Tien onvergeetlike boeke wat die 1990’s definieer

deur Deborah Steinmair

Watter boeke het die negentigs gedefinieer? Weereens het ek gaan kers opsteek by www.lithub.com.

In die negentigs het ek min gelees. My kinders was klein en ek moes werk, huis en kinders jongleer. Ek onthou dat ek gewonder het of ek ooit weer ongestoord ’n boek van voor tot agter sal deurlees.

Uit die tien essensiële boeke van die negentigs het ek maar vyf gelees: The Secret History van Donna Tart, The Virgin Suicides van Jeffrey Eugenides, Bridget Jones’s Diary van Helen Fielding, The Fight Club van Chuck Palahnuik en Angela’s Ashes van Frank McCourt.

The Things They Carried, lees ek, was O’Brien se derde boek oor Viëtnam en word beskou as die beste boek wat ooit oor daardie oorlog geskryf is. Daar het wêreldwyd meer as twee miljoen kopieë verkoop.

Angels in America is nogal ’n drama. Dit het onder andere die Pulitzer-prys vir drama gewen en was glo die eerste belangrike drama met die gay leefstyl in Amerika in die negentigs, onder die skadu van Vigs, as sentrale tema.

Waarom het ek nooit Jesus’ Son gelees nie? Volgens lithub het min of meer elke skrywer dit gelees en omtrent die helte van hulle dit probeer naboots. Dit word beskryf as kultus-kortverhale, met invloede van Ernest Hemingway, Flannery O’Connor en Raymond Carver.

The Virgin Suicides het ek gelees en die fliek gesien. Eugenides het ’n manier van sien en sê wat in jou kop bly vassteek, ’n manier om ’n era in ’n neutedop te vervat, ’n gevoel vir milieu en aura wat moeilik te ewenaar is.

Infinite Jest, wat ek nie gelees het nie, word beskryf as die ur-teks van die negentigs. Dit het meer as ’n 1000 bladsye waarvan ’n tiende voetnota’s is. “Read today, the book’s intellectually slapstick vision of corporatism run amok embeds it within the early to mid-1990s as firmly and emblematically as “The Simpsons” and grunge music,” volgens Tom Bissel.

Briget Jones’s Diary word as die moeder van chit-lit beskou. ’n Mens onthou dit vir die humor en die fliek met Hugh Grant en Renée Zellweger. Die boek word beskou as die oorsprong van die woord “fuckwit”.

The Fight Club, wat ek gelees het, se verkope was blykbaar maar beskeie tot die fliek uitgereik is – toe het dit die kasregister laat klingel. Vir my is dit effe toksies manlik, met die onderliggende waarskuwing dat jy nie gewone, gefrustreerde mans moet onderskat nie. Die skelwoord “snowflake” het in die roman sy oorsprong:

Lithub noem Angela’s Ashes, wat ek ook gelees het, as die koningin van die Misery Memoir. Ons onthou ook die fliek. Die mense van Limerick was blykbaar nie so geïmponeer deur die boek nie en McCourt se ma (op wie Angela gebaseer is) het glo by geleentheid gesê dis ’n spul leuens, dis nie hoe dit gebeur het nie.

The Interpreter of Maladies, wat ek nie gelees het nie, is ook ’n kortverhaalbundel. Was die 1990’s die hoogtepunt van die kortrverhaal-genre? Daar het meer as 15 miljoen kopieë verkoop en dit het die Pulitzer-prys gewen.

Om ’n dekade te definieer: Die 80’s se top-10

deur Deborah Steinmair

Op een van my geliefkoosde webwerwe, Literary Hub (www.lithub.com) lees ek oor die tien boeke wat die 1980’s gedefinieer het. In die 1980’s was ek jonk en het ek baie gelees. Ek is bly om te sê ek het sewe van die tien boeke gelees, wat vormend was in my lewe. Die drie uitsonderings wat ek nie gelees het nie was ’n wetenskapsfiksieboek, ’n jeugboek en ’n western.

Van die boeke wat ons gevorm het, behou ons die essensie, ’n soort konsentraat, of soms net ’n manier van kyk en verwoord.

Raymond Carver was digter ook en in sy kortverhale woon daar hele wêrelde tussen die reëls. Hy het my geleer om my woorde te tel en om te wys. Ek het my gunsteling-aanhaling van Carver gaan google, dit was ook in die fliek Birdman: “And did you get what you wanted from this life even so? I did. And what did you want? To call myself beloved – to feel myself beloved on the earth.”

Alice Walker se heldin in The Color Purple, Celie, se ongesofistikeerde maar wyse manier van vertel bly my by. Ek onthou hoe sy gesê het Sofia is die soort vrou, alles waarop sy haar hand lê, lyk soos ’n wapen.

Uit Don Delillo se White Noise onthou ek dat die verteller gesê het die gesin kyk graag op TV na natuurrampe en tragedies solank dit op ver plekke gebeur het. En dat die dogtertjie in haar slaap gepraat het. Toe die pa sy oor naby haar mond hou, hoor hy: Toyota Cellica …

Beloved van Toni Morrison het my hoogswanger en stoksielalleen in ’n plaashuis (moenie vra nie) vir ’n skrikwekkende nag wakker gehou en spook steeds by my. Ek onthou hoe kinderlik die spookkind was, so behoeftig aan moederliefde en soetgoed, eindeloos needy. “My first-born. All I can remember of her is how she loved the burned bottom of bread. Can you beat that? Eight children and that’s all I remember.”

Bonfire of the Vanities het ek op universiteit gelees en gesnap dat dit die dekade in ’n snapsglasie vasvat. En o, New York, New York. First we take Manhattan. Ek weet nie of dit goed was nie, maar dit was boeiend.

A Brief History of Time het ek gelees omdat ek gevoel het ek moet. En soms is dit so verleidelik wanneer helder denke duidelik verwoord word. Vergesigte wat oopval. Natuurlik kan ’n mens dit nie die volgende dag aan iemand anders verduidelik nie – het jy dit dus in die eerste plek werklik gekop? Tog, dit was ’n moet op elke boekrak met selfrespek. Stephen Hawking sal nou in my kop altyd lyk soos Eddie Redmayne in The Theory of Everything.

Rushdie se Satanic Verses het ek gedeeltelik gelees oor die skandaal, dat dit Islam bevraagteken het en die Ayatollah van Iran wat ’n fatwa uitgevaardig het dat Moslems die outeur om die lewe moet bring en verskeie aanslae op sy lewe. Tog het ek meer van Midnight’s Children gehou.

