Marlize Hobbs-Russel

“Vang die storie soos dit verbysweef”

deur Deborah Steinmair

Marlize Hobbs wou nog altyd skryf. “Ek het kort stories vir my vriende geskryf en op 12 my eerste boek: Verdwaling in die Ruimte. My ma het baie ensiklopidieë en digbundels gehad wat my geïnspireer het.

“Die plaas het my blootgestel aan ander kulture en hoe dinge werklik op plase gelyk het onder Apartheid. Ek het baie geleer van Tswanas en Griekwas. Die traumas waardeur ek is as kind, vind ook neerslag in my skryfwerk en solank ek nodig het om sekere dinge aan te raak, soos molestering of verkragting, om vir myself genesing te bring, so lank sal ek daaroor skryf.”

Verbeelding: “Ek kan my net dinge verbeel as ek relax. So, ek pop ’n urbanol as ek te opgewonde raak oor ’n storie, sodat ek rustig kan raak en die storie access. Stories float rond, as jy ’n idee kry moet jy hom skryf, anders gaan iemand anders hom skryf en jy gaan spyt wees. Ek is bang om rondom ander skrywers te dink, netnou access hulle my idees. Niks behoort aan ons nie. Jy is bloot die kanaal waardeur die storie geskryf word.”

Erotiek: “Ek dink meeste vroue het die potensiaal om eroties te wees, maar dis nie nodig vir straight vroue om eroties te wees nie; want dit vat niks om ’n man jags te maak nie. Maar om ’n liefdespel met ’n vrou aan te knoop, het jy die magte van toorwoorde en fyn aanraking nodig. As iemand my brein uitdaag, ervaar ek dit as eroties … wanneer my vrou my hare vasmaak in die oggend voor werk, want ek weet nie hoe nie, ervaar ek haar liefde en erotiek in die aksie.”

Novelles: “Ek word gou verveeld met te veel detail in boeke. Dit voel of daar nie plek is vir my brein of verbeelding nie. Dit voel vir my voorskriftelik van wat ek veronderstel is om te ervaar. Ek skryf kort en probeer om in so min as moontlik woorde soveel as moontlik te sê … Ek dink ek het die plek tussen ’n moerse roman en ’n gedig gevind, in die skryf van novelles.”

Gestremdheid: “Die gestremde kind in my verhale verteenwoordig my eie kind wat outisties is. Jy dink die kind verstaan nie of is so anders dat die wêreld vir haar onbekend is; totdat jy dieper kyk en sien hoe anders intelligent die kind is. In my verhale is die gestremde persoon altyd iemand met ’n natuurlike aanvoeling vir oorlewing en menswees.”

Invloede: “Ek het vir 4 jaar lank as ’n maatskaplike werker in ’n Tswana-stat, naby Botswana, in die ou Bophutatswana gewoon en geweerk. Daar het ek geweldig baie geleer van Tswana-mense. Ek het my eerste novella, Flarde, daar geskryf. Mens moet natuurlik versigtig wees om te steel sonder om te verstaan/erkenning te gee of om skeef uit te beeld. Die Tswana-vroue in my verhale is altyd sterk en eksoties met toorkrag.”

Haar nuwe boek, Voëlvrou: “Die storie is een van daardie wat in die Heelal rondgesweef het en net gewag het vir die regte persoon om dit te vertel … binne die regte konteks en gemeenskap met die regte karakters. Ek was gelukkig dat my gedagtes oop was vir idees. En toe ‘vang’ ek die storie soos dit verbysweef.”

Boeke – intiem, kosbaar en vol geheime

deur Deborah Steinmair

Wat sou ’n vakansie sonder boeke wees? Ek sleep ’n swaar tas saam na my bestemming, klokslag.

Ek het wyd gelees in Desember, alles waarvoor ek lus was, sonder om op te teken. Dit was meestal domestic noir om die feesliggies uit te balanseer. Wat bly vassteek, is Gone by Midnight, Snap, Into the Woods, The Whisper Man, Dry, Freefalling, Blue Moon.

Ek was besonder beïndruk met Candice Fox se Gone by Midnight. Wonderlike eksentrieke hoofkarakters wat deur die samelewing verstoot word. Soos dikwels het ek laat by die partytjie opgedaag: Gone by Midnight is die derde boek in ’n reeks. Ek gaan die twee voriges, Crimson Lake en Redemption Point, ook aanskaf. Die boeke speel in Australië af. Hierdie land wat soms vlak geblaai word, het al ’n Nobelpryswenner in letterkunde opgelewer, Patrick White, een van my heel gunstelingskrywers. Nog iemand wat die atmosfeer van die outback in al sy wydsheid en benepenheid onvergeetlik vasvang, is Jane Harper (The Dry, Force of Nature, The Lost Man).

