‘n Lekker, langer terugsitlees in samewerking met Taalgenoot

Die skrywer se dood is die ander se brood

 deur Catrina Wessels en illustrasie deur Chris Valentine

Daardie persoonlike brief of dagboekinskrywing was nooit bedoel vir sommer enigeen se oë nie, maar nou beland dit postuum in ’n topverkoperboek. Wat is die regs- en etiese implikasies?

Dagboeke en briewe word nie gewoonlik geskryf met die idee dat dit ’n groot leserspubliek sal bereik nie. Tog beland sulke persoonlike dokumente van bekende skrywers meermale ná hul dood in die openbare domein wanneer dit in boekvorm uitgegee word.

Dink maar aan die briefwisseling van N.P. van Wyk Louw en sy broer W.E.G. Louw en van André P. Brink en Ingrid Jonker. Van einste Brink het onlangs verskyn André P. Brink en die spel van die liefde, ’n literêre biografie wat grootliks op sy persoonlike joernale geskoei is.

Tydens skrywers se leeftyd kan hulle toestem tot die publikasie van persoonlike dokumente en die openbaarmaking van private geskrifte. Gebeur dit egter ná hul afsterwe is dit ’n heel ander en dikwels gevoelige saak.

’n Ondraaglike grys gebied

In teenstelling met hedendaagse ekwivalente soos sosialemedia-platforms of ’n persoonlike blog is die aard van dagboeke en persoonlike briewe bepaald privaat. Daardie brief is waarskynlik slegs bedoel vir die oë van die ontvanger; die dagboek vir bepeinsing of persoonlike boekstawing. Dit kan vertroulike inligting bevat wat nie vir die openbare domein bedoel is nie.

Dit is nie verrassend dat hierdie tipe publikasies gewilde leesstof vir aanhangers van boeke en skrywers is nie. Die intimiteit en onmiddellikheid van briewe en dagboekinskrywings maak die leeservaring voyeuristies en dikwels nog boeiender.

Die publikasie van skryfsels wat in en vir die private sfeer geskryf is, kan tot reputasieskade lei, veral in die geval van skrywers. Dagboekinskrywings kan onafgewerk en ondeurdag wees – blote vingeroefeninge wat nie geskep is om tot die skrywer se beeld of oeuvre by te dra nie. Briewe maak weer gewoonlik staat op die goeie begrip van die ingeligte ontvanger, iemand met wie die skrywer waarskynlik ’n persoonlike verhouding het.

Persoonlike dokumente kan egter ook ’n interessante, nuwe lig op skrywers se skeppingsproses en hul werk werp, hul vorming as kunstenaar, hul veranderende sienings en gevoelslewe, asook op die tyd waarin dit geskryf is.

Louise Viljoen, professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, meen hoewel sulke dokumente literêr-historiese waarde het, moet die privaatheid daarvan gerespekteer word.

“Indien die skrywer van briewe of dagboeke self die besluit neem om dit te publiseer, is dit in orde, andersins het ek voorbehoude,” sê sy. “Ek moet egter erken dit is ’n maklike swart-wit-uitspraak in ’n ondraaglike grysgebied waarin literêre erfgename, biograwe en uitgewers daagliks gedwing word om moeilike keuses te maak.”

Outeursreg

Sadulla Karjiker, bekleër van die Universiteit Stellenbosch se Anton Mostert-leerstoel vir intellektuelegoedere-reg, bevestig dat persoonlike dokumente soos dagboeke en briewe net soos romans, gedigte of ander letterkundige werke in beginsel onder Suid-Afrikaanse wetgewing as outeursregwerke beskerm word. Indien ’n dagboek ook sketse bevat, kan daardie sketse as artistieke werke beskerm word. J.R.R. Tolkien het byvoorbeeld die fantasiewêreld van sy boeke in besonderhede geskets.

Vir outeursregbeskerming hoef dit ook nie ’n kunstige skets of goed geskrewe dagboekinskrywing te wees nie, dit moet slegs oorspronklik wees in die sin dat dit die outeur se eie skepping is en nie ’n slaafse kopie nie. In Suid-Afrika geld ’n relatief lae maatstaf in die beoordeling van oorspronklikheid.

Om briewe, dagboeke of sulke persoonlike dokumente te mag reproduseer moet jy óf toestemming van die outeursreghouer verkry óf jy moet op ’n uitsondering of verweer teen outeursregskending kan staatmaak. Indien nie, kan daar ’n saak van outeursregskending teen jou gemaak word. Remedies waarop outeusreghouers hulle kan beroep, sluit in ’n interdik (’n voorkeurremedie om die verspreiding van die inligting te voorkom) en skadevergoeding, wat soms in die vorm van redelike tantième bereken word. Sadulla wys daarop skade kan gewoonlik moeilik wees om te kwantifiseer, maar veral waar dit oor sensitiewe inligting gaan.

