The House That Jack Built

Europese koproduksie

In die strak, misantropiese wêreld wat Lars von Trier uitbeeld, is die karakters meestal uitbuiters of slagoffers. Selde kan hulle beskryf word as hartlik, innemend, warm of simpatiek. Alte dikwels is hulle mense wat mense wantrou of verpes. Hulle kyk op sake is nydig, klinies, sinies en sarkasties, en konvensies is daar om verbrysel te word. Von Trier is berug om sy polities nie-korrekte aanslag op Hollywood-resepmatigheid en familiewaardes. In The House That Jack Built voer hy dit ʼn voorspelbare stappie verder, na jagter en prooi in die konteks van die moderne beheptheid met reeksmoordenaars. In die figuur van Jack (met grusame genot vertolk deur Matt Dillon), ʼn maniak bekend as Mr Sophistication wat bieg hy het al 60 mense vermoor, kan die enfant terrible van Europese flieks homself breed en bloedig uitleef. Tydens die bekendstelling van The House That Jack Built op die Cannes rolprentfees verlede jaar het fliekgangers uit die teater gestorm – iets wat Von Trier min skeel en selfs verwelkom. Al sy ‘kunsprente’ word immers ontwerp om te skok en aanstoot te gee – altyd in die oortreffende trap – en in dié opsig is die Grindhouse-genre sy ideale speelgrond. Jack is ʼn ingenieur wat sy droomhuis op die platteland probeer bou. Maar sy eintlike tydverdryf is om mense te jag en slag, kreatief van die gras af te maak. Die profiel van sy slagoffers wissel van rylopers (Uma Thurman as ‘n bedorwe ryk vrou), enkelma’s en hul jong kinders, beroepsvroue tot kluisenaars en eintlik iedereen wat sy pad van verwoesting kruis. Die moorde kan impulsief en improvisatories wees, of fyn beplan. Hy hou daarvan om met hulle te speel, soos ʼn kat met ʼn muis, en om hulle te spot in hul oomblikke van doodangs. Oor 12 jaar gaar hy die lyke in ʼn vrieskas op,  ʼn afgryslike spektakel. Van Jack se mal projekte, soos om vyf mense met ʼn enkele koeël af te maai, herinner aan die sadistiese speletjies wat in die Saw-reeks as vermaak opgedis is. Tussendeur is daar insetsels oor die Amerikaanse pianis Glen Gould, en kwasifilosofiese praatjies tussen Jack en Verge (die Duitse veteraan-akteur Bruno Ganz, onlangs oorlede), wat jou laat wonder of dit ʼn terapiesessie kan wees. Maar nee, dis gewigtiger: Verge sinspeel op Virgil in Dante se Inferno, wat Jack deur die hel moet begelei na sy lotsbestemming. Toemaar, jy sal dit dadelik snap, want Von Trier beeld die hel ten slotte letterlik uit, nie bloot as nagmerrie nie. Die skrywer-regisseur het sy projek by geleentheid opgesom as “ʼn viering van die idee dat die lewe boos en sielloos is”. Die skanse tussen kuns en eksploitasie word lustig weggekalwe.  Jy hoef nie geniaal te wees om dié konstruksie van hoogdrawende snert en geweldsporno te herken nie. Die huis wat Von Trier bou is van toiletpapier. Een vroteiertjie. Schalk Schoombie

 

