Bo: ʼn Dik gordyn dasse. Onder: Avo Ritz, maar vra eers hoeveel dit kos!

Dasse aan die dak en outentieke disse

Kobus Burger eet by:

Parreirinha, Sesde Straat no. 9, La Rochelle, Johannesburg

“Se bebes para esquecer paga antes de beber,” waarsku ʼn bordjie by die ingang van een van die Goudstad se mees outentieke restaurante. In Afrikaans sou dit beteken – “as jy drink om te vergeet, betaal voordat jy begin drink”.

Alles omtrent Parreirinha (“little grapvine”) is eklekties en outentiek. Van die dasse wat soos digte gordyne van die dakbalke hang, tot en met die seekos wat vars op ʼn silwer skinkbord na die tafel gebring word sodat ʼn mens kan kies voordat die sjef begin kook!

In Julie 1975 het twee broers dié Portugese restaurant begin en dekades later is dit steeds ʼn gewilde kroeg en eetplek wat in hierdie voormalige polisiekantoor (uit die jare 50) bedryf word.

Ons was ʼn groot groep, wat buitelandse besoekers ingesluit het, wat uit die staanspoor deur die flinke en uitmuntende diens verras is. Boonop was ons tafel neffens die wynkamer met sy glasmuur en kon ons sommer met die wys van ʼn vinger drinkgoed bestel.

My Avo Ritz (SQ) was smaaklik voorberei, maar die avokadopeer nog nie heeltemal ryp nie. Die gas oorkant my het die Giblets (groot porsie teen R75) bestel, maar het dit teruggestuur. Die kelner was darem bereid om dit met iets anders op die spyskaart te vervang.

Die Rissois de Camarao (garnaalkoekies teen R15 elk) was ʼn treffer en het ʼn hele paar breë glimlagte aan ons tafel ontlok.

My hoofgereg was die Steak Trinchado Cassarola met skyfies bo-op (R129) wat met die verruklikste knoffelsous bedien word. Die biefstuk was só taai dat selfs ʼn skerp mes nie die dis koubaar kon maak nie.

Die kelner het dadelik aangebied om dit met iets anders te vervang. Binne enkele minute was hy terug met die Madagaskar-biefstuk (R159), filet in ʼn groenpeperkorrelsous, wat nie eens ʼn mes se hulp vereis het nie. Doeksag, romerig met die byt van die peperkorrels wat minute later nog op die tong kotteljons.

Vir die visliefhebbers is daar van kreef en sardyne tot calamari op die spyskaart. En om alles te kroon, seekos-sosaties (maar vra die kelner wat hulle alles op die stokkie gaan ryg).

Die groep was dit eens dat die oorrompelende diens hierdie eetplek in ʼn ander liga plaas. En elkeen het minstens een (of twee) disse wat hulle met ʼn herbesoek wil beproef.

Al is daar ʼn veiligheidswag by die ingang, is dit nie ʼn slegte idee om van Uber of die een of ander taxi-diens gebruik te maak nie.

Die klein prieel is steeds in die binnehof en vra gerus die rede waarom soveel van die manlike besoekers met ʼn das op die arm daar opdaag…

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die restaurant resenseer.

Geurige hoenderpastei. Foto’s Marina Griebenow

Sit aan by Ouma se eetkamertafel

 Mariana Malan eet by:

De Malle Meul,  h/v Hoof- en Meulstraat (oorkant die NG Kerk), Philadelphia

De Malle Meul se Sondagmiddag-buffet is nie vir knibbelaars nie. Dis vir mense wie se lus uithang vir boerekos – vleis, rys, aartappels, soetpatats en koperpennieslaai, vir afval wat groot mans laat trane stort. Om dan nie eers te praat van die nageregte nie.

Jy vat die pad uit die Kaap na Philadelphia so skuins anderkant Durbanville en draai af so 30 kmr voor Malmesbury. Mense in die omgewing ken dit as die koringmeul waar die Louws die Koeberg-boere se koring gemaal het. Dis van 1920 tot 1972 as meul gebruik..

