Our Boys

HBO / Amerikaans-Istaeli ko-produksie

Is daar enige manier om die kompleksiteite van die Midde-Ooste konflik te verstaan? Sedert die grondlegging van die moderne staat Israel in 1948 het die onpeilbare, dog vreemd voorspelbare toutrekkery oor grondgebied, godsdiens en ideologie gewoed, met geweervuur en mortiere, aanvalle en teenaanvalle van alleraard – en natuurlik magsvertoon, bloedvergieting en agtelose verwoesting. Die Palestynse stryd om bestaansreg bly weliswaar die brandpunt waar wêreldmoonthede mekaar verdring om ʼn politieke kleim af te steek. Tans is die Midde-Ooste weer onder die soeklig met vyandighede rondom Isis, Turkye en Sirië. ʼn Oog vir ʼn oog geld almaardeur in ʼn Ou Testamentiese prutpot wat apokalipties oorkook. Ook hier is sprake van verdraaiings en weersprekings met gerugte van oorlog en nuus wat “gemaak”word, met elke belangegroep wat die basuin harder wil blaas vir eie gewin. Vir ʼn harde les in hoe om ʼn menslike drama van wraak en weerwraak ewehandig te vertel, kyk gerus na die onverskrokke minireeks Our Boys, gebaseer op ʼn ware gebeurtenis enkele jare gelede. Dit laat behoorlik die tempelvoorhang skeur. In tien plofbare, spannende episodes wat fokus op die ontvoering van en moord op die tiener Mohammed Abu Khdeir, word temas van regverdigheid, kulturele misverstande, ouerskap en broederskap verken. Die twee hooffigure wat die daaropvolgende regsdrama dryf, is die gebroke pa, Hussein (Jorry Arbid) en die Israeili geheime agent Simon (Shlomi Elkabetz) wat die drie verdagtes vastrek. Die egtheid en grinterige realisme van die spel, inkleding en ruwe omgewing betrek die kyker soos die allervernuftigste cinéma vérité. Jy kan nie wegkyk nie, en jy kan soms nie kyk nie. Jy kan nouliks glo hierdie is net akteurs wat ʼn teks vertolk. Die opruiende straattonele werp jou te midde van die onbeheersde chaos van drukgroepe wat martelaarskap aan onskuldige slagoffers opdring. Die geweld is by tye afgryslik; tog ‘weet’ die kamera wanneer om weg te kyk. Regiegewys word hier goeie oordeel uitgeoefen. Die verskeurde hart van die reeks is Adam Gabay as die Ortodoks-Joodse seun Avishay Elbaz, wat onder die invloed van sy fanatiese oom beland. Hy word by die misdaad ingesleep en deur sy gewete verteer. Sy aanvanklike stilswye en latere emosionele bekentenis in die hof is skreiend en onvergeetlik. Pogings van die Israeli owerhede en meer gematigde Palestyne om die chaos te beheer en reg te laat geskied bring die verweefde problematiek na vore. Simpatie word vir albei kante beding. Maar primêr is dit nie die politieke hutspot wat so aangrypend is nie, eerder aan beide kante die brose verhouding tussen konserwatiewe ouers en seuns wat vatbaar is vir twyfelagtige invloede. Wat deurgaans tragies opval, is dat Israeli’s en Palestyne verbasend baie soos broers of bloedfamilie lyk: beide gebore uit die skoot van onplooibare godsdiens, afguns en oorlog. Ryp insigte is volop, maar jy bly wonder: sal hulle mekaar ooit die hand in vrede reik? Die reeks is met omstredenheid begroet in Israel, waar die eerste minister Benjamin Netanyahu dit afgemaak het as “anti-semities”. Schalk Schoombie

