My lewenskombers

deur Ina Cantoni

Hoe skryf jy ’n greep uit jou lewe? ’n Greep uit sewentig jaar? ’n Leeftyd waarin jy ’n kombers uit jou lewe kon weef en snoesig onder hom inkruip. Soms vir beskerming, soms vir onthou – maar dan is daar die ánder soms. Vou die ellendige ding op en sluit hom toe in die stoor. Wanneer jy die sleutel in die slot draai, bid jy dat daar honger rotte in die stoor is.

Die dele wat moet oorbly is die mooi tye; om ’n nuwe babasussie te kry op sestien. Jou troudag, die geboorte van jou kinders, ’n eerste huis, vakansies.

Daar is grys, harde wol van pyn ook ingeweef in my kombers. Dis mos onafwendbaar, sommige gebiede is nog nie van teerpaaie voorsien nie? Ons almal stap dan harde grondpad, kaalvoet.

Ek onthou die Sondagmiddag in Januarie. My suster en haar man kom onverwags kuier. Kuier? My swaertjie se woorde: “Ous, ek’s jammer. Daar was ’n ongeluk, Ma is dood.” Die pyn wat al veertig jaar oud is en nooit weggaan nie. Ingeweef in swartgrys wol.

Dan die wonderwerk! ’n Baba wanneer die veertigs loer? Ah, goudgeel snoesige sagte wol wat die res van my kombers vereer.

Weer kom ’n streep harde – maar hierdie keer sommer pikswart – wol.

Swart rook, vuur en gille. My huis brand! Alles verander in grys as, my hele lewe, ons stap dááruit sonder skoene of ’n tandeborsels. Die trauma moet verwerk word. Na nog ’n lang stuk donker grys en swart skyn die son weer geel en pink.

Dan skielik, een onskuldige dag, kom die woorde, “Dis kanker mevrou, ons moet so gou moontlik begin met chemo”.

Kry ’n mens kleurlose wol? Doodgaan is niks, maar my mense kry swaar. Twee jaar van siek wees, moeg wees, kaalkop wees en voortstrompel van een behandeling.na die volgende.

Ek staan met my kombers in my hande vandag. Die donker strepe van sestig jaar lê onder. Ek vertroetel die sagte, mooiste, ligblou: die lieflike reuk van ’n tweejarige seuntjie in my hande.

“Ouma, Zayden lief jou baie baie baie, ” lispel my swartoog engeltjie. Vir hom het ek gebid, so mooi gevra vir ’n babatjie. My eie laatlam se kind.

My lewenskombers is bont, vol kleure, plekke, het al gate ingeval, plekke van kannie onthou nie.

Hier op die laaste skof het ek tog my talent ontdek. Ek het begin skryf, eers ’n kortverhaal, toe ’n bundel kortverhale, my eerste poging tot ’n boek volg met goeie resensie, en nou spog ek met ses boeke in minder as twee jaar. As ek nie goed voel nie, tik ek, skryf ek my hart uit en net soms maak ek my seer bene toe met my lewenskombersie. Dan skryf ek stuk-stuk neer, goeie, slegte, mooi en minder mooi gedagtes. Gelukkig vir ’n skrywer mag jy alles fiktief maak en so jou eie mooi slot aan elke onaangename herinnering gee.

Storie van my lewe?

Dankbaar om hier te wees en dit te deel.

Die kunstenaar

deur André Jansen

(97 000 jaar voor vandag)

Almal is weg. Hulle los my altyd hier in die grot.

Die mans wou my lankal weggejaag het. Vandat die eland op my been getrap het. Ek kon daarna nooit reg loop nie. Hullegoed het gelag en gesê dis net mooi reg so. Ek kon mos nooit help met die jag nie. Hoeveel eland het ek gebring?

Die mans dink almal doen wat húlle sê. Dis wat die vrougoed hulle laat dink. As die vrougoed so saam-saam uintjies en bessies en mossels gaan pluk, praat hulle tjie-tjie-tjie-tjie. Sag, dat die mans nie hoor nie.

Ek lag stilletjies as ek die mans so kyk. Die vrougoed wil my hier hê.

Vir die skulpies.