Philadelphia het verder bekend geraak toe die kunstenaar Pieter van der Westhuizen sy hoofkwartier daar gemaak het. Hy en sy vrou Zebeth het die meul in 1998 gekoop en gerestoureer. Die Belg Eric Bartholomeeusen het die houtwerk binne en buite gedoen en hout afkomstig van die oorspronklike meul gebruik vir deure, hortjies en meubels.

In Desember 2009 het Madelein Roets, Carine le Roux, Adele du Plessis en Pieter Venter die meulgebou by Van der Westhuizen gekoop en hul restaurant de Malle Meul daar begin. Met die restaurant se tiende verjaardag op hande, doen dit steeds die naam gestand. Dis jeugdig, vrolik en lewenslustig met kos wat jou nostalgies maak vir Ouma se eetkamertafel van ouds.

Aan die mure hang Van der Westhuizen se werk, aangervul met dié van die sanger Lize Beekman se ragfyn mandalas en ander kunswerke. Jy kan hier nog met ʼn Van der Westhuizen onder jou arm uitstap om die smulfees af te rond.

Volgens Roets verander hulle die spyskaart om vir die personeel kans te gee om hul kookkuns te laat blom. Op Sondag 20 Oktober was die aanbod: tunamousse, brood, vetkoek, waatlemoenkonfynstukke, afval, lamsboud, hoenderpastei, frikkadelle, lamsribbetjies, gebakte aartappels, rys, soetpatat met esdoringstroop, skorsies met mielies, blomkool met witsous en salie, kerriebone en koperpennieslaai.Die nageregtafel het gekreun onder kaaskoek, Jodetert-, kwepertert, marshmallowtert, roomys, vla, rooi vrugteslaai en ʼn dekadente sjokoladekoek.

Dis raadsaam om stadig te begin, want jy kan keer op keer gaan skep. Jy kan die kunswerke bekyk en dan skielik kom jy op ʼn skat van stokou Afrikaanse hygromans af. Dis nou die soort waar die vroue nog hul wimpers skugter laat sak en die titels ewige liefde beloof. Dit laat jou dink aan die boekklubs waaraan jou ma behoort het toe liefde een keer per maand per pos afgelewer is.

  • De Malle Meul bied ook van Donderdag tot Saterdag ontbyt en middagete en daar is tuisgebakte koekies en klaar geregte te koop. Dit kan vir spesiale geleenthede gehuur word. R260 pp vir die Sondagmiddagbuffet en drank; ander drankies is ekstra. Bespreek vooraf by 021 972 1097 of 072 668 7901. Besoek info@demallemeul.co.za 
  • Mariana Malan het ten volle vir die ete betaal.

Die Buttermilk Chicken Poutine met skyfies en fetakaas. Foto: Kobus Burger

 Dis nou ʼn wen-wen situasie!

 Kobus Burger eet by:

Winner Winner, Vierde Laan no. 65, Melville, Johannesburg

Die koerantplakkate basuin dit in hoofletters uit – die middelklas struikel onder die skuld …

En die nuus eggo in die leë restaurante waar die kelners nou toustaan en wag vir mense om aan te sit. So het die Mexikaanse eetplek Perron onlangs sy deure gesluit, maar dieselfde eienaars het aangebly en ʼn nuwe konsep bekend gestel.

Winner Winner is geskoei op die liedjie Winner Winner, Chicken Dinner met ʼn innoverende sakpas-spyskaart wat van student en toeriste tot die middelklas-gesin sal lok.

Die restaurant is in rooi getooi en het ʼn koel, dog vurige atmosfeer met wit mure en knus sitplekke vir groter groepe.

Die burgers se pryse wissel van R45 tot R60 (die skyfies of ander bykosse uitgesluit), terwyl die vlamgebraaide hoender jou R60 of R95 kos vir ʼn kwart of halwe porsie onderskeidelik en ook sonder bykos.

Die spyskaart pas omtrent op ʼn halwe blad, maar geen hoofgereg kos meer as R100 nie en die bykosse so in die omgewing van R25 en R35.

Dit was ʼn somerse lentedag in die Goudstad en ek het die Hoegaarden (beer on tap) teen R59 vir ʼn halwe liter bestel. Die skemerkelkies is hier om en by R70 met ʼn aanloklike keuse waarvan sommige ʼn sorbet is. Perfek vir die snikhete dae wat voorlê.

