Die verslawende misdaadfiksie van Penny, Sigurdardottir & Vargas

deur Mariana Malan

Die misdaadfiksie van sekere skrywers dwing jou om onmiddellik die boek van die winkelrak te haal en sonder om ’n oog te knip die volle prys te betaal. Daar is geen kans dat ’n nuwe roman van Louise Penny, Yrsa Sigurdardottir of Fred Vargas stof gaan vergader nie. Hul werk is verslawend.

Louise Penny se verhale speel af in die dorpie Three Pines, iewers in die ysigste deel van Kanada. Dis so klein en geheimsinnig dat dit nie eers op ’n kaart gevind kan word nie. Die mense wat daar woon en die eienaardige moorde wat gepleeg word, is vervleg met die lewe van die speurder Armand Gamache.

Die jongste twee in haar reeks van meer as tien oor Three Pines is Glass Houses en Kingdom of the Blind. Gebeure in die twee volg direk op mekaar en dit maak sin om hulle so gou moontlik na mekaar te lees. Dis eintlik ook sinvol om al die vorige in die reeks te lees. Daar is soms herhaling en terugverwysings, maar om volledig in die prentjie te wees kan gerus met Still Life afgeskop word.

Glass Houses gaan deels oor ’n waagstuk om dwelmhandelaars vas te trek maar dis veral die geheimsinnig cobrador, ’n gemaskerde figuur wat verskyn en bloot in ’n openbare plek in ’n mantel gehul staan. Hy/sy is die gewete van iemand wat iets so verskriklik gedoen het dat ’n gewete in sigbare vorm moet kom om vergelding te eis. Die ontknoping in hierdie verhaal is fassinerend.

In Kingdom of the Blind word gebeure uitgebrei wat met die dwelmhandelaars en ’n aweregse kadet wat Gamache teen almal se sin (en teen sy eie beterwete) tot die akademie toegelaat het, maar daar is ook veel meer. Dit begin met ’n byeenkoms van drie onwaarskynlike eksekuteurs van die boedel van ’n vrou wat hulle glad nie geken het nie. Met kinkels in elke moontlike kabel ontwikkel dit in ’n raaiselagtige moordverhaal wat slegs Gamache met sy besonderse insig en mensekennis kan oplos.

Boelies is die onderwerp in Yrsa Sigurdardottir se jongste riller/speurverhaal The Absolution. Dis die derde in die reeks met die speurder Huldar en die kindersielkundige Freyja (met The Legacy en The Reckoning wat dit voorafgaan).

Selde voorheen is daar so diep gedelf in die siel van afknouers en die uitwerking op hul slagoffers en hul gesinne. Die manier waarop daar met boelies afgereken word is bloedig, morsig en afgryslik. Daar is ook ’n ernstige waarskuwing dat die gevolge van afknouery oor dekades kan strek en dat wraak dikwels met tyd meer kwaad kan laat uitbroei.

Die rol van sosiale media kom onder die loep. Wat veral tref, is dat afknouery glad nie meer ontsnap kan word nie. Wanneer ’n kind van die skool af tuis kom, is die boelie steeds daar op sosiale media en met ’n baie groter gehoor as in ’n geslote omgewing.

Yrsa skram nie weg van grafiese geweld nie, soos lesers van haar vorige romans teen hierdie tyd al weet. En dié keer is dit nie net die moorde wat jou bloed laat stol nie. Dis die wreedheid waarmee iemand se siel verwoes word wat jou bybly.

In Augustus maak Fred Vargas (Franse historikus en argeoloog en, ja Fred is ’n vrou) se enigmatiese Commissaire Adamsberg weer sy opwagting ná sowat drie jaar se afwesigheid. Die prikkelende titel is This Poison will Remain. Vargas het ook reeds bekoorlike karakters geskep in die reeks wat begin het met The Three Evangelists. Haar boeke is in 45 tale vertaal en meer as tien miljoen eksemplare is al verkoop. Lees meer oor Vargas by https://www.penguinrandomhouse.com/authors/52967/fred-vargas

Mariana Malan

V & A met Réney Warrington

deur Jonathan Amid

Réney Warrington

Smit Motors. Een sin wat die kern van die verhaal vasvang?

Die liefde van mense.

Was Smit Motors ʼn groter uitdaging as Oktober?

H’m, nee. Beide was ewe maklik/moeilik en het ewe veel oorskryf gekos. Maar na die sukses van Smit Motors begin ek nou al stres oor nommer drie! Wat gaan Tannie Bettie, my 88-jarige bewonderaar, dink van die distopiese skop-skiet-en-donder wat al op 100 000 woorde staan? Of maak ek eerder die versameling briewe aan my broer klaar? Senuwees!

Is alle fiksie outobiografies?

Ek kan nie namens anders skrywers praat nie, maar sover skryf ek oor mense, vraagstukke en storielyne wat ek ken, of vir my belangrik is.

Hoe beïnvloed jou liefde vir films jou skryfwerk?

Dit is moeilik vir my om te peil. Ek skryf net soos ek skryf. (Duidelik het ek nie tale of kreatiewe skryfkuns bestudeer nie. Ek het ’n graad in politiek. Nee, ek weet ook nie hoekom nie.) Ander mense sê my boeke is filmies, amper draaiboeke.

Gunsteling fiksie-en filmkarakters, en hoekom?

Het almal nie ’n sagte plekkie vir die underdog nie? Die buiteperd? Vir die beskadigde, maar o so heroïese Sarah Connor in Terminator 2, Ripley in Alien/s en dan natuurlik, Charlize se brose en briesende Fioriosa in Mad Max: Thunder Road?

Een van my vroegste ‘karakter’ obsessies was Dian Fossey. Ek het die boek oor haar (Woman in the mist), asook die semi-wetenskaplike boek wat sy self geskryf het (Gorillas in the mist), gelees, onderstreep en weer gelees. Die hoogtepunt van my standerd 7-jaar was die uitreiking van die film, Woman in the mist, met Ripley van Alien, ag ek bedoel, Sigourney Weaver, in die hoofrol.