Elke keer as hullegoed my hier gelos het, het ek gate in die skulpies sit en maak. Draai-draai-draai met ’n skerp been se punt. As jy kap, kap jy die skulp stukkend. Dis dae se harde werk vir een.

Later stoot ek ’n sening deur die gate in die skulpies.

Ek het die eerste skulpies om die grootvrou se nek vasgemaak. Al die vrougoed het vir haar gekyk. Toe kyk hulle vir my.

Die mans wou my wegjaag, maar ek is nog hier.

Nou eers nog kleurgoed maak.

Met die klipmes kap ek stukkies rooiklip op die plat klip. Dan maal-maal-maal ek dit met die ronde klip. Ek vee die stof in die skulp met die reënboogkleure. Hoe kan ’n skulp sulke kleure maak, maar ek kan nie?

Nou maak ek met die geelklip ook so.

Dan maal ek die hout wat gebrand het tot die plat klip swart is.

Ek weet hoeveel van elkeen se stof ek in die skulp moet sit vir die mooiste kleur.

Nou met die vinger om en om in die stof in die skulp. Alles moet mooi deurmekaar wees.

Ek sit ’n been van ’n rob in die vuur. Ek kap die warm been met ’n swaar klip stukkend. Vet en olie kom uit. Saam met die stof maak dit ’n pap.

Ek piepie ’n bietjie in die skulp vir die nat. Nou’s dit reg.

Ek hoor hullegoed buite praat.

Dit word donker, lig, donker, lig … Ek weet hulle het bok gekry. Die mans lag.

Vanaand sal hullegoed wil dans.

Hulle kyk na my skulp. Hulle knik.

Die mans kom een-een na my toe. Ek trek die strepe oor elkeen se gesig. Oor sy bors. Oor sy bo-arms.

Die vrougoed kom een-een na my toe. Ek trek die strepe oor elkeen se gesig. Oor haar bors. Oor haar bo-arms.

Die jongmeisiegoed kom ook.

Sy lê altyd weg van my en slaap. Sy loer na my voor sy slaap. Ek loer na haar voor ek slaap.

Ek trek die strepe oor haar gesig. Oor haar bo-arms. Toe ek die strepe oor haar tieties trek, borrel haar lag. Sy trek haar skouers ’n bietjie op.

“Dit kielie,” sê sy.

Ek sien hoe haar tieties se puntjies styf trek.

Sal sy nader aan my kom lê?

Die Moroon

deur Henk Crouse

Petro skuif versigtig verby almal in die ry. Die saal is alreeds byna vol. Haar hoë hakke trap versigtig tussen die blink skoene. Die een oop sitplek lyk bestem vir haar. Sy gaan sit en trek haar romp effens af oor haar bruin bene. Hier sal hy haar nie kan miskyk nie. Sy kyk rond en herken ’n paar van die akademici. Prof Malherbe sit skuins voor haar, getooi in meerderwaardigheid. Langs hom sit dr. Pretorius en fluister in sy oor. Hy kyk fronsend terug maar sy oë verdwaal tussen die mense.

Die ligte verdoof en Deon stap oor die verhoog. Sy hees stem skilder rou kwashale met die woorde uit sy boek wat sy reeds so goed ken, die boek wat opslae gemaak het. Hy ontken dat dit outobiografies is, maar sy weet van beter. Die protagonis, ’n dosent wat ’n obsessie ontwikkel met een van sy studente, ’n rooikop met lang bruin bene en die verhouding wat sy gesinslewe ontwortel het …

Sy raak verlore in sy woorde. Dit kom als terug. Sy het Deon laatmiddag op kantoor gaan sien. Sy stem was toe ook hees terwyl hy vir haar voorlees uit die voorgeskrewe boek. Sy blou oë het oor die boek tot in haar gekyk. Hy het haar gevra om saam met hom te gaan eet by ’n hotel met ’n intieme restaurant. Na ete en ’n bottel wyn het hulle ’n kamer bespreek. Sy onthou sy honger hande oor haar lyf, sy mond soekend in haar nek. Hoe hy die volgende oggend vir haar sê dat al is hulle sielsgenote, mag dit nooit weer gebeur nie, dat hy ’n belofte voor God gedoen het. Dat al voel dit vir hom hulle hoort bymekaar, is dit verby. Sy vrou, sy twee pragtige dogtertjies … By die deur het hy haar verlaas gesoen en toe die deur saggies agter hom toegemaak.