As jy van rillers hou, is The Whisper Man van Alex North ’n uitstekende keuse. Dit het elemente van Jeffrey Deaver en Steven King en sal jou laat bibber en wakkerbly. Vir misdaadvrate stel die nuwe Jack Reacher, Blue Moon, glad nie teleur nie. As huishoudelike noir jou gunsteling is, is Snap deur Belinda Bauer tot op breekpunt gespan.

Nou is dit weer tyd om belangrike, letterkundige boeke oop te slaan. Hoewel ek my tussendeur sal bly vergryp aan misdaadrillers. Mag jy aanhou omblaai in 2020.

Phyllis Green se top-10
  1. Sewe-en-veertig deur Irma Venter
  2. Grensgeval deur Marita van der Vyver
  3. Smit Motors deur Renay Warrington
  4. Die boek van gelukkige eindes deur Debbie Loots
  5. Die Verevrou deur Jan van Tonder
  6. Die Wolkversamelaars deur Nadia de Kock
  7. Strafjaart deur Theo Kemp
  8. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach
  9. Die kind uit die wingerde deur Helene de Kock
  10. Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout

Diane de Beer

Top 10: Diane de Beer se boeke van 2019
  1.  Mick Herron’s Slow Horses series
  2.  Kyk na my – herinneringe aan ’n kindertyd deur Nataniël
  3.  A Sin of Omission by Marguerite Poland
  4.  Black Tax Burden or Ubuntu by Niq Mhlongo
  5.  Too Many Tsunamis by Vincent Pienaar
  6.  Tell Me How Long The Train’s Been Gone by James Baldwin
  7.  The Gene: an intimate history by Siddhartha Mukherjee
  8.  The Theory of Flight by Siphiwe Gloria Ndlovu
  9.  Chernobyl Prayer by Svetlana Alexievich
  10.  Charlotte by David Foenkinos

Lees Diane se blog: https://debeernecessities.com/

Etienne van Heerden

Die biblioteek: Van Heerden in vyfde rat

deur Deborah Steinmair

Etienne van Heerden is ’n gevierde romansier, een van ons grootstes. Hy is ook ongelooflik prolifiek: dit voel soos gister toe die lywige Die wêreld van Charlie Oeng op die Afrikaanse lettere losgelaat is. En nou: Die biblioteek aan die einde van die wêreld: ambisieus, groots in omvang, aktueel, polsend, kompleks en verbluffend.

Waar kom hy aan al sy idees en storielyne? Van Heerden sê in die bedanking die volgende oor die ontstaan van die boek: “Hierdie roman het ontstaan toe my bergfiets my in Jonkershoek buite Stellenbosch afgegooi het … In die dae wat volg, plat op my rug met ’n stukkende ribbekas waar die fietsstang my met die valslag getref het en op pynpille wat kodeïen bevat, het ek droomsnapse op my Facebook-muur gepos … Dit was verbeeldingsvlugte oor ’n biblioteek aan die einde van die wêreld.”

Hy was ook op ’n lesingreis na China, in hierdie roman ’n sentrale koplandskap.

Oor die woelige, hiper-aktiewe roman sê hy: “Die teks gaar dus op – nes die hamerkop, die weerligvoël, in sy nes opgaar aan die debris wat hy in die omringende landskap kry.” Van Heerden het tot aan die einde van 2016 die Hofman-leerstoel beset as emeritus professor van die Skool vir Tale en Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad – dus het hy die #Feesmustfall-beweging van naderby beleef en dit vind ook neerslag in die boek.

“Menings en formulerings en uitroepe en slagspreuke en frases en clichés – die chronolek waarna hierbo verwys is – in digitale en gedrukte vorm op plaaslike en internasionale forums, vind jy in hierdie teks.”

Hy verklap enkele van die temas: “Kwessies van identiteit … Daarbenewens is daar die groeiende diskoers – plaaslik en internasionaal – rondom sigbewaking. Kunsmatige intelligensie en verwante nuwe tegnologieë se impak op privaatheid en identiteit …”

Ten slotte stateer hy dat dit uiteindelik fiksie is: “en weerspieël die insigte en menings van storiekarakters nie noodwendig dié van die ondergetekende nie.”

Alhoewel, gee hy toe: “’n skrywer se boeke uiteindelik hóm skryf.”

Dié woelige Biblioteek wemel van temas en standpunte en die skrywer stuit nie vir sogenaamde cultural appropriation nie, hy is immers romansier en storiewewer en sy verbeelding is fenomenaal. Hy is ook nooit toondoof nie (ek sien daar was twee sensitiwiteitslesers, nog ’n relatief nuwe bergip: Bettina Wyngaard en Christi van der Westhuizen).

