Landskappe as heerlike spieëls van onthou

deur Johan Myburg

Olaf Bisschoff, The Shape of Things to Come, olie op bord (30 x 30 cm)

Die landskap (as geskilderde voorwerp), sê Simon Schama in sy boek Landscape and Memory (1995) is ʼn kulturele konstruk, ʼn spieël van kodes vir ons herinneringe en mites wat ontsyfer moet word. ʼn Stuk grond met bome en wat nog daarop en die lug daarbo kan derhalwe op talle maniere voorgestel en uitgebeeld word. Dít sal afhang van die herinneringe en die mites. Maar meer nog, ook van die kodes wat gebruik word; kodes waaroor daar binne kultuur (weer met heelwat variante) ooreengekom word. Kodes soos byvoorbeeld realisme, of abstraksie.

Om kultureel ooreen te kom oor realisme (die landskap lyk soos die stuk grond) is dalk eenvoudiger as abstraksie as ʼn kulturele konstruk. Maar as ek Schama reg verstaan gaan alle landskappe eintlik oor wat ons wíl sien as wat ons wél sien. “We don’t see things as they are, we see them as we are,” het Anaïs Nin gesê.

So het Olaf Bisschoff, Johannesburgse skilder wat jare lank al landskappe, spesifiek lug en wolke, in sy kuns verreken, in sy Terra incognita, ʼn 2008-uitstalling, veel meer as weergawes van stukke grond eerder ʼn uitbeelding van verlies aan die onbekende vergestalt; ʼn verlies aan ʼn tyd toe alles nie bekend en so uitgepluis was nie. Toe die “terra” wat “incognita” was, nog deur monsters bewoon was.

Onlangs, tydens en ná ʼn verblyf in Swede, het geometriese vorme en ontwerpe bo-oor en in sy landskappe hulle opwagting gemaak – moontlik as ʼn kopknik in die rigting van Skandinawiese niefiguratiewe abstraksie en die Russiese Avant garde- en Suprematisme-beweging. Moontlik as ʼn manier van hulde aan die Modernisme van die vorige eeu wat deesdae nuwe belangstelling prikkel in ontwerp sowel as kuns.

Nou vertoon Bisschoff in die Dawid Ras-galery klein skilderye met ontwerpe op pikswart agtergronde, agtergronde wat netsowel pikdonker landskappe kan wees. Die landskap is tog daar wanneer daar beurtkrag is, jy kan dit net nie sien nie? Meer nog por hy in die rigting van besit. Kan jy grond besit wat jy nie kan sien nie?

Dink maar aan Thomas Gainsborough se befaamde Mr and Mrs Andrews (1748-49), die portret van die egpaar waarin die landskap in die agtergrond ʼn lewensgrootte portret van besit word – iets van alles dié is myne!

En so onderstreep Bisschoff die “memory”-deel in Schama se boektitel. Landskap loop ook saam met geheue of heugenis of verbeelde onthou. Hoe ʼn mens dit ook al wil stel.

Dít doen Bisschoff boonop in die heuglikste kodes, die heerlikste abstraksies wat herinneringe van die middel van die vorige eeu aktiveer – die 1950’s wat tegelyk jare van vrede én eindelose vergissing was.

Die laaste sin behoort aan Jean Dubuffet (1901-1985): “There is no such thing as abstract art, or else all art is abstract, which amounts to the same thing. Abstract art no more exists than does curved art yellow art or green art.”

  • The Shape of Things to Come, met skilderye deur Olaf Bisschoff en klein beeldhouwerke deur Renier le Roux is tot einde Mei te sien in die Dawid Ras-galery by Silvelaweg 18, Sandown Estate, Johannesburg. Bel Dawid by 082 492 9777 vir ʼn afspraak.

Thomas Gainsborough, Mr and Mrs Andrews (1748-49), te sien in die National Gallery, London.

ʼn Bootjie wat nié vaar nie

deur Johan Myburg

Barca nostra (Ons boot), Christoph Büchel

Die nag van 18 April 2015 het ʼn vissersboot van sowat 30 m tussen die kus van Libië en dié van die Italiaanse eiland Lampedusa gesink. Daar was net 28 oorlewendes. Die res van die tussen 700 en 1 100 vlugtelinge aan boord (betroubare bronne praat van 800) het, vasgekeer in die vragruim, verdrink toe die vaartuig omgeslaan het.

Die einste boot, wat teen miljoene vlot gemaak is ná die tragedie, pryk nou in Venesië se Arsenale as ʼn installasie, Barca nostra (Ons boot), ʼn projek van die Switsers-Yslandse kunstenaar Christoph Büchel. Dié boot is nou die stil getuienis van Europa se onverskilligheid jeens duisende vlugtelinge.

Büchel het nog geen onderhoud toegestaan nie, hoewel sy medewerker, die kurator Maria Chiara di Trapani, gesê het: “Ons lewe in ʼn tragiese oomblik sonder geheue. Ons kyk na die nuus en dit lyk so ver verwyderd. Iemand is dood in die see, en dan skakel ons oor na ʼn ander kanaal.”