Wat gaan hy doen as hy haar hier sien sit? Gaan hy haar herken, dalk struikel oor sy woorde? Die duur baadjie span om sy skouers. Sy oë soek deur die gehoor. Dan kyk hy reguit vir haar en vra, “Susan, sou jy saamstem dat die ek-verteller die protagonist in staat stel om ’n meer intieme oorsig vir die leser te gee?”

Sy is totaal verward. Moet sy opstaan of bly sit? Wat moet sy sê om nie soos ’n moroon te klink voor al hierdie belese mense nie? Sy antwoord half skaam: “Deon, ja ek reken die ek-verteller stel die skrywer in staat om met meer selfvertroue sy psige te ontbloot, dis tog te vestane dat …”

Hy val haar in die rede, sonder verskoning, sy stem raas deur die saal.

“Dankie Juffrou, maar ek het eintlik met dr Susan Cronje gepraat wat agter jou sit.”

Rooi polvye

deur Anja Roodt

“En koop WAT hiermee, Etienne?”

Tersia hou die geld wat haar man langs haar neergesit het, in die lug. Sy is besig om sy kospakkie te pak.

“Mannnn, daai rooi skoene wat jy so graag wil hê, koop dit en klaar … dis ’n opdrag!”

Tersia se vrolike lag dwarrel nog rondom hulle terwyl Etienne die sleutels gryp, ’n piksoen op haar wang plant en met ’n: “Ek’s laat, sien jou later met jou rooi polvytjies,” die deur vining oop- en toemaak teen die wind.

“Simply the best,” neurie Tersia glimlagend saam met Tina Turner terwyl sy die kombuis opruim, haar presentgeld in haar handsak druk en klaarmaak om die ongure dag aan te durf.

Sy parkeer onder haar geliefde boom, waardeer die blare wat oor die terrein verstrooid lê en draf die trappies op tot voor die uithangbord: Dr Tersia Roux, Sielkundige, met al haar kredensies daarby aangestip.

Sy hak haar handsak praat-praat oor die leunstoel en roep na Ansie, haar sekretaresse.

“Môre Ansie, nee jong, ek sal na hierdie moegheid moet laat kyk. Ek kan nie eers die trappies behoorlik uitdraf nie,” groet sy. “Dankie vir die koffie Ans, en ’seblief, maak tog maar ’n doktersafspraak vir my.”

Ansie loer onder haar fringe deur: “Hmmm, hoogtyd, vier jaar getroude lewe vra vir klein bondeltjies nuus, en ek kom agter jou energievlakke daal beslis. Ek maak so …”

Etensuur vertel Tersia met ’n sagte glimlag van Etienne se “opdrag” en draf uit.

Na ete paradeer sy op en af met haar rooi polvaais. “Pronk ma’, een van die dae dra jy plat skoentjies met wye rokkies,” lag Ansie.

Laatmiddag sluit Tersia en Ansie die spreekkamer en ry huis toe.

Uiteindelik tuis ná hewige stadsverkeer, toeters en taxi’s, besluit Tersia om Etienne in te wag met haar nuwe polvye terwyl sy met aandete begin.

Etienne kruip teen ’n slakkepas deur die verkeer tot by hulle huis. Die wind stoot ’n paar blare saam met hom in wanneer hy die voordeur oopsluit en soos altyd roep:

“Honey, I’m home …”

Polsende musiek begroet hom toe hy vinnig die deur teen die wind toestoot en sy aktetas neersit.

Hy stap op die brandreuk in die kombuis af, maar steek vas as hy een rooi polvy half agter die bank sien uitsteek.

“Jaaaa … dis hoekom dit brand innie kombuis,” lag hy en sak langs Tersia op die mat neer. “Skuif op, so bly jy’t hulle gaan koop,” lag hy met ’n wysvinger na die polvye en trek haar nader.

