Die Chinese pianis Antonio Chen Guang

 Guang begeester met Prokofiëf 3

 deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Roderick Cox (dirigent) en Antonio Chen Guang (klavier). Program: Ouverture: Die Entführung aus dem Serail (Mozart); Klavierkonsert no. 3 in C majeur, opus 26 (Prokofiëf); Simfonie no. 4 in e mineur, opus 98 (Brahms). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Pianiste is ʼn aparte spesie in die musiekwêreld. In hul eie oë bevolk hulle sonder twyfel die elite onder musici. Hulle bevind hulself op ʼn aansienlike aantal trappies hoër as húlle wat maar net melodiese instrumente bespeel. Die meeste het ook ego’s wat rotsvas staan en selde wankel. By sommige word selfs grade van narcissisme aangetref. Gelukkig loop jy ook ander raak wat nederig bly in hul roeping om die totale wese van die komponis wat hulle uitvoer sentraal te laat staan. Helaas is hulle in ʼn minderheid – veral deesdae.

Oor die afgelope twee weke het twee jong klawerbordmagiërs met stewige CV’s met talle klavierkompetisie-oorwinnings daarop as soliste saam met die JFO opgetree: Die Rus Dmitry Shishkin en die Chinees Antonio Chen Guang: Enorm verskillend wat temperament en musikaal-tegniese uitdrukkingskrag betref. Shishkin kon nie naastenby Chopin se Poolse hart in sy vertolking van die e-mineur klavierkonsert omvou nie. Omtrent alles by hom het rondom tegniese belustiging en momentele “mooispelery” bly vassteek –  die vinnigste manier om Chopin totaal te verloor. In teensteling het Guang  Prokofiëf se Klavierkonsert no. 3 in C soos ʼn Bybelse Simson benader, maar juis veral ook al sy reserwekrag oordeelkundig ingespan om die komponis se wydlopende en kleurryke fantasmagorie soos ʼn laserstraal te belig.

Guang het ʼn begeesterde, maar totale beheer oor die intensiteit waarmee hy die komponis se tipiese, individuele Russiese klankidioom oordra. Daar bestaan geen beperkinge in die wyse waarop hy die oorkoepelende grootsheid van die werk se struktuur kon laat kontrasteer met die fyner detail wat in die soloparty verskuil lê nie. Sy tegniese ewewigtigheid lei daartoe dat die concerto se hoëvlak-oorspronklikheid – m.i. uniek in 20ste eeuse klavierrepertorium – met ʼn  nuutklinkende brio en verrukking luisteraars se bewussyn kon binnedring.

Die enigste kritiek wat geuiter kan word, is dat die eerste deel se Allegro-tempo plek-plek ietwat getemper kon wees om momentele slordighede te vermy. Origens was dit ʼn vertolking wat alle emosies binnedring deur die pianis se weloorwoë benadering en beskouing van wat Prokofiëf wou oordra. Guang se sukses deel hy met die totale betrokkenheid wat die Amerikaanse dirigent Roderick Cox en die JFO openbaar het. Cox het die komponis se meesterlike orkestrale vindingrykheid in elke maat belig en jou vir eens opnuut bewus daarvan gemaak dat ʼn concerto, soos in dié geval, daarop neerkom dat titaniese wedywering tussen solis en orkes losgelaat word.

Cox het met ʼn stilisties bruisende Mozart-ouverture die konsert ingelui en dit groots afgesluit met Brahms se Vierde Simfonie. Hy het genoegsame spanning opgebou om die deurlopende lyn in al vier dele deur te trek. Detailbeligting het ʼn weldeurdagte en ewewigtige eenheidsbeskouing na vore gebring. Individuele solo’s deur die meerderheid orkeslede is met genuanseerde uitdrukkingskrag belig. Die JFO se spelpeil bereik nuwe hoogtes.

Die Duitse dirigent Wolfram Christ

Wolfram Christ verras met Gershwin

 deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes & die  KZNFO, met Wolfram Christ (dirigent) en Linda Nteleza en Njabulo Mthimkhulu (soliste). Program: Porgy and Bess: ‘n Simfoniese Portret, verw. Robert Russell Bennett; Drie vokale uittreksels uit Porgy and Bess (Gershwin); Simfonie no 1in D majeur (Mahler). In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg.

Die jaarlikse samevoeging van die orkeste van Johannesburg en Durban is lank reeds vir fynproewers ʼn hoogtepunt op die orkeskalender. In die reël word werke wat groter getalle musici vereis uitgevoer. Dit was ook die geval met Woensdag- en Donderdagaand se konserte, plus die ekstra een van Vrydagoggend. Die programsamestelling was vreemd. Mahler en Gershwin verteenwoordig teenpole in musikale smaak. Eersgenoemde se werk is ernstig en laasgenoemde s’n meer vermaaklik. Dit mag die rede wees waarom die bywoning Woensdag teleurstellend was, maar Donderdag minstens weer tot normaal – ʼn besetting van ruim 80 persent – teruggekeer het.

Vir Wolfram Christ, die Duitse dirigent wat talle kere tevore met die KZNFO opgetree het, was dit dié keer sy debuut voor die JFO. Hy het as hoof-altvioolspeler binne die kultuur van die Berlynse Filharmoniese Orkes sy wasdom as musikus bereik en eers later ʼn  dirigeerstok hanteer. Om jou program te open met die Simfoniese Portret van Gershwin se Porgy and Bess in die verwerking deur Robert Russell Bennett, wil gedoen wees. Waarin Bennett uitmuntend slaag, is om die spesifieke kwaliteite van die opera in ʼn suiwer simfoniese idioom oor te plaas. Hy het die emansipasie van jazz uiters gevoelsryk in die rigting van konsertmusiek gelei en voortgesit waarmee die legendariese orkesleier Paul Whiteman begin het. Christ en sy bykans honderd orkeslede het idiomaties gewerskaf en Gershwin springlewendig hanteer.

Twee van  ons jong operasangers met wye ervaring het drie gewilde uittreksels uit die opera gesing. Linda Nteleza se sopraanstem was ryk en tereg ook ʼn titseltjie rokerig in haar swoele vertolking van die mesmeriserende “Summertime”. Hierna het bariton Njabulo Mthimkhulu aangesluit vir ʼn meesleurende interpretasie van “Bess, You Is My Woman Now”. Ten slotte het Mthimkhulu met “It Aint Necessarily So” sy teatrale vernuf aangevul met liggaamstaal en gesigspel. Dit het die terggees in hom na vore gebring.

Christ se interpretasie en vertolking van Mahler se Simfonie no. 1 kan nie as die mees geslaagde in die annale van die JFO gereken word nie. Dié eer kom een van sy landgenote toe. Tog was daar oorgenoeg duidelike meriete, soos spontaneïteit, aanwesig – dikwels helaas ook ten koste van presiesheid in die ensemblewerk. Die punt is: By ʼn lewende uitvoering gaan dit oor die moment. Die dirigent laat hom meesleep. Soms byvoorbeeld, soos by ʼn abrupte tempoverandering, het ʼn mens met ʼn spontane beslissing te make, maar as die orkes nie totaal daarop voorbereid is nie, kan dit presiesheid laat wankel. Dit is só ʼn indruk wat Christ dikwels gelaat het.

Tog het Christ die oormoedig-heroïese en sarkastiese aard van die simfonie raak getref, soos dit veral in die stormagtige slotdeel duidelik was.

Van links: Heinrich Sutton (12), Kategoriewenner in die ouderdomsgroep  12 en jonger, Qden Blaauw (15), eerste prys,  Leo Huan (16), tweede prys en Vitske van Zyl (17), derde prys.  Foto: Mauritz van den Heever.

Atterbury Klavierkompetisie inspireer

 deur Paul Boekkooi

Ons land het lankal ʼn heilsame klavieronderrigstelsel in werking gehad. Dit is een wat nou, in veel meer uitdagende tye, in die skoot van ʼn jonger geslag klavierpedagoë geval het. Die totstandkoming van Pretoria se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie wat vanjaar ʼn negende keer aangebied is, bewys dat die peil van klavieropleiding geensins agteruitgegaan het nie, maar inderwaarheid floreer. Dít alles terwyl die eens bestaande wye verskeidenheid kompetisies waaraan jong musici en sangers kon deelneem helaas aan’t krimp is.

ʼn Onlangse voorbeeld is die onttrekking van die ATKV aan hul wyd geroemde Musiq- en Musiqanto-projekte wat oor jare vir talle van die wenners ʼn deurslaggewende springplank was na latere professionele suksesse.

Wat die bestaan van die Atterbury-projek veral vir pianiste van 19 jaar en jonger sou beteken het, was die gevolg van ʼn weldeurdagte besluit. Benewens eisteddfods, Unisa se reuse aandeel in ernstige musiekontwikkeling  en dié van ander universiteite met musiekdepartemente, het die Atterbury-bestuur met die lank reeds legendariese Claudine van Breda as artistieke hoof ʼn nis in die kompetisielandskap geïdentifiseer. Dit was om ʼn nasionale klavierkompetisie te loods waaraan kinders van enige ouderdom onder 12 kan deelneem tot by 19 as die ouderdomsperk-plafon.