The Loudest Voice

Showtime

Die stryd om “hearts and minds” van stemgeregtigdes word gewen deur die spreekbuis wat die hardste bulder. So glo magshebbers en meningsvormers wat spesialiseer in massa-indoktrinasie. In die VSA klink daar nog altyd ʼn mengelmoes mededingende stemme op in die media (voor die koms van sosiale media), in die gedrukte en elektroniese media. Roger Ailes was ʼn TV-vervaardiger wat die wisselwerking tussen inhoudskeppers en gehore goed verstaan en uitgebuit het as stigter van die konserwatiewe  Fox News-nuuskanaal. Dis nie akkurate en gebalanseerde nuusdekking as sulks wat publieke mening swaai nie, het hy geglo, dis veel eerder die manipulasie van nuus wat politieke invloed verseker. Die wenresep wat Ailes opgedis en verfyn het, o.m. met die kletsprogram Fox & Friends, is ʼn losse gepruttel en geskinder oor “sake van die dag” waar aanbieders hul dikwels oningeligte en ondeurdagte opinies lug. Die minireeks is gebaseer op ondersoekende joernalis Gabriel Sherman se onthullende boek The Loudest Voice in the Room (2014) en volg die opkoms van een van die invloedrykste nuuswerke in Amerika. Kan daar vanjaar ʼn meer afstootlike karakterstudie wees as Russell Crowe as die wydgesette, magsbehepte Roger Ailes? Crowe – oorgewig, bles en kortasem – klouter pens en pootjies in dié dominerende personasie en oorheers elke toneel waarin hy verskyn. Ailes se baasspelerige hantering van werknemers en politici, van vriende en vyande, getuig van diaboliese slinksheid en geveinsheid. Selfs sy baas, mediamagnaat Rupert Murdoch (die vaal dog enigmatiese Simon McBurney) kon hom nouliks in toom hou. Hoewel die verhaal kronologies afspeel, is daar groot tydspronge tussen episodes wat steurende biografiese leemtes laat. Jy sien Ailes ouer, vetter en erger word, gieriger, meer pervers en korrup. Sulke ekstreme agteruitgang verdien om dieper verken te word. As tydsdokument wat omwentelinge soos 9/11 en die #MeToo-beweging belig, is die reeks egter besonder insiggewend, veral oor hoe beroepsvroue deur roofsugtige mans in topposisies misbruik word. Naomi Watts skitter as ankervrou Gretchen Carlson, Ailes se nemesis. In die finale episodes word die aanvoorwerk en strategieë vir Donald Trump se presidentskap blootgelê. Sienna Miller as Ailes se vrou Beth en komediant Seth MacFarlane as sy regterhand Brian Lewis verras met genuanseerde vertolkings, van intieme vertrouelinge wat algaande die lig begin sien. In Aaron Sorkin se vlymskerp satire, The Newsroom, word die hedendaagse nuusateljee verbeeld as ʼn soort regsbank waar morele kwessies indringend gedebatteer word. In The Loudest Voice is die ateljee ʼn onheilsplek waar vals nuus uitbroei en kontroversie bekook word. As jy kop of stert probeer uitmaak van konserwatiewe gesindhede en politieke verdeeldheid wat tans in die VSA woed, is dit ʼn reeks wat oogklappe afruk. En Crowe bewys hier hy is ‘n verkleurmannetjie en kranige karakterspeler. SS