My hoofgereg was die Buttermilk Chicken Poutine (wat bestaan uit southern fried chicken bites met handgesnyde skyfies en feta).  Teen R75 per porsie het dit diepgebraaide hoendervelletjies ingesluit wat in ʼn bittersoet sousie gedoop kan word. Die hoender was droog en die sous té suur.

Tamara het die vlamgebraaide hoender met ʼn slaai (R35 vir die klein groenslaai maar nogtans ʼn goeie porsie) bestel en teen die einde van die aand gesweer dat sy nou van Nando’s genees is … Ek moes proe en wou my Poutine-dis opsy skuif. As dit nie vir die krakerige hoender was nie, was dié bra gemiddeld.

Die Princess Lay-A hamburger word glo aanbeveel vir diegene wat graag soesji geniet en dit is op my lysie vir ʼn volgende besoek. Die gemmer saam met die hoender en koolslaai is volgens die kelnerin iets om te ervaar.

Vir nagereg is daar kaaskoek met kersies, ʼn sjokoladekoek met Snickers en grondboontjiebotter en sjokoladebruintjies (chocolater brownies) wat met dagga-olie (CBD) gebak word.

Wat bekostigbaarheid betref, is hierdie nuwe eetplek ʼn wenner. Voeg daarby die flink diens en ʼn skemerkelkie-aanbod van halfprys weeksdae vanaf 16:30 en daar het jy ʼn rede om die vlamgebraaide hoender sonder skroom te gaan proe. Dalk het Tamara vandeesweek die Lotto gewen?

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die restaurant resenseer.

Calamari Tubes & Chips met tartaarsous. Foto’s: Kobus Burger

 ‘Vis & tjips met sout & asyn, asb!’

Kobus Burger bestel by:

Fish Hook – Traditional Fish & Chips, Winkel no. 4, Darrenwood-sentrum, Republiekstraat, Darrenwood (net oorkant Darrenwood Toyota), Johannesburg.

Gewilde toeps (“apps”) soos UberEats en Mr D sorg dat ons deesdae net dieper in die rusbank kan wegsink terwyl ons vir ons kos wag. G’n sofapatat hoef meer tou te staan vir wegneemetes of met koue kos tuis op te daag nie.

Dit beteken egter dat ons nou met heimwee vertel van die hoekkafee se vis en tjips en soms wonder in watter heelal dit nog bestaan? Wel, vir diegene wat nog saam met talle ander vir twintig minute kan staan en wag, is Welman Son se viswinkel Fish Hook (ʼn speelse verwysing na Vishoek in die Kaap) die Goudstad se beste kuur vir smaakpapille wat smag na toeka se kitsdisse.

Wees uit die staanspoor gewaarsku dat jy in spitstyd vir tot veertig minute vir jou kos sal wag, maar dit is omdat Welman en sy span alles vars, self en keurig voorberei – natuurlik soos jy dit verkies. “Sout en asyn?” is hier ʼn mantra en glo my, hierdie tradisionele slap tjips móét op die Fish Hook-manier geëet word; deeglik toegedraai in ongedrukte koerantpapier.

En al moet jy ʼn goeie twintig minute ry voor jy kan eet, gaan hierdie wegneemetes steeds vuurwarm wees. Sommige geswore ondersteuners sit dikwels reg voor Welman se deur in hul motors en verorber die lekkernye daar en dan.

Hake & Chips (klein porsie) kos R52 en is allermins klein. Jy gaan knuppeldik die vingers aflek. Die vis kan glutenvry voorberei word, vra net.

Die Calamari Tubes & Chips is teen R50 ʼn wenner en daarby moet ʼn mens die tartaarsous (R7 vir ʼn houertjie) bestel. Daar is gewoonlik ses stukkies calamari, maar sag, geurig en perfek voorberei.

ʼn Bakkie koolslaai kos R15, maar dié het my nie beïndruk nie. Dit het ʼn skerp, bitter nasmaak gehad en ek het die balans van ʼn paar rosyne gemis.

Die glutenvrye vis was vir my selfs lekkerder as die tradisionele opsie, so proe gerus albei. En vra vir die Mushy Peas (R27) as bykos.