Dit is die outeursreghouer se eksklusiewe reg om onder meer publikasie te magtig. Outeursregbeskerming geld in Suid-Afrika tot 50 jaar ná die outeur se dood. Daar rus ’n verantwoordelikheid op die skrywer se erfgename om die outeursreg vir daardie termyn te bestuur. Hulle mag besluit wat ná die skrywer se afsterwe toegelaat word of nie, ongeag of hulle fisieke besit van die outeursregwerke het.

Sadulla sê daar moet onderskeid getref word tussen die fisieke voorwerp en die outeursreg wat daarin vervat is. Outeursreg beskerm die nie-tasbare inhoud en dus die skrywer se intellektuele produk, terwyl eiendomsreg ter sprake is waar dit oor die fisieke voorwerp gaan. In die geval van ’n brief is die persoon wat dit ontvang en in besit daarvan is tipies nié die outeursreghouer nie – die skrywer is. Ook oor briewe sal die erfgenaam as outeursreghouer seggenskap hê oor wat ná die skrywer se dood met die inhoud gebeur. Hierdie posisie geld ongeag of die dokumente in ’n argief of navorsingsentrum aan die algemene publiek beskikbaar is.

Outeursregbeskerming geld in Suid-Afrika tot 50 jaar ná die outeur se dood. Daar rus ’n verantwoordelikheid op die skrywer se erfgename om die outeursreg vir daardie termyn te bestuur.

Waar die outeursreg berus, bly ’n afsonderlike vraag.

Volgens Sadulla is “billike gebruik” ’n moontlike verweer teen die outeursregskending van persoonlike dokumente. Billike gebruik is ’n statutêre uitsondering wat behels dat daar vir bepaalde doelwitte wat in die wet uiteengesit is – soos navorsing, persoonlike studie of vir doeleindes van die beoordeling van ’n werk – nie outeursregtoestemming benodig word om dele van die werk te reproduseer nie, mits dit in redelike of “billike” hoeveelhede is.

As wesenlike dele van die werk gekopieer en byvoorbeeld vir kommersiële doeleindes gebruik word, soos in ’n boek wat in boekwinkels te koop sal wees, sal outeursregtoestemming  benodig word, sê sy. Howe in Engeland het al beslis die billike-gebruik-uitsondering sal moeilik toegepas word op die beskikbaarmaking van voorheen ongepubliseerde werke, veral as daardie werke op ’n ongemagtigde manier bekom is.

Morele regte, daardie deel van outeursreg wat skrywers die reg gee om beswaar te maak teen die gebruik van hul werk op maniere wat tot reputasieskade kan lei, is volgens kenners vergelykbaar met persoonlikheidsregte in Suid-Afrika: dit verval wanneer die outeur sterf en sal dus nie ’n rol speel in postume publikasie nie.

Die reg op privaatheid

Elkeen het persoonlikheidsregte, soos die reg op reputasie of goeie naam en die reg op privaatheid.

Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit regsgeleerdheid verduidelik die reg op privaatheid behels eintlik maar om alleen gelaat te word, veral wat die persoonlikste aspekte van ’n persoon se bestaan betref wat nie normaalweg met die algemene publiek gedeel word nie. Dit is goed soos gesondheidstatus, seksuele oriëntasie, finansiële posisie, lewenstyl en gesinslewe, asook inligting wat vertroulik is of verband hou met ’n persoon se jeug, agtergrond of geskiedenis – juis sake wat geredelik in dagboeke of persoonlike briewe aandag kan kry.

Die reg op privaatheid word nie net in die gemenereg beskerm nie, maar ook in art. 14 van die Grondwet verskans. Dié artikel waarborg onder meer elke persoon se reg op die privaatheid van sy of haar kommunikasie.

’n Oorlede skrywer se privaatheid kan egter nie geskend word wanneer sy of haar dokumente gepubliseer word nie, sê Johann Neethling, navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat se departement privaatreg.

“In ons reg ontstaan persoonlikheidsregte met die geboorte van ’n mens en gaan tot niet met sy dood. Naasbestaandes kan wel aanvoer dat húl reg op privaatheid geskend word deur die postume publikasie van die skrywer se dagboeke indien daar persoonlike inligting oor hulle in die dagboeke is.”

’n Moontlike verweer teen privaatheidskending is dat die bekendmaking van die inhoud in die openbare belang is, sê Johann.

“Dit sluit in dat die persoon ’n openbare figuur is; sy belangrikheid en status in die gemeenskap; die motief vir die publikasie – is dit bloot vir sensasiedoeleindes of om publieke nuuskierigheid te bevredig?; die omvang en intensiteit van die privaatheidskending – word daar besonder intieme feite ontbloot?; die feit dat die dokumente onregmatig bekom is, soos deur diefstal; en die graad van die identifiseerbaarheid van die persoon wie se privaatheid ontbloot word.”