Onder die vorige wenners van die Atterbury-kompetisie tel o.a. Willem de Beer, Suleyman Human, Lezanti van Sittert, André Breedt en Louis Nel. Bykans almal van hulle het later in ander kompetisies geseëvier – ʼn bewys dat die kompetisie ʼn nuttige doel ondersteun, om kandidate vroeg vertroud te maak met die enorme voorbereiding wat kompetisies vereis en die voortspruitende strawwe mededinging.

My heel eerste ervaring van ʼn finale ronde in die Atterbury-kompetisie afgelope Vrydagaand was uiters vervullend. Die toegewyde voorbereiding en die artistieke resultate rondom die voordrag van die nege finaliste was onweerlegbaar en inspirerend. By die meeste was tegniese bekwaamheid voluit aanwesig, maar dit was eerder ʼn welsprekende musikaliteit en afronding wat die langdurigste kwaliteit was wat bly eggo het.

Interessant is ook die feit dat die drie hoof-pryswenners se ouderdomme nie in die hoogste toelaatbare kategorie (18 en 19) geval het nie, maar dat deelnemers  van onderskeidelik 15, 16 en 17 die beste presteer het.

Die eerste prys van R30 000  is aan Qden Blaauw (15) van Parow toegeken, die tweede van R15 000 aan Leo Huan (16) van Pretoria en die derde ten bedrae van R7 700 aan Vitske van Zyl (17) van Bellville. Qden Blaauw was by verre die deelnemer wat die grootste indruk op die beoordelaars gelaat het. Hy het by verre met die meeste bykomende pryse in verskeie spesiale kategorieë weggestap. Heinrich Sutton (12) van Waterkloofrif was die kategoriewenner in die ouderdomsgroep 12 jaar en jonger.

Prysenswaardig is die feit dat die wenners van die eerste drie pryse se onderwysers elk met ʼn geldprys beloon is.

Al die borge, beoordelaars, organiseerders, voorsitter, beskermheer en -vrou, asook dié wat stil-stil agter die skerms werk, deel in die sukses van dié vaartbelynde organisasie. Jaar 10 van dié kompetisie belowe om ʼn verdere mylpaal te wees.

Mauritz Badenhorst in Lê.

DEURnis open deure in die Kaap

deur Mariana Malan

Vir sy Kaapse debuut gooi DEURnis die deure van ʼn nasionale gedenkwaardigheid oop. Byderwetse teater word aangebied in die keurige vertrekke van Wrench House in Observatory wat oorweldig met sjarme wat terugstrek na 1741.

Vir inwoners van Kaapstad en selfs bure van die lieflike boetiekhotel, is Wrench House een van die bes bewaarde geheime in die stad. Aan die mure hang kunsskatte van vorige eeue saam met werk van Breyten Breytenbach en Anton Kannemeyer. Dit vorm die inkleding vir ʼn teaterondervinding wat verslawend kan raak.

Dis die tiende speelvak van DEURnis. Diegene wat dit al by kunstefeeste beleef het, vertel dit is hul allerbeste ervaring in die teater. Net een teaterganger in die gehoor is die ander karakter in die verhaal, maar jy hou jou kommentaar vir jouself.

Dis uitdagend om voor ʼn speler te sit wat jou wysmaak sy hande wat hipnoties beweeg kan jou genees. Of wanneer ʼn sterwende vrou jou uittrap omdat jy te bang is om te leef. Jy krimp effens weg van ʼn hartroerende, half onbeholpe liefdesverklaring wanneer jy op die naam genoem word. Jou hart breek vir die seuntjie wat dinge moet beleef waaraan geen kind blootgestel behoort te word nie. Jjy bal vuis saam met die eens gesette vrou wat vet in die  gimnasium laat wegsmelt vir ʼn matriekreünie. Dan speel jy ook lekker saam in ʼn wêreld waar woorde verdwyn en stilbly die enigste manier van praat is.

Die akteurs is dié keer Tiaan Nortjé ( in Cecilia du Toit se Skyn,, regie Rudi Sadler), Roché van Blerk (in Leef, teks en regie Johann Smith), Jaques van Jaarsveld (in Stom, ʼn konsep van Van Jaarsveld en Toni Morkel met regie deur Morkel), Steffie le Roux (in Lyf deur Braam van der Vyver en regie, Lihan Pretorius), Ben Pienaar (in Du Toit Albertse se Seuntjie, regie Johan van der Merwe) en Mauritz Badenhorst (in met teks en regie deur Henque Heymans).

DEURnis is ʼn samestelling “deur” en “deernis” wat verwys na die deur wat lei na ʼn stuk wat met deernis en gestroopte eerlikheid aangebied word.

  • DEURnis word tot 27 Oktober deur Theatrerocket in samewerking met Spier aangebied.
  • Daagliks 19:00 en 20:30; naweke (Vrydag – Sondag) ook om 17:30.
  • Kaartjies word in pakette verkoop (R220) en bied toegang tot drie toneelstukke. Elke stuk is sowat 20 minute lank en duur ongeveer 90 minute.
  • Die ouderdomsperk is 16.
  • Besoek deurnis.co.za of bel Johan by 082 829 6035 of Rudi by 082 464 2113.

Megan-Geoffrey Prins, klavier

Bevredigend, maar nie totaal geslaagd

deur Paul Boekkooi

Megan-Geoffrey Prins (klavier), met die Amici Strykkwartet – Susanne Martens en Petrus de Beer (viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello). Program: Kwartetdeel in C mineur, D. 703 (Schubert); Klavierkwintet in E mol majeur. opus 44 (Schumann); Klavierkwintet in f mineur, opus 34 (Brahms).In die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Saterdagaand.

Dit lei skaars twyfel dat al vyf musici op dié verhoog konsensieus en met oorgawe te werk gaan. Met ʼn program wat bowendien uitdaag, is die verwagtinge hoër. Dit was dus uiters stimulerend en bevredigend om drie meesterwerke te ervaar al was die maatstaf van die uitvoerings nie volledig daar waar dit kón wees nie. Dit laat die vraag ontstaan of die Amici-kwartet gereeld musiseer of dalk tog meer van ʼn geleentheidsensemble is. Megan-Geoffrey Prins het as pianis en as jongste binne dié geselskap ʼn aansienlike rypingsproses oor die afgelope vier jaar ondergaan – ʼn kwaliteit wat in die werke van Schumann en Brahms uitgestaan het, alhoewel hy by tye ʼn nog voller en spelgewys meer kontrasryke idiomatiese detailrykdom in sy benadering kon bereik het.

Die energiek-stuwende Kwartetdeel in C van Schubert is veeleisend. Presiese ensemblespel is van kardinale belang. Elke instrument is blootgestel. Die uitvoering is gekenmerk deur ʼn paar suiwerheidsfoutjies: heeltemal vergeefbaar, maar dalk tog vanweë senuwees? Gelukkig het Amici in hul interpretasie én spel maniërismes vermy. Daar was ʼn ideale ewewig tussen die Schubertiaanse wesenskenmerke, soos melancholie en veerkragtige ritmiese stuwing. Frasering kon nog voller en ʼn fraksie meer gewaagd wees.

In Schumann se meesterlike Klavierkwintet in E mol was die samespel op ʼn hoër vlak, met Prins wat homself volledig as ʼn gelykberegtigde musikus in dié geselskap bevind. Die Allegro brillante het presies aan dié beskrywing voldoen, terwyl die donkerkleurige tragies-marsiale stadige beweging wat daarop volg en waarin ʼn paar helder flitse wat op Schubert slaan ervaar kan word, aangegryp het. ʼn Momentele hoogtepunt hier was die “duet” tussen die eerste viool en tjello. Schumann het hierna ʼn Scherzo met die tempo-aanduiding Molto vivace geskep wat oorloop van oorspronklikheid. Hy daag die musici tot bykans roekelose spel uit – veral in die tweede trio wat ʼn ware tour de force is. Spontaneïteit en dissipline loop hand aan hand. Hier en in die slotdeel, Allegro ma non troppo, was Prins se spel heg binne die ensemble veranker. ʼn Vurige hantering van die fuga is met opwinding nagekom.

Oor Brahms se Klavierkwintet in F loop die menings, akademies en andersyds, baie wyd – soos  die geval is by baie van sy opusse wat ʼn uitgesponne ontstaantydperk moes ondergaan. Lewende uitvoerings is skaars. Dié ervaring het die moeite geloon deur die oortuigende insette van die vyf musici. Partituurgetrouheid was die basiese uitgangspunt. Krag en emosionele warmte was voluit aanwesig. Die uitvoering het in die twee middelste dele, ʼn Andante, un poco adagio met daarna ʼn Scherzo met die tempo-aanduiding Allegro, die meeste behaag deurdat ʼn waarlik diepgevoelde uitdrukkingskrag deur die musici ontgin is.

