Rooi polvye

deur Anja Roodt

“En koop WAT hiermee, Etienne?”

Tersia hou die geld wat haar man langs haar neergesit het, in die lug. Sy is besig om sy kospakkie te pak.

“Mannnn, daai rooi skoene wat jy so graag wil hê, koop dit en klaar … dis ’n opdrag!”

Tersia se vrolike lag dwarrel nog rondom hulle terwyl Etienne die sleutels gryp, ’n piksoen op haar wang plant en met ’n: “Ek’s laat, sien jou later met jou rooi polvytjies,” die deur vining oop- en toemaak teen die wind.

“Simply the best,” neurie Tersia glimlagend saam met Tina Turner terwyl sy die kombuis opruim, haar presentgeld in haar handsak druk en klaarmaak om die ongure dag aan te durf.

Sy parkeer onder haar geliefde boom, waardeer die blare wat oor die terrein verstrooid lê en draf die trappies op tot voor die uithangbord: Dr Tersia Roux, Sielkundige, met al haar kredensies daarby aangestip.

Sy hak haar handsak praat-praat oor die leunstoel en roep na Ansie, haar sekretaresse.

“Môre Ansie, nee jong, ek sal na hierdie moegheid moet laat kyk. Ek kan nie eers die trappies behoorlik uitdraf nie,” groet sy. “Dankie vir die koffie Ans, en ’seblief, maak tog maar ’n doktersafspraak vir my.”

Ansie loer onder haar fringe deur: “Hmmm, hoogtyd, vier jaar getroude lewe vra vir klein bondeltjies nuus, en ek kom agter jou energievlakke daal beslis. Ek maak so …”

Etensuur vertel Tersia met ’n sagte glimlag van Etienne se “opdrag” en draf uit.

Na ete paradeer sy op en af met haar rooi polvaais. “Pronk ma’, een van die dae dra jy plat skoentjies met wye rokkies,” lag Ansie.

Laatmiddag sluit Tersia en Ansie die spreekkamer en ry huis toe.

Uiteindelik tuis ná hewige stadsverkeer, toeters en taxi’s, besluit Tersia om Etienne in te wag met haar nuwe polvye terwyl sy met aandete begin.

Etienne kruip teen ’n slakkepas deur die verkeer tot by hulle huis. Die wind stoot ’n paar blare saam met hom in wanneer hy die voordeur oopsluit en soos altyd roep:

“Honey, I’m home …”

Polsende musiek begroet hom toe hy vinnig die deur teen die wind toestoot en sy aktetas neersit.

Hy stap op die brandreuk in die kombuis af, maar steek vas as hy een rooi polvy half agter die bank sien uitsteek.

“Jaaaa … dis hoekom dit brand innie kombuis,” lag hy en sak langs Tersia op die mat neer. “Skuif op, so bly jy’t hulle gaan koop,” lag hy met ’n wysvinger na die polvye en trek haar nader.

“Lief, lieffffffffff, liefffffffffffffff!” skeur rouklanke deur sy keel wanneer hy Tersia se lewelose liggaam teen hom aandruk.

Fluisterstemme dring tot Etienne deur toe ambulansmanne vir Tersia op die draagbaar tel.

Iemand se hand kom rus op sy skouer. “Jammer Meneer, dit was ’n massiewe hartaanval.” Hy trek die rooi hoëhakskoene met eerbied uit en hou dit na Etienne uit.

Ná die Val

deur Jan Schaafsma

Ek wil ’n renoster sien. Enige renoster. Hy moet horings hê, en êrens staan en gras kou. Of blare. Wat kou ’n renoster?

Witrenoster, swartrenoster, maak nie saak nie. Wat’s die verskil? Iets met die bolip te doen, mos. Van een is daar nog ’n skaflike klompie, van die ander baie min. Die een is ’n moerige kalant, die ander sal jou miskien eers so staan en kyk voor hy jou skraap.