“Lief, lieffffffffff, liefffffffffffffff!” skeur rouklanke deur sy keel wanneer hy Tersia se lewelose liggaam teen hom aandruk.

Fluisterstemme dring tot Etienne deur toe ambulansmanne vir Tersia op die draagbaar tel.

Iemand se hand kom rus op sy skouer. “Jammer Meneer, dit was ’n massiewe hartaanval.” Hy trek die rooi hoëhakskoene met eerbied uit en hou dit na Etienne uit.

Ná die Val

deur Jan Schaafsma

Ek wil ’n renoster sien. Enige renoster. Hy moet horings hê, en êrens staan en gras kou. Of blare. Wat kou ’n renoster?

Witrenoster, swartrenoster, maak nie saak nie. Wat’s die verskil? Iets met die bolip te doen, mos. Van een is daar nog ’n skaflike klompie, van die ander baie min. Die een is ’n moerige kalant, die ander sal jou miskien eers so staan en kyk voor hy jou skraap.

Ek weet dis ’n bul van ’n besluit, want hier sit ek stokalleen op Bettysbaai, byna heel suid, en renosters is daar bo in die noorde, behalwe as hulle al hiernatoe begin stap het. Dis ’n plan wat harmansdrup lyf gekry het terwyl ’n pikkewyn se sousies op die kole drup. Niks jaag my nie. Daar’s tyd. Spanne tyd. Die res van my lewe.

Dis lank genoeg ná die Val, toe die grootste sikloon ooit, die wêreldbankkrisis en waansinnige besluite Eskom finaal oor die afgrond gestoot het, en daar géén krag meer was nie. Die banke en winkels en departemente se stelsels was almal in hul moer. Al het dit niks gehelp om ’n kaart in ’n masjien te druk nie, het mense orals in hul motors geklim om op ’n ander plek te probeer. Miskien … Dalk …

Ek was reg vir die val.

Die pad – die enigste pad – deur Bettysbaai was een aaneenlopende stroom voertuie (die N2 was gesluit) toe botsings op die brug by Steenbrasriviermond, en die een oor die Palmietrivier, daardie één pad in ’n saamgekoekte verkeersknoop van veertig kilometer lank omskep het.

Niemand sou dit ooit kon ontknoop nie.

Maar ek was reg vir die val.

Ek het teen die berg opgeklim tot waar ek maande tevore reeds met verdrag voorrade gebêre het. Dit was die tyd van die fisantkuiken wat doodstil gaan sit as gevaar dreig. Dit was die tyd van die verkleurmannetjie.

Van bo kon ek sien hoe vernietig mense mekaar. ’n Vragmotor met bier kan mos langs die pad geparkeer staan terwyl die kaste na die winkel gedra word, maar laat hom net êrens omval. Kyk hoe verander mense dán oombliklik in diere.

Van bo kon ek sien hoe strome mense Kleinmond of Gordonsbaai toe loop.

Van bo kon ek sien hoe die brand wat uitgebreek het, die helfte van die dorp ongehinderd verwoes.

Van bo kon ek hoor hoe die honde in die huise een vir een ophou blaf, tot die laaste getjank stil geraak het.

Van bo het ek oplaas, toe ek seker was dis veilig, teen die berg afgeloop, tussen die motorwrakke deur, verby die swart murasies, tot by die pikkewynkolonie.

Dáár het ek toe ook nes geskrop. Gaan kyk wat eetbaar is. Noem-noems in mense se heinings. Dennepitte. Lukwarte en vye van opslagbome. Swartmossels. Veldsampioene.

Ek het nie by huise ingebreek en blikkies oopgemaak nie, want ek wou van die veld lewe.

In my siel het ek geweet ek wil eendag ’n renoster sien.

Dis nou daardie dag.

Geblomde waterskoene

deur Jannine Bester

Bertus van Tonder het in sy lewe nog nooit so iets gesien nie! Daar staan sy. Bloedrooi hakskoene, halfpad weggesak in die beesmis. Notaboek en shocking pienk pen vasgeklem in haar verskrikte greep, beblomde sak wat oor haar skouer wieg. ’n Man kan wraggies lag oor die spektakel, maar Bertus versuim. Vraend …

“Meneer van Tonder, aangenaam. Lallies Venter.”

