

“Ek voel vir altyd spectacularly verlam, maar ook dan vreemd geïnspireerd en energized met my verantwoordelikheid as iemand wat so baie verniet en onregverdig gekry het. Ek dink dit is gevaarlik as shame (daar is nie ’n goeie Afrikaanse woord vir shame nie) en guilt (skuld) tot onttrekking lei. Dit is emosies wat liefs moet lei na engagement. In die eerste plek moet ons net aandag gee. En sien en erken wat aangaan.”

Oor bestudering:
“Ek dink nie dit is noodwendig of vanselfsprekend goed vir mense om die objek van “studie” te wees nie. Ek dink baie skade word gedoen in die naam van navorsing: navorsing kan objektiverend, intrusive, destruktief en skadelik wees. Daar is baie voorbeelde daarvan.

“Ek dink wel ’n sekere tipe aandag is goed vir alle mense: vir baba’s, kinders, grootmense, lovers, groepe, gemeenskappe. ’n Aandagtigheid wat respekvol is is altyd potensieel fasiliterend vir groei en potensieel helend. In Sielkunde noem ons dit “reverie”, in Afrikaans sou ek die woord verwondering wou gebruik, ’n aandag wat altyd verwonderd bly.

“Ek kan hier al my psigoanalitiese ghurus aanhaal, maar dit kan vervelig word.  (Daar is ’n paar Endnotes hieroor in my boek.)”

Oor honger:
“Die woord ‘honger’ (anders as die akademiese term ‘food insecurity’) impliseer onmiddellik ’n oop mond, lippe, tande, ’n tong, ’n benerige lyf.  And then there is the madness of hunger – wat dit aan ma’s en kinders doen.

“Ek dink die hoofstuk oor honger is die heel belangrikste hoofstuk in my boek. Ons leef in ’n land waar mense en kinders daagliks honger is. En ma’s geïmpliseer word in die honger van hulle kinders.

“Altyd implisiet in honger is begeerte: vir kos, vir liefde, vir aandag, vir bevestiging, vir versorging – iets wat ons nodig het en wil hê en nie kry nie. Dit is waaroor my werk gaan in alle kontekste.”

Oor identiteite:
“Geen regte naam is in die boek gebruik nie en feite is uitgelos en op maniere bymekaargesit sodat almal se stories onherkenbaar sal wees, miskien selfs vir hulleself.

“Maar elke feit is waar, nie een enkele feit is opgemaak nie.

“Dit is Rachel Cusk wat gesê het mens moet altyd so na as moontlik aan die waarheid jok.”

Oor fiksie:
“Ek bewonder romanskrywers so, iemand soos Ingrid Winterbach laat my verbysterd met wat sy kan uitdink en optower en verbeel.

“Ek dink nie ek kan ’n roman skryf nie, ek kan nie dinge uitdink nie, ek kan net dinge sien en hoor en waarneem en notas daarvan maak. Maar eintlik weet ek novelists is ook nog beter daarmee as enige sogenaamde sielkundige of sosiaal wetenskaplike soos ek.”

Oor die belangrikheid van woorde:
“Min is vir my belangriker as woorde, maar ekself dink ek sukkel om die regte woorde te vind.

“Vir ’n sielkundige is hoe jy is met mense in die oomblik die heel belangrikste, maar hoe jy verwoord wat gebeur maak natuurlik ook saak. Metafore is crucial in my werk.

“Maar selfs al is ek verslaaf aan woorde, ek dink belangriker as verwoording is die kuns om te leer om net stil te bly en te luister. En ander te laat praat.”

Oor die term ‘psigo-etnograaf:
“Daar is nie so ’n woord nie. Ek het defensively die woord uitgedink om my projek te regverdig. Dit het te doen met my gulsigheid om beide besig te bly met die binnewêreld en die buitewêreld en hoe die wêrelde mekaar beïnvloed. As ’n psigoloog is ek altyd jaloers op antropoloë.”

Oor die teikengehoor:
“My ma was in my gedagte as eerste leser. Sy is ’n slim vrou sonder akademiese pretensies.

“Die boek is ook geskryf vir my studente. In die Endnotes is baie van die teorie en gedagtes wat onderliggend is in my werk en hoe ek dink oor my werk. Die hoofstuk oor “distress” is byvoorbeeld gebaseer op my kursus in Psigoterapie. Ek dink niemand gaan die Endnotes lees nie, helaas.

“Meer ambisieus sou ek ook hoop die stories kom terug by die vrouens van die valley en dat dit op een of ander manier vir hulle bemagtigend is, al haat ek die woord bemagtigend. Ek probeer miskien se dat ek hoop hulle kan hoor hoe ontroerend hulle stories is en dat dit hulle kwater sal maak. (Ek is so bly jy het in jou review beide die liefde en die woede opgetel. Dit is die bestanddele van Freud se melankolie.)

“The policy-makers and politicians? Ek weet nie of hulle regtig wil of kan lees oor wat werklik aangaan in die hitte van die shacks en die triestige agterplase en die skaduwees van die suburbs nie?”

Oor terapeute wat nie finansieel mag ingryp nie:
“Dit is verskriklik. ’n Mens sukkel. Ek sukkel. Ek dink altyd ek sou meer kon verrig as ek net vir al my mense kon nooi vir ete en vir hulle lekker kos kan maak. Maar dit is natuurlik net ’n fantasie.”

Oor die aanhaling uit Ivan Illich: “And I see no compelling reason why one who practises medicine could not also be a friend – even today.”
“Ek is so bly jy sien dit raak. Ek het ’n supervisor (’n psigoanalis, ouer as die berge) vroeg in my career gehad wat gesê het dat dit okay is om jou pasiënte lief te he. Dit het ’n motto geword, that love is healing. Ek dink dit is waaroor Illich so ponder, hoe liefde en sorg verdwyn het uit medisyne. En natuurlik ook dikwels uit Sielkunde.”

Het jy soms minagting vir ander pasiënte se eerstewêreldprobleme?
“Snaaks genoeg, nooit – pyn is pyn. Ek glo nie in ’n abstrakte hiërargie van pyn nie. Ek probeer om te bly met die pyn van wie ook al by my is.

“Ek sukkel wel wanneer mense ander mense se pyn probeer relativeer en minder maak.”

Wie lees jy in Afrikaans?
“Ek lees baie meer Engels as Afrikaans. Maar natuurlik is my eerste taal Afrikaans. Ek wens ek kon my boek in Afrikaans skryf, veral omdat ek so graag die onderhoude in Afrikaans sou wou hê. Die onderhoude in Afrikaans was regtig suiwer poetry.

My novelists in Afrikaans is Ingrid Winterbach, Fanie Naudé, Willem Anker, Marlene van Niekerk, Jeanne Goosen, dit voel te obvious. En Nathan Trantraal se poetry en essays en comics, hy moes al lankal die Hertzogprys gewen het vir iets. Antjie Krog en Loftus Marais se poetry raak my altyd. Ek bewonder Afikaanse nie-fiksie soos dié van Carel van der Merwe en Ena Jansen, meticulous navorsing, baie mooi opgeskryf.”

Is jy reeds besig met ’n volgende boek?
“My dogter sê nee, asseblief nie.”

Nie meer Nine Inch Nails en Radiohead nie

deur Deborah Steinmair

Johan Jack Smith dra vele hoede:
“Dis maar goeie beplanning en net om iets ‘te doen’ sonder om te veel daaroor te tob. Soms, soos nou, beleef ek bietjie van ’n bottelnekprobleem, maar dit sal oorwaai. Die idee om “What if” eendag te vra, is een van my grootste vrese.