Eerste beeld wat by jou opgekom het vir Smit Motors?

Petra sit in ’n verlate speelpark voor sonop. Sy rook. Haar hoodie is oor haar kop getrek. Sy is bang vir wat die dorpenaars met haar sal doen as hulle wakker word en besef ’n queer het ingetrek. Die toneel is vroeg uitgesny.

Wat beteken die woord ‘familie’ vir jou?

Te veel.

Watter storie(s) moet ons nog in SA ontgin as storievertellers?

Ontelbaar baie. Stories is die ideale manier om ‘die ander’ gaping in ons land te oorbrug, om mense mekaar beter te laat verstaan sonder om prekerig te raak. Kyk na die film Kanarie, of selfs die TV reeks Spreeus. Ons kan deur stories en die ondersoek van mekaar se kulture, al is dit ons spookstories, minder vreemd raak vir mekaar.

Jy is baie naby aan jou ma. Beste advies wat sy jou al gegee het?

Mense wat se oë te naby aan mekaar sit kan jy nie vertrou nie! Nee, ek spot net. Sy gee omtrent daagliks vir my advies. Ek weet nie wat ek sonder haar eendag moet doen nie.

Wat’s volgende vir Réney Warrington?

Ek moet die klaarmaak van twee manuskripte balanseer met ’n nuwe besigheid op die been bring. Vir ’n skrywer en kunstenaar, my vrou Hannelie Coetzee, is patente, kontrakte, personeel en prokureurs omtrent Grieks. Hou vir my duim vas.

Lien Botha

Teksture, woorde, wegholvuur & ketties

deur Deborah Steinmair

Lien Botha is visuele kunstenaar en skrywer. Daar is ’n “gesellige simbiose” tussen die kunsvorme, vertel sy: “Die twee het maar altyd hand aan hand geloop as ek nou daaraan terugdink. Weeklikse besoeke aan die Openbare Biblioteek in Pretoria-Noord saam met ons moeder, het dieselfde betowering gehad as skemer se speel-speel met die vorms van blare en die teksture van takkies … Dis wonderlik om op ’n latere ouderdom ’n tweede asem te kry met ’n ewewydige loopbaan.”

Was sy swaarmoedig toe sy Wonderboom geskryf het? “Nie werklik nie; die skryfproses was voedsel vir die siel en allesoorheersend. Net soms het ek in my maag woorde voel kwes, waar herinneringe aan persoonlike verlies met maatskaplike ellende gekruis het.”

’n M in kreatiewe skryfkuns “het aan my die aanmoediging sowel as kardinale padwysers gegee om ’n manuskrip te voltooi.”

Sy is weer besig aan ’n manuskrip: “Ek meen dit is drasties anders. Hierdie roman handel oor die wel en weë van ’n kunskurator wat moet oorleef binne die komplekse uitbuiting en sisteme van die kunswêreld.”

Hoe voel dit as ’n wegholvuur jou aardse besittings bedreig? “Surrealisties. Jy word vinnig gereduseer. Vroeg daarde oggend  (van 11 Januarie 2019) het ek geweet hier kom ’n ding. Die noordwes het soos ’n woedende despoot geblaas, en dit was reeds onheilspellend want dit is ons winterwind daai. Raymond was in die stad dié oggend, maar ek het ’n paar geliefde boeke, cd’s, rekenaars, dokumente en ’n tas met allerlei in die motor gesit en dit buite die hek gaan parkeer. Daarna het ek die tuin natgespuit en die gas toegedraai. Die brand het later oor die teerpad gespring en ’n bergpad van verwoesting oopgekloof, waar dit teen skemer aan die suidoostelike kant van ons dorp geblus is, grotendeels weens reën wat begin uitsak het. 31 huise is in puin gelê en 28 erg beskadig.”

Gunstelingskrywers: “Eugène Marais, Herman Charles Bosman, Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Wilma Stockenström, Harry Kalmer, Karel Schoeman, J.M. Coetzee, Eben Venter, Imraan Coovadia, Henrietta Rose-Innes, Margaret Atwood, Virginia Woolf, Richard Flanagan, Chimamanda Adichie,  Jim Crace, Martin Amis, Saul Bellow, Roberto Bolaño, Italo Calvino, Albert Camus, Thomas Mann, Bruce Chatwin, V.S. Naipaul, Keri Hulme, Jumpa Lahiri, Primo Levi, Milan Kundera, John Williams, Umberto Eco, W.G. Sebald en Tatyana Tolstaya.”

Groot Afrikaanse Roman? “Daar was al ’n hele paar en 2019 lyk vir my hels belowend. Maar ja, wie weet … heel moontlik is ’n skrywer tans grootskaals aan die timmer in ’n klein kamertjie iewers tussen Koffiefontein en Triomf.”

Sypaadjielangs, hoe voel sy oor die gevaar om ‘toondoof’ oor te kom versus vryheid van spraak? “Ek skat dis veiliger om te fluister of gebaretaal te gebruik in ’n land waar menswaardigheid nog tot verhaal moet kom.”

Oor Suid-Afrika: “Mens vra jouself natuurlik af waar op aarde  jy beter daaraan toe sal wees, want in die woorde van Tatyana  Tolstaya: ‘Geen enkel samenleving deugt’ … Steeds,  ek  vermoed hierdie land het te veel mense wat met ketties rondloop (met apologie aan Emily Dickinson.)”

Kobus Geldenhuys

“Staaltjies stout en soet wat die oë laat rek”

deur Deborah Steinmair

Bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys het Die twee torings (die tweede deel van Tolkien se Lord of the rings) in gespierde Afrikaans omgetower. Dit word vanjaar deur Protea uitgegee. Hy was van kleins af lief vir tale: “Ek wou reis en vreemde goed en mense leer ken, en het besef mense is meer toeganklik as jy genoeg omgee om hulle moedertaal te (probeer) praat.”