Bertus wil praat, maar sy tong verloor die woorde terwyl Lallies deur die beesmis ploeg, al nader aan hom.

“Lekker klompie bees.”

Bertus forseer sy hand onwillig oor sy mond in ’n poging om die skreeulag te stuit. “Juffrou Venter …”

“Sommer Lallies, Meneer van Tonder.”

“Lallies, hoe kan ek jou help?”

Lallies glimlag oorgretig terwyl sy haar hand afmakerig swaai. “Nee meneer van Tonder, ek is hier om jou te help.”

Al wat Bertus kan uitkry is: “Los maar die meneer, asseblief.”

Toe kom die ontnugtering van sy lewe: “Jou advertensie, die voerkraalbestuurder.”

Skielik raak die gedoente van belang. Voor Bertus kon keer, glip die woorde oor sy voorheen stom tong: “Lallies, hoe op aarde gaan jy in daai paar rooi hakskoene ’n voerkraal bestuur?

Weer eens lê Bertus se tong lam toe Lallies ’n paar waterskoene uit haar blomsak pluk, ook geblom natuurlik!

“Eerste indrukke tel, Bertus, maar ek durf beslis nie my oorlog aan sonder die regte wapens nie.” Met haar geblomde waterskoene steeds uitgestal word Bertus se tong vir die soveelste keer vandag uitgedaag om stil te wees toe Lallies aandui dat sy gereed is om hom te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Eensaam lê haar paar misbesmeerde hakskoene langs Bertus terwyl Lallies, geblomde waterskoene en al, bevele begin uitroep in die rigting van sy heiligdom. Soos ’n pyl uit ’n boog skiet Bertus op Lallies af, lam tong en al. Grou, krap, beveel! Die oënskynlike juffertjie is besig om boots and all sy bestaan oor te neem.

Uiters stomgeslaan sien Bertus hoe Petrus, wat wéét hoe hy voel oor inmenging by prosesse wat beproef en wet geword het, Lallies se bevele uitvoer. Al wat hom nog herinner aan die onbeholpe spektakel in die beesmis is haar pienk pen wat op en af swaai soos sy notas maak.

Voor Bertus protes kan aanteken, swaai Lallies skielik om en loop vasberade op hom af. Sy stop haar notaboek in sy hand terwyl sy haar selfoonnommer onderstreep. “As jy klaar hierdeur gewerk het, kontak my, ek kan dadelik begin.” Met haar misbekoekte skoene veilig in haar beblomde sak, verdwyn sy sonder ’n verdere woord.

“Fantasties, dan sien ek jou môre, juffrou Venter, moenie laat wees nie!”

Wil jy nou meer, dink Bertus toe hy die foon neersit. Vandag het hy geleer wat dit beteken om nie iemand op sy baadjie … of liewer haar skoene te takseer nie.

Vloer 44

deur Krisjan Fourie

As ʼn spook vir ʼn mens iets wil sê, beweeg dit glo deur ʼn oop deur, venster of gang sodat jy dit kan volg. As die spook niks het om te sê nie, beweeg dit deur ʼn muur, vloer of plafon sodat jy dit nie kan agterna sit nie. Maar wees veral bedag – as ʼn spook in die nag wil hê jy moet hom of haar volg.

Die Ponte in Berea se 54 verdiepings troon al sedert 1976 bo Johannesburg se stadsgeraamte as die hoogste woonstelgebou in Afrika. Toe die bloedjong 29-jarige argitek Rodney Grosskopf die gebou ontwerp het, het hy geen benul gehad dat dit Suid-Afrika se selfdoodmagneet sou word nie. ʼn “Totempaal van Trane” of “Tower of Death” vir die 66 wanhopige siele wat vandaar die aarde se aantrekkingskrag aangegryp het. Ironies ook dat die meeste nie na die binneste holte van die gebou gespring het nie. Eerder na buite toe, waar die ganse Goudstad hul gehoor was.