Trapped

RVK Studios/BBC

Die koue, noordelike lande van Europa het die afgelope dekade ʼn ysige oes van krimi-reekse opgelewer waarvan Wallander met Kenneth Branagh seker die bekendste is. Uit Ysland se bevrore afsondering kom twee seisoene van Trapped, ʼn speurreeks wat die kyker, soos die titel waarsku, vasnael en beklem. Die ontstemmende titelsekwens superponeer ʼn ruwe, onherbergsame landskap met die grysbleek kontoere van ʼn naakte lyk – soos kaarte van onbewoonbare streke wat oormekaar skuif: Ysland en die Dood word grillerig versoen. Die kyker bibber byvoorbaat met die wete dat dit geen troeteltoer gaan wees nie, eerder ʼn wrede reis na die onbekende. In dié donker reeks is daar verskeie onheilspellende verskuiwings. In die eerste seisoen van tien episodes, met die aankoms van ʼn plesierboot in ʼn afgeleë hawedorp, vind vissermanne ʼn verminkte lyk. Terwyl die polisiehoof Andri Olafsson (Ólafur Darri Ólafsson) leidrade uitpluis en sy egskeiding probeer verwerk, word die gehuggie van die buitewêreld afgesny deur ʼn sneeustorting. Kleindorpse intriges, politiekery en misleidings vertroebel die ondersoek. Daar is verskeie verdagtes onder die skeepslui en eksentrieke dorpenaars. Die karakters lyk en klink soos gewone mense, ongeslypte diamante sonder generiese glanslagies. Jy gee om vir hulle, jy verdink hulle. Die akteurs is deur die bank rou en eerlik. In elke episode word die raaisels weliger, met kinkels en cliffhangers wat die spanning opjaag. Die ontknoping stel nie teleur nie. Die bergagtige landskap en ysmere verdwerg alles, met die natuur as ʼn ekstra, stormagtige karakter wat menslike lotgevalle skik. In die die tweede, selfs meer opwindende seisoen, laat ʼn besonder slinkse reeksmoordenaar ʼn bloedspoor te midde van sosiale ontwrigting en verregse geweld. Relevante kwessies soos Afrika-immigrante (een is ʼn gay vlugteling), ekologiese uitbuiting en regeringskorrupsie kom smeltwarm uit die hoogoond. Alles word soomloos verweef – verwikkelinge voel onafwendbaar – en jy hou jou asem op. Produksiewaardes (fotografie, redigering, inkleding) is hoog en die ysingwekkende klankbaanmusiek van die begaafde Jóhann Jóhannsson verstewig die greep op jou verbeelding. Maar dis veral die onderbeklemtoonde charisma van die mollige, bebaarde Ólafur Darri Ólafsson wat jou noop om aan te hou kyk, ʼn ongewone empatiese held wat die morele kompas in die wildernis verskaf. ʼn Derde seisoen van dié uitmuntende Yslandse noir is reeds op pad. Engelse onderskrifte. SS     

Kidding

Showtime

As jou eie pa jou ʼn “doedelsak vol kranksinnigheid” noem ná ʼn loopbaan van meer as drie dekades as die VSA se gewildste kinderprogramster, moet jy twee keer dink. Maar Mr Pickles, oftewel Jeff Piccirillo (Jim Carrey) skop vas: “Nee, dít is eerlikheid.” Die skrywer Dave Holstein, vervaardiger van Weeds, het ʼn tragikomedie geskep waarin die dood die hoofkarakter is en in die skadu’s sluimer van Mr Pickles én die span wat hom in die kollig hou. Met die regisseur Michel Gondry (wat Carrey vir sy baanbrekersprent Eternal Sunshine of the Spotless Mind ʼn hoofrol gegee het) aan sy sy, lewer Carrey ʼn allerverruklike vertolking in Kidding, waaraan die Amerikaners maar bra traag gebyt het. Dis nie rubbergesig Carrey hierdie nie en die humor rinkink tussen absurde, surrealistiese en magies-realistiese momente en onthutsende lewenswyshede. Die skokdood van ʼn geliefde dompel Jeff in ʼn doolhof vol afbeeldings van homself. “I know who everyone else is, except who I am.” Sy suster (Catherine Keener) is die kinderreeks se poppemaker en skep die geliefde TV-karakters uit die “essensie” van wat sy in mense rondom haar sien, tog vind Jeff nie eens die waarheid in homself nie. Hy ontspoor in volkleur, op kamera, en sy arme pa, die Mr Pickles-reeksvervaardiger Seb (Frank Langella), moet oornag “nuwe Jeffs” vind. Intussen dans die dood en verlies met die lewendes en hap onophoudelik aan Jeff se hakskene. Gondry se visie en visuele waagmoed straal uit elke episode – selfs dié waarvan hy nie die regie behartig het nie. Die absurditeite sorg vir prettige kinkels wat aan Breaking Bad herinner, sonder die strakheid van die kultusreeks Six Feet Under. Kinders is die goue draad en Holstein mymer oor die las wat die bloedjies moet dra. Waarom moet kinders hul ouers se probleme systap en ʼn “beter lewe” ly as die volwassenes nie eens die kleinste aanslae van die lewe kan afweer nie? Jeff (as Mr Pickles) probeer mettertyd sy roukleed afskud deur sy kinderkykers met ʼn reënboog van gevoelens en ʼn ontboesemende eerlikheid aan te spreek. Sy reputasie en die hele Mr Pickles-koninkryk hang aan ʼn garedraadjie. Nes sy eie lewe. Kidding is ligjare verwyder van die geykte TV-komediereeks en ʼn verhaal wat sonder skroom die vinger op menige rou senuwee kom lê. Diegene wat wil smulkyk vir ontsnapping moet liefs verby hou. As die kyker verby Kidding se broeiende ongemak kan kom, is dit ʼn hoogs terapeutiese TV-reeks wat ʼn mens laat wonder hoeveel weergawes van jouself daar is en wanneer die ware jy die dag sy verskyning sal maak? Kobus Burger