Het hy die ander groot talekenner, Nerina Ferreira, geken? “Ja, ek was so bevoorreg! Staaltjies stout en soet wat oë laat rek – dit was Nerina daai! Ons het baie nagte deur gewerk terwyl ons albei in Seepunt vryskutvertalings vir oorklanking gedoen het. Sy het my ontsaglik baie van vertaling geleer – en tussendeur vele lewenswaarhede ingewerk. Dit was gewoonlik laatnag wanneer sy in haar sweetpak sit en werk en ons ’n film teen vinnige spoed kyk om uit te vind hoeveel dialoog daar is om te vertaal. Wanneer daar byvoorbeeld ’n toneel was waarin ’n skip geseil het en daar dus geen dialoog was nie, het Nerina kiertsregop gesit en gesê: ‘Seil, skippie, seil!’ want dit was geld wat inrol, aangesien ons betaal is per programlengte en nie die aantal woorde in die dialoog nie.”

Is enigiets vertaalbaar? “Onvertaalbaar is ’n vloekwoord wat gereeld by my opkom, maar jou werk as vertaler is om ’n ekwivalent in die teikentaal te vind. Indien nie, is daar altyd iets soortgelyks wat vir nuwe lesers in hulle taal die gevoel van die oorspronklike werk sal gee.”

Hoe pak hy vertaling aan? “Soms – soos met Tolkien – met bibberboude, maar ek het al geleer jy moet maar net induik. Ek vertaal gewoonlik taamlik vinnig, en bestee dan baie tyd aan selfredigering.”

Wat was uitdagend aan Tolkien? “Intense verhoogvrees en paniek voor die tyd! Beslis die meer “formele”, gedrae taalgebruik wat ek in Afrikaans getrou wou weergee. Dan die liriese en beskrywende gedeeltes – ek vaar van nature baie beter met dialoog! Verder is dit ’n kwessie van stamina; my moed was gereeld verby op. Ek en my redakteur, Shané Kleyn, dink baie dieselfde; danksy haar ondersteuning kon ek werk lewer waarmee ek uiteindelik tevrede was.”

Wat doen hy nóg? “Ek is seepskrywer en teksredakteur op Suidooster. Dis heerlik om met gevestigde skrywers én beginners te werk. Ek leer baie by die jongmense. Ek het jare lank oorklankingswerk gedoen, en gaan nou weer Die Sneeukoningin 3 in Afrikaans vertaal. Ek geniet dit om TV-draaiboeke te skryf – enkeldramas, en op die skryfspan van dramareekse soos Swartwater te wees. Hoe meer afwisseling, hoe beter!”

Sy gunstelingskrywer om te vertaal is David Walliams: “Hy is beslis die Dahl van die 21ste eeu. Ek verkneukel my in sy humorsin, sy konstellasie van karakters, sy afbreek van stereotipes – en boonop is alles met soveel deernis deurspek. Sy woordgebruik bied ook altyd heerlike taaluitdagings. Dit voel glad nie soos werk nie!”

Hier is ’n watertand voorsmakie uit Heerser van die torings: “… hy lyk soos ’n koning wat die kuste van mindere mense uit die newels van die see betree het.”

Zirk van den Berg

Ja, Zirk is sy doopnaam

deur Deborah Steinmair

Zirk van den Berg se eerste boek Ekstra dun vir meer gevoel het verskyn toe hy 29 was. Hy reken: “Die goed wat ek lees en wat ek wil skryf val iewers tussen Tryna du Toit en Ingrid Winterbach, en die mark verkies blykbaar die een of die ander – kommersieel of literêr. Ek sou graag boeiende stories wou skryf, soos kommersiële skrywers, maar met die geloofbare karakters en sorgsame prosa van literêre skrywers.”

Hy werk soms in ’n kantoor en soms tuis: “Sodra my vrou en kinders werk toe is, is dit net ek, my skootrekenaar en kat.” Hy skryf enigiets waarvoor hy betaal word. “Instruksies hoe jy paaie bou, persverklarings oor hoenderboerdery, bemarkingsbriewe vir kredietkaarte, tendervoorleggings vir skoonmaakdienste, brosjures vir begrafnisondernemers, en so aan. Dan het ek oor die afgelope klompie jare ook ’n hele paar boeke in Afrikaans vertaal, altesaam meer as ’n miljoen woorde.”

Oor Nieu-Seeland, waar hy woon: “Nieu-Seelandse skrywers het in 1985 en 2013 die Bookerprys vir literatuur gewen. Sedert 1993 het 24 Kiwis al Oscars gewen, onder meer die akteurs Russell Crowe en Anna Pacquin. Richard O’Brien se musiekblyspel The Rocky Horror Picture Show en flieks soos Jane Campion se The Piano en Peter Jackson The Lord of the Rings-reeks was wêreldwye treffers. So ook die musikante Kiri te Kanawa en Crowded House.”

Oor Suid-Afrika: “Dis baie swaar om jou land te verlaat. Een van die maniere waarop ek myself vergoed vir die gemis is om so min as moontlik te weet van wat in Suid-Afrika aangaan. Die teorie is dat die gebrek aan ontstellende nuus darem bietjie vergoed vir die hartseer.”

Hoe het Ek wens, ek wens ontstaan? “Ek het tien jaar gelede die idee gekry van die begrafnisondernemer wat glo hy het ’n wens gekry wat waar gaan word. Vroeg in 2017 was ek so radeloos oor ek niks uitgegee kry nie, dat ek probeer dink wat is die beste storie-idee wat ek het. Ek onthou toe hierdie een, los alles anders en skryf dit tjoef-tjaf klaar.”

Invloede: “Vladimir Nabokov, Raymond Chandler en Philip K. Dick. Die mense wat ek graag gelees het toe ek seker op my vatbaarste was.” Die bekroonde Franse skrywer Romain Gary se oeuvre beïndruk hom die meeste. Hy het ’n swakheid vir “voosgevatte boeke in tweedehandse winkels. So ontdek ek onlangs vir Andreï Makine en James Sallis. Die laaste topverkoper wat ek gelees het, was Annie Proulx se The Shipping News in die vroeë 1990s en die laaste literêre pryswenner kan ek nie onthou nie.”

Gunsteling Afrikaanse boeke: “W.O. Kühne se Huppelkind en Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe. Die een het my laat lag en die ander het my laat huil.”