Skryftyd?
“Gewoonlik laat in die aande, soms by die werk as dit stiller is. Weereens goeie beplanning en om stiptelik daarby te bly.”

Inspirasie:
“Die idees vir stories beplan ek lank vooruit, meeste van my inspirasie is maar afkomstig van films. Met misdaad is daar tog soortvan ’n resep – jy moet maar jou eie bestanddele bygooi om dit uniek te maak, sodat dit uitstaan.”

Musiek, digkuns:
“As jy mooi gaan kyk, sal jy die goue draad deur my projekte sien, veral wat lirieke, verse en prosa betref. Ek vind wel dat my verwysingsraamwerk ligter geword het, namate ek ouer word. Ek maak ook nie meer musiek nie, my vierjarige het daai hedonistiese vuur in my en my vrou geblus.”

Zola:
“Ek moes navors. Gaan ry deur die townships, praat met mense, integreer stories wat jy gehoor of gelees het. My broer was ook ’n polisieman, so Basson se verlede is losweg geskoei op sy vertellings. En Goddank vir die Internet. My vrou het wel gesê ek was geïrriteerd en kortaf gedurende die skrywe van Zola – dit het tog ’n invloed op jou, al die moord, sinisme en donkerte. Mens klim in die karakters se koppe in – en in Zola was hulle maar effens versteurd. Ek kan nie heeltemal los staan soos sommige skrywers nie. Jy moet bloei saam met hulle.”

Lapa se Wenkbrou:
“My hele lewe al hou ek van “aweregse” boeke, films en kuns. Daarom hou ek van Wenkbrou. Daar is ’n fyn lyn tussen TE obskuur, en net genoeg dat die algemene leserspubliek dit nie te vreemd sal vind nie. So far so good, dink ek.

Vrystaat:
“My vormingsjare in Virginia het ’n groot rol gespeel in my denkwyse. Maar ek dink as ek in Randfontein grootgeword het, sou ek dalk dieselfde gedink het. My behoefte om my “andersheid” in die Vrystaat te bewys, was dalk sterker. In Johannesburg is almal gewoond aan alles.”

Die ATKV?
“Ek het altyd gedink ek sal iets te make hê met die “alternatiewe” sy van Afrikaans. Ek voel ek het hier my “groove” gevind, ek hou regtig baie van my werk – en die organisasie se invloed op die Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) landskap is inspirerend. Hulle doen uitstekende werk.

Lees:
“Tans net maunskripte vir Wenkbrou – my boekrak raak al hoe voller maar daar is net nie tyd nie. Ek sal een Desember afvat, Karoo toe gaan, en net lees. Dit klink hemels.”

Luister na:
“Arcade Fire, Silversun Pick-ups, Bruce Springsteen en soms Johannes Kerkorrel. Darem nie meer net Nine Inch Nails en Radiohead nie. Vir daai woede sien ek nie meer kans nie. En te veel minor tones is sleg vir my gemoed.”

Verskuilde talente?
“Ek het provinsiaal tennis gespeel en probeer baie hard om weer op standaard te kom. Dis egter nie so maklik as jy vir lank opgehou het nie.”

“Vang die storie soos dit verbysweef”

deur Deborah Steinmair

Marlize Hobbs wou nog altyd skryf. “Ek het kort stories vir my vriende geskryf en op 12 my eerste boek: Verdwaling in die Ruimte. My ma het baie ensiklopidieë en digbundels gehad wat my geïnspireer het.

“Die plaas het my blootgestel aan ander kulture en hoe dinge werklik op plase gelyk het onder Apartheid. Ek het baie geleer van Tswanas en Griekwas. Die traumas waardeur ek is as kind, vind ook neerslag in my skryfwerk en solank ek nodig het om sekere dinge aan te raak, soos molestering of verkragting, om vir myself genesing te bring, so lank sal ek daaroor skryf.”

Verbeelding: “Ek kan my net dinge verbeel as ek relax. So, ek pop ’n urbanol as ek te opgewonde raak oor ’n storie, sodat ek rustig kan raak en die storie access. Stories float rond, as jy ’n idee kry moet jy hom skryf, anders gaan iemand anders hom skryf en jy gaan spyt wees. Ek is bang om rondom ander skrywers te dink, netnou access hulle my idees. Niks behoort aan ons nie. Jy is bloot die kanaal waardeur die storie geskryf word.”

Erotiek: “Ek dink meeste vroue het die potensiaal om eroties te wees, maar dis nie nodig vir straight vroue om eroties te wees nie; want dit vat niks om ’n man jags te maak nie. Maar om ’n liefdespel met ’n vrou aan te knoop, het jy die magte van toorwoorde en fyn aanraking nodig. As iemand my brein uitdaag, ervaar ek dit as eroties … wanneer my vrou my hare vasmaak in die oggend voor werk, want ek weet nie hoe nie, ervaar ek haar liefde en erotiek in die aksie.”

Novelles: “Ek word gou verveeld met te veel detail in boeke. Dit voel of daar nie plek is vir my brein of verbeelding nie. Dit voel vir my voorskriftelik van wat ek veronderstel is om te ervaar. Ek skryf kort en probeer om in so min as moontlik woorde soveel as moontlik te sê … Ek dink ek het die plek tussen ’n moerse roman en ’n gedig gevind, in die skryf van novelles.”

Gestremdheid: “Die gestremde kind in my verhale verteenwoordig my eie kind wat outisties is. Jy dink die kind verstaan nie of is so anders dat die wêreld vir haar onbekend is; totdat jy dieper kyk en sien hoe anders intelligent die kind is. In my verhale is die gestremde persoon altyd iemand met ’n natuurlike aanvoeling vir oorlewing en menswees.”

Invloede: “Ek het vir 4 jaar lank as ’n maatskaplike werker in ’n Tswana-stat, naby Botswana, in die ou Bophutatswana gewoon en gewerk. Daar het ek geweldig baie geleer van Tswana-mense. Ek het my eerste novella, Flarde, daar geskryf. Mens moet natuurlik versigtig wees om te steel sonder om te verstaan/erkenning te gee of om skeef uit te beeld. Die Tswana-vroue in my verhale is altyd sterk en eksoties met toorkrag.”

Haar nuwe boek, Voëlvrou: “Die storie is een van daardie wat in die Heelal rondgesweef het en net gewag het vir die regte persoon om dit te vertel … binne die regte konteks en gemeenskap met die regte karakters. Ek was gelukkig dat my gedagtes oop was vir idees. En toe ‘vang’ ek die storie soos dit verbysweef.”

Marlize se novelle Voëlvrou verskyn in Augustus by Protea. 

Wat Schalk Schoombie gelees het

Die een politieke bestel rig vir sy helde standbeelde  op – hoe groter en vernamer hoe beter – die volgende bedeling breek dit weer af ten gronde, bespat dit met verf en ekskresie – hoe smeriger en bespotliker hoe beter. Christopher Hope, uitgeweke Suid-Afrikaanse skrywer met ʼn vlymskerp pen, herinner ons in The Café de Move-on Blues, In Search of the New South Africa (Atlantic Books) dat die oorwinnaars nie net die geskiedenis in hul eie glorie herskryf nie, maar ook die verloorders se monumente ontluister, aftakel, verwyder, laat verdwyn. Daar moet deurentyd simbolies met die sondes en grootbase van gister afgereken word, op die grafte gedans word om historiese spoke te besweer.