Years and Years

BBC/HBO

Die toekoms is nou. Anders gestel: die toekoms lyk soos die hede. Wel byna, met hier en daar ʼn aardskuddende verstelling. Maar ons kan reeds die voortekens sien van wat sal of kan wees. Hou maar net die nuus dop.  In Years and Years, ʼn Britse minireeks van ses episodes, storm die toekoms op ’n middelklas gesin van Manchester af. Die familiesage begin in die herkenbare hede en volg karakters se wel en weë oor die jare en dekades na ʼn steeds herkenbare toekoms. Die vervaardigers loer in die kristalbal en verstout hulle om ʼn logiese draad te span tussen die tydsgewrigte. Sake in die nabye toekoms lyk allermins rooskleurig: vooruitgang op tegnologiese gebied word oordonder deur agteruitgang op politieke vlak. Natuurlik is dit volstoom post-Brexit met ʼn fascistiese aanslag; emigrante word gedeporteer en in verregse Europa vervolg. Stel jou die volgende aardigheid voor: Emma Thompson as sakevrou en charismatiese politikus Vivienne Rook (met ʼn blonde kuifkop) wat haar rassistiese en xenofobiese uitsprake geur met die f-woord. Sy noem haar party die ****-party oftewel the Four Star Party (die sterre verteenwoordig haar geliefde vloekwoord). Rook (let op die roofvoëlbenaming) is blatant ʼn kruising tussen Donald Trump, Boris Johnson en Marine Le Pen. Die immer formidabele Thompson maak ʼn maaltyd van sulke karikature, dis net jammer dié TV-dierasie is so eendimensioneel. Groot Suster seëvier in die een verkiesing na die ander en dompel Brittanje met haar regressiewe beleide in ʼn nuwe donker era, kompleet met Orwelliaanse propaganda en gepantserde polisiemag. Hieruit kan jy aflei die genre is satire, uit en gedaan! Plek vir subtiliteit in tema en dialoog is daar nie. Die familie word meegesleur en verskeur deur die politiekery. Die finansiële adviseur (Rory Kinnear) verloor ʼn fortuin tydens markskommelinge. Sy oudste dogter Bethany (Lydia West) verkies om in die digitale werklikheid te leef, een van die mees bisarre sub-intriges. Die sterkste storielyn volg die stryd van behuisingsamptenaar Daniel (Russell Tovey) om sy minnaar Viktor (Maxim Baldry), ‘n Oekrainse immigrant, uit die kloue van die owerhede te hou – met tragiese gevolge. Die reeks skop af met ʼn enorme knal – ‘n kernontploffing wat blykbaar die einde inlui. Tog is dit net die next normal, ʼn wêreld van wanorde en onsekerheid waar mense steeds hunker na liefde, vastigheid en beheer oor hul lotgevalle. Years and Years is nooit vervelig nie en selde voorspelbaar. Alles beweeg flink en elke denkbare morele kwessie word ingeryg – vals nuus, die oorname van fanatiese nasionalisme, gendervloeibare kinders, die ondergang van demokrasie, die kruipende invloed van kunsmatige intelligensie. Dit reën behoorlik kippe in die bos, en daar’s beslis iets om elke kyker op te stook of aanstoot te gee. Dit sou interessant wees om dié minireeks weer oor ʼn dekade te bekyk om te sien hoeveel van die voorspellings waar geword het. Troos jouself daaraan, die toekoms laat haar nie sommer voorskryf nie. Schalk Schoombie     