Hy is altyd aan die skryf en het twee manuskripte gereed: “Een is vieslik en vermaaklik, ’n gruwelverhaal vol misdaad en seks, Nazis en annerlike monsters. Ons sal nog maar sien of iemand kans sien vir hom. Die ander is die vervolg op my Duitswesroman Die vertes in, wat seker my beste boek sover is.”

Tinus Horn (Foto Johann Kruger)

“Bob is bobaas,” reken Tinus

deur Deborah Steinmair

Tinus Horn is joernalis, skrywer, skilder en vertaler, maar het nie ’n day job nie: “Ek teken karikature by troues, verkoop af en toe ’n skildery, vertaal die Wimpy Kid-reeks in Afrikaans, doen taalversorging. Dit hou my aan die lewe.”

Wat was die impuls agter sy roman Boas Mei is verward? “Ek het in 2002 die kluts kwytgeraak en in die hospitaal beland. Hulle het ’n skandering gedoen en ’n bloedmassa so groot soos ’n gholfbal op my brein bespeur. Die herstel was die moeilikste ding wat my nog oorgekom het. Ek wou later daaroor skryf, en absurdisme staan my aan. Dit was nie eers nodig om baie ver van die waarheid af te wyk nie.”

Hy het onlangs Leon de Kock se The love song of André Brink in Afrikaans vertaal. Hy vertel: “Brink was ’n openbare figuur. ’n Biograaf wat iemand se beeld blinkpoets en van die feite wegskram, mors sy eie tyd en die leser s’n. Nou moet ek beken dat skrywersbiografieë my verveel, op een uitsondering na: Gore Vidal se skitterende outobiografie, Palimpsest. Die biograaf se verantwoordelikheid is om die waarheid te vertel en die leser te vermaak.”

Wou hy nog altyd skryf? “Die romantiek van ’n lonesome traveller wat sy omswerwinge beskryf, soos Jack London, het my aangestaan.”

Hy verkies skryf bo skilder: “Ek het myself as skilder in die steek gelaat; altyd ’n oog op die mark gehou, eerder as om te speel en te kyk wat gebeur. Ek is ’n prentjiemaker eerder as ’n kunstenaar. Dis seker nog nie te laat om om te draai nie. Wanneer ek skryf, is daar geen perke nie. My romans is my beste en bevredigendste werk.”

Help dit om visueel ingestel te wees wanneer ’n mens skryf? “Nee. Almal weet hoe lyk ’n boom en ’n rivier en ’n vrou se bolip. Moet dit asseblief nie probeer beskryf nie, tensy dit ’n hoogs uitsonderlike rivier, boom of bolip is.”

Invloede? “Nie een is Afrikaans nie: Herman Charles Bosman (na my mening verreweg Suid-Afrika se beste skrywer) en Kurt Vonnegut. Maar die grootste invloed was sonder twyfel Bob Dylan. Ek het nog nie ’n beter storieverteller teëgekom nie.”

Hoe werk hy? “Terwyl ek aan ’n boek werk, het ek ’n roetine, en as ek opgewonde raak oor ’n storie, gaan dit maklik. Ek staan vroegerig op of skryf in die bed, en skryf enigiets tussen 500 en 2000 woorde op ’n dag. Teen twaalfuur kan iemand my maklik ompraat om ’n bier te gaan drink.”

Hy lees op die oomblik Barcelona, deur Robert Hughes.

Oor die GAR: “Ek en al my skrywersvriende glo ons volgende boek is die Groot Afrikaanse Roman. Ek hoop een van ons is reg.”

Het hy hoop vir die land? “Ek dink nie verder as my volgende koppie koffie nie. O, en ek moet by die veearts ’n draai maak. Ek sien my hond se sjampoe is op.”

Boeke: Droster, Bomskok, Boas Mei is verward, Wat het geword van Dinsdag?

Carié Maas (links) skryf oor Marilynne Robinson

Marilynne Robinson preek nooit nie

deur Carié Maas

’n Mens moenie oor Marilynne Robinson lees nie, ’n mens moet haar net lees. Haar trilogie, Gilead, Home en Lila, slaan ’n mens se asem weg. Eintlik ook haar debuut, Housekeeping, wat 24 jaar voor Gilead verskyn het. Die boeke was die wag werd, al was Housekeeping reeds ’n verbysterende debuut. ’n Mens wil elke paragraaf weer lees, en dit stadig indrink. Hoe langer ’n bladsy kan rek, hoe beter. Dis nie net wat die sinne sê nie, dis ook wat tussen hulle adem. Dit kan ’n sonde wees om wel iets aan te haal, want hoe kies jy?

Gilead is ’n ou dominee se brief aan sy jong seun wat dié moet lees as hy eendag groot is, en só beskryf Robinson hoe John Ames sy sewejarige sien seepbelle blaas in die tuin: “I saw a bubble float past my window, fat and wobbly and ripening toward that dragonfly blue they turn just before they burst.” Die onderwerpe is nie lig nie, maar die humor is ’n redding. Die hoofkarakter beskryf hoe hulle as kinders eenmaal ’n klompie klein katjies gedoop het, en toe kom die helfte weg. En later het hulle telkens gewonder as hulle weer een raakloop: Is hy ’n Christen of heidens? Maar die katte kon bly gewees het hy was nie ’n Baptis nie, want dan sou hy hulle moes onderdompel. Sy skryf oor godsdiens, maar sy preek nooit.

In Home val die kollig op John Ames se beste vriend, ook ’n dominee, se seun Jack Boughton. Dis ’n storie oor die geheime van die swartskaap van die familie, maar sy pa se lieflingseun. Dit ruk jou derms. Lila vertel wat gebeur het met John Ames se jong vrou voor en ná hy haar ontmoet het.

Dat Robinson al van die grootste litêrere pryse gewen het, ’n essayis en akademikus van formaat is en ’n vriendin van Barack Obama, is alles goed en wel. Dis wat sy met woorde doen, en met jou kop en jou hart, wat haar vir haar lesers ikonies maak. Haar droë wysheid.