Welman se viskoekies (teen R24 elk) is vullend en groot genoeg om as ʼn maal op sy eie te dien.

As jy selfs meer tradisioneel wil wegneem, wat van Russian & Chips (R45)? Of ʼn Chip Roll (R16)?

Die vis en skyfies swem nie in olie nie en jy hoef nie te vrees dat jy in galbulte gaan uitslaan nie.

Welman is al in sy piepklein winkel deur rowers in die gesig geskiet, maar is daagliks op sy pos met die klanke van Classic FM in die agtergrond om breed te glimlag as nog ʼn gelukkige eter met ʼn bierboks vol etes koers kies kar toe.

Cowfish in Rand Steam se Chicken, Cheese & BBQ Spring Roll. Foto: Kobus Burger

Bobaaskos – ʼn feit soos ʼn koei

Kobus Burger eet by:

Cowfish, Rand Steam-winkelsentrum, h/v Barry Hertzogrylaan en Napierstraat, Auckland Park, Johannesburg

Een van die vernaamste uiteet-irritasties is ʼn kelner wat nie met die spyskaart vertroud is nie. Ja, as aansitter moet jy self besluit, maar ʼn rigtingwyser deur die moeras van keuses is iets wat enige smulpaap hoog op prys stel.

Kelners wat nie vrae oor die disse kan beantwoord nie, is deels voor die deur van die restauranteienaar te lê. As dit nie ʼn gebrek aan opleiding is nie, is dit bloot ʼn bestuurspan wat nie toelaat dat kelners self deur die spyskaart kan eet nie.

Cowfish is deesdae ʼn gewilde kettinggroep van eetplekke wat – soos die naam aandui – hoofsaaklik op vis en vleis geskoei is. ʼn Mens kan dus kies tussen soesji of ʼn biefstuk met ʼn aanloklike paar variasies tussenin. Vir diegene wat die middellyf dophou, is daar ʼn paar poke bowls (teen R140) wat as heel gesonde keuses sou kon deurgaan.

Met ons besoek aan Cowfish in Rand Steam se binnehof met restaurante was dit die kelnerin Thembi se kennis van én passie vir die disse wat bygebly het. Sy kon ons darem wyer laat kyk as net die vis-of-vleis-mantra wat seker hier die standaard koekiedrukker-diens geword het.

As voorgeregte het ons die Halloumi Veg Spring Roll (R55) en Chicken, Cheese & BBQ Spring Roll (R55) gekies. Die rolletjies is in die helfte gesny met ʼn unieke kombinasie van doopsouse wat tesame met die bros filodeeg waarin dit gerol is, hierdie gewilde dis in ʼn heel ander klas geplaas het.

Vir hoofgereg het Tamara op die Calamari (R140) met lemoenbotter en ʼn keuse van rys of skyfies besluit. Ek wou die Rump Steak met ʼn Asiatiese BBQ-sous (300 g teen R155) proe. Hier kan ʼn mens kies uit ʼn rits bykosse – van aartappel- en soetpatatskyfies tot gebraaide rys, uieringe, of ‘n groenslaai.

ʼn Glas rooiwyn kos hier in die omgewing van R55 tot R62, terwyl Stella Artois of Devil’s Peak Lager teen R48 vir 500 ml bedien word.

Die calamari en bottersous was perfek in Tamara se kraal en my biefstuk is medium voorgesit, soos versoek, met so ʼn aks na die pienk kant toe. Smelt-in-die-mond was my bevinding en die soetpatatskyfies krakerig-perfek.

Hier was Thembi veral besorg of ek my kos geniet, maar by navraag het sy aan Tamara bevestig dat sy gesigte kan lees en verseker was dat haar dis haar goedkeuring wegdra. Thembi het haar fooitjie deur en deur verdien. En met ʼn herbesoek sal ek beslis vir haar vra.

Moenie ʼn koei met vinne verwag nie, maar besoek Cowfish vir liplekker-geregte en keurige diens wat bo middelmoot-verwagtings sal uittroon.

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die restaurant resenseer.