En uiteindelik is dit ’n uitasem leeservaring wat jou by die venster uitwaai, teen die kant van die kop klap en al vinniger laat omblaai, soos ’n Deon Meyer-misdaadroman. Leesstof uit die boonste rak, maar hou dit vir ’n naweek of vakansie wanneer jy al jou aandag daarin kan belê.

Vyf vrae aan Sonja Loots

deur Schalk Schoombie

Dr. Sonja Loots is saam met Steward van Wyk samesteller van Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek. Sy is die Senior Lektor: Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en die skrywer van Sirkusboere.

Uit die Voorwoord: “Die rangskikking in die bloemlesing is ʼn tentatiewe, verskuiwende kaart en sommige padtekens sal duideliker wees as ander. Daar is sypaadjies, doodloopstrate, voetpaadjies en dwaalroetes. Lesers word uitgenooi om self hul eie weg tussen verhale te vind. Soms sal spronge van een soort padoppervlak na ʼn ander nodig wees.”

In die voorwoord word verwys na “prosas” van Jan Rabie, wie se stories uit sy bundel 21 as tematiese riglyne gebruik is en wie se “prosas” elke afdeling open. Wat is prosas en hoe verskil dit van kortverhale?

Rabie was moontlik besig om beskeie te wees toe hy na sy eie skryfwerk as “prosas” verwys het. Moontlik het hy probeer aandui dat sy “prosas” korter was as die gemiddelde “kortverhaal”. Dalk het hy met die word “prosas” te kenne probeer gee dat hy eksperimenteel te werk gegaan het. Ons weet nie presies hoe hy dit bedoel het nie, maar ons meen hy sou te vinde gewees het vir bydraes in die bundel wat eksperimenteel is, baie kort is en/of generiese grense laat vervaag deurdat hulle oorspronklik as koerantrubrieke of verhoogdialoog bedink is.

Daar is nege afdelings sonder titels wat sleutels vir die leser kan bied in dié lywige bundel. Hoe het julle te werk gegaan om stories te rangskik?

Die rangskikking is ʼn losse een en wil doodgewoon hier en daar raakpunte tussen verhale suggereer. Ons aanvaar heeltemal dat lesers die verhale nie noodwendig sal lees in die volgorde waarin ons hulle geplaas het nie. Dit is in die haak en sal ander betekenisse losmaak.

Wat is die bundel nie?

Dit is nie ʼn bundel van “die beste” verhale deur “die beste” skrywers in Afrikaans nie. Ons voel die era van selfversekerde kanonisering is waarskynlik verby. Die klem val eerder op verskeidenheid, en op hedendaagse eggo’s van Rabie se verhale en temas.

Hoe is die nuwe ongepubliseerde verhale gekeur? Is daar nuwe tendense te bespeur?

Tydens keuring van ongepubliseerde verhale is ons gelei deur die beginsels wat in die vorige antwoord uitgelig word. ʼn Opvallende tendens was die aandag aan sosiaal-maatskaplike geweld en in besonder seksmisdade, veral teenoor kinders. Dit was vir ons ontstellend.

Uitgewers trap deesdae lig vir kortverhale, novelles, dramatekste en digbundels, terwyl mlisdaadfiksie die botoon voer. Hoop julle Die Groot Prosaboek kan lei tot ʼn opbloei in korter Afrikaanse fiksie?

Ons het nie die bundel aangepak omdat ons voel dat kortverhale ’n afskeepgenre is nie, maar dit sal mooi wees indien Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek wel nuwe stemme en benaderings stimuleer.

Joan Hambidge. Foto: Antonia Steyn

Joan Hambidge: Die oond is altyd aan by my

deur Deborah Steinmair

Wat maak van ’n skryfsel ’n gedig?
Ek glo nog aan die idee van “the well wrought urn” waar die gedig se boodskap en die tegniek iets besonders moet wees.

Hoe daag ’n gedig by jou op?
Dit is ’n proses wat ’n mens nie kan voorspel of beheer nie. Jy sien iets, beleef iets, is onrustig oor iets dan kom die gedig in fases na jou.

Skryf en herskryf jy?
Om te skryf is om te herskryf. ’n Mens beweeg telkens na dieselfde psigiese “scene of the crime” en delf dieper om by antwoorde uit te kom.

Word alles op aarde metafoor vir digters?
Groot digters het al hieroor getob. Die mens is metafoor en meer. Nie alles word metaforiek nie. Daar is ook ander kragtige digterlike tegnieke soos die simbool onder andere.

Wat inspireer jou?
Dit staan in my gedigte.