Indien daar boonop lasterlike inhoud is, kan ’n afsonderlike lastereis ingestel word. Enigeen wat in dagboeke of briewe – dokumente waar die spreekwoordelike wag voor die mond soms nie aan diens is nie – belaster word, kan sulke eise instel.

“Enige persoon wat die laster herhaal, beaam of selfs net die aandag daarop vestig, kan aangespreek word,” sê Johann. “Dit sal dus die erfgename wat die publikasie gemagtig het en die uitgewer daarvan insluit.”

Een ding is seker, daar is oorgenoeg rede om twee keer te dink voordat die inhoud van daardie ou bladsye in hul sierlike handskrif die wêreld ingestuur word.

Om met boeke te smokkel

deur Marlene Malan en illustrasie deur Sean Chris Strydom

Die ondergrondse uitgewery Taurus was ’n tuiste vir menige plaaslike skrywer wat weens sensuur die deur gewys is.

Ons het geweet dit wat ons aanpak, dra ’n hoë koste. Ons gesinne het daaronder gely. Maar hulle het ons nooit verwyt nie.

Die stigting van die uitgewer Taurus in 1975 het niks te doen gehad met heldhaftigheid nie; eerder met hardegatgeit, sê een van die stigters, die skrywer John Miles.

Vir hom, sy medestigters, die literatore Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg en later Gerrit Olivier, Tienie du Plessis en Hans Pienaar, het dit gegaan oor beginsels in die uitgewersbedryf; oor die ontwikkeling van skrywers en hul oeuvre, maar veral om ’n middelvinger te wys vir die etiket van bekrompenheid wat deur staatsensuur op skeppende skryfwerk in Afrikaans geplak is.

John sal dit wéér doen. Al was sy persoonlike rekening hoog. Al was Taurus ’n lang tyd ondergronds. “Ons het geweet dit wat ons aanpak, dra ’n hoë koste,” sê hy. “Ons gesinne het daaronder gely. Maar hulle het ons nooit verwyt nie.”

“Nee, wat,” voeg die kunshistorikus Elza Miles, wat destyds met John getroud was, al laggende by, “ek het graag rondgehardloop om die boeke in die geheim te pos.”

John weet dit was die regte ding om te doen – om in die apartheidsera standpunt in te neem teen die opdwing van bepaalde denkraamwerke en lewensbeskouings, soos voorgeskryf deur die Nasionale Party-regering en sy onderdane.

Om te ‘Breyten’

Taurus was by uitstek die uitgewer wat die skryftalent van Breyten Breytenbach op koers gehou én gekeer het dat dit gestuit word terwyl hy in die tronk was.

Taurus het in sy bestaan van 16 jaar meer as 80 titels gepubliseer van, onder andere, Breytenbach, Miles, André P. Brink, Pieter-Dirk Uys, Wilma Stockenström, Nadine Gordimer, André le Roux, Ryk Hattingh, Harry Kalmer, Hans Pienaar, Ingrid Winterbach (ook as Lettie Viljoen), Eben Venter, Sandra Kriel, Dan Roodt, Jeanette Ferreira, Antjie Krog, Koos Prinsloo en Emma Huismans. Hy het ook die letterkundetydskrif Stet uitgegee.

Die idee van ’n geheime uitgewery het ontstaan toe Brink se Kennis van die aand(Buren, 1973) in 1974 verbied is. Die tien jaar sedert 1964, toe Breytenbach se Die ysterkoei moet sweeten Katastrofesby Afrikaanse Pers Bpk. (APB) verskyn het, was ’n tydperk van institusionele ontwikkeling en taboes – ’n era waarin skrywers nie toegelaat is om die apartheidsbeleid te kritiseer nie. Dit was in dié tyd dat Kennisverskyn het; onmiddellik omstrede omdat dit die politieke sfeer en konserwatiewe lewenstyl uitgedaag het.

Die Afrikaanse Pers Bpk. (’n samesmelting in 1962 tussen Afrikaans Pers-Boekhandel en Dagbreekpers), was ’n konserwatiewe maatskappy met H.F. Verwoerd, destyds eerste minister, as voorsitter van sy direksie. Breytenbach verbreek sy bande met APB onder meer omdat APB ’n nuwe prosa-manuskrip, Om te vlieg, wegwys. Sy tweede digbundel, Die huis van die dowe, word deur Human & Rousseau (H&R) uitgegee, maar met taamlik baie veranderings uit vrees vir sensuur. Drukkers weier egter omOm te vlieg– wat goedgekeur is vir publikasie – te set en in 1968 probeer John Vorster, die nuwe eerste minister, keer dat die CNA-prys aan hom toegeken word vir Die huis van die dowe. H&R maak die fout om hom openlik van Breytenbach se politieke standpunte te distansieer. Die skrywer verbreek ook sy bande met dié uitgewer.