Ben Voss as die aweregse bosbewaker, Benny Bushwacker.

Kragtoer van hardebaard-humor

deur Kobus Burger

Benny Bushwacker – Human Nature, Studio-teater, Montecasino, Johannesburg

Ben Voss is voorwaar een van Suid-Afrika se voorste komiese akteurs, wat ook die kuns van hardebaard-satire vervolmaak het. Saam met sy makker, John van de Ruit (skrywer van die SPUD-reeks), was hulle die skeppers van die veelbekroonde Green Mamba– en Black Mamba-vertonings, waarin heilige koeie skouspelagtig geslag is en die akteurs vreesloos oor die elektriese heinings gewip het.

Voss het later die kostelike en bitsige alter ego, die sakevrou Beauty Ramapelepele, geskep wat sy solovertonings onvergeetlik gemaak het.

Nou is Voss terug met ʼn gedugte teks deur Van de Ruit oor ʼn aweregse wildbewaarder, Benny Bushwacker. Dié jafel glo nie regtig in die Groot Vyf nie en reken die luiperd moet aandag kry en gered word, al het sy medebewaarder albei sy knaters aan einste spesie “geskenk”.

Die stuk onder spelleiding van Janice Honeyman kom stadig op dreef, maar Voss glip soomloos deur ʼn reënboog van karakters – van ʼn 84-jarige ouma, die “ontmande” bewaarder, ʼn lewensmoeë millenniër en ʼn Duitser wat die flou grap vervolmaak het. Sy tydsberekening as akteur kan gerus as meestersklas geliasseer word.

Die millenniër het die gehoor byna laat verstik van die lag, so ook ʼn mini-uitbeelding van die Titanic-rolprent met Leonardo DiCaprio en Kate Winslet. Voss laat die sweet en spoeg spat in ʼn kragtoer met haarfyn tydsberekening. Nie vir ʼn oomblik laat hy die pas verslap nie.

Soos ʼn mens nou al die verhoogduo ken, skram hulle nie weg van die politiek en sosiale kwessies nie. So koes maar betyds – daar is dawerende dwarsklappe midde die histeriese lagbuie.

Benny Bushwacker is ʼn broodnodige teatertonikum én teenvoeter vir die tientalle “komedievertonings” waarin sogenaamde grapjasse net louwarm anekdotes aframmel. En ʼn mens vergeef selfs die prekerige, amper stroperige einde oor die “menslike natuur”…

  • Tot 20 Oktober in Johannesburg, daarna reis die solostuk regdeur die land. Port Elizabeth (22 – 26 Okt); Pietermaritzburg (5 – 9 Nov); Pretoria (13 Nov); Kaapstad (10 Des – 18 Jan). www.benvoss.co.za

Liefde oor die kleurgrens: Marlo Minnaar en Liezl de Kock

Fugard-aanklag herleef skreiend

deur Mariana Malan

Meer as vier dekades nadat Athol Fugard se versetdrama Statements after an Arrest under the Immorality Act die eerste keer opgevoer is, slaan dit net so hard as destyds.

Die stuk is tans te sien in die teater wat die dramaturg se naam dra, The Fugard in Kaapstad. Vroeër vanjaar het dit ʼn draai gemaak by die KKNK  waar dit vir vyf Kanna-pryse genomineer is.

Sedert Fugard en Yvonne Bryceland die eerste keer die rolle vertolk het van die skoolhoof Errol Philander en die bibliotekaresse Frieda Joubert, het verskeie akteurs hul gedoemde liefdesverhaal op die verhoog vertel. In die huidige produksie  is Marlo Minnaar en Liezl de Kock in die rolle te sien.

Onder die wette van destyds was verhoudings oor die kleurgrens ʼn misdaad. Sy as blanke en hy as kleurling moes hul liefde, drome en hoop in die geheim in die donker kantoor van die biblioteek van die klein plattelandse dorp Noupoort deel. Daar was dan altyd die vrees dat hulle ontdek sou word. Die nuuskierige buurvrou agter die biblioteek het gesorg dat die polisie eindelik daar ingebars het.

Die flitsende kameras en die bulderende stem van die polisieman en die daaropvolgende verklarings word in al sy naaktheid gewys.

Statements is ʼn stukkie geskiedenis waaroor koppe in skaamte laat sak moet word. Dis ook ʼn liefdesverhaal wat aan die hart gryp. Daar is soveel skoonheid in die dialoog en soveel stof tot nadenke dat dit geen wonder is dat dit die toets van die tyd weerstaan het nie.

The Fugard het heel gepas vandeesweek die dokumentêr The Space – Theatre of Survival twee keer gratis vertoon. Die dokkie bied die agtergrond tot die heel eerste opvoering van Statements in 1972. Dit bring hulde aan die versiende groep akteurs en teatermakers wat in die tyd van apartheid, opstande en rassespanning die moed gehad het om ʼn teater te begin en te bedryf waar alle rasse saam op die verhoog en in die gehoor kon wees.

Die impak van Statements en daaropvolgende dramas het meer as grense verskuif. Dit het grensdrade afgeknip en mure met woorde afgebreek. Dink aan John Kani, Winston Ntshona en ander se opgang nadat hulle ook vir die eerste keer in die Ruimte-teater die kans gekry het om hul werk op te voer.

Geen sprake van verveling

deur Paul Boekkooi

Danrè Strydom (klarinet), Grethe Nöthling (klavier) en Samson Diamond (viool). Trio’s van Srul Irving Glick, Aram Khachaturian, Gian Carlo Menotti, Darius Milhaud en Paul Schoenfield. In die Miriam Makeba-konsertsaal, Unisa, Pretoria.

Vyf komponiste, nasionaliteite en geeste is hier tesame. Almal het ʼn individuele benadering openbaar in die proses om ʼn eie styl te ontwikkel. Die meerderheid van hulle het ʼn verbintenis met mekaar deur tradisies: By Glick, Milhaud en Schoenfield is dit verskeie vertakkinge van Joodse oorlewering. Khachaturian was ʼn Sowjet-Armeense komponis van Tbilisi, die multikulturele hoofstad van Georgië. Hy voeg iets eksoties aan sy musiek toe. Menotti, ʼn Italiaans gebore Amerikaner, openbaar binne ʼn eie, gesofistikeerde styl, meer van ʼn klassieke benadering. Milhaud, die mees produktiewe onder hulle, is deur Brasiliaanse musiek en jazz beïnvloed. Die enigste komponis onder hulle wat nog leef is Schoenfield.

Khachaturian, Menotti en Schoenfield noem elkeen hul werk ʼn Trio vir dié spesifieke instrumente. Milhaud karakteriseer syne as ʼn Suite. Glick gee syne die titel The Klezmer’s Wedding.

In dié drie musici van Bloemfontein se uitvoerings was daar geen sprake van ʼn vervelige oomblik nie. Wat wel gebeur, is dat daar in sommige onderdele só ‘n frenetiese stukrag en ritme ontlaai word dat stilistiese formules begin neig om te oorheers. Nou moet ʼn mens toegee dat, indien enkelinge in die gehoor ooit by ʼn Joodse troue was, die musiek van byvoorbeeld The Klezmer’s Wedding enigiemand sou kon aanspoor om onophoudelik daarop te dans.

Die kombinasie van klarinet, klavier en viool was vroeg al ʼn gevestigde tradisie by die Ashkenazy’s se Joodse musiek. G’n wonder dat musici wat hulself in klassieke musiek wil uitleef, veral ook soms die wortels van voorsate wil ontdek. Baie internasionale beroemdes soos die violis Itzhak Perlman of die klarinettis Giora Feldman hou die Klezmer-geskiedenis lewend deur die oordra van sprankeling en vreugde. Strydom, Nöthling en Diamond is ʼn gedugte kombinasie wat veral in Schoenfield se onophoudelik uitdagende en grensloos virtuose Trio, wat ʼn bykans demoniese dryfkrag loslaat, hulle hoogste troefkaarte uitspeel.

In die Milhaud-, Khachaturian- en Menotti-Trio’s was daar hegte eenheid in die samespel en ʼn deurdagte beklemtoning van elke komponis se individualiteit, al vloei grense tog by tye oormekaar. Die onderdele by Milhaud waar Mediterreense vrolikheid na vore tree, is deur ligte aksente ondersteun, aangevul deur vloeiende kontinuïteit te midde van sprankelende frasering deur die musici. By Khachaturian het veral individuele solowerk die komponis se kenmerkende idioom van welluidendheid vrye teuels gegee. Menotti se Trio het ʼn groter mate van kontrasrykheid weerspieël as die ander vier s’n.