Hoeveel van dié boeke het jy gelees?

Sophia Kapp

5 Vrae aan Sophia Kapp

deur Deborah Steinmair

Vertel ons van jou nuwe roman:
Kanaän is ʼn historiese liefdesverhaal wat in 1944 in Senekal se distrik afspeel. ʼn Engelse meisie beland in ʼn gerieflikheidshuwelik met ʼn rou Afrikanerboer. Dis ʼn troop in die Afrikaanse liefdesromanwêreld, maar ek het probeer om deur die troop te skryf en die karakters mense te maak.

Nadat jou e-boek onwettig op kletsgroepe versprei is, het jy het gesê jy sal voortaan in Engels skryf. Sal ’n mens nie gekniehalter wees in jou tweede taal nie?
Baie. Ek het al probeer om ʼn Engelse storie te skryf, maar dis soos tande trek – bloederig en uitmergelend. Dit werk ook nie, want in plaas daarvan om storie te skryf, skryf ek taal, en dit raak aanvoelbaar – die storie is stram en ongemaklik en sommer net nie lekker om te lees nie. Maar as ek geen inkomste meer uit my skryfwerk in Afrikaans maak nie, moet ek nou maar eenvoudig my Engels afstof en nog ʼn keer probeer.

Hoe voel dit om ’n nuwe boek te hê, maar jy kan dit nie in die hand hou nie en niemand kan die harde kopie koop nie?
Kyk, dis sleg. Boeke is soos ʼn mens se kinders – jy maak hard aan hulle groot, en dan wil jy graag sien hoe hulle die wêreld invaar en ʼn verskil maak. Hierdie een is soos ʼn kind wat mondig geword het en nou nêrens kom nie, want die lewe het teen haar gedraai. Maar ek wil nou ook nie te hard kerm nie, daar is mense daar buite wat swaarder kry as ek.

Gelukkig is die boekwinkels weer oop. Is jy ’n groot aankoper van boeke? Wat lees jy graag?
Nee, en nee (erken ek tot my skande). My hele dag bestaan uit lees – ek werk ten minste 16 uur per dag voor ʼn rekenaarskerm. Dit is uitputtend, ʼn mens se oë is moeg en jou brein is voos. Om dan met ʼn boek te “ontspan”, werk nie. Maar as ek die dag lees, lees ek liefdesverhale. Ander goed ook, maar ʼn mooi liefdesverhaal met ʼn goedvoeleinde is ʼn baie gerusstellende ding.

Hoe dink jy gebeur dit dat pdf’s van manuskripte versprei word?
Boeke van alle uitgewers, nasionaal en internasionaal, word onwettig versprei. Ek dink een of ander kuberkraker het die enkripteringskode van e-boeke gekraak, en dieselfde program word nou net so gebruik om alle e-boeke om te skakel. Die vraag is eintlik ook nie meer wie dit gedoen het of waar dit gebeur nie, die vraag is of dit ooit stopgesit kan word, en dis daar waar ek begin vermoed die boekbedryf is in die moeilikeid.

Kanaän verskyn ná die grendelstaat by Lapa maar is reeds as e-boek beskikbaar. https://amzn.to/2V72grZ

Lees ook Sophia se insiggewende gesprek met Melt Myburgh LitNET oor e-diefstal in die grendelstaat en vermetel lesers wat boeke as allemansgoed beskou: https://www.litnet.co.za/e-boeke-afrikaans-word-dood-gesteel/

5 vrae aan Deborah Steinmair

deur Schalk Schoombie

 Moorddrome en skuldgevoelens dryf Deborah Steinmair se jongste roman, As jy van moord droom (Lapa).

Waarvandaan die catchy titel?Het jy self al van moord gedroom? Hou jy ʼn droomjoernaal?

Ek droom van kleins af dikwels dat ek moord gepleeg het, maar ek kan nie die besonderhede onthou nie, of die motief. Ek weet net ek is diep skuldig. Dan wonder ek soms of ek nie dalk op ’n ander vlak, in ’n parallelle heelal, gemoor het nie. Die vae skuldgevoel kry ek moeilik afgeskud. Ek het begin om in die nag op my foon “Notes” te skryf oor my drome, soos nou die aand s’n: “Die virus gee mense geheueverlies tot verskillende mates. Hulle kan nie onthou hoe om te leef nie. Sommige kan wel nuwe herinneringe skep en hulle word die wyses. Ander moet elke dag leef asof dit die eerste is, soos groundhog day. Die vrou het vergeet hoe om te slaap. Soms kry sy dit per ongeluk reg, net om wakker te skrik en weer glad nie te weet hoe nie.”

Hoe verskil jou jongste roman van jou vorige, snel bewegende raaiselromans?

Ek is altyd verknog aan raaisels. Ek reken hierdie een is ook snel bewegend, dalk met meer aandag aan karakters. Huishoudelike noir is ’n groot sambreel. Die fokaliseerder is ’n vrou en sy is lekker onbetroubaar en soms die kluts kwyt. Dis nogal donker, maar uit die swartste modder ontspring die witste lelie, of dalk die blinkste galgehumor.

Wat was die moeilikste en lekkerste van die skryf aan dié boek?  

Niks was moeilik nie, dit was, soos Jeanne Goosen gesê het van skryf, soos om te toor of te droom terwyl jy wakker is. Die storie en karakters het my heeltemal ingesluk. Dis geskryf voordat ek voltyds begin werk het, so ek kon min of meer dag en nag in die tonnel vertoef. Dit het begin by ’n vraag wat elke moeder haarself afvra: Sê nou my kind word ontvoer? Toe gaan ek ’n stap verder, soos dit al in die werklikheid gebeur het: sê nou my kind kom terug, twintig jaar later en sy is ’n ander mens?

Die resensies is gloeiend. Steur jy jou daaraan?

’n Mens kan nie help om jou aan resensies te steur nie. ’n Mens steur jou aan elke mening, want jy skryf vanuit ’n donker tonnel, stoksielalleen en weet nooit hoe dit ontvang gaan word nie. En resensente is belese en geletterd en ingelig. Ek is innig dankbaar vir die positiewe resensies, want ek het in die afgelope jaar baie boekmense die harnas ingejaag.

Uitgewer, joernalis, skrywer. En dan nog onversadigbare leser. Hoe hou jy al die balle in die lug? Is jy ʼn spoedleser?