Hope, wat deesdae in Frankryk woon, begin sy bittersoet pelgrimstog deur die Nuwe Suid-Afrika in Kaapstad, waar hy toevallig getuie is van die skending van Cecil John Rhodes se standbeeld op die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Dis ʼn jolige skouspel: “The mood of the students was a blend of protest and party-going that made it hard to know if they were furious or having fun, or in rehearsal for a piece of theatre.” Daar is immers ʼn teatrale en klugtige element aan alle politieke gebelgheid – gedenk Eugène Terre’Blanche wat van sy perd afgeneuk het. Hope besoek die standbeelde van gevalle helde dwarsdeur Suid-Afrika en gee ʼn gepiekelde kykie op die toutrekkery en uitbuitery oor die eeue heen én die afgelope paar dekades. Hy besoek verskeie standbeelde en gedenkwaardige plekke soos Matjiesfontein, Kimberley, en die verwaarloosde heldeakker in Pretoria, herontdek ons bloedbevlekte geskiedenis padlangs, gesels met kleurryke karakters van uiteenlopende oortuigings en verduidelik waar elk inpas in die oorblyfsels van Rhodes se “Empire of Dreams”. Ontmoetings met selfaangestelde bewakers van die standbeelde van Paul Kruger en Mandela word gelaai met empatie en ironie en kerf diep in die psige van ʼn verdeelde nasie wat weier om reënboog te wees.

Ondanks alle pogings van die ‘wenners’ om die geskiedenis te herontwerp, bly daar onuitwisbare spore van omstrede figure soos Rhodes. En dit is die nugter geskiedskrywers soos Hope wat jou wakker skok, laat peins en lag oor die absurditeite van voortvarende politici, generaals, idealiste en nasionaliste, dromers en delwers, vryheidsvegters en fanatici van alle kleure en kulture. Elke hoofstuk bars uit sy nate met skerpsinnighede wat verruim en begogel. Soos dié een: “Literacy beats eschatology.”

The Café Move-on Blues verwys na ʼn uitlating van Oliver Tambo oor die ewig swerwende, voortvlugtende aard van die Suid-Afrikaanse boorling. Pak op en beweeg aan. Tog wil die leser vertoef in dié reisjoernaal wat gepeper is met aweregse humor en verrassende feite uit ons geliefde, ontredderde land. As daar ʼn boek is wat Suid-Afrikaners vanjaar maar kan lees en herlees, is dit dié een.

Wat Olivia M Coetzee lees:

Ek lies graag boeke wat uitstaan vi my, maa die way hoe ek opgegroei het was lies nie iets wat rêrig iets was wat djy gedoen hettie. Ek meet ʼn tjommie van my van hoërskool, en sy sê toe hoe haa antie vi haa kô sê het van Innie Shadows, en van my, en sy sak toe af vi haa antie, “Ja, sy was altyd soe mettie boeke.” En honestly, ek het daai facts vegiet van hoe ek actually baie gelies het. My pa was deel van Reader’s Digest, en Leserskring, al kon ôs nooit boeke bekostigie, het ek my weg gegooi in die blaaie van die ‘free’ boeke wat hy altyd gekry het.

Ek was as kind baie in die library, vi iemand wat moes deu twie van Eeste Rivie se bosse loep,  om by die Eeste Rivie library uit te kô. En daa het ek mense soes Patricia Cornwell, en Stephen King gelies, wan dis wat beskikbaar was.

Ek was mal, en is mal oo misdaad fiksie. Ek dink dit gan oo die feit dat mieste van die tyd is daa ʼn iemand wat gevang wôt,
en wat tronk toe gestuu wôt, of die misdadiger wat dood gemaak wôt, en ek dink dit gan oo
die feit dat an die einde van die dag wen die Lig oo die Donkete. Ek was mal en is mal oo die ‘weird en wonderful’, magic, satanisme, godsdiens, dystopian-tipe liesgoed wat mense bangmaak, en wat vi my bangmaak, but wat my nog steeds trek.

En toe ek beginte studeer was ek amaze met die grootheid van die libraries wat ek kon access. Van kleins af het ek velief geraak op biblioteke. En by Uni het ek skrywers soes Zoë Wicomb, Bessie Head, K Sello Duiker, Deon Meyer, Toni Morrison, Chimamanda Ngozi Adichie, Gerald Kraak, om ʼn paa te noem, geontmoet.

En dan J. K. Rowling.😊

Schalk Schoombie se Boek van die Dekade: The Overstory deur Richard Powers

Die afgelope tien jaar het talle romans opgelewer wat kan kwalifiseer as Boek van die Dekade: Hilary Mantel se Wolf Hall, Hanya Yanagihara se A Little Life, Anthony Doerr se All the Light You Cannot See, The Great Believers deur Rebecca Makkai, The Narrow Road to the Deep North van Richard Flanagan. Epiese, kategorie-ontwykende romans wat platslaan, uitdaag, opwek en les bes, die bewussyn skommel. Daai sg. “lewensveranderende” boek.

My keuse vir Boek van die Dekade moet wees: Richard Powers se The Overstory.

In ʼn neutedop – as so iets moontlik is – ʼn boek oor die verhouding tussen bome en mense. Bome word hier voorop gestel, as synde die wesens op aarde wat die langste leef en oor millennia heen die meeste tot die mens se lewe en welstand bydra: suurstof, voedsel, medisyne, skuiling, meubels, gereedskap, brandstof, voertuie, kuns. Kyk net om jou rond en tel jou seëninge van hout.

The Overstory kan “tree huggers” van opperste skeptici maak. Aanvanklik word hoofstukke aangebied as losstaande verhale oor diverse karakters: ʼn vrou met ʼn spraakdefek wat as navorser nader aan plante as mense leef, ʼn Chinese immigrant en sy dogters, ʼn verlamde Indiër wat rekenaarpeletjies en digitale wêrelde skep; ʼn jong vrou wat stemme van onsigbare wesens hoor nadat sy ʼn nabydood-ervaring gehad het, ʼn kunstenaar wat behep raak met bome, ʼn oorlogveteraan wat bome in kommersiële plantasies plant, ʼn sielkunde-student wat onderhoude met omgewingsaktiviste voer om agter die kap van hul psigose te kom – net om hom by hulle aan te sluit. Die karakters se stories is verstrengel met die stories en geskiedenis van bome. Moeiteloos, met ʼn meesterlike aanvoeling vir die geheel, die “overstory”, kom al die onderdele saam. Niks is terloops nie. Die klimaks ruk jou wortels uit. Powers het sy omvattende kennis van die planteryk verweef met die mens se donkerste strewes, die drang na vooruitgang, en die tydgees om bewaringskwessies – sonder om te preek.

Dis ‘n verbluffende, diep ontroerende boek wat jy dadelik wil herlees. Hoe dieper jy delf, hoe weliger kring die insigte uit. Powers se taal en styl is ryk én ruig, wat bodemlose verkennings toelaat. Die intriges kan maklik drie seisoene van ʼn TV-dramareeks beslaan. Wanneer jy die boek toemaak, ontwaak jy uit ʼn wakker droom. Jy raak bewus van die oorkoepelende storie wat mense nietig kan laat lyk. Nooit sal jy weer dieselfde kyk na bome nie.

  • The Overstory deur Richard Powers was die wenner van die Pulitzerprys vir 2019 en benoem vir die Bookerprys.

Uittreksel uit Zola:

“‘Klink maar na ’n kak job.’