Sy derde digbundel, Kouevuur (1969), verskyn toe by Buren, ’n klein, onafhanklike uitgewer, maar ook daaruit word gedigte weggelaat omdat drukkers vervolging vrees. Kouevuurontvang die CNA-prys en Buren se eienaar, Daantjie Saayman, besluit om 150 eksemplare uit te gee van Oorblyfsels uit die pelgrim se reis na die tydelike– die aktuele verse wat weggelaat is. Dit, sê die literator prof. Francis Galloway, was die eerste ondergrondse of samizdat-publikasie in Afrikaans.

Die vyand, sensuur

Die jare 70 was vir die Afrikaanse uitgewersbedryf ’n tyd van woelinge, skokke en “ons hardegatgeit”, sê John. Breytenbach se verhouding met Buren was gevestig, maar toe die uitgewer sy appèlsaak teen die verbod op Kennis van die aand verloor, moet hy sy deure sluit.

Breytenbach word in Augustus 1975 in hegtenis geneem en drie maande later word Taurus gestig – ’n regstreekse gevolg van die streng nuwe sensuurwetgewing én die manier waarop Brink en Kennis behandel is.

Volgens dr. Rudi Venter, wat ’n studie van Taurus se invloed op die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf gemaak het, was dit die verbod op Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein(H&R) wat die teenstand vir sensuur tot keerpunt gedryf het. Francis beskryf die jare 1974-78 as “traumaties” vir die Afrikanerskrywer.

“Toe Kennisverbied is, het ons ’n protesvergadering gereël,” vertel John. “Ons het geld ingesamel vir die hofsaak om dit te betwis. Die kunstenaar Walter Battiss het ’n skildery vir dié doel geskenk.”

Ampie onthou daardie dag nog goed. “Walter was een van die sprekers,” sê hy. “Hy het na die byeenkoms gekom met pienk pantoffels aan. Hy het gesê dit wat nóú in die land gebeur, gaan meer en meer gebeur. Hy’t tóé nie geweet dit sal deesdae erger wees nie.

“Ons was kwaad. Sensuur was ons grootste vyand, aangewakker deur die destydse Publikasieraad met sy spul dienende gekke. Die motivering tot verset en die stigting van Taurus het gekom vanuit die outoritêre aard van die regering en sy Calvinistiese benadering teenoor die letterkunde. Breyten is die ergste getref. Ons het geweet Taurus sou verbied word; ons vervolg word oor wat ons doen.”

’n Oomblik in die wind

Brink se volgende roman, ’n Oomblik in die wind, word in daardie tyd deur H&R én Perskor van die hand gewys uit vrees vir sensuur en moontlike regskoste. Maar toe, op 16 November 1975, kondig Rapportaan ’n anonieme uitgewer is bereid om die roman op ’n nie-kommersiële grondslag, ’n klein oplaag, uit te gee, mits daar genoeg betaalde voorbestellings is. Die koste: R8.95 per eksemplaar. Binne vyf dae bestel die publiek, uit steun vir die “vrye boek”, duisend genommerde, getekende eksemplare.

“Ons wás skrikkerig,” sê Ampie, “maar ons verset was so groot dat dit nie werklik so erg was nie.”

Hy vertel Taurus is deurgaans bygestaan deur Coenie Slabber, Rapport se boekredakteur, sy onmiddellike hoof, Rykie van Reenen, en die redakteur, Willem Wepener. “Coenie het in die koerant kennis gegee waar ons boeke sou verskyn, met ’n adres, en mense het dan bestel.”

Taurus is as posbestellingsonderneming onder die naam LICOMIL, ’n akroniem van die name van die oorspronklike stigters, geregistreer. “Ek en John het skelm-skelm poskantoor toe gegaan en die boeke gepos,” vertel Ampie. “Daar was die moontlikheid dat ons vervolg sou word. Ons het vermoed die veiligheidspolisie was bewus van ons. Vasbeslotenheid was inderdaad ’n faktor – en avontuurlus!”

John én Ampie sê woede was hul groot dryfveer. “Die meeste skrywers was téén sensuur [gekant] omdat dit hul kreatiwiteit beïnvloed het. Dit het begin met die seksuele, soos in Kennis; ook apartheid. Ons letterkunde vóór die Sestigers was ‘esteties’.”

’n Waterskeiding was Taurus beslis, meen Ampie. “Ons was ook die oorsaak daarvan dat een van Breyten se digbundels in Nederland uitgegee is – Om ’n sinkende skip blou te verf.Die bundel is onmiddellik hier verbied. Daarin is ’n gedig, ‘Brief uit die vreemde aan slagter’, opgedra aan die eerste minister van die tyd, Vorster. Die opdrag lui ‘Vir Balthazar’ (Vorster se tweede naam).

“Skrywers het gerus geraak in die wete dat Taurus hulle sou kon help. Ons het die weg gebaan om sensuur te omseil.”

