Landskappe as heerlike spieëls van onthou

deur Johan Myburg

Die landskap (as geskilderde voorwerp), sê Simon Schama in sy boek Landscape and Memory (1995) is ʼn kulturele konstruk, ʼn spieël van kodes vir ons herinneringe en mites wat ontsyfer moet word. ʼn Stuk grond met bome en wat nog daarop en die lug daarbo kan derhalwe op talle maniere voorgestel en uitgebeeld word. Dít sal afhang van die herinneringe en die mites. Maar meer nog, ook van die kodes wat gebruik word; kodes waaroor daar binne kultuur (weer met heelwat variante) ooreengekom word. Kodes soos byvoorbeeld realisme, of abstraksie.

Om kultureel ooreen te kom oor realisme (die landskap lyk soos die stuk grond) is dalk eenvoudiger as abstraksie as ʼn kulturele konstruk. Maar as ek Schama reg verstaan gaan alle landskappe eintlik oor wat ons wíl sien as wat ons wél sien. “We don’t see things as they are, we see them as we are,” het Anaïs Nin gesê.

So het Olaf Bisschoff, Johannesburgse skilder wat jare lank al landskappe, spesifiek lug en wolke, in sy kuns verreken, in sy Terra incognita, ʼn 2008-uitstalling, veel meer as weergawes van stukke grond eerder ʼn uitbeelding van verlies aan die onbekende vergestalt; ʼn verlies aan ʼn tyd toe alles nie bekend en so uitgepluis was nie. Toe die “terra” wat “incognita” was, nog deur monsters bewoon was.

Onlangs, tydens en ná ʼn verblyf in Swede, het geometriese vorme en ontwerpe bo-oor en in sy landskappe hulle opwagting gemaak – moontlik as ʼn kopknik in die rigting van Skandinawiese niefiguratiewe abstraksie en die Russiese Avant garde- en Suprematisme-beweging. Moontlik as ʼn manier van hulde aan die Modernisme van die vorige eeu wat deesdae nuwe belangstelling prikkel in ontwerp sowel as kuns.

Nou vertoon Bisschoff in die Dawid Ras-galery klein skilderye met ontwerpe op pikswart agtergronde, agtergronde wat netsowel pikdonker landskappe kan wees. Die landskap is tog daar wanneer daar beurtkrag is, jy kan dit net nie sien nie? Meer nog por hy in die rigting van besit. Kan jy grond besit wat jy nie kan sien nie?

Dink maar aan Thomas Gainsborough se befaamde Mr and Mrs Andrews (1748-49), die portret van die egpaar waarin die landskap in die agtergrond ʼn lewensgrootte portret van besit word – iets van alles dié is myne!

En so onderstreep Bisschoff die “memory”-deel in Schama se boektitel. Landskap loop ook saam met geheue of heugenis of verbeelde onthou. Hoe ʼn mens dit ook al wil stel.

Dít doen Bisschoff boonop in die heuglikste kodes, die heerlikste abstraksies wat herinneringe van die middel van die vorige eeu aktiveer – die 1950’s wat tegelyk jare van vrede én eindelose vergissing was.

Die laaste sin behoort aan Jean Dubuffet (1901-1985): “There is no such thing as abstract art, or else all art is abstract, which amounts to the same thing. Abstract art no more exists than does curved art yellow art or green art.”

  • The Shape of Things to Come, met skilderye deur Olaf Bisschoff en klein beeldhouwerke deur Renier le Roux is tot einde Mei te sien in die Dawid Ras-galery by Silvelaweg 18, Sandown Estate, Johannesburg. Bel Dawid by 082 492 9777 vir ʼn afspraak.

Die bootjie kan nie vaar nie

deur Johan Myburg

Die nag van 18 April 2015 het ʼn vissersboot van sowat 30 m tussen die kus van Libië en dié van die Italiaanse eiland Lampedusa gesink. Daar was net 28 oorlewendes. Die res van die tussen 700 en 1 100 vlugtelinge aan boord (betroubare bronne praat van 800) het, vasgekeer in die vragruim, verdrink toe die vaartuig omgeslaan het.

Die einste boot, wat teen miljoene vlot gemaak is ná die tragedie, pryk nou in Venesië se Arsenale as ʼn installasie, Barca nostra (Ons boot), ʼn projek van die Switsers-Yslandse kunstenaar Christoph Büchel. Dié boot is nou die stil getuienis van Europa se onverskilligheid jeens duisende vlugtelinge.