‘Jip. Die eienaars maak net soos hulle wil. Daar is nie wetgewing wat hulle reguleer nie. So die bestuurders kak af. En dis gevaarlik. Daar was jare terug hierdie term: ‘Death from the backseat”. Die pirates het gemaak of hulle gewone passasiers is en dan op die agterste sitplek gaan sit. Dan skiet hulle die bestuurder van agter af in die kop. Die verenigings Dopper mekaar ook op. Die regering help nie, baie van die verenigings kry hofbevele vir dieselfde roete, dan spat die kak eers. Die bestuurders is gelukkig as hulle R4 000 huis toe vat elke maand. En dis ’n lang dag. Eers gaan haal hulle die taxi by die eienaar se huis, dan wag hulle in ’n ry by die rank van drieuur die oggend af. As jy laat is, mis jy ’n trip en maak minder geld. Baie werk tot ná agt saans …

‘Dan is daar die metropolisie wat jy moet bribe. Jy is verantwoordelik om die taxi op die pad te hou. As iets breek, moet jy dit self regmaak of vervang, dit sluit bande in. Dis hoekom so baie van die goed uitmekaar bliksem. En dan’s daar Rea Vaya en deesdae Uber wat jou besigheid steel. Baie van die ouens gebruik kruie, muti, met die naam ‘intelezi’, wat hulle glo sterk maak en beskerm. Dit maak hulle net moer aggressief.’”

Marlize Hobbs se boeke:

Flarde verower in 2006 die Eugène Marais-prys en in dieselfde jaar word die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende Afrikaanse prosa ook aan hierdie boek toegeken.

Het jy al Prozac Nation gelees?

“But also, books are intimate and precious. Books are secret-sharing. Books are two drinks in, at a bar close to your house, a little sweaty and a little dark, and someone you know well but also don’t quite trust suddenly lowers her voice and maybe puts her hand up on your wrist, and tells you everything and you forget a minute how to breathe.”

Wonderlike woorde van Lynn Steger Strong. Lees haar uitmuntende opiniestuk oor Elizabeth Wurzel hier: https://lithub.com/how-did-elizabeth-wurtzel-survive-us/

Deborah Steinmair se top-10
  1. Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden
  2. Chinatown deur Ronelda S Kamfer
  3. Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach
  4. Die Verevrou deur Jan van Tonder
  5. Die Slaghuis deur Cas Wepener
  6. Sewe-en-veertig deur Irma Venter
  7. Kyk na my deur Nataniël
  8. Die Wonderwese deur Carina Stander
  9. Ek is Hendrik Witbooi deur Connie Braam
  10. Smit Motors deur Renay Warrington

Die Hont

deur Anton Döckel

Sommerso. Is dit hoe broos die lewensdraad is? Een dag het jy ’n lewensmaat waarsonder jy nie wil lewe nie. Die volgende dag is hy nie meer daar nie, maar jy lewe. Almal wil vir jou smart opdis met hulle resep; saam met jou voel en jy? Is dit is hoe rou is. Sy voel of iemand langs haar net besluit het om weg te stap. Baie soos wanneer sy en Ernst stry gekry het. Dan het hy weggestap en weer teruggekom wanneer hy kalmer was. Die keer kan hy nie weer terugkom nie. Dit laat haar ’n weduwee – onaardige woord. Vrou-alleen, eerder.

Die elektrisiteit skop aanhoudend uit. Vriendin in die ondersteuningsgroep vir weduwees ken iemand. Hy klop aan die deur. “Frederik, mevrou. Mag ek maar die leer hier by die voordeur inbring?”

’n Gawe, vriendelike man met goeie maniere. Wat het sy dan verwag? “Ek is Elsa, hoor? Aangename kennis.”

Hy gespe ’n breë leerbelt aan met ’n sak waarin sy skroewedraaiers en meters en tange seker is. Toolbag. Wat sou dit in Afrikaans wees? Ernst sou geweet het, hy was ’n nerd oor taal, maar geen nutsman nie. Sou dit nou gereedskapsak wees? Of buidelsak. Miskien. Daardie breë belt wat so laag om Frederik se heupe hang, doen dinge aan ’n man se voorkoms onderkant sy naeltjie. Elsa bloos. Ook maar goed Frederik kan nie haar gedagtes lees nie.

Die hond kom blaffend onder Ernst se lessenaar uitgestorm. Dis goed so; hy lê al maande daar en treur en maer word. “Remus!” probeer sy keer.

“Rebus? Hallo oubaas se honne,” sê Federik en vroetel sy ore en krap sy kop. “Ek smaak niks lekker nie. Hy het ’n bietjie Jack Russell in hom. Gaan lê eers Rebus, ek moet nou werk”.

Remus, verdoop na Rebus, gaan lê. Kan jy dit glo? Frederik se aandele styg al hoër. Hy lyk fiks asof hy jou oor sy skouer sal kan tel en dra na waar jou verbeelding wil hê.

“Ek begin by die switch box.”

“Skakelkas,” sê Elsa.

“Dis ’n nuwe een, ek moet dit onthou. Dalk gee iemand om oor sulke goed.”

Hy kan nou self verder werk, sê hy. Sy vra om te mag kyk. Sy het nog altyd bewondering gehad vir manne wat met hulle hande werk. Sal sy dan nooit ophou bloos nie, wonder Elsa.

Te gou klaar. Die probleem was toe by die stoof. Frederik gaan speel buite met “Rebus” en kom drink daarna tee. “Die hond moet oefening kry. Ek sal kom speel of gaan stap met hom as ek tyd af het. Oukei?”

Woensdag, by die haarsalon, kry sy ’n WhatsApp. Dis van Frederik: “Ek het net kom kyk hoe dit met die hont gan toe blaf hy vir my.”

Sy tik: “Ek sal om vyfuur weer by die huis wees.” Stuur. Die versoeking om te skryf “by die hys” was groot. Sy glimlag. Hoe dierbaar van hom.

’n Man se spelling tel nie vir so baie nie.

Liefde post mortem

deur Elmi Smith

“Goeienaand?”

“Hallo, Hermien. Dis Jana. Eet julle nog?”

“Nee jong, ek het weer als verbrand. Josh het gaan take-aways koop. Ek probeer van die reuk ontslae raak en die pot skoonskrop.”

Jana glimlag. Kosmaak is nie haar suster se forte nie.

“Hanno verjaar oor twee weke. Ek het gedink om partytjie te hou.”

“Jana, Hanno is dood. Ek is jammer Sus, maar mens hou nie partytjies vir dooie mense nie.”

“Hoekom nie? Dis nie asof hy dood-dood is nie. Jy weet mos dis net die liggaam wat doodgaan. Hanno lewe en hy wil ʼn partytjie hê.”

“Jana, jy moet aanbeweeg. Dis amper ʼn jaar. Ja-a, Hanno ‘lewe’ soos jy sê, maar dis nou tyd dat jy hom los dat hy in vrede kan lewe terwyl hy dood is. In elk geval word mens gelukgewens op jou verjaardag omdat jy nog ’n jaar oorleef het. Behalwe dat Hanno nie daar gaan wees om dit te hoor nie, het hy dit nie exactly reggekry nie. Wat jy eintlik moet doen is om van sy as ontslae te raak. Dit sal jou help om rigting te kry.”

Die as. Jana skrik. Waar is daai kissie? Sy het dit al twee keer verlê. Die kissie het staanplek gekry bo-op die help-jouself-deur-’n-krisisboeke wat uit alle oorde ingestroom het. Sy was op soek na haar niggie se praktiese bydrae Van Begrafnisstoet tot Boedelgoed, toe sy agterkom dat die kissie voete gekry het. Sy beter soek.

“Dalk is dit ’n goeie idee,” sê Jana. “Ek gaan julle almal nooi en dan gaan sit ons die kissie in die gedenkmuur op Hanno se verjaardag en hou sommer partytjie ná die tyd.”

“Asseblief tog Jana. Jy kan nie van ’n somber geleentheid ’n verjaardagpartytjie maak nie!”