Hoe voed reis jou digkuns?
Om na vreemde ruimtes te reis, konfronteer ’n mens met jouself.  Jy staan op ’n plek sonder bakens of beskerming. En dan skuif iets kaleidoskopies oor mekaar …

Het jy raad vir jong digters:
Lees soveel moontlik goeie digters in Afrikaans en in ander tale. Jy kan net dig as jy weet wat reeds in jou taal gebeur het. Vir my is skryf verbind aan lees. En andersom.

Kan ’n mens iemand leer dig?
Ja ’n mens kan ’n persoon leer om sy maksimale talent te ontgin. Ek bied self ’n werkswinkel aan al vir etlike jare en het ’n hele paar talente gesien “gebeur”.

Almal het ontsag vir digkuns, maar daar is so min lesers of kopers van digbundels. Waarom?
Ek dink mense word getref deur een gedig en dra dit saam met hulle van skool af. Miskien dink mense ook die digkuns is te moeilik?

Jy het al prosa ook geskryf, met groot sukses. Hoe verskil die proses?
Presies dieselfde proses. Behalwe die gedig is soos 100m naelloop en die romankuns is soos ’n maraton.

Wanneer skryf jy?
Elke dag. Terwyl ek wag … altyd ’n boekie by my. Wanneer ek ’n bundel skryf tussen 3 – 5 vm.

Hoe beoordeel jy digkuns – aan die hand van formele riglyne of meer intuïtief?
Beide. Daar is formele riglyne, maar ’n mens kan ’n goeie gedig voel en sien en hoor.

Is dit soos enige vaardigheid wat ’n mens slyp?
Ek meen so.

Wie is jou gunstelingskrywers?
Perec, Proust, Flaubert, Binet, Etienne Leroux, Hennie Aucamp.

En digters?
Daar is geen digters nie, net ’n digkuns, het Neruda opgemerk. Almal wat goed dig, praat met my.

Ly jy ooit aan skrywersblok en wat is die teengif?
Ek skryf resensies en artikels en romans – so die oond is altyd aan by my.

Die poel is so klein by ons, dat skrywers dikwels ook resensente is. Is dit maar oral so?
Absoluut orals so. Skrywers is dikwels die beste resensente, omdat hulle ’n binneblik het.

Onder nomadiese sterre

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere?

So teen hierdie latenstyd ’n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was;
’n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur ’n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend,
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op ’n bitter tong geproe.
Eerste woorde op ’n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens ’n self verloor, soos ’n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van ’n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat ’n hartenswoord was, sou verloën.
’n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, ’n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.

Joan Hambidge

Shirley Gunn

Die waarheid is soos ’n kurkprop

deur Deborah Steinmair

Ashley Kriel was ’n twintigjarige Suid-Afrikaanse aktivis wat op 9 Julie 1987 in Kaapstad deur polisie vermoor is vir sy rol in anti-apartheidsaktiwiteite.

Umkhonto we Sizwe se eenheid in die Wes-Kaap is na hom vernoem en is gelei deur Shirley Gunn en Aneez Salie.

Voices from the Underground wat onlangs by Penguin verskyn het, bied die beknopte lewensverhale van agtien lede van die Ahsley Kriel Detachment: Shirley Gunn, Aneez Salie, Shanil Haricharan, Melvin Bruintjies, Mike Dearham, Kim Dearham, Ismail Vallie, Julie Vallie, Mogamat Salie, Seiraaj Salie, Sidney Hendricks, Vanessa November, Dicki Meter, Patrick Presence, Timothy Jacobs, Charles Martin, Heinrich Magerman en Chales Chrodnum. Dis saamgestel deur Shirley Gunn en Shanil Haricharan.

Die betrokkenes was ’n groep jongmense wat dikwels bang was, maar bereid om hulle lewens neer te lê in die stryd om vryheid tot die bitter einde. Hul lewens spreek van idealisme, toewyding en dissipline.

Dis ’n boek vir lesers wat van geskiedenis, biografieë en ware lewensdrama hou en ’n dokument van ’n lae punt in ons geskiedenis.

Shirley Gunn is wit en het in gegoede omstandighede in Rondebosch grootgeword, maar was van kleins af bewus van ongelykheid. Sy is tronk toe vir haar beginsels. Sy is vals beskuldig van die bomaanval op Khotso House in 1988 en haar lewe is telkens bedreig. Haar huwelik met Aneez Salie het nie die trauma van die struggle oorleef nie. Sy is verder getraumatiseer deur die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy het gesê die waarheid is soos ’n kurk wat altyd weer op die oppervlak sal kop uitsteek, jy kan dit nie lank onderdruk nie. Sy is tans direkteur van die Human Rights Media Centre, wat bewustheid van aktivisme kweek deur middel van narratiewe historiese projekte, soos hierdie boek.