Hoofsaaklik ongeskonde

Volgens John moes hulle kieskeurig wees oor wie manuskripte sou set. “Dit moes mense wees wat nie Afrikaans ken nie. Ons was bang as die setter verstaan wat hy doen, hy sy base daarop sou wys. Toe Mike Kirkwood van Raven vir ons ’n nuwe setmasjien beskikbaar stel, het ek en Ampie dit naweke gebruik. Uiteindelik koop ons toe ons eie, daai soort met die gholfballetjie. Maar hy’t ’n beperkte geheue van vier bladsye gehad. Dit was moeilik. Gestel jy wil iets in kursief set, moet jy die balletjie uithaal en ’n nuwe insit.

“Wits se departement Afrikaans het dit vir ons vergemaklik. Ernst van Heerden, die departementshoof, het ons vrye teuels én ’n stoorkamertjie by die universiteit gegee om in te werk.”

Hy wonder dikwels hoe hulle so redelik skotvry daarvan afgekom het. “Ek en Ampie is eenkeer ’n kort rukkie aangehou as gevolg van ons ontmoeting met Breyten voor sy arrestasie. Hy’t nog vir ons gesê ons moet sorg dat ons uit die tronk bly.”

John meen Taurus het geslaag “omdat ons niks met die establishment te doen gehad het nie; net passievol was oor Afrikaans en Afrikaanse skryfwerk”. “Ons het geen verbintenis gehad met enigiemand nie. Ampie se pa was ’n mynwerker, myne ’n bakker, Ernst s’n ’n winkelier. Nie een van ons was verbonde aan enige kerk of politieke party nie. Ons was nie-materialisties ingestel. Aanvanklik het nie een van ons enige vergoeding ontvang nie.”

Aan skrywers het hulle stiptelik sesmaandeliks outeursgeld betaal en die ooreenkoms was dat die skrywer ná die eerste uitgawe by Taurus volle kopiereg behou. “Ons wou nie heruitgee nie,” vertel John.

Volgens Eben is Taurus nooit ontbind nie, maar die publikasieprogram is begin 1992 gestaak. “Ons het ons rol gespeel,” sê John. Vandag is sensuur, relatief gesproke, nie meer so maklik opdwingbaar soos destyds nie, “grootliks vanweë die informasietegnologie”.

Maar volgens Ampie “gaan ons net méér sensuur hê”. “Die grootste daad van sensuur deesdae is die uitwissing van Afrikaans as universiteitstaal.”

Bronne:

Perspektief en Profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Tweede uitgawe, deel 3: Die Afrikaanse uitgewersbedryf (Francis Galloway en Rudi Venter), bl. 365-557. HP van Coller (red). Van Schaik Uitgewers. 2016.

Inventing an alternative through oppositional publishing; Afrikaans alternative book publishing in apartheid South Africa – the publishing house Taurus (1975-1991) as a case study. Rudi Venter. Dept van Inligtingskunde, UP. 2007.

Grepe uit die uitgeegeskiedenis van Breyten Breytenbach: Francis Galloway. Litnet. 27-07-2012

Unieke kuns vir unieke mense

deur Johan Jack Smith en foto deur Andre Badenhorst

Hierdie eiesoortige galery wil ’n platform skep om ontluikende kunstenaars en nuwe kopers aan mekaar bekend te stel …

In die hartjie van Johannesburg se middestad, in Doornfontein, in die skaduwee van Ellispark se paviljoen en die Ponte-gebou, staan ’n galery wat die kunswêreld (en kunstenaars) anders benader en, eintlik, wel, op sy kop keer. Kyk ’n mens na Ellis-huis, sou jy nie kon raai  die vyfde vloer van dié gebou huisves asemrowende kuns en talentvolle kunstenaars nie.

TG het met Tyron Selmon, mede-eienaar van die Art Eye-galery, gesels.

Wanneer ’n mens instap, kry jy ’n gevoel van informaliteit en toeganklikheid.

Ek het eendag in ’n galery ingestap in die Kaap en hierdie jong meisietjie met ’n dikraambril het my so op en af gekyk en my so ongemaklik laat voel; of sy sommer namens my besluit het of ek die kuns kan bekostig of nie. Toe weet ek, dis tyd om mense se idee van galerybesoeke te verander.

 Hier is heelwat kuns deur jong, opkomende kunstenaars te sien.

Ek het in Kaapstad gewerk vir Switserse bankiers, vir wie ek binneversiering gedoen het. Hulle het my gevra om kontemporêre Afrikakuns aan te koop. Ek het agtergekom kuns is ontoeganklik deur galerye en meer toeganklik deur afslaers. Veral die intelligente kunstenaars, soos Trevor Coleman, wat dalk nie in daardie stadium in die mode was nie, maar baie verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse landskap. Daar het ek ook gesien dat werke van kunstenaars wat reeds dood is, soos Irma Stern en Pierneef, astronomiese bedrae haal.