Büchel het nog geen onderhoud toegestaan nie, hoewel sy medewerker, die kurator Maria Chiara di Trapani, gesê het: “Ons lewe in ʼn tragiese oomblik sonder geheue. Ons kyk na die nuus en dit lyk so ver verwyderd. Iemand is dood in die see, en dan skakel ons oor na ʼn ander kanaal.”

Die aanwesigheid van die boot mag besoekers aan die Venesiese Biënnale dalk anders oor die voorval laat dink, het sy bygevoeg. “Ek hoop mense sal respek toon en in stilte daarna kyk.”

Dié deel begryp ek. Die goeie bedoeling.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Die hele vlugtelingsaak is netelig om die minste te sê. En verg omsigtigheid. Boonop was daar rondom die herwinning van die vaartuig ʼn hele boel wollerigheid.

Hoewel kuns ʼn katalisator is om mense aan die dink te kry en uit hulle roes te skok (iets waarmee niemand fout vind nie), voel ek ongemaklik met dié barca, asof dit, selfs binne die konteks van die Biënnale, kwalik meer word as nóg ʼn brokkie artistieke kommentaar. Daar is reeds na dié werk van Büchel verwys as “ʼn viering van die nostalgie van tragedie”.

Stroperige emosie as spektakel ondergrawe immer die erns van sake.

Dié paradering van tragedie herinner aan die Chinese kunstenaar Ai Wei Wei se selfportret wat hy vier maande ná die dood van Alan Kurdi op die strand van Bodrum gemaak het vir die Indiese kunsskou in Dehli. Ai het in dieselfde posisie gaan lê, wang teen die klippers, as dié waarin die driejarige se lyk uitgespoel het.

Weer eens – en ek twyfel nie vir een oomblik dat Ai die saak van Siriese vlugtelinge goedgesind is nie – die opportunisme en sensasie lê besonder vlak. Soos die geval met Barca nostra.

Lees ʼn mens Büchel se werk binne die konteks van die uitstalling waarvan dit deel is, met die titel “May You Live In Interesting Times”, dra die werk nie by tot die problematiek van vlugtelinge (of watter kwessie ook al) nie, maar word die werk self problematies.

Dié is ʼn bootjie wat besoekers gaan lok, wat lieflike selfie-oomblikke gaan bied. Maar dit is een wat nié vaar nie.

Lym, ink, verf: Tussen vorm en vormloosheid

deur Johan Myburg

In die 1990’s het Penny Siopis met koue lym begin eksperimenteer. Dié dik, wit vloeistof het sy ruimskoots op groot gespande doeke op die vloer uitgegooi. Dié werkwyse en die skilderye wat sy later voortgebring het, het sy by geleentheid beskryf as “ʼn fluïede affêre”. Die lym het die vermoë om van vorm en kleur te verander wanneer dit in aanraking kom met gravitasie, suurstof, water en bowenal die beweging van haar hand. Die wit vloeistof stol mettertyd en word deursigtig, word iets van ʼn membraanagtige visuele veld.

Dit is hierdie vermoë van die lym, om deurentyd “iets anders” te wees en tegelyk die gedaante aan te neem van ʼn beeld (image) of ʼn gelaat, wat Siopis kombineer met ink en olieverf om doeke te skilder wat verbeelde wêreld vergestalt.

So is dit weer die geval in Warm Water Imaginaries, haar jongste uitstalling in Stevenson in Braamfontein, Johannesburg. Dié werk het sy gemaak op uitnodiging om deel te neem aan Rising Waters: The Indian Ocean in the Twenty-first Century, ʼn groepuitstalling wat volgende jaar in Boston aangebied word. Hoewel die werk, en so ook die titels van die skilderye en 84 tekeninge, grotendeels dui in die rigting van aardverhitting, is Siopis se werk nooit in net een rigting gefokus nie. Sy slaag immer daarin om ʼn breër register by te hou. En word die “onderwerpe” wat ter sprake kom in haar werk eweso deel van “ʼn fluïede affêre”.

Tentacular Time, die titel van ʼn installasie met voorwerpe, koerantknipsels, boeke en wat nie al nie (en wat ʼn mens iets herinner aan die installasies van die 1990’s), het die soepel vernuf van ʼn seekat om sy of haar lyf te plooi: tussen vorm en vormloosheid. Maar die seekat word in die videowerk She Breathes Water (2019) as’t ware die stem wat die mens herinner aan sy vernietigingspad: “… You gained the upper hand … it is not all about your might … can you imagine the world without you?”