“Ag kom nou, Hermien. Ons almal se liggame gaan een of ander tyd dood. Al wat dit beteken is dat ons nie meer sigbaar is nie. Jy weet net so goed soos ek dat Ma nog lewe. Ek sien haar elke dag in jou en gereeld in die spieël en hoor haar in my kop. Hanno praat nog met my. Ek hoef nie met my ore sy stem te hoor nie, ek hoor met my hart.”

“Oukei Jana. Okei. Kom ons hou dan maar die gedenkdienspartytjie. Maar dan moet jy my belowe dat jy daarna sal ophou praat asof Hanno net om die draai is.”

“Hermien, kom ek prober verduidelik. Josh gaan netnou jou hand vat en die seën vra en julle gaan iets eet wat jy nie verbrand het nie. Dan gaan julle aangaan soos gewoonlik. Hoeveel keer KYK julle regtig vir mekaar? Hoeveel keer gesels julle sonder oogkontak? Hoeveel stil tye geniet julle saam? Hoeveel kontak vind plaas in die lug, deur ’n gebaar of ’n gewoonte of pleinweg net ’n onthou? Sou Josh weggaan, gaan net sy liggaam weg. Die res bly dieselfde. Die liefde bly, dit gaan nie dood nie en dit gaan nie weg nie. Hanno lewe.”

Ons gaan lekker partytjie hou.

Ginger

deur Marthe McLoud

Hy het as ’n pasiënt haar lewe binnegedring en ook as pasiënt vertrek. Die probleem was die veertien jaar tussenin. Sy het soos ’n ringdonut met ’n groot gat in haar binneste gevoel. Die eerste sewe jaar was die vet jare toe hulle verlief en sy nog hoopvol was. Die laaste sewe jaar was die maer jare toe sy tot die slotsom gekom het dat hy hom nie aan ’n vrou wil verbind nie, dat haar droom van ’n wit trourok nie gaan gebeur nie, dat sy sal moet kies of sy bereid is om vir die res van haar lewe met gebreekte drome die verhouding voort te sit of die hasepad kies.

Die eerste keer toe sy van hom bewus geraak het, was toe hy in die algemene saal in Sentraal Hospitaal gelê het. Elke keer wat sy naby sy bed gekom het, het hy onderlangs gemompel, “Bring die water, bring die sand, die Rooikop is aan die brand.” Sy het dit geïgnoreer. Narkose kan nogal ’n eienaardige uitwerking op sekere pasiënte hê. Hy het haar aangespreek as “Suster Ginger” wanneer sy sy bloeddruk of koors kom neem of sy drip herstel het. Die eerste keer wat hulle gaan uiteet het, het die “Suster” weggeval en het sy Ginger gebly. Dit was sy troetelnaam vir haar.

Sy uitbundigheid het haar aangetrek. Sy het eers die pessimisme in haarself erken toe sy hom ontmoet het. Hy was ’n kuddedier, die een wat twintig ander mense oor wil nooi vir ’n braai terwyl sy die aand net stil by die huis wil wees en teen hom nestel soos ’n Persiese kat wat aandag soek. Hy was topfiks, het gegym en marathons gehardloop. Vir haar is oefening op dieselfde vlak as ’n wortelkanaalbehandeling. Tog het hulle by mekaar gepas, of so het sy gedink.

Hulle het nooit saam ingetrek nie. Dit was asof hy haar altyd op ’n afstand gehou het en tog het sy die indruk gekry dat hy nie sonder haar kan klaarkom nie.

Eers was daar die moegheid, die kringe onder sy oë, die hoofpyne. Toe die ontdekking van die melanoom. Hy het ná veertien jaar by haar ingetrek en sy het al haar opgehoopte verlof geneem en hom versorg. Die dag voor sy dood het hy sy prokureursvriend laat kom om aan sy testament te verander. Alles het agter geslote deure geskied.

Ná die begrafnis is sy en sy broers en suster deur die prokureur ingeroep vir die lees van die testament. Hy het sy bates in gelyke dele aan sy familie bemaak. Sy het in elk geval niks verwag nie. Toe almal opstaan, het die prokureur vir haar gevra om agter te bly. Hy het ’n antieke fluweeldosie aan haar oorhandig. “Dis sy oorlede ma se verloofring. Glo baie kosbaar en kom geslagte saam met die oudste seun. Hy het gesê hy wou dit nog altyd aan jou vinger steek. Hy het net nog nie daarby uitgekom nie.”

EENDUISEND PERDEKRAG

deur Hendie Grobbelaar

Sy stap huiwerig die kroeg binne, al trekkende aan die nousluitende romp en stywe bloesie. Dan kyk sy vinnig rond en skuif haar moderne ronde bril hoër op teen haar neusbrug en vryf oor haar poniestert, ʼn spierwit roos in haar linkerhand vasgeklem.

Hy sal ʼn swart T-hemp dra met ʼn bekende motorfietshandelsmerk op. Sy het nogal gedink dit klink baie verwaand, maar nou ja. Sy is desperaat. Met haar werk ontmoet sy baie mans, maar hulle sien haar nie as vrou raak nie. Dit is hoekom sy haar aanlynprofiel so effens aangedik het. ʼn Paar goed hier en daar weggelaat het. Sy sal wel later verduidelik. Indien nodig.

Hy sien haar dadelik raak toe sy by die enkele oop stoel voor die toonbank gaan sit. Ten spyte van haar aangeplakte voorkoms, lyk sy so onvanpas in die kroeg soos sy oumagrootjie.

“ʼn Gin en tonic asseblief?” Haar stem bewe effens en haar hemelblou oë is vol valse bravade agter die brilglase. Hy knik en draai om om eers die bier in sy hand by die anderkant van die kroeg voor die bombastiese ou in die Harley T-hemp te gaan neersit. Die ou het egter skoonveld verdwyn en sy buddies aan weerskante trek net hulle skouers op. Badkamer toe, beduie die een en knik na die agterkant van die vertrek toe.

Hy gooi die drankie vir die meisie in en toe hy dit voor haar neersit, sien hy dat sy in ʼn ernstige gesprek is met die twee ouens aan haar linkerkant. Hulle hang aan haar lippe.

“…ek weet jy kan dit op daardie manier doen, maar ek belowe jou, om ʼn crank shaft uit te haal is nie so moeilik soos wat die ouens beweer nie. Jy kan dit binne ʼn paar uur doen as jy weet hoe.”

Sy het haar bril afgehaal en daar het stringe uit haar poniestert losgekom wat nou heen en weer swaai soos sy haar kop beweeg. Daar is ʼn vuur in haar oë en ʼn blos op haar wange.

Dan kyk sy na hom en iets gebeur in sy enjin. Dit voel of hy ʼn kraginspuiting kry en sy kop draai. Iewers in die omgewing van sy hart hardloop ʼn duisend perde teen duisend kilometer per uur.

“Haai Ferdinand, jy moet met hierdie girl gesels, my ou! Sy is ʼn mechanic met haar eie werkswinkel. Jy het mos gesê jy wil daai ou Ford Cortina van jou pa nog eendag laat oordoen?”

Sy snak na haar asem en gryp hom aan die skouer oor die breedte van die toonbank. Daar is ʼn begeerte in haar oë en haar asem jaag. Hy ruik haar parfuum en sy kop duisel.

“Jy het ʼn Ford Cortina?! Wanneer kan ek na haar kom kyk?”

Ferdinand vat haar growwe handjie in sy twee en glimlag skaapagtig.

“Dalk ná my skof vanaand?”

Stefaans tot die redding

deur Riana Wilkens

Hulle baklei al weer. Soos kat en hond, sê mense. Ek bly weg van katte af. Glibberige wolbolle met skerp naels en duiwelsoë. En hulle sis.