Sy het ook gesê: “My life journey has followed a path of résistance, with truth, justice and equality as my guiding stars”.

Die boek is opgedra aan Ahsley Kriel, Coline Williams, Robbie Waterwitch, Anton Fransch en Chris Hani wat, soos vele ander, gesterf het in die stryd om vryheid.

Dis fassinerende leesstof wat ’n menslike gesig aan die gewapende stryd gee.

Marlize Hobbs se boeke:

Flarde verower in 2006 die Eugène Marais-prys en in dieselfde jaar word die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende Afrikaanse prosa ook aan hierdie boek toegeken.

Het jy al Prozac Nation gelees?

Skrywer van Prozac Nation, Elizabeth Wurzel

“But also, books are intimate and precious. Books are secret-sharing. Books are two drinks in, at a bar close to your house, a little sweaty and a little dark, and someone you know well but also don’t quite trust suddenly lowers her voice and maybe puts her hand up on your wrist, and tells you everything and you forget a minute how to breathe.”

Wonderlike woorde van Lynn Steger Strong. Lees haar uitmuntende opiniestuk oor Elizabeth Wurzel hier: https://lithub.com/how-did-elizabeth-wurtzel-survive-us/

Deborah Steinmair se top-10
  1. Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden
  2. Chinatown deur Ronelda S Kamfer
  3. Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach
  4. Die Verevrou deur Jan van Tonder
  5. Die Slaghuis deur Cas Wepener
  6. Sewe-en-veertig deur Irma Venter
  7. Kyk na my deur Nataniël
  8. Die Wonderwese deur Carina Stander
  9. Ek is Hendrik Witbooi deur Connie Braam
  10. Smit Motors deur Renay Warrington

Mariana Malan

Top 10: Mariana Malan se boeke, 2019
  1.  John Connolly – A Book of Bones
  2.  Carlos Ruiz Zafon – The Labyrinth of the Spirits
  3.  Yrsa Sigurdardottir – The Absolution
  4.  Lee Child – Blue Moon
  5.  Louise Penny – A Better Man
  6.  Fred Vargas –  This Poison Will Remain
  7.  Marita van der Vyver – Grensgeval
  8.  John Irving – Last Night in Twisted Rivier
  9. Dara Horn – The World to come 
  10. Alex Michaelides – The Silent Patient

Lusmaker uit Die biblioteek:

Dit neem my die hele oggend om te loop van Futsek daar by Hospital Bend bokant Mowbray tot by Uncle se lorriepark anderkant Bellville-stasie se taxi-rank. Ek sny eers op die skouer van die highway langs en toe ek skuins oor ʼn gholfbaan waar ʼn caddy vir my vuis wys (seker oor ek ʼn hoodie op het) – en toe deur ʼn groot vlei waar plastic shopping bags wapper aan riete. Toe agter factory yards verby, deur industrial area en weer oor ʼn pad met baie karre wat kwaai vir my hoot – wat soek jy hier op die oop pad! sien ek op die gesigte – en dan is ek teen die treinspoor af fen ek moet ligloop want hier teen die ysters staan shacks gestapel en dit lyk soos West Africans want ek hoor die Franse taal en daar is gerolde draad op heinings en honde gaan mal teen sinkplaathekke in driveways en uiteindelik is ek verby die ergste en in Voortrekkerweg en ek kan die lang straat vat af Bellville se kant toe.

Niemand laai meer hikers op nie. Almal is bang vir die meslem of die koeel. Ek is platsak en taxi fare is nie eens ʼn opsie nie.

ʼn Swart suidooster stoot oor die Cape Flats. Bolle sand sak oor die bloekoms en hakea en plate hophuise uit.

Ek het lanklaas soalleen gevoel.

Ek, Jerome. Altyd eenkant.

Top 10: Schalk Schoombie se Engelse boeke 2019
  1. The Overstory by Richard Powers
  2. Flights by Olga Tokarczuk
  3. The Great Believers by Rebecca Makkai
  4. Exhalation by Ted Chang
  5. The Afterlife by John Updike
  6. A Gentleman in Moscow by Amot Towles
  7. A Banquet of Consequences by Elizabeth George
  8. The Golden House by Salman Rushdie
  9. Priestdaddy by Patricia Lockwood
  10. The Café de Move-on Blues by Christopher Hope
Uittreksel uit Voices from the Underground

“I went to Stephen Reagan Primary, on the corner of Protea Road and Main Road where the Deaf Federation of South Africa is today. It was here, in Sub A, that I had my first political lesson. The apartheid government ordered that on 31 May 1964, Republic Day, all coloured and Black schools must sing their anthem, ‘Die Stem’, at assembly, and raise the apartheid flag, as was done at white schools. I picked up a lot of uneasy chatter among the older pupils on the playground and asked my suster Tourhiera, who was in Standard 5, what the fuss was all about. ‘Don’t you worry,’ she SAID. ‘All you need to remember is that at assembly you must not stand and you must not sing.’ When the music for the anthem played, the teachers rose and the flag was raised, but none of the children stood up and nobody sang. This was my first act of defiance against apartheid.