Ek weet dis ’n bul van ’n besluit, want hier sit ek stokalleen op Bettysbaai, byna heel suid, en renosters is daar bo in die noorde, behalwe as hulle al hiernatoe begin stap het. Dis ’n plan wat harmansdrup lyf gekry het terwyl ’n pikkewyn se sousies op die kole drup. Niks jaag my nie. Daar’s tyd. Spanne tyd. Die res van my lewe.

Dis lank genoeg ná die Val, toe die grootste sikloon ooit, die wêreldbankkrisis en waansinnige besluite Eskom finaal oor die afgrond gestoot het, en daar géén krag meer was nie. Die banke en winkels en departemente se stelsels was almal in hul moer. Al het dit niks gehelp om ’n kaart in ’n masjien te druk nie, het mense orals in hul motors geklim om op ’n ander plek te probeer. Miskien … Dalk …

Ek was reg vir die val.

Die pad – die enigste pad – deur Bettysbaai was een aaneenlopende stroom voertuie (die N2 was gesluit) toe botsings op die brug by Steenbrasriviermond, en die een oor die Palmietrivier, daardie één pad in ’n saamgekoekte verkeersknoop van veertig kilometer lank omskep het.

Niemand sou dit ooit kon ontknoop nie.

Maar ek was reg vir die val.

Ek het teen die berg opgeklim tot waar ek maande tevore reeds met verdrag voorrade gebêre het. Dit was die tyd van die fisantkuiken wat doodstil gaan sit as gevaar dreig. Dit was die tyd van die verkleurmannetjie.

Van bo kon ek sien hoe vernietig mense mekaar. ’n Vragmotor met bier kan mos langs die pad geparkeer staan terwyl die kaste na die winkel gedra word, maar laat hom net êrens omval. Kyk hoe verander mense dán oombliklik in diere.

Van bo kon ek sien hoe strome mense Kleinmond of Gordonsbaai toe loop.

Van bo kon ek sien hoe die brand wat uitgebreek het, die helfte van die dorp ongehinderd verwoes.

Van bo kon ek hoor hoe die honde in die huise een vir een ophou blaf, tot die laaste getjank stil geraak het.

Van bo het ek oplaas, toe ek seker was dis veilig, teen die berg afgeloop, tussen die motorwrakke deur, verby die swart murasies, tot by die pikkewynkolonie.

Dáár het ek toe ook nes geskrop. Gaan kyk wat eetbaar is. Noem-noems in mense se heinings. Dennepitte. Lukwarte en vye van opslagbome. Swartmossels. Veldsampioene.

Ek het nie by huise ingebreek en blikkies oopgemaak nie, want ek wou van die veld lewe.

In my siel het ek geweet ek wil eendag ’n renoster sien.

Dis nou daardie dag.

Geblomde waterskoene

deur Jannine Bester

Bertus van Tonder het in sy lewe nog nooit so iets gesien nie! Daar staan sy. Bloedrooi hakskoene, halfpad weggesak in die beesmis. Notaboek en shocking pienk pen vasgeklem in haar verskrikte greep, beblomde sak wat oor haar skouer wieg. ’n Man kan wraggies lag oor die spektakel, maar Bertus versuim. Vraend …

“Meneer van Tonder, aangenaam. Lallies Venter.”

Bertus wil praat, maar sy tong verloor die woorde terwyl Lallies deur die beesmis ploeg, al nader aan hom.

“Lekker klompie bees.”

Bertus forseer sy hand onwillig oor sy mond in ’n poging om die skreeulag te stuit. “Juffrou Venter …”

“Sommer Lallies, Meneer van Tonder.”

“Lallies, hoe kan ek jou help?”

Lallies glimlag oorgretig terwyl sy haar hand afmakerig swaai. “Nee meneer van Tonder, ek is hier om jou te help.”

Al wat Bertus kan uitkry is: “Los maar die meneer, asseblief.”

Toe kom die ontnugtering van sy lewe: “Jou advertensie, die voerkraalbestuurder.”

Skielik raak die gedoente van belang. Voor Bertus kon keer, glip die woorde oor sy voorheen stom tong: “Lallies, hoe op aarde gaan jy in daai paar rooi hakskoene ’n voerkraal bestuur?