Hoe meer ’n mens doen, hoe meer kan jy doen. En hoe langer jy iets doen, hoe deegliker en vinniger kan jy dit doen. Dis lekker om besig te wees met iets wat jy hartstogtelik bemin. Ek kan vinnig lees, maar as die teks mooi is, lees ek sinne oor en oor en “luister” daarna. Dan kan ek nie vinnig lees nie. En ek slaan baie moeilik iets oor, selfs ’n geslagsregister.

3 vrae aan Christine Ferreira & Marielle de Vos

deur Schalk Schoombie

Die skrywers van Die liefdesboek: God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar (Lux Verbi) het in die Bybel en hul eie lewens gedelf om die aard van liefde te herontdek.

Christine Ferreira is die redakteur van die vrouetydskrif Leef met hart & siel. Sy tree dikwels as spreker op. Vantevore was Christine deel van SARIE se redaksie, waar sy vir bykans tien jaar skoonheidsredakteur was. Christine woon in Johannesburg en is getroud met Johan, ʼn pastorale sielkundige.

Marielle de Vos is ʼn pastoor van Randburg. Sy het die Evangelie al wêreldwyd – van Amerika tot Frankryk, Australië en Israel – en oor denominasies heen bedien. Sy is reeds 37 jaar lank getroud en het twee volwasse kinders en een kleinkind.

Hoe spreek die boek nou in die tyd van skrik en afsondering?

Christine: Ek dink die boek is van groot waarde in hierdie tyd aangesien dit ons weer aan God se standvastige karakter in onseker tye herinner. Sy liefde is getrou. In die boek neem ons die leser op ʼn reis om met vars oë na die liefde te kyk. Iets waarvoor ons in hierdie stiller dae tyd kan maak. Ek dink ons het juis nou die anker van God se liefde in ons lewens meer as ooit nodig.

Marielle: Geen virus of siekte of dood kan ons skei van Sy liefde nie. Leef Sy liefde tuis in hierdie tyd.

Hoe het julle saam aan die boek gewerk? Hoe lank het dit geneem?

Christine: Die idee vir die boek is gebore tydens ʼn radio-onderhoud oor die mooiste liefdesverhale van die Bybel wat ek met Marielle tydens my program op Radiokansel (Dinsdagoggende van 9:00 tot 11:00) sowat twee jaar gelede gevoer het. Marielle het daarna met die raamwerk van die hoofstukke vorendag gekom. Sy het ook haar gedeelte eerste geskryf. As pastoor was sy verantwoordelik vir die teologiese grondslag waarvandaan ek verder gewerk het as joernalis en skrywer. Ek het veral aandag gegee aan die praktiese toepassings van die liefde, die getuienisse van mense en aanhalings van bekendes oor die liefde. Ek en my man is see toe vir 14 dae gedurende die Paastyd verlede jaar en het ek daar elke dag ongeveer ses ure lank geskryf. Dit werk vir my die beste om dit alles op een slag te voltooi.

Marielle: Ek tik gewoonlik die raamwerk of indeks en dra die  geestelike aspekte by. Christine sien dan om na die praktiese deel.

Daar is al soveel boeke oor liefde en geloof geskryf. Wat maak hierdie een anders?

Christine: Ja, daar is inderdaad al baie boeke oor dié onderwerpe gekryf. Ek dink tog ons boek het ʼn vars aanslag in die manier waarop die inhoud aangebied word. Boonop maak die feit dat dit ʼn werksboek is waarin die leser aangemoedig word om notas te maak asook die pragtige illustrasies deur Paula Dubois, Lééf met hart & siel se kunsdirekteur, dis uniek en anders.

Marielle: Die liefdesboek dek verskeie aspekte van God se liefde. Die liefde van die Vader, dié van Jesus en Heilige Gees word ook ondersoek. Die boek dek aspekte van Sy liefde vir gelowiges, ongelowiges, uitgeworpenes, jong liefde en moederliefde om maar ’n paar te noem. Vir die intellektuele persoon word verskeie tipes liefde onder die vergrootglas geplaas.

Irna van Zyl

Vyf vrae aan Bloedsteen se Irna van Zyl

 deur Schalk Schoombie

In Bloedsteen, jou derde speurroman, wiggel jy verskeie verhale en karakters. Hoe het jy tred gehou met als?

Vir elke boek maak ek ná die eerste draft ’n opsomming oor twee dubbelbladsye met ’n tydlyn langsaan. Dit help my om leemtes raak te sien en waar hoofstukke rondgeskuif kan word of wat moet gewoon geskrap word. Vir Bloedsteen was die proses ekstra belangrik weens die tydspronge en parallelle verhaallyne.

Voordat ek daaraan begin skryf het, het ek ’n taamlike ruggraat gehad van waarheen die boek wou gaan en het uitgebreide aantekeninge oor die karakters gemaak, maar daarna het ek dit oorgelaat aan ure en ure op my sitvlak en hopelik ’n skeut magic of twee om die proses te voltooi.

Ek werk ook gewoonlik met drie notaboeke – een vir waarnemings en daaglikse opskryf van verwante of onverwante dinge, een as ’n werkboek waarin enigiets neergeskryf word, van hoofstuk-opsommings voordat ek daaraan begin skryf tot stukkies dialoog wat ek by ander mense afluister. Die derde een is waarin ek die verhaallyne en karakters uitskryf en vir myself ook grafies voorstel. Dit gebeur organies soos wat ek verder en verder skryf.

En om dinge bietjie deurmekaar te maak, is dit alles baie meer ongeorden as wat dit hier klink en in verskillende kleure penne. Daardie deel is ’n bietjie van ’n bygeloof, ek glo dit help om te my kop los te maak.

Jou hoofkarakter is ’n veteraanspeurder en diep menslik. Waar het jy inspirasie vir speuradjudant Storm van der Merwe geput?

 Storm het saam met my gegroei soos wat die boeke gebeur het. Sy’s nie eintlik op enigiemand spesifiek geskoei nie. Ek dink op die ou einde het ek meer in myself gaan delf en meer onder haar vel gekom. Ek hoop ek kan dit volhou in die toekoms!

As navorser en bekroonde joernalis en redakteur het jy ’n fyn neus vir ’n nuusstorie getoon. Sou jy ’n speurder kon wees?

Dis baie snaaks. Toe ek op laerskool was, is my ma se handsak deur haar slaapkamervenster van haar bed af gesteel. Ek het met groot belangstelling ingesit in die speurders se ondervraging en soos ’n regte voorbarige kind met etlike voorstelle gekom oor hoe ek dink mens die skuldige kan vang. Totdat een van hulle gesê het ek moet ’n speurder word! Dit was in die tyd toe speurders nog die diefstal van ’n handsak sou ondersoek.