Gilead het in 2004 verskyn, Home in 2008 en Lila in 2014. Mag die volgende roman deur die genade nie ver van publikasie af wees nie.

Carié Maas se roman Koljander was die debuutwenner in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Wat Jonathan Amid gelees het

2019 is nog ʼn besonderse jaar vir plaaslike fiksie. Lucky Packet, Trevor Sacks se debuut, is verbysterend goed. Soveel so dat ek met die intrapslag meegevoer was, binne ʼn paar bladsye se lees reeds meer as ʼn paar keer kliphard gelag het, en presies die karakters, ruimte en gebeure voor my kon sien afspeel.

Sacks het hier ʼn Bildungsroman geskep wat tot ʼn breë leserspubliek sal spreek. ʼn Coming-of-age-story wat tegelyk ʼn besonder ryk sin vir karakter, fantastiese humorsin, onstuitbare momentum (ja!), onvergeetlike detail en bowenal ʼn wysheid oor die menslike kondisie en ons swakhede vasvang.

Elke hoofstuk – kort, kragtig, vol kwinkslae en menschlichkeit, maar nooit te selfbewus in vertelling nie – is soos ʼn kortverhaal op sy eie, vertel vanuit die perspektief van die ouer Ben Aronbach. Hoewel die ouer Ben sy vertelling begin deur ʼn moment vas te vang van sy jonger self op ‘vyf of ses’, is die kern van die verhaal wanneer die twaalfjarige Joodse seun kennis maak met die skelm, die scheister, die schlemiel, die vermetele Leo Fein.

Lucky Packet dokumenteer met sjarme, houding, chutzpah, ontnugtering, meelewing, en ontsaglike deernis presies hoe Fein ʼn verwoestende impak op sy eie lewe, die lewe van sy familie, en veral sy moeder, sou hê.

Ben word groot in ʼn piepklein dorpie (raai waar?) in die 1980’s. Dis geen verrassing dat hy nie inpas nie. Tussen konserwatiewe, hiper-Christelike Afrikaners is hy die Joodse, Engelssprekende, avontuurlustige, ondeunde outsider. Om nie eens te praat van sy twee broers wat soos dag en nag van mekaar verskil nie. Met Ben se pa se dood, en die verskyning van Leo Fein – wat glo sy pa geken het – verander sy lewe onherroeplik.

Verwag die onverwagse, soos toe die einde van Apartheid nader sluip en Ben gedwing word om in kringe te beweeg wat hy nooit sou kon voorsien nie. Wat Lucky Packet met speelse ironie, wrang humor en dodelike erns vasvang, is die absurditeit en die magdom onverwagse konneksies en verhoudings wat uit die Apartheidsregime voortgespruit het. Net wanneer jy dink jy het ʼn houvas op die trajek van die verhaal, word jy telkemale opnuut uit die veld geslaan.

Kyk hoe beskryf die ouer Ben die lucky packet, wat hy in die openingstoneel onthou:

A lucky packet offers not only the most reward, with its surprise gift, but a release from the burden of choice, from the consequences of a bad choice. Pick a bad lucky packet and you have a throwaway knickknack, but still the sweets; pick a good one and you have a toy to play with for the rest of the week.

So word dit algaande in hierdie uitsonderlike roman duidelik dat die lewe soms soos ʼn lucky packet mag wees – en dat ons selfs met slegte of verkeerde keuses iets van waarde kan wegneem – maar dat ons ook nie altyd ʼn keuse het in die rigting waarop ons lewe afstuur nie. Soms moet elk van ons tog ook lees uit die Boek van Toeval en Toeverlaat.

Ekow Duker is in enigeen se boekie ʼn fassinerende figuur. Hy het sy opvoeding en verdere studies meegemaak in Ghana, die Verenigde Koninkryk, die VSA en Frankryk, en het ervaring as olieveld-ingenieur, as bankier en as korporatiewe strateeg. Hy is tans werksaam in die data wetenskap.

Voor Yellowbone het Duker reeds drie ander romans gepen, hoewel dit die eerste is wat ek van die skrywer lees. Yellowbone se skryfwerk is van so ʼn gehalte, en die trefkrag van die roman so groot, dat ek beslis van plan is om die vorige romans so gou moontlik op te spoor. Die roman kan nie maklik opgesom of gereduseer word tot ʼn eenvoudige sinopsis nie. ʼn Antieke viool verbind die karakters en lewensreise van Karabo Bentil – die ‘yellowbone’ van die titel – en Andre Potgieter, ʼn begaafde vioolspeler.

Karabo en Andre se paaie kruis direk met mekaar in Londen, hoewel die verhaal draai in Suid-Afrika, Engeland en Ghana. Beide is tragiese figure – randfigure op hul eie manier, onseker van hul plek in die wêreld, en veral in onsekerheid gedompel oor hul toekoms – en Yellowbone beproef elk ten sterkste, voor ʼn ietwat hoopvolle dog gepaste wending die roman afsluit.

Karabo, wat in Mthatha grootword, is ʼn karakter wat ʼn reeks uiteenlopende emosies by die leser wakker maak, en beslis nie altyd positief nie. Juis daarom is dit moontlik vir Duker om met sy vroulike hoofkarakter ʼn pleidooi te lewer vir groter deernis, vir groter pogings om te verstaan, hoe moeilik dit steeds is vir enigiemand wat anders lyk om te integreer. Selfs, of dalk veral, in die kleinste gemeenskappe. Haar karakter laat Duker toe om met ontsag te skryf oor ras, klas, gemeenskap, die kosmopolitiese, en die foutlyne tussen inklusiwiteit, identiteit en kultuur.

Duker skep met Andre Potgieter ʼn diep versteurde, dog baie simpatieke, manlike protagonis, een wat tegelyk besoek word deur engele wanneer hy speel en getreiter word deur verskeie demone wanneer hy buite die wêreld van musiek en musikaliteit durf beweeg. Andre is anders, en hy herinner ons aan ons eie feilbaarheid en swakhede, sonder dat sy verhaal enigsins didakties of prekerig begin raak. Trouens, dis haas onmoontlik om nie in vervoering te wees met die lees van Andre se gawes en optredes nie, en hoe hy deur die engele besoek word nie.