Die plankie met biefstuk en aartappelskyfies, wat op The Dog and Fig Brewery se braai-spyskaart verskyn. Foto: Kobus Burger

Beproef Parys se bierproeplek

 Kobus Burger eet by:

The Dog and Fig Brewery, Jonmar Semo-landgoed, Kopjeskraalpad, Vredefortkoepelgebied, buit Parys, OVS

Die biergier het nog nie oorgewaai nie, al volg die jenewerdrinkers nou kort op die hakke van al die kleurryke en geurige nisbrouers. Vir die dapper drinkers bied ʼn mikrobrouery ʼn paar kilometer buite Parys in die Vredefortkoepel-erfenisgebied oorgenoeg om van te kies en te keur.

The Dog and Fig is nou al meer as ʼn dekade oud en spog bv. met ʼn Baldadige Boegoebier vir die waaghalsiges. ʼn Goeie afskop is egter die bierproe-opsie met ses biere (100 ml elk) asook soutpretzels (alles teen R95). Die jenewerdrinkers kan die Mestiere-jenewer proe in vyf verskillende opsies met tonikum en garnering ingesluit teen R120.

My gunsteling is hul Vyl Ale (ʼn bitter American Pale Ale met ʼn heuningnasmaak) teen R45 vir 500 ml. Tamara het die Alternative Orange Beer Cocktail bestel – vars lemoensap met Dog and Fig se Alternative Ale teen R40 vir 500 ml.

Met ʼn vorige besoek het ons die biere beproef en reeds ons gunstelinge uitgesonder. Die jenewer het ons nie toe aangestaan nie.

Vir hoofgereg het ek van die Braai-spyskaart bestel, naamlik die “Steak plankie”. Die 500 g-opsie (R140) bestaan uit repies “rump steak” wat op ʼn plankie bedien word met suurlemoensap, growwe sout en swartpeper waarin jy die biefstukkies doop. ʼn Klein porsie aartappelskyfies en tamatie en slaaiblare as bygereg word daarmee saam bedien.

Die biefstukkies was koud, maar nogtans ʼn ruim porsie. Sag en smaaklik met die gawe geurigheid van soetsuur wanneer ʼn mens dit in die suurlemoen, sout en peper doop. Smulpape wat souse by hul biefstuk verkies, moet hierdie gereg liefs vermy.

Tamara het die diepgebraaide calamari-ringe (R95) bestel wat met soetpatatskyfies opgedaag het. Dit is ʼn kleiner en ligter maaltyd, maar het haar goedkeuring weggedra.

The Dog and Fig is gesinsvriendelik met speelplek vir die kinders en perde wat in die nabygeleë veld verbydraf. Buite, onder die sambrele en tussen die laventelstruike waar die bye fluks na blommetjies soek, kan ʼn mens vir ure lank kuier. Die binnenshuise deel is betonagtig en onpersoonlik.

Bespreek dus eerder ʼn tafel buite en maak seker dis ʼn warm sonskyndag.

Die diens was ver van voortreflik. Nie al die kelners het naambordjies nie en ons moes op ʼn stadium navraag doen wie nou regtig ons kelner is. Nie al die kelners is bereid om vuil borde weg te dra of ʼn bestelling te neem nie.

Daar is ook ontbyt, slaaie, hamburgers, verskeie peuselkos-plankies asook ʼn volledige spyskaart vir die kleinspan.

En vir die volgende besoek het ons reeds die kaas-bierproe geoormerk – vier biere (150 ml elk) wat met spesiale kaaskeuses bedien word teen R150.

  • Kobus Burger het ten volle vir sy ete betaal. Die bestuur en personeel was onbewus daarvan dat Burger die restaurant resenseer.

Bo: Frik de Jager. Onder: ʼn Wafel met ratatouille-vulsel. Foto’s: Schalk Schoombie

Wafels in die Oos-Vrystaat

deur Schalk Schoombie

Vyf vrae aan Frik de Jager, wafelkoning van Bemjamin’s in Rosendal.

Wie was Benjamin?