Unisa se versorging van hul programme stel teleur – veral in die lig daarvan dat dit ʼn gesiene akademiese instelling is. Geen programnotas word voorsien nie. Ook selfs nie die mees basiese gegewens soos aanduidings van die individuele dele nie. Die universiteit beskik immers oor ʼn musiekfakulteit. Die Enoch Sontonga-saal het in onbruik verval. Die Miriam Makeba se harde klank raak oor tyd uitputtend.

JFO terug by musikale lewensessens

deur Paul Boekkooi

Daniel Boico. Foto: Kelemen Gergo

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Daniel Boico (dirigent) en Gary Hoffman (tjello). Program: Die Moldau (Smetana); Variasies op ʼn Rokoko-tema vir tjello en orkes(Tsjaikowski);Elegie (Fauré); Simfonie no. 2 in c mineur, opus 17 – Klein Russiese (Tsjaikowski). Linder-Ouditorium, Parktown, Johannesburg. 

Lewe en lente het voluit teruggekeer na Gauteng en spesifiek Johannesburg se enigste professionele orkes. Ná verlede week se sluimerkonserte waarin slegs die pianis-solis Megan-Geoffrey Prins soms tot die redding gekom het van ʼn totale rus-tot-in-ewigheid-gesus, is ons gisteraand weer gevul met musikale lewensessens. Dit bewys net weer één pertinente feit: ʼn Orkes kan selde beter wees as die dirigent wat hulle lei. Daniel Boico wat teen dié tyd die geur van die maand-fase ná enkele geringe insinkings in die verlede ontgroei het, is nie slegs in beheer nie, maar het veral ook geïnspireer.

Dit is reeds binne die eerste minute van Smetana se Moldau, die tweede toondig uit sy siklus van ses onder die titel My Vaderland, duidelik. Daardie houtblaserspassasies met hul klankkurwes wat die vloei van water by die Moldau-rivier se oorsprong helder uitbeeld, is ʼn verademing om na te luister. Boico se aksent in sy interpretasie is nouliks gerig op die onverwoesbare immergroen aspekte, maar eerder ʼn evokatiewe ode aan die natuurskoon van Tsjeggië met, waar nodig, oorrompelende uitdrukkingskrag.

Met die meestertjellis Gary Hoffman in ons midde, is die daaropvolgende twee werke,  Tsjaikowski se Rokoko-variasies en Fauré se Elégie, ʼn pragvoorbeeld van instrumentale geraffineerdheid wat deur die solis ontsluit is en oorgeneem word deur die dirigent en orkes. Hoffman is skaars op virtuositeit ingestel, maar bepaal hom eerder by die karakterryke seggingskrag en stemming van elkeen van die agt variasies en koda. In sy spel verkry kontraste tussen teerheid en uitbundigheid spesiale en musikaal sinryke karaktertrekke. Die Elégie se deurlopende progressiewe melodiese opbou tot ʼn klimaks is skitterend gekontrasteer met die dénouement wat met ʼn ryp, subtiele beheer lei tot die magies wegsterwende slotmate.

Boico het sonder twyfel sinryke repetisies gelei ter voorbereiding van sy en die orkes se steeds meer intens en afgeronde uitvoering van Tsjaikowski se Simfonie no. 2 met die bynaam “Klein Russiese”. Folkloristiese invloede is wyd verspreid. Dit is opvallend dat die derde en vierde dele as meer gedisiplineerd, virtuoos en dus bevredigend geklink het as die voorafgaande twee. Shakespeare het alles behalwe per abuis verklaar “All’s well that ends well.” Binne die vier orkesafdelings skitter die houtblasers by uitstek, terwyl die koperblasers vorige, soms wankelende, prestasies dié seisoen hier reggestel het. Gerben Grooten is as poukenis die ster-musikus van die aand. Sonder sy insette sou veral die ritmiese stukrag van die uitvoerings minder presies en kernagtig wees.

  • Vanaand (Donderdag 12 Sep) 19:30 of môreoggend (Vrydag 13 Sep) 11:00 na die herhaling van dié konsert – die mees bevredigende een van dié seisoen.

Hoffman se grenslose musikaliteit

deur Paul Boekkooi

Gary Hoffman

Gary Hoffman, tjello; François du Toit, klavier. Program: Pièces en Concert (Couperin); Tjellosonate no.3 in A majeur, opus 69 (Beethoven); Suite vir Solo-tjello (Cassado); Tjellosonate no.2 in D majeur, opus 58 (Mendelssohn);  Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. Saterdagaand.

Ná ʼn lang afwesigheid op plaaslike verhoë het die Kanadees-gebore tjellis Gary Hoffman (lankal in Parys gevestig) vir uitgehongerde gehore kom herinner waarom hy as ʼn uitsonderlike eksponent van dié instrument gereken word. In ʼn kontrasryke solo-program waarvan die musiek ruim twee-en- ʼn -halwe eeu omspan het, val twee van die komponiste in minder bekende kategorieë: François Couperin (1668-1733) en Gaspar Cassado (1897-1966). Vir ewewig is Beethoven en Mendelssohn verteenwoordig.

François du Toit, hoogleraar in klavier aan die Universiteit van Kaapstad, was die ideale keuse as “begeleier”. Hy is inderwaarheid ʼn volslae medespeler wat ʼn gedagtegang van eenheid in interpretasie, musikaliteit en tegniese beheersing nastreef. Wedersydse duospel is ʼn intuïtiewe kommunikasieproses wat eers in die middeljare tot volle rypheid ontwikkel.

Couperin se vyfdelige Pièces en Concert is soveel meer as slegs ʼn beurtelingse gesprek tussen twee aanvullende instrumente. In die tyd van oorsprong is dit  op ʼn viola da gamba en ʼn klavesimbel uitgevoer wat ʼn delikaatheid of broosheid sou uitstraal. Wat Hoffmann, met ʼn Amati-tjello (1662) en Du Toit op ʼn 21ste eeuse Steinway-vleuelklavier vermag het, was om die komponis se bedoelings met sy hoogs ontwikkelde, tog relatief tydgebonde uitdrukkingskrag te behou. Die Franse komponis se “sierlike” styl is binne die duo se wisselwerking tussen ʼn wonderbaarlike graad van elegansie met ʼn ligte aanslag en dinamiese nuanses gekontrasteer. Dus ʼn wydlopende klankspektrum sonder vertoon.

In die Beethoven sonate, sy bekendste en uitdagendste, was hierdie duo se oorwegend Klassieke benadering die rede waarom dit so oortuig het. Wat betref voordrag en soms diep opwellende fraseringskurwes, plus afwisselende toonvorming wat dikwels vibratolose onderdele met ánder wat ryk daarmee voorsien was kontrasteer, was daar deurgaans ʼn volkome eenheid. Opvallend was die ligte speelsheid van die Scherzo, die introspektiewe geladenheid van die ver-af klinkende Adagio cantabile en die energieke uitstorting van Beethoven op sy hoogste vlak van inspirasie wat die Allegro vivace- slotdeel gekenmerk het.

Die Spaanse tjellis-komponis Gaspar Cassado se vierdelige Suite vir Solo Tjello het gevolg. Ook hier het Hoffman die introverte subteks  met oorgawe benader as die Katalaanse vuur wat elders opgloei.

In Mendelssohn se Sonate no. 2 in  D majeur het Hoffman en Du Toit met virtuositeit die eerste twee bewegings uitgevoer, met ʼn ligtheid in die tweede, Allegretto scherzando. Die Adagio het ʼn digterlike melancholie met ingehoue sentiment opgeroep. In die bruisende Finale was ʼn ideale tempokeuse aanwesig wat oorromantisering beteuel.

Die twee toegifte, Fauré se Sicilienne en Bloch se Gebed uit Jewish Life, het regstreeks tot die hart gespreek het.

  • Dié program word vanaand (M aandag) om 19:30 in die NG Kerksaal in Knysna herhaal. Woensdag en Donderdag 19:30 en Vrydag 11:00 tree Hoffman as solis saam met die JPO in die Linder-ouditorium op met Tsjaikowski se Variasies op ʼn Rokoko-tema, opus 33. Besprekings: Computicket. 

Juwele uit RSG se skatkis van musiek, drama en digkuns

RSG Skatkis is van 1 tot 3 Desember terug met ʼn spesiale klankbederf van musiek, woordkuns en drama. Daar is vanjaar vyftien produksies, wat ses debute insluit. En die deelnemers wissel van dertien tot negentig jaar oud!

Een van die hoogtepunte is ʼn besondere klassieke konsert. Die 13-jarige klavier-wonderkind Mike Wang was verlede jaar die algehele wenner van die Hennie Joubert-klavierkompetisie. Hy is ʼn graad 7-leerling van die Hendrik Louw Primary School in die Strand. Wang het reeds op vyfjarige ouderdom met klavierlesse begin. In 2017 het hy die SAMRO Hubert van der Spuy-kompetisie gewen. Vir sy buiging op radio speel hy werke van Ravel, Beethoven, Schumann, Rachmaninoff asook ʼn gunsteling uit The Sound of Music.