Ek moet sê ek dink boeke weerspieël ’n baie meer romantiese idee van die bedryf as wat die werklikheid is.

Die storie sirkel telkens terug na Hermanus. Is dit waar jou idees vandaan kom?

Hermanus is waar albei my ouers begrawe is (dalk dié dat die begraafplaas ’n rol in die boek gekry het) en die dorp waar hulle die langste gewoon het. Die eerste draft van Bloedsteen is in 2018 op Hermanus geskryf, terwyl die dorp vasgevang was in onluste.

Ek probeer gewoonlik soggens eerste ding skryf en soms duur dit voort tot in die aand, maar tans, met die inperking, is alles op sy kop gekeer en sukkel ek om ’n ritme te vind.

Die idees en temas vir Bloedsteen kom vanuit verskillende plekke: die diamante uit ’n gesprek met ’n Uber-bestuurder en die mode het ek spesifiek gaan navors deur ’n lang gesprek met ’n ontwerper, ’n moderedakteur en ’n modelbaas. Die res is verskaf deur Suid-Afrikaanse nuus met sy vele interessante egosentriese en korrupte karakters.

As groot leser en eertydse boekeredakteur van Insig is jy iemand wat wyd lees. Sou jy iets anders as speurromans wou aanpak? 

Ek was ’n taamlik snobistiese letterkunde-leser totdat Joan van Zyl, destyds by De Kat my voorgestel het aan Patricia Cornwell. Ek het verlief geraak op die spanningsgenre en al hoe meer daarin begin lees. Huidige internasionale gunstelingskrywers is Belinda Bauer en Jane Harper.

Ek skryf soms kortverhale as vingeroefeninge, maar is nie noodwendig baie goed daarmee nie en hier en daar krap ek aan ander idees: ’n populêre radiodrama dalk, ’n kinderboek moontlik, maar telkemale roep die spanningsgenre my weer. Tans is ek besig met ’n boek met ander karakters as Storm en haar maats. Ons sal sien of dit uitwerk.

Irna van Zyl

SA krimi op sy beste: Lusmaker uit Bloedsteen

“Speuradjudant Storm van der Merwe se ma val nie per ongeluk onder ’n trein op Londen se Paddington-stasie nie. Sy word gestamp. Deur ’n kleinerige maer man met ’n donkergrys pet laag oor sy oë, ’n kakiegroen somerbaadjie, swart jeans, bruin skerppuntleerskoene en ’n ligbruin gelaatskleur. ’n Man wat so rats in die middag se gedrang van pendelaars verdwyn dat slegs enkele van die omstanders ’n flerts groen, ’n glimp van sy pet of ’n skraapsel ink teen sy keel onthou.

Net een ou kon agterna sy rugsak as ’n middelmatige, kleinerige een beskryf. ’n Swart sak argeloos oor sy een skouer, tipies van so baie manlike
pendelaars in Londen. ’n Skootrekenaarsak met miskien wit strepe aan die kante en platterig asof daar nie eintlik veel boeke, klere, dokumente of
selfs ’n klein rekenaar in is nie. “Dalk darem ’n pen of twee,” maak ’n ou op tipiese Engelse manier ’n siniese grappie.

Storm se ma, Rowena, val sonder gil of geluid netjies in die gaping tussen die laaste wa en die tiende perron. Die perron waar die bogrondse
trein van Twyford af gewoonlik inkom. Reg langs die brons standbeeldjie van Paddington-beer skuins op sy tas, groot hoed en al. Rowena val met ’n slag reguit langs die spoor, parallel onder die trein in. Haar arms, verstommend genoeg, styf langs haar lyf. Haar bene goddank ook lankuit gestrek. In haar sjiekste someruitrusting. Gegroom vir ’n uitgelese Engelse gehoor van kundige modemense. Rooibont rok van ligte somerstof, kitten heels, sonbruin bene en met ’n stylvolle trench coat oor haar arm. Daarby ’n bypassende beige handsak en aktetas van sagte leer oor haar skouer.
In haar val verbeel sy haar sy onthou ’n jong man skuins agter haar, sy hand amper om haar lyf, asof ook hy steun soek in die drukte voor die oop deur van die trein. Háár hand op die lang blink handvatsel om haar op en in te hys. Die toeter wat die laaste waarskuwing blaas.

Dis toe dat hy haar stewiger om die lyf beetkry. En met sy skouer ferm kant toe stamp. Snel en flink. Soos ’n geoefende pendelaar wat tussen die
malendes van Londen se oorvolste spitsverkeertrein nie anders kan as om iemand onbedagsaam uit die pad te loop nie.

Verniet probeer sy weer na die handvatsel gryp, want sy’s van balans af. Sy val. Haar knie kap teen die perron, haar hande raap na die sementrand.
Sy val onomkeerbaar langs die trein in.

Die dun somerrok bied geen beskerming teen die meter of wat ondertoe nie, die gruis hier pynlik hard onder haar kaal arms. Haar handsak
tussen die spore oopgesper. Die inhoud van lipstiek, sleutels, tissues, spieëltjie en beursie saam met een rooi kitten heel tot niet op die klippers.
Haar vroulike aktetas en die somerjas verlate op die perron. Weens skok bly sy eers net so lê. En toe, verdwaas oor wat met haar gebeur, gretig om weg te kom van die spoor af, probeer sy op haar elmboë orent kom. Net om die volgende oomblik met volle geweld deur die takelwerk van die vertrekkende trein teen die kop getref te word.”

Renee Rautenbach Conradie

Parys, heimwee, die groen fee, die Vierkleur

Renée Rautenbach Conradie se boek Met die Vierkleur in Parys verskyn by Protea sodra die drukpers weer begin rol. Dis ’n historiese roman oor ’n jong Afrikaanse argitek wat help ontwerp aan die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Wêreldskou in Parys in 1900. Die Bolander Paul Roux het ’n Joodse geliefde in Kaapstad, maar word verlei deur die aanloklikhede van die stad van die liefde. Die leser ervaar saam met hom die kleure en geure van jolige Parys en ’n brok van ons geskiedenis wat aan vele heeltemal onbekend is. Dis onweerstaanbaar aards geskryf. Hier is ’n proesel:

“Die kaal stamme van rye bome om ’n vierkantige plein blink onder die lampligte. Daar is ’n paar kafees waarvan die vrolikheid buite toe trek, maar hulle stap verby, die bult af tot hulle by ’n eetplek op ’n hoë hoek kom. Van buite af hoor Paul die geruis van stemme.

“Le Lapin Agile,” sê Sébastien. “Pour les Bohèmes.