My next definitive political lesson was in September 1969, when Imam Abdullah Haron was brutally killed in detention. I was thirteen. Imam Haron was closely connected to my family. He was a progressive leader in our Claremont mosque and the editor of the Muslim News, and I often attended his talks. He would arrive at the mosque on Fridays, neatly dressed with a shining chiskop (clean-shaven head), and a bundle of newspapers under his arm. I remember saying to myself: I want to be like him one day.” – uit Aneez Salie se storie, “The Last Order”.

Ek het gedroom (vir Ralph)

“Ek het gedroom jy’t opgestaan uit jou dood
en aan my deur kom klop soos altyd met blomme, wyn en brood
jy sê: ek moes net vinnig wegkom en jy maak die bottel oop
ek is jammer oor die drama, maar dis die pad wat ek moes loop

Jy gaan sit op die rusbank en glimlag verleë
my mond is droog, my hande beef as ek die glase vir jou gee
het jy enige idee hoe ons gevoel het met jou dood
jy was selfsugtig, jy was wreed, jy sê: Miss Mandy, sny die brood

En so hard soos ek probeer kan ek nie uit die droom ontsnap
en ek sê vir God, Meester, hierdie droom is ’n siek grap
maar hier sit ons op my rusbank en jy kyk my in die oë
en jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo
hmm hmm

Ek sny die brood, skink die wyn, sit die blomme in ’n pot
terwyl jy giggel oor die knipsels uit die Beeld en die Rapport
daar’s meer, sê ek, lees Marie Claire en die Huisgenoot
en LitNet het ontplof met huldeblyke na jou dood

van Amsterdam tot Sydney is daar oor jou gerou
en RSG speel sedertdien elke dag ’n lied van jou
by ’n uitstalling in Oudtshoorn oor jou lewe en jou werk
het die mense kom kyk en huil, dit was heilig, soos ’n kerk

Dan sit jy jou bord neer, en lê jou kop op my skoot
jy sê: moenie hartseer wees nie, ek is nie regtig dood
solank jy my onthou sal ek lewe in jou kop
en net jy kan besluit om die herinnerings te stop

Miss Mandy, onthou jy hoe’t ons Saterdae geloop
deur Hillbrow se strate, ons was jonk en so vol hoop
en onthou jy die pub lunch in die Chelsea hotel,
ons het die slegste bord vis en tjips op aarde bestel

En jou gesig begin verdoof in die strale van die son
en waar jy my op skoot gerus het lê n blou ballon
en ek weet dat jy moes terugkeer na die ander kant
waar jy altyd jonk en vry sal wees en die lewe jou nie brand”

’n Lusmaker uit Die Wonderwese:

“DIE SON WAT DEUR DIE VENSTER op sy hande skyn het hom uit sy middagslapie wakker gemaak. Anav se gemmerkatjie, Katedraal, het knus op die bed teen sy voete gelê en slaap. Op die bedtafel was ’n skyf appeltert in ’n piering en ’n glas water wat Anav vir hom gelos het. Eron was hongerder as in ’n lang tyd. Hy het lustig geëet en gedrink, opgestaan en sy arms gestrek terwyl hy by die venster oor die dakke van Heiligbloed uitkyk. Die leiklipteëls was sorgvuldig gekap en gepak in die vorm van diamante. Hier en daar het ’n botterblommetjie tussen die teëls wortelgeskiet en in die sonlig geglinster. Vir die eerste keer sedert Waknia het Eron plat op die vloer gaan sit en die inhoud van sy reissak nagegaan. Heel bo was sy helfte van die silwerlinge wat hy en sy pa met die giet van die klokkespel in Nisistad verdien het. Dis die geld wat Velvel Azazel daardie verdoemende nag in Barbel by hom afgevat het en wat hy vir meer as ’n jaar lank geglo het verlore is, totdat sy oom Rauch dit op die perron van die Akrofort aan hom oorhandig het. Met sy linkerhand het Eron die silwerlinge in stapeltjies van tiene gepak en getel. Honderd, tweehonderd, driehonderd. Duisend, tweeduisend, drieduisend … Soveel geld waarmee Pa my vertrou om my pad deur die Vuurstorm te vind?!