Libertaskoor 30 o.l.v. Johan de Villiers (dirigent), Gerhard Niemand (klavier), Lionel Beukes (baskitaar) en Annemie Nel (slaginstrumente) se program sluit in drie eietydse gewyde koorwerke, twee protesliedjies, Afrikaanse liedere, treffers van Sting, Calum Scott en Billy Joel asook Miriam Makeba verwerk deur Ramon Alexander en twee Kersliedere. Dis ʼn regstreekse opname met aanbieder Johan Rademan uit die Endlersaal, Stellenbosch.

In Kitaarkonings kan luisteraars ses van Suid-Afrika se voorste en bekroonde kitaarspelers op een verhoog beleef: Schalk Joubert (regisseur), Louis Mhlanga, Loki Rothman, Mauritz Lotz, Albert Frost, Guy Buttery en Kevin Gibson (slaginstrumente). Die vingervirtuose speel hul eie komposisies en tree tokkelend met mekaar in gesprek.

Joe Kleinhans se dramadebuut, En toe kom Eva. met Mandi Baard, Luan Jacobs, Louis van Niekerk, Stefan Vermaak, Johny Klein, Renske Jacobs en Martin Jansen volg die breë skeppingsmite van die eerste mense op aarde, maar met ʼn skeut humor en anachronistiese kinkels daarby. Eben Cruywagen het die regie behartig.

In Majesteit die kat gesels Johan Rademan met die digter Lina Spies oor haar liefde vir katte. Die akteur en voorleser Nic de Jager sit saam om met voorlesings om die tafel haar werke in te kleur. Lina Spies vier vanjaar haar 80ste verjaardag.

Die veelbekroonde Sestiger Dolf van Niekerk het vanjaar 90 jaar oud geword. In Stukkies in die legkaart van die lewe, saamgestel en aangebied deur Ina Strydom, word legkaartstukke van sy lewe aangebied. Hy was o.a. omroeper en radiodramaturg, voorloper en vernuwer in die letterkunde.

Vyf van die grensverskuiwende teaterstukke van DEURnis, wat met die kykNET Blou Fiësta-toekenning bekroon is – kort, plekspesifieke stukke met een akteur en een gehoorlid – is vir die radio verwerk: Net, Student, Bloos, Die winkelpop en Toets. Die skrywers is Henque Heymans, Braam van der Vyver en Johann Smith. Die akteurs is Ben Pienaar, Juanita de Villiers, Tiaan Slabbert, Roche van Blerk en Jacques Adriaanse. Christelle Webb-Joubert behartig die spelleiding.

Spoegrym, saamgestel en aangebied deur Kobus Burger, laat ʼn span digters met ʼn skêr en gom deur die digkuns jakker. Soos die versreëls uitmekaar spat, word daar opnuut met die woord gewals en nuut geskep. En soos van die groot Beat-digters en selfs Nirvana se Kurt Cobain ontdek het, kan ʼn mens met die soort versnippering almal verras.

Woorde op akkoorde laat ses kreatiewe woordkunstenaars, Diana Ferrus, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos, toor met woorde en musiek, sang en dreinsang, met verwysing na natuurlike elemente van die oseaan, asook rommel wat uit die see gespoel het. Die produksie is vanjaar vir drie KKNK Kanna-pryse benoem. Ricardo McCarthy het die nusiekregie en opname behartig.

In Voetsoldaat van die vers, saamgestel en aangebied deur Frieda van den Heever, word van die mooiste gedigte uit Clinton du Plessis se tiende bundel voorgelees deur Dean Balie en Cantona James.

  • RSG Skatkis 2019 is moontlik gemaak deur ‘n borgskap van die Dagbreek Trust. Die volledige feesprogram en -skedule word later op RSG se webblad gepubliseer.
  • Sondag 1 Desember se musiekprogram met Mike Wang duur van 15:00 tot 18:30; Maandag en Dinsdag van 19:00 tot net na 22:00.
  • Luisteraars kan wêreldwyd via RSG se webblad luister of op 100 tot 104 fm inskakel.

Emma Kotze en Albert Pretorius in MaanSonde. Foto: Nardus Engelbrecht

 Teksmark kikker teaterbedryf op

deur Mariana Malan

Dit wag in die nabye toekoms op teaterliefhebbers: Een vraag aan God; die herbesoek aan ʼn gemeenskap se verlies in die Knysna-brande naby die Karatararivier; die bedreigde blommeskat op Agulhasvlakte; gendervloeibaarheid en taboes soos bababoerdery; bloedskande, en selfs kannibalisme.

Dit is maar ʼn paar van die kwessies wat dramaturge in nuwe tekste aangespreek het by die pas afgelope Teksmark wat oor drie dae (6 tot 8 November) in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad aangebied is.

Kunste Onbeperk se Teksmark is nou meer as ʼn terloopse item op teatermakers se jaarprogram. Dis vanjaar vir die vierde keer gehou en dis duidelik die opkikkermiddel waarna die teaterbedryf gesmag het.

Dis nie ʼn kompetisie nie. Dit bied eenvoudig aan dramaturge die geleentheid om nuwe tekste aan te bied  en aan belangstellendes die kans om die teks verder te help ontwikkel tot ʼn volwaardige produksie.

Vanjaar was daar 16 nuwe tekste op die program. Hulle is nie noodwendig reeds voltooi nie en slegs ʼn kort uittreksel uit elke stuk dien as lusmaker. Gesprekke volg, vrae word aan die dramaturge gestel en die gehoor kry insig in wat met die stuk beoog word.

Al 16 aanbiedinge het potensiaal en ʼn groot persentasie was van hoogstaande gehalte. Cornelia Faasen (uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief of NATi) het ná afloop van die Teksmark gesê elkeen het die potensiaal om ʼn volwaardige produksie te word.

Die opwinding van die Teksmark lê in die onverwagte juwele wat gesien kan word. Op die program vanjaar was o.m. werk deur die ervare dramaturge Wessel Pretorius, Philip Rademeyer en Herschelle Benjamin, eerste tekste van skrywers wat reeds in ander genres bekend is soos die digter Bibi Slippers en Beyers de Vos, wie se debuutroman Wrok op vanjaar se Barry Ronge Sunday Times Fiction se langlys pryk. Ook die akteurs Wentzel Lombard en Andrico Goosen, die violis Wilken Calitz in samewerking met die choreograaf Grant van Ster en die danser Shaun Oelf het werk geskep.

Die deelname van bekendes as regisseurs en akteurs dui ook op die betrokkenheid van gevestigde name in die teaterbedryf by die Teksmark. In verskillende rolverdelings was onder meer Faniswa Yisa, Waldimar Schultz, June van Merch, Carel Nel, Richard September, Nicole Holm, Joanie Combrink en Albert Pretorius te sien.

Meertaligheid het vanjaar se mark gekenmerk. Lara Foot (uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teatersentrum) het haar vreugde hieroor uitgespeek. Sy het die Baxter se verdere betrokkenheid by die Teksmark bevestig.

Die projek is ʼn inisiatief van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aanbied, en word moontlik gemaak deur die ondersteuning van NATi en die Baxter-teatersentrum. Die Teksmark is in 2018 vereer met ‘n spesiale Fleur du Cap-prys  vir innovasie in Teater.

Antoinette Lohmann en Jörn Boysen

Barok met intrinsieke drif

deur Paul Boekkooi

Met twee Barokuitvoerings in Gauteng deur die duo Antoinette Lohmann (verskeie viole) en Jörn Boysen (klavesimbel. kitaar en siter) agter die rug – en meer kom elders landwyd! – besef ʼn mens in watter mate dié tydvak in musiekgeskiedenis plaaslik stief behandel word.

Sou ons dit wel in uitvoerings deur plaaslike musici te hore kry, voldoen hulle selde aan die praktyke wat ons minstens van musici met ʼn hoogstaande begrip vir historiese getrouheid sou verwag. Gelukkig ís daar uitsonderings.

Lohmann en Boysen verrig eintlik sendingwerk met hul meesterklasse hier en oorsee, terwyl hul konserte vir luisteraars ʼn verkwikkende openbaring is rondom die aard en wese van Barokmusiek en betrokke musiekstyle. Met hul konsert Saterdagmiddag by Unisa is ons nie slegs aan onbekende werke van Johann Schop, Johann Erasmus Kindermann, N. (Nicolaes?) Goor (sy musiek het gelukkig nie so geklink nie!), Ignazio Albertini, Johann Fischer en die alomteenwoordige veelskrywer Anoniem voorgestel nie. Hulle het die kollig laat val op musikologies-maatskaplike klasseverskille binne die 17de eeuse musieklewe.

Hierdie speelse jukstaposisies “Between Art violinists and Beer Fiddlers” (die slagspreuk waarmee die program geopen is) en vertellings tussendeur, het die gehoor geboei.