Hier kom ook ’n ander soort mens bymekaar, sien Paul. Beslis niemand van die ZAR se kantoor of iemand wat in Rue de Rivoli paradeer nie. Hul hare is langer, baie van die mans dra vrolike serpe, die vroue se hare is losserig en hul halse ontbloot. Dit klink of almal met verhewe stemme die sangeres op ’n verhogie wil doodpraat.

Sébastien sit met ’n glas voor hom. Paul hang sy jas en hoed aan ’n kapstok op en skuif by die tafel in terwyl die Fransman iets bestel om te drink. Paul leun gemaklik terug en steek sy pyp op. “Dis darem ’n raserige dorp van julle dié!”

Twee glase met bolle aan die onderkant, twee vreemde silwer lepels met gaatjies in en ’n bottel met ’n groen fee op die etiket word hard deur ’n kelner voor hulle neergesit. Sébastien balanseer ’n lepel met ’n suikerblokkie bo-op elke glas en skink dan van die groen drank daaroor. Hy beduie dat hulle moet wag tot die suiker gesmelt is, dan kom daar water by wat dit melkerig maak.

“Absint,” sê Sébastien en glimlag skalks terwyl hy ’n sigaar opsteek.

Die musiek raak al lewendiger en harder en die ligte word verdoof. Uit die donker spring raserige meisies op die verhogie en toe dit weer ligter word, sien Paul net vere, valletjies en bene soos die vier hul rompe heen en weer swaai en opskop.

Die meisies hardloop al jillend vorentoe en agtertoe, skop reg die lug in, buk af grond toe om hul broekies te wys en slaan bollemakiesie – alles met die grootste lawaai. Paul neem ’n paar stewige slukke van die glas voor hom en probeer verstaan wat geskree word deur die gehoor en die danseresse, maar kan nie.

Hy kyk na Sébastien, maar dié lag so hard vir die woorde wat die meisies uitgil, dat hy nie agterkom Paul lyk geskok nie. Twee van die meisies het kniebroeke aan, bloomers soos sy ma sou sê, maar die ander twee se swart kouse kom tot net bokant die knie en verder is daar niks. Hy soek na sy pyp sodat hy rustiger kan lyk en nie so ooglopend geskok nie.

“Dis jolig, nè?” sê-vra Sébastien toe die meisies van die verhoog af spring. Dit eers nadat hulle met bloedstollende gille plat, met hul bene oopgespalk, op die vloer geland het.

Paul neem eers nog ’n sluk van die nuwe skoot absint wat vir hom ingeskink is.

“Nee kyk, my bek hang oop. Ek het veral van die een met die wilde rooi hare gehou. Is hulle dan nou klaar?”

“Dan is dit maar goed dat jy nie die woorde verstaan het nie. ‘Vulgêr’ is seker die beste woord, maar hier is dit altyd baie snaaks.” Sébastien bestel nog drank. “Die rooikop, sê jy? Ag nee wat, sy kan nie dans nie en het jy gesien dat sy nie in die spreibeen kon sak nie? Seker ’n nuweling, want ek het haar nog nie hier gesien nie.”

As dit is hoe jollie die lewe hier gaan wees, kan hy selfs hierdie nare ou kamertjie hanteer, lag Paul toe hy veel later op die kort kateltjie in madame Le Clerque se chambre de bonne neerval. Die briewe wat hy vir Miriam en sy ma wou skryf, skoon vergete.”

Alleen onder die maan deur Willem Krog

resensie deur Jonathan Amid

Verteller Pieter Malan, seun van Jaco, reis iewers rondom 2050 vanuit Johannesburg na die plaas Middenspruit, naby Kroonstad. Jaco het daar grootgeword; Pieter se ouma en oupa is albei daar begrawe. Wanneer Jaco ook by die plaas sterf, moet Pieter tot verhaal kom. Wanneer hy sy pa se as gaan haal ná die begrafnis, is dit weg! Burokratiese onbeholpenheid lei van voor in die regime van die toekoms; pyn, let wel, is steeds oorwinnaar, en onuitwisbaar.

Die roman maak dit duidelik dat die utopiese uiteindelik onmoontlik is; die toekoms is altyd in ’n sekere sin distopies omdat dit nooit presies lyk of kan lyk soos jy dink dit sal of wil hê nie.

Vader Jaco is soos die kliproos op die familieplaas – onvergenoegd, gefrustreerd. Hy kyk terug na die verlede as knorrige ou man. Dis geen toeval dat hy sterf met die stoot van ’n klip nie – Sisifus se eindelose herhaling van dieselfde taak, en ook die genre van die plaasroman wat telkemale weer opgeroep word uit die verlede om in die hede te figureer, ‘voortgestoot’ in allegoriese verhale – kan nie maklik misgelees word nie.

Jaco voel Pieter aanvaar te veel te onkrities, terwyl Pieter dit sou verkies het as sy pa wou vrede maak met hoe dinge nou is. Die leser word terugverwys na die Amerikaanse filosoof/sosioloog Herbert Marcuse se One-Dimensional-Man uit 1964. Ons kan nooit op twee plekke gelyk wees nie, daarom is ons eendimensioneel. Nuwe hoofstukke word ingelui met aanhalings wat as motto’s dien; die intergenerasionele verskille in sienings en opvattings word ontplooi om verskillende eras met mekaar te vergelyk. Vir my het dit gewerk.

In die geheel is dit nie ’n storie waar verskriklik baie gebeur nie; inteendeel, ek het gereeld gedink aan die opvatting van die digkuns wat die “niks” laat gebeur of ontvou. Krog is immers ’n digter, en Alleen onder die maan is ’n soort digterlike verkenningstog uit die prosa-klip gekap.

Ek het wel teen die einde van die roman steeds gewonder oor presies hoe die agteruitgang van die hede tot ongeveer 2050 plaasgevind het. Ook hoe die situasie rakende rasse-en klasse-spanning of integrasie daar uitsien, en hoe ons stede en die platteland as landskappe verander het, al dan nie, maar daar word eintlik bitter min weergegee. Die verhouding tussen pa en seun, en tussen pa en sy verlede se “sekerhede”, domineer, en word totaal oortuigend geskets.