Yellowbone is nie soseer magiese realisme nie, maar dit wend die magiese, en die krag van woorde en kuns aan om hierdie narratief tot ʼn plek van heiligdom te verhef.

Duker is ʼn begaafde skrywer. Yellowbone sal vir die regte leser ʼn onvergeetlike leeservaring bied.

 Leo Tolstoy het op ʼn kol gesê: ‘All great literature is one of two stories; a man goes on a journey or a stranger comes to town.’

Rénay Warrington se tweede roman, Smit Motors, is die soort tydlose verhaal wat grense tussen lekkerlees-boek en ‘great literature’ verdof. Resensies loof die skrywer se karakterontwikkeling, aanvoeling vir plek en ruimte, sensitiwiteit soos sy omgaan met gestremdheid, ouerskap, en trauma. Hoe sy leesbaarheid en ʼn outentieke stem vir haar verskillende karakters vasvang.

Vir my is Smit Motors – intiem verbeel, pragtig gepen, so gemaklik met stilte as met die dreigende maalkolk van verbale en fisieke geweld – Warrington se eie aanbod van ʼn Nouveau film in die Afrikaanse Lettere. Soos ʼn top regisseur steun Warrington op twee sekure fondasies: die eerlike, opregte, ruwe krag van ʼn verhaal wat hoofkarakter Petra Smit op ʼn letterlike en geestelike reis neem, en om haar die vreemdeling te maak, die ‘stranger coming to town’ waarvan ʼn dorp se mense van notisie moet neem.

Die naam Petra beteken oorspronklik ‘klip’ of ‘rots’. Warrington gee kleur en dimensie aan Petra deur haar formidabel te maak juis ten spyte van haar eie kwesbaarheid, onsekerheid en feilbaarheid. Kind van ʼn ma wat haar verstoot het. Verstoteling. Skrywer wat sukkel om te skryf, ʼn randfiguur wie se moed haar dikwels begewe. Ellendeling. Smag na moederskap van haar eie kind, maar haar identiteit as lesbiese vrou bemoeilik enige eenvoudige pogings tot swangerskap. Haar verhouding met Cyla vol passie en drif, maar Petra baklei teen die smart van ʼn verlede wat eers volledig tot haar deurdring wanneer haar tyd in ʼn klein dorpie in die Vrystaat haar direk met ʼn ontsaglike dilemma konfronteer: is sy genoeg van ʼn rots om ʼn weerlose kind, Monty, van sy eie pa te red?

Die Smit Motors van die titel – ʼn werkswinkel op die koop toe beskou te veel van ʼn las vir erfgenaam Petra om aan vas te klou – word ook die narratiewe motor van ʼn veelvlakkige verkenning van broosheid en innerlike krag, ons pogings om of onsself of ander te red. Warrington se veer is vol gitswart ink, dog weeg haar prosa veerkragtig eerder as bloot gespierd. Vroue as sielsgenote, minnaars, vriende, vertrouelinge, word weergegee soos ʼn gebed en ʼn geweerskoot: ontsag, onmiddellikheid, omarming van weerloosheid en patos.

Voel ook die pyn aan die bors van kunstenaar Susan, ʼn buitestander wie se verhaal op uitsonderlike wyse tot die van Petra spreek. Spandeer tyd in die township met die kinderoppasser Johanna, die verwaarloosde Monty, die wreedaardige dorp se slagter en die nimlike, minlike Arno, wat soveel meer as net sy gestremdheid is.

Smit Motors is, soos Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens, ʼn meesterlike sprokie vir volwassenes, een waar die stryd tussen lig en donker nooit deur die bonatuurlike bepaal word nie. Eerder die besef dat gebrokenheid alleen nie kan keer dat ons die noodlot tart deur die helde en heldinne van ons eie verhale te word nie. – Jonathan Amid

Wat Deborah gelees het

Tussendeur die meer gewigtige boeke wat ek vir werk lees, verslind ek huishoudelike noir. Dikwels verval hierdie gewilde genre helaas in resepmatigheid: as jy ’n paar gelees het, weet jy gewoonlik lank voor die einde wat gaan gebeur en die kinkel in die stert verbaas jou glad nie. Hierdie was een van daardie, maar tog bly jy vinnig omblaai en sit jy op die punt van jou stoel.

Die premis is interessant: die hoofkarakter, Alex, is al twee jaar in ’n koma ná ’n bergklim-ongeluk. Niemand het veel hoop dat hy gaan wakker word nie en dokters kan geen breinaktiwiteit by hom bespeur nie. Sy geliefde, Bea, bly nogtans aan sy sy, maar uit welke motief: liefde of skuld? Want dit word algaande duidelik dat sy besering geen ongeluk was nie.

Dis interessant dat die hele storie vertel word vanuit die oogpunt van ’n man in koma: hy kan elke (rare) aanraking voel, hy kan elke woord hoor en verstaan en soms, wanneer sy oë toevallig halfoop is, kan hy grys figure uitmaak. Hy kan egter nie roer nie. So hoor hy sy vriende bo-oor hom baklei oor hul eie huishoudelike sake en ruik hy met waterende mond hoe hulle Indiese wegneemkos eet terwyl hy deur ’n buis in sy maag met ’n koue vloeistof gevoed word. Hy word deur ongevoelige verpleegpersoneel soos ’n sak patats rondgeslinger en deur hartelose dokters gedruk en bevoel. Dis slegs sy meisie, Bea, wat agter sy rug inkrul en hom alles van haar dag vertel, maar hy voel sy doen dit soos iemand wat in ’n dagboek skryf of by ’n priester bieg: sy deel goed wat sy nooit sou deel as sy geweet het hy hoor nie, dinge wat haar sleg kan laat lyk, waaroor sy gejok het, waaroor hy haar (in die verlede) sou kon spot.