You

Netflix

Obsessie bied vrugbare grond vir karakterstudies en geil maatskaplike kommentaar. Dit is presies die tektoniese verskuiwings in die sosiale orde – veral hoe skerms en sosiale media deur toenemend gevorderde tegnologie ons lewens oorneem – wat elkeen van ons tot ʼn mate uitlewer aan die gevare van ʼn wêreld waar ʼn paar klieks iemand se verlede, finansiële status, vorige en huidige verhoudings en verwantskappe, assosiasies en belangstellings blootlê. Die internet maak dit moontlik om iemand se digitale voetstappe te volg, soveel so dat dit ʼn ope vraag is of totale privaatheid nog enigsins bestaan. Die afgelope dekade het dit duidelik gemaak presies hoe banaal en betekenisloos ʼn skynbaar groot deel van die samelewing se lewens is, met die skep en instandhou van illusies wat aktief nagejaag word. Is enigeen in staat om in die huidige klimaat van sosiale vervlakking en vervreemding, die groter afhanklikheid van tegnologie, ons mees outentieke self te wees, sonder om ooit voor te gee, by te las, of blatant te lieg? You, ʼn uiters vermaaklike, skerp reeks, wat diepgang tot ʼn mate verruil vir skokwaarde in die tweede helfte, is intelligent genoeg om tergende vrae te stel oor hoe ons tans lewe, en dit te verpak in ʼn melodrama oor die obsessiewe verhouding tussen die boekhandelaar Joe en die beeldskone digkuns-student, Beck. Waar You heelwat regmerkies verdien, is vernaam in die eerste helfte van die reeks waar daar gefokus word op die obsessiewe gedrag van Joe, soos hy Beck bemin, letterlik jag op haar maak (op sy manier, want dis mos ware liefde, onthou) en dit regkry om in ʼn verhouding met haar te wees. You beeld nie Joe bloot oppervlakkig as sosiopaat/psigopaat uit nie. Eerder word die kyker in sy skoene geplaas, en maak ons Joe se rasionale vir sy optrede mee, tesame met ʼn oortuigende blik op die instansies waar Beck ʼn dubbele lewe lei. Op verskeie vlakke gee sy voor, terwyl daar uit sy perspektief gekyk word na sy eie (welwillende) aksies. Dis geen toeval dat Beck se naam Guinevere is nie; Joe is ʼn ridder, maar waarlik ook ʼn perd van ʼn ander kleur. Kort voor lank moet Joe begin bontstaan soos die druk uit verskeie oorde toeneem. Wat het in sy verlede gebeur? Wat het gebeur met sy eks-meisie, wat hom in sy drome besoek? En waar trek ʼn mens die streep tussen gesonde belangstelling en gevaarlike obsessie? Die ontginning van grys areas is wat You die kyk werd maak, tesame met die indrukwekkende spel en meestal skerp dialoog. Ongelukkig word die tweede helfte gekenmerk deur ʼn steurende klemverskuiwing: van indringende, kritiese kommentaar op die idee van mense en hul aktiwiteite as handelsmerke, na ʼn soms dolle, letterlike gejaag na wind, namate Joe se greep op sy verhouding met Beck en sy eie geestesgesondheid in gedrang kom. Nietemin beloof die tweede reeks om ons verder in Joe se troebel verlede te verdiep. Jonatham Amid