Nadat ek Johannesburg toe verhuis het, het ek besef ek wil nie dooie kunstenaars se werk verkoop nie. Ek wil deel wees van iemand se storie. Ek het begin om die stories te soek; om die kuns te vind wat jy nie sien in galerye nie. Plekke soos Soweto en die ander townships. Toe het ek besef ek wil deel wees van die nuwe generasie, die nuwe kultuur – die stories wat op straat vertel word.

Hoe lyk die gemiddelde kunskoper wat Art Eye besoek?

Daar is mense van verskillende vlakke van die samelewing wat kuns koop. Van die 82-jarige, afgetrede boer in Hermanus en die 23-jarige Afrikaan in Midrand tot die ernstige versamelaars. Hier was eendag ’n versamelaar wat miljoene vir ’n Pierneef betaal het. Met sy vertrek sien hy ’n kunswerk van Christa Myburgh by die uitgang en besluit om dit te koop. Hy was so beïndruk met sy aankope, wat teen daardie tyd ongeveer R20 000 was, dat hy van die Pierneef vergeet het! Ek het toe besef: Baie versamelaars koop kuns omdat dit skaars is en vir die waarde daarvan, maar hulle stel ook belang in die nuwe talent, die new kid on the block.

Hier is heelwat abstrakte kuns; nie noodwendig werke wat algemeen te sien is in tradisionele galerye nie. Is dit ’n berekende waagskoot?

Ek en Sanele Manqele, my besigheidsvennoot, het by ons vorige perseel, by die Design Quarter in Fourways, gesien mense het die behoefte om “intelligente” kuns te ontdek; kuns wat moeilik is om te verstaan. Hulle wou vrae vra, maar het nie ’n “veilige plek” gehad nie. Ons het daardie plek geword; ’n plek waar mense kan sê: “Wat de hel gaan dáár aan?”

Dan sal ons aan hulle verduidelik, en só het ons agtergekom die mense kom terug en dan koop hulle die kunswerk. Dit was ’n risiko, maar ons is ernstig daaroor om “eerlike” kuns te bevorder. ’n Kunstenaar wat nooit ’n kunswerk verkoop nie, maar steeds aanhou skilder omdat hy voel hy móét, dis dáái kunstenaars wat ons soek.

Een van TG se illustreerders, Louis van den Heever, het ’n internskap gedoen by Art Eye se Project Room Development-projek, waar julle kunstenaars inneem, van kunsvoorraad, kos en verblyf voorsien en waar hulle vir ’n paar maande kan werk. Hoe finansier julle dié projek?

Ons kry geld by Mercedes-Benz vir die internskappe. Ons wil ontluikende talent ontwikkel sodat hulle ons eendag kan verlaat en elders suksesvol wees, maar steeds ’n band met ons het. Ek dink, byvoorbeeld, aan William Kentridge en die Goodman-galery [in Kaapstad], wat hom steeds verteenwoordig. Hy steun ook ontluikende kunstenaars. Dit gaan oor verhoudings; ’n wisselwerking tussen ons en die kunstenaars wat ons graag volhoubaar wil maak. Ons verwag tog lojaliteit van ons kunstenaars.

Die kunswêreld het ’n interessante dinamiek. Kunstenaars soos Louis sou dit in elk geval “gemaak het”. Het ons hom gehelp? Ja, ek glo ons het. Met ander kunstenaars het dit nie gewerk nie. Hulle het ander verwagtinge gehad. Dit bly eindelik steeds ’n besigheid. As hulle hier is, moet hulle bereid wees om te ontwikkel en te werk. Daar is reëls. Dis dalk die probleem met die millennials – hulle verwag dadelik sukses. Maar die kunswêreld werk nie só nie. Daai kunstenaars is egter in die minderheid.

Dit gaan ook oor die bande wat die kunstenaars sluit met ander kunstenaars. En met versamelaars. Dit gaan oor blootstelling.

Wat hou die toekoms vir julle in?

Ek kan sien dat die galery in die nabye toekoms gaan “afstig” in boetiekgalerye wêreldwyd wat steeds gevoed word deur die internskappe by Art Eye. Ons sal steeds ons voetspoor in die middestad wil behou. Omdat die galery en die internskappe gefinansier word, kan ek kuns verkoop teen baie redelike pryse. Ek kan verkoop aan ander galerye en teen kosprys – galerye in Cannes, Londen en New York. Dit beteken ons maak nie baie geld nie, maar dit laat my toe om die kunstenaars se werk in die mark te kry teen ’n billike prys.

Dan beplan ons ook om volgende jaar ’n Young Buyers Club te begin. Dit sal jongmense wees wat ernstig is oor kuns; nie net mense wat galerye toe kom vir ’n gratis glas wyn nie. In plaas van honderd mense by ’n uitstalling soek ons net tien. Sodat ons met hulle kan gesels; verhoudings bou. Mense wat belangstel in kuns. Hier kan hulle gesprekke voer met die kunstenaars.