Free Solo

National Geographic

As jy aan hoogtevrees ly en flou geval het by aanskoue van The Walk, gaan jy verbete aan jou sitplek klou tydens Free Solo. Jy gaan vloek van skok en ongeloof. Want die ekstreme sport wat rotsklimmer Alex Honnold beoefen is pure malligheid. Selfs sy geharde kollegas en boesemvriende dink so, en sy meisie maak haar uit die voete wanneer hy die steil wande nader. Die kameraman kyk onwillekeurig weg en die regisseur Jimmy Chin hou sy asem op, want dis letterlik doodsake. Dié uitmuntende dokumentêre rolprent volg Honnold se voorbereiding en repetisies met toue en uiteindelik sy aanslag op El Capitan in Junie 2017. ʼn Vangnet is daar nie. Hy gebruik net sy vingerpunte, wat hy in gleufies inwurm of waarmee hy aan die dunste lysies hang, spesiale klimstewels, ʼn uitstekende sin vir balans en deursettingsvermoë om soos ʼn wafferse Spider-Man of akkedis uit te kruip teen ʼn bergwand wat herinner aan ʼn gladde fortmuur. Sou ʼn lysie verkrummel, moet hy sekuur aanbeweeg of dis neusie verby. Sy klimroete is vooraf noukeurig gekaart en hy het dit herhaaldelik met toue aangedurf , en soms losgekom en geval! Dié skynbaar onmoontlike ekspedisie word van alle kante bespied deur sensitiewe kameras, selfs vanuit hommeltuig en helikopter. Die soort fokus wat nodig is vir so ʼn dodelike ekskursie – vele voorgangers wat free solo het hulle te pletter geval – grens aan outisme. Breinskandering toon dat Honnold se brein anders as die meeste avonturiers s’n funksioneer. Dit maak hom vreesloos en onverskrokke, ʼn superheld met ʼn obsessiewe kompulsie. Sy geliefdes moet gewoon aanvaar hulle gaan altyd tweede kom, want waar ʼn onbestygbare hoogte opdoem, gaan hy dit wil bestyg. Die tenger en rateltaai Honnold se ganse bestaan en daaglikse roetine is toegespits daarop om homself gesond, fiks en geestelik paraat te maak vir die Groot Klim. Sy dieet is streng vegetaries (wat hy self voorberei), en hy hou nooit op met oefen, strek en hang aan stellasies nie – om so sy spiere veerkragtig te hou. Free Solo het vanjaar die Oscar vir die beste vollengte dokkie gekry. Dis die soort fliek wat jou stom verbaas laat, dankbaar jy staan vas op Moeder Aarde. Jy wil wegkyk maar jy kan nie. En jy kan jouself nie troos met “dis net ʼn fliek” nie. Honnold is die eerste man op aarde wat El Capitan met net sy hande en voete en onblusbare wil bemeester het. Ná die tyd het hy kortliks gejubel en ontspan, sy meisie gebel, en toe weer aan sy stellasie gaan hang. SS

 

At Eternity’s Gate

CBS Films/Netflix

Die blywende invloed van die Nederlandse skilder Vincent van Gogh word deurlopend herwaardeer deur kurators en filmmakers as  ʼn waterskeiding in moderne kuns. Nege flieks is oor dié hoogs begaafde, sensitiewe en moontlik versteurde kunstenaar se lewe, kuns en verhoudings gemaak. Die bekendste hiervan is Lust for Life (1956), gebaseer op ʼn roman deur Irving Stone en met Kirk Douglas as Van Gogh. Verlede jaar is Loving Vincent, ʼn vollengte animasieprent in die styl van Van Gogh se impressionistiese skilderye, vir ʼn Oscar as beste animasiefliek benoem. Vanjaar is die Amerikaner Willem Dafoe as ʼn brose Vincent vir ʼn Oscar as beste akteur benoem in At Eternity’s Gate, skilder-regisseur Julian Schnabel se ontstemmende biografliek. Dit is deels gebaseer op die omstrede teorie van Van Gogh-biografiste Steven Naifeh en Gregory White Smith wat bespiegel dat Van Gogh se dood deur ʼn daad van kwattekwaad eerder as selfdood veroorsaak is. Daar word indringend gefokus op Van Gogh se  vlambare vriendskap met Paul Gauguin (Oscar Isaac), destyds ʼn meer suksesvolle kunstenaar wat ʼn onderskragende sowel as kritiese rol in sy vriend se lewe gespeel het. Gauguin se besluit om hom te verlaat word voorgestel as ʼn traumatiese insident en moontlike dryfveer wat Van Gogh ʼn onherstelbare sielkundige knou toegedien het. Die insident van die afgesnyde oor bly ʼn raaisel wat in onderhoude met ʼn priester (Mats Mikkelson) opgehaal word. Vincent se antwoorde is kripties, poëties, oop vir vertolking. So wonder hy of sy kuns, wat die plattelanders toe as “lelik” verwerp het, eksklusief bedoel kon wees vir die mense van môre,  ʼn toekomsgeslag. Dus, vir ons. In tonele waar hy in die natuur skilder en hom oorgee aan lig en skoonheid, bied Schnabel sy eie impressionistiese weergawe van hoe Vincent die wêreld ervaar en takseer het; die totale aanslag op sy sintuie wat hom oorstelp en begoël het word in swaaiende kamerabewegings, ekstreme nabyskote en gekantelde kamerahoeke (Dutch tilts) verpak: goudgeel, oorbeligte landskappe wat soms uit fokus skuif, die welbekende knoetsige boomtakke, bloeisels, sonneblomme, kraaie en natuurlik die vlammende sterrehemel. Die ewigheidswaarde van ʼn geniale talent wat die kunstenaar blykbaar laat uitbrand het, kom by tye ontsettend onder die loep. Dit is dieselfde welige visuele palet wat Schnabel destyds met Basquiat (1996), sy biografliek oor die New Yorkse abstrakte kunstenaar, losgelaat het. At Eternity’s Gate kan ʼn onrustige kykervaring meebring, maar oplaas ook ʼn lonende een wat jou laat terughaas na die veelgeroemde kunswerke. SS 