Russian Doll

Netflix

Daar is iets aan eindes wat die mensdom eindeloos fassineer. Wat presies is ʼn einde? Wat behels dit? Hoe werk dit? Hoekom gebeur dit? Maak die (sterk) moontlikheid dat iets tot ʼn einde sal kom iets meer belowend, opwindend, betekenisvol, of intens? Hoe kan ons seker wees dat iets wel tot ʼn einde gekom het? Die dood, in amper elke opsig denkbaar, is die soort einde wat meeste van ons slapelose nagte gee, of nog sal gee. Die slapende hond wat eendag vir ons elkeen wakker gemaak sal word; die kanse skraal dat ons sal weet op watter dag. Hoe sal ons reageer op hierdie fenomeen, wat per abuis ʼn einde aan ons bewussyn van ons ondermaanse tyd maak? Russian Doll is ʼn reeks van agt kort episodes wat jy in ʼn agtermiddag of aand kan kyk, mits jy die stamina het vir ʼn reeks wat aanvanklik min toegewings maak in terme van sy protagonis, Nadia. Ons opvattings oor tyd, en wat werklik saak maak, word uitgedaag. Sekerhede word onthoof. Nie almal op Nadia se pad wil haar help nie, en nie almal hou van haar nie. Sy is egosentries, kortsigtig en stoot mense weg, want dis makliker om so te funksioneer. Tot ʼn punt. Op die aand van haar 36ste verjaarsdag kom haar lewe tot ʼn uiters onverwagse einde. Die kinkel in haar kabel? Nadia gaan in (amper) elk van die reeks se episodes dood, op verskillende en soms hoogs amusante, kreatiewe wyses. Sy vind haarself telkemale weer in die badkamer by dieselfde partytjie waar sy die aand van haar (eerste) dood was. Vergesog? Absoluut? Kom die verhaal mooi uit die verf? Beslis. Surrealisties, vlymskerp, fassinerend om verskeie redes en nooit herhalend nie – ten spyte van die gegewens wat op ʼn tipe loop berus – is Russian Doll ʼn aweregse, pynlik humoristiese reeks, met groeiende deernis vir die hoofkarakter, en ʼn wêreldwyse tragikomiese refrein van medemenslikheid wat soos mos op jou kom groei. Nadia, wonderlik gespeel deur Natasha Lyonne, beleef die tipe eksistensiële krisis in stereo. Soos sy telkemale terugkeer van die dood om oor haar lewe en haar lewenskeuses te besin, kom die obsessief-kompulsiewe Alan oor haar pad. Nes Nadia is Alan ook besig om ʼn ietwat ongewone lewenstrajek te beleef; moet hy eie destruktiewe impulsiewe konfronteer, en sin maak van ʼn bestaan wat berus op die ontkenning van dele van homself. Karakters wat tot verhaal kom, rekenskap van hul verledes moet gee en uiteindelik vrede of verlossing van hul interne konflik ervaar mag soms cliché-agtig voordoen, maar Russian Doll eksperimenteer op visuele en narratiewe vlakke. Soms oorrompelend mooi, soms strak en skokkend, met die kentekens van kunstenaarskap en vernuwing, vernaam deur die wyses waarop voorgestelde idees telkens ondermyn en ironiseer word. Skilpoppe word ʼn gepaste metafoor vir die voortdurende stryd om die beste weergawes van onsself te wees, saam met, eerder as in stryd, met ander. JA

Barry

HBO

Daar is sommige akteurs wat daarvan droom om ʼn sluipskutter te speel. Barry is ʼn afgetrede weermagsluipskutter wat graag ʼn akteur wil wees. Dis sy passie en erns. Dié guitige omkering sorg nie net vir heelwat bloedsport nie, dit lei ook tot talle sielkundige kinkels en volop galgehumor in dié aweregse komediereeks, die breinkind van Alec Berg en komediant Bill Hader (wat die titelrol vertolk). Veral akteurs sal die milieu van selfbehepte Method-toneelspel geniet, terwyl gewone kykers heelwat onheilige pret uit die storie sal put – juis met die voorkennis van die anti-held se verskuilde vaardighede. Klugtige situasies spruit voortdurend uit die byna-ontmaskering van Barry, terwyl die dodetal ooreenkomstig styg. Twee uiters bedenklike mentors stry om Barrie se siel: Monroe Fuchs (Stephan Root as ʼn opperste vabont), ‘n familievriend wat Barry in die onderwêreld inlyf, en Gene Cousineau (Henry Winkler) as ʼn vitterige toneel-afrigter. Grapjas Bill Hader, ʼn nabootser van formaat op Saturday Live (SNL), skep hier ʼn skreeusnaakse personasie van ʼn verwilderde oorlogveteraan wat ontdek hy kan sy onverwerkte trauma in legitieme uitbarstings voor ʼn gehoor (of kamera) kanaliseer. Ondanks sy lompheid en onkunde verstom hy sy klasmaats met die intensiteit van sy “spel”. Die lagwekkendste van verskeie koddige newekarakters is NoHo Hank (Anthony Carrigan), die kaalkop-leier van die Tjeggiese mafia met ʼn humoristiese en positiewe uitkyk en ʼn voorliefde vir die Kaliforniese leefstyl. Barry is ʼn hoofkarakter wat jou voortdurend verras, beslis nie jou alledaagse reeksmoordenaar nie; om die beurt weerloos en broos, emosioneel of gevoelloos, kinderlik onskuldig én dodelik gevaarlik, impulsief, romanties, doelgerig en immer aanpasbaar. In twee seisoene leer jy vele kante van hom ken en begin selfs dink jy weet waartoe hy in staat is … Daar word subtiel die draak gesteek met die draadwerk van Hollywood en die Amerikaanse glansdroom, die ewige kringloop van pretensieuse meesterklasse en afbrekende oudisies, die dromers en kansvatters, die aartsgierige agente en opgeblase vervaardigers, al die wannabes en players wat so bitter skerp deur Robert Altman in sy satiriese fliek The Player (1992) aan die kaak gestel is. Verdere pluspunte is die kortformaat van ʼn halfuur of minder, en die geslypte tekste, elk met ʼn uitklophou van ʼn cliffhanger wat jou lus maak vir méér. G’n wonder Barry word met toekennings oorlaai nie. SS