Sy grootste wens is om dood te gaan. Maar dan ontmoet Bea iemand anders en skielik wil hy lewe: hy wou doodgaan met ’n geliefde wat oor hom rou, nie alleen nie. Hy span sy merkwaardige wilskrag in om ’n vinger te roer om vir iemand te wys hy is nog daar binne. Gaan hy hierin slaag? Gaan hy uitvind wie hom gestamp het en wat Bea se agenda is? Lekker ontspanningslektuur, hoewel die einde my nie bevredig het nie.

Emily Koch is ’n bekroonde joernalis van Bristol en dis haar eerste boek.

Wat John nou lees

John King

John King, bestuurder van die UPPERcase Boekwinkel in Central Square, Menlyn Maine is ʼn superboekwurm, Weekliks draf hy ʼn kruiwa vol nuwe boeke kaf. “Uit die aard van my werk kry ek heelwat voorafkopieë – sekere van hierdie titels is nog komende in 2019 – so ver soos Julie,” verduidelik John.

  • The Department of Sensitive Crimes – Alexander McCall Smith (Little, Brown 2019)
  • The Umbrella Mouse – Anna Fargher (Macmillan 2019)
  • The Forest of Wool and Steel – Natsu Miyashita (Doubleday 2019)
  • Smit Motors – Reney Warrington (Wenkbrou 2019)
  • Triangulum – Masande Ntshanga (Umuzi 2019)
  • The Oracle: A Fargo Adventure –Clive Cussler and Robin Burcell (Penguin|Michael Joseph 2019)
  • Subscribed – Tien Tzuo (Portfolio Penguin 2018)

“Wat ’n verrassing is Smit Motors nie! Ek lees stadig want die karakters is só goed geskets dat ek nie wil hê die storie moet eindig nie (en gaan daar iets tragies gebeur?)

The Forest of Wool and Steel is ʼn dun vertaalde werk (uit Japanees) met ʼn klavierstemmer as hoofkarakter. Pragtig!

“Ek bly maar ʼn fan van Clive Cussler – al skryf hy al jare nie meer die meeste van die avontuurverhale wat onder sy naam verskyn nie (blykbaar net die knoop en ander kleur dit in!) – maar ek lees nog elkeen van sy boeke vir die loutere plesier.”

Kontak John King by

UPPERcase Central Square @ Menlyn Maine

uppercasebooks.co.za

012 348 1835

Wat Deborah gelees het

Zakes Mda se Zulus of New York (Umuzi, 2019) is ’n dunnerige boek wat vurige emosies by die leser ontketen. Dis op sensaionele ware gebeure gegrond, soos Sonja Loots se Sirkusboere. Die leser beland pens en pootjies in die VSA in die dae van P.T. Barnum en die groot Farini. Mense betaal om ‘fratse’ uit Afrika van nader te beskou; hoe wilder en vreesaanjaender hoe beter, want: “Who the hell wants to see a friendly Zulu in New York?”

Dit begin in kwaZulu in 1878. Mpiyezintombi of Mpi is ’n gunsteling aan die hof van koning Cetshwhayo. Mpi se pa was ’n lid van die reglement wat vir Piet Retief doodgemaak het. Hyself is in die binnekring, maar hy raak verlief op een van die bloedjong meisies wat die koning aan sy hof neem en ‘beskerm’, word in die maanlig in haar arms betrap en vlug vir sy lewe met net sy assegaai en skild. Hy beland uiteindelik in New York, ’n stad wat wemel van koninklikes uit Afrika, want skielik was elke Afrikaan ’n prins of prinses – ’n besienswaardigheid. Soos ’n reuse-Zoeloe in ’n kou wat lewendige hoenders met sy tande verskeur en met vere en al verorber en Dinky, die Dinka-prinses uit Soedan, ’n lang, persswart skoonheid wat heeldag in ’n beknopte sit-sit en stoïsyns voor haar uitstaar. Daar is ’n kennisgewing: Do not touch the exhibit.

Mpi word deel van ’n troep sogenaamde Zoeloedansers, van wie hy die enigste ware Zoeloe is. Em-Pee soos hy in New York genoem word, raak verlief op die sogenaamde Dinka-prinses, wat ’n Brit se eiendom is, al is slawerny reeds afgeskaf en natuurlik eindig dit nie mooi nie.

Dis een van daardie boeke wat ’n mens aangryp en jou vel ongemaklik laat kriewel met koloniale skuld en nuttelose, mosterd-na-die-maal berou. Maar dit laat jou ook verwonderd oor die vindingrykheid en oorlewingsdrang van die menslike gees.

Soms is ’n roman klein en dun en stil, maar dit dawer soos ’n spreuk of blink soos ’n edelsteen. Hierdie is so ’n roman. Dis asof dit nog altyd daar was. Daar is niks geprakseer of bewimpel daaraan nie: dis amper vanselfsprekend. Daar is geen poging tot mooiskryf of opstoppery nie, die taal is gestroop, net die nodige inkleding word gedoen, soos met ’n novelle, en wat die leser bybly is die karakters. Daar is te min van hierdie soort boeke in Afrikaans, want almal probeer óf om gewigtige Groot Afrikaanse Romans óf deurdrumpels wat misdaadvrate heelnag wakkerhou, te skryf.

’n Reeks soos Six feet under het lykbesorging sexy gemaak, maar daar is niks glamoreus aan Seb se job by White Lily Funerals nie. Tog is hy goed in sy werk, maar ontdaan van lewensvreugde en emosioneel verwyder van sy vrou en kinders. Tot hy ’n sterwende kind, Gawie, ontmoet wat hom aan ’n engel herinner en die Rubrik-vierkant aan sy sleutelring blitsig laat uitwerk. En Gawie se ma.

Sê nou wense word waar? Seb begin in wense glo en sy lewe is nooit weer dieselfde nie. Hierdie Zirk van der Berg wat in Suidwes gebore is en nou in Nieu-Seeland woon, kan gerus dopgehou word.

Ek wens, ek wens word van Donderdag 6 Junie elke weeksaand om 19:20 op RSG voorgelees.