Sy pluk ’n tas uit die kas. Hy brul van woede en ek druk my ore toe. Toe sê sy die verskiklikste woord wat ek nog ooit gehoor het. Sy sê: “Skei.” En hy keer nie, hy sê: “Prokureur.”

En toe begin hulle baklei oor wie my gaan kry en ek besef ek kan nie net so lê nie, en net daar maak ek ’n plan. Ek rol om, pote in die lug, gooi my tong so slap-skeef by my mond uit en begin ruk.

“Stefaansie!” gil sy, en vir hom: ” Kry die hondeboks!” En hy gil: “Dis te laat. Kry die karsleutels.” En hy raap my op en daar trek ons.

Die dokter krap kop. Hy kry niks verkeerd nie maar ek hou aan ruk. Nou en dan gee ek so ’n patetiese kreuntjie. Die dokter vra of ek dalk ’n trauma beleef het.

Hy loer skuldig vir haar en sy staar na haar skoene en sê nie ’n woord nie. Die dokter gee vir hulle druppels, sê ons moet terugkom as ek nie beter word nie en stuur ons huis toe.

Hy sit my sag op die bed neer. Sy kom lê langs my en streel my kop. “Stefaansie, jy is die liefde van my lewe.” sê sy. “En jy is myne,” sê hy. Sy hou op om my te streel. “Wat het jy gesê?” “En jy is myne.” Sy begin huil. Hy kom lê by ons op die bed.

“Ons praat nooit meer met mekaar nie,” sê sy. “Ons werk so hard,” sê hy. “Elke aand ná ete val jy voor die televisie neer en hop van die een sportkanaal na die ander. Jy antwoord nie eers as ek vra of jy wil tee hê nie.”

Hy bly ’n oomblik lank stil. ”Sal ons ’n sielkundige gaan sien?” “Jy haat sielkundiges.” “Ek kan jou nie verloor nie,” sê hy.

Sy kyk vir hom met daai sagte kyk wat ek gedink het net vir my bedoel is, maar ek gee nie eens om nie.

“Skuif op, Stefanus,” sê hy. “Ek wil my vrou vashou.” Ek skuif. Hy sit sy arms om haar en begin vir haar sing soos wat hy lank terug elke aand gedoen het. Ek kruip styf teen sy rug in en ek wens ek was ’n kat. Net vir vanaand. Dan kon ek heelnag lê en spin.

Stilgelieg

deur Elsabé Brits

Sy val amper met die uitklimslag. Die spasie tussen die treinwa en die perron voel groter as destyds, toe sy hier moes afklim.

Haar sykouse blink in die oggendson. Sy trek-trek aan haar handskoene, skuif die hoed ’n aks, net om seker te maak dit sit soos Sondae.

Met lang treë, wat pas by haar steeds lenige lyf en statige postuur, stap sy na die stasiekantien. Dit is die enigste stukkie lewe vir myle ver op dié onverbiddelike vaal vlaktes. Dis ook net die trein wat hier stop – al hoe ’n mens deesdae hier kan kom.

Nietemin, dis wat hy gesê het. Kan hulle hiér ontmoet. Hier tussen die stowwerige niks, waar die son jou doodbrand in die dag en die nag saans jaloers sy snerpende beurt neem.

Sy bestel tee. Sluk angstig. Voel hoe sy pakkie briewe en foto’s in haar handsak al swaarder word. Raak vlugtig daaraan met haar hand, maar pluk dit vinnig weg. Tot vanoggend toe, het sy in 40 jaar nie daaraan geraak nie. Dit sou tog nie die bestiering verander het nie. Die lot van liefhê, sonder om ooit te trou of ’n baba van jou eie vas te hou.

Vandat sy afgeklim en kom sit het, het sy nog nie een keer sóóntoe gekyk nie. Vandag is daar glo niks meer oor nie. Daar is net klippe en stukke blik. Grafte, knope en albasters. Dalk moet sy tog maar kyk.

In die verte kan sy die platberg sien. Die een waarna sy elke dag gestaar het, al die lang jare wat sy in die kamp was. Die res is alles weg, maar dit wás daar.

Niemand het ná die tyd gepraat oor die moedeloosheid, die hongersnood, die verraad en die oneer nie. Ook nie oor die vroue wat gek geword het, soos sy nie. Nee, hulle het dit alles ná die oorlog toegelieg. Stilgelieg, sodat almal kon sterk wees.

Dis waar hy haar gekry het, vasgemaak aan die kamphospitaal se bed. Gek van dra aan die oorlog, van verduur. Hy het haar gebalde vuiste losgewoel. Sag het hy haar heelgemaak, liefgehê.

Sy is so diep ingedagte sy hoor hom nie naderkom nie. Sien net die bekende staalblou oë raak toe hy sê: “Nonnie?”

If we wait for mountains

deur Ora van Droogenbroeck

Madrie kyk benoud om haar. Hier sit sy in die enigste koffiewinkel op die dorp met ’n wit angelier en die koerant voor haar, wagtend op die romantiese held van haar drome.

Het die eensaamheid my nou rêrig in my middeljare so kens dat ek kon instem tot so ’n onbesonne ding?” kring haar gedagtes.

Hoe kon sy haar deur Gretha, haar jarelange vriendin, laat ompraat om aanlyn na geselskap te gaan soek?

Sy moet egter erken dat Driesman al die regte goed in hul aanlyngesprekke gesê het om haar verbeelding totaal op loop te laat sit. Dieselfde liefde vir lees en hul kon ure gesels oor musiek – hy het in vervoering geraak oor Van the Man; kon selfs woordeliks aanhaal uit haar gunstelinglied “If we wait for mountains”.

Haar eensaamheid het haar laat glo dat sy soos in liefdesverhale, haar sielsgenoot met ’n blinde afspraak en ’n wit angelier sou ontmoet! Hoe naïef tog!

Sy staan so vinnig op dat haar voet aan die stoelpoot vashaak en sy plat op haar bas op die vloer te lande kom. Met die valslag gryp sy na die kant van die tafeltjie en die koerant en angelier beland op die grond. Die kelner is gou by en probeer haar ophelp, maar die outjie is onbeholpe en bly bedremmeld staan.

Twee sterk arms gly egter onder haar skouers in en lig haar soos ’n veertjie op haar voete.

Met ’n rooi gesig en sonder om op te kyk, mompel sy ’n vinnige dankie en verkas soos ’n verskrikte dassie deur toe.

Buite staan sy eers om asem te skep en te kyk of ’n man wat ook ’n wit angelier dra, nie dalk by die koffiewinkel ingaan nie. Sy sien egter niemand nie en met ’n sug van verligting stap sy na haar motor. Tuis sal sy maar een of ander verskoning bedink om haar afwesigheid vir hul afspraak te verduidelik. Sy is net dankbaar dat Driesman nie van die stiptelike soort is nie en klaarblyklik laat vir hul afspraak was. Sy sal haarself moet speen van haar verbeeldingsvlugte. Sy sal stelselmatig hul aanlyngesprekke so stuur dat dit liewer doodloop.

Sy is die afgelope tien jaar ’n alleenloper ná haar man se dood en gewoond daaraan om self op te snork, al verlang haar vel en lyf na aanraking en smag haar ore na laataand-fluisteringe.

Tuis gaan sit sy op die leunstoel by die venster om te dink hoe sy haar uit die aanlyngesprekke wat al sterk geneig het na die romantiese, te wikkel.

Die voordeurklokkie lui. Natuurlik Gretha wat wil kom hoor hoe die toe-oë-afspraak afgeloop het. “Kom tog net in. Jy ken mos die pad!” roep sy hard toe die klokkie ’n tweede keer gedruk word.