Ek is opgewonde oor die toekoms. Alles wat ons wou doen, het ons reeds gedoen en nog meer. Ons het die jonger mark bereik, ons het die ouer demografie bereik; selfs versamelaars wat ouer kuns vervang met nuwer, kontemporêre kuns. Ons het die mense gekry om deel te neem. Ek kan nie wag om te sien wat volgende gebeur nie.

Alias die skrywer

deur  Johanna van Eeden

Die redes verskil waarom sommige skrywers verkies om nie onder hul eie naam te publiseer nie.

Moenie ’n boek op sy baadjie takseer nie. Of ’n skrywer op sy skuilnaam nie.

Andries Buys (81) van Kaapstad wou ná sy aftrede ’n rustige lewe lei. Dit het hy gedoen. Hy skryf toe ook ’n boek, Die dao van Daan van der Walt, onder die naam Lodewyk G. du Plessis.

“Ek hou nie van die woord skuilnaam nie, ek verkies skrywersnaam,” sê hy. “Skuilnaam mag suggereer dat die skrywer wil wegkruip. Ek het geen rede gehad om weg te kruip nie. Weens my beroep as advokaat en regter was my professionele lewe en optredes alles in die openbaar. Ek was ’n siek man toe ek afgetree het en wou rus en ontspan in ’n lewe ver van die geraas en die openbare oog.

“As ek Die dao van Daan van der Waltonder my eie naam geskryf het, was ek terug op ’n plek waar ek definitief geen begeerte gehad het om weer te wees nie: naam in die koerant; 80-jarige skryfdebuut; optredes by woordfeeste en voor leeskringe … Dit het my verbaas dat my identiteit vir ’n hele jaar nie op die lappe gekom het nie.”

Vir die breë leserspubliek was dié opwindende debuutskrywer ’n enigma. Boonop wen die boek toe twee literêre pryse in een week. En nog een.

“Wie sou erkentlikheid toon vir die eer wat my boek toegeval het tydens die prystoekennings?” sê hy. “Andries Buys, gekleed in ’n lang jas, hoed op die kop, oë weggesteek agter ’n donkerbril, vals baard vasgeplak op die ken?”

Ná ’n vergadering met sy uitgewers, Solette Swanepoel en Etienne Bloemhof van Tafelberg, is daar besluit hy moet sy identiteit openbaar. Die vlamme van bespiegeling is geblus.

Jou naam, jou handelsmerk

Daar is geen gebrek aan dié soort ding in die literêre skatkis nie. Plaaslik strek dit terug tot Sangiro, Mikro en Eitemal, maar talle eietydse skrywers verkies dit om onder ’n pseudoniem te publiseer. Solette noem Anchien Troskie, wat Dis ek, Anna as Elbie Lötter gepubliseer het, en Ingrid Winterbach, wat vroeër onder Lettie Viljoen geskryf het.

“Internasionaal dink ek dadelik aan J.K. Rowlingse pseudoniem, Robert Galbraith, en Stephen King, wat in die 70’s en 80’s onder die naam Richard Bachman geskryf het.”

Sy meen die inhoud van ’n boek of bloot die behoefte aan privaatheid is van die redes waarom iemand ’n boek onder ’n alias wil publiseer, “maar meer dikwels word ’n skuilnaam gebruik omdat die skrywer ’n ander genre aanpak as waarvoor hy of sy bekend is”.

“Só het Eleanor Baker die skuilnaam Christine le Roux gebruik vir liefdesverhale, terwyl haar speurverhale onder die naam Alex Muller gepubliseer is.”

Charlene Hougaard, senior uitgewer: fiksie by Lapa, wys op die Amerikaanse romanskrywer Nora Roberts, wat eweneens liefdesverhale onder haar eie naam publiseer, maar spanningsverhale onder J.D. Robb.

Solette sê ’n skrywer se naam is ’n handelsmerk. Verskil jou nuwe werk ingrypend van dit waarmee jou gevestigde handelsmerk sinoniem is, is dit die moeite werd om ’n skuilnaam te oorweeg. Volgens Charlene help dit ook om verwarring onder lesers te voorkom.

Maar hoe reageer lesers op die kulnaam? Jy word dalk groot met Bettie Naudé se Saartjie-reeks en verslind Topsy Smith se Trompie-boeke; net om te ontdek dis alles Smith se werk! Solette sê sommige lesers voel op ’n manier verraai, maar nie almal nie. “Min skuilname bly in elk geval ’n waterdigte geheim.”

Dr. Francois Smith, dosent by die Universiteit van die Vrystaat se departement Afrikaans en Nederlands en skrywer van Kamphoer, sê daar kan “vlietende verontwaardiging” by lesers wees, maar indien die teks goed genoeg is, sal lesers dit aanvaar en selfs uiteindelik daarvan vergeet. Hy meen dit gaan oor méér as ’n naam, maar ’n persona.

“Daar is skrywers wat nie gesien wil word nie, selfs al skryf hulle onder hul eie naam. Dink aan die Amerikaner Thomas Pynchon, wat nooit onderhoude toestaan nie en van wie die enigste bestaande foto’s seker 40 jaar oud is.