Sy het geweet dit gaan moeilik wees. Haar broer kan nie meer alleen daar bly nie, veral nie na die kanker sy kêrel kilogram vir kilogram weggekalwe het nie. Toe D-dag aanbreek staan sy onder die woonstelgebou se ingang by die blombak bougainvilleas. Haar broer klok haar in by die sekuriteitshek onder. Streng toegangsbeheer is ʼn moet in 1995. Met die eerste verkiesing verby, sluip uitlanders na die goudpotte van Hillbrow met sy aanloklike demokrasie.

Daar is ʼn hele paar hysbakke in die Ponte wat veronderstel is om die inwoners soos miere op en af te karwei, maar vandag werk net een. Dit beteken dat dit gereeld stilhou. Ongure karakters klim in en uit, wat jou aanstaar asof Jan van Riebeeck jou ingedra het.

Die hysbak wemel van rare mense. ʼn Narsistiese Nigeriër, ʼn zolverkopende Zimbabwiër, ʼn hoogswanger Malawiër en ʼn ou man met net een oog wat stip vir jou kyk. En hulle is nog nie eens by vloer 22 nie.

Op vloer 33 klim ʼn flambojante fopdosser in, en kort op haar hakke ʼn haarkapper met ʼn pienk kwaff wat duidelik nie ʼn spieël besit nie.

Die hysbak stop op vloer 44, waar haar broer al 10 jaar woon. Sy kon nog nooit verstaan dat iemand met hoogtevrees in so ʼn hoë gebou sal wil bly nie.

Die woonsteldeur staan oop en die donker reuk van ou begrafnisblomme hang toegetrek in ʼn skemer van onoopgemaakte vensters en gordyne. Sy stap na sy slaapkamer en skep lig en lug. Hillbrow lyk mooi van ver – amper soos ʼn wenkbrou wat jou naderwink om die skoonheid van sy strate te kom insnuif.

Haar broer bly in sy kamer, en sy stap ingangsportaal toe. Drie gemerkte bokse is al wat saamgaan. Kombuis. Kiekies. Kitsch. En een satynserpie. Die res van sy besittings het hy verlede week buite die voordeur gelos. Dis gebuit binne ʼn oggend, selfs die yskas.

Toe hoor sy dit. ʼn Dowwe plof. ʼn Vrou wat gil. Sirenes. Sy moet hier uitkom. Sy gryp die satynserpie. Haar broer kom uit sy slaapkamer. Hulle stap hysbak toe. Dit wag reeds. Op pad ondertoe stel hy haar voor.

Aan die narsistiese Nigeriër, die zolverkopende Zimbabwiër, die hoogswanger Malawiër en die ou man met net een oog wat stip vir jou kyk. Ook die flambojante fopdosser en die haarkapper met ʼn pienk kwaff wat duidelik nie ʼn spieël besit nie.

Op die grondvloer staan die sekuriteitshek oop. Daar is baie polisie, en die opsigter is bleek.

Sy het geweet dit gaan moeilik wees. Langs die blombak bougainvilleas gooi sy die serpie oor dit wat oorgebly het van ʼn man.

Wie’s daardie vrou?

deur Elmi Smith

Ons plaasdorpie het ’n motorhawe, kafee, slaghuis, algemene handelaar, koöperasie, boeresaal, begrafnisonderneming, paar woonhuise, drankwinkel, nog ’n slaghuis en ’n kerk. Nie ’n haarkapper nie.

Die ver grootdorp het alles, en vier haarkappers.

Ons boer met wild.

Bokke gee nie om hoe jou hare lyk nie. Mense op die plaasdorp gee om hoe jou hare lyk, wat jy aantrek en of jy plaaslik aanvaarbaar is. Die evaluasie vind gewoonlik plaas in die tien minute op ’n Sondag voor die oggenddiens wanneer almal jou soengroet.

Tydens een onvermydelike haarkapperbesoek bevind ek myself op ’n riempiesbank in die grootdorphaarsalon. Saartjie het reeds my hare gewas en ’n spierwit handdoek om my kop gedraai. Ek moet net ’n rukkie wag, sy bring vir my tee, Chandalore sal nou klaar wees met tannie Aletta se tease en dan sal sy my kom sny.

Met dié dat ek meer gereeld bokke as mense sien, blaai ek nie eers deur laasjaar se kersfeesuitgawe van die Landbouweekblad nie maar bestudeer eerder die vrouens om my.