Die Benjamins was die enigste Joodse familie op Rosendal. Oubaas Benjamin het sy kleinhandelaar hier in die laat 1930s begin en dit het tot die 1970s bestaan. Hy het klere, skoene en gordels verkoop. Sy vrou se negosiewinkel was een blok op. Daar is mooi stories van sy vrygewigheid aan die boere in die depressiejare. Met Benjamin’s wou ek hulle nagedagtenis eer. Ek het ʼn seun en dogter van die Benjamins opgespoor en een Sondagmiddag het die nasate hier vergader. Ek is nou ʼn ere-Benjamin. Ek voel die oubaas se teenwoordigheid hier, en dis ‘n lekker een.

Wat het jou na Rosendal gelok?

Rosendal bied ʼn leefstyl en rustigheid wat min plekke in die land het. Die stilte, eenvoud en intense wisseling van die seisoene laat jou die natuur daagliks beleef. Die samewerking tussen die mense van Rosendal en Moatse is wonderlik. Hulle respekteer en kyk na mekaar.

Waarom wafels?

Anna Davel het gewonder hoekom nie een van haar foodie-vriende ʼn wafelplek het nie. Toe dink ek: Hoe kan ek wafels uniek en winsgewend maak? Ek wou soet vulsels afwissel met savoury, soos lamsbredie, bobotie, en ratatouille. Aanvanklik was soet en soutvulsels op wafels vir die locals  iets vreemds, tot hulle dit geproe het. Die wafels is maklik en vinnig, die vulsels is seisoenaal met vars bestanddele, en word vooraf gemaak. Die tannies wat kom kuier, wil iets koop, toe ek het op obskure plekke gaan soek na mooi goed soos eetware, kuns, dekor en snuisterye. Daar’s ‘n rak vol goeie tweedehandse boeke. Bring’n boek om te ruil of vir ‘n koppie koffie. Ons is sewe dae van die week oop, en oor naweke bied ek langtafels. Ek vertel kosstories van die resepte wat ek dwarsoor die land raakgekook het.

Twee donkies vir geselskap …

Dis Oscar en Basjan. Egte Botterbekke, bruin Spaanse donkies met wit pense. Almal speel met hulle, neem foto’s en voer hulle wortels. Mense stuur vir hulle geskenkies soos spesiale perdekoekies. Hulle het die handelsmerk van Benjamin’s geword en verskyn op bekers en ander produkte. Ek was my lewe lank gefassineer met donkies en wou altyd een hê. Hulle is vir my die mooiste goed. Toe ek sien daar word twee donkies op Rosendal se FB-blad geadverteer, het ek hulle dadelik aangeskaf.

In September en Oktober was jy in Griekeland.

Die kunstenaar Andries Gouws het ʼn slypskool in Molyvos op die eiland Lesbos aangebied. Ek is genooi om saam met Talking Table te kook en wou leer van Griekse kos. Hulle gebruik speserye so anders. Vryf paprika en olyfolie in die lamsboud. Sit ‘n heel appel in die bredie vir ʼn vrugtegeur, laat dit uitkook en gooi die stronk weg. Ek beplan beslis ʼn paar Griekse langtafels …

  • Benjamin’s, Hertzogstraat 292, Rosendal. Bel Frik by 084 666 6616 vir langtafels, funksies en troues.Wafels met vulsels kos R70 – R80.
Antieke beet

The common garden beet, or beta vulgaris, is a descendent of the wild sea beet, which is thought to have been cultivated in ancient Greece as early as 300 BC and presented as one of the wild offerings to Apollo in the temple of Delphi. It was the leaves, not the root, that were consumed. Aphrodite was said to eat beets to enhance her beauty, and Hippocrates made wound dressings with them. The Romans, who called the plant beta, were more interested in the root, using it as a laxative, to cure fever and as an aphrodisiac.

Beetroot burgers by Joanna Weinberg, Conde Nast Traveller, July/August 2019

New England Corn Chowder (Maklike wintersop)

5 snye spek

1 ui, gekap

2 aartappels, geskil en gesny

2 koppies water

1 teelepel sout

2 koppies vars of bevore mieliepitte (ontvries)

1 koppie melk

1 koppie ligte room

Witpeper na smaak

Braai die spek in ʼn sopkastrol tot bros. Verwyder spek en dreineer op papier. Braai uie in die spekvet tot sag en geel. Voeg aartappels, water en sout by, bedek en kook 5 minute. Voeg mielies by. (Indien verkies, verwerk een koppie mielies eers in voedselverwerker tot puree.)  Kook nog 5 minute of tot aartappels sag maar steeds ferm is. Voeg melk, room en witpeper by. Verhit die sop maar moenie kook nie. Bedien met gekrummelde spek oorgestrooi.