Weer eens lê Bertus se tong lam toe Lallies ’n paar waterskoene uit haar blomsak pluk, ook geblom natuurlik!

“Eerste indrukke tel, Bertus, maar ek durf beslis nie my oorlog aan sonder die regte wapens nie.” Met haar geblomde waterskoene steeds uitgestal word Bertus se tong vir die soveelste keer vandag uitgedaag om stil te wees toe Lallies aandui dat sy gereed is om hom te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Eensaam lê haar paar misbesmeerde hakskoene langs Bertus terwyl Lallies, geblomde waterskoene en al, bevele begin uitroep in die rigting van sy heiligdom. Soos ’n pyl uit ’n boog skiet Bertus op Lallies af, lam tong en al. Grou, krap, beveel! Die oënskynlike juffertjie is besig om boots and all sy bestaan oor te neem.

Uiters stomgeslaan sien Bertus hoe Petrus, wat wéét hoe hy voel oor inmenging by prosesse wat beproef en wet geword het, Lallies se bevele uitvoer. Al wat hom nog herinner aan die onbeholpe spektakel in die beesmis is haar pienk pen wat op en af swaai soos sy notas maak.

Voor Bertus protes kan aanteken, swaai Lallies skielik om en loop vasberade op hom af. Sy stop haar notaboek in sy hand terwyl sy haar selfoonnommer onderstreep. “As jy klaar hierdeur gewerk het, kontak my, ek kan dadelik begin.” Met haar misbekoekte skoene veilig in haar beblomde sak, verdwyn sy sonder ’n verdere woord.

“Fantasties, dan sien ek jou môre, juffrou Venter, moenie laat wees nie!”

Wil jy nou meer, dink Bertus toe hy die foon neersit. Vandag het hy geleer wat dit beteken om nie iemand op sy baadjie … of liewer haar skoene te takseer nie.

SKROP Kortstoriewedstryd!

Neem deel aan SKROP se Kortstoriewedstryd en stuur vir ons jou oorspronklike Afrikaanse kortstorie oor enige tema van jou keuse – in 500 woorde of minder. Die beste stories sal hier op ons storieblad verskyn, en die wenner kry ‘n stapel uitgesoekte lekkerleesboeke. Die wedstryd duur tot 30 Junie 2019, wanneer die wenner aangekondig sal word. Waarom wag? Skryf daai storie, en hou dit kort! Stuur jou inskrywing aan skropwerf@gmail.com

Storiemasjiene op die stasie

Druk ‘n knoppie, en siedaar – die ventmasjien spoeg ‘n gratis kortstorie uit wat jy op die trein werk toe kan lees.

Die Franse maatskappy Short Edition se eerste “storiemasjiene” is onlangs op Canary Wharf in Londen geïnstalleer. Die drie masjiene verskaf stories wat in drie of vyf minute gelees kan word. Sulke masjiene is ook op plekke dwarsoor Frankryk, in Hongkong en die VSA ingerig, berig The Guardian.

Genres sluit in wetenskapfiksie, kinderstories en romantiese verhale, met bydraes deur skrywers soos Charles Dickens, Virginia Woolf en Lewis Carroll. Die gewilde misdaadskrywer Anthony Horowitz het opdrag gekry om ‘n eenminuutstorie te skryf, en hy het besluit op ‘n whodunit. “Dit was ‘n uitdaging om ‘n storie te skryf wat tussen twee stasies gelees kan word – nie net ‘n kortstorie nie, maar ‘n kort-kortstorie,” sê hy. Dit het hom sowat vier dae geneem om die storie te voltooi.

Die Canary Wharf Group het besluit om in ‘n behoefte aan korter leesstof te voorsien ná bevindings dat mense nie genoeg tyd het om boeke klaar te maak nie. Volgens ‘n peiling van 2 000 Britse volwassenes kon meer as ‘n derde nie ‘n boek in ses maande klaarlees nie.

The Guardian

Kortstories argief

  • Vloer 44 deur Krisjan Fourie
  • Wie’s daardie vrou? deur Elmi Smith
  • Die son trek water deur Marnus Kok
Lees nou