Dat ons in warm water is, is nie altemit nie.

  • Die uitstalling is te sien tot 3 Mei. Die Stevenson-galery is by Jutastraat 62, Braamfontein. Navrae: 011 403 1055. Die galery is oop van Maandag tot Vrydag 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 10:00 tot 13:00.

Judith Mason vanjaar Innibos

deur Johan Myburg

Die lewe en werk van Judith Mason (1938-2016) word vanjaar op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit gevier met ʼn uitstalling saamgestel deur haar dogter Tamar Mason.Die uitstalling, Living Lines and Impressions: A Glimpse of Judith Mason’s Editions and Drawings, bied ʼn intieme en persoonlike blik op Judith Mason se grafiese werk, tekeninge, kunstenaarsboeke en tapisserieë. Grafiese drukwerk uit The Artists’ Press word ook vertoon.Dié uitstalling is te sien in die White River Art Gallery, Casterbridge, Witrivier. Mason het die laaste 15 jaar van haar lewe net buite Witrivier gewoon.In haar loopbaan wat strek oor vyf dekades het sy in verskillende dissiplines gewerk. Haar werk is opgeneem in belangrike en groot versamelings, openbaar sowel as privaat. Sy het Suid-Afrika verteenwoordig op die Venesiese Biënnale in 1966, die São Paulo Biënnale van 1971, die Houston-kunstefees in 1980 en Art Basel, Miami Beach, in 2008.Judith Seelander Menge is op 10 Oktober 1938 in Pretoria gebore en het grootgeword op Zeerust en Bosbokrand in Mpumalanga. Sy het in 1956 aan die Pretoria High School for Girls gematrikuleer.Sy het kuns aan Wits studeer en daarna skilderklas gegee aan die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad en die Scuola Lorenzo de Medici in Firenze, Italië.Oor haar beroep het sy by geleentheid gesê: “I paint in order to make sense of my life, to manipulate various chaotic fragments of information and impulses into some sort of order, through which I can glimpse a hint of meaning. I am an agnostic humanist possessed of religious curiosity who regards making artworks as akin to alchemy. To use inert matter on an inert surface to convey real energy and presence seems to me a magical and privileged way of living out my days.”Tamar Mason is op Woensdag 26 Junie om 11:00 by die Kuns-oase, Laerskool Nelspruit, in gesprek met Johan Myburg oor dié uitstalling. Toegang is gratis.

Keur van Afrika-kuns nou in Johannesburg

deur Johan Myburg

Sy aanspraak dat hy nooit voet op die Afrika-vasteland gesit het nie, kan ʼn mens Pablo Picasso toegee. Maar dat hy teen 1907, toe hy Les demoiselles d’Avignon geskilder het, gʼn benul van Afrika-kuns gehad het nie – dis dik vir ʼn daalder. Teen 1900 was “kurio’s” uit Afrika en die Stille Oseaan-streek die in-ding in Parys en is dit onder meer in die Musée d’Ethnographie du Trocadéro uitgestal. Hoewel Picasso aangevoer het dit was die Iberiese klipbeelde wat hy op besoek aan Spanje gesien het wat die visuele vertrekpunt vir die figure in dié skildery was, weet almal dat Henri Matisse die klein sittende figuur wat hy in 1906 in ʼn Paryse kurio-winkel gekoop het, vir Picasso gewys het … en dat hy gaande was daaroor.

Nietemin, die belang en invloed van Afrika-kuns – veral maskers – in die Westerse kunsgeskiedenis word algemeen aanvaar; al in die werk van Edouard Manet, Paul Cézanne en Paul Gauguin en later in Fauvisme, Kubisme en die Duitse Ekspressionisme.

Om meer as ʼn honderd jaar later deur die uitstalling 40 Years of Collecting: A Celebration of the Standard Bank African Art Collection in die Standard Bank-galery in Johannesburg te stap, is dit wonderlik om benewens die intrinsieke seggingskrag en waarde van die stukke ook te verreken hoe dié erfenis invloed gehad het en steeds het op Suid-Afrikaanse kuns en kultuur.