Die aanwesigheid van die boot mag besoekers aan die Venesiese Biënnale dalk anders oor die voorval laat dink, het sy bygevoeg. “Ek hoop mense sal respek toon en in stilte daarna kyk.”

Dié deel begryp ek. Die goeie bedoeling.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Die hele vlugtelingsaak is netelig om die minste te sê. En verg omsigtigheid. Boonop was daar rondom die herwinning van die vaartuig ʼn hele boel wollerigheid.

Hoewel kuns ʼn katalisator is om mense aan die dink te kry en uit hulle roes te skok (iets waarmee niemand fout vind nie), voel ek ongemaklik met dié barca, asof dit, selfs binne die konteks van die Biënnale, kwalik meer word as nóg ʼn brokkie artistieke kommentaar. Daar is reeds na dié werk van Büchel verwys as “ʼn viering van die nostalgie van tragedie”.

Stroperige emosie as spektakel ondergrawe immer die erns van sake.

Dié paradering van tragedie herinner aan die Chinese kunstenaar Ai Wei Wei se selfportret wat hy vier maande ná die dood van Alan Kurdi op die strand van Bodrum gemaak het vir die Indiese kunsskou in Dehli. Ai het in dieselfde posisie gaan lê, wang teen die klippers, as dié waarin die driejarige se lyk uitgespoel het.

Weer eens – en ek twyfel nie vir een oomblik dat Ai die saak van Siriese vlugtelinge goedgesind is nie – die opportunisme en sensasie lê besonder vlak. Soos die geval met Barca nostra.

Lees ʼn mens Büchel se werk binne die konteks van die uitstalling waarvan dit deel is, met die titel “May You Live In Interesting Times”, dra die werk nie by tot die problematiek van vlugtelinge (of watter kwessie ook al) nie, maar word die werk self problematies.

Dié is ʼn bootjie wat besoekers gaan lok, wat lieflike selfie-oomblikke gaan bied. Maar dit is een wat nié vaar nie.

Selfportret, Ai Wei Wei, ná die dood van Alan Kurdi

Innibos vanjaar ook ‘Inniblom’

deur Johan Myburg

Linda Pretorius, Dinsdag se dahlias, olie op doek (30 x 30cm)

Anders as vir bye en vlinders en suikerbekkies het blomme vir mense buiten bekoring geen visuele nut nie. Ons verlustig ons aan die skoonheid van blomme ten opsigte van kleur, vorm, harmonie, assimmetrie en wat nie al nie omdat dit vir ons mooi is. Nie omdat dit ons na stuifmeel of nektar lei nie. Blomme het nie vir ons betekenis nie; ons géé daaraan betekenis – persoonlike, kulturele en religieuse betekenis. Dink byvoorbeeld aan die wit lelie wat vir ons reinheid beteken en rooi rose wat kwalik op iets anders as liefde kan dui.

Dink maar aan die betekenisse wat in die verganklikheid van blomme ingelees is. Toe blomstudies in die 17de-eeuse Nederland ʼn hoogtepunt bereik het – die tyd toe die Kompanjie se skepe van heinde en ver eksotiese plante en blombolle na die vaderland gebring het – was dit dié einste blomme wat moes herinner dat weelde eindelik moet swig voor verwelking; dat swier, soos blomme, nie vir altyd duur nie.

In die Victoriaanse tyd het blomme des te meer betekenis gekry en het floriografie tot stand gekom, die taal van blomme: rooi rose was die teken van liefde; donkerder rose spyt; pienk rose was die teken van geheime liefde.

In watter konteks en met watter doel ook al, deur die eeue – van die vroegste botaniese tekeninge tot eietydse kuns – is blomme een van die veelseggendste maniere om gevoel mee oor te dra. Moontlik om dié rede dat kunstenaars blomme skilder. “As jy ʼn blom in die hand het en indringend daarna kyk,” het Georgia O’Keeffe gesê, “is dit vir ʼn oomblik jou wêreld.”

Inniblom is ʼn uitstalling van blomstudies wat te sien is op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees (26 tot 29 Junie) by Laerskool Nelspruit. Vir dié uitstalling het Johan Myburg die werk byeengebring van kunstenaars soos Elise Buitendag, René Eloff, Nigel Mullins, Linda Pretorius, Griet van der Meulen en Lientjie Wessels.

Hester Schoeman van die Loerie-tak van die plaaslike VLU gee terselfdertyd haar interpretasie van die kunswerke in ses blomrangskikkings en ʼn replika van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut se inskrywing vir die 2019 Chelsea-blommeskou in Londen is tydens Innibos in die Laeveld- botaniese tuin in Nelspruit te sien.

Kuns Argief

  • Tussen vorm en vormloosheid
  • Suile teen die tyd
  • Judith Mason vanjaar Innibos
  • Alle oë dié week op Venesië
Lees nou