Famous New England Recipes, by Dolores Riccio, Colourpicture Publishers

Kerriehoendersosaties

3 – 4 ontbeende, vellose hoenderborsies

4 sagte, gedroogte appelkose

4 pruime sonder pit

4 houtstokkies

Kerriesous

4 eetlepels sonneblomolie

12 pêreluitjies, geskil maar heel gelaat

1 eetlepel matige kerriepoeier

1 eetlepel gladde appelkooskonfyt

1 eetlepel wit asyn

halwe koppie witwyn

sout na smaak

Die dag vooraf

Verhit die olie in ʼn braaipan en sauté die uie tot sag en liggies verkleur. Roer die kerriepoeier by. Voeg die appelkooskonfyt, asyn en wyn by en kook tot die mengsel stroperig raak. Laat afkoel en giet in ʼn nie-metaalagtige bak. Sny die hoender in happiegrootte stukkies en geur met sout. Sny die appelkose en pruime in die helfte. Voeg die hoender en vrugte by die kerriesous en roer deur. Bedek met kleefplastiek en laat oornag in die yskas marineer (of vir minstens 6 ure).

Op die braaidag

Hou 8 uie heel en sny die oorblywende 4 uie in stukke groot genoeg om aan die stokkies te ryg. Berei die sosaties voor deur stukke hoender, appelkose en pruime afwisselend aan die stokkies te ryg. Plaas die sosaties op ʼn rooster oor die kole. Die kerriesous brand vinnig, so hou ʼn ogie op hulle en draai gereeld. Borsel dikwels van die kerriesous. Braai vir presies 12 minute.

Le Braai, Braai with a bit of je ne sais quoi deur Kobus Botha, Struik Lifestyle, 2018

According to Alliya (Ferguson), the appeal of Persian cuisine boils down to a few delicious fundamentals. It’s aromatic rather than fiery, relying on saffron and the spice combination of cinnamon, cumin and cardamom – known in Farsi as advieh – to impart flavour. There’s also a constant interplay between sour and sweet, with ingredients such as barberries, sumac, dried limes and pomegranate molasses imbuing savoury dishes with a mellow, yet complex base of bittersweet and tart flavors. And fresh herbs – particularly parsley, coriander and fenugreek – enjoy a starring role in many dishes, where they’re treated like vegetables rather than mere taste enhancers. “I like to descrice Persian quisine as peasant food with a really sophisticated flavor profile,” she says.

From Persia with love by Annette Klinger, Taste, May 2019

Kofta – frikadelle met appelkoossous

Meng 450 g gemaalde lamsvleis met 2 klein preie wat goed afgespoel en gekap is, een teelepel rou rys, en twee eiers. Meng 1 eetlepel gekapte vars koljander, sout en peper na smaak daarby. Vorm balletjies so groot soos okkerneute. Plaas die frikadelle in ʼn groot pan met 350 ml hoenderaftreksel en laat 20 minute prut. Voeg water by indien nodig. Dreineer die frikadelle en laat afkoel. Rol die frikadelle in meel en smelt 25 g botter in ʼn groot, swaar braaipan. Wanneer die botter warm is, braai die frikadelle daarin vir 5 tot 6 minute tot mooi bruin.

Vir die  sous, week 175 g gedroogde appelkose in water en bedek vir 2 ure. Dreineer appelkose en plaas in voedselverwerker en purée. Voeg 10 gekapte knoffelhuisies, een teelepel gemaalde koljander en een eetlepel olyfolie by. Purée. Tydens die proses, giet 750 ml hoenderaftreksel stadig by. Sprinkel sout en peper na smaak by, giet in die pan en laat prut vir 5 minute terwyl jy die mengsel met ʼn houtspaan roer. Giet die sous oor die frikadelle en geniet.