Irma Stern (1894-1966) was nie net ʼn versamelaar van Afrika-kuns nie, maar het dikwels ook dié elemente in haar kuns gebruik. Alexis Preller (1911-1975) se behoefte aan “kuns gewortel in Afrika” het hom gelei op talle reise, onder meer na die destydse Swaziland, Zanzibar, Egipte en die Kongo. In Parys was dit die Afrika-kuns in die einste Trocadéro wat sy aandag geboei het. Hier ter plaatse was dit die Ndebele (Mapogga)-kultuur waarin hy heelwat inspirasie gevind het.

Soos Stern en Preller is reis ʼn belangrike stimulus vir Karel Nel (1955), ʼn kunstenaar wat self ʼn omvangryke versameling Afrika-kuns het en wat Afrika-elemente ook ruimskoots in sy werk gebruik.

Kyk ʼn mens na die dierefiguur in een van die kopstutte uit die noorde van die land, kan jy begryp uit watter wêreld die beeldhouer Sydney Kumalo se diere met hul stewige pote kom. En in Laduma Ngxokolo se grafiese ontwerpe vir Laduma-breiwerk vir MaXhosa maak die patrone in tradisionele kralewerk hul opwagting.

Hierdie is maar ʼn paar voorbeelde en redes waarom ʼn besoek aan dié keurige uitstalling, saamgestel deur Same Mdluli, Standard Bank se kurator, in samewerking met die kurators van die Wits-kunsmuseum (WAM), die moeite werd is.

  • Tot 6 Julie. Rondleidings op 8, 22 en 29 Junie om 10:00. Standard Bank-galery, h/v Simmonds- en Frederickstraat, Johannesburgse middestad. Veilige onderdakparkering: h/v Harrison- en Frederickstraat. Maandag – Vrydag 08:00 tot 16:20, Saterdae 09:00 – 13:00. Toegang gratis.

Onder die vel van die dagdroom

deur Johan Myburg

Min dinge haal by die ervaring van dagdroom: anders as nagdroom kan jy die koers bepaal; jy is onbewus bewus; jy is in daardie wonderlike kokon wat hulle verbeelding noem; die onmoontlike word haalbaar, en daar is die heerlike elektrisiteit wanneer jy wakker skrik – die sensasie dat jy betrap is waar jy nie mog wees nie.

“Woolgathering” is wat Engels dit noem. Komende van die oënskynlik doellose dool agter wolle aan wat aan takke bly steek het in ʼn landelike verlede.

Dit is ook die titel van Benjamin Skinner se jongste uitstalling in Parkhurst in Johannesburg. ʼn Foto-uitstalling van portrette van mense in daardie allerindividueelste oomblikke van droomverlorenheid.

Skinner is veel meer as fotograaf: Hy is die instigeerder van dagdroom deur ʼn konteks en omgewing te skep in ʼn “den” (met die allure van ʼn 19de-eeuse opium den) waarin hy die portrette geneem het, maar ook in die galery gerekonstrueer het – met op openingsaand sewe sitters/modelle/karakters in situ. Au naturel.

Boonop staan sy hande vir niks verkeerd nie. Soos in ʼn kamer van kuriositeite vertoon hy van die foto’s, gedruk op twee lae – die een suurvrye veselpapier en bo-oor ʼn honderd jaar oue sy – in handgemaakte kabinette van berkehout, of gedruk op Awagami kozo-moerbeipapier met sy bo-oor ʼn laag van die sy, eiehandig geraam in dun berke-rame.

Naaktheid à la Gustave Courbet (L’origine du monde) is soos in al Skinner se vorige werk gewoon deel van dié “woolgathering” as “indulgence in aimless thought or dreamy imagining” en dit is op dié punt waar die elektrisiteit dalk optimaal kraak. Terloops. Die sy waarop hy sy foto’s druk is in die 1920’s gebruik as insulering vir elektriese kabels.

Die den is tans leeg, die vuur wat op openingsaand in die kaggel gebrand het, is dood. Maar in die vertrek draal die drome van die sitters nog.

Suile teen die tyd

deur Johan Myburg

Amalie von Maltitz het onlangs haar negende solo-uitstalling van beelde in keramiek in Dunkeld, Johannesburg, aangebied.