Het jy al iets van Rupert Thomson gelees? Hy het al meer as tien boeke geskryf, maar Katherine Carlyle word as sy ‘breakthrough novel’ beskou. Ek het dit in Bargain Books raakgegryp en kon dit nie neersit nie. Die titelkarakter, Kit, was ’n proefbuisbaba: meer nog, sy was as embrio vir agt jaar gevries voordat sy in haar ma se baarmoeder geplant is. Ons leer die jong Kit ken – sy is negentien en skrander, woon saam met haar treurende pa in Rome, is veronderstel om Oxford toe te gaan, maar sy kry nie rigting nie, veral na haar ma se dood aan kanker, waarvoor sy die prosedures wat tot haar geboorte aanleiding gegee het, en dus haarself, blameer.

Die boek begin so: “I was made in a small square dish.”

Katherine voel ankerloos, toevallig, onwerklik. Sy hunker na ’n bestaan gevorm deur lukrake besluite en die noodlot, sy wil bly beweeg, op die uitkyk na tekens en gekodeerde boodskappe. Sy hoor die naam van ’n vreemdeling en ’n deel van sy adres in Berlyn en vertrek soontoe om hom te gaan soek. ’n Soort verhouding ontstaan, maar daar is ook ander mans wat haar oog vang en wat sy as deel van haar bestemming herken. Die leser reis saam met die rustelose Kit, al hoe verder noord, waar dit ysig is, met permanente ryp en min daglig, waar die elemente verwoed is en die mens in ’n stryd om oorlewing gewikkel. Hier voel sy tuis, bekend. Sy speel ook kat en muis met haar bedroefde pa. Gaan hy haar opspoor, gaan iemand haar red?

Die wonderlikste ding van hierdie boek is Tomson se prosa: hy het daardie oënskynlik moeitelose, digterlike manier van skryf bemeester: woordekonomies, evokatief, kinematies: “Outside, the night is so cold that breathing is difficult. My throat and lungs feel scoured by the air. I tip my head back, and the sky towers above me, layer on layer of blackness. The moon is a round hole, small and brilliant. Light streams through it from another, brighter world.” Dis ’n verstommende reis na wie weet waar. Ek beveel dit hoog aan.

Die (on)draaglike swaarheid van Bookerpryswenners
deur Schalk Schoombie

“Te moeilik!” “Ontoeganklik!” “Onleesbaar!” Enkele klagtes wat ek al teëgekom het oor romans wat met die jaarlikse Bookerprys in Brittanje bekroon is. Nog ’n aantyging: “Gekies om omstrede te wees!” Ter verdediging van die beoordelaars se keuses sou jy kon aanvoer: dis ’n literêre prys, nie ’n gewildheidsprys nie.

Jy wil hoop en glo dat gehalte en stilistiese vernuwing die bakermat moet wees. Onafwendbaar speel persoonlike smaak (van die beoordelaars) en die tydgees (politieke korrektheid, bepaalde behepthede) ’n deurslaggewende rol, solank daar darem ook waagmoedige keuses gemaak word, met wenwerke wat grense verskuif en lesers uit hul gemaksones prik, hulle uitdaag om wyer en dieper te verken, vrae te stel en deel van die breër diskoers te word.

  • Aanvanklik was ek meegevoer met The Luminaries deur Eleonor Catton, ’n epiese relaas oor die goudvelde van Nieu-Seeland (Booker 2013), maar ek het die afloop duister en onafgerond gevind; te veel los drade.
  • Richard Flanagan se The Narrow Road to the Deep North (Booker 2014) was deurdrenk met Japannese wreedheid en afgryslike oorlogmisdade, die soort skokroman wat jou op elke bladsy laat gru, maar wie kan stry dat dit ’n emosionele kragtoer en oorrompelende historiese evokasie is?
  • Marlon James se A Brief History of Seven Killings (Booker 2015), ’n dramatisering in tientalle perspektiewe van ’n sluipmoordaanval op die reggae-koning Bob Marley, het ek byna onleesbaar gevind, meestal te wyte aan die gedronge en skurwe Jamaikaanse dialek. Dit verg voorwaar volharding as jy jou in elke sin en paragraaf vaslees teen vreemde kliekwoorde en -frases wat eers nageslaan moet word.
  • Dit gaan aansienlik vlotter met Anna Burns se Milkman (Booker 2018), ’n tydige narratief wat tredhou met die #MeToo-beweging; maar wees daarop bedag: dis geen piekniek nie. Die prosa is gelade en veelvlakkiger – “heightened language” soos Shakespeare-kenners sal sê – en taamlik herhalend van aard, ’n doolhof van genderpolitieke mymeringe wat die handeling telkens bladsye lank onderbreek en uitstel. By tye fassinerend, merendeels frustrerend as jy agter die storie wil aanlees.
  • Sommige lesers vind Lincoln in the Bardo van George Saunders (Booker 2017) onleesbaar en tematies makaber, ’n fantasmagoriese ekskursie na die begraafplaas, waar ’n horde geeste saamdrom as getuies van die Amerikaanse staatsman se obsessiewe rou oor sy gestorwe seun. Die “soundbite”-styl van los gedagtes, geskiedkundige aanhalings, anekdotes en vertellings deur eksentrieke spoke doen aanvanklik vreemd voor, maar algaande gaan dit gladder en raak die aanbod ryk en lekker.
  • Die slot van die veelsydige Julian Barnes se The Sense of an Ending (Booker 2011) is weliswaar enigmaties en raaiselagtig, wat die leser noop om te herlees, te herkou, en selfs om dit van voor af aan te pak.
  • Verskeie lesers het my vertel dat hulle heeltyd hardop gelag het met die lees van The Sellout deur Paul Beatty (Booker 2016), wat dit ’n sterk aanspraakmaker as toeganklikste Bookerpryswenner die afgelope tyd maak. Dis volgende op my leeslys.

Boeke argief

  • Kelder, laksman en noir: Gerda Taljaard-Gilson
  • Why write about travel? by Christopher Hope
  • Storieverteller en stoep-performer: Emma Bekker
  • TANSTAAFL, Waldo!
  • Vier grotes van 2018
  • ʼn Sestiger in Namibië
  • Beeldmateriaal: Jeanne Goosen
Lees nou