Lohmann lig haar gehoor in op die mees natuurlik wyse, soos wanneer sy die begrip scordatura verduidelik. Sy bring nie net die begrip tuis dat die woord beteken (in haar geval) dat die viool anders gestem word as wat konvensioneel as korrek beskou word nie, maar demonstreer ook die emosionele gevoelsverandering wat dit meebring.

Die genoemde Goor, ʼn 17de eeuse Nederlands-Belgiese komponis, se Sonate in scordatura verlewendig die teoretiese sy daarvan in ʼn aandagvergende voordrag – een waarin ook Boysen ʼn leeue-aandeel gehad het. In die Suite van Johann Fischer (1646 -1717) beeld hy benewens die “kunsviolis” ook dié een uit wat musikaal gesproke ʼn “mindere”opleiding gehad het. Dié “violis” is subtiel komies voorgestel deur die fagotspeler Gerhard Benade wat met klompe ná aanvang van die werk die verhoog opgestap en ongesteurd met sy “mindere” opleiding sy beperkte vaardighede met die ander twee gedeel het.

ʼn Dag later, in die St. George’s Anglikaanse Kerk in Parktown, Johannesburg, is ʼn paar van die werke op hul Unisa-program herhaal. Die plaaslike African Renaissance Ensemble  onder aanvoering van hul leier op blokfluit, Adam Golding, het kort werke van Ruffo, Michael Praetorius, Rossi en Boyce uitgevoer. Benewens oomblikke van suur intonasie, het dit voortreflik geklink.  Die Sonate vir 3 onbegeleide viole van Johann Fux het in die uitvoering deur Lohmann, Tanya Spiller en Waldo Alexander met ʼn aangrypende graad van kontrapuntale sereniteit opgeklink. Verskeie ander werke, soos o.m. twee sonates met continuo van Philippe Friedrich Büchner, het die uniekheid van alles verhoog.

  • Lohmann en Boysen se Unisa-program word vanaand. Donderdag 24 Oktober, om 19:30 in die Odeion, Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein herhaal, asook Saterdag 26 Oktober om 16:00 in die St. Andrews Presbiteriaanse Kerk, De Waterkant, Kaapstad.
  • Kaartjies vir albei konserte by die loket.
  • Navrae: Gerhard Benade by 083 280 9784.

Steffie le Roux in Lyf

 ‘ʼn Baie intense erevaring’

Mariana Malan gesels met die kunstenaars van DEURnis.

Johan van der Merwe (medevervaardiger): 

“Die  betrokke akteurs leer om elke moontlike siutasie te kan hanteer. Die akteurs en die gehoorlid kan enige tyd uitstap as hulle wil. Dis belangrik dat altwee veilig voel. Mense wat na ʼn een-tot-een stuk kom kyk is in die algemeen ervare teatergangers wat weet ernstige kwessies soos seksualiteit, die spirituele, geestersversteuring, mensehandel en selfdood word aangespreek. Elke gehoorlid onderteken vooraf ʼn vorm waarin hulle ingelig word oor wat van hulle verwag word en wat hulle nie moet doen nie.”

Akteurs oor die ondervinding van een-tot-een interaksie met ‘n gehoorlid:

Tiaan Nortjé

“Dis ʼn baie intense ervaring vir akteur en gehoorlid. Dis elke keer anders en opwindend om te sien hoe die persoon voor jou reageer. Elke persoon bring ʼn ander energie. Soms is dit baie intimiderend en ʼn mens moet jou fokus behou. As akteur wil ek soveel moontlik uitdagings hê en hierdie is beslis een van hulle.”

Steffie le Roux

“Dis ʼn totaal ander wêreld as dit net jy en een ander persoon is. Dis intiem en direk. Dis makliker om saam met iemand te wees wat jy nie ken nie. Jy kan makliker in jou rol bly. Dit vra baie energie van ʼn akteur omdat jy dieselfde rol op een aand verskeie kere na mekaar met dieselfde intensiteit moet vertolk. Maar ek moet erken – die gogga het my gebyt en ek hoop om dit weer te kan doen.”

Antoinette Lohmann van Nederland speel Barok- en klompviool by die mini-fees.

Unisa bied Lente-Musiekfees

 deur Paul Boekkooi

Die Unisa Musiekstigting is in die reël ʼn ernstige bolwerk van aktiwiteite rondom die bevordering van klassieke musiek én jazz waarvoor ʼn mens respek mag hê. Dit omvat in ʼn gelyke mate die praktiese sy van musiekopleiding, maar geniet eweneens ʼn wye teoretiese en,  internasionaal beskou, ook ʼn hoog aangeskrewe akademiese dimensie.

Vir eerskomende Saterdag, 19 Oktober, het dié Stigting onder die leierskap van prof. Karendra Devroop iets nuuts onderneem. Hulle bied ʼn mini-musiekfees van vier konserte aan wat tussen 15:00 die middag en 20:00 saans plaasvind. Al vier word in die Miriam Makeba-konsertsaal op Unisa se hoofkampus te Muckleneuk, Pretoria aangebied.

Met verskillende instrumentale samestellings is dit ʼn uiteenlopende program wat strek van die vroeë Baroktydperk, deur die Klassieke en Romantiese eras tot by ‘n lewende komponis: die Suid-Afrikaner Hendrik Hofmeyr.

Vir die openingskonsert om 15:00 maak die Nederlandse duo wat bestaan uit Antoinette Lohmann (Barok- en klompviool) en Jörn Boysen (klavesimbel, Barokkitaar, siter en Joodse harp) hul buiging. Hulle fokus informeel op die twee ouer musiektydperke, met 17de eeuse repertorium wat die musici en style van verskillende sosiale klasse naasmekaar plaas. Die hele proses word ook met die nodige humor belig.

Die tweede konsert van vier wat elk ʼn uur duur, is in die hande van die Kaapstadse Trio du Cap Classique wat verlede jaar saamgestel is deur die pianis François du Toit, die tjellis David Pinoit en die fluitis Liesl Stoltz. Die totstandkoming van dié ongewone trio is vanaf hul heel eerste optredes wyd verwelkom. Hulle program strek oor bykans drie eeue se musiek. Hulle voer werke van Joseph Haydn (1732-1809), Felix Mendelssohn (1809-1847) en Hendrik Hofmeyr (gebore 1957) uit. Aanvangstyd: 16:15.

Die daaropvolgebnde konsert om 17:30 is ʼn klavieruitvoering deur die KwaZulu-Natalse pianis Christopher Duigan. Hy open sy program met Handel se Chaconne in G en eindig dit met Liszt se Hongaarse Rapsodie no. 12. Tussenin voer hy twee werke van Chopin asook twee van Schubert uit.

Die slotkonsert wat om 18:45 ‘n aanvang neem is in die hande van die Wits Trio: Zanta Hofmeyr (viool), Malcolm Nay (klavier) en Susan Mouton  (tjello). Op hulle program verskyn vroeë trio’s van onderskeidelik Beethoven en Brahms. Van eersgenoemde word die Trio in C mineur, opus 1 no. 3 uitgevoer en van laasgenoemde die Trio in B majeur, opus 8.

  • Kaartjies by die deur. Dit kos R140 (volwassenes); R110 (pensioenarisse, studente en kinders) per konsert. Indien twee of meer bygewoon word, is daar spesiale konsessie-pryse: R220 (volwassenes), R170 (pensioenarisse, studente en kinders) vir twee, drie of al vier die konserte. Navrae: Kgomotso Boshielo, 012 429 3311/3336;  083 2326 286.

Dirigent Elsabé Raath

OMS Camerata vul leemtes plaaslik

deur Paul Boekkooi

Odeion Musiekskool Camerata. Dirigent: Elsabé Raath. Soliste: Anneke Lamont, klavier; Chris van Zyl, tjello; Nina Cilliers, fluit. Program:Werke van Gallus/Phillip, J.S. Bach, Haydn, Gerrit Jordaan, H Pieter van der Westhuizen/Phillip, Ligeti/Gerhard de Jager, Hendrik Hofmeyr, Bartók/De Jager, Bartók en Vasks/Moss. In die Atrium, Wits, Johannesburg.

Om ʼn resensent te wees herinner dikwels, soos soms ook by akademici, aan ʼn ivoortoringbestaan. Jy hoor en sien alles van ʼn afstand. By “gewone”, veral orkestrale  konserte, is die kanse sterk dat jy iets sal hoor wat jy al dikwels tevore ervaar het. Dan dink jy: “Beethoven bly maar steeds so ʼn bietjie die hard-rocker van die klassieke musiek – kom wat wil…” Die afgelope naweek se besoek deur die Odeion Musiekskool van Bloemfontein se Camerata aan Pretoria en Johannesburg het enige suggestie van ʼn ivoortoring vermorsel en gehore midde-in ongewone musieksfere ingetrek. Dit is immers wat ʼn mens van ʼn progressiewe, vooruitsiende instelling verwag.