Met die Columns/Suile van die uitstallingtitel roep Von Maltitz elemente van ʼn klassieke wêreld op: dié van Griekse pilare, van edele kariatides en desnoods begoëlende totempale. Verdere aanduiding hiervan sou die feit kon wees dat sy die beelde nie titels gee nie, maar eien met Romeinse numering – van II tot XVIII (no. I was nie op die uitstalling nie). Haar beelde spreek van klassieke soliditeit, daar is glimpse van die figuratiewe en daar is trekke van mitologiese en natuurlike vorms – alles geboetseer in klei. Om klei te lei tot beelde van sowat ʼn meter hoog getuig van jare se ervaring en ure in die ateljee; van dissipline en deursettingsvermoë.

Maar dan moet ʼn mens in gedagte hou dat jy te make het met Amalie von Maltitz, die vrou wat nadat sy in 1983 haar meestersgraadverhandeling oor die beeldhouwerk van Edoardo Villa voltooi het, haar kommersiële vlieënierslisensie verwerf het en vir nege jaar safari-vlugte in die lugruim oor Botswana, Zimbabwe en Namibië onderneem het.

Dit was Villa wat op ʼn dag na ʼn kleinerige keramiekbeeld van haar sit en kyk het en haar gepor het om groter te werk, minstens ʼn meter hoog, het hy gesê. En so het die reeks Suile begin, beelde wat sy in segmente maak (so groot as wat haar oond kan akkommodeer) en dit stapel.

Al haar ervarings, of dit nou dié is van ʼn tamaai tamarisk in die Vrystaat, of die kontoere en riwwe in die landskap uit ʼn vliegtuig, of rotse in getypoele of formasies in Kappadosië, bring sy byeen in haar beelde. Eweso die invloede wat haar kunstenaarsloopbaan bepalend gevorm het.

Aan die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad (UK) het sy in die vroeg 1960’s onder leiding van Lippy Lipshitz kennis gemaak met houtkerfwerk. Ná haar studie aan die UK is sy van 1963 tot 1965 na Stuttgart, waar sy beeldhou studeer het aan die Akademie der Bildenden Künsten en op ʼn keer ʼn handwerkklas van prof. Schellenberger bygewoon het. Von Maltitz onthou hoe Schellenberger, op sý dag ʼn student aan die Bauhaus, in ʼn lesing nadruk gelê het op eenvoudige handelinge soos weefwerk, om ʼn lepel en ʼn vurk uit takkies te kerf en om klein potjies met spirale klei te vorm. Dié kwaliteite het vir haar die beginsel vir haar verstaan van kreatiwiteit geword.

Later was daar ook ander invloede en ruggespraak met medekunstenaars soos Thijs Nel en Villa.

Dié invloede het sy verwerk en haar eie gemaak om Suile met ʼn eie stem voort te bring: gestileerd in ʼn Europese tradisie, met die asemhaling van Afrika; in klipharde klei, met die soepelste beweging; met die juiste verhouding tussen grinterige klei, oksiede en glasuur. Wat opval is die noukeurige afwerking, dat ʼn skildershand as’t ware plek-plek deurslaan in haar afwerking van oppervlakke. En daarmee saam Von Maltitz se respek vir klei.

“Wanneer die kunstenaar klei benut,” het sy by geleentheid opgemerk, “deel sy op ʼn mikro-skopiese skaal weer in die kringloop van die aarde se bestaan. In ʼn sekere sin is dit betekenisvol om weer die klei tot teken te kan omskep, wat gelyk rots, klip en mens kan wees, en ou simboliese waardes van die rots in herinnering te roep.”

Moontlik is dit die simboliese waardes, soos sy daarna verwys, inherent in haar beelde wat haar werk so aantreklik maak. Tesame met haar eenvoudige benadering tot eerlike materiale (die saadjie wat Schellenberger jare gelede geplant het). Op dié manier kry Von Maltitz se werk ʼn tydlose kwaliteit.

Kontak Amalie von Maltitz via Facebook

Alle oë dié week op Venesië

deur Johan Myburg

So kort as twee maande gelede het die departement van kuns en kultuur uiteindelik aangekondig wie die kurators en kunstenaars is wat vanjaar Suid-Afrika verteenwoordig op die Venesiese Biënnale in Italië. Dít nadat ander lande etlike maande gelede (selfs vroeër verlede jaar) soortgelyke aankondigings gedoen het – wat hulle kurators en kunstenaars geleentheid gee om deeglik voor te berei vir dié tweejaarlikse kunsgebeurtenis wat eietydse kuns in die kollig plaas.