Die verhaal van Pieter se geestesreis, en die saak van die pa se as na sy dood, word afgewissel en gekomplimenteer deur grepe uit pa Jaco se ‘onvoltooide’ manuskrip, sy grootwordjare weergegee in ’n ander lettertipe. So word ‘verlede’ en ‘hede’, effektief die toekoms vir die leser, met mekaar verbind, en gekontrasteer. The more things change … Daar is ’n reis vanaf Johannesburg na die Vrystaat, en ons kom te hore van gesprekke – intellektueel en verkennend van aard – tussen pa en seun. Dis onmoontlik om nie aan die pa en seun van McCarthy se reis in The Road te dink nie, en beslis ook pa en seun in Deon Meyer se Koors.

Die roman handhaaf ’n gematigde tempo en stadige verteltrant; as dit ’n dag van die week moes wees, was dit ’n Sondag. Die toonaard is by uitstek elegies, melancholies, rou wat prik onder die oppervlak. Raaisels is telkens metafisies van aard; aksie en spanning opsetlik tot ’n minimum beperk. Hoe lyk toekomstige (onbetroubare) herinneringe? Hoe onthou ons, en wat word van ons as mense wanneer afskeid en verlies kom aanklop?

Krog ondersoek met hierdie onsentimentele roman dit wat ons as mense dryf, wat en hoe ons begeer, en hoe ons herinneringe van die verlede en beskouing van die hede ons toekomsplan help bepaal – insover kunsmatige intelligensie en algoritmes ontplooi word om ons lewens tot ’n al groter mate te struktureer en ons daaglikse ervarings te roetineer.

Die verhouding tussen Pieter en sy meisie Alice (’n naam wat onvermydelik na Caroll toe lei, maar bra min tot die roman se lae van betekenis bydra) word voorgestel in kort gesprekke deurspek met afkortings en emojis. Ongelukkig word ons bitter min van die aantrekking en aard van die twee se romanse wys, en wonder die leser wat hierdie ‘gesprekke’ nou eintlik tot die geheel toevoeg. So is daar ook betreklik min in terme van vroulike karakters en stemme aanwesig.

Rekenaars is in der waarheid nou die arbeiders. Die Chinese koop basies ons land, en regeer deur middel van CGPA Complete Governance and Performance Audit. Onmoontlik om nie hierdie gegewe te vergelyk met die Koreane se regeer van S.A in Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls nie. Rekenaartegnologie volkome in beheer.  Die individu se lewe bepaal deur ’n puntetstelsel, die System of Moral and Social Suitability. Dink net aan China nou en hoe die beperking van vryheid reeds daar heers.

Hele plase word deur afstandbeheer bewerk en die uitbou van maksimum produktiwiteit en effektiwiteit word te alle koste nagestreef. Tog is elke stelsel feilbaar op sy eie manier. Wat bly oor van ‘universele’ waardes en denkwyses, en die rituele wat ons lewens betekenis gee, terwyl werk, reis, verhoudings, en voorkeure al hoe minder van ’n keuse word?

 Die maan is alleen, maar so ook is die mens as spesie. As alles onseker is in die ondermaanse toekoms, en die aardbewandelaars al hoe meer moeisaam moet soek na die ‘menslike’, wie waak oor ons, en wie sal ons teen – nevermind die robotte – onsself beskerm? As die maan die (on)bereikbare simboliseer, en daar ook in die roman spesifiek na die simboliek van die maanlanding as tweede Sondeval gekyk word, verteenwoordig die maan ook tegelyk die mens se verbeeldingskrag en drang om te ontsnap, te verken en te kompeteer.

Die maan is Yin en Yang. Die maan is vooruitgang; dit is die ellende van afsondering.

Alleen onder die maan is die ideale roman vir waar ons ons tans bevind. Dit is broeiend, filosofies gelade, fassinerend en intellektueel, sonder om besonder ‘swaar’ of uitputtend te voel.

Johan Myburg, Skrop-medewerker, wen die Hertzogprys! Van harte geluk!

Lusmaker: What We Talk About When We Talk About Love:

Outside in the backyard, one of the dogs began to bark. The leaves of the aspen that leaned past the window ticked against the glass. The afternoon sun was like a presence in this room, the spacious light of ease and generosity. We could have been anywhere, somewhere enchanted. We raised our glasses again and grinned at each other like children who had agreed on something forbidden.

”I’ll tell you what real love is,” Mel said. “I mean, I’ll give you a good example. And then you can draw your own conclusions.”

He poured more gin into his glass. He added an ice cube and a sliver of lime. We waited and sipped our drinks. Laura and I touched knees again. I put a hand on her warm thigh and left it there.

“What do any of us really know about love?” Mel said. It seems to me we’re just beginners at love. We say we love each other and we do, I don’t doubt it. I love Terri and Terri loves me, and you guys love each other too. You know the kind of love I’m talking about now. Physical love, that impulse that drives you to someone special, as well as love of the other person’s being, his or her essence, as it were. Carnal love and, well, call it sentimental love, the day-to-day caring about the other person. But sometimes I have a hard time accounting for the fact that I must have loved my first wife too. But I did, I know I did. So I suppose I am like Terri in that regard. Terri and Ed.”

He thought about it and then he went on.

“There was a time when I thought I loved my first wife more than life itself. But now I hate her guts. I do. How do you explain that? What happened to that love? What happened to it, is what I’d like to know. I wish someone could tell me. Then there’s Ed. Okay, we’re back to Ed. He loves Terri so much he tries to kill her and he winds up killing himself.”

Mel stopped talking and swallowed from his glass.

“You guys have been together eighteen months and you love each other. It shows all over you. You glow with it. But you both loved other people before you met each other. You’ve both been married before, just like us. And you probably loved other people before that too, even. Terri and I have been together five years, been married for four. And the terrible thing, the terrible thing is, but the good thing too, the saving grace, you might say, is that if something happened to one of us-excuse me for saying this-but if something happened to one of us tomorrow, I think the other one, the other person, would grieve for a while, you know, but then the surviving party would go out and love again, have someone else soon enough. All this, all of this love we’re talking about, it would just be a memory. Maybe not even a memory. Am I wrong? Am I way off base? Because I want you to set me straight if you think I’m wrong. I want to know. I mean, I don’t know anything, and I’m the first one to admit it.”

Lusmaker:
Kanaän deur Sophia Kapp

Liefde, besef sy, word nie gekeer nie. Dit word nie weggedink of weggeleef of weggeredeneer nie. Dit word nie verdien nie, dit word nie getemper nie, en dit word nie gerasionaliseer nie. Dit vra nie of dit gepas is nie, dit wag nie tot dit gerieflik nie, dit is boweal nie te beplan of te bestuur nie. Dit is net, so seker en so helder soos die son op die veld, so koesterend en begenadigend soos die hitte van die vroegoggend op haar skouers, so lewegewend soos die draai van die seisoen waarin alles wat dood was en tot stof vertrap is, weer uitloop en groei en leef.