First Man

Universal/Dreamworks

Wat ʼn kurkdroë geskiedenisles in dokkie-formaat kon wees, word dramaties herontwerp as ʼn klassieke heldeverhaal: ʼn man wat die onmoontlike aandurf en, ondanks vrese, vele terugslae en struikelblokke, heel bo uitkom. Bo synde die maan. First Man, wat handel oor Neil Armstrong, die eerste aardbewoner wat voet op die maan gesit het, was by uitreiking dié Oscar-voorloper om dop te hou. Dit is uiteindelik met een goue beeldjie beloon, vir beste spesiale effekte – nie verbasend nie, want die belewenisse van dié historiese ekspedisie is skouspelagtig en laat jou hart by tye in jou keel klop, veral wanneer ʼn vuurpylrit stamperig skeefloop. Ander aspekte van die fliek is ewe spesiaal: die vindingryke regie van Damien Chazelle (Whiplash, La La Land) en die draaiboek deur Josh Singer herroep die verwoede ruimtewedloop tussen die VSA en Rusland uiters getrou, die flikkerende nuusbeelde wat die tydperk helder laat opdoem; die naarword-oefenlopies en onmenslike taai opleiding; die probeerslae wat lewens geëis het; die bedenkinge en isolasie van die ruimtemanne se vroue. Ryan Gosling as die inkennige patriot wat sy selfbeheersing behou in krisistye terwyl sy kamerade hul bewussyn verloor, wys van watter allooi hy gemaak is. Dapper in daad, maar wanneer hy sy kinders moet inlig dat hy dalk nie weer huis toe kom nie, raak hy bot. Claire Foy (The Crown) styg uit as die gade met senuwees van staal; sy is welverdiend benoem vir ʼn Oscar as beste ondersteunende aktrise. Tradisioneel is dit die soort afskeeprol wat weinig meer as beklemming/trane/verwyt van ʼn speler vereis, maar Foy blaas sprankelende lewe in die stereotipe. Die verloop balanseer die dokumentêre en die persoonlike meestal goed, en soms kry die fliekganger ʼn magiese glimp van wat die maanlanders op ʼn gegewe oomblik moes beleef en sien het, soos die aardbol in sy groen glorie. Samesmeringsentoesiaste sou kon aanvoer die eerste maanlanding is destyds presies net so outentiek in ʼn rolprentateljee nageboots. SS

Kyk uit vir hierdie nuwe flieks:

Joker

Grey Gardens

Shadow

Rocketman

The Wife

Sony Pictures

ʼn Titel wat min verklap, kan gedy in die verbeelding. The Wife, gegrond op ʼn feministiese roman deur Meg Wolitzer, is ʼn genuanseerde moderne drama oor die ondergeskikte rol wat vroue al vir millennia in die lewens van hul mans en gesinne inneem. (Dié is allermins  ʼn Aspoesterstorie.) Die immer veelsydige Glenn Close vind een van haar rykste rolle in Joan, gade en steunpilaar van  ʼn Amerikaanse skrywer, Joseph Castleman (Jonathan Pryce). Hy word bekroon met die Nobelprys vir Letterkunde, ʼn omwenteling wat haar met gemengde gevoelens laat. Joan en hul volwasse seun David vergesel Joseph na die oorhandigingseremonie in Stockholm, waar Joan die stille getuie word van sy ‘sukses’ – hy word gevier vir sy bydrae tot wêreldlektuur en geniet die aandag van ʼn verleidelike bewondereaar. Nathanial Bone (Christian Slater),  ʼn biografieskrywer met ʼn neus vir skandaal, probeer haar geheim uitsnuffel. In terugflitse word onder meer onthul hoe die uitgewerswese, wat tradisioneel deur mans oorheers is, Joan se skryftalent onderdruk en in  ʼn verrassende rigting gestuur het. Die wonder van Close se spel is selfbeheersing; hare is allermins  ʼn vertonerige portret. Oor dekades heen het Joan geleer om alles te internaliseer, weg te keer, toevlug in ironie te vind, meestal om terug te staan en  ʼn troebel see van emosies agter  ʼn enigmatiese glimlag weg te steek. Tog is sy onwrikbaar en onleesbaar, ‘n raaiselagtige teenwoordigheid. Daar is krakies in die fassade en die damwal dreig om te breek. Close vorm die emosionele ruggraat van The Wife en anker elke gelade toneel  Die ou gesegte geld: Agter elke manSS