Sy staan so vinnig op uit die stoel dat sy oor haar skoene, wat sy met die sitslag uitgeskop het, struikel. “Dêm en nog ’n dêm” sug sy hardop net toe twee sterk arms haar keer voor sy met Moeder Aarde kennis maak.

“As jy twee keer op een dag so in my arms beland, sal ek jou mooi in die toekoms moet oppas”. Mandri voel die diep stem soos sagte fluweel om haar vou. Met die opkykslag sien sy ’n breë glimlag en duiweltjies wat dans in blouselblou oë met baie lagplootjies.

“Jy het hierdie in die koffiewinkel vergeet toe jy so vinnig padgegee het”. In die vreemdeling se hand is twee wit angeliere, een waarvan die stingel gebreek het. “Ek het jou gevolg, ek hoop nie jy vlug weer nie, want ek dink lankal jy is die sielsgenoot waarna ek soek. Ek is Driesman. Aangename kennis.”

“As jy my toelaat om jou beter te leer ken, kan ons dalk saam met Van Morrison sing: “The world is full of wonders, no matter what they say. Wonders are all around us. Life is all we’ve got.

If you wait for mountains, then you will miss a lot.”

Die geelbladsye

deur Ora van Droogenbroeck

Sy:
“Ek laat my nie soos ’n eensame ou stoetkoei in ’n landboutydskrif adverteer nie!” Dibbie se stemtoon weerspieël presies wat sy van hierdie idee dink.

“Komaan, Dibbie, my sus het so uiteindelik liefde gevind en is al tien jaar gelukkig getroud.”

As haar vriendin eers daardie kyk in haar oë kry, weet Dibbie dat sy nie sal kopgee nie.

“Nou toe dan”, sug Dibbie, “maar nie by Die Hoekie of wat mens dit ookal noem nie. Dan liewer by die gewone geelbladsye. En kies jou woorde baie mooi. Ek is nie eensaam, verlore of verlate nie! Ek is te oud vir die soort speletjies. Ek is al tien jaar lank alleen en het nie onnodige komplikasies in my lewe nodig nie. My kinders is uit die huis uit en gelukkig getroud. Maar alleen oudword wil ek ook nie,” voeg sy stil by en hoop haar beste pêl hoor dit nie.

Hy:
Hermanus kyk ingedagte na die laaste landboutydskrif op die rak en weet sy verlange om ’n plasie in die berge te besit is te lank opsygeskuif. Hy word ook nie jonger nie en as hy nog voor hy aftree op die stoep wil sit en kyk hoe die son oor die berge sak, sal hy ’n plan moet bedink. Dis ook nou die ideale tyd; sy egskeiding is al twee jaar gelede afgehandel, aftrede wink en vir wie bêre hy sy swaarverdiende spaargeld? Die kinders is groot en het elk ’n eie lewe.

“Dankie, dit sal al wees,” antwoord hy ingedagte toe hy die kleingeld in sy sak steek.

“Lekker aand, Oom”, hoor hy nog toe hy sommer so in die wegstap dadelik na die geelbladsye blaai om te kyk of daar ’n plasie na sy sin is.

Hulle:
“Is dit vandag al regtig vyftien jaar ná jy daardie eerste e-pos gestuur het?” Dibbie se hand streel oor Hermanus se agterkop terwyl hul in die skemer op die stoep sit en kyk hoe die son goudgeel oor die rante sak.

“Onthou jy nog die enkele sin: ‘Ek in die Vrystaat en jy in die Kaap. Maak afstand saak?’

Hy grinnik: “Jy weet mos ek is nie ’n ou vir opstelskryf nie”.

Hermanus vat Dibbie se hand en streel saggies daaroor.  “Al is ons vol rumatiek en staan steun-steun soggens op, kreun en steun ons ten minste gelukkig saam, my vrou.”

Beenaf

deur Gretchen Vosloo

Dis ’n pretdag, Walk for Mandela. Sy durf die vyf kilometer aan.

By die halfpad-merk vang ’n vreemdeling in die bondel haar oog. Dis hý. Ondeursigtige donkerbril, hare en baard silwergrys, wandelstaf, maar onmiskenbaar; sy houding, sy stap. Twintig jaar los in die niet op.

Hy val langs haar in, haal diep asem, kantel sy kop in haar rigting. Herken haar nie. Tot sy praat. “Abel.”

“Mércia!”

Hulle verhouding was nog nuut, soos ’n groen blaar. Deursigtig, broos. Hulle was op pad fliek toe – hulle tweede afspraak – toe daar skielik twee vragmotors sy aan sy op hulle afgejaag kom. Die pad het nie ’n skouer gehad nie.

Sy was vir twee maande in die hospitaal, in ’n koma. Toe sy wakker word, het sy onthou dat sy stem en sy aanraking daar was terwyl die newels dig was. Maar nou was hy weg.

Sy het hom nie probeer soek nie. Waarskynlik wou hy nie met ’n eenbeen-vrou opgeskeep wees nie. Hy wat so lief was vir bergklim, fietsry, duik, swem, draf.

Jy kan nooit inhaal nie, jy kan nie verduidelik nie, die jare is weg, dink sy.

Hy haak by haar in en hulle stap die res van die pad saam, met drie bene en twee funksionele oë tussen hulle en die jare wat soos herfsblare wegdwarrel.

Beeldmateriaal

deur Deborah Steinmair

Die argief in my kop is bevolk met landskappe en klippe, maar meestal met mense en boeke. Kom ek wys jou twee klein video’s van ’n briljante en gefolterde gypsy.

Jeanne Goosen se (grotendeels onderskatte) novelle Om ’n mens na te boots het in 1975 verskyn – ʼn ou dun boekie wat my as tiener winduit geslaan en hygend na die blou hemel en die ver einders laat opkyk het.

“Ek het nog altyd geweet: die mens is nie ’n vriend nie. Ek is bang vir hulle en ek voel blootgestel in hulle teenwoordigheid. Tog gebeur dit soms dat ek na hulle goeie guns verlang en ek het dan die behoefte om my vrees vir hulle te oorkom.” (Om ’n Mens Na Te Boots)

Watter wese kan só skryf, het ek gewonder, en hoe handhaaf ’n mens die alledaagse lewe as jy so huidloos sensitief is? Ek het gewens ek kon hierdie persoon ontmoet. Jare later hét ek, en vir ’n rukkie het sy na my goeie guns verlang, en dit was duiselingwekkend en ook verskriklik: “Ek weet hoe hulle oë lyk wanneer hulle my agternakyk: verskriklik, verskriklik soos uile.” (Om ’n Mens Na Te Boots)

In my debuutroman, Marike se laaste dans, beskryf ek ’n agtermiddag saam met haar só:

“Ek het haar op my pa se plaas op De Wildt ontmoet. Ek het daarheen gevlug van my huwelik. In haar omswerwings het sy vir ’n kort rukkie in daardie geweste gewoon, in ’n rondawel op die plaas van mense na wie sy as die AWB’s verwys. Een middag teen skemer sit ons op die gras voor haar rondawel. Dis ’n valerige grasperkie wat terselfdertyd die AWB’s se agterplaas is. Die rondaweldeur is oop en ’n obskure CD met hartverskeurende sigeunermusiek dawer oor die werf.

Sy begin op die gras dans soos net sy kan dans: kaalvoet, oë ten hemele, met stom en boetedoenende gebare uit die Griekse tragedie of die Japannese kabuki-teater. Sy sê altyd dat sy die onderbene van ’n dwerg het. Haar balans is verstommend. Haar Dobermann is ook opgevang in die heidense gees van die oomblik. Hy dans op sy agterpote en hap-hap na haar ekspressiewe hande. In die skemer lug bokant haar dryf ’n volmaan soos ’n bloedblaas.