Ek sit half verskuil agter ’n monsteragtige potplant en kan ongemerk almal se refleksies in die groot muurspieëls dophou.

Die blonde vroutjie herken ek van die poskantoor af. Toonbank nommer twee. Ek het altyd gewonder of sy self haar Dolly Parton-haarstyl doen. Blykbaar nie. Die ooreenkoms met Dolly eindig ook nie by haar hare nie.

Die swartkopvroutjie is Dokter se ontvangsdame. Sy werk Maandae, Woensdae en Vrydae. Dinsdae en Donderdae is teaterdae en dan help Dokter se eie vrou uit. Die hele dorp wonder wanneer Mevrou Dokter gaan agterkom dat Dokter se teaterure twaalfuur ophou en dat hy en swartkopvroutjie elke week twee middae saam vry het.

Agter my rug sit tannie Aletta met die onderste helfte van haar kop getease en gekam en die boonste helfte nog net getease. As sy só uitstap, sal menige tiener haar haar punkhaarstyl beny.

Langs tannie Aletta sit die voorsitster van die VLU. Ek eien haar aan die foto op die voorblad van die plaaslike koerantjie. ‘Mevrou Jurie Bezuidenhout, voorsitster van die Vroue Landbou-unie Limpopo, oorhandig die Voluit Vrouwees wisseltrofee aan mejuffrou Alexandra-Anne Botha vir haar onbaatsugtige bydrae tot die hervestiging van ongehude moeders en die gepaardgaande herstel van verbrokkelde gesinne in bosveldgemeenskappe dwarsoor die provinsie.’ (Het die joernalis nog werk?!) Mevrou Jurie Bezuidenhout is besig om haar donker hare van die foto te kleur na ’n meer eksotiese roesbruin met, kan dit wees, geel tint?

Ek loer om die potplant om te sien of ek iemand gemis het.

’n Vrou wat ook sit en wag om gedoen te word, loer terug na my.

Haar hare ook reeds gewas en wit toegedraai.

Wie’s dáái vrou?

Ek vat ’n slukkie tee en loer weer.

Sy loer terug.

Wie ís daai vrou?

Ek glimlag vriendelik, sy glimlag terug.

Eers toe ek my koppie in haar rigting lig in ’n gemaakte heildronk op ons enerse situasies, en sy doen dieselfde, kom ek agter: daai vrou wat ek nie ken nie … is ek.

Die son trek water

deur Marnus Kok

Ribat sit agter drie opgestapelde melkkratte agter die toonbank in sy winkel. Sy vrou is in die kombuis besig met hul pasgebore baba in ʼn kombers op haar rug vasgemaak. Twee mans wag vir die tjips wat hulle bestel het.

Die een man tree vorentoe. “Are the chips coming?”

“Yes,”antwoord Ribat.

“You must hurry up,” sê die man en maak geluide.

Ribat sien dat sy vrou beangs lyk toe sy die man se pakkie tjips bring.

Die man het ʼn sigaret in sy mond. “I want a light,” sê hy en hou sy hand na Ribat.

Ná hy sy sigaret aangesteek het, bekyk hy die deurskynende aansteker teen die lig. Hy steek dit in sy sak.

“Give back my light,” sê Ribat.

Hulle lag kliphard en stap uit. Ribat sien uit die hoek van sy oog dat sy vrou na hom kyk, maar hy kan haar nie in die oë kyk nie.

Drie polisiemanne staan voor die koeldrankyskas. Dit lyk nie asof hulle sien wat gebeur het nie. Hulle haal ʼn tweeliter-Coke uit.

“It is warm today,” sê die een. “Give us cups please.”

Ribat trek twee polistereenkoppies onder die toonbank uit.

“Twenty rand.”

Die vet polisieman begin lag. “You don’t understand. We protect you.”

Sy kollega onderbreek hom. “And it is warm today.”

Ribat gaan sit weer op die melkkratte.

Sy vrou het pas hul seuntjie se geboorte laat registreer by binnelandse sake.

Op sy geboortesertifikaat staan: Born in South Africa.