“Dit is blykbaar ook die beweegrede agter die naam van die Italianer Elena Ferrante, seker die skuilnaam wat die meeste mense op hol het. Sy wil glo stil en beskeie in haar dorpie leef, heeltemal verwyderd van die roem van haar boeke. Of dié geheimsinnigheid vir haar lesers wen, weet ek nie. Dis in elk geval nie die rede waarom ek nuuskierig was oor haar werk nie, maar kennelik is dit vir baie mense interessant en daar is geweldige speurtogte geloods na haar ware identiteit.”

Die mens agter die boek

Solette sê vanweë die verwagting dat ’n skrywer beskikbaar sal wees vir optredes, is dit moeiliker om ’n boek te bemark wanneer dit onder ’n skuilnaam geskryf is. In Lodewyk G. du Plessis se geval het die skuilnaam tot voordeel van die boek gewerk, meen sy.

Francois wys op Mary Ann Evans, wat as George Eliot (1819-1880) geskryf het in ’n tyd toe vroueskrywers nie ernstig opgeneem is nie, “en kyk watse invloedryke boek bly Middlemarch”.

Charlene meen ’n nom du plumeis ook ’n goeie idee wanneer iemand ’n “volksvreemde naam” het of die naam en van te lank is. Francois wys op die geval van Pablo Neruda: “Hy het sy skrywersnaam gebruik omdat sy ouers nie gehou het van sy skryfwerk nie.”

Ricardo Eliécer Neftalí Reyes Basoalto sou waarskynlik ook maar moeilik op ’n boekomslag ingepas het.

“Vir my interessant omdat ek die boeke as kind verslind het, is F.A. Venter se skuilnaam, Meiring Fouché, waaronder hy onder meer die reeks Sahara-avontuurgeskryf het,” sê Fancois. “Venter het ook ná Braam le Roux se dood Die Swart Luiperd-reeks voortgesit en wel onder die naam Braam le Roux. Jy kon destyds hierdie slapbandboekies in kafees koop. Luit. Theuns Stegman van Sahara-avontuuris steeds een van my grootste storieboekhelde.”

Hy meen Venter, ’n gerekende literêre skrywer, het ’n skuilnaam gebruik om “ligte, populêre werke sonder enige literêre pretensie” te kan skryf.

“’n Mens moet besef skryf is ’n blootstellende gedoente en ’n mens moet dit maar in die oë kyk, maar skrywers kan ook name kies omdat dit beter klink, soos popsterre dit doen. Dit beteken nie hulle wil daaragter wegkruip nie, maar dis doodgewoon dat P.G. du Plessis beter – gewigtiger – klink as Pieter du Plessis, of dat Etienne Leroux beter Frans-misterieus lyk op die omslag van ’n boek as Steven le Roux.”

Skuilname is meestal, maar nie altyd nie, beperk tot fiksie. Annie Olivier, uitgewer van niefiksie by Johnathan Ball Uitgewers, sê skrywers wil soms hul ware identiteit om regs- of veiligheidsredes beskerm.

“In die een geval waarmee ek te doen gehad het, was die skrywer ’n voormalige diamantdelwer en sy was bang dat mense in die diamantbedryf haar dalk te na sou kom omdat sy so eerlik oor die bedryf geskryf het. Sy was in daardie stadium ook reeds uit die bedryf en wou nie hê dat mense in haar nuwe omgewing haar noodwendig daarmee verbind nie.”

Duiwelsklipis derhalwe onder die skuilnaam Mika le Killian gepubliseer. Die onthullings daarin het Annie laat besluit om liefs die skrywer se identiteit te probeer beskerm.

Die kwessie van geloofwaardigheid is ook belangrik. Annie sê as iemand byvoorbeeld sy lewensverhaal onder ’n skuilnaam wil aanbied, kan lesers wonder of dit die volle waarheid is. “As niefiksie-uitgewer sou ek ’n skrywer altyd aanraai om onder haar eie naam te skryf. Dit maak ’n niefiksiewerk meer outentiek en geloofwaardig.”

Maar hoe kies jy ’n skrywersnaam? Een van Lapa se skrywers het byvoorbeeld sy beroep as skrynwerker by sy skuilnaam ingewerk.

“Sommige skrywers gebruik bloot hul nooiensvan of verkort hul naam en van,” sê Charlene. “Een van ons skrywers gebruik om sentimentele redes haar ouma se naam.”

Vir Andries was dit maklik om Lodewyk G. du Plessis op te tower: dis sy pa se voorname en sy ma se nooiensvan. Sy pa was ’n weeskind wat nooit skoolgegaan het nie. Sy ma is in 1901 in ’n konsentrasiekamp in Kimberley gebore.

“Om hul name in my skrywersnaam te gebruik, was vir my ’n manier om dié dierbare twee ou mense, reeds lank dood, te herdenk en te eer.”