Ek gewaar twee koppe in die AWB’s se kombuisvenster, waarna die gordyne met ’n besliste en afwerende pluk toegetrek word. Net daar het ek geweet: hier gaan sy ook nie lank woon nie.”

Nou, net vir balans, die volgende prentjie uit Marike:

“Daar is donker nagte van die siel wanner die Skrywer whiskey vir ontbyt én middagete nuttig. Haar oë is twee potskerwe in ʼn gesig vertrek van haat. Sy steier van vertrek tot vertrek, ’n verwonde bokser. Sy soek kak. Haar dodelike woorde is masjiengeweervuur, ’n paddaplaag, ’n wolk sprinkane, ’n haelstorm. Sy skiet die dag vol gate. Die son verlep in die lug. My hart word ’n pruimedant. Die see sal my nie afwas nie.”

As die gode jou wil straf, laat hulle jou wense waar word.

Alleen onder die maan deur Willem Krog

resensie deur Jonathan Amid

Verteller Pieter Malan, seun van Jaco, reis iewers rondom 2050 vanuit Johannesburg na die plaas Middenspruit, naby Kroonstad. Jaco het daar grootgeword; Pieter se ouma en oupa is albei daar begrawe. Wanneer Jaco ook by die plaas sterf, moet Pieter tot verhaal kom. Wanneer hy sy pa se as gaan haal ná die begrafnis, is dit weg! Burokratiese onbeholpenheid lei van voor in die regime van die toekoms; pyn, let wel, is steeds oorwinnaar, en onuitwisbaar.

Die roman maak dit duidelik dat die utopiese uiteindelik onmoontlik is; die toekoms is altyd in ’n sekere sin distopies omdat dit nooit presies lyk of kan lyk soos jy dink dit sal of wil hê nie.

Vader Jaco is soos die kliproos op die familieplaas – onvergenoegd, gefrustreerd. Hy kyk terug na die verlede as knorrige ou man. Dis geen toeval dat hy sterf met die stoot van ’n klip nie – Sisifus se eindelose herhaling van dieselfde taak, en ook die genre van die plaasroman wat telkemale weer opgeroep word uit die verlede om in die hede te figureer, ‘voortgestoot’ in allegoriese verhale – kan nie maklik misgelees word nie.

Jaco voel Pieter aanvaar te veel te onkrities, terwyl Pieter dit sou verkies het as sy pa wou vrede maak met hoe dinge nou is. Die leser word terugverwys na die Amerikaanse filosoof/sosioloog Herbert Marcuse se One-Dimensional-Man uit 1964. Ons kan nooit op twee plekke gelyk wees nie, daarom is ons eendimensioneel. Nuwe hoofstukke word ingelui met aanhalings wat as motto’s dien; die intergenerasionele verskille in sienings en opvattings word ontplooi om verskillende eras met mekaar te vergelyk. Vir my het dit gewerk.

In die geheel is dit nie ’n storie waar verskriklik baie gebeur nie; inteendeel, ek het gereeld gedink aan die opvatting van die digkuns wat die “niks” laat gebeur of ontvou. Krog is immers ’n digter, en Alleen onder die maan is ’n soort digterlike verkenningstog uit die prosa-klip gekap.

Ek het wel teen die einde van die roman steeds gewonder oor presies hoe die agteruitgang van die hede tot ongeveer 2050 plaasgevind het. Ook hoe die situasie rakende rasse-en klasse-spanning of integrasie daar uitsien, en hoe ons stede en die platteland as landskappe verander het, al dan nie, maar daar word eintlik bitter min weergegee. Die verhouding tussen pa en seun, en tussen pa en sy verlede se “sekerhede”, domineer, en word totaal oortuigend geskets.

Die verhaal van Pieter se geestesreis, en die saak van die pa se as na sy dood, word afgewissel en gekomplimenteer deur grepe uit pa Jaco se ‘onvoltooide’ manuskrip, sy grootwordjare weergegee in ’n ander lettertipe. So word ‘verlede’ en ‘hede’, effektief die toekoms vir die leser, met mekaar verbind, en gekontrasteer. The more things change … Daar is ’n reis vanaf Johannesburg na die Vrystaat, en ons kom te hore van gesprekke – intellektueel en verkennend van aard – tussen pa en seun. Dis onmoontlik om nie aan die pa en seun van McCarthy se reis in The Road te dink nie, en beslis ook pa en seun in Deon Meyer se Koors.

Die roman handhaaf ’n gematigde tempo en stadige verteltrant; as dit ’n dag van die week moes wees, was dit ’n Sondag. Die toonaard is by uitstek elegies, melancholies, rou wat prik onder die oppervlak. Raaisels is telkens metafisies van aard; aksie en spanning opsetlik tot ’n minimum beperk. Hoe lyk toekomstige (onbetroubare) herinneringe? Hoe onthou ons, en wat word van ons as mense wanneer afskeid en verlies kom aanklop?

Krog ondersoek met hierdie onsentimentele roman dit wat ons as mense dryf, wat en hoe ons begeer, en hoe ons herinneringe van die verlede en beskouing van die hede ons toekomsplan help bepaal – insover kunsmatige intelligensie en algoritmes ontplooi word om ons lewens tot ’n al groter mate te struktureer en ons daaglikse ervarings te roetineer.

Die verhouding tussen Pieter en sy meisie Alice (’n naam wat onvermydelik na Caroll toe lei, maar bra min tot die roman se lae van betekenis bydra) word voorgestel in kort gesprekke deurspek met afkortings en emojis. Ongelukkig word ons bitter min van die aantrekking en aard van die twee se romanse wys, en wonder die leser wat hierdie ‘gesprekke’ nou eintlik tot die geheel toevoeg. So is daar ook betreklik min in terme van vroulike karakters en stemme aanwesig.

Rekenaars is in der waarheid nou die arbeiders. Die Chinese koop basies ons land, en regeer deur middel van CGPA Complete Governance and Performance Audit. Onmoontlik om nie hierdie gegewe te vergelyk met die Koreane se regeer van S.A in Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls nie. Rekenaartegnologie volkome in beheer.  Die individu se lewe bepaal deur ’n puntetstelsel, die System of Moral and Social Suitability. Dink net aan China nou en hoe die beperking van vryheid reeds daar heers.

Hele plase word deur afstandbeheer bewerk en die uitbou van maksimum produktiwiteit en effektiwiteit word te alle koste nagestreef. Tog is elke stelsel feilbaar op sy eie manier. Wat bly oor van ‘universele’ waardes en denkwyses, en die rituele wat ons lewens betekenis gee, terwyl werk, reis, verhoudings, en voorkeure al hoe minder van ’n keuse word?

 Die maan is alleen, maar so ook is die mens as spesie. As alles onseker is in die ondermaanse toekoms, en die aardbewandelaars al hoe meer moeisaam moet soek na die ‘menslike’, wie waak oor ons, en wie sal ons teen – nevermind die robotte – onsself beskerm? As die maan die (on)bereikbare simboliseer, en daar ook in die roman spesifiek na die simboliek van die maanlanding as tweede Sondeval gekyk word, verteenwoordig die maan ook tegelyk die mens se verbeeldingskrag en drang om te ontsnap, te verken en te kompeteer.

Die maan is Yin en Yang. Die maan is vooruitgang; dit is die ellende van afsondering.

Alleen onder die maan is die ideale roman vir waar ons ons tans bevind. Dit is broeiend, filosofies gelade, fassinerend en intellektueel, sonder om besonder ‘swaar’ of uitputtend te voel.