 

Die Seemeeu

Ster-Kinekor

Die Rus Anton Pavlowitsj Tsjechof (1860-1804), aanvanklik opgelei as mediese dokter, het maar kort gepraktiseer. Desnieteenstaande sy lewe van slegs 44 somers, het hy verrassenderwys legendariese bekendheid vir sy kortverhale en verhoogwerke verwerf. Hooftemas in sy prosa was vervreemding tussen mense wat verby mekaar leef – iets wat vir óns in ‘n nuwe millennium niks vreemd is nie. Genrebepalend van sy prosa en dramas is die evokatiewe krag daarvan en ‘n groot mate van afstand en ingetoënheid in die verhaaltrant – ‘n beknoptheid wat die leser aanspoor tot mede-kreatiwiteit. ‘n Ondefinieerbare element is die tipies Tsjechoviaanse sfeerskepping in die meeste van sy verhale en dramas, ‘n mengsel van weemoed en soms bisarre trekke. Op sy sterfbed het hy gesê, “ek het lanklaas sjampanje gedrink”; enkele dae later is sy kis vervoer in ‘n waentjie met die woorde “Vars oesters”. Die dramaturg was oortuig dat sy verhoogstukke hul aantrekkingskrag so lank as sewe jaar sou behou. Hy sou nooit kon dink dat sy vier beroemdste stukke soveel universele belangstelling sou uitlok en as tydloos bestempel word nie. Grondliggend tot al vier is verskeie liefdesverhoudings wat groot vryheid vir die akteurs en regisseur laat. Sodoende kon sy dramas met veranderende en nuwe insigte herinterpreteer word. Die krag van Tsjechof lê daarin dat die interaksie tussen die karakters baie dubbelsinnig kan wees. Soos in die lewe self, kan enigiets op enige gegewe oomblik gebeur.

Christiaan Olwagen is die regisseur en saam met Saartjie Botha die mede-draaiboekskrywer van Die Seemeeu, waarmee hy met ‘n verhoogproduksie tydens Aardklop 2014 gedebuteer het. Olwagen was strategies knap en dalk ook gelukkig om op dieselfde rolverdeling te kon terugval vir sy pas uitgereikte rolprentweergawe – die tweede een in Afrikaans ná Stephan Bouwer se TV-produksie in 1986, met Sandra Prinsloo wat reeds destyds te sien was as Irina Arkadina – onlangs as Irene in die teaterproduksie en nou in Olwagen se rolprent. Die ander akteurs in die rolverdeling is Albert Pretorius (Konstant), Alyzzander Fourie (Boors), Rolanda Marais (Nina), Marius Weyers (Piet), Gerben Kamper (dr. Eugene), Cintaine Schutte (Masha), Deon Lotz (Elias), Martelize Kolver (Paulina) en Geon Nel (Simon). Binne ‘n Suid-Afrikaanse ambiance in die mid-1990s, met die reënboognasie as ‘n kwasi-vertroostende hersenskim, is hierdie besoek van familielede en hul aanhangsels aan ‘n stuk geboortegrond (vir die meeste van hulle) ‘n tydbommetjie wat tik. Olwagen en sy akteurs slaag van meet af aan om dié onderliggende spanning en onrustigheid te suggereer. Dit is asof Tsjechof sélf in ‘n nuwe tydsbestek instap om die verhoudinge tussen dié tien karakters as synde outentiek en veral in menslike feilbaarheid uit te beeld. Elke vorm van teatrale ekshibisionisme – van die uitstorting van oordrewe geluksaligheid of ‘n melodramatiese vloermoer oor onoorkomelike wroegings – word met ewewigtige oortuigingskrag oorgedra. Dié rolprent is ‘n akteursparadys met ‘n sterbelaaide rolverdeling wat nooit in kunsmatige truuks verval nie, maar ook visueel op tegniese vlak skittterend en atmosfeerryk afgerond is, terwyl die musiekkeuses knap en soms op ‘n uitdagende wyse die ervaring as geheel verhoog. Paul Boekkooi