Die 58ste Venesiese Biënnale begin dié week. Nkule Mabaso en Nomusa Makhubu is aangewys as die kurators en die werk wat hulle gaan vertoon is dié van Dineo Seshee Bopape, Tracey Rose en Mawande Ka Zenzile. Corporate Icons Media bied die logistieke en kommunikasiesteun vir die Suid-Afrikaanse paviljoen in die Sale D’Armi in Venesië se Arsenale.

Nadat Suid-Afrika in 1968 amptelike deelname aan die Biënnale ontsê is, het die land in 1993 en 1995 weer deelgeneem. Daarna was daar vir 16 jaar geen amptelike deelname nie tot en met die debakel met gepaardgaande ongerymdhede in 2011 toe Monna Mokoena van Gallery Momo die werk van vier kunstenaars met Thembinkosi Goniwe as kurator vertoon het.

Zwelethu Mthethwa, een van die vier, het hom voor die tyd aan deelname onttrek omdat hy onder meer nie met die keurproses saamgestem het nie. Alle aanduidings is dat daar geen keurproses was nie.

In 2013 het die Nasionale Kunstefees met Brenton Maart as kurator die uitstalling aangebied, ook met min tyd tot beskikking omdat die departement sy voete gesleep het.

Soos in 2013 is die uitstalling in die Suid-Afrikaanse paviljoen twee jaar later gekenmerk deur ʼn groot aantal kunstenaars – 18 in 2013 en 14 in 2015. Die gevoel wat ʼn mens gekry het, was dat die Suid-Afrikaanse paviljoen wou opmaak vir die jarelange afwesigheid, asof die aanwesigheid van die land belangriker geag is as die kuns van die land.

In 2015 het Mashabane Rose Architects en die Apartheidsmuseum, met Jeremy Rose en Christopher Till as kurators, minder as twee maande gehad om kunstenaars te kies om die land te verteenwoordig én die uitstalling in te rig en aan te bied.

Vir die eerste keer in jare het die departement van kuns en kultuur in 2017 daarin geslaag om betyds voorleggings aan te vra van instellings wat meen hulle kan kwalifiseer om die land se nasionale paviljoen in Venesië in te rig, en meer nog, betyds.

Lucy MacGarry was die kurator en Musha Neluheni die assistent-kurator en die werk van Candice Breitz en Mohau Modisakeng is vertoon.

As ʼn mens in gedagte hou dat die Venesiese Biënnale beskryf word as die kunswêreld se Olimpiese Spele, is die traak-my-nie-agtigheid van ons departement van kuns en kultuur gewoon verstommend. Trouens, ʼn vergelyking wat dalk meer in die kol sal wees, is dié met die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos. Waarom kan die departement en die minister nie die belang van die visuele kunste in die land se ekonomie na waarde skat nie?

Dit word bereken dat meer as ʼn miljard rand jaarliks in die Suid- Afrikaanse kunshandel verdien word … meer as in die motorhandel.

Al wat ʼn mens kan doen is om jou steun te voeg by die besorgdes in die kunswêreld wat onlangs ʼn brief aan Cyril Ramaphosa gestuur het om hom te por om dringend nuwe lewe in die tam Departement van Kuns en Kultuur te blaas – ʼn goeie begin sou wees om in die plek van die huidige minister ʼn kundige en belangstellende amptenaar aan te stel.

Intussen hou ons die oog op vanjaar se paviljoen vir die werk van Dineo Seshee Bopape, Tracey Rose en Mawande Ka Zenzile.

Die Biënnale duur tot 24 November.

Innibos vanjaar ook Inniblom

deur Johan Myburg

Anders as vir bye en vlinders en suikerbekkies het blomme vir mense buiten bekoring geen visuele nut nie. Ons verlustig ons aan die skoonheid van blomme ten opsigte van kleur, vorm, harmonie, assimmetrie en wat nie al nie omdat dit vir ons mooi is. Nie omdat dit ons na stuifmeel of nektar lei nie. Blomme het nie vir ons betekenis nie; ons géé daaraan betekenis – persoonlike, kulturele en religieuse betekenis. Dink byvoorbeeld aan die wit lelie wat vir ons reinheid beteken en rooi rose wat kwalik op iets anders as liefde kan dui.

Dink maar aan die betekenisse wat in die verganklikheid van blomme ingelees is. Toe blomstudies in die 17de-eeuse Nederland ʼn hoogtepunt bereik het – die tyd toe die Kompanjie se skepe van heinde en ver eksotiese plante en blombolle na die vaderland gebring het – was dit dié einste blomme wat moes herinner dat weelde eindelik moet swig voor verwelking; dat swier, soos blomme, nie vir altyd duur nie.