Hul kamerorkes besit twee belangrike gevestigde ankerpunte: ʼn artistieke leier in Marius Coetzee wie se credo uitgestippel is. Musiek word nie slegs uit ʼn Romantieke verlede gevoed nie, maar dit is die eietydse wat dit sal laat bloei en uiteindelik oorleef. Dit is ook opvallend dat hul dirigent, die jong Elsabé Raath, se kontak met haar ensemble van intense konsentrasie en kommunikasie getuig. Dit is veral laasgenoemde wat reeds grootliks die dissipline gevestig het wat van ʼn professionele ensemble vereis word. Haar maatslag is duidelik, helder en konsekwent. Ietwat meer onafhanklikheid tussen die linker- en regterhandbewegings sal die indruk van effens rigiede spieëldirigering vervang met ʼn meer soepele akkuraatheid wat duideliker genuanseerde kontraste in dinamiek na vore bring.

Die optredes van twee soliste, Anneke Lamont wat ʼn Steinway bespeel het in die slot-Allegro uit die Klavesimbelkonsert in d van Bach, en Chris van Zyl se tjellospel in die Allegro molto-finale van Haydn se C majeur concerto, was die standaarde hoog, met oomblikke van ritmiese onstabiliteit wat by eersgenoemde ingesluip het. Die energievlakke en virtuositeit van die solis én ensemble in die Haydn was hoogs aansteeklik. In kontras hiermee het die musikaal en tegnies frappante en deurleefde spel deur die fluitis Nina Cilliers het elke aspek in Hofmeyr se solostuk, Orithyia and the North Wind, met maksimaal verwesenlik – waarlik ʼn kragtoer.

In Gallus/Phillip se Duo Seraphim is die era van eersgenoemde stilisties kragtig opgeroep en kontrapuntaal fyn afgerond. Jordaan se Vreemde Vriende, met ʼn libretto deur Marthie Driessen met “sprechgesang”-agtige teksbehandeling deur Coetzee was vermaaklik. By Phillip se Onskuld, met ʼn teks deur H. Pieter van der Westhuizen was die koördinasie tussen spraakstem en orkes soms ietwat weifelend. Die grootste pretverbintenis is in Ligeti / De Jager se Pápainé ervaar, met by tye skreeusnaakse effekte soos belig deur die orkes. Met twee Bartók-stukke, Vier Slowaakse Volksliedjies en Roemeense Volksdanse, is die verskeie vlakke in orkesdinamiek en -timbres deeglik ontsluit, terwyl Vasks/Moss se innoverend saamgestelde Kersfees Maskerade dié uiters oorsponklike konsert skitterend afgesluit het.

Carpenter ʼn Don Quichot vir die orrel

deur Paul Boekkooi

RACHMANINOF: Rapsodie op ʼn Tema van Paganini, opus 43 – Weergawe vir Orrel en Orkes deur Cameron Carpenter (2018). POULENC: Konsert vir Orrel, Strykers en Pouke in g mineur, FP 93. VIERNE: Allegro-Finale uit die Orrelsimfonie no. 1 in d mineur, opus 14. Cameron Carpenter (Internasionale Toerorrel) / Konserthuis-orkes Berlyn / Christoph Eschenbach. Sony Classical 88985390822.

Daar is iets heiligs en soms ook iets skrikwekkends aan om ʼn pyp- of kerkorrel te ontdek. Is dit dalk dié koning van musiekinstrumente se onaantasbaarheid, die rype, majestueuse klankgolwe wat ʼn kerk of konsertsaal kan laat dreun, óf dat spesifieke komponiste se muses op hul mees inspirerende vlak na vore gekom het wanneer hulle vir hierdie instrument skryf?

Toe dit lyk asof die nuwe millennium ʼn aanvoelbare afplatting in die belangstelling vir orrelmusiek sou meebring, tree ʼn jong, rebelse en revolusionêre Amerikaanse orrelis, Cameron Carpenter, na vore. Soos ʼn Don Quichot van ouds, hef hy ʼn swaard vir die orrel aan. As ʼn produk van die “Big Apple” se Juilliard Musiekskool, besef hy al gou dat ʼn vervoerbare digitale “pyporrel” die antwoord op sy drome sou wees. Dié is in  opdrag van Carpenter deur Marshall & Ogletree gebou. Dit het vyf  manuale waar van die mees unieke klanke van orrels oor die wêreld ingesluit is en met mekaar gekombineer kan word.

Carpenter se derde CD kom skaars sonder ʼn skok of twee vir behoudende of dogmatiese orrelliefhebbers. Vreemd, maar ongelooflik oorspronklik en vindingryk, is sy orrelweergawe van een van Rachmaninof se gewildste werke vir klavier en orkes: die Rapsodie op ‘n Tema van Paganini. Skeptisisme het aanvanklik soos ʼn tropiese slaapsiekte by my kom broei. Dit was onnodig. Carpenter verryk die stuk met sy hoogs intelligente aanpassing. Die geheim is: waar ʼn klavier in wese ʼn slagwerkinstrument is, bied die orrel ʼn ryper liriese en harmoniese onderbou sonder dat dit enigsins die virtuositeit wat die komponis in gedagte gehad het, ondermyn. Carpenter se tempo’s is soms verbysterend. Dit verleen nuwe klankprofiele aan die werk. Waar die nuwe weergawe in besonder wen, is in dié variasies waar die Dies irae-tema na vore kom. Op die orrel klink dit des te meer bedreigend.

Poulenc se enigste Orrelkonsert (1938) is volgens Carpenter se programnotas in sý weergawe daarvan “Duruflé-free”. Waarop dit neerkom is dat hy die Franse orrelis Maurice Duruflé se registrasies vir dié werk vervang het met van sy eie. Sodoende, meen Carpenter, word Poulenc se concerto, wat lank deurgeloop het onder tydgebonde religieuse benaderings, daarvan bevry. Carpenter oortuig dié luisteraar met sy musikaal-intellektuele hersiening. Die effek daarvan is vergelykbaar met ʼn ou skildery ná restourasie: Die oorspronklike skerpheid en nuanses in die kleure is ineens weer duideliker sigbaar.

Die Berlynse Konserthuis-Orkes onder Christoph Eschenbach se merendeels idiomatiese oplettendheid, lewer voortreflike ondersteuning aan die orrelis in albei werke. ʼn Enkele teleurstelling betreffende dié uitreiking is Carpenter se oorwegend slordige en té voortslepend-inspirasielose weergawe van die Vierne-toegif. Gelukkig duur dit slegs ses minute…

Raiskin meesterlik in Brahms se eerste

deur Paul Boekkooi

Johannesburgse Filharmoniese Orkes, met Daniel Raiskin (dirigent) en Yi-Jia Susanne Hou (solis). Program: Adagio vir strykers (Barber); Vioolkonsert no. 1 in g mineur, opus 26 (Bruch); Simfonie no. 1 in c mineur, opus 68 (Schumann) Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg. 

Die Amerikaner Samuel Barber (1910-1981) se Adagio vir strykers is ʼn ideale openingswerk. Dit bied met sy roerende melodiese eenvoud en aanvoelbaar rype harmoniese subtiliteit vir die gehoor ʼn geleentheid om hulself tydelik af te sluit van ʼn dolle wêreld en mediterend die golwing van die komponis se inspirasie in te neem. Daniel Raiskin dra meesterlik die statige, eerbiedwekkende prosessie-aard daarvan uiters idiomaties aan die strykers oor. Hierna kon die Romantiek van Bruch en Brahms florerend gedy.

Yi-Jia Susanne Hou se uiters persoonlike, openbarende wyse waarop sy die werk van verskeie komponiste benader (soos op SKROP onlangs beskryf ná haar solo-uitvoering in die Linder) word met dieselfde soort kreatiewe vryheid voortgesit in haar uitvoering van Bruch se oorbekende Vioolkonsert no. 1 in g majeur, opus 26. In kontras met haar reeds fenomenale kamermusiekvertolkings, weet sy nou binne ʼn totaal ander musikale situasie hoe om haar viool te boetseer in klank- en vormgewing.

Bruch was ʼn skepper van ryk melodieë, strelende strykersklanke komende van die solis en orkes, en bykans eteries klinkende blasers. Hier is alles in volmaakte ewewig – soveel so dat dit oorromanties sou kon klink. Met me. Hou as solis gebeur dit selde. Sy stort haar beeldende vermoë as musikus kontrasterend op elke nuanse uit. Sy is afwisselend stormagtig en bedagsaam binne die musiek se natuurlike eb en vloed. Die een na die ander aangrypende of gevoelsryke melodie word gevul met kontrasryke sonoriteit. Die liries-ekspressiewe onderdele is reeds meevoerend, maar sy toon ook die reserwekrag om die onmiskenbare virtuositeit met besieling te voed.

Die JFO het onder Raiskin uiters beskaafd gemusiseer, met ritmiese presisie en soepelheid, ʼn goeie interne balans en oorkoepelend beskou uitstekende spel in veral solowerk. In ʼn gul toegif het Yi-Jia Susanne Hou gisteraand drie onbegeleide Chinese volksliedere en -danse uitgevoer. ʼn Hipnotiese ervaring.