Too old to die young

Amazon Studios

Was TV-reekse al ooit so gereeld so opwindend, so broeiend en donker, so bereid om risiko’s te neem? Dink aan The Handmaid’s Tale, Catch-22, American Gods, The Following, American Horror Story, Sharp Objects en Twin Peaks: the return. David Lynch se terugkeer na Twin Peaks na meer as twee dekades, na ʼn reeks en karakters wat in vele opsigte televisie vir altyd verander het, is dalk die naaste aan ʼn bondgenoot vir die Deense regisseur Nicolas Winding Refn se nuwe reeks, Too old to die young. Die wat Winding Refn ken, val hoofsaaklik in twee kampe: die wat Drive gekyk – en weer gekyk het – maar niks anders gesien het nie, en die soos ek, wat bereid is om hierdie auteur se visie en unieke styl te omarm. Soos David Lynch, auteur extraordinaire, is Winding Refn ʼn polariserende figuur, ʼn love him or hate him tipe filmmaker wat bitter min toegewings maak vir sy gehore. Hoe minder jy weet van die plot van Too old to die young, hoe beter. Hoewel daar speurders, dwelmbase, low lifes, allerhande vrot velle en misdadigers is – van die mees afskuwelike karakters wat die afgelope dekade in enige reeks doenig was – gaan dit hier veel minder oor die wat, en veel meer oor die hoe. Hoe word ontnugterdes, sielsiekes, moorddadiges, swernote en skeppende siele byeengebring in ʼn reeks wat die regisseur self beskryf as ʼn fliek van dertien uur? Daar is tien episodes, meeste meer as ʼn uur lank, en ek wil my verstout om te sê dat daar ʼn magiese, kinetiese energie en noodwendigheid aan die verhaal is wat gereeld verstom. Cormac Mccarthy se Blood Meridian, No Country for Old Men en The Counselor, en Winding Refn se eie Drive, Only God Forgives en The Neon Demon, eggo elk in hierdie neo-noir. As jy sukkel om aanklank te vind by ʼn pessimistiese wêreldbeskouing wat die mens as spesie weeg en heeltemal te lig bevind, bly liewer ver weg. Soos Twin Peaks: the return is Too old to die young asembenewend mooi verfilm, met hiper-surrealistiese beelde, lang, stadige tonele, vele slo-mo shots, ʼn klankbaan wat wissel tussen krapperige, kriewelrige agtergrond, Cliff Martinez se hipnotiese elektroniese mood music, en beeldskone opera, ʼn vertelling wat doelbewus moeisaam en uitdagend is, en karakters wat nie sommer maklik as bloot goed of totaal boos geklassifiseer kan word nie. Ellipties is dalk ʼn goeie beskrywing… Nes met Lynch is die klem op uiters beeldryke, donker sensuele, met tye uitmergelend brutale besinnings oor ʼn wêreld waar primordiale waarhede oor die mens se geneigdheid tot geweld, magsug, hebsug en spirituele vervreemding en isolasie hoogty vier. Refn span kragte saam met die legendariese strokiesprentkunstenaar en skrywer Ed Brubaker vir ʼn verhaal waar begin en einde, skuld en boetedoening, onskuld en onsedelikheid uiteindelik amper onmoontlik onderskeibaar is. Vergeet van grys areas: hier het ons te make met Grand Guignol, en met die taal van bloed. Wat ʼn alfabet, wat ʼn reeks. Jonathan Amid