In die Victoriaanse tyd het blomme des te meer betekenis gekry en het floriografie tot stand gekom, die taal van blomme: rooi rose was die teken van liefde; donkerder rose spyt; pienk rose was die teken van geheime liefde.

In watter konteks en met watter doel ook al, deur die eeue – van die vroegste botaniese tekeninge tot eietydse kuns – is blomme een van die veelseggendste maniere om gevoel mee oor te dra. Moontlik om dié rede dat kunstenaars blomme skilder. “As jy ʼn blom in die hand het en indringend daarna kyk,” het Georgia O’Keeffe gesê, “is dit vir ʼn oomblik jou wêreld.”

Inniblom is ʼn uitstalling van blomstudies wat te sien is op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees (26 tot 29 Junie) by Laerskool Nelspruit. Vir dié uitstalling het Johan Myburg die werk byeengebring van kunstenaars soos Elise Buitendag, René Eloff, Nigel Mullins, Linda Pretorius, Griet van der Meulen en Lientjie Wessels.

Hester Schoeman van die Loerie-tak van die plaaslike VLU gee terselfdertyd haar interpretasie van die kunswerke in ses blomrangskikkings en ʼn replika van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut se inskrywing vir die 2019 Chelsea-blommeskou in Londen is tydens Innibos in die Laeveld- botaniese tuin in Nelspruit te sien.

Seine vir ons tyd

deur Johan Myburg

In 1998 was Y2K nog ver in die toekoms en Tretchikoff het nog geleef. Die Universiteit van Johannesburg het nog nie bestaan nie en die kunsgalery van die Randse Afrikaanse Universiteit is tydelik in ʼn voorafvervaardigde gebou gehuisves. Dit was dié jaar toe Annali Cabano-Dempsey die pos aanvaar het as kurator van RAU se kunsversameling en galery.

In dié uitstalruimte met sy geverfde goiingsakpanele het sy kuns uitgestal en toe UJ en die Kunstesentrum in 2005 tot stand kom, het sy op groter skaal en deftiger (want die UJ-galery is loshande een van die knapste galerye in Gauteng) uitstallings begin aanbied. Vanjaar is dit 21 jaar al dat sy dit doen.

Om dié geleentheid te vier word die terugblikuitstalling 21 Years of Curating the Cube tot 25 Junie in die UJ-galery op die Auckland Park-kampus aangebied. Die net minder as 40 werke wat ingesluit is, het almal op die een of ander manier persoonlike betekenis vir haar. Of sy het dit ingesluit gehad in vorige uitstallings, of die kunstenaars wat werk gemaak het vir dié uitstalling het iewers in die afgelope 21 jaar by RAU of UJ uitgestal.

Daar is die kolosse soos Edoardo Villa, Willem Boshoff en William Kentridge. Van hulle is werk ingesluit wat opgeneem is in die UJ-versameling. Maar dan is daar die hedendaagse woekeraars soos Angus Taylor, Gordon Froud, Diane Victor en Mark Swart wat almal onlangse werk vertoon. Hannelie Coetzee het ʼn nuwe werk gemaak en kort voor die opening geïnstalleer – ʼn installasie met ʼn blouwildebees en honderde sprinkane op tou.

ʼn Goue draad wat reg deur die uitstalling loop is dié van boodskappe in die vorm van kodes en tekste en seine en sinjale. Wat die kunswerke in dié uitstalling gemeen het, is dat dit wil kommunikeer. Beginnende by Marco Cianfanelli se beeldhouwerk wat die woorde van Desmond Tutu eggo: “Knowledge, truth and beauty cannot be shackled forever – ultimately they will triumph.”

En as ʼn mens nog een werk kan uitsonder sal die Keiskamma Guernica dalk nie onvanpas wees nie: ʼn kunswerk wat in ʼn tyd van vergissing (of dit nou aangebring word deur pestilensie of ideologie of ander soort magsvergrype) dui op die gevaar van verontmensliking.

As dit dan nie die aartsbiskop se kennis of waarheid of skoonheid is wat seëvier nie, is dit minstens kuns se soeke daarna.

  • Saterdag 15 Junie om 10:00 en weer op 22 Junie om 13:00 is daar rondleidings.