Verstom het hy agteroor gesit, die sak onderstebo gekeer om die laaste muntstukke uit te skud, onvoorbereid op dié verrassing: ’n koevert geseël met ’n wasstempel waarin die voorletters “GV” afgedruk is en met die naam “Eron” in sy pa se handskrif daarop. Daar was by Eron geen twyfel nie, hy het die handskrif so goed leer ken toe hy as kind onder sy pa se arm ingekruip en gekyk het hoe Gibor met die houtskoolstafies skets, uitvee en nogmaals aantekeninge maak oor die klokke wat hy nog wou giet. Wat Eron die meeste verbyster het, is hoeveel sy eie handskrif deur die jare soos sy pa s’n begin lyk het – slanke bome, inleunend teen die wind. Eron se hart het in sy keel geklop. Hy kon dit voel, daardie oomblik wanneer ’n deur op ’n splinternuwe landskap oopmaak. Hy het die koevert tussen sy tande geklem, die wasseël met ’n bewende hand gebreek en die papier uitgeskud. Vir die eerrste keer in die vyftien maande sedert hul paaie in Barbel geskei het, kon Eron sy pa se stem klokhelder in sy gedagtes hoor:”

Protea, 2019.

Lusmaker uit look at me:

Sand. That is what I remember. The smell of sand. Old sand. The sand had been trucked in from far away, a long, long time ago. It fills a sandpit, round and twice as big as a fishpond. The pit has a cement rim with bits of slate set into it, awkwardly and sloppily, a circle of dark-grey stains. This is my play area. I sit on the sand. In front of me are two fat little legs with dimpled knees. They lie straight, like a doll’s. I follow them to my torso. These are my legs. (He sits like the dead! Grandmother always said.) Yes, sitting was my thing. Long after my cousins of the same age were walking and talking, I still sat. (But when he started it was all over! Grandma always said.)

Around me are plastic buckets and shovels in every colour. Now and then I stick a shovel in the sand and unearth another lump. Petrified cat poo. That’s where the unique smell comes from. Old sand with old poo makes for a smell that I will still recognise in designer gardens forty years later. I don’t think Mother would have let me play there if she knew the pit was an irresistible ablution facility for the neighbourhood’s night cats, but how could she have known? Cats bury and I sit with little shovels.

There in front of the house is my father. He’s trimming the edges of the lawn. He is tall and strong and very handsome. His arms bulge like in a drawing when he works in the garden. Schoolgirls and their mothers smile and say hello when they walk by, then they giggle and whisper to each other. I can see this from the pit.

On the porch is my mother. She is very pretty, she has dark women’s hair (women’s hair: not straight, not curly, not short, not long, just to the neck with the merest presence of a soft wave) and a tiny waist. She is dressed in a gleaming white blouse with short sleeves and a wide skirt with big flowers. She puts a small bowl on the porch wall.

Here’s a bit of biltong, she says. Eat slowly.

Drie boeke vir jou gees

Kry styl – Jesus s’n deur Stephan Joubert, Lux Verbi, 2019

In dié tydige boek daag die bekroonde teoloog Stephan Joubert die leser uit om anders te dink, maar veral te doen – soos Jesus. Hy gee ook raad oor hoe om ander hartroetes na te streef, roetes wat weer die wêreld rondom ons se verbeelding sal aangryp.

Wanneer woorde ontbreek deur Braam Klopper, Lux Verbi, 2019

Die skrywer is ’n predikant van Kemptonpark-Oos en ’n pastorale terapeut wat hom toespits op die hantering en verwerking van rou. Hierdie boek gee praktiese riglyne oor rou, wys spesifieke routake uit en bekyk die impak van selfdood of die dood van ’n kind op die rouproses. ʼn Onontbeerlike, wyse gids vir ons donker tye.

Landbouweekblad Hart tot hart – 366 grootdruk-dagstukkies, deur Kobus van der Westhuyzen, Lux Verbi, 2019

Landbouweekblad vier vanjaar hul 100 jaar-bestaan. Ds. Kobus van der Westhuyzen (88) het byna die helfte van hierdie tyd die gewilde Hart tot hart-rubriek geskryf. Hy skryf in gewone taal vir gewone mense en verstaan die hart van ’n boer en die nukke en grille van die natuur waaroor hulle geen beheer het nie. ʼn Keur van ’n halfeeu se inspirasie.