Chernobyl

HBO/Sky UK

Met ʼn falanks reekse oor vampiere, zombies, monsters, spoke en demone in omloop, wonder jy of die gruwelgenre nog kan skrikmaak en skok, en of radikale afstomping en verveling nie alle TV-bingers se voorland is nie. Hoe boender jy ʼn oorversadigde rusbankslaaf uit sy gemaksone? Eenvoudig: kyk die superskokkende, hipergrillerige Britse minireeks Chernobyl. Niks soos die werklikheid om onwerklikhede op te blaas nie. Die sleutelwoord is “opblaas” – dis waarmee die titel sinoniem geword het; ʼn kernreaktorramp. Die nagmerrie-scenario wat op April 1986 in die Oekraïne plaasgevind het, stuur steeds skokgolwe om die aardbol en dien as dringende waarskuwing van wat weer kan gebeur. Ja, dis ʼn geskiedkundige dokkie wat die ramp en karakters fiksionaliseer en kondenseer, terwyl die gegewe van wat kort voor, gedurende en ná die ongeluk met ʼn gemeenskap en die omgewing gebeur het, berus op sulke afgryslike feite en so skrikwekkend uitgebeeld word dat dit as gruwelreeks kan kwalifiseer. Die zombies is hier die gedoemde eerste mense op die toneel, brandweermanne en reaktorwerkers wat letterlik én lewendig deur die radioaktiewe uitskot ‘gebraai’ word; hulle smelt tot onherkenbare wesens van slymerige rooivleis. Die impak van bestraling op die mens – ironies weens sy eie ingrypende manipulasie van natuurlike elemente, is onbeskryflik grusaam (body horror). Die ongelukstoneel is so gevaarlik dat weermaghelikopters wat dit te naby waag, neerstort. Die onbeholpenheid, onkunde en onverskilligheid van die Sowjet-owerhede om die uitdyende krisis hok te slaan en die inwoners van omringende buurte te ontruim, laat die kyker wriemel van woede en magteloosheid – op sigself ʼn plofbare evokasie en aanklag van hoe kommunistiese rompslomp tot die grudood van duisende landsburgers gelei het. Sekere episodes is moeilik om enduit te kyk; die Moskouse hospitaal waar slagoffers van bestraling in geheimhouding en ekstreme lyding die gees gee; die span verdelgers wat deur verlate woongebiede moet kam om agtergeblewe troeteldiere van kant te maak. Die palet is grys, die stemming loodswaar. Die klankbaan kraak met radioaktiewe dood. Daar is hoegenaamd niks om oor te glimlag nie – so lyk die einde van die wêreld. Tog is dit nie ʼn sensasionele uitbeelding nie. Regisseur Johan Renck laat die spanning nooit skiet gee nie, die feite word toeganklik oorgedra, en drie hoofspelers lewer uithalerspel: Jared Harris as die hooggeplaaste wetenskaplike Valery Legasov. wat die leiding moet neem met die opruiming, Stellan Skarsgard as die konserwatiewe minister Boris Skcherbina, en Emily Watson as kernfisikus Ulana Khomyuk. Valery en Ulana verteenwoordig die sosiale gewete in ʼn kil, gewetenlose verhaal, terwyl Boris geleidelik sy amptelike oogklappe afskud en bykom. Al verg dit durf en konsentrasie om deur elke aflewering te sit, is hierdie moet-sien-kykstof wat onder die allerbeste TV-drama van die jaar tel. SS

Skuif reg vir dié nuwe reekse:

Our Boys

Mindhunter 2

Catherine the Great

Snowpiercer

Years and Years

Big Little Lies 2

High Seas

Fosse/Verdon

Chernobyl

My Brilliant Friend

Catch-22

Warrior