Apricots on the Nile: A Memoir with Recipes by Colette Rossant, Washington Square Press, 2004

She left the room and went to the kitchen from where she could still hear the bird singing. Then she cooked the first of several meals that were her prescription to enrich the iron in her cousin’s blood. The scent of liver with onions and polenta travelled the house like an upbraiding nanny.

As it is in Heaven by Niall Williams, Picador, 1999

Eiervrug gevul met Italiaanse wors

1 groot eiervrug, in helftes gesny

1 eetlepel olyfolie

220 gram Italiaanse wors of chorizo-wors, gesny

ʼn kwart teelepel knoffelpoeier

ʼn kwart teelepel droë Italiaanse kruie

ʼn agste eetlepel swartpeper

2 eetlepels droë broodkrummels

2 koppies spaghettisous

1 koppie mozzarellakaas, geskeur

1 eier, geklits

Voorverhit die oond tot 200°C. Borsel die eiervrughelftes met olyfolie, plaas met gesnyde kant na bo op ‘ʼn bakplaat en bak vir 30 minute, haal uit en laat afkoel. Braai die Italiaanse wors in ʼn pan oor matige hitte, dreineer die vet. In ʼn mengbak, geur met knoffelpoeier, Italiaanse kruie en swartpeper. Roer die broodkrummels, halfkoppie spaghettisous, halfkoppie mozarellakaas en die geklitste eier by en meng deeglik. Wanneer die eiervrug afgekoel is, skraap die vlees uit tot 2 cm van die skil af om twee bakkies te vorm. Kap die eierplant rofweg en vou die worsmengsel daarby in. Verdeel die vulsel tussen die eiervrugbakkies, besprinkel oorblywende mozzarella oor en bak tot vulsel stewig is en die kaas begin borrel en goudbruin raak, sowat 25 – 30 minute. Verhit oorblywende sous in ʼn pan en bedien met die gevulde eiervrug.

www.allrecipes.com

“Chopsticks are one of the reasons the Chinese never invented custard.”

– Spike Milligan

Muffins met rabarber en frambose

1 teelepel koeksoda

1 teelepel bakpoeier

2 en ʼn halwe koppie koekmeel

Halwe teelepel sout

1 en ʼn kwart koppie bruinsuiker

halfkoppie sonneblomolie

1 eier

1 teelepel vanielje-essens

1 koppie karringmelk

1 en ʼn halwe koppie rabarber, gekap

Halwe koppie okkerneute of groenamandelneute (pistacchio), gekap

1 eetlepel botter, gesmelt

Derde koppie wit suiker

1 teelepel gemaalde kaneel

16 frambose

Voorverhit die oond tot 175°C. Smeer ʼn 12-holte muffinpan plus vier holtes van ʼn tweede muffinpan met botter. In ʼn medium skottel roer die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. In ʼn ander skottel, klits die bruinsuiker, olie, eier, vanielje-essens en karringmelk saam met ʼn elektriese klitser tot glad. Giet die mengsel in die droë bestanddele en meng per hand tot ʼn gladde deeg. Roer die rabarber en neute in. Skep die deeg in die muffinpan se holtes tot byna vol. In ʼn klein bakkie, roer die gesmelte botter, wit suiker en kaneel saam en sprinkel ‘n bietjie daarvan oor elke muffin. Druk ʼn framboos in elke muffin. Bak in die oond vir 20 – 25 minute. Laat afkoel op ʼn koelrak vir 10 minute voor jy die muffins loswikkel en uitlig. Smul.

“A fruit is a vegetable with looks and money.”

– P.J. O’Rourke

“Everything you see I owe to spaghetti.”

– Sophia Loren

Kos argief

  • As die eetlus vlamvat!
  • Burger kry sy burger
  • Boeretroos (en lamspastei)
  • Kubaanse kos lok jou terug
  • Ontmoet soetlief Ophelia
  • Toskaanse feesmaal
  • Omarm jou waaghalsigheid
  • Spookasem, jenewer, eend & Kuifie
  • Mmm-mariachi in die mond!
  • Skop jou dag af in Langstraat
  • Pienk plesier van Frankryk tot Marokko
  • Melville kry sy eie Whippet
  • Bring ʼn skerp mes!
Lees nou