Wat Schalk Schoombie gelees het

Die een politieke bestel rig vir sy helde standbeelde  op – hoe groter en vernamer hoe beter – die volgende bedeling breek dit weer af ten gronde, bespat dit met verf en ekskresie – hoe smeriger en bespotliker hoe beter. Christopher Hope, uitgeweke Suid-Afrikaanse skrywer met ʼn vlymskerp pen, herinner ons in The Café de Move-on Blues, In Search of the New South Africa (Atlantic Books) dat die oorwinnaars nie net die geskiedenis in hul eie glorie herskryf nie, maar ook die verloorders se monumente ontluister, aftakel, verwyder, laat verdwyn. Daar moet deurentyd simbolies met die sondes en grootbase van gister afgereken word, op die grafte gedans word om historiese spoke te besweer.

Hope, wat deesdae in Frankryk woon, begin sy bittersoet pelgrimstog deur die Nuwe Suid-Afrika in Kaapstad, waar hy toevallig getuie is van die skending van Cecil John Rhodes se standbeeld op die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Dis ʼn jolige skouspel: “The mood of the students was a blend of protest and party-going that made it hard to know if they were furious or having fun, or in rehearsal for a piece of theatre.” Daar is immers ʼn teatrale en klugtige element aan alle politieke gebelgheid – gedenk Eugène Terre’Blanche wat van sy perd afgeneuk het. Hope besoek die standbeelde van gevalle helde dwarsdeur Suid-Afrika en gee ʼn gepiekelde kykie op die toutrekkery en uitbuitery oor die eeue heen én die afgelope paar dekades. Hy besoek verskeie standbeelde en gedenkwaardige plekke soos Matjiesfontein, Kimberley, en die verwaarloosde heldeakker in Pretoria, herontdek ons bloedbevlekte geskiedenis padlangs, gesels met kleurryke karakters van uiteenlopende oortuigings en verduidelik waar elk inpas in die oorblyfsels van Rhodes se “Empire of Dreams”. Ontmoetings met selfaangestelde bewakers van die standbeelde van Paul Kruger en Mandela word gelaai met empatie en ironie en kerf diep in die psige van ʼn verdeelde nasie wat weier om reënboog te wees.

Ondanks alle pogings van die ‘wenners’ om die geskiedenis te herontwerp, bly daar onuitwisbare spore van omstrede figure soos Rhodes. En dit is die nugter geskiedskrywers soos Hope wat jou wakker skok, laat peins en lag oor die absurditeite van voortvarende politici, generaals, idealiste en nasionaliste, dromers en delwers, vryheidsvegters en fanatici van alle kleure en kulture. Elke hoofstuk bars uit sy nate met skerpsinnighede wat verruim en begogel. Soos dié een: “Literacy beats eschatology.”

The Café Move-on Blues verwys na ʼn uitlating van Oliver Tambo oor die ewig swerwende, voortvlugtende aard van die Suid-Afrikaanse boorling. Pak op en beweeg aan. Tog wil die leser vertoef in dié reisjoernaal wat gepeper is met aweregse humor en verrassende feite uit ons geliefde, ontredderde land. As daar ʼn boek is wat Suid-Afrikaners vanjaar maar kan lees en herlees, is dit dié een.

Boeke argief

  • John King se sakeboeke
  • Wat Jonathan gelees het
  • Verslawende misdaadfiksie deur Mariana Malan
  • Reney Warrington deur Jonathan Amid
  • Lein Botha deur Deborah Steinmair
  • Kelder, laksman en noir: Gerda Taljaard-Gilson
  • Why write about travel? by Christopher Hope
  • Storieverteller en stoep-performer: Emma Bekker
  • TANSTAAFL, Waldo!
  • Vier grotes van 2018
  • ʼn Sestiger in Namibië
  • Beeldmateriaal: Jeanne Goosen
  • “Staaltjies stout en soet wat die oë laat rek”
  • Ja, Zirk is sy doopnaam
  • “Bob is bobaas,” reken Tinus
  • Marilynne Robinson preek nooit nie
  • Die (on)draaglike swaarheid van Bookerpryswenners
  • Wat Deborah gelees het: The Zulu of New York, Ek wens, ek wens, Kathrine Carlyle
  • Oorkant Juliana Coetzer
  • V&A: Kerneels Breytenbach
  • Wetenskap, mynwese, digkuns en skopskiet
  • Donker dinge en reeksmoordenaars
  • Onverskanste emosie
  • Jonathan Amid oor Hond se gedagte, Zola en Die dekonstruksie van Retta Blom
  • Martin Steyn oor ‘appropriation’
  • Klein portret: Johan Bakkes
  • Dossier: Deon Meyer
  • “Nee jislaaik, ek dink niks uit nie!”
  • Van patoloog tot storieverteller
  • Speurtog na die ondenkbare
  • Miss Mandy loop die pad al 40 jaar, my lam
  • Die Wonderwese – reismistiek en fantasie-avontuur
  • Nataniël, wese wat die koekiedrukker vrygespring het
Lees nou