Raiskin is meesterlike interpreteerder van Brahms. In laasgenoemde se oor ʼn uiters uitgerekte periode saamgestelde Simfonie no. 1 in c mineur, opus 68, het hy volle aandag aan alle aspekte daarvan gegee. Dit verbaas geensins dat dit die wêreld ná die première daarvan stormenderhand verower het nie. Raiskin het byvoorbeeld die herhaling van die eksposisie nie geminag nie, maar juis met die belang daarvan oortuig. Hierdie was ‘n uitvoering met hartstog, stukrag en ʼn tipies “Brahmsiaanse” klankkarakter –   ietwat donker, maar altyd warm getint. Die dirigent laat die note aan hulself oor, orden hulle sorgvuldig, maar belig hulle met afgeronde detail en verfynde lig- en skaduwerking. In dramatiese episodes voeg Raiskin ʼn opmerklike impulsiewe kern daaraan toe.

So val erns, poësie en skertsende onderdele sinergisties saam in ʼn grootse vertolking – iets wat ʼn mens byna totaal laat vergeet dat die trombone enkele slegte(r) oomblikke beleef het.

  • Herhaling: Donderdag 29 Augustus, 19:30. Kaartjies: Computicket, of by die loket.

Heather Massie

Geniale lewe van ʼn skoonheidsgodin

deur Kobus Burger

Die “mooiste vrou ter wêreld” en die “moeder van Wi-Fi” is ʼn paar van die akkolades wat die Oostenrykse aktrise en Hollywood-silwerdoekgodin Hedy Lamarr toegedig is. Selfs Catwoman en die rolprentweergawe van Sneeuwitjie is op haar voorkoms geskoei.

In die veelbekroonde solostuk Hedy! The Life & Inventions of Hedy Lamarr neem die Amerikaanse dramaturg-aktrise Heather Massie haar gehoor deur die verrassende en kleurryke lewe van Hedwig Eva Maria Kiesler (later Lamarr).

Massie, wat tans in New York woon, neem ons deur die glinster en glans van Hollywood met sterre soos onder andere Clark Gable en Bette Davis wat hul verskyning maak. Sy skets Lamarr se roemryke rolprentloopbaan wat later gelei het tot onder meer die ontdekking van “The Secret Communication System” – tegnologie wat vandag nog in selfone, Wi-Fi, GPS en Bluetooth ingespan word.

Al het Lamarr nooit voldoende vergoeding en erkenning vir haar uitvindsels gekry het nie, is sy in 2014 in die National Inventors Hall of Fame in die VSA opgeneem – eers sowat ʼn dekade en ʼn half ná  haar dood.

Die Hedy!-solostuk is deegliks nagevors en tegelykertyd ʼn stukkie fliekgeskiedenis, maar ook ʼn biografiese uitbeelding van Lamarr se liefdeslewe, kinderjare en wetenskaplike genialiteit. Massie moes weens ʼn onlangse voetbesering die produksie met die steun van ʼn kruk in Johannesburg op die planke bring, maar het dit so meesterlik hanteer (én geïnkorporeer) dat die gehoorlede verby die besering kon kyk.

Die stuk is wel effe lank, steun sommer swaar op al die feite en geskiedenis en klink by tye prekerig. Massie voer dit ook by skole op om jong vroue te inspireer om hulself in wetenskap en tegnologie uit te leef.

Desondanks lewer Massie ʼn kragtoer en bring ʼn vervloë era deur enkele rekwisiete en filmbeelde lewensgetrou na die verhoog. Gehoorlede sal dalk nog raakpunte met Marilyn Monroe en selfs Liz Taylor kan uitlig, maar agter Lamarr se verbluffende skoonheid was soveel meer as net ʼn prikkelpop of skoothondjie.

Hierdie inspirasie-inspuiting is spesiaal deur Daphne Kuhn van die Auto & General Theatre on the Square na Johannesburg gebring ter viering van Vrouemaand. Dit is teater wat jonk én oud sal begogel en ʼn mens weer die kreatiewe moed gee om jou verbeelding wild en wakker te laat galop.

  • Tot Saterdag 24 Augustus in die Theatre on the Square, Sandton. Bespreek deur Computicket. Besoek heathermassie.com/HEDY

ʼn Vrou van formaat.

Beste vyande: Evita en Pieter-Dirk

deur Mariana Malan

Vlymskerp tonge is Pieter-Dirk Uys en Evita Bezuidenhout se voorkeurwapens. Die twee leef al dekades lank onafskeidbaar van mekaar, en tog het ʼn mens hulle nog nooit saam gesien nie. Nou is hulle so dapper om saam op die verhoog te verskyn in Uys se solo-stuk #HeTwo.

“Ek salueer Evita vir die 40 jaar wat ons nou al saamloop,” sê Uys.

Ná al die jare is Evita nog net so bekkig en strydlustig soos altyd, en Uys sal sy passies moet ken om by te hou in hierdie tango totdat een se tong uithang of die ander een die knie buig.

“Net omdat Evita nie bestaan nie beteken dit nie sy is is nie werklik nie,” meen hy.

Sy is immers die bekendste wit vrou in Suid-Afrika. Al is sy nie meer die vurige Nasionalis van voorheen nie, kook sy nou onder die ANC-vaandel vurige brousels vir rekonsiliasie.

Natuurlik word sy ouer. Waar sy eers hooghakkig rondgetrippel het, is haar voete nou nader aan die aarde. Sy dra nou eerder Lady Di of die Koninginmoeder se praktiese hakke.

“Skoene is belangrik. As jou skoene druk raak jy suur. Het jy geweet al die Broederbonders het hul skoene te klein gedra?”

Volgens Uys is daar vir die vertoning deur ure se film- en ander materiaal gewerk om nuwe humor na die planke te bring.

“Daar’s nie grappe nie, maar hope humor. En dis nie ʼn movie nie. Dis interaksie en dit het vir my baie herinneringe opgeroep. Natuurlik is my herinneringe baie persoonlik en dit kan nie met ʼn gehoor gedeel word nie. Ons neem gehore op ʼn reis. Vir baie mense bestaan ons land se geskiedenis nie voor 1990 nie. Bring die kinders saam en op pad huis toe sal hulle die regte vrae vra.”

Evita Bezuidenhout het in die laat sewentigerjare vir die eerste keer op die toneel verskyn. Waar dit toe onwettig was om sekere dinge te dink, sê of doen en dat ʼn man vroueklere aantrek, het Evita die wag voor haar mond die trekpas gegee en gedoen en gesê wat sy wou.

Sommer gou het sy selfs politici in haar sak gehad en bekendes wou in haar geselskap gesien wees. Net vir Pieter-Dirk Uys het sy geen tyd gehad nie. Sy wou hom dagvaar vir laster.

Hy dink byvoorbeeld haar swart en silwer jas wat Chris Levine gemaak het, was eintlik vir onse Mimi bedoel. Toe sy nie wou betaal nie, het Evita dit skaamteloos oorgeneem.

Uys was al byna 8 000 keer alleen op die verhoog. Gelukkig kry hy hierdie keer ʼn waardige opponent om die kollig te deel.

  • #HeTwo is tot 18 Augustus in Pieter Toerien se Montecasino Theatre in Johannesburg. In Kaapstad is dit van 27 Augustus  tot 14 September in die Theatre on the Bay te sien. Bespreek by Computicket.
  • Evita besoek die 14de Voorkamerfees van 6 tot 8 September in Darling by Evita se Perron. Bespreek by voorkamerfest-darling.co.za   

Encore argief

  • Simfonieorkeste se repertorium-rondomtalies
  • Resensie van Anne-Sophie Mutter CD
  • Meesleurende Paaskonsert
  • Equus: Om opnuut te glo
  • Twee konings stamp koppe
  • Warm JFO-winterseisoen hier
  • Haydn die juweel van die aand
  • Draai die stilteknoppie harder
  • ʼn Visioenêre Russiese tjellomeester
  • Macbeth vir altyd
  • Job in die Goudstad
  • ʼn Weergalose Skotse simfonie
  • ʼn Byna geslaagde Vivaldi
  • Verrykende familiegeheime
  • Sempre Opera: La Traviata in die Goudstad
  • Musiek van volgroeide wonderkinders
  • Ontmensliking op sy kruuste
  • ʼn Blink gestewelde kat
  • Seldsame teater-alchemie
  • Intieme hotel-intriges
  • Vaarwel aan Russiese voortreflikheid
  • ʼn Puik jonger geslag pianiste tree aan
  • Violet: Onpretensieus en heerlik
  • Knetterdanse laat die vonke spat
  • Die strykstok vertel die verhaal
  • Ander invalshoeke op die ‘Bard’ se R&J
  • Gevoelsryke woordskildering
  • Kwartet op hoë vlak
Lees nou