Snaaks, dink sy, dat sy altyd gewag het vir ’n knal. Vir iets soos ’n kerkklok wat jubel of ’n groot akkoord in ’n simfonie, met ’n simbaal wat weergalm tot in haar gebeente en ’n hart wat rammel soos ’n keteltrom. Maar liefde is nie ’n knal nie, dis nie ’n geraas nie. Dit donder nie en dit ruk nie van buite af aan ’n mens nie. Dis net ’n wete, ’n sekerheid, wat soos ’n enkele noot deur die stilte loop: die fluit van ’n bokmakierie oor die veld, of ’n sopraanstem wat inval met ’n Benedictus, hoog en suiwer en sekuur, in die gewelf van ’n katedraal.

Haar boek is elektronies beskikbaar:
https://amzn.to/2V72grZ

Kunswerk: Michele Nigrini

Uittreksel:
As jy van moord droom: Deborah Steinmair

Daar was ’n geluid.

Die slot knars oop. Dis Jan Rap, met ’n dowwe flitslig in sy hand.

“Ek het gedink ons gaan bietjie gesels. Net ons twee. Ons is redelike mense, ons wil al twee dieselfde ding hê.”

Daar is altyd iets wat hulle van jou wil hê. Erin wonder wat hierdie ding is. Sy weet sy self het min onderhandelingswaarde. Haar lyf is anderkant menopouse, onsigbaar. Sy vermoed dit het met Maryna te doen.

Hy gaan staan voor die bed.

Sy sit regop, met die een krapperige kombers tot by haar ken. Onder die kombers klou haar regterhand vas aan die mes wat sy agter die duin opgetel het en wat sy sedertdien in haar kous teen haar been dra, waar hulle haar nie ondersoek het nie.

Hy is die good cop, die skadeloser een. Maar as hy regtig alleen gekom het, is dit haar kans.

Sal sy ’n mens kan steek? “Ja,” antwoord haar onderbewuste, in Maryna se stem. Sy sal kan steek.

Haar vinger gly oor die lem. Dis stomperig, soos ’n briewemes, maar dit eindig in ’n dun, spits punt. Geslyp deur iemand se deursettingsvermoë. Gesmee na jou behoefte.

Toe hy nader leun om oogkontak te maak, steek sy haar hand wat in die lem eindig soos ’n skerp vingerwysing, twee keer, in die rigting van sy keel. Met mening. Daar is niks huiwerig aan die beweging nie. Twintig jaar se woede is agter die beweging.

Daar is weerstand. Daar is toegang – vel wat skeur, vleis wat meegee. Dit voel aaklig, maar ook onwerklik. Om deur vel en vleis te steek en nie dié van ’n hasie nie. Sy het, soos in ’n droom, geen keuse nie. Dis lankal besluit, vooraf bepaal.

Die lem bly met die tweede diep steek in die kant van sy keel vassit. Daar is baie bloed en hy gil hoog. Hy het die flits laat val en die lig is ’n dun streep oor die vloer. Hy klem sy nek met al twee hande vas.

Sy kom op haar voete. Hy is op sy knieë. Sy gryp die flits van die vloer af. Die deur is ongesluit.

Sy roep oor haar skouer: “Ek is jammer, ek het nog geen identifikasie gesien nie.”

Sy hardloop die nag in en skakel die flits af.

Uittreksel:
Die liefdesboek: Christine Ferreira & Marielle de Vos

 Die roos van Saron, ʼn lelieagtige veldblom, lyk anders as die roos soos ons dit vandag ken, maar dit ruik dieselfde. Daar is nie eenstemmigheid oor die vraag of die rooi tulpagtige kliprosie dalk eerder die roos van Saron genoem is nie.

Die gom van hierdie struikagtige plant het afgesmeer aan die skape of bokke se wol en só het die herders agtergekom dat dit buitengewone helende eienskappe het. Die elektromeganiese waarde van roosolie het die hoogste frekwensie van alle olies en beskik oor voordelige eienskappe vir liggaam, siel en gees. Die olie word uit die takkies en die blomblare gekry.

In Jesaja 35:1 lees ons die profeet voorspel dat selfs die woestyn in die toekoms ʼn mooi plek sal wees.Dit sal oortrek wees met die mooiste blomme. Dit sal vol groot, groen bome wees, soos dié wat op die Libanonberge groei. Die wingerde sal net goeie druiwe dra, soos dié van die Karmelberg-omgewing. En die landerye sal selfs vrugbaarder wees as dié van die Saronvlakte.

Die roos van Saron bloei in oorvloed ten spyte van die dor omstandighede. Geen mensehand kan in die woestyn vir die roos water gee nie. Die enigste voorsiening wat dit ontvang, is dit wat God bied – en dit is genoeg. In nederigheid gee God vir die roos van Saron oorvloed.

Jy is God se roos van Saron. Leef jy jóú skoonheid uit? Kry jy alles wat jy nodig het van God? Uit jou swaarkry en deur jou deursettingsvermoë sal jy eienskappe ontwikkel wat asemrowend in sy oë is.

Jesus is natuurlik die volmaakte roos van Saron. Hy is die volmaakte voorbeeld van liefde, die Een wat aan Homself gesterf het – vir ons. Hy het Homself vir ons ontledig. Juis daarom kan ons liggaamlike, geestelike en emosionele genesing by Hom vind.

Is jy nou in ʼn woestyn-tydperk? Jesaja vertel van die oorvloed wat op geen ander plek verkry kan word nie, net by die Here. Deur sy oorvloed kan jy groei ten spyte van jou omstandighede, selfs daar waar geen ander blomme blom nie.

Meer oor die skrywer:

Irna slaag ’n honneurs in Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch in 1978 nadat sy in haar derde jaar in DJ Opperman se letterkundige laboratoriumklas was. In 1979 doen sy Honneurs in Joernalistiek onder prof. Piet Cillié, ook op Stellenbosch. Daarna, in Desember 1979, begin sy as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad te werk.

In 1981 wen sy die Stellenbosch-Boerewynmakery se prys vir ondernemende joernalistiek onder druk van tyd en omstandighede vir die vloedrampe by Laingsburg en spesifiek Montagu.

Haar kortverhaalbundel Grootmensspeletjies word in 1995 gepubliseer.

Sy verlaat De Kat in 1996 om terug te trek Kaapstad toe en stig New Media Publishing in 1998 saam met kollegas John Psillos, Naomi Herselman en Sheldon Cohen. Kort daarna word sy ook redakteur van Insig en van 2007-2009 redakteur van Boeke-Insig.

Sy tree in April 2015 uit as Redaksionele Direkteur van New Media om haar voltyds toe te spits op kreatiewe skryfwerk.

Sy is in 2015 deur Media24 vereer met die Piet Cillié-prys vir haar joernalistieke loopbaan en ook in 2015 deur Naspers met die Orde van Tafelberg vir haar bydrae as sakevrou aan die Naspers-groep.

Irna se eerste misdaadroman Moordvis (in Afrikaans) en Dead in the Water (die Engels vertaling) verskyn in Julie by Penguin.

In Maart 2018 word haar tweede spanningsroman, Gifbeker, gepubliseer.

Irna se jongste misdaadroman, Bloedsteen, is in Maart 2020 gepubliseer.

Renée Rautenbach Conradie is ’n getoë Pretorianer en nog altyd lief vir ’n storie en geskiedenis. Sy het haar joernalistieke loopbaan in die Kaap begin en oor die jare in verskillende hoedanighede as gehuurde en vryskutjoernalis gewerk.

Saam met haar diplomaatman, Leo, het sy in etlike wêreldstede gewoon – onder meer in Marseille en Parys, wat haar nuuskierigheid oor spesifiek die Franse gesindheid in die Anglo-Boereoorlog aangevuur het.

Hierdie debuutroman is tien jaar lede as deel van ’n M-graad geskryf en het sedertdien ’n paar draaie geloop.

Uittreksel: Alleen onder die maan deur Willem Krog, uitgegee deur Jonathan Ball

Pa was glad nie ’n emosionele mens nie. Hy het rasionaliteit bo alles gestel. As hy iets kon verduidelik, het die verduideliking sy emosie beheer.

Ek het hom nooit sien huil nie. Nie eens toe ons ma na die Fasiliteit gevat het nie. Ek kon wel sien dat hy baie hartseer was.

Maar die dag toe ek hom gaan haal het om by my te kom bly, het hy gehuil. Ek het op hom afgekom waar hy op die vloer van sy studeerkamer gesit het met sy boeke wat in stapels om hom gestaan het.

Ek het niemand nog ooit tevore só sien huil nie. Dit het begin as ’n kreun en ontaard in iets soos ’n brul wat eerder uit sy lyf as uit sy mond ontsnap het. Sy lyf het geruk soos die keer toe hy – lank voordat jag totaal verbied is – ’n koedoebul keelaf gesny het. Hy moes dit doen nadat ’n jagter ’n bok gekwes het.

Ek het by hom gaan hurk.

“Pa?” Hy het opgekyk. Sy oë was bloedrooi en ’n nat streep het uit sy neus geloop. Hy het meer soos ’n dier as ’n mens gelyk. “Pa?” sê ek weer. “Wat gaan aan?”

Hy het effens bedaar. Ek het my sakdoek uitgehaal en sy neus afgevee. Hy het sy kop weggeruk.

“Wat dink jý gaan aan?” Hy het een van die boeke opgetel en dit teen sy bors vasgedruk. “Jy sê hulle gaan die boeke eers met vloeibare stikstof vries?”

Ek knik.

“Totdat dit ’n poeier word?” Ek knik weer.

“En dan gaan hulle dit met ’n sement-epoksied behandel wat hulle uiteindelik gaan gebruik om paaie mee te bou?”

“Ja, Pa.”

“Weet jy wat is dit hierdie?” het hy gevra en ’n boek na my uitgehou. Ek het probeer kyk wat die titel is, maar ek kon nie die woorde so vinnig lees nie.

“Dis ’n boek.”

“Nee, dit is nie nét ’n boek nie. Hierdie is die simbool van vryheid. As jy ’n boek het en kan lees, is jy vry. Vry van bygeloof, vry om jou eie idees oor goed te vorm, vry van intellektuele slawerny.”

Ek wou pa nie verder ontstel nie, maar ek het toe in die stilligheid gewonder of hy nie ’n bietjie melodramaties is nie.

“Jy as die leser maak met die teks wat jý wil. Jy kan dit verwerp of jy kan daarvan hou. Jy kan daaroor nadink en ook jou eie idees daaroor vorm. Dít is vryheid.” Pa het die boek voor my gesig geskud. “Die boekdrukkuns het ons vry gemaak.”

“Maar Pa kan tog al die goed wat in boeke staan op die internet lees?”

“Pieta, jy verstaan nie. As jy ’n boek oopmaak, styg die reuk van die boek in jou neus op. Hierdie geur van houtstof, lym en ink dans ’n hoofweg deur jou neus tot in jou limbiese sisteem waar senuoordraers jou dopamien priem vir ’n lewenslange verslawing. Ek kan nie daarsonder nie.”

“Pa, dit is beter so. Ons kan niks anders met die boeke doen nie.”

“Ons weet uit die geskiedenis dat mense wat boeke verbrand, ook begin om mense dood te maak. Maar mense wat ’n poeier van

boeke maak en dit dan in ’n pad in messel . . . Watter soort mense is dit?! Wat gaan hulle met ons doen? Hulle gaan iets meer met ons doen as om ons dood te maak. Iets veel ergers.”

“Wat kan erger wees as om iemand dood te maak?”

“Ek wil nie weet nie.” Pa het ’n lang sug gegee wat eintlik soos ’n snik klink. Hy het die boek op die grond neergesit. Ek kon toe uiteindelik die titel begin lees. Die eerste woord was “Don” en dan was daar ’n Q en ’n x en ’n klomp klinkers.

Schalk Schoombie. Willem Krog, Lien Botha

Boeke argief

  • “Nee jislaaik, ek dink niks uit nie!”
  • Van patoloog tot storieverteller
  • Speurtog na die ondenkbare
  • Miss Mandy loop die pad al 40 jaar, my lam
  • Die Wonderwese – reismistiek en fantasie-avontuur
  • Nataniël, wese wat die koekiedrukker vrygespring het
  • Die chaosteorie en kief interkontinentaliteit
  • Lou-Marié Kruger oor die geweld van armoede
  • Nie meer Nine Inch Nails en Radiohead nie
  • “Vang die storie soos die verbysweef”
  • Resensie: The Café de Move-on Blues
  • Woordfees, koorsdrome en kwarantynleeslys
  • As jy skrywers op die wêreld loslaat
  • Marius Crous: Geen ou wit mans wat kletsrym nie
  • “ôs liewe, ôs su’vive, ôs groei, ôs raak stêkker”
Lees nou